Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die bleek man op my hakke: My lewe met skisofrenie
Die bleek man op my hakke: My lewe met skisofrenie
Die bleek man op my hakke: My lewe met skisofrenie
Ebook245 pages3 hours

Die bleek man op my hakke: My lewe met skisofrenie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Niemand hoor die stemme wat so duidelik in haar kop praat nie. Niemand weet dat sy nie kan bad nie omdat haar bad voortdurend vol bloed is ... dat sy tientalle obsessiewe kompulsies het wat haar byna te bang maak om asem te haal. Niemand weet van Harriet Christou se lewe met skisofrenie nie.

Harriet vertel 'n sonderlinge verhaal, en sy doen dit onverskrokke en openhartig. Sy vertel van die tuimelrit deur die dieptes van ontreddering en ellende, van herhaalde mislukte behandeling totdat sy korrek gediagnoseer is en die regte medikasie begin kry het, van die desperate soeke na begrip en aanvaarding, 'n soeke wat haar keer op keer in nog dieper ellende dompel. Sy vertel van die selfmoordpogings, die verbrokkeling van haar gesinslewe, haar desperate soeke na God en die daaglikse stryd om te probeer onderskei tussen wat werklik is en wat nie.

Dit is 'n onthutsende verhaal. Skokkend. Maar ook 'n verhaal van volharding, hoop, menslikheid en begrip vir die kompleksiteit en broosheid van die menslike lewe.

Harriet Christou woon en werk in Bloemfontein. In 2005 is skisofrenie by haar gediagnoseer, en met dié boek wil sy die geheimenisse van die siekte vir lesers ontsluit.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 5, 2013
ISBN9780624054986
Die bleek man op my hakke: My lewe met skisofrenie

Related to Die bleek man op my hakke

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die bleek man op my hakke

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die bleek man op my hakke - Harriet Christou

    VOORWOORD

    Harriet Christou se boek is ’n merkwaardige beskrywing van ’n skisofrenie-pasiënt se belewing van haar siekte. Ek het dit met groot aandag gelees en dit was een van die aangrypendste ervarings wat ek in ’n lang tyd gehad het.

    Hierdie teks is om ’n paar redes belangrik. Die eerste is dat dit die binnewêreld van ’n pasiënt met skisofrenie op ’n besonderse wyse belig en die pyn en lyding wat gekoppel is aan hierdie verskriklike siekte baie duidelik illustreer. Dis belangrik dat mense sal verstaan dat skisofrenie ’n geestesiekte is, ’n siekte van die brein, maar ook dat dit ’n siekte is wat goed op behandeling kan reageer as dit reg hanteer word.

    Tweedens is dit belangrik dat die stigma van geestesiektes getakel en uit die weg geruim word. Harriet se verhaal illustreer op ’n onteenseglike wyse dat sy nie die siekte deur haar eie toedoen opgedoen het nie. Dit is ook duidelik dat dit ’n siekte is wat nie genees kan word deur bloot godsdienstige toewyding of sosiale ondersteuning nie. Dit is ’n siekte wat gespesialiseerde psigiatriese behandeling en baie intensiewe psigoterapie verg om die pasiënt tot ’n vlak van aanvaarbare aanpassing te kry.

    Die derde rede waarom hierdie teks so aangrypend is, is dat dit die rol van ekstreme trauma in die verloop van psigiatriese pasiënte se lewe illustreer. As ’n mens kyk na al die verskriklike aanslae, soos verkragting, fisieke aanvalle en mislukte verhoudings wat in dié pasiënt se lewe gebeur het, kan ’n mens verstaan dat hierdie trauma erg verswarend inwerk op die verloop van ’n psigiatriese siekte.

    Dit verg moed om jou storie te vertel op die eerlike en blootstellende manier waarop Harriet dit doen. Mense wat hierdie teks lees, moet groot respek hê vir die waagmoed wat deur hierdie jong vrou aan die dag gelê is om haarself so bloot te stel en dit alles ten behoewe van ander se begrip vir enigeen met die siekte.

    Laastens dink ek ’n mens moet sê dat dit ’n baie terapeutiese proses is om jou storie op hierdie manier te vertel – terapeuties vir die pasiënt self deurdat dit dien as ’n soort katarsis waarin die pyn en lyding op papier uitgestort word, maar ook terapeuties vir baie ander mense wat dalk self aan skisofrenie ly of familielede met skisofrenie het. Kom ons hoop dat al die lesers hierdie teks sal aanvaar en waardeer op die eerlike en openhartige manier waarop dit hier aangebied word.

