Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti
Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti
Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti
Ebook1,328 pages22 hours

Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Karel Schoeman beeld in Titaandie lewe uit van ’n groot figuur in die Europese kultuurgeskiedenis, die skilder, beeldhouer en argitek Michelangelo Buonarroti, skepper onder andere van die beelde van Dawid en Moses, die Piëta, die muur- en plafonskilderinge in die Sixtynse Kapel en die koepel van die Pieterskerk in Rome. Op impressionistiese en oorsigtelike wyse beskryf Schoeman die lewe, denke en werk van ’n groot kunstenaar, teen die agtergrond van die stede Florence en Rome, brandpunte van die Italiaanse Renaissance, in ’n tyd van kerklike agteruitgang en politieke geweld, wat egter gepaard gegaan het met ongekende geestelike en materiële opbloei.“Met hierdie werk verbind Karel Schoeman die twee genres waartoe hy soveel belangrike bydraes in Afrikaans gelewer het, naamlik roman en historiografie, en slaag daarin om hulle op ’n bewonderenswaardige manier met mekaar te verenig.” ─ Chris van der Merwe
LanguageAfrikaans
Release dateApr 28, 2011
ISBN9780798153607
Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti
Author

Karel Schoeman

Karel Schoeman word beskou as een van die grootste literêre geeste ooit in Afrikaans. Gedurende sy leeftyd het meer as 30 romans en tientalle geskiedkundige en outobiografiese werke uit sy pen verskyn. In 1998 ontvang hy die Orde van Ikhamanga. Sy romans verskyn ook in Nederland, die VSA en Frankryk. Schoeman is oorlede op 1 Mei 2017.

Read more from Karel Schoeman

Related to Titaan

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Titaan

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Titaan - Karel Schoeman

    title.jpg

    DIE LEERTYD

    DIE VADER

    ‘Lodovico di Lionardo di Buonarroti Simoni,’ stel die middeljarige man hom voor, nie sonder ’n sekere trots en selfbewustheid nie. Vir die besige skilder beteken die naam klaarblyklik egter niks nie. ’n Opdraggewer, lei hy saaklik af, en takseer met geoefende oog die besoeker wat sy werkswinkel binnegekom het: die effens verslete tuniek, die uitgepluiste pels waarmee dit afgewerk is, die verkleurde mantel, die trotse bekendstelling en uitdagende houding. Geen uitgesproke armoede nie, oordeel hy by homself, maar nogtans iemand wat beter dae geken het en wie se lewenstyl nie in ooreenstemming met sy hooghartige en selfversekerde optrede is nie. Dit sal geen groot opdrag wees nie, besluit hy uit lange ervaring; of miskien gaan dit selfs om iemand wat iets wil probeer verpand wat hy van vroeër oorgehou het. Maar jy kan nooit weet wat die noodlot jou aanbied nie, het die lewe hom ewe goed geleer, en hy is bereid om voorlopig in elk geval met welwillende afwagting te luister.

    ‘Ek het vyf seuns,’ gaan die besoeker ná ’n kort stilte verder. ‘My eggenote is oorlede, my seuns is al wat ek oorgehou het, en ’n paar jaar gelede is ek weer getroud. My oudste seun sal, hoop ek, ’n priester word, ’n eerbare beroep, of roeping, moet ek sê, maar al vyf is nog op skool.’

    Die skilder begin ongeduldig raak oor die omslagtigheid. Hy is ’n besige man en hy het meer werk as wat hy kan behartig, ’n werkswinkel vol vakleerlinge wat hy moet onderrig en oor wie se vordering hy moet toesig hou en assistente wat hy van geskikte take moet voorsien, elkeen volgens sy gawes en vermoëns. Ten slotte is hy Domenico Ghirlandaio, die mees gevierde skilder in Florence, en die tyd wat hy aan ’n gesprek soos hierdie kan afstaan, is beperk. Maar reeds begin hy vermoed in watter rigting dit lei.

    ‘Oor Lionardo het ek egter geen klagtes nie; dis my tweede seun oor wie ek met jou wil kom praat, meester Domenico, jong Michelangelo. Hy is nou twaalf jaar oud en hy gaan skool by meester Francesco da Urbino; dit wil sê, hy is veronderstél om daar skool te gaan. Maar wat maak hy? Hy kuier in die kerke rond, nie om die dienste by te woon of te bid nie, dit kan mens ook nie van so ’n jong seun verwag nie, maar om na die prente te kyk en hulle na te teken, daarvoor bly hy weg van die skool; hy wil net wees by dié wat teken, nie by dié wat leer nie. En vandat hy hierdie jongeling leer ken het, jong Granacci wat glo een van jou leerlinge is …’

    ‘Inderdaad, Francesco Granacci, ’n baie belowende jong man.’

    ‘Sedertdien wil hy net kunstenaar word, en dit gaan nou al ’n jaar of twee so. Ons het met hom gepraat, my broer en ek, en probeer om hierdie onsin uit sy kop uit te redeneer, ons het hom selfs geslaan, tugtiging is goed vir ’n seun, binne perke natuurlik, maar dit help nie. Oor die algemeen is hy ’n goeie en inskiklike seun, dit moet ek toegee, en op skool het meester Francesco ook geen klagtes oor hom nie, maar as hy eenmaal ’n idee in sy kop kry, sit dit daar vas en mens kry dit nie weer los nie, hoe jy ook al slaan—waar hy daardie koppigheid vandaan kry, weet ek nie. Dis hoekom ek uiteindelik maar toegegee het, en besluit het om met jou te kom praat en uit te vind wat die moontlikheid is dat hy as kunstenaar opgelei word, as dit nou eenmaal is wat hy wil hê. Maar ’n kúnstenaar …’ Afkeurend skud hy sy kop. ‘Ek hoor van skaapwagters en die kinders van muildrywers en pluimveehandelaars wat geleer het om te teken en skilders geword het, en dan by die gilde van geneeshere en aptekers moet aansluit omdat hulle geen eie gilde het nie, dit is tog geen vooruitsig waarop ek as vader trots kan voel nie. En as Lionardo inderdaad priester word, sal Michelangelo bowendien die oudste seun wees, die hoof van die gesin ná my dood: hy het verpligtings, verantwoordelikhede …’ Hy begin heftig raak en ontsteld, begin hoes. ‘Ek het hom Michelagnolo genoem na die aartsengel Migaël, mens hoop gróót dinge van jou kinders, mens hoop héérlike dinge van jou seuns. Maar nie dít nie …’ Met dieselfde afwerende beweging beduie hy in die rigting van die houtafskorting wat die ruimte waar hulle twee saam gesels van die skilder se werkswinkel afskei, en waaragter hulle die gedempte stemme hoor van mense wat besig is met hul werk, voetstappe, af en toe ’n ligte getimmer.

    ‘Ons is ’n ou familie hier in Florence,’ gaan hy dan verder voordat meester Domenico kan reageer, ‘ons het openbare ampte beklee, ek self het die Republiek as stadsbestuurder van Caprese en Chiusi gedien, dis in Caprese dat Michelangelo gebore is. Ons voorvaders was here, nie arbeiders of boere nie, ons stam af van die grawe van Canossa, ek het ’n brief wat dit bewys, en ’n heer doen nie handwerk teen betaling nie.’

    Taktvol ignoreer die skilder die implikasies van hierdie opmerkings. ‘Jy moet nie so presies wil afbaken nie, meester Lodovico,’ sê hy vlot en gerusstellend: ‘skilders, beeldhouers, goudsmede, argitekte, here—die skeidslyne is nie meer so onverbiddelik soos hulle tot onlangs toe nog was nie. Toe die hertog van Ferrara hier in Florence op besoek was—dis nou ook weer ’n aantal jare gelede, maar jy sal dit waarskynlik nog onthou—het hy die stad se skilders in ’n openbare toespraak saam met die regsgeleerdes, redenaars en digters gelowe, en in die praktyk kan ’n skilder vandag ewe goed hoop op aansien en erkenning in die gemeenskap. Ons stad is welvarend, soos ons almal weet, en sy inwoners is bewus van die belangrikheid van kuns en bereid om dit op groot skaal aan te moedig en te ondersteun en die prestasies van die kunstenaars te erken.’ Vlot en versekerd, praat hy, die gewilde en gevierde skilder met ’n ateljee vol leerlinge en assistente, voldoende opdragte, en vername opdraggewers wat hom goed betaal. ‘Wat my eie werk, my eie werksaamhede betref, praat ek nie graag daaroor nie, maar dit is trouens ook nie nodig nie, jy kan dit self oral in ons stad op die mure van die kerke en kloosters sien. Op die oomblik is ek reeds etlike jare besig met ’n groot opdrag van signor Tornabuoni in die kerk van Santa Maria Novella, soos jy moontlik weet, nie net al die muurskilderinge vir sy familiekapel nie, maar ook drie kleurglasvensters en ’n groot altaarstuk vir die hoofaltaar, aan albei kante beskilder—’n groot en vererende opdrag, en ek skat dit sal my en my assistente altesaam vier of vyf jaar besig hou. En enige jare gelede het ek, as ek dit mag byvoeg, in opdrag van pous Sixtus bygedra tot die versiering van sy nuwe kapel in Rome. Skilders, meester Buonarroti, is nie sonder aansien in die gemeenskap nie.’

