Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so?
Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so?
Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so?
Ebook269 pages4 hours

Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so?

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

Anelia Heese hervertel die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen. In Diensplig praat van dié mans, baie vir die eerste keer, openhartig oor hul ervaringe. 

Hulle praat hier eerlik oor onder meer die eerste kontak, die eerste keer toe iemand ’n makker verloor het, hoe sommige “terrie-ore” versamel het, oor patrollies in die townships, en die interne stryd wat dikwels agterna gevolg het.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateAug 4, 2023
ISBN9780624093992
Diensplig: Hoekom stotter ons pa's so?
Author

Anelia Heese

Anelia Heese is ’n maatskaplike entrepreneur en digitale innovasiekonsultant. Haar podsendingprojek, diensplig.org, is ’n poging om Suid-Afrikaanse mans wat verplig was om militêre diens te doen, beter te verstaan. Sy skryf graag liefdesbriewe vir haar enigste ware tuiste, Suid-Afrika en beplan elke jaar om terug te keer sodat sy weer kan boer.

Related to Diensplig

Related ebooks

Related articles

Reviews for Diensplig

Rating: 3 out of 5 stars
3/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Diensplig - Anelia Heese

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Diensplig

    Hoekom stotter ons pa’s so?

    Anelia Heese

    TAFELBERG

    Vir my Gryskopvader

    Woordelys

    Casspir

    ’n Suid-Afrikaans vervaardigde mynbestande voertuig wat 12 troepe kan dra.

    Casevac

    Die afvoer van gewondes na die naaste mediese geriewe, gewoonlik per helikopter.

    Fapla

    Forças Armadas Populares de Libertação de Angola (Populêre magte vir die bevryding van Angola), die Angolese weermag.

    Frelimo

    Frente de Libertação de Moçambique (Front vir die Bevryding van Mosambiek).

    FNLA

    Frente Nacional de Libertação de Angola (Nasionale Front vir die Bevryding van Angola), wat in die burgeroorlog teen die MPLA geveg het, aanvanklik met die VSA en Zaïre se steun.

    G-5 en G-6

    155 mm-kanon wat ’n 47 kg-bom 40 km ver kan skiet.

    Kontak

    Vuurgeveg met die vyand.

    Medic

    Mediese ordonnans.

    MK

    uMkhonto weSizwe (die ANC se militêre vleuel).

    MiG

    Die MiG-21 en MiG-23 is Russiese vegvliegtuie toegerus met onder meer lug-tot-grondwapens soos vuurpyle en 500 kg-bomme.

    MPLA

    Movimento Popular de Libertação de Angola (Volksbeweging vir die bevryding van Angola). Het die bewind in Angola op 11 November 1975 oorgeneem. Gesteun deur Kuba en die Sowjetunie.

    Olifant

    SAW se gevegstenk, bewapen met ’n 105 mm-kanon en 7,62 mm-masjiengewere.

    Ops

    Kort vir ’n militêre operasie, bv. Operasie Protea.

    Ops medic

    Mediese ordonnans wat saam met ’n vegspan beweeg.

    PAC

    Pan Africanist Congress.

    PLAN

    People’s Liberation Army of Namibia, Swapo se militêre vleuel.

    Puma

    ’n Frans-vervaardigde helikopter wat 16 troepe kan dra. Dit was die voorganger vir die plaaslik vervaardigde Oryx-helikopter.

    Ratel

    Gepantserde infanterie-gevegsvoertuig met ses wiele. Dit het ’n bemanning van drie en dra nege infanteriesoldate. Dit was die eerste van die moderne krygstuig wat in Suid-Afrika vir die weermag ontwikkel en vervaardig is.

    Rat pack

    Kospakkies wat aan soldate in die veld uitgereik word. Dit bevat droë rantsoene vir een dag, onder meer blikkieskos, graankos, klinkers (dog biscuits), koffie, tee, kondensmelk, koeldrankpoeier en energiestafies.

    Renamo

    Resistência Nacional Moçambicana (Nasionale weerstandsbeweging van Mosambiek).

    Samil

    Die SA Weermag se reeks swaardiensvragmotors in verskeie groottes: Samil 50, Samil 100, ens.

