Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Van vaders en vlugtelinge
Van vaders en vlugtelinge
Van vaders en vlugtelinge
Ebook217 pages3 hours

Van vaders en vlugtelinge

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Daniël voer ’n trekvoëlbestaan tussen Londen en Kaapstad. Wanneer sy bejaarde pa sterf, bevat dié se testament ’n ongewone klousule: Daniël sal slegs sy deel van die boedel erf indien hy besoek aflê by sy neef Theon, op die ou familieplaas in die Vrystaat. Dié besoek lei tot ’n ander reis – hy en sy neef neem ’n siek seuntjie na Tokio, met die hoop dat ’n nuwe soort behandeling die kind sal genees. 

’n Aangrypende roman deur die bekroonde skrywer SJ Naudé. 
LanguageAfrikaans
Release dateJul 28, 2023
ISBN9780798183956
Van vaders en vlugtelinge
Author

SJ Naudé

SJ Naudé studeer in Pretoria en Stellenbosch, en ook aan Cambridge en Columbia Universiteit . Hy werk lank as regspraktisyn in New York en Londen. Sy kortverhale en romans wen etlike pryse, o.m. die Eugène Marais-, UJ-, kykNet-Rapport-, en Hertzogprys.Van sy kortprosa verskyn in Granta en in joernale in die VSA, Nederland en Italië.

Related to Van vaders en vlugtelinge

Related ebooks

Related articles

Reviews for Van vaders en vlugtelinge

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Van vaders en vlugtelinge - SJ Naudé

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Human & Rousseau

    Vir my broer

    1.

    Waar die wolwe paar

    Die skildery se skaal is beskeie. Die uitgewaste kleurstroke – of eerder, die lig wat déúr die haas afwesige pigment straal – hou Daniël nietemin gevange.

    ’n Stem agter hom bulder: Dit maak my skoon aan die slaap!

    Toe Daniël omkyk, veins die man ’n gaap. Goue stopsels wys in die kiestande. Sien, sê die gaper vir sy metgesel terwyl hy na Daniël wys. Dit irriteer hóm ook. Niemand word gefool nie. Hy wuif na die ander vertrekke. Ons is deur die hele spul. Dis alles dieselfde skildery. Honderde daarvan. Soos photocopies. Dan wikkel sy wysvinger heen en weer tussen hom en sy vriend. Nie soos ons nie. Ons is vol groot kleure, hoor!

    Daniël probeer die aksent uitpluis. Slawies. Die twee mans kyk nou albei na hom – die lange met sy veeleisende blik en sy metgesel met die losse ledemate en ironiese mond. Die skildery is die laaste een in die uitstalling, maar die eerste een wat Daniël sien. Ten einde die drukte te vermy, begin hy altyd aan die einde – die skare is hier al uitgedun. Daniël wil eers ’n kil glimlaggie gee en aanbeweeg, maar hy bly staan. Hulle bly na hom kyk, die twee, wissel ’n paar gedempte sinne in ’n Oos-Europese taal. Die lange slaan na Engels oor, uitasem, asof ’n lewe op die spel is: Dink jy nie ook dis boring nie? Hy beduie weer vaagweg na die res van die uitstalling. Die kuiltjie boaan sy hals klop. Enkele borshare steek by sy T-hemp uit, roer saam met die klopping. Hy haal asem, klink nou kalmer: Kom drink liewer koffie saam met ons?

    Dis ’n retrospektiewe uitstalling in die Tate Modern, van Agnes Martin, die Amerikaanse minimalis. Daniël het weke lank daarna uitgesien – en uitgestel – om te kom. Die uitstalling sluit vandag, en die museum maak oor ’n uur toe. Hy is ’n koorsige aanhanger van Martin se reekse met hul skaars merkbare variasies. Van die kleure en doekgroottes wat elke paar jaar met net ’n skakering of paar sentimeter verander. Van die stilte, die wegdrywing en verdwyning. Daniël kyk vlugtig na die dieper uitstalkamers wat soos eggo’s vermenigvuldig. Elkeen so helder verlig soos die vorige een. Van hier af lyk die rye skilderye inderdaad ononderskeibaar. Daniël kyk na die man, na die blink stopsels in sy donker mond, glimlag skeef. Nou goed. Koffie.

    Die twee sit oorkant Daniël in die museumkafee. Serwiërs, blyk dit. Dis laatwinter. Hulle hou al drie hul jasse aan waar hulle teen ’n glasmuur sit. Buite, anderkant die glas, is dit blou en trietsig. Hul weerkaatsings is helderder as hulself – hul glansende tweelingbroers sit daar in die koue. Onbibberend, asof niks fout is nie.

