Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

By fakkellig
By fakkellig
By fakkellig
Ebook338 pages4 hours

By fakkellig

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Dit is Ierland aan die einde van die agtiende eeu: ’n Ierland onder die hiel van die Engelse heerser, sy volk onderdruk, magteloos, sonder regte. Die opstandsgevoel neem toe, ook onder invloed van die Franse Rewolusie en Napoleon se opkoms. Teen hierdie agtergrond maak David, jonger broer van sir Arthur, heer van Donore, onverwags kennis met die Ierse volk. Hy raak bevriend met die skoolmeester Liam O Néill, die verarmde Séamas Bán, die priester O Floinn, met die meisies Nóra en Eilís . . . en hy bevind hom in ’n posisie waar ’n keuse aan hom opgedwing word, teen sy sin. “Een ding het hy egter besef, dat niks hierna meer dieselfde kan wees nie . . . Soos op ’n golf is hy voortgespoel deur die gang van sake, en die gety sou nie bly staan in sy stroming of hom terugkeer nie.”
David weier om hom by enige groep te skaar – hy wil alleen homself bly en met sy vriende verkeer – maar dit is nie moontlik nie en onverbiddelik beweeg omstandighede hom om tog daadwerklik die Iere te probeer help. Die uiteinde is vir David tragies en ironies: “Geen mens wat begryp nie, en ná sy dood ook geen mens wat sal weet hoe dit was nie; indien daar ’n beeld van hom bly voortbestaan, sal dit iets wees wat geen verband hou met die werklikheid nie.”
By fakkellig is ’n ontroerende roman waarin die Ierse landskap, die rustige leefwyse van die adel, die verbitterde bestaan van die boerevolk en die vertwyfeling van Arthur uitgebeeld word op ’n wyse wat herinner aan Yeats se woorde van byna twee eeue later: “A terrible beauty is born”.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 16, 2016
ISBN9780798173131
By fakkellig
Author

Karel Schoeman

Karel Schoeman word beskou as een van die grootste literêre geeste ooit in Afrikaans. Gedurende sy leeftyd het meer as 30 romans en tientalle geskiedkundige en outobiografiese werke uit sy pen verskyn. In 1998 ontvang hy die Orde van Ikhamanga. Sy romans verskyn ook in Nederland, die VSA en Frankryk. Schoeman is oorlede op 1 Mei 2017.

Read more from Karel Schoeman

Related to By fakkellig

Related ebooks

Related articles

Reviews for By fakkellig

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    By fakkellig - Karel Schoeman

    1

    Nouliks het ’n mens te midde van veld en woud die verval van die landgoed gemerk. Geleidelik, geleidelik deur die jare het dit plaasgevind, en daar was skaars iemand wat probeer het om dit te keer. Wie het omgegee? Nie ou lady Harriet nie, wat selde die afsondering van haar kamer verlaat het, nog minder O Ruairc, die agent, wat in sy kantoor whiskey gedrink het en slegs uitgegaan het om te jag. En Arthur self? ’n Kortstondige besoek, die snelle dwarreling van honde en perde, pagters en agente, en dan was hy weer weg, terug Engeland toe, en het die huis agtergebly te midde van die velde en woude wat stil en geluidloos weer die park inneem. David het sy gang gegaan en hom aan landgoed nóg huishouding gesteur. In die huis het hy geëet en geslaap, in die biblioteek het hy gesit en lees, maar selfs hý was skaars meer as ’n besoeker wat gekom en gegaan het soos hy wou, sonder om veel ag te slaan op wat daar om hom heen gebeur.

    Wat die mens tot stand gebring het, is langsaam weer uitgewis. Die groot hek het skeef gesak aan sy skarniere, en ná die winterstorms het die takke in die oprylaan bly lê tensy daar van die boerevolk gedurf het om hier by die groot huis te kom brandhout optel. In die broeikaste was daar van die ruite gebreek, en die moestuin is slegs gedeeltelik nog bewerk. Wie was daar om toesig te hou oor die tuiniers? Langsaam het die blombeddings hul netheid verloor, het die gras ruier gegroei en die heinings wilder, die buitelyn van die tuin byna verlore. Reeds het braamtakke begin om die fyn pilare van die somerhuisie te omrank.

