Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam
Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam
Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam
Ebook287 pages3 hours

Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Pete Smith glo nie aan fantasie en towery nie, maar hy moet sy siening heroorweeg toe iemand vermoor word en hy op pratende muise en vlieënde vullisblikke moet staatmaak om hom van hordes seuns-vretende rotte te red. ’n Lekker avontuurverhaal met skerp dialoog, fyn humor en interessante, menslike, sowel as fantasiekarakters. Dit is een van daardie boeke wat jou met die eerste ragraaf intrek en nie los voordat jy klaar gelees het nie.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780798153034
Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam
Author

Wynand Louw

Wynand Louw is an ear, nose and throat specialist and lives in Tableview. He also lectures at the Tygerberg Hospital Training Unit. In 2005 he received the M.E.R. prize for children's fiction for Mr Humperdinck’s Wonderful Whatsit. In 2009 the Afrikaans translation, Mnr. Humperdinck se wonderlike watsenaam, was also published by Human & Rousseau.

Related to Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam

Related ebooks

Related articles

Reviews for Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam - Wynand Louw

    Mnr. Humperdinck se wonderlike Watsenaam

    Wynand Louw

    Human & Rousseau

    Vir Driaan, Pieter, Katja en Anja

    Ter nagedagtenis aan Estelle Crowson, wat hierdie boek met soveel sorg geredigeer het

    ch 1.tif

    Rotaanval

    Pete se groot avontuur begin in die Geskiedenisklas. Wiskunde en Biologie is oukei, maar halfpad deur die Geskiedenisperie raak hy verveeld. Juffrou Peach karring aan oor een of ander ou genaamd Alexander.

    Pete staar deur die venster na die grou lug bo die hoë baksteenmuur wat die skoolterrein van die stad skei. Hy haat skool: die koue, vaal gange, die vuil skoolbanke, verf wat afdop, bordkrytstof wat sy neus laat jeuk, en die stank van ou pie in die seunstoilette. En die onnies: dit lyk nie of hulle enigsins in die kinders belangstel nie.

    ’n Grys duif draai hoog in die lug.

    Hy wens hy kan vlieg. Soos ’n duif. Of nog beter, ’n gargoyle. ’n Gargoyle sou rêrig uitstekend kon vlieg. Daar is een op die dak van hulle gebou, reg buite die venster van die smerige eenkamerwoonstel waarin hy en sy pa woon. Dit het ’n manjifieke paar klipvlerke. Volgens meneer Humperdinck het dit selfs ’n naam: Babyface Klipstert. Nou nie dat dit rêrig ’n babagevreet volgens menslike standaarde het nie. Maar volgens meneer Humperdinck het nie almal menslike standaarde of menslike babas in gedagte as hulle iemand Babyface noem nie. ’n Gargoyle kan lekker befoeterd lyk, al is sy naam Babyface.

    Juffrou Peach trek by Julius Caesar toe Freddie Mortimer ’n briefie op Pete se skoolbank gooi. Hy loer na Freddie, en dié trek vir hom skewebek. Freddie is sy beste pêl. Hy is ook geniaal, al weet die meeste mense (veral sy onnies) dit nie.

    Daar’s ’n snotbolletjie op jou lip, sê die briefie. Pete steek dit in sy skoolsak wat onder sy tafel lê sonder om twee keer daaroor te dink.

    Smith en Mortimer! Juffrou Peach se stem is soos ’n bliksemslag.

    Juffrou?

    Staan op!

    Hulle staan op.

    Mortimer, het jy nou net vir Smith ’n briefie aangegee?

    Freddie se gesig word rooi. Selfs die wortels van sy blonde borselkuif is rooi. Dit laat sy kopvel soos varkvel lyk.

    Wel, Juffrou, tegnies … Hy’s ’n ou wat maklik uit die vuis praat, maar juffrou Peach gee hom nie ’n kat se kans nie.

    Ek neem aan dit beteken ja?

    Nee, maar ’n mens mag …

    Wel, ek het jou gesien! blaf sy en stap na Pete se tafel waar sy sy ou seilskoolsak optel. Dis hier in, nie waar nie, Smith?

    Pete weet daar is niks wat hy kan sê wat hom sal red nie. Toe hy nie antwoord nie, steek juffrou Peach haar hand in sy boeksak.

    Chaos.