    SAI

    Suid-Afrikaanse Infanterie.

    SAKP

    Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

    Swapo

    South West Africa People’s Organisation. Die vernaamste vryheidsbeweging in die destydse Suidwes-Afrika. Swapo het in 1990 aan die bewind gekom toe Namibië onafhanklik geword het.

    Unita

    União Nacional para a Independência Total de Angola (Nasionale Unie vir Algehele Onafhanklikheid vir Angola), wat in die burgeroorlog teen die MPLA geveg het met die VSA (aanvanklik) en Suid-Afrika se steun.

    Waarheid-en-versoeningskommissie

    Die doel van die WVK was om menseregteskendings wat deur ondersteuners en teenstanders van apartheid gepleeg is, te ondersoek en – waar toepaslik – amnestie toe te staan.

    Zanla

    Zimbabwe African National Liberation Army, militêre vleuel van die weerstandsbeweging Zimbabwe African National Union (Zanu).

    Zipra

    Zimbabwe People’s Revolutionary Army, militêre vleuel van die weerstandsbeweging Zimbabwe African People’s Union (Zapu).

    Voorwoord

    Ek was bang vir hierdie diepwater-boek, maar kon nie ophou toe ek eers begin lees het nie. Ek is aangegryp deur iemand so oud soos my dogter wat waag om oor generasie- en ander grense ongejaagd, pynlik nuuskierig te wees oor juis hierdie ongemaklike deel van ons sogenaamde verlede. Ek is geïnspireer deur haar vermoë om woorde te help vind vir veral diensplig-pa’s se soeke na sin, as deel van haar eie reis om eerlik in haar vel en volk en familie tuis te kom.

    Ek sluk kort-kort, saam met haar, trane weg soos sy een omie ná die ander se menslike oorlogservaringe laat lewendig word. Ek voel sleg dat ek uitstel vir my diensplig gekry het, maar tog ook opnuut dankbaar dat ek hierdie rede vir dekades se stottering vermy het. Aanvanklik kies ek om eers te studeer uit vrees dat ’n rugbesering my sou verhinder om ’n behoorlike soldaat soos my broers en vriende te wees. Later word verder studeer ’n verskoning vir politieke ontnugtering.

    Maar ek kan nie my hande in diensplig-onskuld was nie. Jare se vredeswerk met oorlogsveterane in veral Noord-Ierland bevestig vir my dat deelname aan gemilitariseerde doodmaak nie beperk is tot diegene wat gewere leer dra het en soms snellers getrek het nie. Ek verteenwoordig steeds die gedeelde verantwoordelikheid van veral die wit Afrikaner-Christelike gemeenskap in wie se naam diensplig verrig is. Ek het ’n verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrikaners en Suider-Afrikaners wat aan die ontvangkant van onder andere wit dienspligtiges se optrede gestaan het. Maar ook ’n verantwoordelikheid teenoor daardie derduisende dienspligtiges: om waagmoedige ruimtes te skep om na veral die seer dele van diensplig te luister, om saam te leer rou en berou. Hierdie boek bewys dat storievertelling die weg tot dieper versoening kan baan – tussen dienspligtiges, hul families en die wyer gemeenskap wat hulle gedien het. Ter wille van diep, tussengenerasie-genesing. En oorgrens-bemagtiging. In Anelia se vars voetspore.

    – Wilhelm Verwoerd

    Inleiding

    REGSPRAAK

    by die dood van Steve Biko

    Mite van uitverkorenheid

    verhef ons bo die later leer

    van naasteskap maar demonstreer

    met raakgeplante vuis die feit

    dat skending van ’n medemens

    intiem aan selfontering grens.

    – Elisabeth Eybers, Regspraak, Uit en Tuis, Bestand

    Die Latynse oorsprong van die woord veteraan beteken oud. Hierdie oud verwys nie na natuurlike ouderdom wat oor jare strek nie, maar die veroudering wat veroorsaak word deur te veel sien of te veel leef.

