Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Mieke 3: Weerlig oor Mtwana
Mieke 3: Weerlig oor Mtwana
Mieke 3: Weerlig oor Mtwana
Ebook141 pages2 hours

Mieke 3: Weerlig oor Mtwana

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dis al Maart. Mieke het nog nie met Fen gepraat vandat hy koshuis toe is nie. Hy bel nie, kom nie naweke huis toe nie. Op Mtwana hang daar 'n skadu van onsekerheid. Die Phiri-bende is oorkant die rivier aktief. Hulle teiken hoofsaaklik olifante.  Mieke sit haar voet neer en bel vir Fen by die koshuis.  'n Boelie gryp sy foon en 'n bakleiery breek uit. In die gestoei breek Fen sy spanmaat, Jock, se neus. Fen én Jock word geskors. Hulle straf: twee weke se harde arbeid op Mtwana. 
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 11, 2022
ISBN9780624092582
Mieke 3: Weerlig oor Mtwana
Author

Christien Neser

Christien Neser is ’n spraakterapeut van Bryanston, Johannesburg. Sy het haar eerste boek, Kondensmelk (Lapa) in 2009 gepubliseer. Dit was die begin van die gewilde Elle-reeks, waarvan boek 8 in 2017 verskyn het. Nes Nicci, die hoofkarakter in haar boek Pienk is nie vir sissies nie (Tafelberg, 2017) is Christien ook tuis op 'n bergfiets.

Read more from Christien Neser

Related to Mieke 3

Related ebooks

Related articles

Reviews for Mieke 3

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Mieke 3 - Christien Neser

    9780624089810_FC

    Tafelberg

    Vir Katleho Molakeng,

    met liefde.

    . 1 .

    'n Stertjie van agter en 'n stertjie van voor

    Op Mtwana het dit koel geword, die skaduwees lank en donker. Rivier se kant toe en bo in die klipkoppe skree die bobbejane al, raserig besig om ’n slaapplek vir die nag uit te baklei. Sonder om op haar horlosie te kyk, weet Mieke presies hoe laat dit is. Hierdie tyd van die jaar begin slaaptyd vir die bobbejane net ná halfses. En teen die tyd dat die son die heuwels doer anderkant die rivier raak, is daar net een laaste blaf van ’n ou grote, voordat selfs die kleinste skreebek stil raak. Sy wag … En daar is dit nou.

    Bôôôggom!

    Ou Lelik met sy stomp stert en sy yslike pienk agterstewe het gepraat. Radio Bobbejaan word meteens afgeskakel. Tjoepstil.

    Mieke kyk op as ’n ry wilde-eende fluitend oorvlieg rivier toe. Die lug is besig om soos pienk spookasem te verkleur, sag en dromerig. Haar oupa sê skemertyd op Mtwana verlang mens sommer na mense wat jy nie eens ken nie.

    Miskien, Oupa Bosjan, miskien. Maar nie ék nie. Ek wéét na wie ek verlang. Die fluisterwoorde slaan seer in haar keel vas.

    Dis al die tweede week van Maart en nog steeds g’n teken van Fen nie. Deksels! Sy moet in haar kamer kom. Vanaand gaan sy nie slaap voordat sy met hom gepraat het nie, al moet sy hom middernag wakker bel. Fen se skool sluit volgende week, maar gister het Ouma Maggi met ’n begrafnisstem vir haar gesê dat hy nie huis toe kom nie. Atletiek, glo. Nasionale byeenkoms, die SA’s. As sy net met Fen kan práát!

    Maar hier staan sy en hou ’n steriele skinkbord vol spuite en medisyne vir haar pa vas. Waar draai hy tog? Nou net weer teruggehardloop kliniek toe vir iets wat hy vergeet het. Tussen die heksparre deur kyk sy na die kolos van ’n dier wat vandag hulle nuutste pasiënt geword het. Herkules. Foeitog. As ’n olifant se skouers kan hang, dan hang syne tot op sy pote. Hy probeer nie eens die vlieë wat hom toepak, wegjaag nie. Sy potsierlike stertjie hang stil, sy flenterore pap.

    Hei, Herkules, roep sy en fluit sag. Hei, jongie! Geen reaksie nie.

