Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Hand van vergelding
Hand van vergelding
Hand van vergelding
Ebook179 pages3 hours

Hand van vergelding

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Boeiende verhaal oor die Mafia! Hugo le Roux kry as speurder vir die eerste keer met die werklikheid van die Mafia te doen. Die verhaal laat mens besef dat die Mafia binne Suid Afrika ‘n moontlikheid is. Hugo le Roux probeer misdade waarby die Mafia betrokke is, voorkom, maar hulle tegnieke is nuut vir hom. Voordat hy sukses kan bereik moet baie mense eers met hul lewens boet. ‘n Heerlike ontspanningsroman met genoeg van alles – spanning, romanse en as ‘n bonus ‘n uitbreiding van die algemene kennis oor dié gevreesde misdaadsindikaat.

LanguageAfrikaans
PublisherHugo le Roux
Release dateFeb 22, 2017
ISBN9781386717164
Hand van vergelding
Author

Hugo Le Roux

Hugo Le Roux, alias van Gert Basson se eerste verhaal word in Die Jongspan gepubliseer terwyl hy in standerd drie is. Geboortenaam Gert Cornelius Basson  Nasionaliteit Suid-Afrika  Beroep Joernalis, redakteur, skrywer. Hugo le Roux Hand van vergelding Bloedfamilie Bloedoffer vir Lilith Meer as moord Kamerling – moord op die drumpel Helkruin Terwyl die krokodil sing Skrywersname: Gert Basson Dirk de Beer Lindeque de Beer Cor Lindeque Hugo le Roux Danz Cloete Chris Sasner Gert Cornelius  

Read more from Hugo Le Roux

Related to Hand van vergelding

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Hand van vergelding

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Hand van vergelding - Hugo Le Roux

    HOOFSTUK 1

    Die hele besigheid het eintlik in Sicilië begin – in Palermo, om presies te wees.

    Hugo le Roux het egter die eerste keer met die saak te doen gekry toe hy die deur van Madeleine Frisk se woonstel oopstoot en haar daar op die vloer gewaar – haar blonde hare soos dooie gras oor die swart van die weelderige mat gesprei.

    Al die ander manne is reeds daar, en toe hy die deur agter hom toetrek, flits die fotograaf se kamera die laaste keer. Senior superintendent Hein Eksteen wat langs haar gehurk sit, kom orent. O, daar is jy, Le Roux.

    Hugo knik skuldig, ontwyk die streng blik en kyk af na die lyk van die mooi model aan sy voete.

    Soos ’n gebreekte pop lê sy daar – haar kop ietwat skeef gedraai, die lieflike profiel wat soveel koerant- en tydskrifbladsye versier het, nog steeds net so mooi in die dood as in die lewe. Dit lyk asof sy slaap, maar die klein rooi vlekkie bokant die linkerbors is vir die speuroffisier bewys genoeg dat sy nooit weet sal ontwaak nie.

    Hy kyk op en trek ’n slag aan sy frommeloor voordat hy beleef vra: Iets gekry, Sup?

    Die offisier skud sy kop. Nog nie die plek behoorlik deurgekyk nie. Dit laat ek aan jou oor. Ons wag nog vir die distriksgeneesheer om...O, hier is jy nou, Dok!

    Die polisiemanne staan tru sodat die vet doktertjie by die lyk kan kniel.

    Die offisier druk sy bril, wat kort-kort dreig om teen sy skerp neus af te gly, met ’n haastige beweging terug en du ’n slag vinnig met sy ken in die groot blondekop-speurder se rigting. Ek wil hê jy moet die plek deeglik fynkam. ’n Paar van die manne is reeds besig om ander inwoners van die gebou te ondervra.

    Wie het haar gekry, Sup?

    Die skoonmaker.

    Voordat Hugo sy volgende vraag kan stel, spring die korter man hom voor: En so van kry gepraat, Le Roux, waarom is dit dat ons jóú nêrens kon kry nie? Hoeveel maal moet ek jou sê dat...

    Hy rammel die leviete af wat Hugo nie een keer nie, maar honderde kere vantevore al gehoor het. Maar hoe kan hy die superintendent vertel van die blondine met die rooi mondjie en die hemelse blou oë? Dit is ook nie vir hom nodig nie, want die volgende oomblik pik daardie groot, harige hand van die offisier na Hugo se skouer en voordat die bonkige speurder kan keer, hou die offisier ’n lang, blonde haar triomfantlik voor Le Roux se gesig.