    Ek voel oud voor my tyd, sug ek, soos ek myself teen die trapreling ophys. Die eeue oue houttreetjies kraak onder my ongeduldige voete, die voordeur van my woonstel nog vier eindelose stelle trappe ver. Halfpad by die oorloop staan ek stil, bidvloek dat die druk in my kop moet afneem. Die dik steke wat my skedel bymekaar hou, dreig om soos ’n goedkoop sykous te leer.

    Ek haal uiteindelik die sleutel uit my sak, kreun met my skouerblad die voordeur oop. Ek sug weer, dié keer van verligting. Ek is tuis. Dit is Meimaand, die lente bloei besonder mooi in die onbesoedelde Europese lugruimte van 2020. Ná drie jaar van gestremd wees, is dit weer tyd om die lewe met volle ywer met my gewasvrye brein aan te pak. Oor ’n week word my steke uitgehaal, en dan kan ek onverpoos verder werk soek.

    My plan om weer voltyds as fasiliteitsbestuurder terug te keer, word egter deur die Covid-19-pandemie gekortwiek. Inperkings op inperkings volg. Kantoorwerkers word genoop om tuis te bly, werkgeleenthede droog op. Ons word pligsgetroue kluisenaars in kokonne, ons vermaak onsself met suurdeeg en video-oproepe.

    ’n Paar dae later staar ek na my ouma se boodskap op ’n koue selfoonskerm: Ek kon nie eers my maat groet nie. Ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep. Ek kon nie daar wees nie.

    Soos 900 000 ander Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, het ek lankal vrede gemaak met die geleenthede wat ek verpas omdat ek myself elders gevestig het: my broerskind se geboorte; my ma se sestigste verjaarsdag, haar tweede jaar in remissie; die gebruiklike Sondagmiddagete; ’n dierbare vriend se troue; Kersfeesvierings; blommetyd in Namakwaland.

    My oupa se begrafnis was egter iets waarvoor ek graag sou wou teruggekeer het. Maar grendeltyd het ons van afskeid en bystand beroof. Ek het geweet ’n nuwerwetse Zoom-begrafnis sou die pynlike afstand net verskerp en my tegnologies onbeholpe ouers meer verbouereerd laat.

    Nietemin skep digitale media ’n legio moontlikhede om met mekaar te kommunikeer. Ek het huldeblyke via WhatsApp-stemboodskappe versamel en die klankopnames in ’n afgeronde diens verwerk. Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal – elkeen in ons afsonderlike sitkamers – deur na die oudiodiens te luister. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan.

    ’n Virtuele gedenkdiens is nie ’n plaasvervanger vir die fisieke nabyheid van ons geliefdes nie. Met die oudiodiens kon ons egter in ’n spreekwoordelike kring sit, waar elke deelnemer met waardigheid kon kommunikeer – dié wat mompel, dié wie se hande van Parkinsons bewe, dié wat halfpad deur hul huldeblyk begin huil, dié wat uitbundig kon lag oor ’n vrolike herinnering. Die formaat was besonders omdat mense se voorkoms nie hul boodskap oorskadu nie.

    Ek het besluit om hierdie oplossing met ander te deel en stig kort daarna Herklink, ’n platform waar ek gedenkdiensbegeleiding vir ander aanbied. Families kon stemboodskappe oor hul afgestorwene geliefde versamel en dit vir my stuur. Die stemboodskappe word in ’n oudiogedenkdiens verwerk: ’n begrafnis in klank wat jy saam, alleen, kon bywoon.

    Ná afloop van ’n gedenkdiens wat ek vir sy moeder saamgestel het, noem ’n kliënt, Jaco de Wet¹, hoe hierdie formaat van huldeblyke hom herinner het aan oudsoldate se stories om ’n laataandkampvuur. Dis rou, dis snaaks, en dis eerlik.

    Jaco is iemand wat in my komvandaan-kontrei beskryf sou kon word as ’n lékker mens. Oor sy emosies verklap hy min, maar hy is vrygewig met sy stories. Boonop is hy ook lief vir die vullerwoord mos, wat ’n byna onthutsende eerlikheid aan sy persoonlikheid verleen. Vlugtig noem hy dat hy mos ’n eierboer van die Noordwes, hier van Brits is. Ek stel hom in my geestesoog voor as iemand wat op sy oudag kan sokkie, altyd brandewyn-en-Coke het om vir ontydige gaste aan te bied, en wat vir geldinsamelings vir die dorp se oumanne rugby sal speel.

