Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Afgode
Afgode
Afgode
Ebook172 pages2 hours

Afgode

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Daar is wel ’n groep welmenende volwassenes wat hom probeer help en bystaan waar hulle kan. Ongelukkig is daar egter ook die kansvatters wat hom probeer uitbuit en hulle self ten koste van ’n weeskind verryk! Hierdie is ’n verhaal van vasbyt en deurdruk, ongeag allerhande beperkings en terugslae van die lewe. Tussendeur alles is daar natuurlik ook nog die wêreld se vele afgode, wat as struikelblokke ’n arm weeskind gereeld treiter. Die simboliek van die buiteblad is van ’n jong man wat ’n nuwe daeraad in sy lewe tegemoet stap.

LanguageAfrikaans
Release dateApr 6, 2012
ISBN9781476329772
Afgode
Author

Piet Schoombie

Die skrywer het op ’n plaas opgegroei en ’n groot deel van sy werklewe in die korporatiewe sake wêreld van Johannesburg, Suid-Afrika deurgebring. Benewens twee boeke in die gedrukte media, het hy vier e-boeke by Smashwords gepubliseer. Laasgenoemde boeke behels 'n avontuurverhaal, twee bundels met kortverhale en 'n jeugroman. Die skrywer is ook ’n ywerige skilder en gholfspeler en kan by piets@com2000.co.za gekontak word.

Read more from Piet Schoombie

Related to Afgode

Related ebooks

Related articles

Reviews for Afgode

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Afgode - Piet Schoombie

    ’n Afgod, wat presies is dit en hoe lyk so ’n afgod nogal? Waar kry mens hulle en hoe word afgode gedien? Wat beteken dien in elk geval? Is ’n afgod gevaarlik en kan hulle jou dalk byt? Dit is sommige van die vrae waarmee Stokkie elke Sondagoggend in die kerk geworstel het. Die dominee het op sulke oggende die tien gebooie uit die Bybel voorgelees. Sommer al die eerste gebod sê dat jy nie afgode mag dien nie.

    Stokkie was ’n maer en tenger seuntjie en vandaar die beskrywende bynaam waaronder almal hom geken het. Maar hy was ook ’n weeskind en het nie ouers gehad by wie hy vir antwoorde kon gaan aanklop nie. Hy het in ’n kinderhuis gebly en was te bang om sulke ernstige goeters met die huismoeder te bespreek. Toe het hy maar vir die groter kinders oor die afgod-storie gevra.

    Hulle was nie baie behulpsaam nie. Was ook nie eintlik baie gepla met ’n graadeentjie se dom vrae nie. Dis beelde het hulle gesê. Sommer beelde gemaak uit klip, hout en sulke goed. Maar beelde van wat, wou Stokkie weet? Beelde van enige ding, soos mense, kalwers en slange, het hulle gesê. Hulle kon nie te spesifiek wees nie, want hulle het ook maar net geweet wat hulle uit die Bybelklasse kon onthou.

    Dit het net weer baie ander vrae by Stokkie wakkergemaak. Hoekom wou mense ’n dooie stuk klip of hout as ’n afgod hê? Die gedagte aan ’n slang-beeld was egter nogal grieselrig, al was dit van klip gemaak. Sê nou maar so ’n klip beeld word skielik lewendig? En as dit byvoorbeeld ’n slang was, dan kon ’n afgod ’n mens wel byt! Die jare het vir Stokkie aangestap en soos hy van die een graad na die ander op skool gevorder het, was hy al minder gepla met die afgode van die tien gebooie. Dit was simpel dooie goed wat mens geen kwaad kon aandoen nie.

    Maar tog het daar gereeld maar weer ander afgode oor sy pad gekom. So moes hy soms hoor dat hy meer aandag aan sy skoolwerk moes gee en nie van tennis, rugby en fietsry ’n afgod moes maak nie. Ook dinge soos rekenaarspeletjies en televisie sou dan kwansuis afgode wees wat sy lewenswaardes ondermyn en al sy vrye tyd in beslag neem. Die konkrete afgodsbeelde van klip of hout kon hy nog soort van verstaan, maar sport, rekenaars en televisie! Dit was skoon laf om vir sulke goed bang te wees. Hulle het nie eers arms, bene of oë gehad nie. Verder was dit goeters wat mens in elke huis gekry het. Dan is al die mense mos afgodsdienaars, ook die dominee, onderwysers en die huismoeder wat hom daarteen gewaarsku het!?

