Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Helkruin
Helkruin
Helkruin
Ebook251 pages3 hours

Helkruin

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

HILLBROW is ‘n reuse gevangenis waaruit geen misdadiger ooit lewendig kom nie. Dis ‘n plek wat nou besit en bestuur word deur rowers en moordenaars. ‘n Voorstad agter doringdraad en skiettorings.

Wanneer ‘n oud-speuroffisier en sy androïed-kollega daarheen gestuur word om ‘n internasionale dwelmhandelaar te gaan uithaal, word gevaarlike gevolge ontketen wat dwarsdeur die wêreld eggo. Niemand het rekening gehou met ‘n bose verskuilde mag wat mense en regerings tot ‘n val kan bring nie…

LanguageAfrikaans
PublisherHugo le Roux
Release dateFeb 23, 2017
ISBN9781386202455
Helkruin
Author

Hugo Le Roux

Hugo Le Roux, alias van Gert Basson se eerste verhaal word in Die Jongspan gepubliseer terwyl hy in standerd drie is. Geboortenaam Gert Cornelius Basson  Nasionaliteit Suid-Afrika  Beroep Joernalis, redakteur, skrywer. Hugo le Roux Hand van vergelding Bloedfamilie Bloedoffer vir Lilith Meer as moord Kamerling – moord op die drumpel Helkruin Terwyl die krokodil sing Skrywersname: Gert Basson Dirk de Beer Lindeque de Beer Cor Lindeque Hugo le Roux Danz Cloete Chris Sasner Gert Cornelius  

Read more from Hugo Le Roux

Related to Helkruin

Related ebooks

Related articles

Reviews for Helkruin

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Helkruin - Hugo Le Roux

    Hoofstuk 1

    Kolonel Lücke! Jy is seker nie reg wys nie, Kaptein. Die man is dan stapelgek. Jy weet so goed soos ek hy sit in ’n gestig vir geestelik versteurdes.

    Ek verseker u, Brigadier, daar skort met Helm Lücke se geestestoestand net mooi niks. Hy is so normaal soos ek en u.

    Die forse brigadier vryf ’n slag vinnig oor sy yl, donker krulhare en snorklag. So normaal soos ek en jy, sê jy? Nou wat soek hy dan in die malhuis, Kurt? As ek dit reg het, is hy al die afgelope drie jaar daar.

    Kurt Wagenaar knik instemmend. Dit is so, Brigadier, maar ek verseker u—

    En hy is daar geplaas op aanbeveling van sielkundiges, val die brigadier die jong speurkaptein in die rede. Dis nie deesdae so maklik om die kopdokters om die bos te lei nie, Kurt. Glo my, as hulle sê hy is van sy trollie af, dan ís dit so. Hy mag op die oog af normaal voorkom, maar jy kan daar seker van wees die sielkundiges weet van dieperliggende versteurings wat nie vir ons leke waarneembaar is nie. Hy neem ’n lang trek aan die dik sigaar tussen sy harige vingers. Buitendien, hoe weet jy so baie van Lücke af?

    Kurt kyk af na die halfvol glas in sy hand. Ek besoek hom so twee, drie keer per jaar. Ek wil graag meer kere gaan, maar u weet hoe druk my program is. Daar is net te veel om te doen en te min polisiemanne. Maar as daar ’n kansie is, dan gaan kuier ek vir hom. Wat ek weet en in die Mag bereik het, het ek by hom geleer. U weet self, hy is ’n speurder wie se gelyke moeilik geëwenaar sal word.

    Bloot omdat hy nie volgens die reëls gewerk en opgetree het nie en...

    En hy was altyd bereid om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar, Brigadier. Dit weet u.

    Dit is vir Kurt duidelik dat die ouer man effens verbaas is oor die beslistheid waarmee hy die kolonel verdedig. Op ’n gemoedeliker toon gaan hy voort: Kolonel Lücke is ’n legende in sy eie tyd en die Nemesis van misdadigers. Hy het ’n positiewe beeld van die Mag na buite gedra, Brigadier, en die Vader weet, ons het dit nodig.

    Vererg blaas die offisier ’n dik straal rook voor hom uit en kom steunend orent van agter sy groot lessenaar. Hy gaan staan voor die wye venster wat hom ’n besoedelde, maar tog redelike uitsig oor die middestad gee. Vir ’n wyle kyk hy na buite voordat hy na die jonger man omdraai. Ja, en kyk waar het al sy goeie eienskappe hom laat beland, Kaptein – in die gekkehuis!