    Hugo voel die bloed hier agter teen sy oë pols en lek oor sy lippe wat sommerso meteens kurk geword het.

    Net soos ek gedink het! bulder Hein Eksteen. ’n Meisie! ’n Blondine! Hoeveel maal moet ek jou sê dat jy van die vroumense moet wegbly en nie... En weer die leviete vir die duisendste keer. Oor die superintendent se skouer sien Le Roux hoe die fotograaf en die vingerafdrukdeskundige vir mekaar glimlag. Die doktertjie kyk gesteurd op. Hugo sluit sy oë. ...en nou sorg jy dat jy vir die res van hierdie saak die muisneste uit jou kop hou en konsentreer op jou werk! Ek wil resultate hê en gou ook! Weer word die bril met ’n verergde beweging teruggedruk, dan draai hy om en stap oor na die geneesheer wat stadig orent kom. Hoe lyk dit, Dok?

    Sy’s dood.

    Hugo kyk na die kort mannetjie se gesig, maar daar is geen teken dat hy besig is om die gek te skeer nie.

    So wou dit my voorkom, antwoord die superintendent ewe sedig. Hoe laat?

    Dit lyk vir my so tussen kwart voor twaalf of vanoggend half-een...sou’k sê. Die koeël is ook nog nie uit die liggaam nie. Ek sal dit met die lykskouing verwyder.

    Reg, Dok.

    Hy stap saam met die kort mannetjie uit sonder om enige verdere aandag aan Hugo of die ander manne in die vertrek te skenk. Maar so ken hulle die vinnige offisier met die spits ken. Hy het gesien wat hy wou sien, sy bevele gegee en van nou af sal daar geen rus of duurte vir hulle wees nie. ’n Moeilike man, dié Hein Eksteen – maar ’n reguit, eerlike man.

    Hugo kry nou kans om die vertrek vir die eerste keer behoorlik in oënskou te neem. Dit is in chaos. Al wat ’n laai is, is oopgetrek en die inhoud van sommige lê oor die vloer gestrooi. Kussings van die bank en stoele is omgekeer en die een hoek van die mat is teruggevou. Hierdie toneel herhaal hom in elke ander vertrek van die woonstel. Die speurder kam ’n slag met sy massiewe hand oor sy borselkop. Wie het na wat in die skone Madeleine se luukse woonstel kom soek?

    Roof, Kaptein?

    Le Roux draai om. In die deur van die slaapkamer staan inspekteur Tande Nel. Die kaptein haal sy skouers op. Glo nie, ou Tande. Hoe lank is jy al hier?

    ’n Hele ruk. Die Sup het vir my en klein Cloete gestuur om die ander huurders te ondervra. Niemand het iets gesien of gehoor nie.

    H’m.

    Hugo buk by die rooskleurige snippermandjie langs die kleed­tafel. Daar is slegs ’n enkele visitekaartjie in. Hy steek dit in sy sak.

    Alles dui tog op roof, Chief.

    Hugo glimlag sy vinnige glimlag en trek-trek aan sy frommel­oor. Ja? Hoekom het die rower dan die moeite ontsien om al hierdie duur juwele saam te neem? Le Roux beduie na die groot juweledoos in die vorm van ’n skatkis wat omgekeer op die spieëltafel lê. Die juwele lê glinsterend oor die gladde oppervlak gesaai. Hy wys na die oop klerekas.

    Daar hang klere wat duisende rand werd is; daar is twee pelse en ’n handsak met oor die duisend rand in. Nee, Tande, ons vriend of vriende het na iets anders gesoek. Ek en jy sal met die hulp van die ander manne moet vasstel waarna daar gesoek is.

    In die badkamer kom klein Cloete op ’n botteltjie pille af wat met hegpleister agter die toilet versteek is. Die bottel is amper leeg – net ’n stuk of twaalf pille.

    Verdowingsmiddels, Kaptein?

    Le Roux draai die prop los. Ons sal gou genoeg vasstel, Gys.

    Die kort speurdertjie skud sy kop. Om te dink dat ’n oulike girl’tjie soos sy súlke goed gebruik het. Ek het al twee die flieks gesien waarin sy gespeel het. Sy was die eerste Afrikaanse filmaktrise wat oortuigend was...Daai ou wat die filmresensies vir Die Oggendpos doen, het ook so gesê.