    Dit was gedurende sy eerste jaar in die hoërskool dat Stokkie vir Vuil Fanie van anderkant die spoorlyn ontmoet het. Hy was weliswaar net een standard voor Stokkie, maar in lewenswysheid was hy met baie jare Stokkie se meerdere. Vuil Fanie was verder ’n uitblinker in rugby, swem en tennis en ook die baas bakleier van die skool. Hy kon selfs matriekseuns opdons as hulle hom sou probeer rondstoot of afknou. Dit was juis met die ontgroening van die nuwe standard sessies, wat Vuil Fanie besluit het dat die groot bullebakke onnodig met die maer Stokkie gemors het. Volgens hom was dit die rykmanskinders wat hulle meerderwaardigheid teenoor ’n weeshuiskind, soos Stokkie, wou afdwing.

    Vuil Fanie het deur die skool se bostelegraaf aan die boelies laat weet om nie verder vir Stokkie so ’n harde tyd met die ontgroening te gee nie. Hulle het dit afgelag en met minagting na die japsnoet van die onderdorp verwys. In die volgende paar dae het hulle egter tot hulle spyt uitgevind waar Vuil Fanie aan sy bynaam gekom het. Verskillende seuns het allerhande onverklaarbare teenspoed ondervind. Die een se fietsbande was afgeblaas toe dit net vir ’n wyle buite om ’n hoek van die skoolsaal gelaat was.

    ’n Ander het met ’n bloedneus uit ’n losskrum gesteier tydens ’n rugby oefening. Niemand het geweet waar die verdwaalde vuis vandaan gekom het nie. Nog ’n ander seun het amper aan die diep kant van die swembad verdrink tydens ’n swemgala toe hy in ’n baan langs dié van Vuil Fanie geswem het. Die voorloper van die bullebakke het maar te goed geweet wat besig was om te gebeur. Hy het gevolglik besluit om self in te gryp en vir Vuil Fanie ná skool buite die straathek gekonfronteer. Hy het nog gedink hy is besig om sy prooi voor die bors te gryp en rond te pluk, toe lê hyself op sy rug in die stofstraat en wonder wat hom so onverwags in die maag en onder die kennebak getref het!

    Stokkie is begryplik nie verder geboelie nie en hy het nuwe begrip oor afgode gekry. Vir die eerste keer het hy verstaan dat sulke gode ook mense kon wees. Mense van vlees en bloed en nie noodwendig van klip of metaal nie. Gewone mense soos Vuil Fanie wat hom oor die verdruktes en vertraptes in die lewe ontferm het. Fanie het hom in die maande wat gevolg het baie met rugby, atletiek, gimnastiek en swem gehelp. Die gevolg was dat Stokkie in een van die skool se uithaler atlete en veelsydige sportmanne ontpop het. Hy het in lengte gerek maar het steeds skraal van postuur gebly. Hy was egter nie meer die tenger en broos Stokkie nie, maar seningrig en taai. Dit was dus logies dat sy bynaam met verloop van tyd so ongemerk na Stokka verander het, want ’n stokkie was hy beslis nie meer nie.

    In standard agt het Stokka ’n verdere les oor afgode geleer. Hy het naamlik met ’n skok uitgevind dat selfs afgode feilbaar was. Vuil Fanie het aan die begin van sy standard nege jaar nie meer skool toe gekom nie, want hy moes gaan werk om sy sieklike ouers te onderhou! Stokka was dwalende en rigtingloos. Hy het min belang by sy skoolwerk of sport gehad en beide het daaronder gely. Die skoolhoof en die huismoeder moes hom ernstig aanspreek oor sy slapgatgeit, soos hulle dit genoem het. Weer het hulle dit voor ’n afgod se deur gelê. Dit was Vuil Fanie se skuld en hy moes hom nie so aan afgod bewondering oorgee nie.