    Nou in die lente het die oggend gouer helder begin word, en David het vroeg opgestaan en in die tuin gaan stap. Onder deur die bome waar groen blare oopvou aan die takke, geen mens reeds op om die stilte te versteur nie, net hy alleen en die hond wat deur die lang gras hardloop agter konyne aan. Hy stoot die hekkie oop wat na die tuin toe lei: die groot huis voor hom op die hoogte, die grasvelde daaromheen, en die somerhuisie waar ’n vrou se rok wit blink tussen die pilare.

    Vir ’n oomblik bly hy staan, sy hand op die knip van die hekkie, sy kinderjare toe sy moeder daar gesit en lees het in ’n ligte rok en tee gedrink het op somermiddae, maar toe herken hy haar en besef dat dit Arthur se vrou is.

    Sy het hom gesien, en onwillig word hy gedwing om na haar toe te stap deur die ritselende lang gras.

    David, sê sy, nog ’n bietjie onseker.

    Jy staan vroeg op.

    Ek kon nie meer slaap nie, en ek het die voëls buite hoor sing, toe kom ek na buite.

    Arthur is seker nog nie op nie.

    O, Arthur het nog so vas geslaap … Maar dit was ook laat gisteraand toe ons hier aangekom het.

    Dit was nag gewees, en met die drukte van hul aankoms het hy in die lig van die flamboue net ’n glimp van haar gesig gekry voordat ou Toby hulle met kerse na hulle kamer voorafgegaan het.

    Jy het nie lank gewag om inspeksie te kom hou nie, sê hy, en sy lag blosend.

    Ek het soveel van Ierland gehoor, en ek het nog niks daarvan gesien nie, net Dublin gister met ons aankoms.

    Julle mense in Engeland dink mos ons is barbare.

    O nee! Nóg bloos sy. Daar is dan so baie Ierse mense in Engeland, soos Arthur ook. Maar tog, dit is hier nie soos Engeland nie: ek het dit gisteraand al gesien op pad hierheen, al was dit reeds donker gewees. Die gesigte van die mense óm die koets toe ons stilhou om nuwe perde te kry, en hul stemme – ek het gevoel dat ek in ’n vreemde land is.

    Was jy nooit vantevore weg gewees uit Engeland nie?

    Ek was nog nooit êrens anders nie as Londen en Bath.

    Saam kyk hulle uit oor die landgoed, die verre heuwels anderkant die bome, die huis met sy onversteurde vensters.

    Dis ’n mooi somerhuisie, merk sy toe saggies op.

    My vader het dit laat bou vir my moeder net nadat hulle getroud is: hy het dit laat ontwerp deur ’n argitek uit Engeland.

    Sy is jonk dood, nie waar nie, vra sy, jou moeder?

    Ja, toe ek nog klein was.

    Dit raak heeltemal toegegroei. Sy probeer om die braamtakke terug te stoot.

    Pas op, sê hy, jy sal jou rok skeur aan die dorings.

    Arthur was natuurlik so lank weg gewees. Maar ons kan iemand kry om dit skoon te maak, dan kan ek hier sit in die somer wanneer die bloureën blom.

    Saam begin hulle langsaam terugstap oor die nat grasveld na die huis.

    Arthur sê jy ken die plek, sê sy skielik; die hele landgoed. Jy moet my alles vertel, alles wys. Ek wil dit ook leer ken – ek wil leer om dit lief te hê. Sy glimlag vir hom, en toe verander haar stemming weer. Hoe laat eet julle? vra sy.

    Ek weet nie, antwoord hy hulpeloos. Die bediendes sal seker netnou begin opstaan.

    Dis nog vroeg. Ek sal maar na my kamer gaan – daar is soveel wat ek moet doen, al die koffers wat uitgepak moet word. ’n Oomblik talm sy, en toe glimlag sy weer en verdwyn in die huis waar die glasdeur oopstaan op die terras.

    David kyk haar agterna, en toe fluit hy vir die hond en stap stadig verder oor die gras. Dus is dit Arthur se vrou, die erfdogter uit Engeland: dié jong meisie met hare los op haar skouers, die nuwe vrou van Donore.