    Die stiller een se knie druk teen Daniël s’n. Hy kyk Daniël pront aan terwyl sy metgesel dringend en onophoudelik praat. Uiteenlopende onderwerpe duik op, wat hy elk kortstondig en koorsagtig aanspreek, en dan laat vaar in ruil vir ’n nuwe een. Daniël sê nie veel nie, vertel net kortliks, toe hy uitgevra word, dat hy deels in Londen en deels in Kaapstad bly. Hoekom, wil die prater weet. Daniël dink ’n oomblik. Hy haal sy skouers op, wuif die vraag weg. ’n Lang geskiedenis. Ek het gedink ek ruil een kontinent vir ’n ander. Nou voel dit of my tuiste eintlik op vliegtuie is, in die bevrore hemel bokant Afrika . . .

    Oliver is die praterige een se naam. Sy lakonieker metgesel is Jugo. Dit neem Oliver nie lank om hul storie te vertel nie. Die twee van hulle het padgegee uit Serwië. Hulle is in Londen om ’n nuwe lewe te begin. ’n Paradysbestaan gaan dit hier wees! sê Oliver, sy oë wyd. Oor en oor beklemtoon Oliver wat ’n homofobiese plek Serwië is. Hoe versigtig hulle daar moes wees, hoe ondergedoke hul lewens was. Hy vertel van voorvalle van geweld, ’n groep jong mans wat hulle teen die grond gegooi en hul skedels geskop het. Ons moes vlug, hoor, sê hy. Keuses was daar nie! Hulle kon andersins ’n goeie lewe daar gehad het, verduidelik Oliver. Hy was ’n filmresensent vir ’n Serwiese koerant en het ook ’n filmsegment op ’n televisiejoernaalprogram aangebied. Ons het álles opgeoffer vir ons vryheid. Sy hande gaan oop asof hy iets laat val en breek.

    Jugo grinnik. Alles, eggo hy.

    En, gaan Oliver voort, ons is bly om met soveel mense as moontlik kennis te maak. Hy steek sy hand fors uit, asof hy Daniël pas ontmoet. Daniël neem die hand huiwerig. Oliver skud dit gul, sekondes lank.

    Bly te kenne, sê Jugo ook en kyk na Daniël van onder sy wenkbroue. Sy knie stoot al fermer teen Daniël s’n aan onder die tafel.

    ’n Rukkie is daar stilte. Dan kyk hulle al drie gelyk buitentoe, na die eggotafel, na hul meer geharde, kouer broers. Reën rol nou teen die glas af, verwring die gesigte wat na hulle terugkyk. ’n Kelner bring die rekening. Sonder dat enigiemand iets sê, betaal Daniël en staan hulle al drie op.

    Buite begin hulle rivierlangs aanstap, ooswaarts, hul koppe in ’n wolk asemstoom. Die Serwiërs gesels oor koeitjies en kalfies: Britse weer, waar hulle bly, waarvan hulle hou in Londen. Die gesprek voel nou stywer as flus in die museum. Nou en dan praat Oliver ’n paar woorde met Jugo in Serwies.

    By London Bridge klim hulle die trappies vanaf die rivierwal tot op die brug. Daniël weet teen hierdie tyd die twee huur ’n kamer in Archway, dat hulle die Northern Line van London Bridge-stasie af kan terugneem.

    Kom drink ’n glas wyn by my, sê Daniël op die ingewing van die oomblik. Oliver en Jugo kyk vlugtig na mekaar, knik. Hulle stap saam suid in Borough High Street.

    Toe hulle by die woonstel inkom, druk Daniël die skerm van sy skootrekenaar op die eetkamertafel toe. Oliver hou sy jas aan, stap rusteloos deur na die kombuis, dan in die gang af na die slaapkamers. Dis mooi. Regtig mooi, hoor Daniël Oliver se stem vanuit die hoofslaapkamer. Jugo gaan badkamer toe, sluit die deur. Daniël tel Jugo se jas van die rusbank op, hang dit aan ’n haak.

    Ek moet sigarette gaan koop, sê Oliver toe hy in die leefvertrek terugkom. Daniël het hom nog nie sien rook nie, en hy ruik nie daarna nie. Hulle het ook pas verby etlike winkels gestap waar sigarette te koop was.

