Tydbom
By Johan Marais
()
About this ebook
Related to Tydbom
Related ebooks
Die Generaal Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsVeldhospitaal 12 Rating: 4 out of 5 stars4/5Tou Rating: 5 out of 5 stars5/5Noot vir dood Rating: 0 out of 5 stars0 ratings’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsBos Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsMoord-en-roof: In die kop van 'n baasspeurder Rating: 4 out of 5 stars4/5Onbeskryflike genade Rating: 4 out of 5 stars4/5Aanspreeklikheid Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSkaduself Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsGangster: Ware verhale van albei kante van die strydlyn Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsIvoor Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsFlentermens word heelmens Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSkeur Rating: 5 out of 5 stars5/5Afgehandel (2de uitgawe) Rating: 0 out of 5 stars0 ratings'n Dorp soos Silwer Streams Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsMarike se laaste dans Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSonneblomme en sneeu in Oekraïne Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSkadujagter Rating: 2 out of 5 stars2/5Vergelding Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsTruitjie roer my nie: Oor Kempton en ander k-woorde Rating: 3 out of 5 stars3/5Mot kry kleur Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsLiefde oorbrug alles Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsLiefde agter tralies Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsOp pad na Moormansgat: Die verhaal van Billy Foster en Koos de la Rey Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie vervolgdes: Ware verhale van gelowiges se lyding en hoop Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSplit Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsArendsnes Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSimoelégri Rating: 0 out of 5 stars0 ratings'n Wêreld sonder grense Rating: 0 out of 5 stars0 ratings
Reviews for Tydbom
0 ratings0 reviews
Book preview
Tydbom - Johan Marais
Toe apartheid nog wet was, sluit Johan Marais as jong seun by die Suid-Afrikaanse Polisiemag aan. Dan volg ’n nagmerrierit deur ’n verwronge wêreld van geweld soos sy lewenspad deur Suidwes en die brandende townships van die Oos-Rand loop. Uiteindelik verval hy in ’n parallelle heelal van korrupsie, seks en dwelms.
Tydbom is nie vir sissies nie. Maar vir die leser wat die spervuur kan deurstaan, wag daar ’n merkwaardige verhaal. Dit is tegelyk Marais se boetedoening en sy eie vorm van terapie - ’n hoogs persoonlike rekord van die geestelike foltering wat iemand met post-traumatiese stres beleef.
Oor die skrywer:
Johan Marais was ’n polisieman in die jare toe apartheid en die onluste in die townships op hul ergste was. In die sewentigerjare neem hy ook aan die Grensoorlog deel as lid van Koevoet voordat hy in die tagtigerjare by die Oos-Randse Onluste-eenheid aansluit. Hierdie is sy ware verhaal oor alles wat hy deurgemaak het en die onmenslike geweld waaraan hy blootgestel is. Marais het in die vroeë negentigs uit die polisie bedank en ’n suksesvolle skrootonderneming begin. Hy het egter aan post-traumatiese stressindroom begin ly en sy wêreld het amper in duie gestort voordat hy hulp gaan soek het.
INHOUD
Naskrif
Ek het geen rus of geen vrede nie, geen verposing nie, net angs.
Job 3:26
Baie polisiemanne is as mens totaal vernietig deur hul werk. Ek het die boek geskryf om self staande te probeer bly, maar die boek is ook vir hulle, en vir hul vrouens, kinders en familie.
1
’N KROEGGEVEG
’N geweldige vuishou tref my van iewers aan my linkerkant op my kakebeen. Die hou is so hard dat ek grond toe gaan.
Terwyl ek half bewusteloos lê, skop iemand my reg in my gesig. Ek hoor hoe kraak my neus toe die skoen my tref en is amper weer bewusteloos. Van waar ek lê, kan ek dofweg sien die hele ding ontaard in ’n regte kroeggeveg en almal slaan almal.
Dis al weer sulke tyd, dink ek. Dis wéér die ou donnerse storie.
