Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Karoo-Kantate
Karoo-Kantate
Karoo-Kantate
Ebook194 pages2 hours

Karoo-Kantate

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die verhaal van Jeanne Labuschagne – of Jannie Lappies – wat vir ’n kort vakansie uit ’n kinderhuis in Kaapstad gehaal word deur Stien Terblanche, en geneem word na die klein dorpie waar Stien se oom, ’n wêreldbekende dirigent en komponis, woon. Jannie se lewe verander handomkeer wanneer die dirigent, Arnold Terblanche, haar pragtige sangtalent raaksien en besluit om ’n musiekstuk te skryf waarin sy die hoofrol sing. Die verhaal volg die voorbereiding vir die konsert, tesame met beide Jannie en Arnold se onderskeie emosionele wroeginge en spoke uit die verlede.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 2, 2013
ISBN9780624062714
Karoo-Kantate
Author

Marié Heese

Marié Heese het bekendheid verwerf met haar roman Die uurwerk kantel in 1976. Jare later verskyn drie Engelse romans, The Double Crown, The Colour of Power, en die opvolg, A Triple-headed Serpent. Vuurklip, die eerste roman in Afrikaans oor die prehistoriese tydperk ter plaatse, verskyn in 2013. Marié woon saam met haar man in Stilbaai.

Related to Karoo-Kantate

Related ebooks

Related articles

Reviews for Karoo-Kantate

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Karoo-Kantate - Marié Heese

    Karoo-Kantate

    Marié Heese

    Tafelberg

    Hierdie storie

    word met liefde opgedra aan

    my kleinkinders,

    Neil en Jean du Toit.

    Vooraf

    Sy wou nie baklei nie. Sy’t op haar tande gebyt en weggekyk en probeer om haar doof te hou. Maar dié oggend was die gekoggel net een keer te veel.

    K-k-k-k-k, g-g-g-g-g, maak die flippen swartkopmeisiekind haar na. Oe-eee-oe, oe-eee-oe. Aap-p-p aap-p-p aap, aap, aap.

    Die groepie kinders lag uitbundig en hop gebukkend om haar rond met bakarms en sleephande soos ape.

    K-k-k-k-k, g-g-g-g-g, oe-eee-oe, hou die voorste hans­­wors aan met koggel. Sy roggel in haar keel asof sy ’n aanval kry. Dan skree sy: Aap! Jy’s ’n aap! Mense maak nie sulke geluide nie!

    Meteens kan sy nie meer stilsit onder hierdie getart nie. Sy lanseer haarself van die trappie waarop sy gesit het en bestorm die swartkop, hard genoeg dat dié agteroor val dat sy hik. Nou’s hulle aanmekaar. Dis klappe en vuishoue en pluk en ruk en skop en trap. Die res van die groepie vorm ’n jillende kring. Stof slaan op van die speelgrond se dorre gruis.

    Vat haar, vat haar, gee haar gas!

    Dit word gou duidelik: nie almal is aan die swartkop se kant nie, noudat dit oorlog is. Nie almal sal spyt wees as sy ’n slag goed gesmeer word nie.

    Hulle rol ’n paar keer om. So woedend is sy dat sy die oorhand kry en wydsbeen op die swartkop se maag sit met albei hande in dié se woeste dik boskaas geklem. ’n Wilde vuishou tref haar in die oog, maar sy skud net haar kop en gebruik haar greep op die hare om haar treiteraar se kop hard teen die grond te stamp.

    Sy skree: Ek oefen! Stamp! Ek oefen, en jy sal my nie keer nie! Stamp, stamp! Ek oefen, want ek’t geblo ek sal, en ek sal nie ophou nie! Dis ar-ti-ku-LA-sie! Stamp op die LA! OEfeninge! Stamp op die OE!

    Dit voel vir haar asof al die hartseer en al die swaarkry en al die kwaadgeit van die afgelope tyd hier voor haar in een mens kom sit het, en asof sy dit alles voor haar kan vermorsel en wegklap. Jy soek my al lankal, grom sy en pluk weer aan die swart hare. Jy soek my, en jy’t my gekry!

    Watchit, julle! Watchit!

    Die toeskouers het ’n naderende onderwyser gewaar. Gemaak doodluiters verdwyn hulle een-een in verskillende rigtings tussen die ander kinders op die speelgrond.

