Het jy geweet daar kronkel ’n kleinneef van die Visriviercanyon deur Namakwaland, net veel groener en boonop oortrek met lenteblomme? Toemaar, ek ook nie. Maar hier stap ek nou, deur ’n diep skeur in die aardkors op ’n geel blommetapyt.
Die Schaapriviercanyon lê weggesteek tussen Namakwaland se heuwels ’n ent anderkant Bulletrap.
Bulletrap? Waar de poeding is dit, het ek gewonder toe ek die Namakwa Flowerslenterstap se brosjure lees. Die aanwysings lei jou deur Springbok tot by ’n afdraai 24 km noord van die dorp. Kort daarna ry jy deur die gehuggie van Bulletrap en met ’n grondpad nog 30 km verder tot op die plaas Nigramoep. Dis op dié plaas waar die Schaapriviercanyon lê.
Ek ontmoet die res van die groep rondom die etenstafel op die vooraand van die staptog. “Ken jy vir oom Jopie Kotzé van die Springbok Lodge? Sy oupa het destyds hierdie huis gebou,” vertel Suzette Louw. Sy woon op Nigramoep saam met haar broer Marius Dirksen van Schalkwyk en sy gesin.
“Nigramoep se eerste akte is op 14 Maart 1899 geteken. Toe was dit in besit van Jac Kotzeé, met twee e’s. Êrens het dit na die gewone Kotzé verander,” sê sy.
Nigramoep (wat “plek van die swart water” in