    ‘Maar hulle bly handlangers, maak nie saak wie hul opdraggewers is of hoe goed hul betaal word nie, dit bly handwerk wat hulle doen.’

    Vir meester Domenico word dit algaande duidelik dat hierdie gesprek vir hom niks sal oplewer nie, en hy begin wonder hoe hy dit met redelike beleefdheid kan beëindig, maar die man oorkant hom merk niks hiervan nie terwyl hy verder mymer oor sy griewe. ‘En dan is daar nog die kwessie van vakleerlingskap, van opleiding—ek weet nie, ek hou nie van hierdie dinge nie. En bowendien verstaan ek dat dit ook geld kos, en vir so iets kan ek nie betaal nie. Waarskynlik is dit alles jong Granacci se skuld, ek moes daardie vriendskap ook nooit toegelaat het nie. Maar ek weet nie, selfs vroeër nog het Michelangelo sulke neigings gehad. Ek het toegelaat dat hy vir meester Benedetto in sy werkswinkel help omdat hy daarvoor gesoebat het, ek het gedink dit is ’n los werkie, ’n tydverdryf, iets om ’n skoolseun uit kattekwaad te hou; maar nou moet ek ontdek dat dit vir hom erns is.’ Vertwyfeld skud hy sy kop. ‘Ek verstaan dit nie.’

    Meester Domenico se aandag is egter skielik weer by die gesprek. ‘Meester Benedetto? U bedoel …?’

    ‘Benedetto da Maiano. ’n Houtsnyer en beeldhouer soos ek verneem.’

    ‘En jou seun het vir hom gewerk?’

    ‘Hy het in sy werkswinkel gehelp, soos ek sê, takies verrig, ek weet nie wat nie; dit was nie belangrik en ek het my nie daarin verdiep nie.’ Bewus van die kunstenaar se belangstelling probeer hy nou egter verdere besonderhede onthou. ‘Die seun het glo vir hom ’n engel uitgesny of uitgekap, ’n ornament vir ’n altaar, maar ek het dit nooit self gesien nie.’

    ‘En meester Benedetto was tevrede met sy werk?’

    ‘Soos ek kan aflei, ja. Dit was een van ’n paar, en hy het dit verkoop saam met die ander een wat hy self gemaak het. Maar Michelangelo het niks vir sy werk gekry nie,’ voeg hy effens wrewelig by.

    ‘Ek lei dus af dat jou seun nie heeltemal onervare uit die skool uit kom nie, en dat hy ook nie sonder ’n sekere kunsopleiding is nie, wat die presiese aard daarvan ook is. Twaalf is weliswaar nogal oud om ’n vakleerlingskap te begin—jy het tog gesê dat hy twaalf jaar oud is, nie waar nie, meester Lodovico? Tien jaar is die gebruiklike ouderdom, en soos ek aflei, het hy geen formele opleiding in die skilder of tekenkuns gehad nie … Maar aan die ander kant is meester Benedetto een van ons vooraanstaande beeldhouers, en ’n seun wat onder hom gewerk het en hom tevrede gestel het, kan nie heeltemal sonder belofte wees nie.’ Vir ’n oomblik dink hy na, en praat dan saakliker verder. ‘Ek wil vir jou ’n aanbod doen, meester Lodovico. Ek is bereid om jou seun op die gebruiklike manier vir drie jaar as vakleerling in my werkswinkel op te neem en hom as kunstenaar op te lei as hy die nodige aanleg besit.’ Dan aarsel hy weer vir ’n oomblik voordat hy verder gaan. ‘En ek wil trouens meer onderneem as dit. As hy inderdaad so bekwaam is soos ek aflei uit wat jy my vertel, is ek selfs bereid om hom te betaal, al is so iets nie gebruiklik in die geval van ’n leerling nie.’

    Meester Lodovico pluk aan sy mantel, aarselend oor hoe hy hierop moet reageer. ‘Om vir ’n lóón te werk …,’ begin hy onvergenoegd, maar dan besin hy hom. ‘Watter bedrag het jy in gedagte, meester Domenico?’

    ‘Dit sal afhang van sy vaardigheid,’ antwoord die skilder vlot, ‘en daaroor kan ons later beraadslaag. Maar dit sal alles in ’n kontrak vasgelê word, meester Lodovico, tot ons albei se genoegdoening. Kunstenaars is sakemanne en ons beroep is ’n saaklike beroep, ewe goed as die dokters en aptekers s’n. Dinge soos hierdie word deesdae wettig gereël, en nie aan die toeval oorgelaat nie.’ En daarmee kan hy met ’n sekere verligting die gesprek beëindig, en na sy werkswinkel, sy assistente en sy leerlinge terugkeer.

    Swygend sit hulle saam rondom die tafel, die stemming soos gewoonlik bepaal deur dié van Lodovico, die hoof van die huisgesin, wat die brood sny vir sy vrou en sy seuns, soms ’n paar woorde wissel met sy broer of sy swaer, en verder sy wyn drink en hom nie aan hul aanwesigheid steur nie.

    Lodovico Buonarroti is so intens en onredelik trots op familie en herkoms soos enige patrisiër van Florence, maar met die bankrotskap van sy vader se bank het die familie hul laaste oorblywende aansien in die stad verloor, en al wat vir hom behoue gebly het, is ’n plasie kort buite die stad wat hom van ’n beskeie inkomste en ’n min of meer gereelde voorraad koring, wyn en olie voorsien. Nadat die voortydige dood van sy eerste vrou hom met vyf seuntjies agtergelaat het, is hy opnuut getroud, en sy tweede vrou was welgesteld genoeg om ’n nuttige bruidskat in die vorm van bed en tafellinne te kan saambring. Sy hou toesig oor die bediendes en bewaar die sleutels van kaste en kiste veilig, staan nie voor die venster en uitkyk na die straat en skinder nie op die trap met die buurvroue nie, gaan nie uit nie behalwe om inkopies te doen op die mark, vergesel van ’n bediende om haar mandjie te dra, en kerkdienste en die doopfeeste of bruilofsvierings van haar eie familie by te woon, en hou haar verder besig met die wasgoed, die linnevoorraad en die herstelwerk wat nodig is om die onsekere aansien van hierdie versukkelde gesin in die oë van die buitewêreld te handhaaf. Sy is ’n goeie, swygsame, pligsgetroue vrou, alles wat ’n man redelikerwyse van ’n eggenote sou kan verwag, en niks meer nie.

    Van die seuns se vader is daar nie veel meer te sê as van hul stiefmoeder nie. Hy is ’n onvergenoegde man wat van hulle die gehoorsaamheid, eerbied en ontsag verwag wat hom toekom, maar nie bereid is om van sý kant iets in ruil hiervoor te gee nie, behalwe in die mate dat hy hulle as middele sien om die verbleekte eer en aansien van die familie te herstel. Verder is sy aandag meestal elders, besig met sy eie planne, drome en griewe. Soos jong hondjies het hulle grootgeword, dink Michelangelo soms by homself, en namate hulle ouer word, het elkeen sy eie pad geloop, sonder dat daar buite die huis nog veel beheer oor hulle uitgeoefen is. Eintlik is dit net met die hoofmaaltyd van die dag dat die gesin nog bymekaarkom, kortstondig rondom die tafel verenig soos nou, en meestal ook swygend soos nou; maar dit is die enigste geleentheid waarby ’n skyn van eenheid nog onder hulle bewaar bly.