    Oor die rand van sy glas ontmoet hy die brigadier se onstuimige blik. Kurt neem ’n klein slukkie. Kolonel Lücke is die enigste speurder wat weet hoe Damasüss werklik lyk en wat dit agter hom in daardie helplek sal inwaag...en hom daaruit sal terugbring.

    Brigadier Klarens beweeg stadig terug na sy lessenaar toe waar hy peinsend die lang aspluim van sy sigaar in die asbakkie afskud. Jy’s reg, dis ’n helplek. En om te dink in die twintigste eeu was dit eens ’n metropoolse voorstad. Die hartklop van Johannesburg, het hulle Hillbrow genoem. Totdat dit later in verwaarlosing verval het. En nou, – hy sak met ’n sug op die groot, gerieflike stoel agter die lessenaar neer – is dit ’n reuse konsentrasiekamp vir uitgewekenes, misdadigers en moordenaars. Hy skud sy kop en neem weer ’n diep trek aan die sigaar, blaas die rook byna onmiddellik uit. En jy sê Damasüss het uit vrye wil daarheen uitgewyk?

    Ja, Brigadier. Dis my inligting. Hoe hy daar ingekom het, weet ons nie en waarom hy hoegenaamd dié plek gekies het, weet ons nog minder.

    G’n mens by sy volle verstand sal uit vrye keuse soontoe padgee nie. Tensy... Hy leun dieper terug in die stoel en kyk ondersoekend na die speurder oorkant hom. Tensy dinge aan hierdie kant vir hom só warm geword het, dat hy bereid is om sy kanse in daardie hool te gaan waag. Wat weet jy van die vrou af...Wat is haar naam nou weer?

    Sylvana Verona. Ons weet so te sê niks van haar af of wat van haar geword het nadat kolonel Lücke na die gestig is nie, Brigadier. Ons weet wel dat sy verbonde is of was aan Federale Intelligensie. U weet self dis bykans onmoontlik om inligting oor dié spul te kry. Alles is mos koverte ondersoeke. Dis nog ’n rede waarom sy samewerking so onontbeerlik vir die ondersoek is.

    Die donker man op die groot stoel vryf tam oor sy oë. Wat het destyds alles om die Damasüss-saak gebeur, Kurt? Wat was so erg dat dit ’n man van Lücke se kaliber in ’n gestig laat beland het?

    Dis wat ek graag sal wil uitvind, Brigadier. Destyds is die een deur na die ander in ons gesigte toegeklap, maar nou, drie jaar later, is Damasüss weer terug in ons midde en wie weet, dalk gaan daar ’n paar deure oop. Of ons sal moontlik ’n paar versperrings moet afbreek om agter die waarheid te kom.

    Goed, sê Klarens eindelik, gaan besoek hom weer. Kyk die kat behoorlik uit die boom. Stel vas wat sy geestestoestand werklik is voordat jy jou of hom tot enige optrede verbind. Jy kom rapporteer direk aan my. En Kurt, – die sigaar word soos ’n laserpistool se loop op die jonger man gerig – dit bly vir eers net tussen ons twee. Is dit duidelik? As ’n woord hiervan uitlek, sal ek persoonlik alles ontken en jy kan jou regmaak om self saam met Damasüss in daardie helgat te gaan wegkruip!

    U kan op my staatmaak, Brigadier. Die kaptein kom orent. Baie dankie. U sal nie spyt wees nie.

    Moenie my so gou bedank nie, Kaptein. Ek het lank nog nie toestemming gegee om jou vriend in die gestig finaal te betrek nie. Hierdie is net ’n vergunning om die moontlikheid te ondersoek. Dít moet jy goed begryp. Daar mag geen misverstand hieroor wees nie. Verstaan ons mekaar, Kaptein?

    Baie deeglik, Brigadier. Ek rapporteer terug aan u sodra ek besoek by Helm afgelê het...En weer eens baie dankie. 

    Die offisier maak ’n gebaar met sy hand. Kurt trek die kantoordeur met ’n sug van verligting agter hom toe. Dit was toe makliker as wat hy gedink het dit sal wees. Nou vir Helm Lücke!

    Hy kry die gewese kolonel in die ruim vertrek van sy wooneenheid wat hy as ateljee-cum-studeerkamer ingerig het. ’n Smal rak vol e-boeke reik tot bo teen die plafon; e-tablette waarop hy tydskrifte en koerante lees, lê op die deurmekaar lessenaar gestapel. Voor die venster staan die lang, stewig geboude man met ’n kwas voor ’n esel en skilder. Sag op die agtergrond speel daar barokmusiek.

