Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die 18-44-trilogie
Die 18-44-trilogie
Die 18-44-trilogie
Ebook482 pages6 hours

Die 18-44-trilogie

Rating: 2 out of 5 stars

2/5

()

Read preview

About this ebook

’n Welkome heruitgawe van drie romans van ’n veelbekroonde skrywer. Gesofistikeerde satires met ’n sterk mitologiese raamwerk wat steeds tot vandag se lesers sal spreek. Die verteller in al drie hierdie romans identifiseer homself as “die knolskrywer” (“. . . die 44-jarige knolskrywer, in sy Harris tweedbaadjie, . . . in sy hart die verminkte gawe van God”)18-44 handel oor die korrespondensie tussen mnr Y, die 44-jarige knolskrywer, en die 18-jarige, onbekende mej X, ’n kunsstudent. Onderliggend in Isis Isis Isis is die Egiptiese Isis se soektog na die lyk van Osiris. Die roman gaan oor die knolskrywer se Europese besoek, sy ontmoeting met ’n hele aantal vroue, en sy poging om die stukke van die verminkte Osiris weer bymekaar te bring (lg die knolskrywer se poging tot heling). Die verhaal van Na’va gaan oor Georgie, die knolskrywer se nefie wat selfmoord gepleeg het. Die lang begrafnisfees raak ’n besinning oor die lewe en die dood.   Die strewe in 18-44 na “‘n beter begrip van die lewenstragiek”, en die “raserny om die lewe te verstaan” in Isis, Isis, Isis, is vandag nog net so geldig, juis in hierdie “Afrika en sy menigvuldige probleme”. Leroux dwing ons om opnuut die mistiek in die lewe met verwondering en selfs verbystering te beleef.
LanguageAfrikaans
Release dateJun 20, 2008
ISBN9780798153164
Die 18-44-trilogie
Author

Etienne Leroux

Etienne Leroux (1922-1989) was een van die belangrikste Sestigers. Hy het baie vernuwing in die Afrikaanse letterkunde meegebring en dikwels groot omstredenheid veroorsaak. Sy werk is verskeie kere bekroon, o.a. twee keer met die Hertzogprys, vir Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein O Magersfontein. ’n Heruitgawe van Die Silberstein-trilogie is in 2006 gepubliseer, en in 2008 Die 18-44-trilogie (wat die romans 18-44, Isis Isis Isis en Na’va insluit).

Read more from Etienne Leroux

Related to Die 18-44-trilogie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die 18-44-trilogie

Rating: 2 out of 5 stars
2/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die 18-44-trilogie - Etienne Leroux

    Die 18-44 trilogie

    Etienne le Roux

    Human & Rousseau

    18-44

    In hierdie boek is al die karakters denkbeeldig,

    die eerste persoon is nie die skrywer nie,

    die Rus is nie ’n Rus nie, die park

    is nie die park in Oranjezicht nie, X is nie I nie,

    Walkures bestaan nie, ek het nie

    ’n teringmaer tante nie,

    maar die filosofie is nagepraat.

    Vir I

    Die soldaat van die Staat

    het sy naam met swier geteken.

    En die nuwe lewe het begin.

    18-44

    In die jaar 1844 het weinig van belang gebeur; trouens, dit was seker een van die onbelangrikste jare in die bloedige chronologie van die mens se bestaan op aarde. Daar was wel ’n oorlog tussen Frankryk en Marokko, maar slegs tot die sesde September. Die volgende persone van belang is dood: sir Francis Burnett aan natuurlike oorsake; die Mormoonse profeet, Joseph Smith, gewelddadig. Die Prins de Joinville het Tangiers gebombardeer en, afgesien van ’n paar historiese monumente, heel moontlik ’n paar onbelangrike inwoners die ewigheid ingestuur. (Ek probeer my bes, maar ek kan nie na honderd jaar treur oor die bomdood van ’n baba nie; ’n foto van ’n dooie baba uit Viëtnam in my oggendkoerant is ’n aaklige gesig.)

    Brigham Young wys in hierdie jaar sy opvolger aan. Sir Henry Harding word goewerneur-generaal van Indië. Die Bank of England Charter Act word aangeneem. Die Codex Sinaiticus word deur Herr Konstantin von Tischendorf ontdek. Met die beste wil ter wêreld kan ek nie entoesiasties raak nie.

    Dit was ’n vaal jaar en dit is ’n vaal jaar hierdie 44ste jaar van my lewe en alles om my is grou en eentonig en my lot is die lot van almal wat troosteloos middeljarigheid teësinnig ervaar. En toe kom jou brief, mej. X, 18-jarige l’inconnue, en selfs 1844 word ’n jaar van besondere betekenis. 1844 is ’n jaar van ontsettende belang; dit is nie ’n jaar waarin groot persoonlikhede verewig is deur gewigtige verkeerde beslissings nie; dit is nie ’n jaar waarin betekenisvolle wêreldgebeure in die val van die dolos geopenbaar is nie; dis die stil jaar waar uiters belangrike dinge plaasvind vir twee onbekendes soos ons. ’n Baba is dood in Tangier; agter ’n pilaar in die mark soen ’n Bedoeïen sy geliefde in die skaduwee. Op my lessenaar vind ek jou brief in jou ongevormde handskrif en iets verhinder my om dit in die snippermandjie te gooi. Ek maak dit oop en begin lees en oor die radio speel hulle daardie liedjie van Charles Segal (ken jy dit?): It was a great year and will not come again.

