Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Een vir Azazel
Een vir Azazel
Een vir Azazel
Ebook200 pages2 hours

Een vir Azazel

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die agtienjarige Lila word vermoor en die hakkelende speursersant Demosthenes H. de Goede – die een wat die inwoners teen die bose moet beskerm – vergesel deur Dr. Johns, word aangesê om die misdaad te ondersoek en die sondebok tot geregtigheid te bring. ’n Speurverhaal waarin die liggeestige met die bissare en grusame meestelik verweef word. Hierdie merkwaardige roman het groot opspraak verwek toe dit in 1962 vir die eerste keer verskyn het en met die CNA-prys bekroon is.
LanguageAfrikaans
Release dateDec 6, 2018
ISBN9780798178372
Een vir Azazel
Author

Etienne Leroux

Etienne Leroux (1922-1989) was een van die belangrikste Sestigers. Hy het baie vernuwing in die Afrikaanse letterkunde meegebring en dikwels groot omstredenheid veroorsaak. Sy werk is verskeie kere bekroon, o.a. twee keer met die Hertzogprys, vir Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein O Magersfontein. ’n Heruitgawe van Die Silberstein-trilogie is in 2006 gepubliseer, en in 2008 Die 18-44-trilogie (wat die romans 18-44, Isis Isis Isis en Na’va insluit).

Read more from Etienne Leroux

Related to Een vir Azazel

Related ebooks

Related articles

Reviews for Een vir Azazel

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Een vir Azazel - Etienne Leroux

    Etienne Leroux

    Een vir Azazel

    Human & Rousseau

    Daarom is die tragiese figuur van ons tyd miskien dié een wat die skuld op hom trek om ons haat of verdriet vir onsself geldig te maak, sê dr. Johns.

    (Op ’n Stigting soos Welgevonden is alle karakters denkbeeldig en alle gebeurtenisse waarskynlik. Elke persoon wat homself in een van die karakters herken, hoort tuis op Welgevonden.)

    OPGEDRA AAN JOHN KANNEMEYER

    Ubi?

    Die grasperk strek tussen kolle bome en struike wat soos eilande hier en daar opduik: ’n nagemaakte groen see waarop die skepper wandel in ge­selskap van sy gade, die slank Mrs Silberstein, en sy patryshond. Dis ’n pragtige, rustelose dier, met konsentrate en lewertraan gevoer tot wit-en-swart Spaanse trots – ’n vel so sag soos sy, oë donker en vogtig-glimmend vry van ophthalmia, ore flappend en stert kwispelend: ’n nuttelose eind­produk wat grasie verleen aan ’n doellose wandeling. Soms verskyn dit op ’n helling, ’n stukkie lig daar op die groen; en dan verdwyn dit in die donkerte van ’n tak, ’n stomp, ’n skaduwee.

    Uit hierdie hoek beleef Welgevonden nog steeds sy renaissance en kon dit twee Medici’s wees, hierdie twee, as mens skouermantels kon bydink, as jy hulle tongval kon verander, as sy nie op daardie oomblik met ’n krakie in haar stem uitgeroep het nie: Fido!

    Agtien jaar verby jou fleur maak seningtaai waar soepelheid en lenigheid eers was, dit haal die musiek uit jou stem en op sekere toonhoogtes gee die buigsaamheid in en kraak dit Fido! Fido!. En wat eers miskien inte­ressante banaliteit was, word blote banaliteit want, helaas, die Medici’s is al lankal dood.

    En vir hom ook agtien jaar om bonkiger te word, agtien jaar om daardie breë skouers ’n bietjie krom te trek, om die blou van die oë witter te maak, om ruwe, jeugdige manlikheid van sy jeugdigheid te beroof en reeds te be­gin knaag aan die manlikheid self sodat eendag miskien net die ruheid sal oorbly om jou te herinner aan – presies wat? ’n Ruheid, dus, in sy stem as hy hom by haar voeg en sy Fido! Fido! Fido! die gewenste uitwerking het, want die dier verskyn nou op die kruin van die heuwel, skerp afgeteken teen die horison.

