Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Omega, oor en uit: Die storie van 'n opstandige troep
Omega, oor en uit: Die storie van 'n opstandige troep
Omega, oor en uit: Die storie van 'n opstandige troep
Ebook183 pages2 hours

Omega, oor en uit: Die storie van 'n opstandige troep

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Van sy eerste dag as dienspligtige was François Verster in die sop danksy die "siekverveelde uitdrukking" op sy gesig en sy ingebore rebelsheid. Hy vertel op skreeusnaakse wyse hoe hy basiese opleiding net-net oorleef het om daarna uitgeplaas te word na Omega, waar hy vir Boesman-kinders moes skoolgee. Op die basis bestaan sy lewe uit 'n kombinasie van aggressiewe korporaals, verveling en vreemde karakters wat sy ervarings daar dikwels onwerklik laat voel. Sy kostelike anekdotes word verweef met 'n tweede, ernstiger verhaallyn wat in die hede afspeel en gaan oor François se lewe as 'n argivaris in Kaapstad waar hy as't ware 'n tweede keer diensplig moet doen vir sy land.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 2, 2016
ISBN9780624072621
Omega, oor en uit: Die storie van 'n opstandige troep
Author

François Verster

François Verster is 'n argivaris en skrywer van Kaapstad. Hy werk die afgelope tien jaar ook deeltyds as vryskutjoernalis en behartig rubrieke en resensies vir verskeie publikasies soos Litnet en Rapport. François het sy loopbaan in die onderwys begin, maar is in 1991 aangestel as staatsargivaris. In 2003 verwerf hy sy doktorsgraad in kultuurgeskiedenis en in 2007 word hy aangestel in sy huidige posisie as maatskappyargivaris vir Naspers, die grootste mediagroep in Suid-Afrika. Drie niefiksiewerke, waaronder TO Honiball: Culture with a smile, en twee fiksiewerke, waaronder Een teen Adamastor - waarvoor hy die Maskew Miller Longman-prys vir die beste Afrikaanse jeugroman gewen het - het al uit François se pen verskyn. Hy het ook al tot talle bundels bygedra, onder meer tot Grensoorlogstories (2012).

Related to Omega, oor en uit

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Omega, oor en uit

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Omega, oor en uit - François Verster

    FRANÇOIS VERSTER

    title.jpg

    TAFELBERG

    GHOST.psd

    Hierdie boek word opgedra aan elke troep wat diensplig as plig ervaar het.

    GHOST.psd

    Wat het eerste gekom, wat daarna? … Ek moet erken dat ek ’n probleem het met tyd: baie dinge wat begin het en geeïndig het, het nie presies by my geregistreer tot lank daarna nie. Hoe ouer ek word, hoe minder stabiel raak daardie kruk, chronologie.

    Günther Grass, skrywer en beeldende kunstenaar

    Onthou is nie ’n historiese daad nie, maar ’n resultaat van die geheue, wat inherent korrup is.

    Mary Karr, digter

    Miskien, ironies, is die gemene deler tussen Suid-Afrikaners en Duitsers … die gedeelde ervaring van afsonderlikheid, van ontheemding, vervreemd van sekerheid en samehorigheid.

    Etienne van Heerden, skrywer en akademikus

    GHOST.psd

    Skrywersnota

    Hierdie boek verteenwoordig die perspektief van een ouddienspligtige en nie van alle dienspligtiges of staandemaglede wat gedurende die Grensoorlog (1966-1989) in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien het nie. Om hierdie rede is die name van sekere mense verander, want dit is nie my bedoeling om enige individu te na te kom nie.

    GHOST.psd

    Woordelys

    AK47: Russiese ligte aanvalsgeweer waarmee Swapo toegerus was, 7.62 kaliber

    Civvie: burgerlike

    Civvies: burgerdrag

    HK: hoofkwartier

    Kamper: iemand wat weermagkampe gedoen het as deel van sy voortgesette diensplig

    PF: permanent force – gebruik om na ’n staandemaglid te verwys

    Pips: kentekens wat ’n offisier se rang aangedui het

    R1: SAW-aanvalsgeweer, gebaseer op die Belgiese FN, 7,62 kaliber

    R4: SAW-aanvalsgeweer, gebaseer op die Israeliese Galil, 5,56 kaliber

    Recce: lid van die Verkenningsregiment

    RSM: regiment-sersant-majoor (hoogste onderoffisiersrang op Omega)