    Die huisie by die see

    Veldhange vlak by die see ruik na ontbinding en daar is wildemalva en adders en rooi, geel, pers, pienk en skarlaken begonias by Monterville en ’n hele ry agapante wat mens aan George laat dink. George, George – daar het ’n tante van my gewoon, lid van een van die bekender families, en hulle het gedink sy het tering en toe sê haar vader, die gesiene man van die omgewing, dat sjampanje om elfuur die oggend ’n beskaafde wyse is om die eetlus te prikkel, want die teringlyer se gewig moet toeneem en haar geestestoestand moet rustig wees want wat is tering anders as ’n neweproduk van verkeerde asemhaling as gevolg van emosionele onrus? My maer, aristokratiese tante, uitgestrek op die chaise longue, ’n roman in haar hand, oopgeslaan by die belangrike bladsy dertig wat sal bepaal of sy verder sal lees of nie, haar oë op my gerig waar ek aan haar voete uit ’n eierkelkie die laaste druppeltjies Mumm Cordon Rouge proe. Y, Y, sê sy vir my, jy moet eendag ’n skrywer word en romans soos dié skryf, en haar slanke vingers draai die boek om sodat die meisie op die buiteblad my in die gesig staar, ’n Angélique van twee-en-dertig jaar gelede, en ek sien die gesig van my tante langs die gesig van Angélique wat later weer sou vorm kry as jy, juffrou X, en my geliefde Rus, en wat my in die erotiese droomnagte van my puberteit laat slaap het met angs op my skraal tante en met verlange in die skede van duisende Angéliques.

    Wanneer dit ’n bewolkte dag is, sien jy maklik die einder van die see uit die kompakte huisie ontwerp deur my vriend die homoseksuele argitek; as dit spierwit warm is, dan is die see oneindigheid; wanneer die nag oor die berge kom en die oseaan donker maak, dan is dit ’n ander soort oneindigheid. Donkerte en fél lig skep oneindigheid; alles tussenin bring beperktheid. Ek het vir sowel my skraal tante as Angélique geskryf en in die newels die beperktheid bereik wat my ’n goedkoop trefferskrywer gemaak het en my in staat gestel het om die huisie te laat bou deur die homoseksuele argitek, maar diep binne my droom ek drome waarin my teringtante en jy Angélique soos Smörgasbord laag op laag ingeweef is. Ek soek ’n sintese, liewe Rus en liewe nimf, 44 jaar lank, en ek voel meteens bang. Die Rus se oë is geel; die Slawiese bloed bruis vuurwarm terwyl haar man, die Kosak, met swaard omhoog deur die sneeu jaag. Sy haat tienernimfe, soos jy, X, wat aanmatigend jou tienereise stel: jy vergeef haar met die minagting van die jeug. Weet jy dat sy ’n vrees het wat jy nie het nie? Sy is pragtig, my Rus, maar sy durf nie ’n enkele oomblik ongemerk laat verbygaan nie. Sy is Nuits St. Georges en jy is vin ordinaire. Julle stel al twee eise: sy omdat elke jaar vir haar betekenis moet hê; jy omdat jy as nimf met ’n drang van vuur ongeduldig wag op die inisiasie, die ritueel waarop alle nimfe geregtig is.

    Sal ek julle iets vertel van die 44-jarige wat in sy spierwit huisie oor die oseaan kyk? Sal ek die vlindervlug van sy gedagtes bederf met die banaliteit van sy woorde? Laat ek julle liewers vertel van die elf nonne wat een mistige aand op die silwerwit sand van die leë strand verskyn het: slank novises wie se slankheid selfs die kleed nie kon vermom nie. Hulle poseer, strek hulle hande uit oor die oseaan, dartel na die water, buig oor die water, daag die water uit tot by hulle voete en dartel terug in stewels, die esoteriese nimfe van God. Elf roerlose pikkewyne en dan tel jy hulle weer en daar is net tien. Voor die oë van die 44-jarige knolskrywer, in sy Harris Tweed-baadjie, met die verkyker voor sy gesig, en in sy hart die verminkte gawe van God.

    Die elfde novise het agter ’n rots haar rok drie duim gelig, om haar stewel uit te trek en ’n klippie daaruit te haal. Die hart van die knolskrywer is diep geraak, maar al wat hy kon doen, was om ’n whisky en soda te skink.