    Toe hy vroegoggend verwilderd in die boma vrygelaat is, het haar pa hom dadelik ’n skoot met die pylgeweer gegee. Die dier het op sy knieë neergesak en toe stadig eenkant toe gekantel. En dadelik was daar ’n span helpers by. Hulle het ’n klam sak oor die olifant se oë gesit, toe begin bloed trek, seerplekke ondersoek. Van sy stertjie van voor tot by sy stertjie van agter het haar pa en sy assistente die olifant behoorlik deurgekyk. Eers ’n uur later was dit tyd vir die laaste pyltjie, die een vol wakkerword-medisyne. Teen die tyd dat Herkules weer oreklappend regop gesteier het, was elke helper veilig langs Mieke op die ringmuur. Niemand op Mtwana waag dit naby ’n slaapdronk olifant nie.

    Mieke frons as sy die knars van stewels oor gruisklippies hoor nader kom. Dis nie haar pa se swaar voetstappe nie. Dis iemand anders.

    Oupa? Sy hoor ’n bekende laggie en kyk om.

    Ja, dis hy: Bosjan, die bossiedokter van Mtwana. Verrinneweerde leer-kortbroek, slangstewels, kakiehemp, riempies om sy polse, ’n lang silwer vlegsel oor sy skouer. Sy blou oë blink in die sonverbrande kreukels van sy wange. Met sy onnutsige glimlag lyk hy reg vir kattekwaad van enige aard. Regtig, dink Mieke vir die soveelste keer, haar oupa is ’n seuntjie wat nooit grootgeword het nie.

    My gunsteling-kleindogter! roep hy al van ver af.

    Jou enigste kleindogter, knor Mieke.

    En hoe gaan dit hier? Hy klouter die hek uit om beter te kan sien. Ai-jai-jai. Dit lyk nie goed nie. Die linkervoorpoot is dan die ene littekens. En kyk die kors seerplekke op sy rug. Tja. Hy bly ’n paar minute lank tongklikkend op die hek sit. Dan spring hy af en land so ligvoets soos ’n kat langs Mieke. Sy oë is skielik vol skadu’s. Die gevaarlikste dier op ons planeet het hom beetgehad. Hy bly vraend staan. En dit is?

    Die mens, sê sy beslis.

    Net so, sê Jos Maas agter hulle. "Homo sapiens. Vieslike spesie. Maar ek is bly Pa is hier. Dié dier is getraumatiseer. Ek kan iets doen aan sy wonde en die parasiete in sy lyf, maar sy kop? Ek dink ons gaan die olifantfluisteraar nodig kry."

    Oupa Bosjan ruk asof hy in ’n pendoring getrap het. Nee, maggies, Jos. Praat jy nou van daai gladdebek-jafel op Hoedspruit? Ben Watsenaam?

    Jos Maas knik. Die einste. Ben Grotske. Ek het ’n onderhoud met hom op televisie gesien. Klink of hy weet wat hy doen. Ons kan hom gerus laat kom.

    Oupa skud sy kop. Nie as ek dit kan verhelp nie. Ek en Mieke gaan eers self probeer. Of wat sê jy? Hy gee haar poniestert ’n pluk. As Bosjan Maas nie hierdie olifant regkry nie, sal daardie Blink Stefaans met sy bek vol spierwit tande dit ook nie regkry nie. En wat meer is, hy het nie ’n pragtige voshaarnooi wat hom gaan assisteer nie.

    Ag, Oupa. Haar oupa dink sy is mooi, maar dis net omdat hy van rooi hare hou. Seuns is oor die algemeen bang vir rooikoppe. Dit het sy in die laerskool uitgevind. Miss Bossypants, het die seuns haar genoem. Donkerkoppe en blondekoppe is veiliger, het die meeste manne besluit. Almal behalwe … Deksels, Fen!

    Niks se ‘Ag, Oupa’ nie. Kyk hoe dans die laatmiddagson in jou hare. Dis die ene vuurvlamme – pure rooikat. Hy glimlag waarderend, asof hy na ’n kunswerk kyk. Toe, wat sê jy. Is jy in? Gaan ons die ou grote weer skougehalte kry?

    Ons kan seker probeer. Sy glimlag halfhartig. Haar gedagtes is by ’n koshuis tweehonderd-en-iets kilometer weg. Dis ’n kort vlug met die helikopter, so twee ure met die bakkie. Maar ’n ewigheid ver as iemand nie wil huis toe kom nie.

    Sal julle twee regkom met Herkules? Ek wil gou … Haar sin rafel uit. As sy Fen se naam noem, gaan haar pa vir haar ’n preek afsteek. Gee hom spasie, Mieke. Ha! Hy’t nou al sewe weke lank al die spasie waarvoor ’n seun in ’n koshuis kan vra. Wil hy wraggies nóg twee weke hê? Die vakansie ook wegbly? Uhm, die katte dink seker ek het hulle vergeet. En Tim soek sy bottel, kies sy vinnig ’n ander opsie.