    Daar is iets aan die stories wat help, sê hy. Ek is mos ’n army-man, en ek het baie storietjies, as jy tyd het om daarna te luister. Ek het tyd, want dit is grendeltyd, antwoord ek. Min het ek geweet dat een man se storie my op ’n reis kon neem, die perfekte reis vir wanneer jy nie jou tasse kan pak nie.

    Waar begin ’n mens met so ’n reis, met so ’n projek? Wat noop ’n vrou sonder ’n agtergrond in geskiedenis of joernalistiek om ’n storieprojek oor diensplig aan te pak? Die oorsprong kon edel wees: die opteken van gebeure is om deel te neem aan iets groters as jyself, ’n bydrae tot woordkuns en sin. My bedoelinge, daarenteen, was selfsugtig – ek was verveeld en het huis toe verlang. Om huis toe te verlang, is deel van die emigrant se bestaan. Jy staal jouself teen die verlange deur ’n rits redes op te sê. Soos Die Onse Vader ken jy die reëls: finansiële stabiliteit, fisieke sekuriteit, loopbaansekerheid. Vir Berlyners is dit die vryheid om poedelnakendkaal in die openbaar te kan swem.

    Jy hou uit. Tot op ’n dag, wanneer die verlange soos die alewige winters te lank aan jou klou, wanneer huiskos nie meer trooskos is nie. Dan knyp jy jou oë toe en laat jou kredietkaartbesonderhede aan die bekostigbaarste lugredery oor. Tot op ’n dag. Mei, Junie, Julie … maande word jare soos vlugte gekanselleer en grense gesluit word.

    Met elke bykomende inperking word die landskap van my kinderdae al duideliker met ’n stomp beitel teen my hart ingeëts. My ouerhuis, ’n Pierneef van herinnering wat al hoe helderder word soos grendeltyd eindeloser word. My ouerhuis, ’n plaashuis op ’n koppie, ’n rietdakhuis met ’n stoep reg rondom wat oor die Oranjerivier uitkyk.

    Die petroljoggie sal graag aan besoekers die grappie vertel van die duiwel wat ’n oom uit die kontrei op sy sterfbed wou kom haal, en die oom wat antwoord: Jy kan maar try, maar ek is van Augrabies, ek bang nie hitte nie. Satan is daar weg, stert tussen die bene soekend na ’n slagoffer uit Gauteng.

    Jou enigste heiland wat die hitte kan breek, is ’n donderstorm uit die Boesmanland. Dis ’n donkerrooi wolkgordyn wat jy eers ruik. Teen laatmiddag hoor jy hom, die sweepslag van blitse. Vir ’n minuut, dalk tien, dreun die dorre aarde onder harde korrels, en dan is dit verby.

    Tydens een van die streek se grootste storms van die nuwe millennium, klits ’n weerligstraal ons huis se TV-antenna raak. My laaste herinneringe van ’n werkende toestel was ’n heruitsending van 9/11. Vir ’n rukkie het my ouers geskerts dat dit ’n ingryping van Bo was, maar ek vermoed hulle was óf te besig, óf te spaarsamig om die TV te vervang.

    Ek het gevolglik in ’n huis met koerante en boeke grootgeword. Middae ná skool het my ma getrou Die Burger by ’n kafee op Kakamas gekoop – Die Volksblad ’n troosprys as die aflewering nie betyds uit die Kaap gekom het nie. Waar ander Afrikaner-gesinne ná aandete Bybel gelees het, het ons koerant gelees. Dit was ’n ritueel. Advertensies heel eerste weg, stroois toe. Sportblaaie sonder belangstelling eenkant opgevou. Die gesogte lang artikels en opiniestukke sorgvuldig oopgevee en onder die kombuislig gefynkam. Dan ’n lang bespreking oor die dag se gebeure, van skool tot plaas tot land.