    Die Rus en ek het ’n afspraak in een van die stilste en onbekendste parke in die stad en ek is ’n halfuur voor die tyd daar om my Rus in te wag. En watter goddelike, verwaarloosde park is dit nie met rubberbome, en eike, en bankies onder reuse-populiere wat spiere rek teen die skreeublou lug! Wéét daardie deftige vrouens van die lui burgerstand met hulle honde wat teen die bome snuffel … wéét daardie man op die bank wat na my kyk en sekerlik met koue oë agter ’n donker bril my orals volg (’n spioen van die Kosak?) … wéét daardie paartjie om die draai tussen die kannas dat die 44-jarige, wat so viets met sy suèdeskoene deur die douvars gras loop, ook ’n afspraak het – maar waar bly sy? Daar is ’n leë, groen pagode en ’n spookorkes van ’n dekade gelede speel in die romantiese verbeelding van die knolskrywer. En hy sit weer langs sy teringmaer tante, die towenares van wellewendheid, en luister na die tromme en die trompette, en hy sien weer die gryse marionet-dirigent wat na die crescendo-finale omdraai, en sy moestas met duim en voorvinger krul en bliksemblou in haar oë kyk sodat sy haar waaier vinniger en vinniger beweeg en met ’n slanke arm haar nefie teen haar druk en sê: Onthou, Y, Y, ’n gentleman bewonder vrouens, ’n skurk verstaan vrouens. Die clichés van my teringmaer tante wat deur die groot god Ptysis mooier gemaak maar nooit afgemaak is nie. Hy het haar sien sterf aan ’n onbepaalde siekte, eons later, en toe was hy al ’n knolskrywer met redelike sukses, en daar was ’n glimlag in haar oë toe sy haar laaste sterfbedboodskap gegee het met een van sy romans oopgeslaan langs haar bed: Dis nie wat ek bedoel het nie, Y, Y. Daar was nooit groot weemoed nie, net ’n tikkie weemoed, voor die yslike wysheid van die naderende dood. Maar miskien, wie weet . . . En sy wys hom met ’n gevlekte, vergane hand en arm om te gaan, te gaan, want haar exit moet soos sjampanje wees. Sy het stil gesterf, vertel die boerse verpleegster wat gewoond is aan die protes van canaille.

    Voor my staan my Rus en haar rok is akwamaryn, en agter haar is die leë pagode, en bokant haar blits die son deur die blink blare. Sy laat my toe om haar te bewonder: die silhoeët teen die verblindende lig, en haar geel oë flits geelwarm voor die bewegende lower en haar lippe proe soos die wyn van die heilige, die heerlike bose bloed van sy draak.

    Ons vra mekaar oor en weer uit met die intense nuuskierigheid van pasgebore middeljarige liefde. (My Rus is 44, soos ek, en soos my tante van die sjampanje, jare gelede.) Dis ’n beskaafde soektog: sy is eerlik en erken haar Slawiese vurigheid en haar selfsug; sy sien my teen die agtergrond van haar vurigromantiese eise; en ek erken my eie swakhede wat verfyndheid en bangheid is, en die tragies-komiese is dat sy my swakheid omskep tot die sensitiewe vreesloosheid van haar eie wêreld, want sy ken nie myne nie, gesimboliseer deur die wit huisie, ontwerp deur my vriend die homoseksuele argitek. Ek is bang, sê ek. Ek is ook bang, herhaal sy, maar dis die bangheid van ’n vreemde vasteland, van ’n verwikkelde geskiedenis van vrees en bloed, teenoor die bloed en eenvoud van my eie.

    En toe sien ek die Kosak oor haar skouer. Ek sien hom deur die pilare van die leë pagode, die magtige ruiter sonder sy perd, sy twee handlangers twee punte van die driehoek weerskante van hom, hulle gorillalywe soepel agter sy, die knoetse van hulle vuiste soos knopkieries in-en-uit tussen lig en skaduwee, lig en skaduwee. Sy kan nie die vrees in my oë sien nie; haar wang is sag en warm teen myne; haar hare streel my slape; haar een arm is slank oor my skouer gedrapeer. Ek kyk deur die Kosak se oë na die toneel; en skep ’n masochistiese behae in die komende Götterdämmerung in ’n sonnige park waar deftige vrouens hulle poodles and chows laat huppel en rus; en sien die Kosak sonder sneeu op geel, droë grond op pad na ’n dénouement agter ’n leë pagode, waar die Victoriaanse dirigent my teringtante met blou oë bestraal het.

    En meteens begin die park wals, en ek word met liefde vervul, met die sagte Rus in my arms.

    Ek kón ’n goeie skrywer gewees het; wat het … wat het Jesus Christus met my aangevang?

    Hy waarsku my ook, die God van liefde, téén die liefde.