    Toe hy die eerste keer van Arthur se huwelik verneem het, was hy nie seker of hy daarvan hou nie, of van Arthur se terugkeer huis toe. Die lewe tuis sou nie meer dieselfde wees as Arthur ná al die jare in Engeland weer hier moes kom woon nie. Reeds het daar ’n roering deur die mense gegaan, en ou Toby se oë het geblink by die vooruitsig dat Donore weer ’n baas sou hê. Ek het jou grootvader hier sien aankom met sy bruid, meneer David, het hy gesê, en bewoë met sy sakdoek oor sy oë gevrywe, en ek het jou eie vader en moeder gesien; en nóú sir Arthur … Dit sal ’n trotse dag vir my wees, meneer David, ’n trotse dag. Toe het hy weggesnel om die berig na die bediendes oor te dra: ’n Engelse dame, ’n Engelse erfdogter – die blote gedagte nog genoeg om hom te vergoed vir sy jarelange ballingskap in Ierland. Êrens het hy dit reggekry om besonderhede van haar familie uit te vind en haar stamboom na te gaan. Haar grootvader, sir Gilbert, was ’n ridder van die Bad-orde en ’n vriend van die Graaf van Chatham; haar moeder is die dogter van die Burggraaf van … Met kinderlike genoeë het hy al die titels sit en oorvertel voor die winterkaggel.

    Nou is sy hier, die jong lady Alice, en die dae kry weer lewe. Wanneer laas het dit gebeur dat daar soggens mense aankom? O Ruairc het egter oorgery net ná die ontbyt met verkreukelde klere en ’n geskeurde kantjabot spesiaal ter ere van die nuwe vrou van Donore. ’n Eer, het hy met ’n lae buiging en ’n wye swaai van sy hoed gegroet. ’n Eer, lady Alice, en sir Arthur, om u terug te verwelkom in Ierland, terug na u tuiste. Ons het lank gewag dat u moet terugkom, sir Arthur, maar as dít die rede was vir u afwesigheid, kan ons dit goed begryp, en waarlik, dit was die lang wag werd om lady Alice in ons midde te verwelkom. Eers vir die een en dan vir die ander buig hy neer met sy hoed teen sy hart aan gedruk, en sy gladde tong is nie stil nie.

    Hulle was pas klaar met ontbyt toe hy daar aankom, en David vertoef ’n oomblik om na die vent te luister. Arthur staan met sy hande in sy sakke vir hom en lag, en Alice kyk toe met ’n glimlag op haar lippe, onseker hoe sy moet antwoord, en of daar selfs ’n antwoord verwag word.

    Kan ek jou nie ’n koppie tee aanbied nie, meneer O Ruairc? vra sy, en staan op om die klokkie te lui vir die bediendes, maar toe sy aan die belkoord trek, breek dit af in haar hand. Arthur bars uit van die lag.

    Nie tee, nie tee nie! roep hy uit. Whiskey, whiskey vir jou, nie waar nie, O Ruairc?, en hy skreeu deur die portaal vir Toby. Toby! Toby, jou ou duiwel, waar bêre julle deesdae die whiskey? Bring vir ons ’n bottel, man: dis nie meer net meneer David wat hier in die huis is nie!

    Hulle het almal aan die lag gegaan, Arthur voor die vuur en David by die venster, en O Ruairc met die glimlag op sy lippe en sy hoed nog teen sy bors vasgeklem, en Alice met die gebroke belkoord in haar hand en haar oë wat van die een na die ander kyk, nog nie seker hoe sy alles moet verwerk nie.

    Dis Ierland waar jy nou is, my liefste, nie meer Engeland nie! roep Arthur haar toe. Hier in Ierland drink ons whiskey net ná ontbyt, vir ontbyt, en die belkoorde breek altyd.

    Hulle lag en lag sonder om self te weet waarom, maar daardie dae ná Alice se aankoms is baie vrolik.