    Die onderwyser aan diens gee met opset genoeg tyd vir die skuldiges om hulle uit die voete te maak. Soek nie nou, aan die einde van die kwartaal, onnodige drama nie. Buitendien is een van die bakleiers Coach se groot hoop op die 100 m-meisies onder veertien by volgende kwartaal se WP Uitnodigingspele. Nee wat, liewer maak soos die drie ape: Sien, hoor en spreek geen kwaad nie.

    Die twee bakleiers steier vinnig orent. Hulle het meteens ’n gedeelde doel: om nie uitgevang en gestraf te word nie. Een skarrel kleedkamers toe. Die ander een sluip om die hoek.

    Natuurlik het niemand iets gesien nie.

    Hoofstuk 1

    JANNIE LAPPIES KOM SAAM

    Aanvanklik wou Stien nie regtig ’n kind gehad het nie. Dit het begin met Marcia, Stien se maatskaplike werker-vriendin wat dien op die beheerraad van ’n kinderhuis in Goodwood. Dié het al tevore probeer om Stien te oorreed om ’n kind uit te neem vir ’n paar dae.

    Net vir ’n naweek, of ’n kort vakansie, het sy gesê. Man, vat net een van die kinders wat altyd in die koshuis agterbly. Die meeste het darem pleegouers, of eie ouers wat hulle kom haal.

    Eie ouers? Ek dog dis ’n weeshuis?

    Lank nie al die kinders in die kinderhuis is regtig wesies nie, maar daar is redes hoekom hulle in die kinderhuis beland. Jy wil nie weet nie.

    As ek een sou vat, moet dit ’n regtige wesie wees. Want sê nou ’n mens raak geheg aan die kind en dan moet jy hom teruggee vir die eie ouer?

    Wat dikwels nie verdien om ’n kind te hê nie. Jy’t dalk ’n punt. Maar dink daaroor.

    Toe, op ’n dag na aan die einde van die derde kwartaal, bel Stien vir Marcia. Hoor hier, ek’t toe tog besluit om ’n weeskind vir die vakansie te neem.

    O ja? En hoekom nou skielik?

    Man, ek gaan Van Stadensdorp toe vir die Septembervakansie. Gaan vir my afgetrede oom kuier. Ek dink ek moet ’n kind saamvat.

    Is dit nou daai famous oom van jou? Die dirigent?

    Dis hy, ja. Dis nou al vier jaar dat hy daar sit en al hoe eensamer en knorriger word. Ek wil hom ’n bietjie uit sy dop kry. Miskien kan ’n kind help dat hy minstens ’n slag of wat uit die huis uit kom.

    En dié plan van jou het seker niks daarmee te doen dat jy uiteindelik met Riaan uitgemaak het nie?

    Miskien het dit iets daarmee te doen, ja, erken Stien. Daar is seker ’n element van … nou ja, selfsug daarby.

    Hoe jy dit drie jaar lank met daai wandelende ego uitgehou het, kon ek nooit verstaan nie.

    Wel, dis nou verby. En ek gaan nie op ’n hoop sit en huil nie. Ek wil op iets anders fokus. Wat moet ek doen om ’n kind te kan uitneem?

    Daar’s allerhande voorskrifte en voorwaardes, maar ek sal jou help.

    So gebeur dit dat Stien haar aanmeld by die matrone van die kinderhuis om die kind volgens afspraak te kom haal. Noudat sy werklik voor die matrone sit, voel sy skielik so ’n beklemming dat sy skaars kan asemhaal. Eintlik is die tehuis mooi versorg, die mure songeel, die gordyne gestreep met helder kleure. Daar staan oral blompotte vol vars blomme, elkeen op ’n gehekelde lappie. Maar die plek ruik na gebakte vis en Jik. Daar is iets onheilspellends aan dié kombinasie. Dis asof daar ten spyte van alle pogings om die plek te verfraai hartseer en swaarkry soos ou vlekke aan die mure kleef.

    Die matrone, saaklik in ’n blou broekpak oor ’n wit rolnektrui, met ’n silwer borsspeld op die baadjie, is ’n mollige vrou met be­sonder mooi bruin oë.

