Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

As die stroom jou vat
As die stroom jou vat
As die stroom jou vat
Ebook191 pages2 hours

As die stroom jou vat

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

“Dit is kritiek belangrik om nóú reeds, wanneer ’n mens normaal redeneer, met jou familie en vriende ooreen te kom: Help hou my geharnas teen die afgrond. Hou my dop. Wanneer ek weer in ’n depressie verval help maak seker dat ek betyds professionele hulp kry en daarmee volhou…”Ná haar pa se selfmoord beloof Jeanne Els haarself dat sy nóóit so iets sal doen nie. Jare later word sy self deur die stroom meegesleur. Sy sluk ’n oordosis voorgeskrewe pille terwyl die res van haar gesin elders in die huis rugby op televisie kyk en die grassnyers buite zoem...In As die stroom jou vat beskryf Jeanne hoe sy, danksy genade, volgehoue terapie en medikasie, haar lewe kon hervat.Sy ondersoek die raaisel van selfmoord en gesels openhartig met ander bekendes wat probeer selfmoord pleeg het en met gesinslede en vriende wat die selfmoord van ’n  geliefde beleef het.Een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde psigiaters deel sy kundigheid en daar is uittreksels uit selfmoordbriewe.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 15, 2011
ISBN9780624058458
As die stroom jou vat

Related to As die stroom jou vat

Related ebooks

Related articles

Reviews for As die stroom jou vat

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    As die stroom jou vat - Jeanne Els

    Vir my pa, Christiaan Beyers. In 13 jaar het jy my mildelik van die lewe geleer.

    A warrior of light accepts his Personal legend completely.

    His angel whispers: You are only an instrument of the light. There is no reason to feel proud or to feel guilty.

    Manual of the Warrior of Light, Paulo Coelho (2003)

    Voorwoord

    Op ’n Sondag in die lente van 2006, sewe-uur daardie aand, om presies te wees, is ek verby ’n punt gedryf waar ek oortuig was ek nooit sou beland nie. Ek het berekend ’n oordosis voorgeskrewe pille geneem, terwyl my man en ons sewentien- en veertienjarige seuns elders in die huis met hulle naweekdinge besig was.

    Daarna is ek die diepte in.

    Dat ek daar uitgekom het, is danksy genade, volgehoue mediese hulp en medikasie.

    Ek het nooit kon dink ek sou my lewe neem nie, want ek weet watter hartseer dit bring. My suksesvolle, liefdevolle pa het homself in die herfs, donkeroggend, weens erge depressie en ’n chemiese wanbalans van hierdie wêreld weggeneem. Ek was toe dertien jaar oud, en ek ken die gemis aan hom, die hoekoms (hy het geen briefie gelaat nie), die selfverwyt van familielede en vriende wat reken hulle kon dalk sy dood gekeer het. Hoekom sou ek dan dieselfde hartseer oor my geliefdes wou bring?

    Maar dit is wat ’n chemiese wanbalans (die gebrek aan neuro-oordragstowwe) aan jou gemoedstoestand kan doen. Dit skommel jou denke só deurmekaar dat jy naderhand vas glo die beste uitweg is om jou lewe te beëindig. Net soos Pa het ek dít geglo nadat major depressiewe versteuring ’n paar dae voor my poging by my gediagnoseer is.

    In dié boek vertel Steve Hofmeyr, Jaypee Malherbe en ’n anonieme man saam met my wat in ons hart en kop gebroei het toe ons in ons oomblikke van emosionele nood onlogies geredeneer en verkeerdelik ’n uitkoms in ’n voortydige dood gesien het. Ons het dit beskou as ’n ontvlugting van die donker woud waarin ons vasgekeer gevoel het. Vir my was die neem van die oordosis pille soos ’n salige wals, ’n sussende wegvlug na wat ek gemeen het ’n gerusstellender skuiling sou wees, ’n uitkykpunt met geen emosionele rotsstortings en naggediertes meer nie.

    Net soos my eerste boek, Ligdans – depressievegters se verhale van hoop, is hierdie boek ’n eerlike, pront vertelling oor ’n sensitiewe onderwerp. Geen doekies word omgedraai oor die werklikheid nie, maar terselfdertyd skemer hier lig deur. En hoop. Want as iemand wat sy lewe wil neem, betyds hulp soek en bygestaan word, kán sy daad dikwels gekeer word; kán sy gemoedstoestand meestal gestabiliseer word en sy lewensgehalte verbeter sodat sy toekoms vir hom die moeite werd word.

    Die psigiater dr. Henri Olivier stel dit pertinent in sy hoofstuk (bl.121): As jy een keer gedurende ’n depressie-terugslag jou lewe tot ’n einde probeer bring het, is die kans goed dat jy dit met ’n volgende insinking, wanneer jy nogmaals irrasioneel gaan redeneer, weer gaan doen, selfs al het jy in jou hersteltyd of gesonde fase besef jy het nie met jou vorige terugslag rasioneel geredeneer nie. Daardie volgende keer gaan jou poging om ’n kosbare lewe te beëindig, of dié van daardie iemand vir wie jy lief is, waarskynlik slaag. Daarom is dit van kritieke belang om nóú reeds, wanneer jy normaal redeneer, met jou familie en vriende ooreen te kom: Help om my veilig van die afgrond af weg te hou. Hou my dop. Wanneer ek weer in ’n depressie verval, help dat ek betyds professionele hulp kry en daarmee volhou.