    ’n Oomblik aarsel hulle en kyk met bewondering getemper deur wee­moed na die silhoeët: die gespitste houding, die snoet in die lug, die stert roerloos, die ingehoue konsentrasie wat in die stilte-voor-beweging gelaai is met meer beweging as beweging self, die spanningspunt net duskant voltooiing wat nog ietsie aan jou verbeelding oorlaat – ’n prent van Timomachos wat jou betrek in die verganklike oomblik. En dan, meteens, word die voorpoot gelig en verstyf die dier tot die katatoniese staat wat ’n kenmerk van sy ras is.

    Wat sou hy sien? vra Jock Silberstein.

    Is hier dan nog patryse? vra die slank Mrs Silberstein.

    Hulle haas hulle, hand aan hand, teen die heuweltjie uit, verby die hond, en kyk dan effens bysiende heen en weer oor die grasperk. Jare gelede sou hulle nie so uitasem ge­word het nie en sou daar iets dartels in hulle bewegings gewees net. Hulle kyk op. In die verte roer die blare van populierbome met duisende diamante teen die lug. Dan gewaar hulle die plastiekswaan, opgeblase, vaalgrys, deur die wind gewaai van die fontein af, óór die struike, déúr die duike tot hier presies in die middel van die grasperk, netjies in posisie, geswolle en verweerd, met krom nek nimmereindigend nog steeds op reis.

    Stel jou voor, sê die slank Mrs Silberstein.

    "Ek was altyd onder die indruk dat hulle op reuk afgaan," sê Jock Sil­berstein.

    Dis iets wat hulle vir hulle vriende kan vertel. Die slank Mrs Silberstein streel die hond, wat onmiddellik ontspan, teen haar aansnuffel en dan vinnig wegskiet in die rigting van die fontein. Dis iets wat hulle altyd sal onthou: ’n staaltjie wat telkens voor die dag sal kom, die patryshond en die plastiekswaan wat immer by hulle sal bly, die stukkie kitsch op die kaggelrak van hulle herinnerings.

    Aan die voet van Welgevonden se berg word die forellemeer deur klein lopies gevoed wat êrens tussen die kruine en nat heide begin. Om verspoeling te voorkom, het Jock Silberstein baie jare gelede opdammingsmuurtjies gebou met oorlope in die middel om soveel kuseks per uur deur te laat nadat die damme, wat die slik moet agterhou, gevul is. Dit was gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en omtrent twintig Italiaanse gevangenes moes verkieslik op artistieke wyse besig gehou word. Die eindproduk van maande se gewerskaf het hulle gemoedstoestand weerspieël; elke betonwal is aan die buitekant na die beeld van tragiese maskers gekap met die deurlope uitgehou in die vorm van druipende monde. Dit het die indruk gelaat van ’n reeks reusagtige drakekopspuiers ál teen die hang van die berg af tot in die meer. Daarna is dieselfde motief by die uitloop herhaal van waar nou ’n enkele stroom teen die heuwel af buitel oor Welgevonden se grasperke tot by die fontein. Die fontein, amper ’n meer op sigself, is oortrek met waterlelies, omring deur marmerbeelde en bevolk met plastiekswane. Dit dien werklik as ’n gekamoefleerde reservoir vir al die waterinstallasies op die boerderybedryf, maar dit was nog altyd die beleid op Welgevonden om die funksionele agter ’n estetiese uiterlike weg te steek.

    Met verloop van tyd het groen mos die maskers bedek en het allerhande kleure daarteen aangeslaan sodat hulle die indruk skep van iets wat eeue gelede aangebring is – soos beelde wat mens sou verwag om teen die hange van Mediterreense berge aan te tref. Meestentyds vloei die stroompies rustig en kabbelend en dan kwyl die maskers ’n deurskynende rooi bergwater; maar as dit so pas gereën het, soos nou, dan spuug elkeen ’n skuimbelaaide rooi stroom die lug in.

    Gedurende die dag blink die son teen die maskers en bewe hulle wasig in lugspieëlings; skemertyd gryns hulle somber en vervul jou met ’n gevoel van naderende onheil; in die nag is jy bewus van die maskers alhoewel jy hulle nie kan sien nie. Hulle het met die jare baie verweerd geraak en is nooit herstel nie: hiér is ’n neus af, dáár is ’n haaslip waardeur die waters syfer. Maar daar is só baie geboue en bosse op Welgevonden dat dit soms dae of maande duur voordat jy die maskers die eerste keer oplet. Daarna kan jy hulle nie vergeet nie.