    Die Nuwe Suid-Afrika van die 2000’s sorg vir opwindende opskrifte. Mark Shuttleworth word Afrika se eerste ruimtevaarder². Soweto kry sy eerste museum³. Suid-Afrika bied die Wêreldbeker-kriekettoernooi aan.⁴

    Die Madiba-vernis vervaag soos die krake van die nuwe bestel begin wys: kolleges word gesluit, die minister van gesondheid skryf beet, knoffel, en olyfolie vir vigslyers voor, beurtkragskedules word deel van ons daaglikse bestaan. Die wonde van die ou Suid-Afrika is nog vars: die Waarheid-en-versoeningskommissie stel sy laaste verslag saam, die Boeremag plant bomme in Soweto. Name uit die ou bedeling en die struggle kom in doodsberigte voor: Joe Modise, Walter Sisulu, PW Botha.

    Iets aan my gesprek met Jaco oor sy army-dae knaag later aan my. Hoe het dit gebeur dat – in die huis waarin ek grootgeword het, met die koerant as tafeldoek vir ons daaglikse nuus en brood – ek so min weet? Hoe het dit gebeur dat die Grensoorlog so stil-stil verby my politieke bewussyn kon sluip?

    Ek bel my pa. Ons begin oor ’n dowwe luidspreker te gesels, die foon vasgeklem tussen sy skouer en wang, sy hande doenig met herstelwerk aan ’n trekker. Was Pa ook in die army? Hy antwoord stomp: Ja, natuurlik, ons moes almal diensplig doen.

    Wat is hierdie dienspligding, Pa? vra ek. Ag, dit was maar stupid, my kind, antwoord hy. Ek hoor ’n spanner op die stoorvloer val. Kort daarna sny die lyn uit. Was dit beurtkrag wat die sein laat vou het? Dis selde dat my pa my nie terugbel nie.

    Ek bel my niggie, vra of sy iets van haar pa se tyd as dienspligtige weet. Dalk het my oom minder stilstuipe aan sy dogter oorgedra. Ek dink hy was in die townships? Hy praat mos so in raaisels, my pa. Ek het nog nooit rêrig ’n incident report gekry nie.

    ’n Paar dae later kry ek ’n stemboodskap van Jaco af. Dit klink asof hy langpad ry, sy gedagtes effe lomp en uitgestrek. Jong, ek dink dit kan ’n interessante projek vir jou wees. Dink jou in: ’n klomp jong manne bymekaar, agttien, negentien jaar oud. Die vorige jaar ’n windgat matriek en nou ewe skielik ’n roof en later ’n blougat. ’n Klein pouse, asof hy weet ek het nie ’n idee wat dit beteken om ’n roof of ’n blougat te wees nie.Kyk, dit het twee jaar uit ’n jong man se lewe gevat. Daar was eintlik baie meer storietjies as wat daar bloed was.

    Storietjies. Polfyntjies van onthou in ’n tyd waarin ek niks anders het waarmee ek my erfenis, my menswees, kan bevestig nie, my tuisland en familie onbereikbaar agter die grense van grendeltyd. My soektog na storietjies om die verlange te verdryf, laat my die webadres www.diensplig.org uitneem. Punt org, sonder winsbejag, sonder voorbedagte rade, maar wel ’n slingerpaadjie om agter my pa se stilswye te kom.

    Anders as my pa, boer baie boomers op sosiale media. ’n Soektog op Facebook lewer meer as 30 openbare- en private groepe met veteranebelange op. Dit is ’n vreemde wêreld, hierdie onthouplekke met ’n oordosis vergetelheid.⁶ Hier word daar onder die Oranje-blanje-blou geboer, en daar is geen ruimte vir ’n buitestander se onkunde nie.

    Ek besluit dat diensplig.org ’n lewende argief moet wees waar jonger en ouer generasies welkom kan voel. ’n Digitale tuiste waar jy sonder voorbehoud kan kom groet. Weg met die beige, die bruin en donkergroen wat alles soos ’n vervalle oorlogsmuseum laat voel. Dit moet vars en verwelkomend wees, ’n kuierplek. Jy kon ’n stemnota instuur, of jy kon met my ’n telefoniese onderhoud reël. My enigste vereiste was dat die onderhoude sonder beeld of video moet geskied, my behoud teen digitale oormaat. Ek pen die uitnodiging soos volg neer:

    "Vir dié van ons wat as deel van die born-free-generasie grootgeword het, is diensplig ’n waas van grappies om ’n braaivleisvuur, ’n genadelose rugbyafrigter, stille bekwaamheid op ’n jagekspedisie, ’n vergete kitaarakkoord, uitbundige kameraderie by skoolreünies, ’n gade se simpatieke blik, swye of ’n uiting van: ‘My kind, dit het niks met julle uit te waai nie.’

