Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Genade Onbeskryflik Groot
Genade Onbeskryflik Groot
Genade Onbeskryflik Groot
Ebook156 pages1 hour

Genade Onbeskryflik Groot

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In hierdie ware verhaal beskryf Ansu Malan die reis wat sy langs haar man beleef het nadat hy met galpypiekanker gediagnoseer is. Sy vertel van hulle vrese, hulle pyn, maar die sekerheid wat hulle in Jesus Christus gehad het en steeds het. Dit is 'n geloofspad wat sy met vertroue in haar Skepper loop.
Hierdie deernisvolle boek sal beslis enige leser se hart aanraak.

LanguageAfrikaans
Release dateDec 4, 2021
ISBN9781005743512
Genade Onbeskryflik Groot

Related to Genade Onbeskryflik Groot

Related ebooks

Related articles

Reviews for Genade Onbeskryflik Groot

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Genade Onbeskryflik Groot - Ansu Malan

    In die herfs van 2021 hoor ek een middag baie helder en duidelik dat dit tyd is om ons reis te deel. Uit ervaring het ek geweet dat dit nie my eie gedagte was nie en het ek eers vir ’n paar minute dit vir myself gehou, want sodra ek dit met Jacques sou deel, het ek alreeds oorgegaan na die volgende stap en is die bal aan die rol gesit. Toe ek dit half huiwerig met hom deel, was sy onmiddellike antwoord dat hy ook gedink het ek moet.

    Vandat die storms om ons begin woed het, het ek tussendeur al die kruine, laagtes en gelyktes in my geestesoog gesien hoedat ons as begenadigde, gesonde twee mense op ons eie unieke maniere getuig van wat Vader vir ons gedoen het. Daardie visie word nou ’n werklikheid. Mag hierdie getuienis van my dan net tot Sy eer strek. Hy wat onverdiend en in oorvloed vir ons as gesin nuwe lewensasem gegee het.

    Ek deel hierdie sodat ons kinders, ons kleinkinders, ons nageslag dit kan lees. Vir almal wat die pad naby of verder weg saam met ons gestap het en tree vir tree ons in harte en gedagtes gedra het vanaf Junie 2019. Vir jou wat onbekend is en later eers ons storie lees. Ek weet dat daar iemand gaan wees wat hier lees vir wie my/ons ervarings vreemd mag klink, wat dit nie verstaan nie, dat gelowiges en ongelowiges dit gaan lees. Dis goed so. Nie almal hoéf dit nie te verstaan nie. Moet asseblief net nie daarom ophou lees nie. Dalk hoor jy iets langs ons pad. Dalk nie nou, môre of oormôre nie. Ek sal nooit weet op watter grond die saad val en wanneer en of dit sal ontkiem nie, maar my gebed is net dat wie Hy vir ons was en is, baie duidelik gehoor sal word. Ek kan nie langer stilbly nie.

    Van die oomblik op 22 Junie, wat ons besef Jacques se oë is geel en dis so vinnig soos: Lyk my oë ook vir jou geel?, word ons lewens onherroeplik verander. Asof iemand ons neem na ’n ellelange tuimeltrein, ons sit maak, die groen knoppie druk en eenvoudig in die niet verdwyn. ’n Rit wat dikwels voel asof dit nooit einde gaan kry nie. Genadiglik was ons stewig vasgegordel terwyl ons ’n skare gehad het wat ons van onder af aangemoedig het, wat saam asem opgehou het, wat saam gejuig en gehuil het.

    Ek moes myself dikwels herinner dat ’n mens deur dale gaan. Iewers moet hierdie ’n einde hê en ons Vader in die hemel alleen het geweet wanneer en wat die uiteinde sou wees. Soms het dit gevoel asof iemand ons op ’n stowwerige grondpad opskop en ons slaan die een bollemakiesie na die ander en alles om ons is asvaal. Nes ons voete wil neersit, is die skop weer daar en hou die bo en onder net aan en aan. Soms het dit gevoel asof ek in die diepsee is met deinings, nie noodwendig hoog nie, maar die beweging van die water skommel my lyf heen en weer, op en af. Ander kere sou ek myself sien hang teen ’n afgrond en daar is een bos waaraan ek vir lewe en dood vashou met my oë styf, styf toegeknyp terwyl ek myself net aanhoudend herinner om asem te haal. ’n Bos met baie wortels en stewig geanker teen die kranse. En so klou ek met tande opmekaar gekners terwyl ’n fel storm woed.

    Ek onthou die bang. Hoeveel keer ek by Hom gehuil het: Here, ek is bang! Ek is BANG! Hoeveel keer ek in my binneste geskree het: Here! Gee ons asseblief net hoop! Ek sou dit oor en oor herhaal. Ek onthou die asseblief in die piepklein toilethokkie van die hospitaal op ’n toe toiletsitplek - Asseblief Here. Assebliéf. Assebliéf. Asseblíéf. Nie vir ’n spesifieke iets nie, maar bloot omdat ek niks meer woorde oor het nie. My siel roep net. Soms hardop in trane langs die wasgoeddraad. Soms in my hart terwyl ek my man se onbekende 73 kg lyf vashou. Getrou aan wie Hy is, ons hemelse Pa, ons Vader, het Hy ons nooit in die steek gelaat nie, maar ons hande geneem in Syne en langs ons gestap, opgetel waar Hy moes, weggelei na veiligheid waar die pad te rof was en saggies weer neergesit totdat ons daardeur en daaroor was en weer op ons eie bene kon staan, maar nooit ooit weg van ons nie.