    Dit is eers aan die einde van die maaltyd dat Lodovico die stilte verbreek om hulle die uitslag van sy besoek aan meester Domenico se werkswinkel mee te deel, en Michelangelo hoor die karige gegewens met gemengde gevoelens aan: wat hy begeer het, was om by meester Benedetto die beeldhouer te gaan werk, nie in die werkswinkel van ’n skilder nie, en hierdie vakleerlingskap is bloot ’n kompromie met sy vader, een wat slegs ná ’n lang en taai worsteling tussen hulle bereik is, al het dit grotendeels in stilte plaasgevind. Lodovico doen egter geen moeite om sy gevoelens te probeer vasstel en verwag van hom ook geen eie mening nie. ‘Ons besit geen rykdom meer nie,’ deel hy sy seuns mee, ‘net die aansien wat ’n ou familienaam en ’n tradisie van eerbare diens aan die stad en die staat ons kan verleen, en dis ongelukkig min genoeg in die tyd waarin ons vandag lewe. Daarmee sal julle geen vrou met ’n behoorlike bruidskat kan kry of een wie se familie genoeg invloed hier in Florence het om julle te help nie, ek en julle moeder het al genoeg hieroor nagedink en rondgevra, en genoeg afjakke gekry. Julle sal moet woeker met die talente wat julle het en self probeer regkom in die lewe. Ten minste is dit ’n seëning dat die Hemel my net seuns gegee het. As ek ’n huis vol meisies gehad het vir wie ek bruidskatte sou moes vind, sou daar vir ons familie geen hoop gewees het nie.’ Hulle het dit alles egter al dikwels genoeg gehoor, en al sou hul vader van hulle ’n reaksie op sy monoloog verwag, sou hulle nie meer weet wat om te sê nie.

    ‘Dit wys jou wat ’n mens met volharding kan regkry,’ sê Michelangelo se vriend Granucci laggend wanneer hy van hierdie verwikkelings hoor. ‘Of met eenvoudige hardkoppigheid, as ek maar reguit kan praat. Ek het gewonder of jy jou vader en jou ooms gaan kleinkry.’

    ‘Jý het darem ook jou deel gedoen,’ moet hy erken. ‘As jy nie met so ’n gladde tong vertel het hoe beroemd en hoe ryk meester Domenico is nie, sou my pa nooit so bereid gewees het om hierdie gedagte te oorweeg nie. En as jy nie self so ’n ordentlike jong man was nie, sou hy nooit geglo het dat dit dalk moontlik is om ’n kunstenaar te wees nie en terselfdertyd ook ’n betreklike ordentlike mens.’

    ‘Die wêreld verander,’ merk Granucci op. ‘Dalk lewe jou pa nog lank genoeg om te kan meemaak dat ’n kunstenaar nie meer net ’n blote arbeider is nie, maar ook iemand in eie reg, selfs al is hy dalk nie as ’n Buonarroti Simoni gebore nie. Wie weet, dalk belewe hy selfs nog die dag dat Michelangelo Buonarroti as ’n heer beskou word.’

    Hy was ses jaar oud gewees toe sy moeder oorlede is, en hy onthou haar slegs vaagweg as ’n jong vrou, swanger of met ’n baba op die arm of in ’n wiegie langs haar, ’n sieklike jong vrou omring deur kindermeisies of versorgsters en die gehuil van klein kinders. Omdat haar gesondheid nie goed was nie en sy eie geboorte gevolg is deur dié van drie broers, die een kort ná die ander, het hy sy vroegste kinderjare vir die grootste gedeelte egter nie by sy ouers in Florence deurgebring nie, maar by pleegouers in die dorpie Settignano, ’n voettog van driekwartier oos van Florence, waar die boerderytjie geleë is wat die familie se enigste oorblywende erfenis uitmaak. Die dorpie is omring deur steengroewe waar die sagte grys sandsteen uitgekap word wat in Florence so gewild is vir die afwerking van geboue, en huisves in eerste instansie nie boere nie, maar bedrewe klipwerkers wat hiervandaan dwarsoor Toskane en ander dele van Italië uitgaan om hul vakmanskap te beoefen. Die grense van sy kinderwêreld is uitgemaak deur die klipkappersgemeenskap van die dorp waar hy as kind kaalvoet met die kinders rondgetuimel het, en hieraan is sy vroegste herinnerings ook verbonde: die vroue voor die deure van hul rokerige huise met hul spinstokke, die mans wat saans huis toe kom van die groewe met stowwerige werksklere en oor hul wyn saam gesels oor hul ambag, die kenmerkende tongval, die spreekwoorde, die oorlewerings, die verhale en bygelowe.

    Op die agtergrond van hierdie geslote klein bestaan was daar ’n wyer wêreld van olyfboorde, koringlande en weilande, waar kleinskaalse werksaamhede die lewe in beslag neem en die eeue oue roetine van ploeg, saai en plant, slote grawe, ent en snoei, gras maai, koring oes en dors, ploeg en saai voortgesit word, met die olyfoes tussen Oktober en Desember as middel en hoogtepunt van die landboujaar. Florence met sy mure en torings was vir hom ’n vreemde verskynsel êrens onberekenbaar ver anderkant die horison, waar hy van tyd tot tyd vir ’n paar weke of maande soos ’n vreemdeling in sy ouers se huis vertoef het totdat hy om een of ander rede tog maar weer na Settignano teruggestuur is.

    In hierdie omstandighede kon hy die dood van sy moeder nouliks as ’n verlies ervaar, sodat hy die berig daarvan sonder ontsteltenis ontvang het, en eers toe hy tien jaar oud was, sy vader weer getroud is en hy die dorp, sy pleeggesin en die klipkappersgemeenskap van Settignano moes verlaat om blywend na sy familie in die stad terug te keer, het hy van ’n breuk in sy lewe bewus geword. Soms brom sy vader onvergenoegd dat hy die gewoontes van ’n klipkapper het, soms sien hy hoe sy stiefmoeder haar lippe in woordelose afkeuring oor iets saamtrek en frons, soms lag sy broers hom uit oor die uitspraak van een of ander woord of een of ander boerse sinswending wat hy gebruik, en dan voel hy dat hy nie eintlik hier hoort, dat hy nie werklik een van hulle is nie. Dit kos hom moeite om hom in die bestaande stelsel te laat inlyf en hom aan die heersende reëls en voorskrifte te onderwerp.

    Wat belangrik is, leer hy in sy vader se huis gou genoeg, is eerstens om lid te wees van ’n familie, en tweedens ’n burger van die stad, ’n Buonarroti Simoni dus, en ’n Florentyn.

    Die Buonarroti’s is afstammelinge van verre adellike voorsate wat in latere generasies egter hoofsaaklik ’n bestaan gemaak het as geldwisselaars en handelaars, en sedert sy grootvader se tyd het hulle toenemende finansiële probleme ervaar. So het hulle dus hier agtergebly in die effens verkommerde deel van Florence agter die groot kerk van Santa Croce, ’n wyk van nou strate wat nog nouer gemaak word deur die houtgalerye wat by baie van die huise aan die boverdiepings aangelas is, en somber grysbruin huiserye, smal en hoog, rondom binnehowe waar die sonlig selde deurdring. Vandag is dit hoofsaaklik handwerkers wat nog hier woon, wie se werkplekke en winkels op die straatvlak onder hul wonings is, met agterbuurte aan die rand daarvan langs die moerasagtige oewers van die rivier waar die kleurstofwerkers hul skamele hutte opgerig het.

    Hier in die wyk van Santa Croce woon verskeie lede van die familie Buonarroti saam, op ’n enkele verdieping van ’n groot huis in die Via Ghibellina wat deur meerdere gesinne gedeel word: Lodovico, wat op sy beskeie erfenis en die inkomste van sy boerderytjie teer, sy broer Francesco, ’n geldwisselaar met ’n tafel in die openbaar waar hy op die gebruiklike wyse handel dryf, en ’n swaer wat as ’n kleurder van tekstielware werksaam is, ’n meer gegoede man as hulle wat naas ’n plasie ook ’n paar eiendomme in die stad besit. Soms onthaal die gesin met swierigheid wat hulle nouliks kan bekostig en is daar kortstondige feestelikheid in die huis, met warmte en lig en waskerse en ’n tafel wat met blomme versier is, maar gewoonlik is hul lewenstyl eenvoudig, dikwels moet daar besuinig word, en die aandag van die mans word hoofsaaklik in beslag geneem deur geredekawel oor agterstallige huurgeld of herstelwerk wat aan hul onderskeie eiendomme gedoen moet word, oor wingerde en osse, deur onderlinge getwis oor geldsake en erfenisse of gemymer oor ou veronregting en vergange heerlikheid.