    Dis goed om weer jong stemme in die huis te hoor, sir Arthur, sê ou Toby terwyl hy hulle bedien aan tafel en van stoel na stoel loop met die wyn. Dis weer nes die ou dae, toe jy en meneer David nog seuns was, en daarvóór nog toe jou vader klein was, ses kinders in die huis. Maar een van die dae weer, hoop ons … Hy bly staan tussen Arthur en Alice in, en mymer voort met die wynfles in sy hand. Dit lyk net gister, lady Alice, dat ek lady Harriet hier sien aankom het, en ek self nog ’n jong man. In die winter was dit, en die mense het vreugdevure by die hek aangesteek om hulle te verwelkom. Die huis was toe nog maar half klaar, maar dit was ’n blye dag. Nege-en-veertig jaar gelede, sir Arthur, nege-en-veertig jaar.

    Alice het geluister na die ou man se praatjies, al het Arthur skaars opgekyk. Vir haar was alles nuut, elke oomblik in die nuwe huis, die nuwe land ’n avontuur. David het na haar gekyk oor die kraffies heen. Sy was ’n blote skooldogter, nouliks bevry van klaskamer en goewernante, gereed om alles interessant en opwindend te vind. Haar uitgelatenheid het iets in hom opgewek – selde in die jare wat hy hier alleen deurgebring het, was hy so vrolik gewees soos hy nou meteens geword het.

    Sy wou die landgoed sien, die hele omgewing, en Arthur het David gevra om haar uit te neem in die sjees, want hy het die buurt immers so goed geken: hy self sou hulle te perd vergesel. Die lug was helder agter die skuimende wolke, en ’n groen waas het die takke bedek al langs die oprylaan, maar die koue was nog skerp en winters. Vir Alice weggeduik in die wye kap van haar mantel, egter, was alles genot: langs die modderige paaie waar die takke van die heinings nog kaal rank, verby die heilige put waar die lappies aan die struike fladder, verby die klipmuurtjies en die vervalle huisies van die gehuggies met kinders en kaalvoetvrouens wat hulle van die deure nastaar.

    Hulle is so arm! roep Alice uit. Is dit óns mense, Arthur?

    Hulle’s almal ons pagters, nie waar nie, David? Daar’s ’n hele paar honderd van hulle op ons grond.

    Maar doen niemand dan iets vir hulle nie?

    Arthur haal sy skouers op. Wat moet jy vir hulle doen? Enigiets wat jy probeer, is maar net ’n druppel in die emmer. Hul ellende ken geen einde nie.

    Alice bly egter nog staar na die krotjies onder die laag-afhangende strooidakke totdat hulle langs die draaiing van ’n sypad die boerdery bereik.

    Kan ons gaan kyk na die boerdery? vra sy, haar aandag weer afgelei.

    Dis te modderig, sê David vir haar. In die lente kan ons gaan.

    Arthur het sy perd egter al teruggetrek. Gaan julle maar aan, sê hy, ek gaan na die stal toe; en hy kies kortpad deur die velde, te perd oor die hegge heen na die boerdery.

    David en Alice ry alleen voort, verby die kaal populiere wat nog troosteloos staan teen die lug.

    Arthur is baie lief vir perde, sê sy. Het julle ’n goeie stal?

    Ons het goeie perde gehad toe my vader nog gelewe het, want hy het baie gejag, maar ek dink dit is verwaarloos sedert hy dood is. Daar’s teenswoordig net my ryperd, en ’n paar koetsperde wat my grootmoeder gebruik as sy uitgaan.

    Ek het tuis nooit veel gery nie, sê sy.

    Jag jy?

    Ek was ’n paar keer op die jagbyeenkomste gewees. Maar eenkeer het ek die vos gesien terwyl hy probeer wegkom van die honde, en daarna kon ek nie meer gaan jag nie.

    Dan is daar ten minste twee van ons, sê hy. Die mense hier rond jag baie.

    Arthur ook – ek weet hoe lief is hy vir jag.

    Hulle ry oor die bruggie waar die water verbystort oor die stene en die wilgebome die eerste groen vertoon. In die verte, laag teen die reeds verdonkerende lug, het hy haar die toring gewys van die kerk by Baile an Laoich wat hulle Sondae bywoon.

    Verby die kerk is daar meneer Hardinge se landgoed, sê hy, en anderkant die woud is Killcummin Park, die Cunninghams se huis.