    Ek vertel graag ons unieke storie net soos wat elkeen daarbuite hul unieke storie het. Ons s’n niks minder of meer as die ander s’n, belangriker of minder belangrik nie. Jacques het sy eie storie binne ons storie. Ek was die vrou langsaan en eintlik is daar dinge wat ek gaan vertel wat ek nie wil hê hy moet hoor nie. En ek weet verseker hy sal dieselfde kan sê. Daar is eenvoudig dinge wat mens mekaar wil spaar binne ’n krisis, want dit verdiep net elkeen se traumatiese ervaring en my rol was om dit vir hom ligter en meer draagbaar te probeer maak. Ek wil wel eerlik wees met die deel van my ervaring, want ek weet nie wie ooit hierdie getuienis gaan lees, iets daarin herken en wie se las ligter sal raak, wie opnuut hoop sal kry vir hul eie situasie of net dat elke leser Hom sal eer vir wie Hy is vir ons in hierdie stukkende, tydelike, gebroke wêreld.

    Terug na Inhoudsopgawe

    ONS REIS BEGIN

    Begin 2019

    Sonder dat ek dit ooit besef het, was Vader maande besig om my gees voor te berei vir dit wat gaan gebeur. Van tyd tot tyd oor ongeveer ses maande sou ek hierdie diep, baie diep vredegevoel ervaar. Soveel so dat ek gedink het vir die eerste keer in my lewe beleef ek ’n gevoel in die kern van my wese. Ongekend en moeilik om te beskryf. Naaste wat ek daaraan kom is vol, salig, tevrede, vergenoegd, content, fulfilled, complete. Eers was dit subtiel. Ek het skynbaar reeds op my verjaarsdag, 7 Maart, vir my vriendin, Alida, gesê dat ek so volkome gelukkig in die lewe is dat Vader my maar kan kom haal. Ek onthou spesifiek dat ek een middag baie duidelik weer die gevoel ervaar het. Buite die venster kon ek die twee boere sien op die werf, besig om te kap en timmer. Ek het onmiddellik opgehou waarmee ek besig was, uitgekyk en gedink: Wat is dit? Hier is daardie gevoel weer.

    Jacques het later ingekom en ek het gevra: "Het jy al ooit in jou lewe ’n gevoel gehad van totale tevredenheid en geluk. Fulfillment?" Begin Mei kuier ons by vriende en deel ek dat ek so dankbaar is vir my en Jacques se wonderlike, geseënde lewe saam, dat ek totale vrede het en as iets nou sou gebeur, ons dit sou aanvaar. Twee weke later gaan ons Kgalagadi Oorgrenspark toe. Oppad terug deur die dorre, droë, reguit vlaktes tussen Keimoes en Calvinia, is ek, soos dikwels, besig om hardop te filosofeer. Ons het so ’n wonderlike, geseënde dertig jaar gehad. Daar is mense wat deur baie diep waters in soveel jare gaan. Ons pad was net vol geluk en gelyk. As daar nou iets moet gebeur, het ons seun gelukkig al drie jaar se ondervinding opgedoen en moet ons dit wat dan vir ons uitgedeel word, met grasie hanteer.

    22 Julie 2019

    Vier weke lank probeer ons uitvind wat die rede is vir Jacques se simptome. Dokter stuur ons na die volgende dokter wat bevestig dat dit Fase 4 galpypiekanker is. Die diagnose klink nie goed nie. Hoe op hierdie aarde is dit moontlik? Here, my Jacques?! Ons twee se Jacques?! Hierdie lewensmaat van my wat ek op drie-en-twintigjarige ouderdom van U afgebid het op ’n Saterdagaand in Birkenheadstraat in die Strand, op die mat? Here, ek soek nie ’n ou nie. Ek wil asseblief ’n lewensmaat hê.

    Twee weke daarna, op 31 Julie 1988, ontmoet ek hom die Saterdagaand. Sondagoggend toe ek my oë oopmaak, is ek so verlief en kan beswaarlik voor my sien. Die week daarna kom kuier hy een aand en daardie naweek noem ek aan vriende dat ek my lewensmaat ontmoet het. Drie weke na die ontmoeting besluit ons wanneer ons verloof raak en op 1 Oktober, nege weke na ons ontmoeting, steek hy ’n blink klippie aan my vinger. Nog nie een milligram sout saam opgeëet nie, maar ek het geweet dat sou ons moes, ons ’n gedugte span sou wees. Die kere wat ek al ’n wens in my hart of hardop uitgespreek het, was dit vir ’n lang lewe waarin ek en Jacques saam sal oud word en praat ek dertig jaar lank met my Here daaroor. Vader, kom my sprokie nou tot ’n einde? Dit was dus dit? Innig, innig dankbaar vir soveel jaar se seën, maar totaal verslae. My linkerbrein wat sê dat die volgende dertig jaar waarin ek alleen dan hier gaan wees, genadiglik net so vinnig sal gaan soos wat die afgelope dertig jaar van getroude lewe verbygevlieg het. So getrou soos wat ons Vader in hierdie krisistyd van ons lewe beleef en ons hele lewe lank nog beleef het, weet ek sal Hy nie ophou om te wees wie Hy is vir my en die kinders in die tyd wat kom nie, want Sy karakter kan nie verander nie.

    Dokter stel dit pertinent dat daar een van twee chirurge is waarheen ons kan gaan. Die een by Groote Schuur of Vergelegen Mediclinic in Somerset-Wes, Stefan Hofmeyr en dit gaan afhang of hulle bereid sal wees om die operasie uit te voer. Nodeloos om te sê, met die aanhoor van sulke nuus was ons platgeslaan. Rou ons oor die moontlikheid dat ons van mekaar sal moet afskeid neem en dat ons kinders dalk nie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1