    Vir Michelangelo wat nie hier grootgeword het nie, is sy broers feitlik vreemdelinge, en die seuns is slegs op onsekere wyse verenig deur die onreëlmatige en wispelturige gesag wat hul vader oor hulle laat geld, en die volslae gehoorsaamheid en agting wat hy as hoof van die huishouding oor sy ondergeskiktes besit. Onderling word die verhouding tussen die jong seuns egter gekenmerk deur wrywing en twis, wat soms in openlike bakleiery losbrand, sodat hul vader hardhandig moet ingryp.

    Naas die drie gesinne wat die woning deel, is daar na gelang van die finansiële situasie gewoonlik ’n vrou of twee om met die huiswerk te help, soms ’n kneg vir die swaar werk, en by tye selfs ’n slavin wat deur koopmanne van Genua of Venesië uit die gebied rondom die Swart See aangevoer en in die hawestad Livorno verkoop is.

    Buite die huis en die klein kring van die familie was daar vir Michelangelo in eerste instansie die skool waar hy sy plattelandse agterstand so vinnig en so deeglik moontlik moes inhaal, en meester Francesco die onderwyser met sy rakkie vol verslete handboeke in Italiaans en Latyn, besig om veerpenne reg te sny, orde te probeer handhaaf en tafels, reëls en verse met die lat in sy leerlinge in te prent. Hier het hy onderrig gekry in korrekte Italiaans volgens die gebruik van Toskane, ’n netjiese, reëlmatige handskrif aangeleer, en die basiese kennis van rekenkunde opgedoen wat van alle seuns in hierdie koopmanstad verwag word om te besit, en mettertyd gevorder tot die elementêre kennis van die Latynse grammatika en wiskunde wat nodig geag word as algemene grondslag vir hoër opleiding. Meester Francesco se skooltjie en die vakke wat daar onderrig is, kon egter net gedeeltelik sy aandag besig hou, want buite die mure van die klaskamer is hy steeds aangelok deur die opwinding en afleiding wat die stad aan ’n seun soos hy kon bied, en veral ’n seun wat op die platteland grootgeword het.

    Dit is in die kerk van Santa Croce vlak by sy eie huis waar sy familie op Son en feesdae die Misdiens bywoon dat Michelangelo vir die eerste keer kennis gemaak het met kuns, die gebou wat ontwerp is om die grootste kerkgebou in die Christelike wêreld te wees en as begraafplek van die groot manne van die stad gebruik word. As sodanig is dit nie net met enkele verspreide beelde of muurpanele opgetooi soos die dorpskerkie van Settignano nie, maar omvat ’n hele wêreld van kunsskatte wat oor ’n tydperk van byna tweehonderd jaar hier opgegaar is, sodat elke besoek daaraan en elke wandeling langs die gange, kapelle, altare en grafkelders ’n nuwe ontdekkingstog uitmaak.

    Dog Santa Croce is slegs een kerk onder vele, en al kan sy kunsskatte nie maklik elders in die stad geëwenaar word nie, bevat Florence meer as vyftig ander kerke wat in die geestelike behoeftes van die gelowiges voorsien, naas dié wat aan die groot kloosters van monnike, bedelbroeders en nonne verbonde is, met as brandpunt die Domkerk met sy geweldige koepel en kloktoring, en vlak oorkant die ingangspoort die agtkantige doopkapel met sy drie stelle groot deure van vergulde brons, albei geboue versier met marmer en bronsbeelde in die nisse van hul fasades en panele wat Bybelfigure en heiliges uitbeeld. Die fasades van al die kapelle, kerke en kloosters in die stad is egter op soortgelyke wyse versier, en danksy die opdragte van geestelikes en kloosterlinge en die geskenke van vrome leke is hierdie geboue binne net so ryklik voorsien van muurskilderinge, heiligebeelde, uitgesnyde preekstoele en koorgalerye, praalgrafte en ander kunswerke.

    Van dagbreek tot sononder staan die kerke oop vir enigeen wat dit wil besoek, en heeldag is daar ’n kom en gaan van mense: kinders, honde, ’n koster wat êrens doenig is by ’n altaar; knielende vroue voor ’n Mariabeeld en ou vroue wat in die skadu hul gebede mompel, koppe bedek met donker sluiers of lang mantels, of ’n groepie toehoorders by een of ander diens of preek in ’n sykapel. Ook vir ’n nuuskierige skoolseun is die kerke toeganklik, wat nie kom om te bid of ’n kers voor ’n beeld aan te steek nie, maar eenvoudig om hom oor al die rykdom te verwonder, en hy is dus vry om deur hierdie ruimtes te dwaal waar bladgoud en vergulding in die halflig uitglans, en hom by kerslig te vergaap aan die uitbeeldings van lyding en heerlikheid op die mure.

    Maar dit is nie net die helder kleure en glansende teksture van marmer en goud in die geheimsinnige skemeragtigheid en die gloed van die kerse wat hom aanspreek nie, en ook nie net die wonderwerke uit die lewens van Bybelfigure en heiliges wat hier uitgebeeld is nie. Al hoe meer, namate hy rondgaan, kyk en vergelyk, is dit ook die manier van uitbeelding wat sy aandag trek, en die wyse waarop die stywe, formele Bybelse figure en heiliges uit vroeër eeue, teen ’n agtergrond van stralende bladgoud, algaande al hoe mensliker en natuurliker vergestalt is, dikwels in herkenbare kamers of landskappe, selfs al is hulle nog altyd met stralekranse opgetooi en met engele omring.

    Wat hier in die kerke gevind kan word, is die werk van opeenvolgende geslagte van skilders, beeldhouers, goudsmede en bronsgieters in ’n stad wat reeds ’n paar eeue lank ryklik van bekwame en begaafde kunstenaars voorsien is; maar dit word gedurig deur nuwe opdragte aan eietydse vakmanne aangevul, en die seun bly soms lank staan en kyk waar skilders hul stellasies in een of ander kapel opgerig het, of talm op straat voor die oop deure van die werksplekke waar ambagsmanne besig is, voor die klein, donker winkeltjies waar die goud en silwersmede, die juweliers en borduurders, die houtsnyers en beeldhouers hul onderskeie ambagte bedrywe, of die werkswinkels op groter skaal waar talle vakleerlinge ondergebring en deur meesters in hul vak onderrig word. Florence is ’n kompakte stad wat mens binne ’n halfuur te voet kan deurkruis en wat sodoende maklik verken kan word, maar wat tewens so ryk is aan skatte dat die verkenning bykans ’n leeftyd kan duur. Verwonderd besef Michelangelo dat hy wat sy vroeë lewe in plattelandse dorpies deurgebring het, danksy sy familie ’n burger is van hierdie ryk en trotse stad, en besef dit met dankbaarheid en trots.

    Al hoe meer, namate hy ouer word en allerlei onduidelike en onrustige drome en begeertes in hom gestalte aanneem, begin Michelangelo egter ontuis voel in die donker huis in die Via Ghibellina wat hy met sy familie deel, want dit is ’n eenvoudige, funksionele huishouding, met die tinborde en skottels, die glase en erdewerkkruike wat vir die daaglikse maaltye benodig word, en enkele ou kruisbeelde en heiligebeelde sonder bepaalde kunswaarde wat as erfstukke in die familie bewaar gebly het. Op soek na iets om sy vae begeertes te bevredig, kan die seun hier niks meer vind nie as enkele ou handgeskrewe boeke in verkleurde perkamentbande waarin sy vader soms blaai, stigtelike heiligelewens of droë kronieke, slegs hier en daar met versierde hoofletters opgetooi, die bruidskis van sy oorlede moeder waarin die gesin se klere opgevou bewaar word, eens beskilder met tonele van ridders en toernooie wat besig is om af te skilfer, of die versierde balke in die woonvertrekke van die familie waarna niemand behalwe hy ooit opkyk nie.

