Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die plesierboom
Die plesierboom
Die plesierboom
Ebook220 pages3 hours

Die plesierboom

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Elke dag se ervarings in die lewe van ’n gewone huisvrou, dit is die boustof van hierdie essays. Maar soos die storiekoning van ouds die dinge wat hy aanraak in goud kon verander, so het Audrey Blignault die slag om uit die eenvoudige belewenisse van ’n huisvrou glansende avonture en kosbare kleinode van die gees op te tower. Hierdie slag het sy te danke nie alleen aan haar fyn oor en oog (’n oog met ’n stout vonkeling daarin!), haar deernis vir die ewenaaste, haar vermoë om dieper as die oppervlak en die onmiddellike te kyk, haar sin vir die komiese, haar breë leeservaring en haar vaardigheid met ’n woord nie, maar veral ook aan haar opregte lewensvreugde en die vaste geloof dat die lewe ’n rosekrans van blye dae is. Soos dit ’n mens plesier gee om te sien hoe ’n goeie vakman sy gereedskap netjies en sekuur maar met gemak hanteer, so gee dit ’n mens plesier om te sien met watter vaardigheid hierdie skryfster met woorde kan werk en die juiste woord op die regte plek kan gebruik. Daarby weet sy ook hoe om haar grondige kennis van die beroemde woorde van ander – uit die wêreld-letterkunde en die poësie van die Bybel – te laat aansluit en sonder pretensie daaruit aan te haal en toe te pas. Dit herinner my aan Salomo se “goue appels en silwerborde, so is ’n word op sy tyd gespreek”. Alba Bouwer
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 17, 2016
ISBN9780624078432
Die plesierboom
Author

Audrey Blignault

Audrey Blignault is in Bredasdorp gebore. Sy word tweetalig groot, maar gaan skool in Engels. Sy besluit om in Afrikaans te skryf nadat sy deur haar studie van die Afrikaanse letterkunde op die Universiteit van Stellenbosch met “die opwindende en verrykende vernuwing” van die Afrikaanse poësie in aanraking gekom het. Sy was die redakteur van Die Huisvrou, doen radiowerk vanaf 1946 met veral twee programme Wat kan ek lees? en Boeke vir ons kinders, en was ’n rubriekskrywer vir Sarie Marais vanaf 1950. In 1967 is sy betrokke in ’n ernstige motorongeluk en is vir ’n geruime tyd in ’n koma. Sy verloor haar eerste eggenoot, Andries Blignault, in dieselfde ongeluk. In 1970 trou sy met A J (Attie) de Villiers. Die egpaar het in Tuine, Kaapstad gewoon. Sy verwerf die Eugène Maraisprys in 1961 vir haar eerste twee boeke, die W.A. Hofmeyr-prys in 1965 vir Met ligter tred en ander prosa, die Italiaanse Adelaide Ristori-prys in 1980 vir haar waardevolle bydraes tot kultuur, en die Staatspresidentstoekenning in 1982 vir uitmuntende diens. Sy is die eerste vrou om tot die bestuur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies te word, in 1973, en word ’n erelid daarvan in 1994. Sy ontvang ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch in 1991. Sy is op 1 Oktober 2008 in ’n kliniek in Kaapstad op 92-jarige ouderdom oorlede.

Related to Die plesierboom

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die plesierboom

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die plesierboom - Audrey Blignault

    Audrey Blignault

    DIE PLESIERBOOM

    TAFELBERG

    Vir Kleinboet

    DIE PLESIERBOOM

    Mense maak altyd asof dit niks is om ’n boom aan die groei te kry nie. Ag, sê hulle, as jy hulle die boomplantkuns afvra, jy sit hom in die grond, jy gooi hom nat en hy groei.

    Nou, dit mag so woerts-woerts gaan met ander mense se bome, maar dit gaan nie so met myne nie.

