Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Sedert Die Dood Ons Skei
Sedert Die Dood Ons Skei
Sedert Die Dood Ons Skei
Ebook303 pages4 hours

Sedert Die Dood Ons Skei

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie verhalende nie-fiktiewe werk vertel die storie van Beryl Botman wat aan Russel Botman onthul hoe sy sy skielike afsterwe ervaar en hanteer. “Hoe moet sy leer leef en hul liefde vir mekaar herken in hierdie nuwe dimensies van bestaan?” is die sentrale vraagstuk van die eenrigtinggesprek. Die gebeure speel af vanaf die oomblikke voordat sy besef dat Russel gesterf het tot die op die dag van die eerste herdenking van sy afsterwe – die verloop van een jaar. Dis vir haar die jaar waarin sy haar op haar diepste sterkpunte beroep; haar troebelste swakhede in die gesig staar en op haar hele wording staatmaak om selfs een tree te gee.
Die vertelling vind in drie dele plaas en begin met ‘n dag-vir-dag weergawe van die eerste twee weke van ervaringe en gewaarwordinge. Die daaropvolgende twee dele is weeklikse en daarna maandlikse onthullings. Haar spirituele en reële blootlegging volg ‘n reis vanaf Stellenbosch tot Wynberg en sommige ander plekke in die wêreld. Beryl hanteer lewensveranderende besluite en optredes in haar wêreld met die gemak en liefdevolle ondersteuning van familie en vriende, en terselfdertyd die vyandigheid van ander familie en die afsydigheid en verwerping van vriende en kennisse.

LanguageAfrikaans
PublisherBeryl Botman
Release dateAug 5, 2022
ISBN9781005848026
Sedert Die Dood Ons Skei

Related to Sedert Die Dood Ons Skei

Related ebooks

Related articles

Reviews for Sedert Die Dood Ons Skei

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Sedert Die Dood Ons Skei - Beryl Botman

    Deel I

    Dag vir Dag

    Saterdag, 28 Junie 2014

    Dit moes seker gebeur het. Ek moes soveel langer en dieper as gewoonlik geslaap het en sonder jou langs my wakkerskrik. Dis mos wat die oumense sê, gebeur. Eers kon ek in die stikdonker nie agterkom waar ek is nie.

    Ek vryf my oë en herinner myself daaraan dat jy my altyd maan om nie so hard te vryf nie, want jy’s bang ek vryf my oë uit. Dan kom ek agter dat ek pas in die gastekamer wakkergeword het. Gewoonlik slaap ek hier as ek jou nie wil steur nie. Hierdie keer wou ek nie dat jy my steur nie, want dis `n harde naweek van die laaste paar bladsye van hersiening aan my proefskrif en dan die gevreesde bronnelys wat op my wag. Maandag stuur ek dit na die redigeerder.

    My oë is nou gewoond aan die donker. My oog beweeg eerstens na die bed in die ver linkerhoek van hierdie dubbelkamer. Die bed is nou leeg waar jy nog net gister vir `n rukkie gelê het, terwyl ons slaapkamer skoongemaak word. Hierdie kamer wat ons nog net so gelos het soos ons dit gekoop het, twee kamers met `n groot opening in die skeidsmuur. Ek sit en wonder of ons dit nie tóg maar moet toebou en weer twee kamers skep nie. In elk geval.

    Dan dwaal my oë na die klerekas net langs die bed waarin ek sit. Ek kan dit net-net begin sien. Ek herken die drie deure. Al drie is toe, al drie dieselfde grootte, al drie wit, al drie dieselfde. Maar nee, daar is wel één verskil. Al drie maak nie in dieselfde rigting oop nie. Daar is een wat anders oopmaak. Dis die een aan die heel regterkant. Ek kan myself nie herinner dat ek al ooit vantevore hieroor gewonder het nie. Nou begin ek myself afvra wat agter elke deur skuil. Is dit wat agter die anderste deur skuil anders as die ander twee? Hoekom wonder ek hieroor? Ek het tog sóveel keer al drie deure oopgemaak, goed ingesit of opgehang en uitgehaal. Ja, nou onthou ek. Dit is inderdaad anders. Die ander twee deure verskuil klere, onder meer jou toga, en die derde linne. Nou raak die kas weer bekend. Die geluide van buite is bekend. Ek hoor `n hond blaf en wat klink soos `n trein. Kan dit dan al so laat wees? Het ek so lank geslaap? As ek hier slaap, skrik ek gewoonlik in die middel van die nag wakker en gaan kruip weer saggies langs jou in. Ek reik my regterhand uit na my selfoon om die tyd te kyk. Dis waarlik al vyf voor ses.