    Wat soek hy, waarop wag hy, wat begeer hy? Hy weet self nie. Maar nie om ’n boekhouer of klerk by ’n koopman te word nie, iets waarna sy vader soms terloops in ’n gesprek verwys, nie ’n geldwisselaar soos sy oom nie; hoe dan ook, nie dit nie. Dan nog liewer ’n klipkapper in Settignano, dink hy by homself. Soms skrik hy in die nag wakker en bly in die donker slaaploos lê in die bed wat hy deel met sy broers, toenemend beklem deur die vrees dat hy nie sal kan loskom nie, lewenslank vasgevang in ’n uitsiglose wêreld van klein grondbesitters, geldwisselaars en tekstielhandelaars waarin hy volkome alleen staan, sonder enigeen wat sy drome deel of met wie hy sou kan probeer om dit te bespreek.

    Niemand in die huis skenk baie aandag aan die seuns nie behalwe wanneer hulle hul klere verniel of hul prestasies op skool nie na wense is nie, solank hulle by maaltye aanwesig is, voor donker by die huis is en hul vader met die nodige ontsag behandel. Vir Michelangelo is dit dus moontlik om buite huis en skool grotendeels sy eie gang te gaan, ewe afsydig van sy ouer broer wat priester gaan word en die jongeres wat vir hom feitlik vreemdelinge is, hul skoolmaats en die seuns uit die omgewing. Hy speel met hulle in die strate en op die pleine rondom sy ouerhuis, of vergesel die ouer seuns wat deelneem aan die spele en wedstryde buite die stadspoorte, stoeiwedstryde, balspele of voetbal, die tradisionele en dikwels lewensgevaarlike klipgooiery, of namate hulle ouer word wapenoefeninge met skilde en swaarde, dolke, spiese of lanse, maar hy bly afsydig van dit alles, sy dit as deelnemer of toeskouer.

    Wat soek hy? Dit is die kerke met hul kunswerke wat hom aantrek, dit is die werkswinkels waar vakmanne besig is, en bowenal is dit die werkplekke van die beeldhouers en klipkappers, want ten slotte het hy tussen klipkappers grootgeword; en dit is ook deur die klipkappers van Settignano dat hy met meester Benedetto kennis gemaak het wanneer hulle met hul oskarre na Florence kom om klip by sy werkswinkel af te laai. Self het meester Benedetto hom ook nie van die klipkappers onderskei nie, lid van ’n klipkappersfamilie soos hulle s’n, uit ’n soortgelyke omgewing in die nabyheid van die stad, en Michelangelo het geen skroom teenoor hom gevoel nie en hom argeloos in sy werkswinkel tuisgemaak. Dit was egter nie lank voordat hy kon vasstel dat Benedetto da Maiono tog nie soos een van die eenvoudige klipkappers van Settignano is nie, wat hul werk doen en hulle nie bekommer oor die verdere lot van die klipblokke wat hul kap en aflewer of wegstuur nie; dat hy hier in die stad saam met sy broer vier werkswinkels vir houtsnyers en een vir beeldhouers bedrywe; en dat hy self ’n gesiene beeldhouer is wie se naam ook buite Florence bekend is.

    Teen die tyd dat hy hierdie ontdekking gedoen het, het Michelangelo hom egter ook in die beeldhouer se werkswinkel ingeburger. In Settignano het hy waar hy as kind toevallig die gesprekke van die klipkappers aangehoor het reeds iets oor die aard en eienskappe van die plaaslike sandsteen uitgevind, en hier waar hy toegelaat word om te kyk en te luister en te help, ontdek hy ook die bestaan van ander soorte klip, soos duursame graniet, of die marmer wat meester Benedetto meestal vir sy beeldhouwerke gebruik, sodat dit veral ’n nuwe wêreld van marmer is waarmee hy kennis maak, marmer uit alle groewe van Italië en soms selfs uit die buiteland, in alle denkbare kleure, uiteenlopende tinte wit, roomkleurig, goud, groen, sanderig, rokerig grys, rooskleurig, pers of swart, soms ook gestreep of gevlek, en elke soort met sy eie karakter na gelang van die groef waaruit dit kom. Nie net verskil die verskillende soorte egter wat kleur betref nie, maar ewe goed wat betref hul tekstuur, en elkeen het sy eie struktuur, stel sy eie eise en bied sy eie moontlikhede. Marmer het twee greine, leer hy, ’n sterke en ’n swakke, wat breuke kan veroorsaak, en dit kan onverwagte strepe, vlekke of ander gebreke en swakhede bevat wat nie altyd sigbaar is wanneer ’n stuk werk aangepak word nie.

    ‘Maar die beste marmer kom van Carrara,’ verklaar meester Benedetto: ‘suiwer wit marmer, fyn, glansend en deursigtig’; en bekyk met voldoening die blok wat hy besig is om te bewerk en ag dit nie nodig om nog iets by te voeg nie. Met skuite word dit langs die Arno op gebring van die klipgroewe in die berge anderkant Florence, en dan in oskarre na die stad gesleep en by sy werkswinkel afgelewer, fyn, glansende en deursigtige wit marmer soos hy ook sê.

    Ten slotte hang die endproduk egter nie net af van die klip wat daarvoor gebruik is nie, maar ook van die gereedskap waarmee dit bewerk is, plat, punt, tand of groefbeitels of ponse, en die fynheid waarmee dit afgerond en poleer word om die beitelmerke weg te werk. ’n Stuk marmer kan so dof en ru lyk soos growwe graniet, of glans in die lig soos blinkgevryfde metaal.

    Al hierdie kennis het Michelangelo algaande in meester Benedetto se werkswinkel opgedoen, gedeeltelik deur waarneming, maar grotendeels ook aan die hand van die meester se eie toevallige opmerkings, terloopse kommentaar teenoor die mense in sy nabyheid op die werk waarmee hy besig is of die materiaal wat hy gebruik eerder as formele onderrig. Meester Benedetto weet wat hy doen, het Michelangelo besef waar hy die inligting opvang en in sy geheue bewaar, en met groeiende opwinding en bewondering sien hoe gestaltes onder die hamer en beitel van die beeldhouer ontstaan; en hy het hom daarop toegelê om nog noukeuriger te kyk en te luister, om nog meer uit te vind oor die klip en die gereedskap waarmee dit bewerk word.

    Toe meester Benedetto van die seun se belangstelling bewus word, is hy toegelaat om in die werkswinkel rond te dwaal tussen die halfvoltooide beelde, die lewensgroot biskoppe en heiliges, brokstukke van kroonlyste en suile, ’n uitgeblokte engel en God die Vader wat nog maar net uit die marmer begin verskyn, om die marmer aan te raak, om die vordering van die werk waar te neem, die gebruik van die verskillende beitels te beproef en self van tyd tot tyd ook iets te probeer doen, vaardigheid te verkry en vas te stel hoe die wederstrewige marmer soepel en volgsaam begin word namate mens dit leer ken. Uiteindelik is hy selfs toegelaat om te werk aan ’n engeltjie wat deel van ’n opdrag uitmaak, ’n naakte, mollige kinderfiguur in helderwit marmer uit Carrara, een van vier wat ’n groot uitgewerkte altaar moet bekroon wat vir ’n kerk in Napels bedoel is. Dit is ’n versiersel ter afronding van die geheel wat die toevallige kerkganger nie eers behoorlik sal kan bekyk nie, selfs al sou hy dit raaksien, en nogtans werk Michelangelo so gewetensvol en verbete daaraan asof dit ’n persoonlike opdrag is waarvoor hy self die volle verantwoordelikheid moet dra; en wanneer dit voltooi is, glimlag meester Benedetto en knik en sê dat dit goed is.

    Soos gewoonlik, vra niemand by die huis waar hy sy dae deurbring nie, en kla sy stiefmoeder hoogstens wanneer hy huis toe kom met klere wat bedek is met die stof van die klipkappery, maar sy broers kom so gereeld met stowwerige of verskeurde klere by die huis dat dit geen besondere aandag trek nie. Dit is eers met ’n ompad dat sy vader ná geruime tyd deur die boere van Settignano hoor van sy besoeke aan meester Benedetto se werkswinkel, maar dit is op ’n tydstip wanneer hy hom bekommer oor agterstallige huurgeld wat hom verskuldig is, en hy frons net afkeurend oor sy seun se eienaardige tydverdryf.