    SAKK: Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps

    SAMIL: SAW-vragmotor (verskillende groottes, bv. SAMIL 20; 50; 100)

    SAW: Suid-Afrikaanse Weermag

    SAWI: SA Weermagindustrie, die weermag se algemene handelaar

    Suidwes: Suidwes-Afrika, sedert onafhanklikwording in 1990 Namibië

    Swapo: South West African People’s Organisation

    Unimog: twee-ton-viertrekvoertuig, onder meer as ambulans gebruik

    VTB: vryetydsbesteding, ’n wegbreek-kamp, gewoonlik elke drie maande aan dienspligtiges toegeken

    Hoofstuk Een

    GHOST.psd

    Herfs 2014

    ’n Gedonder ruk hom orent. Hy druk sy skouers vas teen die koppenent en kyk vervaard in die kamer rond.

    Hulle het my kom haal, dink Frans.

    Dit duur ’n sekonde of twee voordat hy besef dis net onweer – ongewoon vir die Kaapse Skiereiland. Ondanks die bedompigheid kry Frans koud. Hy staan stadig op, soek met sy tone na sy pantoffels op die koel teëlvloer. Sy vrou, Charlene, slaap vas, soos altyd. Hy slof klappertand na die studeerkamer en gaan sit by die groot ou lessenaar, streel oor die geoliede blad.

    Dis altyd dieselfde droom: Die PF’s kom hom haal. Die oorlog is toe nié oor nie. Daar staan ’n SAMIL in die straat voor sy huis, kolossaal soos ’n oorlogskip in ’n vyandelike hawe. Iemand in ’n groot weermagjas klim uit en loop tot by die voordeur. Daar pluk hy die jas af en staan net in ’n pers nagrok. Skielik verander die man se gesig en hy word ’n bekende, gewoonlik sy ou kameraad Skroppie. Hy wys dan na Frans en skreeu: Die SAW wil jóú hê!

    Dis waar die onthutsende droom eindig.

    Hy trek ’n verslete foto-album uit die rak en adem die geur van gister in. As argivaris weet hy papier is steeds die beste bewaarder van die verlede. Dis geduldig en dis duursaam. Nes mense, soek papier net simpatieke behandeling.

    Buite rammel die donderweer weer – dis ’n kakofonie, die litanie van die natuur. Hier in Brackenfell hoor ’n mens soms kraaie. Uile ook, dink hy, soos destyds in die bos. Maar meestal is dit net die brakke wat al harder kef wanneer dit tyd raak dat hul base van die werk af moet kom. Praat van ’n litanie.

    Buite begin die dag rooi breek. Soos die sonsondergange van Suidwes wat so verstommend mooi kon wees voordat die donkerte met sy verskrikkings toesak. Wanneer hiënas, dié in kolletjiespelse, maar ook dié in uniform, losgelaat is.

    Frans hoor die ou bakkie voordat hy hom sien. Dis die man wat Die Burger kom aflewer. Die posbus se deksel klap en dan sidder die ou Datsun weer voort. Hy loop vinnig na buite en trek die opgevoude koerant uit die posbus.

    Soos gewoonlik lees hy eers die sportgedeelte met aandag, blaai verby die sakenuus en glimlag oor die spotprent. Vandag gaan dit oor die ANC se magsbeheptheid.

    In die briewekolom pleit ’n leser vir groter erkenning en begrip vir ouddienspligtiges. Daar is van hulle verwag om hul lewe vir hul land op te offer, nie vir die regering van die dag nie, skryf hy. Apartheid was nie in hul gedagtes toe hulle as skoolseuns ’n dokument onderteken het wat hulle tot twee jaar se militêre verpligtinge verbind het nie. Wat moes hulle doen, vra die briefskrywer, eerder tronk toe gaan? Hul volk verraai? As lafaards verwerp word?

    Dit was die jare van die Koue Oorlog en die Rooi Gevaar. Die politici het sy generasie uitverkoop ter wille van ’n waardelose Grondwet en ’n falende staat, kla hy.

    Die oorlog wil maar net nie weggaan nie, dink Frans. Nuwe boeke oor die Grensoorlog verskyn gereeld. Oor die jare het hy heelparty boeke daaroor gekoop.

    Sy boekrak is ook vol boeke oor die Anglo-Boereoorlog, die twee wêreldoorloë, die Viëtnam-oorlog, die Koreaanse oorlog … die Koue Oorlog. Daar is ook boeke oor hoe om memoires te skryf.