    Wat my veral gedryf het om hierdie boek te skryf, is mense wat hulle ervarings vir my vertel het – hulle eie, of dié van geliefdes wat hulle lewe geneem het, of sulke pogings oorleef het. Hulle praat hulle binnegoed uit op kunstefeeste waar ek met Ligdans of met my tweede boek, Tango – ligvoets deur die lewe, opgetree het; hulle kom gesels by leeskringe, sake-etes, depressie-ondersteuningsgroepe, skool- en kerkgesellighede. Hulle wíl praat, want die seer van ’n geliefde wat sy lewe beëindig, is ’n wond wat nie sommer genees nie.

    Hoe vertroos ’n mens wanneer jy by ’n kerkdiens oor depressie praat en ’n ma met twee dogtertjies bring agterna ’n Ligdans en vra: Skryf iets voorin vir my man. Énigiets wat kan help lig bring. Sy sê hulle is op pad om vir hom te gaan kuier in ’n hospitaal vir mense met geestesiektes nadat hy die tweede keer sy lewe probeer neem het. Terwyl jy dink wat jy behoort te skryf, kyk die sesjarige dogtertjie vir jou; die ma se stem raak yl; en die negejarige streel haar arm en sê: Mamma, moenie huil nie.

    Nog ’n vrou wil voorin Ligdans ’n persoonlike boodskap geskryf hê vir haar ma van in die tagtig wat skuldig voel omdat haar middeljarige seun homself uitgewis het. Sy vertel: My broer se tienerdogter wou by my weet hoekom skryf die koerant op sy voorblad: ‘Prokureur hang homself’. Toe sê ek koerante is ’n onderneming wat moet geld maak; sy moet liewer dink aan die opskrif as: ‘My Pappa was baie, baie siek’.

    ’n Welgestelde boer beskryf hoe sy vrou die vorige week nog hulle dogter se spogtroue gereël het; niemand het opgemerk daar was fout met haar gemoedstoestand nie. Die aand ná die onthaal op hulle plaas kry hy haar in die motorhuis op die agtersitplek van hulle motor, opgekrul onder ’n kombers, besig om haarself te vergas. Gelukkig kan hy haar betyds red.

    Gedurende ’n Ligdans-praatjie op die platteland staan ’n man agter in die saal op. Ek erken vanaand vir die eerste keer ek was al self in die diepste van emosionele donkertes en verwardheid, sê hy. Ek het hier buite die dorp by die hoofpad gestaan en na die aankomende voertuie gekyk; gewonder voor watter bakkie of vragmotor moet ek my ingooi.

    By dieselfde samekoms sê ’n vrou sy het gekom om ’n antwoord te probeer vind: Waarom het haar universiteitseun homself doodgeskiet? Kort tevore nog het hy sy kop vasgehou, dit geskud, huilend gesê: Mamma, ek is moeg. My kop raas, raas, ráás.

    ’n Zimbabwiër wat in Kaapstad kom aftree het, vertel my hy en sy vrou hou op die Karibadam saam met ’n groep ou vriende in ’n huisboot vakansie. Terwyl hulle een aand op die dek kuier, spring ’n mansvriend tussen die krokodille langs die boot in. Hulle vreet hom op. Agterna verklaar die man se vrou hy was jare lank ’n depressielyer.

    In 2010 is daar onder die hofie Sterfgevalle in Die Burger ’n foto van ’n negentienjarige donkerkopmeisie met bruin oë. Sy kyk reguit en met ’n glimlag in die kamera; dit lyk of sy ’n lús vir die lewe het. Ons is verslae en geskok en gaan jou baie mis, staan onder die foto. In ’n ander doodsberig oor haar: "Ek is stukkend oor jou, maar ek weet die aarde het geen hartseer wat die Hemel nie kan genees nie."

    Daar is heelwat mense wat nie langer kans gesien het vir die lewe nie wat op ’n manier na aan my was. ’n Paar het ek nie só goed geken nie, ander was heelwat nader aan my. Wat sáák maak, is dat hulle kosbare lewens was:

    ’n Kollega se broer parkeer op sy een-en twintigste verjaardag sy motor naby sy pa se graf en vergas homself.

    Nog ’n kollega se dokter-broer skiet homself by sy huis nadat hy vroeër as gewoonlik van die hospitaal af tuisgekom het. Hy het ’n vrou en jong kinders. Jare daarna skiet die kollega se seun, ’n mediese student, homself.

    Toe ek swanger was met my oudste seun, vertel die vrou wat vir my voorgeboorteklasse gee haar suster, ’n pediater in Brittanje, het haar eie lewe geneem weens nageboortedepressie.