    Kurt staan vir ’n oomblik stil en kyk na sy oud-kollega by wie hy so baie geleer het. Die hare is nog ’n welige sout-en-peper-maan om die kop met die breë voorkop. Die donker wenkbroue gooi skadu’s oor grys kykers wat een oomblik warmte uitstraal en dan weer kil en genadeloos na ’n vyand kan kyk. Die neus is effens geboë en diep vore sny van die neusvleuels af verby ’n besliste mond. Die ken is hoekig met ’n diep kuiltjie in die middel. ’n Aantreklike man sonder die popmooiheid van ’n model. Vreemd dat hy nooit getrou het nie. Het Sylvana dalk iets daarmee te doen?

    Het jy goed gekyk, my vriend? Enige afwyking kon waarneem? Die man by die esel draai glimlaggend na die ietwat verleë speurder.

    Kolonel, jy’s ’n blikslaer. Al die tyd weet jy toe ek loer jou af. Nee, ek kon geen afwyking waarneem nie, behalwe dat dit nie normaal is om oë agter in jou kop te hê nie. Kurt loop nader en neem die uitgestrekte hand.

    Dis goed om jou te sien, my jonge vriend. Jy kom kuier glad te min. En dis glad nie abnormaal om te weet wanneer jy so goedsmoeds beskou word nie, veral nie as ’n vriendelike verpleegster vooraf geskakel het om my in te lig dat kaptein Wagenaar onderweg na my wooneenheid is nie. Maar kom sit, Kurt. Kan ek iets vir jou skink?

    Koffie sal lekker wees, Kolonel.

    Kom stap dan saam kombuis toe. Daar prut ’n pot op die koffiemasjien. Ons sit sommer by die kombuistafel.

    Terwyl Helm die groot bekers vol skink, vra hy oor sy skouer: En wat bring jou op so ’n trietsige dag hierheen? Of dros jy dalk juis omdat die dag so koud is?

    Hulle roer elkeen ’n lepel vitamienversterkte fruktose in die stomende bekers. Nee, Kolonel, en dis ook nie werklik ’n kuier nie...ek’s hier op amptelike sake.

    Helm proe-proe aan die warm koffie. Dit klink gewigtig, maar hoe kan ek tot hulp wees? Jy weet tog dat ek al baie lank buite aksie is, by wyse van spreke.

    Kurt knik. Ons het u hulp nodig. Om die waarheid te sê, ek weet van geen ander man in die Mag wat ons in hierdie spesifieke saak kan help nie, Kolonel.

    "Ek kan. Hy sit hier reg oorkant my. Jy was loshande die beste speurder in my span, Kurt. Het ek dit nie by julle manne ingeskerp dat alhoewel daar altyd as span saamgewerk moet word, daar geleenthede is wanneer jy op jouself aangewese sal wees nie? Dan moet jy en jy alleen die probleem voor jou oorbrug.

    Geen man is onvervangbaar nie, Kurt. Daar is altyd iemand anders om sy plek te neem. Ek het jou destyds as my opvolger beskou. Watse hulpsoekery is dit by ’n ou uitgestote polisieman? Hy glimlag wrang. Boonop een wat ook nie al sy varkies op hok het nie.

    Kurt skud sy kop. Jy dink tog nie dat ek daai storie glo nie? Van ons twee is jy seker die normaalste in die vertrek.

    Helm lag hardop.Maar ek is die een in die gestig, my vriend. Gaan vra maar vir doktor Stickel. Hy sal jou wel deeglik inlig oor my geestestoestand.

    Kurt stoot die leë beker effens van hom af weg.Troos jou daaraan, Kolonel, dis presies wat ek van plan is om te doen. Maar ek wou eers met jou praat...jou die agtergrond van ons probleem skets.

    Die kolonel kam deur die ruie maan met sy lang, stewige vingers. Die grys oë is stip gerig op die man oorkant hom. "Ek dink nie ek wil by enige van julle probleme betrek word nie, Kaptein. Ek het my deel vir die Mag gedoen...meer as my deel. Daarom dat ek vandag in hierdie plek sit. Nie dat ek kla nie. My lewenstyl geval my. Ek het my boeke en skilderwerk wat my meer as besig hou.

    Daar is níks waarmee ek kan help of wat jy nie in staat is om net so goed of beter te doen nie. Ek is gelukkig met my omstandighede. Ek het rus en vrede hier kom vind...tyd om te dink en vir my siel om my in te haal. Moenie my lewe kom omfoeter nie, Kurt.

    ’n Wyle sit die twee mans woordeloos teenoor mekaar. Dan staan die kaptein op en gaan skink vir hom nog ’n beker koffie. Hy hou sy hand uit na Helm.Kan ek joune ook volmaak?