    In een van die lessenaar se laaie lê sy eie Grensoorlog-verhaal. Hy het dit geskryf tien jaar ná die oorlog se einde in 1989.

    Hy haal die hopie gekramde bladsye uit. Meeste van die bladsye is al varkoor gevat en die teks is met rooi en blou bekrap – ink-littekens wat verklap hoeveel keer hy al bygevoeg en weggevat het. Elke keer wanneer die herinneringe aan die deur kom klop het hy die manuskrip uitgehaal en weer met die verlede gestoei.

    Afstand kom met tyd. So sê hulle. Dalk sal die verlede nie meer so ’n houvas op hom hê nie as hy sy verhaal voltooi?

    Toe die donderweer wegsterf, hoor hy die radiowekker in die slaapkamer afgaan. Charlene se bedliggie gaan aan. Tyd om reg te maak vir werk. Hy druk die voos gevatte manuskrip in sy briewetas en sit die tas in die gang.

    Hoofstuk Twee

    GHOST.psd

    Oor begin

    In sy vensterlose ruimte in brandkamer 22 staar Frans na die sonlig wat die gang verlig. Dis ’n lui en loom middag in Kaapstad. Om hom in die Wes-Kaapse Argiefbewaarplek is ’n lineêre kilometer se stowwerige argiefmateriaal. Hier word ’n deel van die nasie se storie bewaar, gestol op papier, wagtend op ontginning.

    Hy is die muwwe reuk in die vertrek al gewoond, so ook die stof wat voel asof dit in sy verhemelte afkielie. Hier in die Argief trek die mufheid sommer in jou vel in.

    Frans is gefrustreerd. Hy is lief vir sy werk as argivaris, maar verpes dit ook – meestal hoe hy oor sy land ook voel. Sy mooi land. Die anker wat hy nie wil afsny nie, al vermoei dit hom toenemend. Soms voel dit asof al sy lewenslus hom verlaat as hy by die Argief se hek instap.

    Op die lang sorteertafel met sy geskende bruin blad staan ’n klomp vaal bokse met oopslaandeksels. Dit bevat die argief van ’n prokureursfirma van Steytlerville. Hoe fassinerend, dink hy.

    Soms wonder hy of hy nie maar in die onderwys moes vasgebyt het nie.

    Hy kyk na die vaal bokse. Jirre, ek voel presies net so vaal en vierkantig, dink hy. Elke nuwe projek bring inderdaad die ou vrees dat jy jou dalk net sal doodverveel. Die prokureursfirma se argief is ’n belangrike spieëlbeeld van ’n gemeenskap, het sy toesighouer, ’n argivaris van die ou skool en toegewyde staatsamptenaar, saaklik en beslis gesê. Ons is hier om die staat te dien.

    By implikasie: Doen wat aan jou gesê word en sharrap.

    Frans het bokkerol van belang in daai spieël gewaar. Maar hy sal nóú daarmee moet begin; dis amper al einde van die maand. Verslae moet geskryf word, statistieke moet gekook word. Hy ken sy plig. Dis mos hoe sy generasie grootgemaak is. Hy is hier om stories te bewaar. Vir die nageslag, of hulle dit sal of wil glo, of nie.

    Hy maak die skootrekenaar oop en skep ’n nuwe lêer. Bo-aan staan Inventaris: Munisipaliteit Steytlerville. Verwysingsnommer 3/STEY.

    Nou vir die donkiewerk. Hy haal alles uit die eerste kartonhouer, skuif die inhoud meganies rond. Sortering is die siellose kern van alle argiefwerk. Uiteindelik lê daar sewe ewe groot hopies op die verrinneweerde ou tafel.

    Tuis in sy studeerkamer is ook ’n boks vol goed – sy persoonlike goed uit die Grensoorlog-tyd. ’n Boks met oorblyfsels van sy dienspligdae op Omega, tuiste van die Boesmaneenheid 201 Bataljon. Heel bo lê sy bruin Bonnie met die twee swart linte met hul gerafelde punte en die witborskraai-kenteken. Daaronder die groen, goud en swart metaalbalkie van die Infanteriekorps. Daar is ook drie persoonlike foto-albums met ’n weermagtema.

    Dit voel vir Frans asof hy soms uit sy liggaam beweeg en van brandkamer 22 se dak afkyk na die figuur by die ou sorteertafel. ’n Vlieg teen sy eie muur.

    Hy weet waar Steytlerville is, maar was nog nooit daar nie. Een van sy ou dienspligkamerade,’n pligsgetroue siel met die bynaam Oumatjie, was van Steytlerville.