    Agter die jong speurder se rug knipoog Tande vir Hugo en die groot speurder probeer hard om nie te glimlag nie. Werklik, nè?

    Ja, sy was deksels goed. Ek sal nooit die sterftoneel in Burger sonder land vergeet nie. As ek nie ’n man was nie, het ek so wragtig gehuil.

    Hugo kug en stap mompelend uit. Tragieser as die sterftoneel hier in haar eie woonstel kon dit beslis nie gewees het nie. Hierdie keer was daar egter nie ’n jong speurdertjie wat onwillekeurig na sy sakdoek getas het met haar laaste doodsnikke nie. Die enigste toeskouer was haar laksman wat naarstiglik na iets gesoek het.

    Buite wag die koerantmanne.

    Enige leidrade, Kaptein?

    Do you know who shot her?

    Vrae en nogmaals vrae. By die motor antwoord Hugo kort en saaklik: sy is beslis vermoor; die koeël is nog in haar liggaam; niks word, so ver vasgestel kan word, uit die woonstel vermis nie. Hy rep niks oor die pille of die visitekaartjie nie. Cloete skakel die motor aan en hulle trek vinnig weg. Die jagtog begin.

    Terug in sy kantoor voel dit vir Hugo asof sy kop wil bars. Die eentonige getik-tak van die muurhorlosie net bokant sy kantoordeur veroorsaak elke sekonde ’n ligte ontploffing hier in sy boonste verdieping. Hy’s klaar met vroumense en...water.

    Die ligte, amper huiwerige klop aan sy kantoordeur laat hom gesteurd opkyk.

    Binne! Sy stembande is deur ’n stuk skuurpapier vervang. Die deur gaan stadig oop en dan, ewe skielik, staan sy daar – ’n lang, swartkop-replika van Catherine Zeta-Jones. Net die figuur. Die gesig is net so mooi, maar op ’n ander manier. Haar oë is groot en donker – ver van mekaar. Die neus is reguit, die mond vol en rooi met ’n sagte beslistheid.

    Sy maak die deur agter haar toe en gee ’n onsekere tree voren­toe. Die swart rok span nou om die wulpse liggaam. Hugo vind dit meteens moeilik om te sluk.

    U is kaptein Hugo le Roux?

    Hugo sê: Ja! En al was hy ook nie, sou hy buitendien so gesê het. Hy lig sy volle 2,2 meter uit die stoel en kam ’n slag vinnig oor sy borselkop. En meteens is hy ook nie meer so trots op sy frommeloor wat hy in die stoeikryt opgedoen het nie. Hy frons sy swart wenkbroue saam en sy grys oë pen haar vas terwyl hy om die lessenaar stap en ’n stoel vir haar uittrek.

    Wat kan ek vir u doen...e...?

    My naam is Maria Vollero, kaptein Le Roux.

    Sy praat Afrikaans met ’n sterk Italiaanse aksent. Dit klink mooi. Sy gaan sit. Die swart rok se hals is gevaarlik laag en hy dwing sy oë na die dokument voor hom op die lessenaar.

    Waarmee kan ek help, juffrou Vollero?

    Sy kyk reguit na hom en glimlag so half verleë. Om die waarheid te sê, kaptein Le Roux...ek weet nie hoe of waar om te begin nie. U sien, dit is eintlik oor my broer dat ek na u gekom het.

    Sy kruis die een mooi been oor die ander. Die soom van haar rok klouter so ietwat hoër oor haar knie. Hugo se hoofpyn verdwyn.

    Dit is altyd makliker om by die begin te begin. Hy glimlag bemoedigend en dié keer is dit sy wat met haar oë uitkoms soek.

    Dan moet ek baie jare teruggaan – na Palermo, Sicilië...

    Sy kyk vraend na hom met daardie groot, donker kykers. So asof sy sy toestemming verwag om voort te gaan. Hy glimlag vinnig en knik slegs, leun gerieflik terug in sy stoel en vou sy arms.

    Sy haal ’n slag diep asem en toe, totaal onverwags, kom die vraag: Kaptein Le Roux het jy al van die Mafia gehoor? Of die Swart Hand soos dit ook in Amerika genoem word.

    Wel, ja...Maar ek is bevrees dat ek nie juis veel daarvan weet nie. Ek weet dit is ’n misdaadorganisasie wat veral in die twintiger- en dertigerjare in Amerika bedrywig was. Deesdae konsentreer hul­le glo veral op verdowingsmiddels...Meer as dit weet ek nie.