    Franco Colin, psigiater

    April 2013

    HOOFSTUK 1

    Wanneer bloed by badkrane uitkom, weet ek dis sulke tyd. Dit help ook nie juis om my oë toe te druk nie. Dis hoekom ek maar van my bed opgestaan het en my psigiater gebel het; vir haar gesê het ek het selfmoordgedagtes en dat ek my weer begin sny het. Sy het gesê ek moet dadelik hos­pitaal toe kom, sy sal reël en of daar iemand is wat my kan vat.

    Gysbert het my Oranjehospitaal toe gebring. Ek is met my kar Checkers toe waar hy werk, en in sy etenstyd het ons gou gery.

    Jy moet ’n week in die hospitaal gaan rus, het die psigiater by ontvangs gesê. Dis die eerste keer dat ek hom daar gesien het, so ’n vet dokter met ’n blink kop. Rus, het hy gesê, asof ek nie weet wat dit beteken nie.

    Gysbert het onder een van die lae boompies voor die hospitaal stilgehou. Hoe goed ken ek nie al die stowwerige gebou met sy rooi bakstene nie. Ek het net my handsak by my; die dokter het gesê ek hoef nie klere te vat nie, daar is klere. Ons moet na Blok C toe gaan.

    By die ingang is ’n man met die groen oorbaadjie en swart langbroek wat dié hospitaal se verpleërs dra. Ek groet vir Gysbert. Hy en my ma sal gou weer kom kuier, sê hy. Die verpleër sê ek moet saamkom na die vrouesaal, en ek loop agter hom in ’n lang gang af. By die ingang sien ek teen die muur ’n houer waarop daar staan: Free condoms. Ek bly omkyk daarna; ek kan dit nie glo nie.

    Ons loop verby ’n sitkamertjie met ’n TV wat in ’n hok van yster en glas is. Dis ’n platskerm-TV, sien ek. Aitsa, die staat upgrade ook deesdae. Hulle kan nou al flat­screens bekostig.

    Die verpleër sê ek moet kom, en ek stap maar agter hom aan tot waar ’n paar verpleegsters by ’n toonbank sit. Een met ’n groot bos krulhare wat You sit en lees, kyk verbaas op toe ons aankom. Sy kyk my op en af. Die dame hoort nie hier nie, sê sy. Langs haar is ’n TV-skerm waarop sy kan sien wat in verskillende vertrekke in die hospitaal aangaan. Wat het ons hier, ’n tronk?

    Ek verstaan nie juis hoekom sy dit sê nie, maar dit voel goed om ’n dame genoem te word. Een van die ander susters beveel my om te sit. Ek het nog geen idee waar ek is nie; al wat ek weet, is dat ek hulp gaan kry.

    Die susters is besig om vir hulle koffie te maak, sien ek. As ek ook maar ’n beker koffie kan kry, maar dit lyk of hulle klaar van my vergeet het.

    Toe sien ek dit, regs van my: ’n traliehek! Is ek dan nou regtig in ’n tronk? Ek staan op en nou sien ek ook die mense anderkant die hek. Een vir een kom hulle nader, die voorste een so wragtig waar bostukloos, net met ’n bruin romp aan. Haai, kyk, skreeu sy hard. Ons het ’n nuwe maatjie bygekry! Sy het net twee tande in haar mond.

    Ek hoort nie hier nie, dink ek, en voel hoe my moed soos ’n verlepte blom op die blink teëlvloer voor my val. Ek staar na die vrou met die kaal bolyf. Haar hare is bo kort, half gebraid, half ingesit. Sy is seker so vyf-en-veertig.

    Ek draai om na die verpleegsters. Ek het nie eens klere nie, dink ek. Kan ek vir my klere gaan haal? vra ek.

    Nee, hier is klere vir almal, sê die verpleegster met die krullebos.

    Wat? Klere vir almal, maar een van die pasiënte loop dan byna kaal rond?

    Kom, sê krullebos. Ons sal jou later uitsort. Kyk maar ’n rukkie TV totdat die pasiënte se slaaptyd verby is, van halfeen tot drie is dit slaaptyd. Sy wys vir my waar die rookarea is.

    Thank the Lord! sê ek kliphard. Daar is tien pakkies sigarette in my handsak en ek begin dadelik om die een sigaret na die ander te rook. Ek het geen benul van tyd nie, want my horlosie het die gees gegee. Pakkie nommer twee maak egter baie gou sy verskyning.

