Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Dagboek van ’n dork 1: Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe
Dagboek van ’n dork 1: Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe
Dagboek van ’n dork 1: Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe
Ebook293 pages3 hours

Dagboek van ’n dork 1: Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Nikki Maxwell is nie gewild nie. Eintlik is sy die teenoorgestelde van gewild. Sy’s ’n absolute dork! Nikki hoop sy kan vriende by die nuwe skool maak en dat haar dorkdae nou verby is. Maar die lewe is nie so eenvoudig nie. Wanneer sy vir die kunskompetisie inskryf, vind sy uit dat die mislikste meisie in die skool ook nou haar grootste kompetisie is! Wat staan 'n dork te doen? Lees Nikki se dagboek vol drama en dinge en maak reg om die dork in jou ’n drukkie te gee.
LanguageAfrikaans
Release dateJun 1, 2020
ISBN9780798181556
Dagboek van ’n dork 1: Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe

Related to Dagboek van ’n dork 1

Titles in the series (2)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Dagboek van ’n dork 1

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Dagboek van ’n dork 1 - Kobus Geldenhuys

    Aan my dogter, Nikki, wat so hard probeer het om

    die beste miertjie in die mierkolonie te wees, terwyl

    sy die hele tyd ’n pragtige skoenlapper was.

    SATERDAG, 31 AUGUSTUS

    Soms wonder ek of my ma BREINDOOD is. Dan is daar dae wanneer ek weet sy is.

    Soos vandag.

    Die drama het vanoggend begin toe ek ewe onskuldig vra of sy vir my een van daai cool nuwe selfone kan koop, die soort wat amper alles doen. Ek dink dis iets waarsonder ’n mens nie kan lewe nie. Net suurstof is belangriker.

    As almal my met my ongelooflike nuwe selfoon sien, sal ek dadelik een van die BBG-meisies (briljant, beeldskoon, gewild) in my nuwe privaat skool wees.

    Laas jaar het dit gevoel asof ek die ENIGSTE een in my HELE skool is wat nie een het nie . Toe koop ek ’n ouer, tweedehandse SUPERgoedkoop foon aanlyn.

    Dit was groter as wat ek wou hê, maar dit was op uitverkoping en regtig ’n winskopie.

    Ek het die foon in my sluitkas gesit en gesê ek het SAPPIGE skindernuus oor my NUWE foon en dat almal my nou daarop kan bel.

    Toe tel ek die minute voor my sosiale lewe begin vlamvat.

    Ek was baie gestres toe twee van die BBG-meisies in my rigting aangestap kom terwyl hulle op hulle selfone praat …

    Hulle het reguit op my sluitkas afgepyl en SUPER-vriendelik geglimlag.

    Toe nooi hulle my om pouse by hulle te kom sit en ek sê toe kastig ongeërg: Eh … oukei. Maar aan my binnekant het ek op en af gespring en my jippiejei-dans gedoen.

    Maar toe loop dinge skeef.

    Hulle’t gesê hulle het gehoor van die sappige skindernuus oor my splinternuwe iPhone en dat almal (die res van die BBG-groepie) BRAND om dit te sien.

    Ek was op die punt om te verduidelik dat ek gesê het Ek het SAPPIGE skindernuus oor my NUWE foon en NIE SAPPIGE nuus is oor my NUWE iPhone nie, maar ek het nie kans gekry nie, want my foon het ongelukkig begin lui.

    Baie hard.

    Ek het my bes gedoen om dit te ignoreer, maar die twee BBG-meisies het my aangegaap met kyke wat sê: Nou toe, gaan jy dit nie antwoord nie?!

    Ek wou dit natuurlik nie antwoord nie, want ek het geweet hulle gaan teleurgesteld wees wanneer hulle my foon sien.

    Toe staan ek net daar en hoop dat die ding moet ophou lui, maar dit het nie.

    En dit was nie lank nie, toe gaap almal in die gang my ook aan.

    Ek het uiteindelik ingegee en my sluitkas oopgepluk en die foon geantwoord. Net om daardie MISLIKE gelui te laat ophou …

    Ek sê toe maar: Eh … jammer. Verkeerde nommer.

    En toe ek omdraai, hardloop al twee die BBG-meisies by die gang af en skree: Vat dit weg! Vat dit weg! Ek dink dit het beteken hulle WIL NIE meer hê ek moet pouse by hulle sit nie, en ek het só VERNEDERD gevoel!

    Die belangrikste les wat ek laas jaar geleer het, was:

    As jy ’n JIGGIE foon het – of GLAD NIE een het nie – kan dit jou sosiale lewe heeltemal RUÏNEER. Miljoene kinders VERGEET gereeld hulle huiswerk, maar nie een van hulle wil DOOD gesien word sonder hulle selfoon nie.

    Dis hoekom ek so by my ma gekerm het om vir MY een te koop.

    Ek het geld probeer spaar om self een te koop, maar dis onmoontlik. Ek is ’n kunstenaar en ABSOLUUT VERSLAAF aan teken! As ek dit nie elke dag doen nie, raak ek KOEKOES!

    Ek gee al my sakgeld op sketsboeke, potlode, penne, kunsprojekte en sulke goed uit.

    Ek is so BANKROT; ek drink melkskommel op rekening by wegneemplekke!

    In elk geval, toe Ma van die winkels af terugkom met ’n spesiale terug-skool-toe-present vir my, was ek doodseker ek weet wat dit is.

    Sy het aanhoudend gebabbel oor hoe die nuwe privaat skool ’n stresvolle tyd van geweldige persoonlike groei gaan wees en hoe my beste oorlewingsmeganisme sal wees om my gedagtes en gevoelens met ander te deel.