    Sy knik bevestigend. "Ek weet darem so ietsie meer, maar nie veel meer nie. U sien, die Mafia het sy ontstaan in Sicilië gehad en daar is dit vandag nog geweldig sterk en word deur almal gevrees.

    "Toe ons familie nog in Sicilië gewoon het, was ons baie arm, meneer Le Roux...Dit was natuurlik voor my geboorte, maar selfs toe ek in die 1970’s in Palermo die lewenslig aanskou het, het ons posisie nie veel verbeter nie.

    "My enigste broer, Paul, wat baie ouer as ek is, het op agtienjarige ouderdom by die Mafia aangesluit. Hy het dit sonder my pa se toestemming gedoen, want dié was geweldig teen die organisasie gekant. Paul het egter aangesluit, deels uit avontuurlus en deels om die gesin aan die lewe te help hou. Sicilië is ’n arm land en werk is nie volop nie, maar as lid van die Mafia wat geroof, gesteel en soos ek verstaan, selfs gemoor het, het Paul nogal heelwat tot die huishouding kon bydra.

    "Kort ná my geboorte is my pa skielik oorlede. Ons posisie was haglik. My ma het weer in die huwelik getree en hierdie keer met Stephano DeLuca. Paul was heftig teen die huwelik gekant en het die huis verlaat – eintlik die land, want hy het na Suid-Afrika toe gekom. Hy het egter gereeld geskryf en geld gestuur wat hy hier verdien het. Toe stuur hy geld sodat ek en Ma vir hom kon kom kuier.

    "Ons het gekom, maar voordat ons kon terugkeer, het Ma, wat nooit juis gesond was nie, ernstig siek geword en na ’n kort siekbed is sy hier oorlede. Ek het toe vir goed hier by Paul gebly. Van my stiefpa het daar ’n paar briewe gekom wat Paul woedend gemaak het. Ek was nog sommer ’n kind, maar ek weet dat hy blykbaar in elke brief geëis het dat Paul die maandelikse bydrae tot die huishouding in Palermo moes volhou. Paul het hierdie versoeke geïgnoreer en ons het niks weer van DeLuca verneem nie.

    Paul, wat nooit getrou het nie, het intussen aandklasse geloop en as vrouehaarkapper gekwalifiseer. Hy het later sy eie skoon­heid­salon hier in Johannesburg begin. Vandag is dit ’n eksklusiewe en vooruitstrewende onderneming.

    Hugo onderdruk ’n gaap en leun terug in sy stoel. Maria Vollero beweeg haar hand na haar wang en druk ’n sagte haarkrul liggies terug. Dit is ’n doodgewone beweging en tog is daar iets verleideliks, iets sensueels in die wyse waarop sy dit doen. Die speurder skuif ongemaklik op sy stoel. Haar lang wimpers versluier die swart oë ’n oomblik lank voordat sy weer in daardie sagte, byna hees stem voortgaan.

    Dit het met ons wonderlik goed gegaan tot so ’n jaar gelede toe Paul een aand ’n telefoonoproep ontvang het... Sy swyg en haar oë kyk vlugtig na syne. Dit was DeLuca. Hy was in die stad en wou met Paul praat.

    Die speurder laat sy hand in sy baadjiesak ingly en sy vingers sluit liggies om die visitekaartjie wat hy vanoggend in Madeleine Frisk se snippermandjie gevind het.

    En is dít jou, of liewer julle probleem, juffrou Vollero – die koms van jou stiefpa?

    Ja. Ek is nie daarby gemoeid nie – of liewer, nóg nie daarby gemoeid nie. Maar u sal begryp dat ek geheg aan Paul is en dat ek sy belange op die hart dra. Haar hande sluit ietwat senuweeagtig inmekaar. "U sien, DeLuca het Paul gedreig. So ver ek kan vasstel uit die bietjie inligting wat Paul aan my laat deurskemer het, is DeLuca ’n vooraanstaande lid van die Mafia in Sicilië. Om die waarheid te sê, hy was by toe Paul as seun ingesweer is. Dit is dan ook een van die redes waarom Paul so heftig gekant was teen sy huwelik met ons ma. Teen daardie tyd was Paul behoorlik siek vir die Mafia se bedrywighede en hy wou nie gehad het dat my ma met ’n lid van dié organisasie trou nie.

    "Hy het gedink dat hy hier in Suid-Afrika vry van die Mafia sou wees. Ons

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1