    Ek plant ’n boom soos ek gesê word om hom te plant. Ek spuit hom nat en dra hom nat en hou hom nat en huil hom nat. Ek skoffel sy grond los en trap sy grond vas en gee sy grond mis en allerhande skille en ’n groot verskeidenheid van aanspoormiddels uit ’n groot verskeidenheid van sakke. Ek bind hom op met ’n sterk stuk sloop uit my linnekas of ’n rolletjie goeie band uit my naaldwerkblik of ’n tiklint wat ek dalk nog kon gebruik het. Ek gaan soggens na hom kyk en smiddae en saans voor die son sak weer. Ek bestee ure se kosbare gevoel en gedagte aan hom. Maar al wat groei, is hy.

    Hy verlep sommer die eerste dag soos ’n Westelike Provinsie-krieketspeler. Of hy verbleik bietjies-bietjies soos een wat berrie-berrie het. Of hy verskroei in die suidoos of iets vreet sy blare af of die kruidenierswa ry hom om of die oerie-oetang toor hom oornag weg. Of – wat nog die ergste is – hy staan sommer eeue lank bokbek op een plek en doen glad niks. Hy word niks groter of kleiner nie. Hy kwyn nie weg nie en dy ook nie uit nie. Hy verloor nie ’n blaar nie en kry ook nie ’n blom nie. Hy staan net soos ’n pop met semelarms, vir niemand tot aanspraak of plesier of verwondering nie. En dit maak my wanhopig oor al die arbeid wat ek met moeite verrig onder die son.

    Só voel ek as ek na die twee rooi perdestertbome op ons erf kyk. Hulle was al hier toe ons amper ses jaar gelede in die huis kom woon het. Twee sulke halfwasboompies met yl blare en drie rooi kwassies tussen hulle. Ek het hulle al persoonlik natgespuit dat my tong uithang. Hulle kry meer mis as wat ek kos kry. En ek het nog nooit gesien dat ’n wurm van hulle notisie neem nie. Maar grootword? Nie hulle nie. Hulle staan nou nog net so halfwas met dieselfde verestowwertjies van yl blare bo en dieselfde drie rooi kwassies tussen hulle.

    En nou gaan dit weer so met die twee seringboompies wat Ma laas vir ons uit haar paradys van ’n dorpstuin gegee het. Hulle blare was drie dae pap en val toe af. En tot op datum het hulle nog nie weer ’n blaar gekry nie. Hulle staan sommer so dikdood die dae om.

    En dis nou húlle wat by my die gedagte laat ontstaan het: ek wens, o ek wens ek kon ’n ander soort boom plant, heeltemal ’n ander soort boom as wat mense gewoonlik plant. Ek wens ek kon vir my ’n plesierboom plant, ’n boom wat spesiaal vir my sal blom as ek die dag hartseer of hondgemaak of hempie-raak-my-nie voel. Sou dit nie opwindend wees om so ’n boom te plant nie!

    Sê nou maar ’n sjokoladeboom, een wat al die lekkerste soorte sjokolade aan sy blink takke sal dra: groot bulteriges met dik, dik neute wat so kraak onder ’n mens se tande, vastige klein rondetjies tjokvol tongbrand gemmer, langwerpiges wat by die eerste byt bars van die roomvulsel en die koffievulsel en die amandelvulsel. En aan die heel boonste takke baie, sommer baie van daardie boepensbotteltjies vol kersielikeur.

    As ek dan op ’n dag voel dat al die goud in die stof uitgegooi is, stap ek in my tuin en daar, skielik, soos ’n handvol silwervere, sien ek my sjokoladeboom. Ek pluk wat ek wil hê, ek eet van dié met die neute, van dié met die gemmer, van dié met die room- en amandelvulsel, en heel laaste van dié met die kersielikeur, en dan het ek sommer weer moed om die goud uit die stof te sif, ja, en om selfs ’n snoertjie daarvan om my voordeur se knop te hang.

    Want dis die doel van ’n plesierboom: om ’n mens op jou as-en-doringdae iets te gee wat die lewe weer lekker maak.