    Dit is dus hoe Michelangelo sy eerste jare in die stad deurbring, tussen die somber huis met sy vervalle deftigheid in die Via Ghibellina, meester Francesco se rumoerige skooltjie, die kerke van Florence en meester Benedetto se werkswinkel; maar algaande besef hy dat dit die werkswinkel is wat die middelpunt van sy bestaan begin uitmaak het, nie die huis of die skool nie. Dit is ook in ’n kerk waar hy onhandig maar gretig ’n uitgebeitelde paneel probeer nateken wat hy in die werkswinkel wil gaan namaak dat hy kennis maak met Francesco Granacci, wat self daar besig is met sy sketsboek, ’n vriendelike jong man met ’n vrolike ronde gesig, vyf of ses jaar ouer as hy, met heelwat meer opleiding en ervaring en aansienlik meer selfvertroue, wat egter heeltemal bereid is om hom ongevraagd oor die jong seun te ontferm en hom raad te gee. Granacci se vader maak matrasse en drywe handel in tweedehandse goedere, sodat hy nouliks ’n geskikte gespreksgenoot vir ’n Buonarroti Simoni is, maar die gesin bly in dieselfde stadswyk agter Santa Croce as die Buonarroti’s, en Granacci self het grootgeword op sy familie se plasie buite die stad, sodat hulle genoeg het om oor te praat. Maar bowenal is Granacci verbonde aan die werkswinkel van die modieuse skilder Ghirlandaio, sodat hy hom met groot gesag en selfvertroue oor kunssake uitlaat, en Michelangelo hom gretig en gewillig aanhoor.

    Sy vader sal die vriendskap met Granacci nie goedkeur nie, weet hy; maar sy vader hoef ook ewe min iets daarvan te weet as van sy werksaamhede by meester Benedetto, en op grond van hul gedeelde belangstelling in die kuns ontstaan daar gou genoeg ’n soort kameraadskaplikheid tussen hulle, ondanks die verskil in leeftyd. Hierna het Michelangelo nie net geselskap op sy dooltogte langs die kerke van Florence en ’n metgesel wanneer hy daar gaan teken nie, maar bowendien iemand wat kan raad gee en kritiseer, met wie hy kan probeer praat oor die dinge wat hy sien, en wat iets verstaan van wat hy probeer uitdruk. En nogtans, hoe meer en hoe vinniger sy kennis en sy insig in hierdie tyd toeneem, hoe duideliker word hy terselfdertyd bewus van gevoelens en begeertes wat hy self nie kan verstaan of verwerk nie, ’n spraaklose opwinding, en daarby die besef van ’n onduidelike uitdaging wat aan hom gestel word.

    Dit is in hierdie tyd dat Michelangelo se toekoms by die huis ter sprake kom en sy vader sy menings aangaande ’n moontlike beroep vir die seun begin verkondig. As hy iets meer verlang as die lewe van ’n klerk, boekhouer of assistent by ’n koopman is dit nodig om nou te praat; maar wat is die alternatiewe wat hy redelikerwyse aan sy vader sou kan voorlê en wat selfs die minste kans sou staan om oorweeg te word? Meester Benedetto se werkswinkel sal geen goedkeuring wegdra nie, besef hy, en dit is Granacci wat hom ’n alternatief aanbied en hom geesdriftig in hierdie rigting aanmoedig. Granacci is naamlik lewendig bewus van die aansien wat sy leermeester Ghirlandaio in Florence en daarbuite geniet en die pryse wat hy vir sy werk kan vra, en daarby ook van die weerkaatste glorie wat hy self as leerling van die meester geniet. Wanneer Michelangelo oor meester Benedetto en sy beeldhouerswerk praat, luister hy welwillend, maar effens misprysend en met volkome onbegrip, en gaan nie verder op die onderwerp in nie, en begin dan geesdriftig die voordele van vakleerlingskap by die groot en gevierde skilder verkondig.

    ‘Praat met jou pa,’ spoor hy vir Michelangelo aan, ‘en laat hy met meester Domenico gaan gesels. Jou pa is miskien ’n deftige man, maar meester Domenico is op sy manier nie minder deftig nie, hy ken al die groot manne in die stad, jou pa sal gou genoeg sy mening verander.’ Vir Michelangelo lyk dit onwaarskynlik, maar daar is geen ander uitweg nie, en aarselend bring hy die bestaan van Domenico Ghirlandaio en sy werkswinkel en die moontlikheid van ’n kunstenaarsopleiding onder sy vader se aandag, en des te meer aarselend omdat dit nie gebruiklik is dat die seuns self ’n gesprek met hul vader aanknoop nie, nog minder dat hulle die inisiatief neem in sake waaroor hy self beslis.

    Die resultaat is dan ook soos hy verwag het, met woedende verontwaardiging waarby die hele familiegroep betrek word en wat die huis dae en selfs weke lank vul en die lewe daar ontwrig. Te midde van die storm kan Michelangelo slegs koes, swyg, volhard en vertrou dat hy dit sal oorlewe, en hy doen dit met des te groter volharding noudat hy ’n vaste doel voor oë het wat hom die belofte van uitkoms bied. Dae en selfs weke lank word sy lewe in die donker huis in die Via Ghibellina bykans onmoontlik gemaak, maar geleidelik besef hy dat hy sy sin sal kan deurdryf, alle teenkanting en onwilligheid ten spyt. Sy vader is uit die veld geslaan deur die ongehoorde verset teen sy gesag en weet nie hoe om dit te hanteer nie, sy persoonlikheid is nie sterk genoeg om hom in hierdie botsing te laat geld nie, en sy broer en sy swaer stel nie genoeg belang in die saak om hom hul volgehoue steun te gee nie. Uiteindelik kan hy net dreig om die onbegrensde gesag wat hy volgens tradisie en volgens wet oor al sy onderhoriges besit, uit te oefen, sonder om self te weet hoe hy dit hier wil laat geld, en wanneer hulle die punt van hierdie leë dreigemente bereik het, weet Michelangelo dat hy geseëvier het.

    Dit duur egter nog ’n paar dae voordat Lodovico bereid is om besonderhede oor meester Domenico se werkswinkel aan te vra en vaagweg te belowe om ondersoek te gaan instel. ‘Dankie, Vader,’ mompel hy wanneer dit hom meegedeel word, en weet dat dit nie veilig sou wees om in hierdie omstandighede meer te probeer sê nie.

    DIE STAD: FLORENCE

    Die stad lê weerskante van die rivier, sy twee helftes verbind deur middel van vier brûe oor die Arno. Die reisiger, te voet of te perd, nader dit deur ’n golwende landskap waar die villas en jaghuise van die welgestelde stedelinge en versterkte kastele uit ’n vroeër tyd tussen die olyfboorde en wingerde van die boerderye versprei lê; en klein, kompak en welvarend vind hy dan voor hom binne sy hoë mure, wagtorings en walle, met strakke, statige geboue wat in die goudkleurige plaaslike bouklip opgerig is: Florence met sy bykans vyftigduisend inwoners, na grootte die vyfde stad in Europa naas Milaan, Napels en Venesië in Italië en die Franse hoofstad Parys.

    Binne sy mure word die stad op simboliese wyse oorheers deur die toring en kantele van die Stadspaleis, ’n gebou so steil soos ’n vesting of fort waar die stadsbestuur gesetel is, en die hoë koepel van die Domkerk, gedurige herinnerings aan die dubbele owerheid wat hier heers, wêreldlik en geestelik, en die tweevoudige gesag van stadsbestuur en Kerk. Die trots en selfbewussyn van die stadsowerheid word egter gevoed deur die feit dat Florence nes Venesië ’n onafhanklike republiek is te midde van die koninkryke en hertogdomme van Italië, en dat hy byna al die onafhanklike stede, dorpe en gemeenskappe van die omringende Toskane aan sy gesag onderwerp het, ook al beslaan die gebied waaroor hy heers skaars meer as vyftig by ’n honderd kilometer.

    Nes die selfstandigheid van Florence beliggaam word in die Stadspaleis met sy triomfantlike toring, word die lewe in die stad oorheers deur die rites en plegtighede wat verband hou met sy bestuur: die seremoniële beraadslagings en vergaderings onder leiding van die gonfalonier of ‘wapendraer van justisie’ wat aan die hoof van die staat staan, die plegtige versending van gesante na vreemde moondhede en hul verwelkoming by hul terugkeer, die feestelike ontvangs van ambassadeurs en staatshoofde, die staatsbegrafnisse waarmee hoë amptenare vereer word, en die oproerige byeenkomste of volksverkiesings op die plein voor die Stadspaleis.