    Een middag, terwyl ek in Bakoven, Kaapstad, in ons sitkamer met sy see-uitsig sit en skryf, stap ’n man in ’n pak klere en met ’n aktetas uit op ’n breë rots. Hy haal ’n rewolwer met ’n knaldemper uit en skiet homself dood. Ons buurman kom vertel dit nadat hy polisiebeamptes op die toneel gesien en gaan ondersoek instel het.

    Op Kersaand aan die einde van my graad 10-jaar, 21 maande nadat Pa sy lewe geneem het, kuier ek by my beste vriendin en haar familie op Kleinmond. Pas nadat die Kersgeskenke uitgedeel is, storm my vriendin se ma gillend die donker in, na die rotse. ’n Man is agterna, kom naderhand uit die nag met haar terug, sy arms beskermend om haar. Jare later neem daardie vrou haar lewe.

    Dis Tweede Nuwejaarsdag. Ons laai ons hoërskoolseun by ’n maat af en dié se dokter-pa kry ’n oproep van sy spreekkamer af dat sy jong vennoot pas gevind is in sy woonstel in Kaapstad waar hy alleen gewoon het. Hy het homself in die feestyd doodgeskiet.

    My seun se veertienjarige maat kuier ’n Saterdagaand by vriende en kry ’n oproep: Sy enkelouer-ma in Houtbaai het ’n oordosis pille geneem. Sy het daarna die ambulansdiens gebel, maar met hulle aankoms is sy dood. Kort tevore is sy by ’n universiteit aangestel as dosent in die sielkunde.

    Op 12 November 2002 sterf die sanger Johannes Kerkorrel buite Kleinmond. Hy word gevind waar hy aan sy lyfband aan ’n boom hang met vier sny- of steekwonde aan sy nek.

    Ek het nie Kerkorrel, die legende, geken nie; vir mý was hy Ralph Rabie, die joernalis. Hy was my kollega wat in 1984 en 1985 saam met my snags in Kaapstad in Die Burger se nagkantoor berigte persklaar gemaak het, die ligtekop-introvert met die mooi groot hande wat soms langs my sit en redigeer het. Dan het hy herhaalde kere vertel hoe hy na sy ma, Annie, in die noorde verlang. Die dikwels stil man met die skaamskewe glimlag, met tóé al skemertes van moegheid en weerloosheid in sy grougroen oë. Ralph het baie middae by die nagkantoor ingestap en gesê: "Ek is so upset vandag."

    Volgens die organisasie Survivors of Suicide (gaan kyk by www.survivorsofsuicide.co.za) neem gemiddeld 22 mense elke dag in Suid-Afrika hulle lewe, en wêreldwyd sterf ’n miljoen mense jaarliks op dié wyse. Dit beteken dat iemand elke veertig sekondes weens selfbeëindiging sterf.

    Die Franse skrywer-filosoof Albert Camus het gesê daar is net een werklik ernstige filosofiese probleem: selfbeëindiging. Die kwessie van ’n mens wat sy lewe neem, ís en bly tergend. Mag dié boek help om meer helderheid oor hierdie raaisel te bring, en mag jy berusting kry as die monster van selfbeëindiging jou op watter manier ook al persoonlik raak. Mag jy, soos ek, uiteindelik ook genesing vind.

    Dit is ’n lang, stadige proses. Maar dit is moontlik.

    Jeanne Els

    Februarie 2011

    1

    MY VERHAAL

    DEEL 1: EK LEEF MET PA SE DOOD

    Hulle het my, die dertienjarige laatlam, die Saterdagmiddag by ’n maat kom haal. Dit was einde Maart 1973 in die Paarl, herfsvakansie, en ek het heeldag gewag op dié oomblik, want hulle het my pa, Beyers, vroegdag al begin soek.

    Pieter, my jongste broer, wat op universiteit was, was agter die stuur van Ma se rooi Renaultjie en my peetma het langs hom gesit. Toe ek inklim, draai tannie Dulcie om, sit haar hand op my skoot. Haar magrietblou oë kyk my vas en sy sê: Jeanne, jou pa het sy lewe geneem. Hy het homself geskiet. Hulle het hom laat vanoggend in die berg bo julle huis gekry. Dit is vir ons almal ’n geweldige skok. Jou pa was baie siek van depressie. Niemand het besef hoe erg sy siekte was nie. Daar is nou baie mense by julle huis wat jou ma bystaan. Dis hoekom ons gewag het voor ons jou kom haal.

    Dat Pa homself doodgemaak het, was teen dié tyd nie meer vir my ’n skok nie. Ek het my heeldag op die nuus voorberei, want ek het sy roomkleurige Mercedes al elfuur vanoggend by die doodloop teen die bult van Klein-Reservoirstraat gesien, tweehonderd meter van ons huis af. Dit was by die ingang na die dam aan die voet van Paarlberg geparkeer, onder die eikebome wat ek so goed ken. Ek het halfpad met die straat opgeloop, stadig,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1