    Daai meerkat raak nou te groot vir ’n bottel. Jy sal hom moet speen, sê Jos Maas en vee oor sy rooibruin baard. Net vyf minute, dan kan jy jou span gaan kosgee. Ek wil die olifant nog net een spuit gee. Ek dink hy sal my in die boma toelaat. Nie nodig vir ’n pyltjie nie. Die arme dier. Laat ek kyk of ons alles het.

    Mieke knik woordeloos en hou die skinkbord na hom uit. Met die ander hand vryf sy oor haar meerkatjie se snoet, krap hom agter die ore tot hy piep van lekkerkry. Hy klouter tot op haar skouer en gaan staan in sy nuwe gunstelingposisie om die wêreld te bespied: kiertsregop teen haar kop, pootjies in haar hare vasgeklem.

    Tim is haar enigste geselskap wanneer sy voor haar rekenaar sit en skoolgaan. En noudat die aanlyn klasse vir die vakansie gesluit het, is dit net Tim wat saam met haar op die plaas ronddrentel. Nie één van laas jaar se graadsewes is meer in die omtrek nie. Selfs Smiley is weg, saam met sy pa na sy ouma op die dorp. So dis Tim wat op die tafel by haar sit terwyl sy eet, saam met haar in die stort klouter en saans onder die duvet by haar inkruip.

    Dis basies Fen se skuld dat ek vir Tim so bederf, mompel sy sag. As hy net sy foon wou antwoord, ’n SMS wou stuur, ’n naweek wou kom kuier! Maar dis asof hy van ons vergeet het. Nee, korreksie: Dis van mý wat hy vergeet het.

    Het jy iets gesê? vra haar pa fronsend. Is jy haastig?

    Nee. Net hardop gedink. Haar wange brand, maar die skemer is haar genadig.

    Nou waar is die goed? knor haar pa en staar na die skinkbord. Ek het dit dan nou net gaan haal.

    Hierdie een? Die antibiotika? Mieke lig die botteltjie met heldergeel vloeistof op. As dit ’n slang was …

    Dankie, ek kyk vandag in my oogvelle vas. Jos Maas trek ’n spuit vol van die medisyne op.

    Mmmm, as ek nie van beter geweet het nie, sou ek sê dis muisneste. Mieke giggel. Is dit al die modelle en filmsterre wat deesdae kom fotosessies doen op Mtwana?

    Haar pa brom iets onverstaanbaars.

    Haar oupa grinnik stout. Jos, hierdie kind se mond vra vir blouseep. Behalwe as dit waar is. Smokkel die vroumense met jou kop, jong? Jy moet net laat weet as ek kan kom help. Hy kraai van die lag. Jou pa is nog hups genoeg om jou ’n ding of twee te leer, ou seun.

    Jos Maas maak of hy hulle nie hoor nie. Hou vas, ek wil net hierdie hek se slot oopkry. As ek netnou instap, wil ek nie met ’n spuit of ’n hek sukkel nie.

    Mieke kyk verby haar pa na die olifant. Hoeveel duisend kilometer is dit van Kinshasa tot hier by ons?

    "Oor die drieduisend. Jy sal sien ou Herkie is effens kleiner as ons olifante, sy tande reguit. Ek reken hy is ’n woudolifant. Dis die Loxodonta cyclotis, ’n bitter bedreigde nefie van ons savanna-olifant. Hy is seker as ’n kleintjie gevang in die reënwoude van die Kongo. Haar pa sug. Wat beteken dat ons hom nie hier kan vrylaat nie. En om hom terug te stuur …"

    Wel, dan hou ons hom vir eers net hier. Hy kan Mtwana se eie olifant word.

    Mtwana is nie ’n dieretuin nie, Mieke, sê haar pa kwaai. Jy weet wat my beleid is.

    Verduidelik dit vir Herkules wat ’n week lank in ’n aaklige trok gery het tot hier, snip Mieke. En as Pa daarmee klaar is, verduidelik dit vir Sylvie.

    Sylvie. Ja, wie anders as haar tannie Sylvie sal ten duurste ’n siek olifant koop en per pad laat aanstuur Mtwana toe? Dit het alles begin toe iemand ’n video van ’n mishandelde olifant na Sylvie se televisie-ateljee in Amsterdam gestuur het. Die dier was aan een poot vasgeketting, maer en duidelik siek, iewers in ’n park buite Kinshasa. En soos Sylvie maak as sy nuus oor Afrika kry, het sy dit op haar program gewys. Chaos! Die publiek was onmiddellik in oproer. Die olifant moes

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1