Dit was ’n heerlike warm Saterdagaand en ek het ’n koue bier – of was dit al my sesde? – in een van Nigel se watergate sit en drink. Almal was joviaal en het ’n Curriebekerwedstryd op televisie gekyk. In hierdie klein kroegies ken almal vir almal en die hele gemeenskap weet van ’n ou se skandes of prestasies. Ek ken die plek goed, Nigel is my tuisdorp.
My oog vang dié van ’n vrou met wie ek al op ’n paar vorige geleenthede vasgesit het en wat ek juis om daardie rede vermy. Sy kyk kort-kort in my rigting en ek besef sy skinder openlik by haar vriendin oor my. Dit pla my. ’n Paar biere later staan ek op en gaan groet haar vriendelik. Sy sê vir my in geen onduidelike taal nie ek moet fokkof en ver weg van hulle gaan sit, wat ek toe maar ewe gedwee doen. Ek gaan kla by die eienaar oor die vrou se gedrag, maar hy maak dit af as ’n kleinigheid. Hy sê ek moet ontspan – sy is maar so,
soek altyd moeilikheid met almal.
Heelwat later besluit ek om te verkas. Op pad uit staan sy egter vir my en wag en begin my sleg te sê. Ek het genoeg gehad. As jy jou soos ’n man wil gedra, sal ek jou soos een behandel,
waarsku ek haar. Maar sy hou aan om my te vloek en ek verloor dit heeltemal. Ek gee haar ’n klap met die oop hand dat sy in ’n hoek op haar gat beland.
Dit is tóé dat die vuishou my tref. Ek kom half dronkerig orent en slaan ’n fris jong man wat aan my linkerkant staan. Hy gaan ook grond toe, maar toe slaan sy pa my en ek val weer.
Daar kom ’n effense bedaring en ek kry kans om te vra wie my in die gesig geskop het. Die ou word uitgewys en hy begin op my te vloek. Ek slaan ’n hou na hom, maar in my besopenheid en met my voos geslaande verstand mis ek. Hy kry weer ’n hou in.
Die bloed stroom uit my neus en mond, oor my nuwe Pringle-hemp. Ek buig my skewe neus reguit, kom agter dat ek benewens ’n stukkende tand van die eerste hou en ’n seer lip en neus nie veel oorgekom het nie. Dis ’n genade dat van die mense my kom vashou en die geveg beëindig word.
Ek ry huis toe, sluk ’n paar pyn- en slaappille en sak in ’n genadige slaap weg. Die volgende oggend klim ek baie lyfseer in die stort. Soos die water op my spuit, is dit asof my hele wêreld tot stilstand ruk. Hoekom het ek toegelaat dat gisteraand gebeur? Ek is vyftig. Wat op aarde wil ek bereik deur op my ouderdom nog só aan te gaan?
Ek staan ’n lang ruk in die stort en probeer die skandes van die vorige aand weg was. Waar het dinge verkeerd gegaan?
Skielik kom al die vorige kere by my op waar ek in presies dieselfde soort situasie was. As daar moeilikheid was, was ek daar. Ek het dit nie altyd bewustelik opgesoek nie, maar dit het mý altyd gevind. Ek verstaan nie wat met my lewe gebeur het nie, maar ek wil nie meer hier wees nie.
2
’N KIND IN ’N GROOTMENSWÊRELD
Waar het dit begin? Hierdie algehele verval van my menswees en my waardes tot op die vlak waar ek fisiek en geestelik nie meer die lewe in die oë kan kyk nie? As ek mooi dink, seker kleintyd al.
Ek was dan nog ’n kind toe ek polisie toe is. Skaars sestien. My broer Len[1] het dieselfde jaar die skool verlaat en besluit om die polisie ’n go te gee. Ek het maar net by hom ingeval en in Standerd nege is ek uit die skool.