    Reg so. Daniël se stem is huiwerig. Lui net die interkom wanneer jy terugkom. Toe Oliver uit is, sit Daniël alleen in die woonkamer.

    Jugo kom uit die badkamer, kom sit langs hom, op die rand van die bank. Hy sit ’n hand op Daniël se been. Mag ek maar? vra hy en gryns. Dis nie onverwags nie, maar wel vínniger as verwag. Sy onverskrokkenheid ontwapen Daniël, laat hom halfpad ontspan. Jugo trek Daniël se hemp uit. Dis ’n koue dag en die verhitting is te laag gestel. Daniël ril. Dan trek hy Daniël se broek uit, en sy onderbroek. Hy gaan metodies te werk, doelgerig. Self bly Jugo geklee. Daniël kyk hoe Jugo se kop in sy skoot sak. Hy voel gedissosieer, asof dit die kop van ’n akteur in ’n verhoogproduksie is. Hy kyk na die plafon, maak sy oë toe. Ná ’n minuut asem hy ’n groot sluk koue lug in. Jugo sluk ook, kom regop en vee sy mond af. Hy glimlag en trek Daniël weer ewe sorgvuldig aan.

    Oliver is terug. Hy het toe nie sigarette gekoop nie, maar bier. ’n Halfdosyn goedkoop blikkies, die soort waarvan sokkerbarbare gewoonlik liters drink voor hulle mekaar buite pubs bliksem totdat daar bloed saam met die urine in die strate vloei.

    ’n Tyd lank, sê Oliver, nie ooglopend na aanleiding van enigiets nie, het ons ’n kamer gehad met net ’n enkelbed. Stel jou voor, Daniël – een bed! Snags was ek ’n veiligheidswag. Bedags was Jugo ’n waiter. Ons het mekaar net in die oggend en die aand in die stort gesien. Mekaar se rug gewas, dan tussen die ander een se warmgeslaapte lakens ingeklim.

    Oliver se gesig is nou soos ’n bloedhond s’n. Sy kop hang vooroor. Hy sit op die rand van die bank, kan enige oomblik afglip en met ’n hik op die harde vloer land.

    Wyn, sê Oliver.

    Wyn? vra Daniël. Kan ek vir jou bring?

    Nee, sê Oliver en skud sy kop heftig. Ek wil niks hê nie. Maar ek het nou net gedink. Jy het gesê: ‘Kom na my plek toe vir wýn.’ Maar niemand het wyn gedrink nie.

    Daniël staan op. Ek skink gou vir jou ’n glas, Oliver. Ek het ’n bottel in die yskas.

    Nee! sê Oliver.

    Daniël vries waar hy staan. Oliver se heftigheid vang hom onkant.

    Jugo sit ’n hand op Oliver se been, sê ’n enkele woord in Serwies. Dan mompel Oliver, meer bedeesd: Nee, dankie. Ek is oukei.

    Ek is jammer, Oliver. Ek was onder die indruk jy wou liewer bier drink. Oliver se kop bly hang.

    Jugo kyk onderlangs na Daniël. Het jy geweet, sê hy skielik hard en opgewek, wat kom ’n mens agter as jy ’n waiter is in Londen? Hy wag vir Daniël, wat in die middel van die vertrek staan, om te raai.

    Nee, Jugo, ek weet nie, sê Daniël. Sy stem is paaiend. Vertel my.

    Nie één restaurant in hierdie stad was hul blaarslaai nie! sê Jugo. Almal in Londen – álmal! – eet slakke saam met hul slaai.

    Twee dae later bel Jugo. Hy en Oliver nooi Daniël om saam met hulle na ’n opera te gaan kyk. Kan jy vir ons kaartjies koop, vriend Daniël? Nes Oliver, praat hy hard. Dog met groter gemoedelikheid en minder angs, sy stem altyd dik van die lag.

    Hulle ontmoet in die portaal van die English National Opera. Dis ’n flouerige eietydse Amerikaanse opera. Ná die tyd gaan hulle na ’n wynkroeg in Covent Garden.

    Was dit dan nou ’n geniale werk! Dit neem Daniël ’n oomblik om uit te werk dat Oliver van die opera praat. Hy is nie seker of Oliver ironies is of opreg ’n mening konstateer nie.

    Vir my was dit redelik droog, sê Daniël. Goeie produksiewaardes kon helaas nie die musiek red of die libretto herskryf nie.