    As ek na ’n afspraak met my Rus terugloop, ál met die laan af, dan kyk ek in die gesigte van die mense en ek voel meteens skuldig, want dis asof die Rus nog steeds in my arms is, en ek is seker hulle kan haar sien, en dan besef ek dat dit natuurlik onmoontlik is en glimlag. ’n Bedelaar met ’n vuil sakdoek om sy kop, sy ledemate hoekig soos ’n spinnekop, sien my glimlag en strek sy hand uit. Ek gee hom meer as wat hy verwag, uit boetedoening, en hy keer sy rug op my nadat hy die geld ontvang het – salige mens, sonder verpligtings, en vry in die gebondenheid van sy sieklike liggaam. Ek is versadig van liefde nadat ek by my Rus was en my onmiddellike voorneme is om haar nie weer te sien nie en ek geniet die afsondering van die stad as ek siel-alleen tussen die mense ronddwaal. Die onverskilligheid van die mense laat my nie alleen voel soos gewoonlik nie; ek skep ’n behae in die rottejag en ’n skeppende Muse sing in my en maak my oë skerp vir daardie romans wat ek wil skryf en nog nie geskryf het nie. Ek loop verby ’n dooie man wie se kadawer wag op ’n ambulans om hom na die dodehuis te vervoer en ek moet my weg baan deur die nuuskieriges op die sypaadjie wat hoflik in ’n kring beweeg om nuwe aankomelinge die geleentheid te gee om ook te kyk. In my geliefkoosde kroegie kyk ek na Mrs. Gorgon se treurige oë en ek is seker sy ruik die Rus se parfuum aan my, want sy glimlag en word neerslagtiger terwyl sy whisky en soda bedien, want Mrs. Gorgon se romantiese dae is verby en sy leef slegs in die warmte van dronkmansvriendelikheid en dronkmansblindheid vir haar romantiese dae wat verby is. Voor ek by my wit huisie by die see kom waar my dowe, mank, manies-depressiewe vrou op my wag, kyk ek na die landgoed van prinses Ira von Liebenstein en verbeel my dat ek haar weer tussen die heide sien (maar dit is nie so nie, en daar woon geen prinses nie, en die landgoed gaan tot niet) – prinses Ira met die wind in haar hare, en die blou van die see in haar oë, en ek het my Rus vergeet en ek kry meteens ’n verlange na koringlande waar ’n knopiespinnekop my as kind op die arm gebyt het. Y, Y, sê my tante, dronk van sjampanje, "knopiespinnekoppe van hierdie wêreld is anders as dié van die Swartland. Mens neem baie langer om dood te gaan, Poppet. Hoe geïnteresseerd was sy nie, my dronk tante, in die swelsel op die arm van haar nefie nie, en dis tóé dat sy hom vertel het dat dit net die wyfie is wat byt. Lieflike, heerlike koringlande wat my ryk oom net soveel vir estetiese genot as vir profyt geplant het. En dan hou ek voor my wit huisie stil waar my dowe, mank, manies-depressiewe vrou verwytend aan haar krukke hang. Hoekom skryf jy nie? vra sy beskuldigend, net soos sy ander tye beskuldigend vra: Kan jy nie ophou skryf nie?"

    Nee, sê ek vir die Rus in my arms voor die leë pagode, sy is nie jaloers nie; ons verstaan mekaar, wetende, natuurlik, dat sy moeilik van plek tot plek kom, want dis ’n hele affêre om haar in ’n motor te kry, en dat ek volkome veilig is en dat sy nog steeds in die jare wat voorlê my sal onderhou al betaal ek hoe duur vir die beskuldigings, en verbittering, en die banaliteite van ’n kleinburgerlike brein oorgeërf van ’n Swartlandse slagtersvader met hope geld uit binnegoed en afval geïn. (Hoeveel keer het hy nie onomstootlik vir my bewys dat verkope van vleis slegs die koste dek nie?) Ja, sê my tante toe ek haar vertel van ons komende troue, Ja, sê sy, en jy sal heelwat betaal. Maar, op die lange duur – gegee ’n bietjie verbeelding . . . En sy flikker haar oë (toe was sy 44 en ek oud genoeg om die oogspel te waardeer). Ja, dis miskien moontlik.

    Nee, sê ek vir die Rus in my arms terwyl ek na die groen pagode kyk, so vreemd en verlate in hierdie verlate park. Nee. Maar ek vertel haar nie hoeveel sekuriteit nou vir my beteken nie vandat ek 44 is en rustig in my wit huisie by die see kan sit en met ’n duur verkyker kan kyk na die opdrifsels op die strand. Ek het jou lief, Y, Y, sê sy en bring haar oë dig teen myne sodat alles uit fokus raak en die iris verander in strepies en die rooi aartjies op die wit in bloedriviertjies. Hoe lief het ek jou nie! Maar hoe afsydig is jy nie soms nie! En sy trek haar gesig terug sodat alles weer in fokus raak, haar pragtige geel oë en die groen op haar ooglede, teen die agtergrond van die leë pagode waar die Kosak en sy twee handlangers so pas verskyn het: drie stippeltjies agter drie pilare.