    Deur ’n hoë venster sien ek ’n tortelduif op ’n muur. Gelukkige voël, dink ek, hy kan vlieg waar hy wil. Ek steek nog ’n sigaret aan en dink aan wat gebeur het.

    Ek het vir Carel weer gesien, dis wat gebeur het. Carel van Tonder. En natuurlik het hy my onthou, ons het dan op skool ’n ding aangehad. As ek en Gysbert ook nie so aan en af was nie, het dit nie gebeur nie, maar nadat ek en Carel so ’n bietjie op Facebook gesels het, bel hy my, vra of ek die naweek wil kom braai. Op Brandfort. Sy werk hou daar ’n paartie.

    Nou ja, Brandfort is nie ver nie. As dit maar verder was, was ek nie nou in hierdie gemors nie. Maar daar sit ek toe saam met Carel by die paartie. Versigtig vir die drinkery, want ek is op medikasie en als. Twaalfuur het die mans nog gebraai, toe gaan die vroue hotel toe vir cocktails. Toe die mans later daar aankom, sê Carel ek moet nog ’n dop vat. Hy het so aangehou. Toe vat ek maar. Daarvandaan onthou ek niks. Die volgende oggend word ek wakker in Carel se bed. Ek skrik, want ek weet iets het gebeur, spring in my kar en jaag terug.

    Drie weke later sê ek vir Jessica wat saam met my werk ek het oorgeslaan. Sy kyk my so. Jy is swanger, Harriet, sê sy vir my. Weet jy dit?

    Ek laat toe maar by die patoloë ’n swangerskaptoets doen en hulle sê ek kan twee dae later vir die uitslag bel. Ek bel toe. Dis konfidensieel, sê die vrou van die patoloë.

    Ekskuus, sê ek, ek kan jou nie hoor nie?

    Ons stuur die uitslag na jou huisdokter, sê sy.

    Ek is stom geskrik. Dokter Rut. Sy is my dokter. Ook my baas se vrou. Sy mag om die dood toe nie van die hele ding weet nie. Maar toe ek bel, is sy baie bly en opgewonde vir my part. Jy is swanger, sê sy.

    Ek het die middag vir Carel gebel. Hy het gevloek. Dan sal jy maar fokken by my moet kom bly, het hy gesê.

    ’n Week later vertel ek dit vir my ma. Ek gaan môre vir ’n aborsie, sê ek vir haar. My ma gryp my hande vas. Ek staan by jou, Poppie, sê sy. Ek staan by jou, en toe begin sy hardop bid, vra dat God ons moet vergewe.

    Vroeg die volgende oggend het ek vir Jessica ge-SMS en gesê ek is by ongevalle, ek het begin bloei. Die waarheid was dat ek by die Marie Stopes-kliniek was. Van agtuur tot tienuur gesit voor ek gehelp is. ’n Verpleegster het ’n sonar geneem en gesê ek is sewe weke swanger; gevra of ek wil voortgaan met die aborsie. Sy het my ’n pil gegee wat ek daar moes drink; twee ander vir die volgende dag. Ek het die R800 betaal en terug gegaan werk toe. My kollegas vierkant in die oë gekyk en gesê ek het ’n miskraam gehad.

    Daardie aand het ek my die eerste keer in meer as ’n jaar gesny, met ’n skêrtjie aan my binnebene en boarms.

    Visitors vir Christou!

    Ek druk die sigaret vinnig dood. Dit moet my ma wees. By die TV-kamer se deur uit draai jy regs na die wagkamer, en daar is my ma. Ek hardloop in haar arms in.

    Poppie, is jy oukei?

    Ek huil. Gysbert is ook daar; ek groet hom met ’n soentjie, droog my trane met my moue af. Het jy met my werk gereël vir verlof, Moeks? vra ek.

    Hoekom is jy nie na die ou saal toe nie? vra Gysbert. Hy lyk omgekrap.

    Ek is in die psigotiese saal, sê ek en voeg vinnig by: Maar ek is nie psigoties nie.

    Ek ken my siekte. Ja, daar is stemme in my kop, maar hulle gaan nooit weg nie. Dit beteken mos nie dat ek heeltyd psigoties is nie. Ek is nie so erg soos die ander mense hier nie. Nie naastenby so erg nie. Ek weet nie hoekom nie, sê ek vir Gysbert. Ek weet nie hoekom hulle my agter tralies sit nie.