    Hier binne die huis is alles doodstil.

    Ek swaai my bene uit die bed en plaas my voete op die sagte tapyt. Ek het nie my slippers saamgebring nie en staan kaalvoet op, loer deur `n skrefie van die gordyne en sien dat die son nog nie op is nie. Miskien is jy al wakker.

    Die lae ligte, so na aan die vloer, op die trap is dof aan. Ons slaapkamerdeur staan wawyd oop. Die lig van die trappe wat na die onderste verdieping lei, laat my glimlag. Nie lank gelede nie, toe ek al die ligte afgeskakel het, het jy gevra dat ek iewers `n lig moet aanlos. Ek het my nog vir jou vererg want ek wonder toe wat met jou aangaan. Jy wat van die donker hou. Jy wat van swaar, donker gordyne hou, want jy het dit so aan my verduidelik: As ek in die dag wil slaap, moet ek die gordyne dig kan trek, dan moet dit binne nag wees. Maar nou ja. Ek stap tree vir tree in.

    Daar lê jy…

    Jy is nog vas aan die slaap. Ek’s so bly want jy was gisteraand en die vorige paar dae glad nie wel nie. En jy was veral gisteraand só rusteloos. Ek hoop jy voel vandag beter, andersins neem ek jou Medilclinic toe. Jy het belowe.

    Ons nuwe donskombers was seker een te veel vir jou gisteraand. Dit is tog nie so koud nie. Ek sien jy het jou been oopgegooi. Ek stap om die bed en lê my hand op jou boud. Dit is só koud.

    Ek sal jou maar laat rus. Jy het seker nie veel slaap ingekry nie. Ek trek die kombers oor jou koue boud en besluit om maar eers weer terug na die kamer langsaan te gaan en `n fliek op True Movies te gaan kyk.

    Ek skakel die televisie aan, maar my aandag is aanvanklik nie by die storie nie. Ek bekyk nou eers weer die kamer. Ek kyk na die televisie self. Dis klein en swart en staan op die TV-kabinet. Die kabinet is in dieselfde houtafwerking as die oorkantse leë bed en die een waarin ek sit. Dis net die kas wat anders is. Dit is wit.

    Ek merk die twee glasdeurtjies van die kabinet is albei toe. Agter die deurtjies is die netjiese stapels CD’S. Ek herinner myself dat ek nog deur elkeen moet gaan en seker maak dat die regte een in sy houer is. Ek is doodseker hulle is goed deurmekaar en daar is sekerlik ook vele leë houers en CD’S sonder houers. Dít sal ek doen as ek eers tyd het. Dit moet maar wag totdat ek met my proefskrif klaar is. Dis nie meer lank nie. Augustus moet ek vir eksaminering indien. Desember kry ek graad.

    Die fliek is om halfagt klaar. Ek staan weer op en stap versigtig by ons kamer in. Na net een tree sien ek dat jy nog steeds slaap. Ek draai dadelik om op pad na die kombuis op die onderste vloer om ons eerste koppie koffie te gaan maak. Terwyl die ketel kook gaan haal ek die oggend koerante in. Ek maak die koffie. Met die twee klein, smal bekertjies uit Amsterdam in elke hand, bestyg ek die trappe. Koerante skoon vergete. As jy nou nog slaap, sal ek jou wakker maak. Ons sal oudergewoonte eers koffie drink, begin lees, dan maak ek ontbyt-in-die-bed.