    Oliver kyk hom uitdrukkingloos aan. Dan swenk sy vertelling onverwags na die tyd wat hy by Starbucks gewerk het. Hy vertel van die taktieke van mense wat nie regtig kom koffie koop nie, wat byvoorbeeld net vir hulle ’n kartonbekertjie vol melk kom skink. Of net handevol suikersakkies kom haal. Of wat in spitstyd se harwar iemand anders se koffie van die afhaaltoonbank swiep en hulle vinnig uit die voete maak.

    Een vrou het dit elke dag gedoen. Toe hardloop ek eenkeer agter haar aan. Toe ek haar aan die skouer vat, was sy skytbang. Toe skud ek haar hand, sê vir haar: ‘Geluk! Ek bewonder jou!’ Toe kom sy nooit weer terug nie . . .

    Daniël draai na Jugo. Wat het jý in Belgrado gedoen?

    Vir ’n humanitêre organisasie gewerk, sê hy. Ná die oorlog. Daniël bly na hom kyk, na die lagplooitjies om sy oë, maar hy brei nie uit nie.

    Weet jy wat? sê Oliver. Daniël draai na hom toe. Daai insetsel oor nuwe films wat ek vir ’n televisiestasie gedoen het: Hulle het dit gekanselleer voor ons weg is. Min mense in Serwië gee om oor kunsflieks. En hulle hou nie daarvan om ’n gay op die TV te sien praat nie! Daniël betrag Oliver. As hy nou deur die bril van vermeende Serwiese vooroordele moes kyk, sou hy nie raai die forse groter-as-lewensgroot Oliver is gay nie.

    Ek is jammer om dit te hoor. Ek is seker dit was vir jou belangrik.

    Ag, wat. Wat belangrik is, is dat ek nog films kan kyk. En nuwe vriende kan maak. Oliver laat sak ’n swaar hand op Daniël se skouer, begin oor regisseur Jan Švankmajer praat, oor sy klei- en animasiewerk. Oliver hou veral van Klein Otik, ’n film waarin ’n kinderlose egpaar ’n boomstomp as kind aanneem.

    Wat doen jy vir ’n lewe? val Jugo vir Oliver in die rede.

    Ek is ’n skrywer, sê Daniël. Soms fiksie. Meesal stukkies joernalistiek. Dikwels Suid-Afrikaanse kwessies. Die Britse breëbladkoerante se klikbek uit die kolonies, jy weet.

    Jugo se lagplooitjies roer. Oliver kyk Daniël ’n paar oomblikke onbegrypend aan, verhelder dan. O, maar jy het so ’n mooi woonstel! Jy moet baie suksesvol wees!

    Daniël ontmoet sy vriend Mirko – dosent in argitektuurgeskiedenis by Birkbeck en self ’n Serwiër – vir aandete. Mirko woon al meer as ’n dekade in Londen. Daniël vertel hom van Oliver en Jugo, van hul ervarings in Serwië, hoe hy hom oor hulle ontferm. (Is ontferm wat hy doen, wonder hy toe hy homself die woord hoor sê.) Namate Daniël verder vertel, begin hy al ligter in die kop voel. Hy luister na homself soos na ’n vreemdeling.

    Mirko kantel sy kop. Sy skeptisisme is tasbaar. Enige opgevoede Serwiër, sê hy, gay mans by uitstek, het elke denkbare geleentheid gehad om lank gelede uit daardie land te ontsnap. Ek sou wat hulle jou vertel met ’n knippie sout neem. En ek sou jou wou waarsku.

    Waarteen?

    Moenie vir my vra nie. Mirko lig sy hande, weer verantwoordelikheid af. Nogtans, wees op jou hoede.

    Ek kan jou aan hulle voorstel? Dan skakel jy jou kulturele radar aan, adviseer my?

    Mirko vou albei hande om sy koffiebeker. Ek het geen begeerte om met hulle kennis te maak nie.

    Daniël en sy twee nuwe vriende ontmoet by London Bridge-stasie. Hulle is almal warm aangetrek, gaan stap ver. Hulle drink bier in ’n pub op die rivier. Oliver vertel hoekom hy nie ’n Serwiese naam het nie. My ma was ’n hippie. Sy het Kaliforniese fantasieë gehad, sê hy, en frons. Ek is verbaas sy het my nie Eagle of Storm genoem nie. Of Starshine of River. Of een of ander Apache-naam. Hy-wat-die-wolwe-jaag. So iets. Oliver talm, asof hy aan nog name dink. Ek het haar elke dag kaal gesien, my ma, sê hy dan. Elke dag. Alles is toegelaat in ons huis. Weet jy, sy het my selfs sien wank toe ek ’n tiener word. Hy druk ’n hand in sy lies.