    Kyk nou wat ’n plesier sal ’n boekeboom vir my wees – ’n sterk, stewige boom met breë takke waaraan al die boeke hang wat ek graag wil hê en nêrens kan kry nie: Boshoff se Afrikaanse volksliedjies en Dostojewski se dagboeke en Emerson se briewe en die gedigte van Emily Dickinson en die boek van Job met houtsneë geïllustreer.

    As ek dan op ’n dag dwalend raak van die ou honger na die paleistente tussen die see en die berg van die heilige Sieraad, staan daar meteens my boekeboom voor my, glansnuut, ryk belaai en vol van ’n heerlike belofte. Dan pluk ek met gretige hande my volksliedjies en my dagboeke en my briewe en my gedigte en ek leef weer buite tyd en plek met dinge te wonderlik vir my soos vir Job. By daardie plesierboom neem die lewe weer vir my nuwe vorme aan soos die klei onder ’n seël en ek kan weer sê: my hart versmaad geeneen van my dae nie.

    Maar ek wil nie vir my alleen ’n plesierboom plant nie. Ek is mos nie ál een wat wag op die geluid van die horingfluit nie. Elke mens het sy eie soort plesierboom nodig wat in sy uur van nood vir hom alleen blom. En dink net hoe lekker dit sou wees om vir iemand so ’n geskenk te gee: ’n plesierboom wat jy net vir hom bedink en geplant en grootgemaak het.

    Vir my man sou ek graag ’n sigaarboom plant wat die geurigste Hollandse sigare, klein en groot, sal dra sodat hy een kan pluk as hy saans moeg by die huis kom en behoefte het aan iets om hom op te flikker.

    Of dalk kan ek vir hom ’n koeksisterboompie plant, ’n outydse koeksisterboompie wat groot, nat koeksisters dra of anders ’n boom met rooi dasse of sagte, grys truie of broeke wat pas. Hy sou ook groot plesier hê van ’n galjoenboom, ’n syhempboom, ’n boom met skerp potlode en – op die oomblik – ’n baie hoë boom met ’n nuwe motor, een soos ’n jagluiperd, wit van buite en rooi van binne. As ek nou vir hom só ’n boom kan plant, sal hy mos elke dag op sy tone loop van verwagting. Hy sal nooit weet watter lekker verrassing hom by die huis inwag nie, en ek sal vir hom wonderliker word as wat ek ooit tevore was.

    Dit sou ’n onoortreflike hulpmiddel in die huwelik kon wees, so ’n plesierboom wat ’n vrou vir haar man plant en ’n man vir sy vrou. Dit sou soos niks anders nie verveling voorkom, spanning verslap en nietige wrywing uitstryk. Dit sou sonder twyfel die romantiek in die huwelik hou en verhoed dat die fantasie vroegtydig kwyn. Dit sou ’n baie beter smeemiddel wees as ’n strandhuis, ’n danskursus, aparte vakansies of ’n oorsese reis. Dit sou die geloof aan mekaar sterk en die liefde laat gedy tot in die dag van die ouderdom.

    Waarom sal ons dan nie ernstig dink aan die plesierbome wat ons vir mekaar kan optower nie?

    Marietjie, weet ek, sou hou van ’n rokboom, ’n uitsonderlike rokboom wat net één volmaakte rokbloeisel op ’n keer dra, heeltemal eksklusief, onberispelik van snit en natuurlik nêrens te nou nie. Die geskenk van so ’n boom sal haar darem baie lief maak vir haar ma en sal haar dalk ook weerhou van die gedagte dat haar ma in ouderwetse dinkpatrone vasgevang sit.

    Vir my skoonseun sou ek niks lekkerders kon bedink nie as ’n dragtige skroeweboom waaraan hy presies die soort skroef sal kry wat hy vir ’n dringende werkie en vir die behoud van sy gees nodig het. Ek glo nie daar kan ’n beter sekuriteit tussen skoonma en skoonseun wees as ’n skroeweboom wat nooit ’n verkeerde skroef voortbring nie.