    Steytlerville kan wag. Hy haal sy manuskrip uit die briewetas. Sy onvermoë om dit klaar te maak het met baie dinge te doen, onder meer die situasie by sy werk. En die politiek van die dag put hom uit. Dit voel al ’n paar jaar lank vir hom asof hy ’n tweede keer diensplig doen. Dié keer moes hy nie twee jaar van sy lewe in die weermag opoffer nie, maar sy professionele ambisies laat vaar. Regstellende aksie het vereis dat hy en baie ander hulself opoffer ter wille van die groter, nasionale belang.

    ’n Brief steek tussen die blaaie uit. Dit is klein opgevou en vuil gevat. Hy stryk dit plat en begin lees:

    Liewe Ma

    Ek hoop dit gaan nog goed met julle. Hier is dit maar nog dieselfde ding, elke dag. Dis warm, dis vervelig, dis oorlog. Mens wil net wegkom.

    Gister het ’n PF ons voorgekeer op pad skool toe en een van ons gedreig oor hy glo na die man se vrou gekyk het. Ons is mos nog net ’n week hier en ons weet nie eens wie sy vrou is nie. Ons weet nou wie hy is.

    Hierdie mense maak ons bang – banger as die terries. Van hulle hoor mens net as die kompanies terugkom. Hulle maak beurte en gaan by Ruacana oor na Angola. Ons onnies is by HK kompanie ingedeel. Die kommandant het gesê daar kan elke keer as die ouens oorgaan een troepie van HK kompanie saamgaan, vir die ondervinding. Ek dink almal wil maar min sal, want dis nie soos om ’n oorlogfliek te kyk nie. Hier kan jy doodgaan terwyl jy kyk. Een van die tiffies – dis nou die mechanics, Ma – het gegaan en sy pelle sê dis net omdat hy te lui is om aan die lorries te werk. Almal wag om te hoor wat hy gaan vertel as hy terugkom.

    Gister het nog iets gebeur wat my pla. Die skoolhoof, die Soutie luitenantjie, het gesê ek moet die kinders slaan wat laat kom. Hulle weet nie eens hoekom hulle geslaan word nie. Nou huil die kleintjies as ’n mens net naderkom. Die groteres kom nie meer laat nie. Ek gaan hulle nie weer slaan nie. Die luitenant kan self, die blêrrie Rooinek.

    Ons koop baie by die SAWI, want die armykos is maar min en nie altyd lekker nie. Die ouens sê ons sal sien as die voorrade opraak, kry ons net pap. Dis nou die Transvaalse braaivleispap. Ons het laas naweek by die skool gebraai en iemand het pap gemaak en dit was nogal lekker. Die skool is omtrent ’n kilometer uit die kamp, langs die aanloopbaan en net agter ons is die ammo dump. Dis meestal ondergronds.

    Ons koop ook t-hemde en onderbroeke by die SAWI. Jy kan omtrent enigiets daar kry, maar ons soek meestal kos. Die Boesmans staan elke dag in lang toue by die deur, maar hulle laat ons indruk. Mens voel nogal aardig, want hulle dring daarop aan. Dit lyk asof die verhoudinge tussen al die rasse hier goed is. Maar ons doen feitlik alles apart. Net parades is almal saam, maar elkeen in hul eie pelotonne. Die Boesmans dril baie goed, maar hulle sukkel met in reguit rye staan. Hier is duisende van hulle en net ’n paar honderd wittes. Hier is ook bruin troepe wat wagstaan, Ma weet mos, die SA Kleurlingkorps.

    Ons het elkeen ons eie klaskamers, nogal groterig en van sementstene gebou met sinkdakke. Ons bly vier ouens in ’n hut, wat ’n kimbo genoem word. Dis net ek en twee ander ouens wat Kapenaars is in ons groep.

    Dis al nuus wat ek nou het. Julle moet skryf, dis lekker om pos te kry hierso.

    Ek verlang baie. Die luitenant het gesê ons sal ’n weekpas kry as dit skoolvakansie is. Ma moet vir my reël vir ’n vliegkaartjie van Jan Smuts af.

    Die brief is heel waarskynlik uitgesmokkel. Niks is met swart viltpen doodgekrap nie – iets wat die weermagsensors gereeld gedoen het. Die laaste bladsy is weg en daar is geen datum bo-aan nie, maar hy weet dit was die eerste brief wat hy uit Omega

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1