    Dis ’n isolement wat oor my kom, het ek vir haar eenkeer gesê, maar eintlik was dit die beeld van my dowe, mank, manies-depressiewe vrou.

    ’n Skrywersisolement, sê sy tevrede, my liewe Rus, met die Lara-tema en Dr. Zhivago in gedagte. En op ’n eienaardige manier pas die Omar Sharif-beeld my, want ek het die weemoedige oë van ’n kind behou – én ietsie van ’n kind se gewetenloosheid. Toe besluit ek om haar van jou briewe te vertel, mej. X. En hoe heerlik jaloers was sy nie! ’n Tierende Rus met vlammende geel onder groen. Hoe heerlik was die vergiffenis nie toe ek haar vertel dat ek jou nog nooit gesien het nie, dat ek jou nie wil sien nie.

    ’n Skrywersituasie, sê sy oplaas tevrede.

    Ek gaan ’n boek oor ons drie skryf, sê ek.

    Wees goed vir my as jy dit skryf, sê die Rus verheug.

    Ons soen mekaar só driftig dat ’n kort vroutjie met ’n afgerigte wolfhond driftig haar rug op ons draai en voor die leë, groen pagode die hond blitsvinnig deur drie toertjies voer. Hy spring drie keer oor die tralies, gaan lê, blaf en knor op bevel en verneder homself in haar opdrag terwyl die Rus en ek ons tonge teen mekaar laat kwispel. Toe kom ’n onskuldige melkjong verby (onskuldig in die sin dat hy nie op pad was om diefstal te pleeg nie, maar slegs om melk af te lewer) en die rasende hond val hom onmiddellik aan en skeur sy broek en knaag wit repe in sy swart vel. Down! Down, Rex, down! gil die vroutjie angstig en slaan met haar stokkie op die geel grond van die park. Down! gil sy haar woede teen my en die Rus wat in mekaar se arms wegsmelt en aan mekaar se oorlelletjies knabbel. Down! gil sy desperaat en oorwin die dier wat vir oulaas ’n broek skeur en dan teësinnig gaan lê en grom terwyl die melkjong hinkend-pinkend wegstrompel. Bad boy, Rex, kweel die vroutjie terwyl sy hatig na ons kyk en met haar stokkie op die grond tik. En die Rus trek haar lippe weg van myne en fluister in my oor: Sy het nie eens die jong om verskoning gevra nie.

    My Rus het ’n sosiale gewete.

    Toe sê sy: Vertel my van jou tiener en haar tienerbriewe.

    En ek vertel haar toe, mej. X, die hele storie want jy is net ’n X vir haar en sy sal jou seker nooit in hierdie lewe sien nie.

    Die eerste briewe van X

    Jou eerste brief (ek kon aan jou handskrif sien dat jy ’n kunsstudent is) op foliovelle, weerskante geskryf, slordig uitgeskeur, gekreukel asof jy dit self eers oor en oor gelees het, begin: Mnr. Y, mnr. Y, mnr. Y . . .

    (Hoe sal ek nie later die inkantasie van daardie herhalings waardeer nie!)

    Mnr. Y, mag ek vir u skryf en sal u vir my terugskryf? Ek is 18 jaar oud, ek is ’n kunsstudent, ek is nog ’n redelike maagd en verveeld, toe dink ek – dit sal interessant wees om vir ’n skrywer te skryf, hy behoort interessante briewe terug te skryf . . .

    Ek kyk oor die see waar die son selfs om nege-uur hierdie somersaande met ’n laaste intense ligbestraling langsaam en traag ondergaan. Die see is so kalm soos ’n binnelandse meer en die branders breek lui en flou. My dowe, manies-depressiewe vrou hang met die volle gewig van haar sesvoet-liggaam aan die krukke, haar blonde hare soos ’n Dürer-tiener oor haar skouers. (Ses voet? sê my maer tante tussen die goudgeel tulpe. Ses voet! en pluk ’n droë blom uit. Maar sy lyk soos ’n Walkure, sê ek terwyl my tante vir haar tuin glimlag.)

    My dowe, manies-depressiewe vrou se rug is na my gekeer en sy kyk oor die kalm oseaan terwyl ek jou brief stilletjies lees en terwyl die gespe van haar rok lostrek om haar rug, rooibruin soos wyn, bloot te stel.

    Ek het ’n behoefte om by ’n onpersoonlike en redelik gedistingeerde persoon te bieg. (Weer die woord redelik.)

    "Goed. My vriendin C sê ek lyk of ek baie vrugbaar gaan wees. Ek herinner haar aan ’n ryk stuk grond met poele water. Ek wys vir haar ’n tekening van blink, glansende lukwarte, grotes en kleintjies, en C sê dis nés jy dis nés jy – dis baie vrugbaar.

    Werp dit enige lig op u pennemaatjie?