Laat in 1975 sluit ek by die polisie aan en werk as studente-konstabel by die Springs-polisiestasie. Die volgende jaar is ek deel van die Januarie-inname by die Polisiekollege in Pretoria. Daar maak ek my matriek klaar, hoofsaaklik met regsvakke soos Strafreg, Wettereg, Kriminologie en Volkereg en voltooi my jaarlange polisie-opleiding. In die eerste drie maande van dié opleiding mag jy nêrens heen beweeg teen ’n stapspoed nie: Jy moet heeltyd draf, behalwe as jy van die eetsaal af kom. In dié tyd kry niemand ook verlof nie; eers daarna kry jy jou eerste naweekpas. Dan raak die tempo effens stadiger en die opleiding draagliker. Die dissipline bly egter baie streng en jy spring amper op aandag vir alles wat beweeg.
Jy neem ook deeglik kennis van die Swart Gevaar. Jy is jonk en maklik beïnvloedbaar en dit word by jou ingeprent dat swart mense staan vir onheil, terrorisme en die Antichris. Jy word baie subtiel gebreinspoel oor die politieke kwessie in die land. Jy beskou die deursnee- swart persoon as ’n vyand en ’n potensiële terroris.
My eerste kennismaking met geweld in die swart woonbuurte was gedurende die 1976-onluste in Soweto. Ons word as studente tydelik uitgeplaas na Tembisa aan die Oos-Rand om die onluste te help beheer en sleutelpunte op te pas.
Daagliks, maar veral naweke, word dosyne lyke ingery. Hulle word eenvoudig in die polisiegarage neergelê, omdat dit net te veel vir die staatslykhuise is. Hulle is geskiet, gesteek, hulle koppe ingeslaan en party erg vermink. Of die sterftes onlusverwant of blote misdaad was, kan ek nie sê nie. ’n Swart mens se lewe was klaarblyklik niks werd nie en in koerante is geen beriggewing oor sterftesyfers en die name en besonderhede van gestorwenes nie.
Ek is 17 jaar oud toe ek my opleiding voltooi en vroeg in 1977 na die Springs-polisiestasie uitgeplaas word as ’n konstabel. Omdat ek nog nie 18 is nie mag ek nie ’n vuurwapen dra nie, en doen diens as hofordonnans. Dit is baie interessant en ek leer al die prosedures van ’n strafhof ken. Ná ’n paar maande neem ek bevel van die hofselle oor, en kom dáár daagliks in aanraking met geharde misdadigers wat deur die hofprosedure moet gaan.
Daardie jare het howe nog lyfstraf opgelê vir mindere misdade deur jeugdiges. Die ou in bevel van die hofselle is veronderstel om ’n adjudant-offisier te wees, en dit was sy taak om die lyfstraf toe te pas. Maar omdat hierdie ou om die een of ander rede nie daar was nie neem ek dié taak oor – nie heeltemal wettig nie, maar ja, ek pas toe die hof se vonnisse vir minderjariges toe. Jy strap die minderjarige op ’n bank vas en kry vir jou ’n rottang uit ’n klomp wat langs die bank in ’n melkkan water staan. Jy gooi net ’n doek oor sy agterwêreld en dan slaan jy vir hom. Jy slaan hom dat hy in sy broek pis. Jy moet hom ses houe gee. Ses houe of tien houe. Maar jy kom nooit by jou ses of tien houe uit nie, want met die derde hou beskyt hy homself. Daar waar die hou val, op daai lap, slaan jy vir hom skoon oop tot op die vleis. Dan skreeu daai man, maar hy is vasgemaak.
Jy voel magtig en groot, want die hof se vonnis is in jou hande geplaas en jy mag hom wettig met ’n rottang aanrand.
Ek begin ook in daardie tyd sterk drank gebruik. Polisiekoffie. Dit was die algemene naam onder die senior lede vir brandewyn en Coke. Jy is nie in die uitverkore groep as jy nie saam drink en naweke in die plaaslike hotelle baklei nie.
Ek word 18 en begin by die Navraetak dossiere ondersoek. Ek woon in die enkelkwartiere in Springs. Dit is nie verniet nie, jy moet vir jou huisvesting en menasie-etes betaal uit ’n karige polisie-salaris.