    Daniël weet nie wat om te sê nie. Sy bloed pomp hewig in sy slape; hy steek ingedagte sy hand onder sy eie hemp in, raak aan sy buik.

    Daniël draai na Jugo: Wat van jou ma?

    Maar sy is mos dood. In die oorlog!

    Ek is jammer, wil Daniël sê, ek het nie geweet nie. Oliver spring hom voor, keer terug na ’n onderwerp wat Oliver kortstondig in sy monoloë in die Tate Modern se kafee aangeraak het: Sokurov-films. Hy begin praat, uitasem, oor die ondraaglike intimiteit wat die film Moeder en seun tussen die hoofkarakter en sy siek moeder uitbeeld.

    Hoe lyk dit? Kan ons ’n ruk by jou kom bly? val Jugo onverwags vir Oliver in die rede. Net tot ons op ons voete kom in hierdie grote stad.

    Hoe lank? wil Daniël sê. Of: Julle het mos ’n kamer. Of: Ons sal mooi moet praat oor hoe so iets sou kon werk. Maar hy kyk na die intense uitdrukkings van die twee mans voor hom en hoor homself sê: My spaarkamer is beskikbaar. Julle kan kom.

    Die twee lyk so verlig. En verbaas. Daniël is self verras. Merkwaardig, dink hy, wat verveling – so ’n reeks leë, skaars variërende dae – aan ’n mens kan doen. Beter om veranderlikes op te stel, om avontuur of risiko die hoof te bied, as om in sy eie wolk stilte deur die Tate Modern te dwaal. Of om dag lank alleen voor sy rekenaar te sit, sy hande verlam op die toetsbord. Laat gebeur wat moet gebeur.

    Die Serwiërs se teenwoordigheid in die woonstel is onverwags lig. Hulle eis min, is versigtig om Daniël nie te verontrief nie. Aanvanklik spandeer hulle lang ure in hul kamer met die deur toe. Daniël is nie seker wat hulle doen nie. Lees, neem hy aan. Of dalk sit hulle versteend, met groot oë en vingers voor hul monde, doodbang dat hulle hom sal steur. Wanneer Daniël verbystap, druk hy sy oor teen die deur. Niks.

    Jugo maak die kos gaar wat Daniël koop, en dan eet die drie van hulle saam. Ná die eerste week bied Jugo aan om winkel toe te gaan vir inkopies. Hy kies een van die goedkoop supermarkte, koop meesal bevrore of geprosesseerde kos. Daniël probeer hom die volgende keer subtiel wenke gee oor beter winkels, oor wat hy van die rak moet kies. Toe dit nie werk nie, gee Daniël vir hom ’n lysie, skryf by waar hy elke item moet kry, voeg selfs handelsname by. Dit neem Jugo ure voor hy terugkom, lank ná etenstyd. Hy straal. Daar is eenvoudig soveel interessante produkte en mense! ’n Mens kan heeldag tussen die rakke rondloop!

    ’n Paar dae later stuur Daniël Jugo Borough Market toe, op ’n Vrydag, wanneer daar minder toeriste is en Jugo hopelik minder maklik afgelei sal word. Terwyl Jugo uit is, iewers tussen tafels swaar gelaai met organiese groente en kwartels en wyn en vis, sit Daniël voor sy rekenaar, vingers bo die toetsbord. Oor die afgelope paar dae begin hy daardie bekende dog seldsame kwelling in die bors voel – ’n soort siekte, ’n lieflike ontsteking. Iets móét geskryf word. Dit sukkel nog, maar die woorde begin drupsgewys vloei. Dis hierdie stroompie wat Oliver kom onderbreek met hande wat oor Daniël se skouers en bors gly. Daniël verstyf eers vir ’n oomblik, trek dan sy maag in sodat Oliver ’n hand by sy denimbroek kan indruk.

    Oliver maak sy eie hempsknope los. Ek ruik dit!

    Wat ruik jy, Oliver? Daniël kyk na die hemp waar Oliver dit op die grond gooi.

    Jou kreatiewe krag, natuurlik!

    Wat Dániël ruik, is die umamigeure en bitterheid van Oliver se buikhare teen sy wang.

    Daar is iets so gewoon aan hul samesyn hier onder een dak, asof dit altyd so was. Nie een van die twee Serwiërs werk meer nie; hul dae is in pas met Daniël se stadiger ritme. Die drie van hulle

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1