    Hy draai om, en met ’n ander pad ry hulle terug huis toe deur die woud. Die ondergaande son het losgebreek uit die wolke en oor die land uitgespoel. Die velde brand groen en die heuwels en woude vloei weg, die dag verlate, geen mens te sien nie, geen rook eers uit ’n skoorsteen nie, en net die voëls wat sing tussen die takke.

    Alice skud haar kap af om die wind langs haar gesig te laat verbywaai.

    Dit is so baie soos Engeland, sê sy, en tog so vreeslik anders.

    Dink jy so?

    Merk jy nie hoe wild die land is nie, hoe ongetem? In Engeland is alles so voorspoedig en welvarend, so veilig, maar hiér – hiér … Ek kan dit nog nie verstaan nie.

    Ek was nooit weg gewees uit Ierland nie. As jy jou hele lewe lank hier bly, aanvaar jy alles maar soos dit is, en jy dink nooit daaraan om vrae te stel nie.

    Ek hou daarvan om vrae te stel, sê sy. Ek vra altyd.

    Hulle keer terug: die huis is reeds voor hulle. Selfs toe hulle deur die oprylaan ry, rus Alice se oë egter nog op die verre landskap, en daar is iets weemoedigs in haar uitdrukking.

    In die ou huis waar lady Harriet en David so lank die stilte gedeel het, het daar weer lewe gekom. Blindings wat jare lank neergetrek was, is opgehaal voor die lentesonskyn, en van die gesluierde vertrekke is die stoflakens verwyder. Bediendes wat nog altyd voor die groot vuur in die kombuis geluier het, het in die sitkamers en portale verskyn met stoflappe en besems. Met ’n skielike en ongekende ywer het die hele huishouding lewe gekry en die verwaarlosing van die jare begin bekamp vir die terugkeer van sir Arthur en sy vrou.

    Lente het gekom met sy skuimende wolke en lang, sagte reënvlae, met ’n waas van groen aan die takke en sleutelblomme in al die woude. Arthur se vriende het hulle die eerste langs die modderige paaie begewe, en joelend met hul perde by die voordeur stilgehou. Hul stemme en gelag het die huis gevul, met geskreeu om nóg whiskey en nóg turf vir die vuur: die oproerige Townsends, en Frobisher en Tom Halliday, Arthur se ou jag- en drinkmakkers. David het hom teruggetrek na die stilte van die biblioteek waar die boeke met hul leerkafte onaangeraak staan, en hier het Alice hom gevind in die skuiling van ’n vensternis.

    Daar het van Arthur se vriende kom kuier, sê sy.

    Dis waarom ek hier sit.

    Is dít dan waar jy heen kom wanneer jy so skielik verdwyn?

    Soms. Dit is ten minste die één plek in die huis waar jy selde gehinder sal word.

    Wie het al die boeke versamel? vra sy terwyl sy langs die rakke dwaal. Jou vader?

    Hy lag. My vader het nooit aan ’n boek gevat nie. My grootvader het hulle uit Engeland laat kom toe die huis gebou is, seker maar hoofsaaklik vir die vertoon, soos die muurpapier en die gordyne. Daar is soveel reeds verkoop om skuld te betaal, en niemand stel belang in hulle nie. Ek is die enigste persoon wat ooit hier kom.

    Ek het al gehoor hoe baie jy studeer, hoeveel boeke jy gelees het. Sy kom langs hom sit by die venster. My vader het ’n groot biblioteek gehad en hy het my altyd daarin laat lees wat ek wou. Daar was soveel boeke, Franse boeke ook, en ander tale: Latyn, Grieks, Hebreeus. Ek het baie gelees, sommer rond en bont, net genoeg om my kop vol idees te kry en niks behoorlik te leer nie.

    Met gevoue hande staar sy uit na die fyn reën wat weer begin aankom oor die bome van die park, haar geblomde rok helder in die skemering van die vertrek.

    Is jy eensaam hier? vra hy.

    Dit is nuut en vreemd, en ek sal nog moet gewoond raak daaraan. Maar ek sál. Vir ’n rukkie is sy stil. Wanneer sal die reën ophou? vra sy dan.