    Dit was tydens hierdie wroeginge dat Stokka van Wilmien se bestaan bewus geword het. Sy was ’n standard agter hom gewees en was die dogter van ’n bekende wynboer van die distrik, algemeen bekend as Wynand Wingerd. Sy was blond, slank en mooi, ’n goeie atleet en ook nog slim daarby. ’n Totale pakket wat oral aandag getrek het en by al die onderwysers gewild was. Die seuns het met leep oë en lam bene in haar nabyheid rondgedraai met die hoop dat sy hulle sou raaksien.

    Stokka se eerste kennismaking met haar was tydens ’n swemoefening langs die swembad. Hy was op pad na die kleedkamers om sy swembroek aan te trek, toe hy tromp op in haar vasgeloop het. Die meisies was al klaar geswem en Wilmien was in haar swemklere op pad om te gaan verklee. Hy het verleë weggestaan en ’n verskoning gemompel. Haar wegstap het hom egter met vertraagde aksie soos ’n hou teen die kop getref! Die slank en skraps geklede figuur met soepel bewegings, soos van ’n luiperd, was ’n skouspel wat enige skoolseun weer en weer sou laat kyk. So al terugkykend het Stokka die swembad se rand misgetrap en met sy skoene en skoolklere in die water beland.

    Toe hy vervaard bokant die watervlak uitkom was hy net betyds om te sien hoe sy met ’n skaterlag oor sy dilemma om die hoek verdwyn. So is dan ’n nuwe afgod in Stokka se lewe gebore. Wonderbaarlik het Vuil Fanie in die vergetelheid vervaag. Skielik het hy weer nuwe belangstelling by sy skoolwerk en veral by sy sport gekry. Op dié wyse kon hy Wilmien se aandag trek en dalk ook haar bewondering verdien. Waar Vuil Fanie vir hom sekere dinge gedoen het, was die skoen nou aan die ander voet. Hy sou enigiets vir dié droom godin in sy lewe doen. Die begrip om ’n afgod te dien het toe vir die eerste keer vir hom volle betekenis gekry.

    Helaas, hoewel hierdie afgod van onbeskryflike skoonheid was en hom nie sou byt nie, kon hy vir Wilmien net bewonder maar nie dien nie. Hulle wêrelde het nooit bymekaar uitgekom nie. Hoewel hulle in dieselfde skool was, was sy ’n standard agter hom. Sy was in die koshuis en hy in die weeshuis. Sy het ryk en belangrike ouers gehad en hy geen ouers nie. Haar pa, Wynand Wingerd, was voorsitter van die skool se beheerraad en lid van die weeshuis se bestuurskomitee. Slegs die vooraanstaande sakemanne en vermoënde boere se seuns is goedkeurend in Wilmien se geselskap toegelaat.

    Verder het haar gesin gereeld op oorsese vakansies gegaan, terwyl Stokka die meeste vakansies in die weeshuis moes deurbring en bedags klante se waentjies by die supermark vir sakgeld gestoot het. Selfs op sosiale gebied het hy nie ’n kat se kans gehad om haar moontlik by plekke soos ’n konsert, ’n braai of ’n dans raak te loop nie. Sy karige sakgeldjie kon nie eers droom om vir sulke luukshede en spesiale geleenthede te betaal nie. Al wat dus vir hom oor was, was om hom te verknies oor sy nuutste maar onbereikbare afgod, of eintlik afgodin.

    Die onderwyser wat Stokka in rugby afgerig het, meneer Sportie, was ook ’n ywerige gholfspeler. So het dit gekom dat die meneer hom soms oor naweke na die gholfbaan saamgeneem het om sy gholfstokke vir hom te dra. Sodoende kon hy ekstra sakgeld verdien. Stokka was vinnig van begrip en het spoedig die terminologie van die spel aangeleer. Die legio reëls en allerhande moets en moenies het hy ook sommer gou onder die knie gekry. Meneer Sportie was nie bietjie beïndruk met sy gholfjoggie nie en het hom ook begin touwys maak in die tegnieke van die spel. Binne twee maande het Stokka reeds ’n gholfswaai ontwikkel wat menige eerste liga speler hom sou beny.