    Vir Ma sou ek graag ’n pienk boom wil plant, ’n plesierboom waaraan daar om die beurt al die pienk goed sal hang wat haar hart so knaend begeer: een dag ’n pienk stool met pienk fraiings, een dag ’n driedubbele string pienk krale met oorkrabbe om daarby te pas; dan weer ’n pienk tafelkleed met pienk vlinders daarop of ’n pienk teeservies met kantfyn koppies en ’n teepot soos ’n pienk krismisroos. Só ’n boom sou Ma gelukkiger maak as ’n brandpolis of slaapmedisyne of ’n getekende portret van Winston Churchill, en as dit ’n geskenk is van my, sal sy ook nie weer vir my sê ek is vol houdings en ligsinnig oor die ernstige dinge van die lewe nie.

    Vir my suster Trix wil ek ’n skêrboom plant wat honderde skêre, almal lemskerp, roesvry en blinknuut sal dra. Kleinboet moet ’n plaasboom kry wat al die geure van ’n Reuensplaas oor hom sal sprei en wat as die wind die takke roer, al die plaasgeluide sal maak. Vir my neef Marquard gee ek ’n boom waaraan hy keer op keer die beste boeregrappe kan pluk en vir my tant Hettie ’n boom wat klein swart katjies soos akkers op die grond afskud.

    Dis die beste en die sekerste manier om die gesinslewe te red – ons plant plesierbome vir mekaar. ’n Mens kan mos nie van ’n familielid vervreem as hy jou hart deurgrond en jou diepste verlangens peil met ’n plesierboom wat hy vir jou plant nie. Jy gaan mos nie ’n grief koester teen ’n broer of ’n suster, ’n neef of ’n niggie wat vir jou van die ding wat jy die nodigste het voorsien nie. Oor ’n plesierboom kan ons mekaar dalk vergewe dat ons familie is.

    Ook vir my vriende wil ek plesierbome inlê in die hoop dat hulle op die regte tyd die regte vrugte sal dra: vir Alba ’n boom met ou Kaapse meubels en nog een met ouderwetse breekgoed, vir Elise ’n boom wat deurentyd opwindende verslae oor krieket en bergklim uitsaai, vir Berta ’n boom wat krom lê van speurverhale, vir Anna ’n boom vol rustige werkure. Só sou ek graag vir my vriende iets wil bedink wat hulle vrolik sal maak soos oor allerhande rykdom. En ek weet dat dit ’n sterk skakel tussen ons sal wees, want ’n plesierboom groei nie sonder aandag en inspanning nie.

    Met ’n plesierboom, soos met ’n sering of ’n perdestert, moet ’n mens baie moeite doen. Hy sal nie vanself opkom en sonder sorg aan die groei bly nie. ’n Plesierboom, vir ’n mens self of vir iemand anders, moet op die regte plek en in die regte grond geplant word. Hy moet op sy tyd water kry en die verryking wat die grond nodig het. En ’n mens moet ook maar oppas dat die boom nie skade kry nie, want hy is, net soos ander bome, blootgestel aan die wind wat hom verskroei en die wurm wat sy blare afvreet. Jy kan ook nie verwag dat hy buitenstyd moet blom nie.

    ’n Plesierboom ken sy tyd en blom wanneer hy moet. En die een vir wie hy dán vrugte dra, weet dat die koelte op sy pad vir ’n rukkie ’n beskutting is teen die skerp lig van die dag.

    DIS NOU MY STRAAT

    Dis nou my straat. Dis die straat waar ek begin het. ’n Mens het mos altyd ’n straat waar jy begin het, die straat waar jou eerste huis gestaan het, waar jy jou eerste mense leer ken het, waar jy vir die eerste keer geweet het: ek is ek en hier hoort ek.

    Dit is mý straat, hier waar die Kaapse pad in die dorp inloop en ’n straat word. Die straat loop dwarsdeur die dorp, hier van die hoogte af tot dáár onder waar ’n mens die blou kom van die sandduine kan sien lê. Daar is die see. Sommer naby. My straat loop nie dood nie – hy hou aan tot by die see.