    In die deur steek ek vas. Jy lê dan presies soos ek jou vanoggend vir die eerste keer kom kry het. Presies dieselfde.

    Dis `n wonder dat ek nie die koffie laat val nie. Ek sit vinnig die bekertjies op die bedkassie aan my kant van die bed neer.

    Ek kyk in jou gesig.

    Ek sê hardop: Maar jy’s dan dood!

    Ek dink: Dis heeltemal te vroeg.

    Ek bid: Dankie Here dat U hom kom haal het, verlos het.

    Jou liggaam rus op jou kant van die bed. Jy lê op jou linkersy met jou rug na die venster. Jou kop rus op my kussing – net die een. Albei hande is in vuiste en stut jou kop. Jou oë is toe, jou mond oop. Dit lyk asof jy slaap. So rustig soos net jy kan slaap.

    Ek wéét jy’s dood. Ek moet seker maak. Ek roep hardop jou naam. Drie of vier keer. Moet ek jou skud? Ek skud jou en roep nog `n maal. Jou regtervuis kom los en kom effe weg van jou gesig tot stilstand. Stokstyf.

    Wat nou? Trap af. Onder gekom, weer op. Ek kyk na jou. Wat nou? Weer trap af en op. Ek moet jou dokter bel. Ek stap om na jou kant van die bed. Tel jou selfoon op. Probeer onthou wat jou dokter se naam is. Kan nie. Kry glad nie my vingers beweeg nie. Met die foon weer trap af en dadelik weer op. Staar na jou foon. Miskien moet ek maar mý dokter bel. Tel my selfoon op in my linkerhand. Onthou ook glad nie my dokter se naam nie. Weet nou nie eers hoe om te soek nie. Vingers is star, versteen. Wat nou?

    Laat ek nou liewer straataf ry, Medilclinic toe. Daar sal ek `n dokter kry. Maak gereed. Watter klere ek aantrek, kan ek nou nie onthou nie. Seker maar die klere wat ek gister gedra het en nog op die stoel was. Trap af. Kry die motorsleutel, jou motorsleutel. Maak die garagedeur oop. Ek ry straataf.

    Die pad is doodstil. Die enigste lewe is ek. Die blare lê in die straat en op weerskante van die sypaadjies. Dit is nog baie groen. Net enkele bome het van, of al hul blare verloor. Dis stil, nie net sonder geluid nie, maar ook beweging. Geen luggie wat trek nie. Niks roer nie. Dis doodstil. Alles staan stil.

    By Medilclinic aangekom, kan ek glad nie uitwerk waar die ingang is nie. Ek lees die woord ambulance by die ingang. Ek sien die deur is met `n ketting aan die binnekant gesluit. Nou ruk ek maar aan die deure. Daarbinne kom iemand aangehardloop. Ek draai my kop regs en merk dan eers die woord ingang. Dis `n verpleegsuster wat my eerste bereik. Nou moet ek kalm bly, sodat hulle kan verstaan wat ek sê.

    My man is dood. n Dokter moet kom."

    Nog mense sluit by ons aan. Hoe weet jy hy’s dood?

    Ek kon sien en voel en hoor.

    Kom binne dat ons jou kan kalmeer, ons sal iemand stuur. Waar woon julle? vra iemand.

    nee, ek kan nie hier bly nie. Ek is kalm genoeg. Ek moet saamgaan, want ek moet julle by die huis inlaat.

    Hoe het jy hier gekom? kom nog `n vraag.

    Ek het self bestuur.

    Jy kan nie terug bestuur nie.

    Ek kan.

    Goed, sê die dokter aan die suster, gaan jy saam met haar en ek sal volg.

    Ons ry die enkele straat af tot by die huis. Ons gaan met die trap op na die slaapkamer. Die suster stap om die bed en voel vir n polsslag. Geen polsslag nie. Die dokter sal kom en bevestig. Die deurklokkie lui. Dis die dokter.

    Dit ís verby.

    Ek bel my suster, Veronica. Russel is dood.