    Die meneer was in ekstase oor die vordering van sy leerling en het ’n ou stel gholfstokke uit sy motorhuis gegrawe en aan Stokka geskenk, sodat hy voluit kon oefen en sy spel verder ontwikkel. Hy het met sulke rasseskrede gevorder dat meneer Sportie op Saterdagoggende sy speelgeld vir hom betaal het en hy dan as lid van die vierbal kon saamspeel. In sulke kompeterende omstandighede het Stokka behoorlik gedy en ontpop as ’n gholf sensasie, waarvan die klublede noodwendig kennis moes neem.

    Hy en die meneer het spoedig in ’n gedugte paar ontwikkel wat gereeld die privaat weddenskappe teen ander gholf pare gewen het. Uit daardie gelde het Stokka genoeg verdien om sy speelfooie aan meneer Sportie terug te betaal. Die onderwyser kon nie ophou glimlag nie en Stokka het in die proses sommer nog twee afgode bygekry, meneer Sportie en die spel gholf. Hy was absoluut uitgelate oor alles wat besig was om met hom te gebeur. Die gholfgogga het so ernstig gebyt dat hy homself moes keer om nie die gholfstokke ook klaskamer en kerk toe saam te dra nie.

    Sy skoolwerk het egter onder al die opwinding en afgodaanbidding begin ly. Hy is deur die prinsipaal ingeroep en ernstig vermaan oor dat hy sy akademiese verpligtinge so skandelik verwaarloos het. Weer moes Stokka hoor dat hy die afgode in sy lewe moet afsweer, anders stuur hy op ’n ramp af. Die feit dat meneer Sportie een van die afgode was, het nie sy saak by die prinsipaal bevorder nie. Om te verhoed dat hy ook by die weeshuis probleme ondervind, het hy gedurende die week skelm weggeglip om sy gholfhoue op die sportterrein te gaan oefen. Sy belangstelling in rugby en swem het ook totaal verdamp en hy het gereeld beserings versin om deelname daaraan vry te spring.

    Aan die begin van standard nege het meneer Sportie gereël dat hy aan ’n paar streektoernooie vir juniors deelneem. Twee plaaslike sakemanne, die broers Sarel en Stefan, van die supermark het bygedra tot sy inskrywingsgeld en toerusting. Hoewel Stokka baie opgewonde oor die wonderlike geleenthede was, het hy vir die eerste keer in sy jong lewe die druk van verantwoordelikheid ondervind. Hy was skielik bang dat hy die meneer en sy twee borge sou teleurstel as hy dalk in die toernooie misluk. Hy het tot op daardie stadium nog maar net sosiale gholf gespeel. Die spanning van toernooi gholf was vir hom vreemd en het sy keel van benoudheid laat toe trek.

    Die eerste toernooi het hy baie bewerig begin en in die proses onnodige foute gemaak. Gaandeweg het dit egter beter begin gaan. Eers in die tweede ronde het hy sy voete behoorlik gevind en met meer doelgerigtheid gespeel. Dit het nogtans maar broekskeur gegaan om ’n vyfde plek te behaal. Die tweede toernooi, ’n maand later, het Stokka met baie meer selfvertroue aangepak en redelik gemaklik ’n tweede plek behaal. Sy borge en meneer Sportie was in ekstase en het hulle invloed gebruik dat hy as ’n volle lid van die dorp se gholfklub toegelaat word. Dit was die eerste keer in die klub se geskiedenis wat so ’n eer ’n skoolseun te beurt geval het. As lid het hy toe ook gekwalifiseer om deur die klub se beroepspeler, oom Magiel, afgerig te word.

    Meneer Sportie het verder beplan dat hy teen die einde van daardie jaar aan die landswye kampioenskappe vir juniors sou deelneem. Dit was egter geprogrammeer om kort na die jaareind eksamen plaas te vind en dit kon gevolglik ’n negatiewe invloed op Stokka se studies hê. Die prinsipaal en die huismoeder het ingegryp en geweier dat hy vir die kampioenskappe ingeskryf word. Daar was naamlik ’n reël dat as hy enige van sy hoërskool eksamens sou druip, hy die weeshuis moes verlaat! Hy is ernstig gewaarsku dat hy nie moes toelaat dat die gholf-afgod veroorsaak dat hy sonder ’n heenkome op straat beland nie!

    Wat ’n reuse teleurstelling vir die arme Stokka. Die lewe het vir die soveelste keer ’n versperring tussen hom en een van sy afgode geplaas. Hoe was dit

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1