    Eendag skielik wanneer jy dit nie verwag nie – dan sal die son skyn en die hele land sal groen wees.

    Dan sal ek gaan blomme pluk in die park, sleutelblomme en narsings. Jy moet my wys waar die blomme groei, David. Maar wanneer sal dit wees?

    Arthur se vriende het vir die aandete gebly, en die kraffies het óm en óm gegaan in die kring rondom die tafel. Hulle het vroliker en luidrugtiger geword: hulle het planne beraam om te gaan perde koop in Cill Chainnigh, hulle het geswets oor die meisies wat hulle verower het en die jagavonture wat hulle meegemaak het, en dit was ná middernag toe hulle sing-sing vertrek het.

    Die reën het verbygeruis en die lente het aangegroei: die nat bome en hegge het geskitter in die sonlig. Daagliks het Arthur na die boerdery gegaan om die perde te inspekteer. Met die mooi weer het ander besoekers ook langs die landspaaie aangekom, en heel eerste het die Cunninghams hul opwagting gemaak, lady Elizabeth met wuiwende vere aan haar hoed en haar bende giggelende dogters almal saamgeprop in die koets, en meneer Cunningham self gedwee agterna te perd, oorstem soos altyd deur die vroumense.

    Eers toe die tee bedien is, het David hom by die geselskap gevoeg, want Alice het vir Toby gestuur om hom in die biblioteek te gaan soek, en onwillig het hy toegelaat dat lady Elizabeth hom oorweldig.

    David, uiteindelik! Wanneer laas het ons jou gesien? Jy moet hom onder hande neem, lady Alice; dis nou jare lank dat hy afgesonder hier leef. Daar is geen dans of jagbyeenkoms in die omtrek wat hy ooit bywoon nie – hy sonder homself net af met ’n klomp boeke. Dis onnatuurlik, al hierdie gelees! Wat word van die jongmense deesdae? Speels gee sy hom ’n stampie. Toe, jou vabond, jy kan hand bysit noudat jy opgedaag het. Fanny, Maria, laat David vir julle tee bring, en moenie dat hy weer verdwyn nie!

    Cunningham begroet David se koms met verligting waar hy voor die venster staan, ongemaklik by al die vroue.

    Goeiendag, David, groet hy. Weet jy miskien waar Arthur is?

    Ek glo hy het gaan ry, meneer Cunningham – moontlik sal u hom nog by die boerdery vind.

    Kom ons stap af soontoe en kyk of ons hom daar kry.

    Hy beweeg reeds na die deur, maar Fanny en Maria spring op van die rusbank om David beet te gryp, een aan elke kant, terwyl hulle moeder vertederd toekyk.

    Ag nee, Pappie, Pappie kan nie nou al weer vir meneer David wegsleep om na die perde te gaan kyk nie! Hy’t nog nie eers ’n koppie tee gekry nie.

    Hulle vader is egter nie te kere nie, en David gaan met hom saam. Toe hulle buite kom, is dit asof Cunningham weer asemhaal: hy is ’n klein mannetjie, maar dit is byna asof hy groter word, en hy stap meer selfversekerd, sy rysweep vasgeklem agter sy rug.

    Ek wou nog met Arthur kom gesels het oor daardie jagperd wat Ned Carey wil verkoop, sê hy, maar ek het nooit die kans gekry nie. Ek was toe laasweek by kolonel Gunning gewees en hy sê hy glo … Hy gesels voort, vry om weer oor mannesake te kan praat, en David moet weinig meer doen as luister.

    Hulle stap van die huis af weg oor die groot veld in die rigting van die boerdery toe hulle sien hoe Arthur na hulle aangery kom. Nooit ry hy padlangs nie, altyd in dolle vaart oor die velde, en sierlik styg sy perd oor hegge en slote totdat hy langs die twee mans stilhou.

    Mooi so, jong! roep Cunningham uit. Jy weet darem nog hoe om op ’n perd te sit, ten spyte van al die jare in Engeland.

    Wat dink jy dan, kêrel? Ek het darem nie die hele tyd by bals en dobbelsale deurgebring nie. Ek het ’n paar deksels goeie jagte meegemaak.