    HOOFSTUK 2

    Ek het op Wepener grootgeword, ’n dorpie in die Suidoos-Vrystaat. My pa het die kafee daar gehad. In 1981, die jaar van my geboorte, het my pa ’n pakket gevat by die lugmag – hy was ’n vlugsersant daar – en die volgende jaar het ons van Durban af Vrystaat toe getrek. My pa is van Griekse afkoms, maar hy het op Dewetsdorp, naby Wepener, grootgeword.

    Ons het na ’n groot huis getrek met ’n groot erf waarop my pa met witoor-marmosetapies geboer het. Hy het die apies vreeslik bederf; hulle het middagetes mini-marshmallows gekry en die babatjies het my pa met die hand grootgemaak, elke drie uur opgestaan om hulle melk te gee.

    Ek dink dikwels terug aan daardie huis met die groot tuin, die apies en die boom in die middel. Dit was my klein paradys. Dis waar ek geword het wat ek is. Ek het dit natuurlik toe nie eens besef nie, maar al was dit van die lekkerste tye in my lewe het my oudste vrese ook daar ontstaan. En dit is waar die mense die eerste keer in my kamer – en in my kop – ingekom het.

    Toe ek groot genoeg was, het ek baie keer in my pa se kafee gaan eet. Hamburgers en tjips. Maandae en Vrydae is my pa Bloemfontein toe om stock te kry, dan het my ma in die kafee gewerk. Dit was lekkerder as Pappa daar was, want dan het ek ekstra kaas en tamatie by die hamburger gekry. As ek klaar geëet het, het ek Pacman gaan speel. Pa het die sleutel vir die Pacman-masjien gehad en daarmee kan hy die pennetjie druk vir credits, dan hoef jy nooit geld in te gooi nie. Ma het nie geweet waar die sleutel is nie, sy het my 20c gegee om te speel. Pa en Ma. Goeie tye. Ek wens dikwels nog dit kan wees soos toe.

    In die aande wag ek by die huis dat Mamma of Pappa kom. Maria kyk dan na my. Aan die een kant het ons jaart ’n sementmuur, maar aan die ander kant is daar net ’n draad. Op die voorkant van ons wit huis is ’n kameelperd geverf met ’n nommer tien op sy lyf. Daar is ’n groot mopkop-boom in die middel van die tuin en langsaan is die bruggie van die grondpaadjie wat agtertoe na die garage gaan.

    Dit is nou al baie donker en Maria kyk The Bold and the Beautiful op TV, maar ek kan sien as ’n kar se ligte aankom. Daar kom nou ligte, ek dink dis Mamma se rooi Ford Sierra. As ek vinnig hardloop sal ek haar op die paadjie kry.

    Maar daar is nie ’n kar buite nie. In die donker tuin kan ek glad nie vir Mamma sien nie. Ek hardloop oor die gras wat wit is in die donker, oor die paadjie na die boom toe. Nou kan ek iemand sien, daar by die draad. Dis twee mense. Ek hoor die gras onder my voete. Nou kan ek beter sien, dis twee mense sien ek.

    Ek wil wegkyk, maar ek kan nie. My hart klop, ek kan dit voel. My bene begin sommer vanself hardloop. Terug, terug huis toe. Ek hardloop tot in my kamer en gaan lê op my pienk ballerinabed. Doodstil. Net my hart. My asem. Ek begin huil, maar ná ’n ruk hou die huil op.

    Al die ligte is al af en dit is stil in die huis, maar ek kan nie slaap nie. Ek begin skapies tel, soos Mamma my geleer het, maar ek sien net die tuin en die twee mense daar. Ek dink aan my nuwe pophuis wat Pappa vir my gekoop het, aan my maat Gerhard, aan koffie wat op Mamma se nuwe mat gemors is. Ek rol eers op die een sy, dan na die ander kant toe, maar kan nie my lê kry nie, nou bly ek maar op my rug. Ouma het altyd gesê jy moet stil lê dan kry jy nie koud nie. Nou word my bene te seer. Ek knyp my oë styf toe en luister na my asem, in en uit, in en uit. Maar nou hoor ek ook ’n ander ding. Ja, daar in die gang. Dit is voete wat so maak, en dit kom nader. Dalk is dit Pappa wat ’n glas melk in die kombuis gaan drink. Pappa? fluister ek. Hy kom altyd inloer as ek hom roep. Pappa?

    Die voete is nou stil. Niemand het gekom nie. As ek so afleun van my bed, as ek ver genoeg kan rek, kan ek by die deur uitkyk. Maar dis donker in die gang en ek kan byna niks sien nie.