    Ek was absoluut

    EKSTATIES,

    want met ’n

    NUWE

    SELFOON

    kan jy alles met almal deel!

    Of hoe?!

    Ek het soort van afgeskakel terwyl my ma aanhou babbel, want ek het GEDROOM van al die cool speletjies en musiek wat ek gaan aflaai.

    Dit gaan LIEFDE MET DIE EERSTE OOGOPSLAG wees! …

    EK EN MY NUWE SELFOON!!

    Maar nadat my ma UITEINDELIK klaar gepreek het, het sy baie breed geglimlag en vir my ’n drukkie gegee – en toe gee sy vir my ’n BOEK …

    Ek het dit oopgemaak en WOES deur die bladsye begin blaai, want ek was seker sy het my nuwe selfoon iewers daarin weggesteek.

    Ek was nie simpel om so te dink nie, want al die advertensies sê mos die nuutste foon is die HEEL dunste op die mark.

    Maar ek het vinnig besef dat my ma NIE vir my ’n selfoon gekoop het nie. My kastige present was net ’n simpel boek!

    Praat van ’n GEBROKE HART!

    Toe besef ek dat AL die bladsye van die boek LEEG is.

    Ek dog toe: AG. NEE. SY. HET NIE!

    My ma het vir my twee goed gegee: ’n DAGBOEK én die bewys dat ek reg is. Sy is REGTIG

    KLINIES

    BREINDOOD!!

    Niemand op aarde skryf meer in ’n dagboek oor hulle intieme gevoelens en diep, donker geheime nie!

    EN HOEKOM NIE?!

    Want as net een of twee mense ALLES van jou af weet, sal dit jou reputasie totaal RUÏNEER.

    Jy’s veronderstel om sulke sappige goed aanlyn te deel sodat MILJOENE mense dit kan lees!!!

    Net ’n ABSOLUTE DORK sal in ’n DAGBOEK skryf!! Dis die SIMPELSTE present wat ek nog ooit in my lewe gekry het!

    Ek was lus om kliphard te skree:

    Ma, ek wil nie ’n SIMPEL boek met 327 LEË bladsye hê nie!!

    Wat ek NODIG het om my gedagtes en gevoelens met my vriende te deel is ’n selfoon.

    Wag! Dommie. Ek vergeet aanhoudend. Ek het nie vriende nie. NOG NIE. Maar dit kan oornag verander, en ek moet voorbereid wees. Met ’n blink nuwe selfoon!

    Tot dan gaan ek NIE weer in hierdie dagboek skryf nie.

    NOOIT, OOIT

    WEER NIE!!

    MAANDAG, 2 SEPTEMBER

    Oukei. Ek weet ek het gesê ek gaan nooit weer in hierdie dagboek skryf nie. En ek het dit bedoel toe ek dit gesê het.

    Ek’s definitief nie die soort meisie wat met ’n dagboek en ’n boks sjokolade opkrul om simpel, soetsappige goed te skryf oor

    MY DROOMKÊREL,

    MY EERSTE SOEN,

    of my oorweldigende ANGS ná die SKOKKENDE ontdekking dat ek eintlik ’n beeldskone

    PRINSES

    is en nou in

    BILJOENE!!

    rondrol nie.

    DIS GLAD NIE

    HOE EK IS NIE!

    MY LEWE SUIG!! Ek het die hele dag soos ’n zombie met lip gloss in my nuwe skool rondgedwaal. Nie een mens het eens die moeite gedoen om hallo te sê nie.

    DIS EK!

    EK VOEL OMTRENT

    HEELTYD ONSIGBAAR!

    Hoe moet ek by dié snobistiese privaat skool inpas?! Hier is selfs ’n kiosk wat slushies en hamburgers verkoop!

    Ek wens my pa het NOOIT ’n kontrak vir pesbestryding by hierdie skool gekry nie.

    Hulle kan hulle jammerkrybeurs vat en vir iemand gee wat dit wil hê en dit nodig het. Ek WIL NIE hier wees nie!

    DINSDAG, 3 SEPTEMBER

    Dit was al ver verby middernag en ek was op die punt om uit te freak, want ek het nog steeds nie my huiswerk gedoen nie.

    Ek was regtig verbaas dat iemand so laat in die aand aan my deur klop, en het aanvaar dis my sesjarige sussie, Brianna.

    Omtrent ’n week gelede het een van haar voortande uitgeval en sy het dit in die agterplaas geplant om te kyk of dit gaan groei.

    Sy doen ALEWIG sulke FLIPPEN weird goed.

    My ma sê dis omdat sy nog klein is. Maar ek dink dis omdat sy die IK van ’n boks vetkryte het.

    Ek het ’n grap gemaak en vir Brianna gesê dat die tandefeetjie kinders van oor die hele wêreld se tande bymekaar maak en dit dan aan mekaar vasplak om valstande vir ou mense te maak.

    Ek het gesê sy’s in GROOT MOEILIKHEID by die tandefeetjie omdat sy haar tand in ’n gat iewers in die agterplaas begrawe het.

    Die snaaksste van alles is dat Brianna my SOWAAR geglo het.

    Sy het die helfte van Ma se blomtuin gaan opgrawe om haar tand terug te kry.

    Van toe af is Brianna paranoïes dat die tandefeetjie in die middel van die nag by haar kamer gaan insluip en AL haar tande gaan trek om valstande te maak.

    My poets het lelik skeefgeloop, want nou WEIER sy om in die aand badkamer toe te gaan voor ek nie eers gaan kyk het of die tandefeetjie dalk agter die stortgordyn of onder die handdoeke wegkruip nie.

    En as ek dit nie gou

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1