    Nou ja, juffrou Terblanche, sê sy, al die admin is afgehandel, sien ek. Vorms, getuigskrifte, onderhoud … alles lyk in orde.

    Baie rompslomp, sê Stien met ’n sug.

    U weet, party kinderhuise sal net ’n getroude paar, gewoonlik met eie kinders, as vakansie-ouers aanvaar. Maar ons bestuur voel dat die sogenaamde kerngesin nie meer tipies is van ons samelewing nie, en ons aanvaar ander moontlikhede, soos uself en u oom.

    Ek is bly.

    U oom, Arnold Terblanche, is die beroemde dirigent, nie waar nie?

    Ja, hy is. Maar afgetree.

    "Hy was ’n klompie jare gelede hier in Kaapstad ’n gasdirigent met die operaseisoen. Ek sing in ’n koor, ons was by die uitvoering van La Traviata. Ai, dit was te pragtig!"

    Bly om dit te hoor.

    Het u ’n spesifieke kind in gedagte?

    Ek soek ’n werklike weeskind, sê Stien. Wat regtig geen ouers het nie.

    Ja, wel, ons het deesdae ongelukkig baie meer sulkes as tevore. Vigs-wesies, u weet? Die vrou se donker oë is hartseer. Ouderdom? Of maak dit nie saak nie?

    Nie primêre skool nie. Ek is gewoond aan hoërskoolkinders. Ek gee musiek. Is hier dalk … dalk ’n kind wat lief is vir klassieke musiek?

    Dit was seker nou laf van my, dink Stien. Waar sou hierdie kinders aan ’n liefde vir klassieke musiek kom?

    Maar Matrone het klaarblyklik reeds aan so iemand gedink. Sy tel die telefoon op en druk ’n nommer. Alta? Is Jannie daar? Ja, asseblief. Ja, nou.

    Jannie? vra Stien.

    Jannie Lappies, sê Matrone. Graad 8, soos u gevra het. Dertien. Jannie is baie musikaal. Speel besonder goed klavier.

    Gou is daar ’n klop aan die deur.

    Binne! roep Matrone.

    Stien sien ’n maer figuur verskyn. Groen T-hemp en vaal kortbroek, koperrooi hare poenskop geskeer, een oog blou geslaan en toegeswel. Die heldergroen gesonde oog vorm ’n ongewone kontras met die blas vel.

    Mirrag, Matrone, sê die kind heel opgewek. Maar dan verander die blye uitdrukking in ’n kwalik onderdrukte sug.

    Stien wonder of sy intimiderend voorkom. Seker darem nie.

    Matrone frons. Jannie! My kind, kyk hoe lyk jy!

    Ek wou nie gebaklei het nie, Matrone, maar ganog is ganog, het my ouma altyd gesê.

    Ai tog, wat moet juffrou Terblanche dink!

    Dit is so dat Stien vir ’n oomblik huiwer. Wat gaan sy aanvang met ’n rowwejek wat baklei? Maar daar is iets aan die kind se houding wat haar onmiddellik aanstaan. En sy is bly om te sien dis ’n seun, gedagtig aan Nols se hartseer geskiedenis. Sy wou nog noem dat sy ’n seunskind verkies, maar dis nie nou meer ter sake nie. Sy hou van hierdie een.

    Jannie, ek soek iemand wat vir die vakansie wil kom kuier, sê sy. Op ’n klein dorpie. Ek hoor jy’s lief vir musiek. Ek en my oom ook. Ons gaan by hom bly. Wil jy kom?

    ’n Oomblik se huiwering. Dan: As ek kom, kan ek klavier speel?

    Ja, belowe Stien impulsief. Sy weet dit sal nag wees as die kind Nols gaan irriteer met ’n onbeholpe getjommel.

    Nou lyk die seun weer opgewonde. Matrone, kan ek gaan, asseblief? Ek sal soet wees, rêrigwaar!

    Nou toe, gaan pak, beveel Matrone. Onthou ’n sweetpak, dis seker saans koelerig.

    Ja, beaam Stien. Hierdie tyd van die jaar is dit bedags warm in die Karoo, maar snags kan dit koud word.

    Trek sommer vir jou warmer aan, Jannie.

    Ja, Matrone.

    Die kind is vinnig uit by die deur.

    Kan u my iets vertel van Jannie se agtergrond? vra Stien.