    Helm gee sy beker aan. Toe hulle weer teenoor mekaar sit, sê Kurt: Ek sal nie droom om jou lewe te kom binnefoeter met ons probleme nie, Kolonel...behalwe dat ek weet in jou hart der harte brand jy om terug te keer. Om weer betrokke te raak.

    Die grys oë trek skrefies. Wat laat jou tot dié gevolgtrekking kom?

    Kurt staan op en met sy beker in die hand loop hy die vertrek uit. Kom saam met my.

    In die ateljee tel hy ’n e-tablet op en skakel dit aan, wys dit vir Helm terwyl hy van koerante na tydskrifte flits. Dan trek hy ’n elektroniese boekkasset uit die rak. Hy druk die leessleutel en die titel flits op die skerm. Kyk wat lees jy, my vriend. Byna al hierdie koerante en tydskrifte bevat artikels oor ons beroep of interessante sake. Hierdie boek deur doktor Winslow Whyte, die kriminoloog, handel oor jou laaste onopgeloste saak, die een wat veroorsaak het dat jy in hierdie plek beland het. Kyk na jou skilderye, dit spreek van wroeging en verlange. Luister na die musiek wat jy speel. Kurt maak ’n gebaar met sy hand wat die hele vertrek insluit. Alles hier adem jou versugting na uitkoms.

    Hy neem ’n teug uit die beker. Ek weet nie hoe jy sake bewimpel het om hier te beland nie, Helm, maar ek is seker dat jy nie gelukkig hier is nie. Hy sit die leë beker op die lessenaar neer. Ek bied jou uitkoms.

    Helm staan by sy esel en kyk na die onvoltooide doek met die helder uitspattige kleure.Uitkoms, sê jy? Hy draai na Kurt toe. Uitkoms na wát? Na ’n wêreld wat op tegnologiese gebied byna alles vermag, maar in die proses die aarde besoedel, mense vervlak en in willose zombies verander het. Robotte en androïedes doen meeste van die werk. Hy lag bitter. Weet jy wat so ironies is, is dat dit amper net die misdadigers is wat in hierdie sinnelose wêreld ’n bietjie inisiatief aan die dag lê. Hulle eie ding doen, as ’t ware. Wil jy my teruglok na die korrupte gekkespul daarbuite?

    Kurt gaan sit op die hoek van die oorvol lessenaar.Nee, ek wil jou uitlok om weer deel te word van die enigste beroep wat jy ken...die jag van misdadigers.

    Helm loop verby hom na die klein sitvertrekkie aan die voorkant van die woonstel. Hulle gaan sit op die gerieflike vormstoele. Hulle praat nie en Kurt laat sy blik vinnig oor die twee groot skilderye teen die mure gly. Helder, malende kleure wat dwarrel en draai en uitbars na die kyker. Hy kyk na die man oorkant hom. Die ruie wenkbroue versluier die oë. Wat gaan in sy gemoed om? Is sy benadering nie te direk nie? Wat gee hom die reg om só met Helm Lücke te praat?

    Na wie soek julle?

    Die onverwagte vraag ruk hom ru terug uit sy mymering. Hier is die oomblik van waarheid. Damasüss.

    Helm ruk soos ’n veer vorentoe in sy stoel, die grys oë priemend op Kurt gerig, die mond in ’n woede-grim. Is jy van jou sinne beroof? Wie het jou opdrag gegee om na my toe te kom? Hy kom so vinnig orent dat Kurt onwillekeurig terugdeins op sy sitplek. Met watter speletjie is julle besig? En jy...ek sou jou met my lewe vertrou. Het jy nou ook deel van die verraderlike spel geword? Ek kan dit nie glo nie, maar daar sit jy en die woorde het uit jóú mond gekom! Hy beweeg na die ruim glasdeure toe en ruk een oop. Gee pad en jy sit nie weer jou voete hier nie!

    Kurt vryf oor sy gesig asof hy die woedebeeld daar voor hom wil wegvee en kom dan stadig uit die stoel orent. Ek weet nie wat jy bedoel nie, Kolonel...Helm, my magtig, jy wéét ek sal níks doen om jou te benadeel nie. Luister net na my. Ek kan alles ver—

    As jy nie nou onmiddellik hier padgee nie, Wagenaar, dan smyt ek jou hier uit!

    Waar hy die durf vandaan haal, weet hy nie, maar Kurt bly doodstil staan. Dan moet jy probeer, Kolonel, want ek gee nie hier pad voordat ek weet waarvan jy my alles beskuldig nie. Ek is nie deel van enige komplot teen jou nie en niemand het my hierheen gestuur nie. Ek het geen magtiging om hoegenaamd met jou te praat of by die saak te betrek nie. Ek het hierheen gekom omdat ek waaragtig glo dat jy die enigste en beste man is om ons te help. Luister net na my en...