    Is jy seker? Is hy nie net in `n koma nie? wou sy weet.

    Hy is dood.

    Die suster beveel my om te sit. Ek bel die kinders een vir een: Ek kry nie jou pa wakker nie. Ilse se foon werk nie. Ek bel haar buurvrou in Ugie. Tien, twaalf maal, geen antwoord nie. Ek bel Leopoldt. Hy moet ook van die eerstes wees wat moet weet. Die suster sê ek moet ophou bel, maar ek moet nog een oproep maak. Ek moet Grace laat weet. Sy kan verder…

    Medilclinic stuur n ambulans en stel die polisie in kennis. Nou onthou ek nie meer wie kom eerste nie. Ek is nie seker hoe die gebeure op mekaar volg nie. Ek onthou net die ambulans daag op en hulle stuur my uit die kamer. Die polisie daag ook op en vra n paar vrae, terwyl ek nog in die slaapkamer is. Hulle wou weet van jou gesondheidstoestand. Ek verklaar jou gesondheidstoestand en lig hulle in van die medikasie wat jy jare lanks reeds gebruik het en dat jy hierdie week vir `n maagongesteldheid medikasie van die dokter gekry het. Die polisie is tevrede dat jy aan natuurlike oorsake oorlede is.

    As ek onder kom, is daar nog meer mense. Ek weet nie wie het eerste opgedaag nie, Veronica, Keith en Neil, my broers. Ons kinders, Hayman, Lizelle en Roxanne? Ek onthou nie. Ilse weet nog nie. Ek probeer Ilse weer in die hande kry. Geen antwoord nie.

    Mense kom aan, my selfoon lui, die landlyn lui. Ek vertel oor en oor. Oor en oor. Oor en oor.

    Ek besluit om Hazel in Ugie te bel. Sy is op pad MacLear toe, maar sy sal omdraai en Ilse vra om my te skakel. Dad is dood.

    Na `n paar minute bel Ilse terug, Mom, dis glad nie mooi van jou nie. `n Mens maak nie sulke grappe nie.

    Dis nie `n grap nie.

    Deon bel, Ethne bel. Hulle kom uit Johannesburg. Grace kom uit Port Elizabeth. Jou broer en susters is op pad. Dis skoolvakansie.

    Ek vertel oor en oor. Saffraanlaan is in beroering op hierdie Saterdagoggend, hierdie sonnige wintersoggend. Hierdie Saffraanlaan wat netnou nog so doodstil was. Doodstil.

    Jenny bel om te hoor of dit waar is. Ja. Sy kom. Sy is op pad.

    Die huis is vol mense. Ek is nou meestal in die familiekamer langs die kombuis. Leopoldt is ook van die eerstes wat opdaag. Nico is ook hier. En Johan. Johan Botha. Ag, en nog baie ander. En ek vertel. Ek sit op die bottergeel hoekrusbank. So met my rug na die reusespieël.

    Voor my is die kroeg, jou kroeg. Jy was tog so ingenome daarmee. Teen die muur agter die toonbank hang die afdruk van 100 Famous People. Dit was altyd een van die gesprekspunte met ons gaste. Onthou jy, veral toe die studenteraadslede hier kom kuier het? En daar staan die klein landsvlag ook. Jy het so hard gewerk vir hierdie land se vooruitgang. Links by die kroeg verby is die deur na die studeerkamer – jou studeerkamer wat ek tydelik oorgeneem het met my proefskrifdinge. My oë weier om deur daardie deur te gaan. Ek moes nou daarbinne gewees het. Besig met die laaste paar bladsye van hersiening, en dan nog ook die gevreesde deurmekaar, onvolledige bibliografie. Dit moes ek alles hierdie naweek afhandel. Dit sal nie kan nie.