Op ’n dag sit ek in die menasie en raak aan die gesels met ’n ou wat besig is met die menasie se boekhouding. Hy verduidelik aan my hoe die stelsel werk met betrekking tot die prisoniers se kos. Vir elke bord kos wat aan ’n prisonier verskaf word en dus van die Staat geëis word, kry die menasielede, dit wil sê polisielede, ’n geringe afslag op hul maandelikse menasiegeld.
Dit beteken hoe meer prisoniers daar in die plaaslike selle opgesluit is, hoe groter afslag kry ons. Dit was in die tyd toe swart mense nog die gehate pasboekies moes dra, en dit was so maklik om ’n trok te vat, die naaste plaas te gaan raid en al die boer se werkers sonder pasboekies toe te sluit. Ek het ook gesien hoe polisielede wettige pasboekies doodeenvoudig afneem en weggooi sodat die kwota prisoniers vir die aand gearresteer kan word en meer eise vir etes ingedien kan word.
Dit was uiters moeilik vir ’n jong polisieman pas uit die kollege om sy voete te vind. Senior personeel verskreeu jou, jy is niks. Met teetye moet jy wag tot laaste en as daar dalk ’n bietjie tee oor is, moet jy toestemming vra voor jy jou mag help.
Maar ek kry tog die geleentheid om die ou manne terug te betaal. Die stasiebevelvoerder van Springs stuur my op ’n dag om ’n nuwe niesmasjien by die Meganiese Bestuurskool in Benoni te gaan afhaal. Die masjien is agter op ’n Landrover gemonteer, en ek sou by die Bestuurskool gou ’n kort kursus in die bedryf en hantering daarvan ondergaan.
Die masjien is ’n nuwe ontwerp en sou aangewend word om skares te beheer in geval van onluste. Dit is ’n redelik eenvoudige toestel wat met kontroles binne-in die voertuigkajuit beheer word. Agter op die bak is ’n soort vierkantige metaalboks gemonteer, en bo-op die boks ’n toestel wat lyk soos ’n groot spreekbuis wat driehonderd-en-sestig grade kan roteer. Skakel jy die affêre aan, kom daar ’n baie fyn, wit, poeieragtige stof uit die bek van die spreekbuis
en dit word deur ’n waaier versprei. Dié stof is die niespoeier en dit tas omstanders se oë, neus en armholtes aan, enige plek waar jy vog op jou lyf het. Dit veroorsaak ’n irriterende branderigheid wat jou laat nies. Snaaks genoeg het dié poeier, asook traanrook, geen uitwerking op honde en perde nie, en dit is hoekom die polisie dié diere in onluste kan gebruik.
Op pad terug met die masjien kom sit die duiwel op my skouer. Ek stop langs die pad en haal versigtig ’n plastieksak vol van hierdie poeier uit die masjien se houer. Twee weke later vat ek ’n koppie vol van die poeier en strooi dit uit die boonste verdieping van die polisiestasie af in die binneplein waar almal staan en tee drink. Dit veroorsaak chaos. Al die administratiewe kantore se deure loop uit op die binneplein waar ek die poeier gegooi het. Vir drie dae kan niemand hul werk doen of in hul kantore kom nie. Jy kan ook nie die poeier afstof waar dit op die rakke gaan lê het nie, want dan begin die niesery van voor af.
Die stasiebevelvoerder belowe om die persoon wat hiervoor verantwoordelik is persoonlik toe te sluit. Ek was lank ’n verdagte, maar niemand het my die poeier sien strooi nie. Dit was my wraak op die senior personeel wat ons juniors altyd van die teekan af weggehou het.
Ander lede het later ook van die poeier in die hande gekry en wanneer daar ’n bakleiery in ’n hotel uitbreek, het hulle ’n bietjie daarvan in die lugreëlingstelsel gegooi. Die fight was binne sekondes oor en die hotel gesluit. Plekke waar leeglêers gewoonlik geslaap en rondgehang het, is ook met die poeier bestrooi, en dit was die einde van die leeglêery.
Die dissipline in die Polisie was streng, maar dis werklik deur sommige oordoen. En tog, as ek moet kies tussen toe en nou, kies ek maar weer daardie jare se dissipline, want wat deesdae in die Suid-Afrikaanse