    Die pa was ’n Fransman, ene Henri Labuschagne, ’n raadgewende ingenieur wat op kontrak in Suid-Afrika kom werk het. Die ma was ’n Kaapse vrou, ’n onderwyseres.

    Albei oorlede?

    Die pa het teruggegaan Frankryk toe voor Jannie gebore is. Hy’t belowe om weer te kom, maar het skoonveld verdwyn. Die ma het Jannie alleen grootgemaak. Daar was eers ’n ouma wat hand bygesit het, maar dié is later oorlede. Die ma het intussen ’n kêrel of twee gehad en het vigs opgedoen, waaraan sy dood is. Wel, dit was longontsteking, maar u weet mos …

    Hoe lank is die kind al hier?

    Jannie het ’n jaar gelede na ons toe gekom. Sy het maar swaar aangepas, foei tog. Sulke kinders wat nooit ’n pa gehad het nie, droom dikwels nog dat hy hulle eendag sal kom haal. Ek vermoed dat …

    Stien frons. Ekskuus? Het u gesê ‘sy’? Is dit dan nie ’n seun nie?

    O nee, dis ’n meisiekind. Haar naam is Jeanne Labuschagne, maar almal noem haar Jannie Lappies. Al die kinderhuiskinders kry mos maar byname.

    Maar die hare?

    Waterpokkies, verduidelik Matrone. Toe kry sy van die sere op haar kopvel en die dokter het gesê ons moet dit kort skeer. Sy’s nou gesond, maar sy lyk nog ’n bietjie vreemd. En sy’s klein vir haar ouderdom. Maar u het nie gesê dat u ’n seun soek nie?

    Nee, ek het nie, erken Stien. Toe ek die kind sien, toe neem ek aan …

    Is dit ’n probleem? Ek kan haar laat roep en u kan die uitnodiging terugtrek, dan kan ons na iemand anders kyk.

    Stien weet sy kan nie nou die arme kind teleurstel nie. Haar oom gaan omgekrap wees, maar hy moet maar daaroor kom.

    Nee, toemaar, dit sal in orde wees, besluit sy vinnig. En die musiek, waar kom die musiek vandaan?

    Die kind het klaarblyklik ’n heel uitsonderlike talent. Musieklesse gekry in Woodstock waar hulle gewoon het. Klavier en sang. Maar dis ook nou op ’n end … U weet mos ’n gewone skool gee nie meer musiek nie.

    Ja, ek gee klas by ’n privaat skool.

    Maar Jannie oefen nougeset, elke iedere dag, so op haar eie. Stemoefeninge, toonlere … vir ure. Ons het gelukkig ’n klavier hier in die eetsaal. Nou wel nie ’n grand nie, maar dit word darem gestem. Wat die kind daar kan uittower, sal juffrou nie glo nie.

    Regtig? sê Stien. Maar sy gee nie behoorlik aandag nie. Sy voel baie onseker oor die ontvangs wat vir hulle op Van Stadensdorp wag. Maar sy het klaar besluit: Jannie Lappies kom saam.

    Kort voor lank vat hulle die pad verby Paardeneiland en uit op die N1. Langs haar in die rooi Golf sit Jannie, toksak agter­in gelaai, plus nog iets styf opgerol en vasgebind, moontlik ’n warm baadjie.

    Hoe ver ry ons? vra Jannie.

    Dis so drie en ’n half uur se ry, antwoord Stien. Die dorp lê teen die voetheuwels van die Klein Swartberge. Dis ’n groen oase, want dit kry fonteinwater uit die berg uit – die omgewing is maar bitter dor. Ons behoort so teen negeuur daar aan te kom.

    Jannie knik.

    Vertel my bietjie van jouself, vra Stien.

    Niks rêrig om te vertel nie.

    Neem jy aan sport deel? probeer Stien weer. Ek sien jy’t ’n mooi nuwe toksak, en ’n sweetpak ook.

    Atletiek.

    Veld of baan?

    Honderd meter. En aflos.

    Van kleins af?

    Ja … ekke kon nog altyd vinnig hol. Maar by my eerste skool het ons nie ’n coach gehad nie. Toe moes ek na die anner skool toe gaan om naby die kinderhuis te wees. Ons coach is een van die kinders se pa en hy’s mal oor atletiek.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1