    Toe ek hier gewoon het, was al die nuwe huise nog nie hier aan die bopunt van die dorp nie. Daardie groot huis met die boogstoep was die laaste huis aan dié kant van die dorp. Dit was die deftigste huis in ons straat met al die pragtige boë om die stoep. Die Bloms het daar gewoon. Kitta en Hanna was in dieselfde klas as ek en Trix. Hulle het sulke mooi Sondagrokke met afhangkrae en skoenlapperstrikke voor die bors gehad. En eenkeer het ek en Trix na Hanna se verjaardagpartytjie toe gekom en so gestry oor wie die present gaan gee dat ons die papier van die pakkie afgeskeur het en eers weer moes omdraai huis toe om nuwe papier te laat omsit. Toe kom ons eers op die rooijelliedraai by die partytjie aan toe al die reënboogkoekies al op was.

    Dit was my eerste wêreld, dié straat met sy dorpshuise en bome en heinings en tuine. Ek het almal geken wat hier gewoon het en almal het my geken.

    In hierdie huis bokant die skool het ons prinsipaal gewoon – mnr. Liebenberg. Die kinders het altyd gesê hy kan deur ’n mens se kop sien wat in jou gedagtes omgaan. Dit help nie om vir hom te lieg nie. Eenkeer moes hy vir Urban Swart ’n pak gee, en toe sê Urban vir hom: Meneer Liebenberg, as jy my nie slaan nie, gee ek vir jou hierdie tiekie wat ek in my sak het. En toe slaan mnr. Liebenberg hom nie.

    Ek was bang vir mnr. Liebenberg, nog baie banger as vir ds. Viljoen. Waarom weet ek nie, want hy was altyd goed en vriendelik. Dit was sommer maar so – ’n mens moes bang wees vir jou prinsipaal. En vir die dominee. En vir die dienders. Hulle moes kyk dat jy jou behoorlik gedra. Voor hulle moes jy in jou spoor trap. En tog het jy geweet dat hulle ook mense is.

    Ons het ’n kiekie gehad van mnr. Liebenberg se seuntjie, Wilhelm, waar hy tussen die hoenders op hulle erf sit in ’n hempie wat net so wit was soos die hoenders.

    Toe die seuntjie siek word en sterf, het Mammie ’n krans van sneeuklokkies gemaak wat ek na die Liebenbergs se huis gaan wegbring het. Mnr. Liebenberg het self die voordeur oopgemaak. Ek het geskrik toe ek hom sien, maar ek kon nie toe omdraai en weghardloop nie. Ek het die krans voor my uitgehou en in sy hande gegee, maar ek het niks gesê nie. Hy het gesê dis ’n pragtige krans en hy bedank ons baie daarvoor, maar hy het so sag en so snaaks gepraat dat ek begin huil het. Toe ek deur die voortuin hardloop, sien ek een van die wit hoenders waar hy in die paadjie skrop. Toe tel ek ’n kluit op en ek gooi hom dat hy spaander.

    Hier regoor die skool het oom Loutjie Neethling gewoon. Hy was kwaai en die skoolkinders het altyd gesê as hy ’n mens vang, stop hy jou in ’n goiingsak en hy hang jou aan ’n haak in sy buitekamer. Eenkeer het hy ’n voetbal wat die seuns oor sy draad geskop het fyn en flenters gesny en toe teruggegooi in die skoolkamp. Tog het hy eenkeer vir Kleinboet na die stal geroep, en hom ’n pragtige peitsie present gegee en gesê: Nou toe, Boetie, moet nou net nie daardie pienk perdjie van jou deurbring nie, hoor!

    Ja, dis die skool, hier op die hoogtetjie. Daar’s nou ’n nuwe skool op die heuwel aan die westekant van die dorp, maar ons het hier skoolgegaan. Dit was toe nog nie so toegebou nie. Daar het nog heide en kalkoentjies en bobbejaantjies agter die skool gegroei. In die lente kon ’n mens uit die klaskamers die veld ruik.

    Ons het nie toe ’n swembad en so ’n mooi sportveld

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1