    Die ekonomie van hierdie bedrywige en welvarende stad berus op nywerheid, handel en bankwese, en word in stand gehou deur regstreekse verbintenisse met die meeste groot sentrums van Europa. Daar is aansienlike Florentynse kolonies in Rome en Napels, in Marseille, Antwerpen en Sevilla, en die goue floryn wat na Florence vernoem is, het een van die bekendste en mees betroubare betaalmiddels in Europa geword. In eerste instansie is dit dus ’n stad van sakemanne en bankiers, ’n nugter, saaklike stad, bewus van die belangrikheid van deugde soos spaarsaamheid, pligsgetrouheid en vlyt, en ’n stad waar geld, wins, rente en wisselkoerse die grootste aandag geniet. Maar daarnaas is dit egter ook ’n stad van arbeiders, van wie se vlyt sy welvaart uiteindelik afhang: ’n stad van wewers en weefgetoue, wolkaarders, lakenvollers, kleurders en al die ambagsmanne wat verder by die vervaardiging en afwerking van wolstowwe betrokke is, van kruiers met bale tekstielware op hul koppe of gebukte skouers wat hulle na die skuite op die Arno karwei, of swaar belaaide pakesels en muile wat die vragte na ander dele van Italië uitdra.

    Toenemend word die winste wat in hierdie hardwerkende stad gemaak word, tentoongestel deur die families wat deur bankwese of tekstielhandel ryk geword het en nou soos lede van die adel begin lewe, stadpaleise bou, en opdragte gee aan kunstenaars en komponiste. Herhaalde male elke dag is die verkeer in die smal strate belemmer deur waens wat klipblokke en ander boumateriaal aanry vir die bouwerk aan paleise, kerke en kapelle wat in hierdie jare van voorspoed en vooruitgang onafgebroke in een of ander stadsdeel voortgesit word, en wanneer die versperring weer verwyder is, kletter die stoet wat een of ander ryk stadsburger vergesel verby, here te perd, soos edelmanne geklee en omring deur vriende, volgelinge en bewapende knegte. Al hoe meer word geleerdes en kunstenaars uit Frankryk en die duistere gebied anderkant die Alpe in hierdie jare deur die groeiende rykdom en reputasie van die stad aangelok om hier te kom leer en te bewonder of opdragte te soek; maar ewe goed lok dit pelgrims wat die wonderdadige Mariabeeld in die kerk van die Santissima Annunziata kom besoek, en bowendien is die stad strategies geleë op die reisroete tussen die noorde en suide van Italië en op die groot pelgrimsroete na Rome.

    ’n Ryk, trotse, welvarende en bedrywige stad dus, ’n stad van kleur, beweging en lewe, met sy markpleine met hul fonteine waar vroue met kruike water haal, boerinne van die platteland met mandjies op hul koppe elke oggend hul ware uitstal, en boere met oskarre die voorrade wyn, olie, graan, voer en brandhout aanry waarvan die stad afhanklik is; ’n stad tewens van lewendige en heftige emosies, straatgevegte tussen bewoners van verskillende wyke of ondersteuners van uiteenlopende politieke groeperings, familietwiste wat soms vir generasies kan duur, en vetes tussen lede van vooraanstaande gesinne, bygestaan deur hul onderskeie bloedverwante, vriende, aanhangers, afhanklikes en bediendes. Ewe heftig is egter die mededinging tussen sakemanne, en die emosies wat deur staatkundige gebeure opgeroep word en uiting vind in sameswerings en komplotte, wraakneming en skielike geweld, botsings, aanvalle en oorvalle op straat; ewe heftig is die skielike rusies tussen die drentelaars op openbare plekke wat so maklik hul messe uitpluk, die elegante jong rykmanseuns in hul oordrewe kort baadjies en heldergekleurde kouse, pronkend, laggend en dobbelend op die pleine of in die skadu van die kerkportale of die oordekte galerye langs die strate.

    Telkens weer word die gang van sake in Florence onderbreek deur beplande aanvalle of oorvalle deur sluipmoordenaars met messe, mans wat met ontblote swaarde op mekaar toesak en burgers wat vlug om skuiling te soek, opstande of gepoogde staatsgrepe, en hardhandige onderdrukking deur die owerheid in die vorm van doodstraf, ballingskap of die verbeurdverklaring van goedere en die openbare onthoofding van veroordeeldes. Dog telkens weer word orde vroeër of later herstel, of dit om groot omwentelings of kleiner botsings gaan, en sonder dat daar iets wesenliks aan die situasie verander het, kom die stad weer tot bedaring en word die besige, bedrywige alledaagse lewe voortgesit.

    Maar ewe goed as uitbarstings van geweld word die lewe in hierdie hardwerkende koopmanstad ook deur feestelikhede en vierings onderbreek: gewyde toneelvoorstellings in die kerke waaraan al die kunstenaars van Florence saamwerk, die karnaval wat aan die Vastyd en Pase voorafgaan, heiligedae met prosessies en kerse, of die groot vierings rondom die feesdag van die stad se beskermheilige Johannes die Doper in die somer, wanneer die strate gevul is met gemaskerde feesgangers en die klank van karnavalsliedere met hul Florentynse skerts en dubbelsinnighede, die triomfantlike musiek van dwarsfluite, trommels en trompette, gedans op die pleine, en vuurwerkvertonings en vreugdevure in die nag.

    Uiteindelik kom selfs hierdie bedrywige, lewendige, rustelose stad egter tot rus. Die boere pak weer hul goed op hul karre en keer terug na hul boerderye, die markverkoopsters maak hul oorblywende ware bymekaar, die ambagsmanne grendel die hortjies voor die deure van hul werkplekke. Dan word die laaste spelende kinders in die strate deur hul moeders geroep, die lig in die arbeiderswonings word gedoof, en selfs die kerke word gesluit. Net van die boverdieping van een of ander rykmanswoning waar kerse die vertrekke verlig, kan mens nog musiek of die stem van ’n enkele sanger hoor of die klank van ’n luit of ’n fluit van agter die hoë mure van ’n tuin, of groepies gemaskerde feesgangers met musikante en brandende fakkels trek singend deur die smal strate, lank nadat die winkeliers en arbeiders van Florence gaan slaap het.

    DIE WERKSWINKEL

    In die lente van 1487 teken Lodovico Buonarroti teëstribbelend en onwillig ’n kontrak waardeur hy sy seun vir drie jaar aan meester Domenico Ghirlandaio verbind ‘om te leer skilder en hom te oefen’, teen ’n loon van ses floryne vir die eerste jaar, agt vir die tweede en tien vir die derde. By die huis verswyg Lodovico nie sy misnoeë oor hierdie beskeie bedrae nie.

    Die werkswinkel wat meester Domenico en sy broer in vennootskap bedrywe, is waarskynlik die grootste, besigste en gewildste in Florence, dog dit is slegs een van vele in die stad waar ’n meester sy eie kennis en die vrug van sy eie ervaring oordra aan die seuns en jong mans wat hy as vakleerlinge aanvaar. In hierdie werkswinkels word opdragte uitgevoer wat oor ’n wye terrein kan strek, en besonderlik is dit die geval by meester Domenico, want hy is ’n praktiese sakeman wat geen opdrag weier waaruit hy moontlik voordeel sou kan trek nie, ongeag die aard van die werk: skilderye en muurskilderinge kan hier bestel word, beeldhouwerk en bronsbeelde word op aanvraag vervaardig, medaljes, messe en wapens vervaardig en versier, en tapisserieë, kerkgewade en kleurglasvensters ontwerp, ewe goed as preekstoele of altare, ontwerpe vir kandelare of inkkokers verskaf, meubelstukke beskilder, rame vir skilderye uitgesny en verguld, kostuums en tydelike versierings vir feeste en optogte voorsien, en ornamentele perdetuig beskilder, soms deur die hand van die meester self, in die geval van die grootste en belangrikste opdragte, maar meer dikwels as ’n gesamentlike onderneming wat grotendeels deur sy leerlinge en assistente uitgevoer word, na sy ontwerpe, met sy hulp, en onder sy leiding en toesig.