    Dit het meteens donker geword en die see is swart en die branders het hulle traagheid verloor. My dowe, manies-depressiewe vrou se liggaam sidder en ek dink: is dit emosie of koue? Is sy telepaties met my verbind? Begryp sy op hierdie oomblik iets?

    Is u baie besig, mnr. Y? Skryf u nou? Hoe lyk u vrou?

    En my dowe, manies-depressiewe vrou se liggaam skud en sidder en sy beweeg soos ’n pendule op haar krukke sodat my hart wil breek van deernis. Ek staan impulsief op, gereed om iets te doen, en toe sien ek oor haar skouers ons beelde in die ruit (dis waarna sy die hele tyd gekyk het) – eers háár gesig, vertrek in ’n uitgelate lagbui, en dan myne, beteuterd van bekommernis.

    Ek wens jy kan jouself sien, sê my dowe, manies-depressiewe vrou terwyl sy haar liggies met behulp van die krukke tol sodat ek vlak in haar gesig kan kyk, in die blou oë vol raserny en minagting. Ek wens jy kan jouself sien! Kyk hoe lyk jou hare! – Jou das! – En daardie manuskripte in jou hand! Kry jy nooit genoeg van letterkunde nie?

    Terwyl sy die bediendes ontbied om die tafel te dek, terwyl sy my vermaan om nie té veel te drink nie (die dogter van die goddêm Swartlandse dronk slagter), lees ek jou brief klaar: Moenie vir my iets naars skryf nie soos: kry vir jou liewer ’n ander vriend om mee te korrespondeer. ’n Brief van u sal my verruk. Dit sal my vervelige dae draaglik maak. (En ek stik in die stof van my dae.)

    Onderaan is ’n tekening met die byskrif: Dis ’n tekening van my hart om my ’n bietjie nader aan u te bring.

    En dan haar naam: X.

    En ’n naskrif: Ek het gisteraand my eie oupa verraai. Ek het vir ’n meisie gesê dis my grootjie.

    En dis meteens vir my snaaks en dis asof ek iets van my dowe, manies-depressiewe vrou se lagbui begryp, want ek lag soos sy en dis meteens asof ons almal vyf-en-twintig jaar jonger is en wie vergeet ooit daardie dinge waarvoor jy vyf-en-twintig jaar gelede gelag het?

    Maar my Rus lag nie, sy kyk na my soos my maer teringtante, en sy is effens geamuseerd en sy druk my liggies teen haar aan terwyl haar gedagtes wegdwaal tussen die bome en die son van die park en ek kan sien dat sy volkome veilig voel. Ek is Gemini-die-tweeling (Ek is Taurus-die-bul, pasop mnr. Y!) en die tweespalt van kinderlikheid wat stry teen volwassenheid en in die tweespalt lê my ydelheid, en ongevoeligheid en wreedheid, wat jy, mej. X, met jou tieneraanvoeling, beskryf het as verraderlikheid, en jy, my liewe Rus, as vrees vir gebondenheid. Het jy toe vir haar teruggeskryf? vra sy, maar toe ek ja sê, weet sy natuurlik nie die hele waarheid nie: dat daar in ons briewe ’n soort geprojekteerde vereenselwiging plaasvind, dat ek in hierdie geval gedwing is om die rol van die vaderminnaar te speel, en dat hierdie rol uitgeknip is vir alle 44-jariges wat ook stik in die stof van hulle dae.

    Is dit omdat daar ook ’n sekere veiligheid lê in gekompliseerdheid of is dit omdat gekompliseerdheid mens nader aan jou middeljarige besef van bestaan bring? Maar ek vertel haar van die Rus in my brief wat ek een aand by die see skryf terwyl my dowe, manies-depressiewe vrou by haar afgeleefde, aftandse slagtersvader ’n sentimentele besoek aflê. Ek skryf vir haar soos sy vir my skryf, ek bieg by haar soos sy by my bieg. Ek vertel haar van die aand toe die Rus en ek mekaar die eerste keer ontmoet het.