    Op hierdie sonnige middag ná die reën is ’n patryshond in ’n malse bui besig om heen en weer oor die gras te jakker. In die verte kan sy baas en mies gesien word. Hy het vir hulle so pas ’n plastiekswaan aangewys wat van die fontein af weggewaai het. Hy het nou die fontein self bereik en iets het sy aandag getrek.

    Quid?

    Daar is iets by die fontein, sê Jock Silberstein toe die hond die tweede keer bewegingloos word.

    Die slank Mrs Silberstein bring haar hand na haar mond. Die fon­tein … sê sy en draai haar gesig na die warnet van geboue daar vér onder, asof sy in die doolhowe van Welgevonden gerusstelling sal vind.

    Dis seker ’n plastiekswaan, sê Jock Silberstein, onrustig met die wete dat patrone herhaal word, dat elke gebeurtenis neig om ’n eggo te vorm na sy eie beeld.

    ’n Enkele oomblik bly hulle só, word hulle stil van buite: die tablo van ’n hond in sierlik duidende lyn gerig op die onsigbare iets in die fontein, en van ’n tussenganger in die vorm van ’n verdeelde man met sy arms na weerskante gestrek om die gespanne hond te verbind met ’n ontwykende vrou. Die spanning bereik ’n hoogtepunt, krummel ineen en ontbind in die langsame beweging van die vrou wat wég en áf beweeg, na die ronde gewels, die vlammende mure, die eindelose vensters en die komplekse binneplase wat beskerming bied teen ’n gevaarlike eenvoud. Die wind speel liggies met haar modieuse rok, dit breek die strengheid van haute couture tot die ylheid van ’n Botticelli-kleed, dit kreukel en fladder om haar in grasieuse vlug. Die middeljarige Mrs Silberstein word jeugdiger met toenemende afstand; sy verslank in die verte tot die slank Mrs Silberstein van agtien jaar gelede.

    Dis ’n plastiékswaan, herhaal Jock Silberstein en dan keer hy hom na die hond wat nog steeds in ’n wagtende posisie roerloos bly. Voor hom roer die fontein in ’n gedurige draaikolk namate die water onder die lelieblare aanhoudend deur betonpype op die bodem weggraviteer. Die swaan se dubbelgangers – wit, vaalgrys en opgeblase – dobber rigtingloos rond. Op ’n afstand spuit die waters, steek die maskers hulle rooi tonge uit, blink die son teen die groteske gesigte. Jock druk sy hoed agteroor en vee die sweet van sy voorkop af. Hy kyk oor die landgoed heen: die fabriek in die verte, die huis daar onder, die bewegende stippeltjie wat sy vrou moet wees. Dan streel hy die hond wat selfgedwonge nog trou onbeweeglik is.

    Wat is dit, Fido? Wat makeer, ou man?

    Sy aandag word getrek deur iets wat op die stroom na die fontein toe aangedryf kom: iets wat vormloos deur die water beweeg, wat eers wegduik, verdwyn, en dan tussen die swane te voorskyn kom, wat hulle rigtingloosheid naboots en dan meteens teen ’n opdrifsel vashaak en stadig, teen die draai van die horlosie, ál in die rondte begin beweeg. Rondom en rondom wentel dit, soms sigbaar en soms onsigbaar, óm en óm soos ’n minuutwyser in omgekeerde gang. ’n Wit, grys voorwerp, maar wat is dit? En noudat sy baas ook daarvan bewus ge­word het, ontspan die hond, asof sy aandeel in die spel voltooi is.

    Jock Silberstein het intussen sy hoed afgehaal en voor sy oë gehou om die son te keer; hy loer onder die skaduwee van die hoedrand deur en namate sy oë gewoond raak aan die beweging, hulle instel op die beweging, word die voorwerp kenbaar. Jock Silberstein se kop draai al in die rondte soos hy die wenteling volg, met elke voltooide sirkelgang neem sy afgryse toe, wiel sy emosies sigbaar van afgryse, skok, ongeloof, besef, verdriet, terug tot afgryse. Hy is magteloos as sy kop deur al die bewegings gaan en geleidelik word sy bewegings outonoom. Hy staan daar soos ’n groot pop met ’n ingeboude meganisme. En dan begin die trane stadig uit sy oë rol. Sy mond gaan oop en toe en hy huil geluidloos terwyl hy vasgevange is in die nimmereindigende sirkel. Ná ’n rukkie begin hy onwillekeurige geluidjies maak soos iemand wat stom is en probeer praat; later word die geluide harder maar hulle is nog steeds woordeloos en mensloos; uiteindelik gee hy hom ten volle oor aan sy smart en strompel die water in met ’n kreet wat deur die middaglug sny en sonder eggo verdwyn.