    Leopoldt wil weet watter begrafnisondernemers ek wil gebruik. Jy weet, hy het dadelik laat besluit dat die US, jou US, verantwoordelikheid vir jou begrafnis aanvaar. Hy onderneem om te wag op my besluite oor alles en dit dan uit te voer. Terug na die begrafnisondernemers. Jy weet ons het baie oor die dood en ons afsonderlike of gesamentlike begrafnis gepraat. Jy het `n hele lys van voorskrifte gehad, maar voorkeur vir `n begrafnisondernemer was nie een van hulle nie. Begrafnisondernemer? Watter een vir jou begrafnis? Die sukses van advertensiewese skop in. Wat van Doves? Ja, kom ons kry Doves. Nou vir die gewag op Doves.

    Soos ek vroeër gesê het, was ek meestal in die familiekamer. Jy lê nog bo. Ons wag op Doves. Johan kom. Ja, ek het al gesê. Hy vra om jou te sien. Ek neem hom op. Ek dink Nico is ook by. Ons staan daar om die bed waar jy rustig op jou sy lê. Johan bid.

    Nou wil ek jou begin vertel hoe ek gehuil het. Ek is nie seker op watter moment ek op daardie oggend vir die eerste keer begin huil het nie, maar ek kan jou dít sê, ek kan nie onthou dat ek al ooit só gehuil het nie. Ek sê jou: snot en trane. Die huil kom vanaf hier diep binne my asof dit iets hierbinne wil loswikkel en uitspoeg. Dis sulke harde weengeluide waaroor ek geen beheer het nie. Ek was glad nie een van daardie stilwenende weduwees nie. Dit was kliphard en sopnat. Met al hierdie pogings om my binneste los te wikkel en uit my te kry, is al wat uitkom nat en hard. Die pyn steek vas. Ek huil totdat ek hees is en dan raak ek rustig. Totdat nog iemand opdaag.

    En tussen dit alles, daag Wilhelm Absolom op om ons klein elektriese uitdagings te kom uitsorteer.

    George Steyn is ook hier. Ek is jammer, ek weet dis jou raadsvoorsitter, maar ek verstar.

    Ons wag nog op Doves. Na vele ure daag Doves uiteindelik op. Ek staan onder by die trap. Hulle dra jou stadig en versigtig af. Ek kan nou nie onthou of dit Johan of Nico of iemand anders is wat vra dat ons weer `n gebed doen voordat jou oorskot die huis verlaat nie.

    Keith lig my in dat die pers nog buite is. Ek het vergeet om vroeër te noem dat lede van die pers gevra het om in die huis te kom. Ek was nie daarvoor gereed nie. Ek het alle navrae na die Universiteit Stellenbosch se skakelafdeling verwys. Martin is aangewys as segspersoon. Die arme Martin was self so diep geskok en het gesê die pers moet op `n amptelike verklaring van die US wag. Ek besluit dat hulle jou nie by die voordeur moet uitdra nie, want dan gaan die fotograwe foto’s van jou neem en jy gaan so in die koerante verskyn. Nee. Die ambulans moet agteruit tot by die garagedeur kom sodat jy daar ingelaai kon word.

    Toe ry hulle met jou weg…

    Ilse is op pad. Grace, Quintin en Danae is ook op pad.

    Veronica besluit sy bly by my. Ek moet nou begin besluit oor die reëlings vir die begrafnis. Ek besluit om te wag tot dat jou broer en susters hier is, sodat ons saam met ons kinders daardie besluite kan neem. Jy het my voorberei vir hierdie dag, dat ek jou begrafnis moet reël, maar glad nie hiervoor nie. Ek het glad nie besef wat op my wag nie.

    Martie van der Linde is deur die US aangewys om my met die huishouding by te staan. Jy weet mos Martie is goed met reëlings. Sy sal ook die begrafnis as geleentheid reël. Ek is tevrede. Die reëlings is in goeie hande. Ek weet dit sal stylvol maar nie oordadig wees nie – soos jy daarvan hou. Dis nou die inhoud waarop ons moet besluit.

    Grace kom laatmiddag aan. Dan huil ons weer. Ek vertel. Ek huil my leeg en begin dan weer van vooraf. Roxanne is die heeltyd om my. Sy hou my elke beweging dop. Ons kind se hart is gebreek. Almal is gebroke. Almal is geskok. Almal is verwese. Wat nou? Hoe nou verder?