    Saam draai hulle om en loop terug huis toe deur die lang gras van die veld.

    En toe, Arthur, vra Cunningham, is jy nou vir goed terug?

    Ek hoop so. Ek het ’n vrou gekry, ek is getroud, en dit is al rede waarom ek ooit weggegaan het. Nou kan ek weer aandag gee aan Donore.

    Die plek het ’n baas nodig.

    Dit hét – alles is maar verwaarloos. Ek sou nie durf om te gaan jag met die ploegperde wat ons deesdae hier het nie.

    Julle’t goeie perde gehad toe jou vader nog geleef het.

    Almal verkoop toe ek die geld moes hê om Engeland toe te gaan. Onthou jy nog daardie sweetvos wat my vader in Durlas gekoop het? Maar ek gaan die stoet weer opbou, dat ons ordentlike perde kan hê vóór die jagseisoen begin. Hoe sê jy, sal jy met my oorry Killboy toe om te gaan kyk …

    Onder die kastaiingbome gaan hulle op die draad leun om te gesels oor Ned Carey se jagperd, en David verlaat hulle sonder dat hulle hom selfs sien gaan. Hy het sy lewe lank maar min met hulle te doen gekry – selfs as kind is hy aan homself oorgelaat terwyl Arthur en sy vader dag na dag gejag het of besig was met tuie en gewere. Hy het buite die kring gestaan, sy moeder vroeg reeds oorlede, sy grootmoeder teruggetrokke in haar kamer met al haar vae kwale, en niemand het op hom ag geslaan nie. Alleen het hy in die biblioteek gesit en lees, alleen het hy rondgedwaal deur die landgoed, oor die velde en heuwels van die omgewing. Toe het sir Frederick van sy perd geval, een glashelder wintersdag toe die grond glad was van die ryp, en is hy dood huis toe gedra; en Arthur het Engeland toe gegaan om ’n ryk vrou te soek met wie se geld hulle die landgoed aan die gang sou kan hou. Dié taak is ook verrig, en met sy bruid het hy teruggekeer na Donore om David se lewe te verander.

    Die Cunninghams gaan ’n bal gee, vertel Alice een aand aan tafel. Lady Elizabeth het vanmiddag ’n bediende oorgestuur met die uitnodiging.

    Die ou vrou sal elke dag van die week ’n bal gee as sy die kans kry, mompel Arthur.

    Sy sê dit is sodat ek die kans sal kry om al die bure te ontmoet. Kan ons gaan, Arthur?

    Dis jý wat ’n bal behoort te gee, Arthur, val lady Harriet haar in die rede; saans het sy nou weer te voorskyn getree uit die kamer waar sy haar so lank ingemessel het, en hulle vier het aan die lang, leë tafel gesit, oneindig ver van mekaar rondom die gloed van die kerse. Die laaste keer dat hierdie huis vol mense was, was met jou vader se begrafnis.

    Ag Ouma, hoe kan ek dan nou ’n bal gee? Dit kos musikante, en ’n kok uit Dublin …

    Dit is deel van jou verpligting teenoor die bure. Toe jou grootvader nog geleef het, het ons byna elke week gaste gehad en gedans in die lang galery. Die mense …

    Toe Oupa geleef het, was die lang galery nie vol vlermuise nie. Dit staan al jare lank gesluit.

    En kan jy dan niemand kry om dit te verf en skoon te maak nie? Is daar dan nie genoeg bediendes in die huis nie?

    Toby, wat agter hulle stoele gedraai het, sit die skaal wat hy vashou neer om deel te neem aan die gesprek. Lady Harriet, sê hy, met hierdie bende is daar letterlik geen huis te houe nie. Sou ek die galery nie lankal laat regmaak het nie as ek kon? Maar dit is heeltemal verniel, die reën het ingewaai en die behangsel is klaar. Die kandelare het ons afgehaal toe sir Arthur weg is en op die solder gebêre, en nou weet geen mens waar hulle is nie.

    Ja, mag die duiwel jou daarvoor beloon! roep Arthur. Ek kon daardie kandelare laat verkoop het, en weet jy hoeveel sou ek daarvoor gekry het?

    "Jou grootvader het

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1