    Het jy iets om oor militêre diensplig tydens apartheid te sê? Was jy aan die Grens, of betrokke tydens die onluste? Al wat jy benodig, is jou slimfoon, ’n stil kamer, ’n goeie gespreksgenoot, indien verkies, en ’n bietjie waagmoed. PW het sy weergawe gehad. Vertel ons joune.

    Byna parmantig, hierdie uitnodiging. Ek het nie die vaagste benul gehad hoeveel waagmoed dit sou verg om hierdie storietjies te vertel nie.

    Hierdie boek is ’n versameling onderhoude wat ek met mense gevoer het wat op hierdie uitnodiging gereageer het. Hoewel dit militêre diensplig vanaf die vroeë 1970’s dek, agtergrond oor die Grensoorlog verskaf en die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika bespreek, is dit nie ’n geskiedenisboek nie. Hierdie geskiedkundige tydlyn verskaf bloot die nodige konteks waarin hierdie verhale van institusionele militarisering afspeel.

    Sentraal tot hierdie vertellings is die bedroefde expat wat die onderhoude voer. Die vertellings wat in hierdie boek opgeneem is, is ’n persoonlike ondersoek, ’n bestekopname van my erfenis van trauma. Hierdie trauma, hetsy individueel of kollektief, is die naelstring wat my aan daardie landjie aan die suidpunt van Afrika verbind. Dit is ’n ode aan die eg Suid-Afrikaanse rouklag wat my tuis laat voel. Ek woon al ’n dekade in die buiteland, maar daar is net een land waaroor ek wil rou – want om te rou, is om geborgenheid te vier. As jy weet jy hoort, kan jy die toekoms terugeis.

    1

    Daar’s ’n vyand op my voorstoep

    Jaco de Wet⁷ bel my op ’n Sondagoggend. Dis effe ontydig, ek is met noodsaaklike inkopies doenig. Hy reken dis ’n pocket dial, maar ek reken hy is eintlik lus vir gesels. Ek gaan gou vir jou probeer konteks gee sonder dat ek nou in ’n ellelange geskiedenisles ingaan. Wanneer dink jy is die eerste Suid-Afrikaanse soldaat in Suidwes-Afrika (vandag Namibië) dood? Hy is so gretig om sy verduideliking met my te deel dat ek nie besef dat sy vraag eintlik retories bedoel was nie. Voordat ek my feite bymekaar kon skraap, antwoord hy: Nadat ons namens die Britse Ryk die destydse Duits-Suidwes-Afrika in 1915 ingeneem het. Ons soldate is noord gestuur Ovamboland toe, want die Ovambo’s en Herero’s was onrustig. Hulle het pas teen die Duitsers baklei om hul onafhanklikheid te probeer verkry. Van hierdie soldate is daar doodgeskiet.

    Die onrustigheid waarna Jaco verwys, was die Slag van Omongwa⁸ van 1917. Dit is nog ’n insident op ’n lang tydlyn van verskrikking, ’n chronologie van die koloniale projek. Die Kwanyama-koninkryk was een van die belangrikste gebiede van die Ovambo-ryk, maar die gebied word met ’n agtelosige koloniale grens deur Portugese en Duitse kolonialiste in twee verdeel. Mandume ya Ndemufayo, die laaste koning van die Ovakwanyama, het volgehou om vir sy mense se vryheid te veg, ’n stryd wat sy lewe geëis het.

    Ek dink hieraan terwyl my trein die Bismarck-stasie verlaat, Jaco se relaas in my ore. Dalk begin hierdie dienspligding op die einste sneeubedekte strate waar ek nou loop, by die Berlynse Konferensie van 1884, waar die Duitse kanselier, Otto

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1