    Kan jy onthou dat ek my eetlus al ooit tevore heeltemal verloor het? Almal probeer my voer, maar ek kán nie eet nie.

    Jenny vra of ek wil hê dat sy die huishouding moet kom oorneem. Ek is heeltemal oortuig dat dit glad nie vir haar nodig sal wees om `n week verlof te neem om dit te kom doen nie, want Veronica en my familie is hier, Martie ook en dan het ek mos ook nog my skoonmense wat sal kom bystaan. Nee, baie dankie, Jenny, ons sal regkom. Jenny bly wel in elk geval oor en slaap op die driewartbed in die tweede vrykamer.

    Monique – jou wonderwerker van `n uitvoerende assistent – kom met nog `n kwessie. Ek moet daaroor dink of ek na die begrafnis Skotland toe wil reis. O nee, ek sal nie kan nie, is my eerste antwoord, maar ek sal tóg nog daaroor dink. Nou onthou, ons reëlings vir Skotland is getref. Ons gaan eers Aberdeen toe en vertoef `n paar dae en dan van daar af verder. Alles is gereël vir my en jou reis. Ons het só daarna uitgesien.

    Nou ja, ek sal daaroor dink. Dink is omtrent al wat ek kan doen. Ek kan nie ophou dink nie.

    Mense bel en sê hulle het oor die radio van jou afsterwe gehoor. Ander kom en sê hulle het op die sosiale media daarvan te hore gekom. En dan het mense mekaar laat weet. Die wêreld is aan die gons. Russel Botman het gesterf. Dis nie net die radio wat die nuus dra nie, maar ook die televisie. Die hele land neem kennis van jou afskeid. Afrika neem kennis. En die wye wêreld.

    En die koerante… Joernaliste staan buite in die straat rond. Ek is nie gereed om hulle binne te laat nie. Ons het mos besluit dat Martin Viljoen as woordvoerder moet optree. Nou praat die koerante maar met mense daar buite. Hoekom húlle buite is, weet ek nie.

    So gaan dit die hele dag. Mense kom en gaan. Ek vertel. Ek huil. Ek vertel en huil nog meer.

    Almal is nou weg. Ek lê nou op die naat van my rug en staar in die oopte hierbo my.Veronica slaap nou op die plek waar jy nie so lank gelede nog gelê het nie. My gedagtes maal.

    Vroegoggend het ek eers met die derde kyk gesien jy is dood. Die vrae: Het jy na my gesoek, geroep? Moes ek nie liewer hier by jou gebly het nie? Hoekom het ek so vas en lank geslaap? Het jy na my gesoek? Ek was nie hier nie.

    Dis pikdonker om my. Daar is geen lig op die trap aan vanaand nie. Die gordyne is dig. Geen lig skuif deur nie. My oë bly wawyd oop. Dis doodstil. Ek hoor niks nie. Die nag is lank. Die oggend bly weg.

    Ons moet jou begrafnis reël. En nou nog hierdie ding van Skotland. Wat sal ek doen? Ek kan nie. Ek wil nie. Ek wil nie hier wees nie. Ek wil nie daar wees nie. Ek wil nie wees nie.

    Nou ja, ons lewenspaadjie saam op aarde is kortgeknip. Kortgeknip. Stompaf!

    Daar is `n stramheid, `n ongemak met jou familie. Ek kan nie my vinger daarop lê nie. Phebe het nooit eers gebel nie, Deon en Ethne wel. Grace het probeer skerm dat dit maar Phebe se manier van doen is. Ek weet nie. Ek is onseker. Ek stel dit uit my gedagtes.

    Ek sit vir Grace en haar familie in die dubbele gastekamer met die enkelbed in die verste hoek.