    Cur?

    Hy kom oor die uitgestrekte grasperk aangestap met die druppende voor­werp in sy arms. Dit lyk asof sy gang doelloos is; sy krag is bomenslik; hy loop net aan en aan: by die geboue verby waar hulle deur die ruite na hom kyk, waar hy homself in die ruitspieëls sien. Alle indrukke kom gelyktydig en onsamehangend. Hy strompel voort en sien meteens die beelde van almal verbrokkel in die verskillende spieëls. Hulle kyk uit die spieëls na hom … Hulle kyk met verkykers … Die spieëls versplinter in duisende skerwe en die beelde splinter saam. Die ruite is die soekers van hulle kameras waardeur hulle loer. Hulle spieël na mekaar toe en dan word die lense op hom gerig. Hulle het mekaar versny en nou versny hulle hom waar hy rigtingloos met sy las oor die grasperk stap.

    Dan is hy weer alleen, ’n reusagtige figuur op die onmeetlike landskap.

    Op ’n sekere tydstip is dit asof hy rigting vind. Hy kom by die fabriek en die kelderkamers. Hy gaan by die groot poort in en daal na benede, verdieping tot verdieping onder die grond, tot die binneste heiligdom waar die fino’s verouder het. Versigtig, op ’n tafel, lê hy die lyk neer. Hier is en was al die dinge wat sy groot liefde omvat, waar alles tot ’n einde gekom het en weer gebore is. Hier is die hele betekenisvolle, onverstaanbare sirkelgang. Hier is alles aanwesig, leweloos en tog lewendig. Hy kan nie meer begin en einde onderskei nie. Hy voel oud, en soos ’n ou man kan hy nie meer tot ’n slotsom kom nie.

    Hier is my hele lewe, al my prestasies en al my teleurstellings. Ek kan nie verder dink nie en ek sal vir die res van my tyd op aarde versteen by hierdie punt. Wat is waar? Wat is nie waar nie? Wat het gebeur? Hoekom het dit alles gebeur? Hoekom eindig of begin dit hier?

    In ’n sekere stadium loop hy heen en weer in die kelderkamer rond. Die elektriese lig brand uit ’n enkele, kale gloeilamp. Buitekant het dit miskien al begin skemer word. Hy loop heen en weer en dan gaan hy by die voorwerp op die tafel staan. Hy kyk noukeurig na die gesig asof hy dit die eerste keer sien. Soms betas hy die hare en probeer dit regstoot, maar dit is nat en klam en onbeheerbaar van die water. Geringe dingetjies trek sy aandag: die vorm van die neus, die lippe, die wenkbroue, twee merkies op die keel, die punte van die vingers. Daar is ’n druppel bloed wat op die vel gestol het. Hy kyk na die kleur daarvan. Soms trek sekere van die kledingstukke sy aandag en hy wonder waar en wanneer hy dit gekoop het. Hy herinner homself aan die tyd toe hy hierdie en daardie geskenkie gegee het en hoe die paar oomblikke van egte blydskap ’n warm gevoel in sy binneste gelaat het.

    Daar is bloed op die lippe en tussen die tande. ’n Aandrif van ontsteltenis oormeester hom en hy loop vinnig deur die gange weg tot buite, tot by die stoomkamer waar die koperpype soos slange in mekaar krul teen die mure. Hy draai die kraan oop en hy wag totdat die stoomgeluid alle klank uitwis en dan begin hy skreeu. Dit hou langer as gewoonlik aan: hy skreeu die vrae teen die rumoerige stilte, maar hy kry geen antwoord en geen verlossing nie. Ook dít moes gebeur: dat die kamer van bieg sy helende krag verloor. Toe hy buitekant kom, het die son al gesak en glinster daar ’n rooi skynsel kwaadaardig op die spuende maskers teen die berg.

    Hy loop stadig en vasberade terug na die kelders, tot by die binneste kamer waar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1