    Helm skud sy kop. Nee, Kurt, ek wil niks meer hoor nie. Jy weet nie waarvoor jy jou inlaat nie. Gaan nou en laat my met rus.

    Hy staan weg sodat die jonger man verby hom na buite kan beweeg. Kurt draai op die stoep om om nog een keer te probeer, maar Helm druk die deur toe, draai die slot en met ’n enkele harde beweging stamp hy die skakelaar wat die glastint ondeursigbaar maak. 

    Hoofstuk 2

    Kurt Wagenaar stap fronsend tussen die bome se yl skadu’s en rookmis deur na die administratiewe gebou van die Cönig Kliniek. Die akkerbome se min blare is besig om te verkleur en flikker soos sukkelende vlamme in die dynserige laatmiddagson. Hy wonder hoe hulle dit reggekry het om die bome so groot te laat groei. Met die geweldige besoedeling voer plante en bome ’n stryd om voortbestaan.

    Hy stoot die wye glasdeure na die ontvangslokaal oop en loop reguit na die aantreklike blondine agter die toonbank toe. Sy kyk op van die gehoorstuk wat sy so pas op die ontvangstuk teruggeplaas het. Die byna smarag oë met die swart omlyning van die irisse kyk reguit en ondersoekend na hom.Kan ek help, kaptein Wagenaar?

    Hy knik. Ja... – sy blik gly na die naamplaatjie op haar linkerbors – suster Stassen, u kan. Ek wil doktor Stickel spreek, asseblief. Sê vir hom dis amptelik en dis dringend.

    Die mooi, vol lippe wat net effens gekleur is, glimlag, maar die oë is berekend. Ek is bevrees dis nie moontlik nie, Kaptein. Doktor het vanmiddag ’n baie druk program en moet, nadat hy sy laaste pasiënt gesien het, stad toe vertrek vir ’n ander belangrike afspraak. Kan ek vir u dalk ’n afspraak op ’n ander dag reël?

    Kurt sug. Kyk, Suster, so maklik raak jy nie van my ontslae nie. Klim op daardie interkommetjie van jou en sê vir die goeie doktor ek’s op pad na hom toe! Sonder meer draai hy sy rug en stap die gang af na die sielkundige se spreekkamer toe.

    Kaptein Wagenaar! roep sy agter hom aan, maar hy steur hom nie aan haar nie. By die sielkundige se deur klop hy vlugtig aan en draai terselfdertyd die deurknop en stap die ruim vertrek binne. Dis duidelik dat Stickel die onverwagte besoek te wagte is. Hy staan half orent agter sy lessenaar met sy hand nog op die interkomskakelaar. Die ruie swart wenkbroue is fronsend oor die donker oë.

    Wat dink jy doen jy, kaptein Wagenaar? Wie gee jou die reg om hier in te bars en...

    Kurt stap doelgerig op die lessenaar af en kom regoor die skraal kaalkopman tot stilstand. Vergeet jou verontwaardiging, doktor Stickel. Sit en kom ek en jy gesels soos beskaafde mense. Daarmee sak die speurder in die stoel voor die lessenaar neer. Sit, Doktor. Hoe gouer ons aan die praat kom, hoe gouer is jy van my ontslae.

    Jy durf nie...

    Ek durf en as jy nie nou onmiddellik sit en tot ruste kom nie, arresteer ek jou en neem jou saam met my hoofkantoor toe. Besluit, Doktor, en besluit vinnig. Ek het nie tyd om te mors nie.

    Die sielkundige knipper sy oë en sak dan terug in die stoel agter hom. Oor die luidspreker van die interkom klink suster Stassen se stem vraend: Doktor...is alles reg? Moet ek sekuriteit skakel?

    Hy skud sy kop. Nee, Clara...alles is in orde. Reël asseblief vir ’n pot tee as jy nie omgee nie. Hy wend hom na die speurder en dis duidelik dat die man nou weer in beheer van sy emosies is. Ek neem aan jy kan verduidelik waaroor dit alles gaan, Kaptein.

    Ja. Ek wil met u praat oor kolonel Lücke.

    Die sielkundige bou ’n toring met sy vingers onder sy ken. Hy glimlag skeef en die donker ogies kyk reguit na die speurder. Nie eens jy het die reg om my oor enige van my pasiënte uit te vra nie, Kaptein. Sê my, – hy haal ’n dun, goue sigarethouer uit die boonste

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1