    My gedagtes maal: begrafnis, familie, begrafnis, jy, ons kinders. Wat nou? Boedelsake moet oorstaan tot na die begrafnis, na Skotland. Ja, ek begin dink ek moet Skotland toe. Ek kan een persoon saamneem het Leopoldt laat weet. Wie sal ek saamneem? Jy weet daardie besluit is nie eenvoudig nie. Ons het myne, joune en ons s`n, dis nou ons kinders. Ek sal my argumente agtermekaar moet hê, watter besluit ek ook al neem. Ek sal môre moet besluit. Daar is nie baie tyd nie.

    Tyd – is daar min tyd of baie tyd?

    Hoe laat is dit? Wat maak dit saak? Ek sal hierdie ding moet doen, hierdie pad moet loop. Ek wil nie.

    Die dag begin saggies en stil breek. Die lig raak aan die horison, maar dis nog meer donker as lig. Dis stil. Nog geen trein nie. Selfs die honde is stil. En wat het van die voëls geword? Ek hoor hulle nie.

    Ek het regtig nie verwag dat jy nou al sou sterf nie. Dat jy sou sterf, het ek geweet, of ek het gedink ek weet. Dit was maar net teoreties vir my. Dit besef ek nou. Ek is glad nie hiervoor voorberei nie. Jy het só mooi probeer om my hiervoor voor te berei, maar ek is jammer, ek weet geheel en al nie wat nou verder nie. Jy het altyd daarop aangedring dat ons oor die dood en al sy moontlikhede en nadraaie moet praat. Ons moet praat oor die wat as. Ons moet voorberei vir die wat as. Ek eerste of jy eerste? Nou is dit jy eerste. Wat nou?

    Sondag, 29 Junie

    Die lig neem nou by die donker oor. Dit begin roer in die huis. Die dag begin stadig. Ek is doodmoeg. Ek moet helder dink. Ek moet koershou.

    Deon en Ruth vertrek eers vandag uit Johannesburg. Hulle ry. Jy weet hulle ry. Hulle gaan nog vanaand iewers oorslaap en eers môre aankom. Ek sal vir hom wag voor ons die begrafnisreëlings tref.

    Die oggend is stil. Martie het gereël vir Sondagkos. Die heerlikste lamsboud, groente en rys word afgelewer. Ek het nog geen eetlus nie. Die tyd staan stil.

    Die Sondagkoerante is afgelewer. Jenny bring hulle in: Rapport, Sunday Times, City Press en Weekend Argus, ons gewone Sondagkoerante.

    Jy is voorbladnuus. Rapport dek jou sterfte op bladsy een en twee. Die tweede paragraaf van die voorbladstorie, Rektor sterf skielik in slaap, vind dit goed om ons slaapreëlings te verduidelik. Hul bron het of nie reg geluister nie of die verslaggewers het hom verkeerd verstaan, en hulle kry die storie verdraaid. Dis ék wat in `n ander kamer geslaap het. Onthou jy het altyd gesê as `n mens nie by die waarheid hou nie, gaan jy onmoontlik onthou vir wie jy watter leuen vertel het nie. So ek vertel maar soos ek dit ervaar het. Ongelukkig is dit al wat ek het om te vertel. Jy sou seker ook daarmee saam gesê het, ek hoef nie alles te vertel nie. Alles is nie almal se besigheid nie. `n Mens weet nooit wat mense met die inligting wil maak nie, sou jy byvoeg. Nou ja, ek het nie die krag gehad om nog te oordeel waar om te begin, wat om weg te laat en wat om by te voeg nie. Ek vertel net. Ek vind die beriggewing in hierdie verband in swak smaak. In swak smaak van die koerant én die bron.

    Maar hierdie storielyn het `n vinnige dood gesterf. Dis nou die storie dat ek langsaan geslaap het en jy alleen in ons bed gesterf het – al het hulle dit verkeerd gekry. Geen ander koerant het daardie hoek probeer verder neem nie, behalwe Rapport se susterskoerant, City Press (en dit nogal albei uit die Media24-stal – hoe onsensitief). My kwessie was nie dat Rapport dit opgeneem het nie. My kwessie was wie was in ons huis, het na my geluister, het dit goed gedink om dit met `n joernalis te deel. Wie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1