    Ek gaan lê maar, maak my oë toe. En daar is dit weer, die voete! Klap, klap, klips … My bors gaan op en af, my hart klop, ek wil skreeu. Die voete kom nader en nader. Ek trek die kombers oor my kop en skreeu en skreeu en skreeu.

    Tinna, wat is fout? Dis Pappa se stem.

    Ek gooi die kombers van my kop af. Die lig is aan en Pappa buk oor my. Ek kan die huil nie keer nie.

    Toemaar, Tinna, dit was net ’n slegte droom, sê Pappa.

    Maar ek het dan nie eens geslaap nie! Ek wil dit vir hom sê, maar hy het reeds weer die lig afgesit. Nee! skreeu ek. Nee!

    Toe kom sit Mamma by my. Pappa het ’n rukkie in die deur bly staan, omgedraai en in die gang verdwyn. Ek sal by jou bly tot jy slaap, sê Mamma. Ek het aan die lig op Pappa se bruin hare gedink. Ek wou bid dat Pappa terugkom.

    Van daardie aand af het my ma altyd by my gebly totdat ek aan die slaap geraak het. Ek het dan met haar kortgeknipte rooibruin hare gespeel en diep in haar groen oë gestaar. Dit het haar vreeslik geïrriteer, want sy het probeer om vir my stories te lees. Ek het skielik ’n vrees vir die donker gehad. Elke keer as my ma opgestaan het om te gaan slaap, het ek wakker geword. En sodra sy in die donker verdwyn het, het die voetstappe begin.

    Ek lê in die donker en luister na die stemme in Pappa-hulle se kamer. Kwaai stemme. Hulle baklei, dink ek. Hulle baklei oor my, en dit voel vir my ek word naarder en naarder.

    Ek staan op en gaan kniel voor Pappa-hulle se kamerdeur. Dit is nou stil in die kamer. Ek wil klop, maar doen dit nie. Ek wil nie vir Pappa kwaad maak nie. Ek wil nie hê hy moet vir Mamma kwaad word nie. As een van hulle maar net die deur wil oopmaak en my hier kry.

    Ek wag en wag, maar niemand maak oop nie.

    Later loop ek kombuis toe en kry ’n flits langs die broodbak. Ek gaan lê op my bed en laat die flits se ligkol oor die mure rondspring. Lank lê ek so en speel, sit later die skynende flits langs my op die kussing neer en lê en wag. Ek wag en wag. Wanneer kom die voetstappe dan? Ek kyk na die flits se helder oog. Dan hoor ek dit! Wie is dit wat so loop? Ek wil weet. Ek hoor my asemhaling, voel my hart klop. En toe is dit kliphard daar … klaps, klips, klaps …

    Ek lê doodstil. Die voetstappe kom nader, tot by my deur en stop daar. Ek knyp my oë styf toe, ek wil nie sien nie. Doodstil lê ek. En ek kan voel iemand kyk vir my, ek weet net iemand kyk! Ek gryp die flits en gooi die wit kol lig na die deur, sien hoe dit bewe en rondspring.

    Dis ’n man.

    Hy is heeltemal swart aangetrek. In sy regterhand is ’n sekel. Hy kyk vir my, ek kyk vir hom. Hy bring dan sy linkerhand stadig op en sit ’n wysvinger voor sy mond. Ek weet wat hy sê, ek weet. Sy oë is … Waar is sy oë?

    Ek spring regop en klap die lig aan, en toe die lig aangaan, is die man weg. Daar is niks nie. Ek soek met die flits in die gang … Niks. Ek gaan weer lê; maar los die lig aan, laat dit heelnag brand.

    Elke keer as my ma opgestaan het en van my bed weggeloop het, het ek ontsettend alleen gevoel. Ek het ook verraai gevoel. My ma het my in die steek gelaat, my uitgelewer aan die man met die sekel. Dis net die lig wat my gered het. Elke aand het die voetstappe gekom, maar sodra ek die lig aangeskakel het, het dit verdwyn. Ek het geleer om met ’n lig aan te slaap.

    Slaap jy?

    Ek is dadelik wakker. Is dit Pappa wat gepraat het, want dit was ’n man se stem? Dis donker in die kamer; ek het vergeet om die lig aan te skakel nadat Mamma uit is. Eintlik was ek net te moeg. Pappa?

    Dit was nie regtig Pappa se stem nie, dit weet ek nou.

    "Nee, my skat. Kom,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1