    Voordat hulle in die werkproses ingeskakel en deel van hierdie bedrywige geheel kan word, moet die seuns wat onder sy sorg en toesig staan egter leer, en aanvanklik word die leerjonges hoofsaaklik vir handlangerswerk ingespan, en waar nodig selfs opgekommandeer om hul klere uit te trek en vir een of ander engel of heilige model te staan wanneer ’n nuwe ontwerp geteken of geskilder moet word. Wanneer daar aan ’n groot projek gewerk word, soos die muurskilderinge in die kerk van Santa Maria Novella wat op die oomblik soveel van meester Domenico se tyd en aandag in beslag neem, word hulle egter grotendeels besig gehou met die fynmaal van die pigmente wat vir die aanmaak van die verf benodig word of die voorbereiding van die pleisteronderlaag waarop daar geskilder word, roetinewerk wat nogtans van die allergrootste belang is en behoorlik verstaan en noukeurig uitgevoer moet word. Wat die mees verantwoordelike deel van hierdie meganiese werksaamhede betref, soos die hantering van bladgoud wat veral vir die stralekranse van heiliges gebruik word of die fynmaal van die ewe kosbare lasuursteen waaruit die intense blou ultramaryn vir die mantel van die Maagd Maria verkry word, kan hulle voorlopig egter nog net staan en kyk.

    Ook moet die seuns ingewy word in die geheime van anatomie en perspektief, wat eers in teorie verduidelik en vervolgens in die praktyk toegepas word, en onderrig word in die tekenkuns, met al die noukeurige waarneming en konsentrasie wat dit vereis en die oefening vir oog en hand wat dit bied, en vervolgens moet hulle ’n verskeidenheid voorwerpe uit die daaglikse lewe en werke van die meester self of ander kunstenaars nateken, op verskillende soorte en kleure papier en met verskillende soorte tekengereedskap. Ewe goed moet hulle dan leer skilder op houtpanele, doek of gepleisterde mure, en met verskillende soorte verf, soos die tradisionele tempera wat met die geel van ’n eier aangemaak moet word, of die olieverf uit die Nederlande wat juis in hierdie tyd in Italië bekend begin raak.

    ‘Julle moet jul materiaal ken,’ onderrig meester Domenico sy leerlinge terwyl hy tussen hulle op en neer stap, hande op die rug; ‘julle moet dit deur en deur ken voordat julle kan hoop om iets daarmee uit te rig. Die proses waardeur ’n kunswerk tot stand gebring word, word van begin tot einde bepaal deur die eienskappe van die materiaal,’ verkondig hy gesaghebbend, en die seuns hoor hom aan, koppe geboë oor die werk. Meestal is hy te besig met praktiese opdragte uitvoer of aanwysings aan sy assistente gee om baie tyd aan die teoretiese onderrig van die leerlinge af te staan; maar wanneer hy eenmaal op hierdie manier begin uitwei, vergeet hy gewoonlik vir ’n tydjie van sy ander verpligtings, en gaan op die onderwerp in asof hy dit geniet om na sy eie stem en sy eie menings te luister terwyl hy plegtig tussen die swygende leerlinge op en neer stap.

    Michelangelo kyk, luister, leer en oefen saam met die ander leerlinge, kop geboë oor sy werk, en trek aanvanklik geen besondere aandag tussen die vlytige tekenaars nie; maar eendag bly meester Domenico langs hom staan. ‘Jy hanteer jou penseel op ’n baie kragdadige manier, jong man,’ merk hy ná ’n tydjie op. ‘Byna asof dit ’n beitel was.’

    ‘Ek het onder die klipkappers grootgeword,’ mompel hy, maar die skilder maak asof hy dit nie hoor nie.

    ‘Liggies, liggies,’ wys hy die seun tereg. ‘’n Ligte aanslag, sierlikheid van lyn, grasie en bevalligheid. Mens moet leer om jou in te hou, om terug te hou, om te bedwing. Dissipline en tegniek,’ gaan hy verder terwyl hy sy wandeling tussen hulle voortsit, hande op die rug, ‘dít is die twee belangrike beginsels van ons werk wat ek julle almal hier wil probeer bybring.’ Michelangelo swyg, geboë oor sy tekenbord, maar verander nie sy aanslag nie, teken nog altyd met sterk, besliste lyne, en dui die skakerings deur middel van ewe besliste arsering aan.

    Eendag gebeur dit dat hy sonder om eintlik na te dink oor wat hy doen ’n tekening van een van sy medeleerlinge met ’n breër penpunt in sterker lyne oorteken, byna asof dit sy eie werk is wat hy nasien en verbeter. ‘Wie het hierdie tekening beetgehad?’ vra meester Domenico nogal skerp wanneer hy dit onder oë kry, en dit is duidelik dat hy die veranderings nie as ’n verbetering beskou nie, maar hy sê niks nie, alhoewel die leerlinge wat rondom sit hul asem ophou en ’n uitbarsting verwag. ‘Michelangelo Buonarroti weet reeds meer as ek,’ is sy enigste reaksie, en sy stem klink nie minder skerp nie; en dan sit hy die tekening neer en kom langs Michelangelo staan. ‘Mens moenie probeer loop voordat jy kan kruip nie, Michelangelo Buonarroti—ken jy daardie gesegde? Die leerling moet oppas as hy slimmer wil wees as sy meester. Ek gee julle voorbeelde om na te volg sodat julle iets kan leer, en wanneer julle die dag geleerd is, kan julle wys wat julle self alles weet en probeer om die werk van ander mense te verbeter, nie eerder nie.’

    Namate hul onsekere en aarselende vaardigheid toeneem, word die leerlinge algaande egter ook toegelaat om meer skeppend op te tree en die meester in sy eie werk by te staan: om byvoorbeeld die meer reëlmatige of eentonige dele van ’n skildery in te verf, soos ’n lug of ’n muur, of ’n versiering te herhaal nadat die patroon eenmaal vir hulle voorgeskryf is. Algaande neem die verantwoordelikheid wat aan hulle toegeken word dan ook toe, en word ’n meer ingewikkelde en uitdagende onderdeel van ’n werk aan ’n gevorderde leerling toevertrou, soos byvoorbeeld die skadu oor ’n drumpel, die plooie van ’n mantel of die gedempte weerkaatsing van die lig op ’n silwerskottel in ’n skildery. Maar hier ewe goed is dit vir hulle nodig om alle eie neigings of ingewings te onderdruk, ten einde getrou by die meester se styl te kan aansluit en dit meganies te kan kopieer, sodat die eenheid van die werk wat deur sy ateljee en onder sy leiding voortgebring word, bewaar kan bly. Slegs die vaardigste en mees betroubare leerlinge word soms toegelaat om hom by die belangrikste skilderwerk te vervang, soos die hande en gesigte van die hooffigure.

    In hierdie tyd is meester Domenico hoofsaaklik besig met die muurskilderinge in ’n kapel van die groot Dominikaanse kerk van Santa Maria Novella. Hy waak sorgsaam oor sy eie eer en sy reputasie, en hy is lewendig bewus van alles wat die opdrag van die ryk en gesiene Tornabuoni’s vir hom beteken, sodat sy toesig oor die werk in die kapel vir geen oomblik verslap nie, en gedurig is hy met die lere op en af by die stellasies in die kerk om toesig te hou oor wat sy helpers doen en hulle waar nodig tereg te wys. Dit is hier dat Michelangelo volledig ingewy word in die werkswyse van sy leermeester, en bowenal die manier waarop Ghirlandaio die skilderkuns beoefen.

    Die fresko’s wat die mure en plafon van die Tornabuoni’s se privaat kapel in die kerk moet versier, is in groot formaat, panele meer as vier meter lank met ’n kwistige aanwending van bladgoud, wat veronderstel is om episodes uit die lewens van Maria en Johannes die Doper uit te beeld. In feite is die reeks Bybelse tonele egter nie soseer ’n betragting van die heilsgeskiedenis nie as ’n uitbundige viering van die Florentynse samelewing op sy hoogtepunt en van die rykdom van die familie Tornabuoni, gevul met byna lewensgroot portrette van familielede, vriende en aanhangers, almal so noukeurig uitgebeeld asof dit om ’n versameling familieportrette gaan, en almal ewe deftig en modieus met hul gekleurde kouse en geborduurde moue, hul slepe en sluiers en groot tulbandagtige hoede wat om hul koppe opgedraai en vasgeknoop is. Selfs het meester

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1