Op my elfde verjaardag het my ouers vir my ’n Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal gegee. Die frons op my voorkop het ’n paar dae bly vassteek; veral toe my klasmaats koggel: ‘Jy het ’n wát gekry? O, ’n HAT.’ Maar 41 jaar later gebruik ek dit steeds: Nou met nostalgie, want my ma is oorlede en my pa erg bejaard.
Skuif ek my vinger oor die dun blaadjies die inkkolomme langs na ‘nostalgie s.nw. Heimwee, verlange [G. nostos terugkeer na tuiste]’, vermoed ek as die opstellers aan dié inskrywing wou skaaf, kon hulle byvoeg: soos Bathoni Robinson.
Haar werk as stilis, kunsregisseur en produksieontwerper is so deel van ons leefkamers soos Mrs. Balls of Ouma Beskuit in ons kombuise. Van Griekwastad, Stiekyt en The Ellen Pakkies Story tot Modder en Bloed spog met haar handewerk. Sy het al elke era van die afgelope eeu vasgevang: van 1922 in Bloedbroers tot 2022 in Netflix se Justice Served.
Die toekenningslys is ewe lank en sluit verskeie Saftas asook keuring vir talle internasionale filmfeeste, waaronder die gesogte Tribeca in New York,