    Dis by een van daardie Italiaanse plekke, mej. X, waar Gino vir sy swak canneloni wil vergoed deur op sy kitaar te speel en die klante aan te moedig om deel te neem, en sy plek onmoontlik vol te stop, en die geruite tafeldoeke te belig met kerse in bottels, en ’n atmosfeer van boheemse armoede te skep vir besoekers uit die beste buurte op soek na romanse en ontvlugting. In my groep was daar ’n agtienjarige met hare tot op haar skouers om haar skerp gesiggie (lyk sy miskien soos jy, mej. X?) en toe begin sy huil van al die rooiwyn en verdriet oor die onverstaanbare lewe terwyl die rooiwyn vrylik vloei en Gino Otsjitsjornija speel. ’n Paar Spaanse dansers van die balletskool begin dans, ons voel almal flamenco, en toe merk ek die pragtige Rus voor my op, haar geel oë donker van herinnerings terwyl ’n elegante man met woorde en strelende gebare professioneel sy veldtog van liefde teen haar voer. En ek sien haar man, die Kosak, groot soos ’n leeu, met die woede van ’n leeu in sy oë, en met ’n woede wat oplaai sodat hy meteens opspring en die kitaar uit Gino se hand gryp, en sing en dans sodat almal om hom sing en dans en deel in sy wilde begeestering en hom op ’n tafel tel van waar hy sy Slawiese weeklag begelei met die getjingel van sy kitaar totdat die jongman sy Russiese vrou los en ek, onskadelike mannetjie, langs die huilende tiener en die stil Rus alleen by die tafeltjie bly. Die weemoed van die Rus en die weemoed van die huilende tiener terwyl ons rooiwyn drink en die ligte begin dans en die aand chaoties word en alles in die rondte maal en maal totdat êrens in Gino se kamer van ontvlugting ek en die weemoedige Rus in mekaar se arms vasdraai en mekaar die eerste soen van vele daarna gee sonder rede, waarskuwing, sin, of einde, terwyl haar man sy doodsdans dans.

    Begryp jy iets hiervan, mej. X? Begryp jy hoekom die huilende tiener die volgende môre op pad na bieg by haar priester deur ’n vragmotor vol piekniekgangers doodgery is? En hoekom my lewe en die lewe van die Rus met die doodsdans van haar man en die dood van die tiener ingeweef is?

    Wat is jou naam, mej. X? Hoe lyk jy? Hoekom skryf jy vir my en hoekom skryf ek terug? Sal ek ’n naam vir jou vind? Jy is een van daardie lieflike bose engeltjies van ’n Switserse afrondingskool wat met die lewe speel. Jou naam is Regina Outre-Mer. Dis my naam vir jou.

    "Mnr. Y, mnr. Y, mnr. Y, dierbare man, ek is al klaar lief vir jou. Nee, mnr. Y, my skool lê hier agter die bult waar ons Vrydagaande op rugbyvelde na volkspele gevry het. Nee, mnr. Y, dit was nie ’n afrondingskool nie, dit was ’n plek waar daar altyd wit toebroodjies in die lav’s geweek het . . .

    Ek is ’n hele groot verlate strand, mnr. Y, en bedags kwetter voëls bo my en snags is daar stiltes of ape in die bosse wat plek-plek giftig uitslaan . . .

    Ek wens ek was 18, soos jy, mej. X . . .

    Toe ek 18 was, het my teringmaer tante my na die Delmonico geneem om die lewe te sien, maar eintlik om die offisiere van die H.M.S. Voodoo te verken. Sy kon my ’n 18-jarige WAF gee in ruil vir ’n 21-jarige RAF, omdat sy vir alles betaal het. Ons het slows en tango’s gedans en ek sien nog haar heupe onder die sagte rok terwyl sy agteroor leun in the dance of love. Hoe verveeld was die WAF nie en hoe uitbundig was die RAF nie! Hoe droewig was my teringmaer tante en ek nie op pad terug in haar Bentley terwyl die WAF en die RAF in die lig van haar motor hand-om-die-lyf om die donkerte van die draai verdwyn! Was dit ’n Stuka of was dit ’n Heinkel wat een van die twee op ’n vérre strand in memoriam verewig het?

    Nee, mej. X. Ek is bly ek is nie 18 nie.

    Wording en verwording

    Ek is bly ek is nie meer 18 nie, mej. X, want toe ek 18 was, het my anima tot my gespreek met die stem van ’n vrou van 44 en ek was blind vir die nimfe met vuurblomme in hulle hare en ballerina-rokke en kaalvoet spronge oor kannas. Watter plegtige skepseltjie is jy nie, sê my teringmaer tante en nooi spesiaal vir Daphne met die pragtige lyfie omhels deur ’n deftige snyersrokkie, met haar lippe nartjierooi en haar blonde hare soos Veronica Lake s’n oor die een oog, en sy speel Paper Doll op my teringmaer tante se baby grand terwyl ek my tante se oë oor die kandelaar sien blink – helder soos die silwer, onleesbaar in haar opgetooide gesig. Sy stuur ons die maanverligte tuin in waar ek met Daphne wat ruik na Guerlain, The Night Is Young, oor Babiloniese opgrawings praat totdat sy vir my sê: Gaan jy my nie soen nie? – maar toe ek haar soen, is haar lippe styf toe en dit het my die hele aand gekos om haar lippe oop te kry en, terug in die lig van die kandelaar, bekyk sy my met die gewonde oë van ’n verkragte maagd. My teringmaer tante nooi vir Josephine, wat die hele goddelike middag met my tennis speel, en my toelaat om haar in ’n resies in die swembad te wen, en in die aand, na charades, my ongemerk in die rigting van die tuin hipnotiseer waar sy my soos ’n vulletjie bespring en haarself agteroor gooi sodat ek met groot moeite ons twee staande hou terwyl sy my waternat soen en Marie Corelli-sentimentaliteite in my oor fluister. Hoe het sy nie met spoegies tussen haar tande in die lig van die kandelaar haar liefdeskode gemurmel terwyl ek ’n hele sakdoek met Drakebloed kleur nie! Marie, tussen my en my teringmaer tante, het roerloos in die stadsaal, héél voor, na Yehudi Menuhin geluister terwyl ek die hele tyd sy vierde vinger dopgehou en aldus die aand in eiesoortige konsentrasie oorleef het. In die rosetuin, onder my teringmaer tante se onsigbare oë in die venster langs glansgordyne, het Rosamund, die kunstenares, sekere skaam voorstelle gemaak wat helaas onmoontlik was voor die gesig van my tante wat soos ’n halfmaan op die tweede verdieping verskyn het. Toe kom Gina, die 44-jarige geskeide trollop wat skilder, en sy en my tante dartel om my met blitsvinnige gesprekke en ek, silwerskoon en spierwit in my swart pak, wil haar die maan wys, die maan wys in die rosetuin, en toe onderbreek my teringmaer tante ons gesprek agter die eerste roosboom met ’n Hm-me, nie vir jou nie, Poppet, (in my oor) en vleg my hand deur haar eie totdat ons later, agter die kandelaar, veilige gesprekkies voer terwyl Gina se oë soos rooiwarm yster gloei.

