‘DIS nie ons nie.” Roux smyt die moordfoto’s voor brigadier Buys neer. “Hulle is te veel gesteek.”
Buys krap sy pyp met ’n knipmes skoon. Kap dit teen sy skoensool. Gooi die inhoud in die leë koffieblik wat as Roux se asblik dien. Seker om te kyk wat alles binne-in is.
Buiten die gebruikte kondoom waaroor hy gaan wonder, is alles kosjer. Niks wat Roux se paroolvoorwaardes in gedrang kan plaas nie. Dalk gaan hy ook die hoeveelheid Panado-papiere bevraagteken, maar te hel met Buys. Weet hy hoeveel spanning dit op ’n mens plaas as jy al die klanke, kleure en reuke ná soveel jare gelyktydig moet inneem?
“Ek het geweet jy gaan dit sê. Julle beskerm mos mekaar.”
Roux se wangspiere spring. “Hoekom is jy hier? Jy weet mos ek was met die eerste moord nog in die tronk. Sersant.” Hy weet Buys verstaan hoekom hy hom as “sersant” aanspreek – nes die bewaarders