    Vind jy dit anders, of snaaks, mej. X, in jou tienerbestaan wat vandag so anders is as myne?

    Jy moet leer om lief te hê voordat jy kan skryf, sê my teringmaer tante op pad na die universiteit wat sy vir my uitgekies het. (Het ek jou vertel dat my ouers vroeg dood is, mej. X? Ek besit die gesig van ’n man en ’n vrou, twee ovale daguerreotipes in ’n loket.) Tale en nogmaals tale, sê sy vir die rektor terwyl sy aan die sigaret in die lang sigarethouer trek en minagtend die rook oor sy linkerskouer blaas, die klein, vet mannetjie agter sy enorme lessenaar. Tale, musiek, kuns en filosofie. Ek volg die vlug van ’n by langs die boekrakke op pad na die plafon, wentelend terug vlak voor sy twee waterblou ogies verby na die lessenaar waar hy met ’n blitsige slag van ’n prospektus die insek transformeer tot ’n kolletjie heuning. Sterrekunde, matesis, anatomie en sielkunde. En my tante flikker traag met haar oë in sy rigting en kyk by die venster uit waar jongmans en jongmeisies in die lenteson op die vierkant dwaal. Latyn, Grieks, Duits, Frans, Spaans . . . Sy lig haar skraal hande en omhels al die tale wat onsigbaar deur die lug aangesweef kom. Sy oorheers hom, die vet mannetjie, die bekende rektor wat my meteens begin haat en bliksem in sy waterige ogies kry.

    Eintlik, sê my teringmaer tante, is dit beter as jy die privaatsekretaris van ’n bekende figuur word. Ons dwaal langs die ou geboue, die klimopbegroeide mure, die kabbelende waterstroompies in die vore. Buitelandse diens, sê sy en hef haar hande tot die lug. Hoe gering lyk sy nie, hoe skraal en lig en vernietigbaar! Ek sien my tante verdwyn in ylheid; ek sien haar verdwyn in die son, in ’n dimensie van lig.

    Ons gaan wandel in my oom se koringlande wat hy vir estetiese genot geplant het, en in die wind dein daar golwe van donker goud. Monsteragtig teen die horison verrys die masjien wat hy tweedehands gekoop het: ’n voorwêreldse monster op pote voordat die wiel uitgevind is; ’n groteske spinnekop van staal waaraan my oom, pikswart gesmeer, wit kolle vir oë, met die blik van ’n siener, sekere verstellings aan ’n legkaart van ratte doen. Die roerlose masjien, die roerlose arbeiders, die roerlose punt van uiterste verfyning. En dan die swanger oomblik as my oom terugstaan, bevele uitreik, en met angsvolle verwagting na sy geliefde monster kyk. Die Swartlandse hemel dreun, ’n stroom korrels borrel in die sak, die volkies dans die dans van lewe totdat die hele, onverstaanbare kompleks van masjien en mens tot ’n roerlose atavistiese insinking kom, en masjien en mens deel van die aarde en ryp koring word, en my oom, die profeet, met kunstenaarsvingers van vooraf nuwe lewe in die netwerk van ratte tower.

    My tante vind ’n koringblom en sprei haarself soos ’n blom tussen die koring.

    Die koringaar is die beeld van Sibele, sê my tante. Die koringblom is die oë van die Kore. Sy trek my langs haar neer, terwyl my oom die swart monster tot nuwe lewe dwing. Jy moet vrouens liefhê, Poppet, want die taal van liefde en vrouens is hergeboorte en skepping. Luister diep in jouself. Luister! En terwyl

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1