    Dit is juffrou Peach se gil wat hy die beste sal onthou. Die bielie van ’n rot wat aan die punt van haar voorvinger swaai toe sy haar hand uit die sak pluk, maak ook nogal ’n indruk. Maar daardie gil is meesterlik. Die rot besef hy is vry, los haar vinger en val op die tafel. Hy spring op Ralph Sommers se rug (hy gil) en van daar op Sarah Livingstone se kop (sy gil ook). Sara foeter hom met haar oefeningboek. Hy val op die grond, sny ’n lyn oor die vloer en verdwyn onder die kas in die hoek.

    Teen dié tyd gil die helfte van die kinders in die klas. Party is histeries, soos arme Ralphie wat nie te veel opwinding kan hanteer nie. Ander skree en spring sommer vir die pret.

    Ná haar manjifieke gil val juffrou Peach stilweg flou, plat op haar rug tussen twee rye banke. Haar vinger bloei.

    Pete sit in sy bank, sy hande in sy bos rooi hare. Hy is te geskok om te dink. Hoe op aarde het hy nie agtergekom daar is ’n rot in sy sak nie? Maar sy sak is ook so vol boeke en gemors dat daar baie wegkruipplek is.

    Teen die tyd dat ou Skiets, die skoolhoof, by die klas opdaag, het Freddie ’n rotjagregiment op die been gebring. Alle weerbare seuns en meisies, wat weet hoe om ’n lineaal of passer te gebruik, is opgeroep. Hulle steek hulle wapens in die donker dieptes van die spasie onder die kas in. Juffrou Peach kom amper by, sy verstik in ’n glas water wat Marie Symington aan haar opdring. Almal weet Marie wil eendag as sy groot is ’n verpleegster word. Dis die ideale kans om haarself te bewys.

    Stilte!

    Skiets pak genoeg outoriteit en bevel in een woord om ’n leër te stop. Almal vries.

    Gaan sit op die daad!

    In twee tellings sit elkeen in iemand se bank.

    Juffrou Peach, wat beteken hierdie anargie?

    Juffrou Peach probeer om op te staan.

    Haar gesig is wit soos bordkryt.

    Haar hare is ’n nagmerrie.

    Haar rok is nat en vol bloedkolle.

    ’n R … ’n Rrrôôô … stamel sy.

    Skiets vat haar hand om haar op te help. Hulle maak vir ’n oomblik oogkontak, en Pete dog hy hoor ’n kerkorrel iewers speel.

    Dit was ’n rot, meneer! Marie hop op en af soos ’n opgewende Chihuahua. So groot soos ’n hond, en dit was in Pe … Eina!

    Freddie skop haar op die skeen.

    ’n Rot? Nou toe nou. Juffrou Peach, kom na my kantoor toe. Ons moet dit bespreek, beveel Skiets. Hy draai na die Wiskunde-onnie wat toe net daar aankom. Brophy, bel asseblief die ambulans. En die rotbestryders. Hy gee die verskrikte kinders ’n laaste vernietigende kyk. Dis-nou-genoeg! bulder hy.

    Hy maak ’n omkeer en marsjeer juffrou Peach by die deur uit, reguit kantoor toe.

    Die klok lui vir pouse. Terwyl die kinders by die klas uitbondel, roep Mannie Mouton: Pete Lieplapper is in vir ’n ding! Hy’s dooie vleis!

    Sedert die dag dat Pete met ’n gelapte broek by die skool opgedaag het, noem Mannie hom Pete Lieplapper.

    Freddie mik sy vuis na Mannie se neus, maar Pete gryp sy arm. Los hom, daar’s reeds genoeg moeilikheid.

    Mannie begin sing: Pete Lieplapper is dooie vleis! Pete Snotskieter is dooie vleis!

    Pete en Freddie ignoreer hom.

    Toe Mannie sien hulle byt nie, verander hy sy taktiek. Daai rot is seker sy pa se pêl. Die ou is altyd dronk en in die moddersloot!

    Mannie moes die hou sien kom het; Pete se vuis tref die groter seun vierkantig op die neus dat die bloed so spat. Mannie is vir ’n oomblik buite weste, en toe begin hy skree. ’n Hele nuwe oproer bars los, en Pete en Freddie ontsnap na die speelgrond.

    Mannie Moroon het ’n punt beet, sê Pete ’n rukkie later. Hulle staan op die sementblad op die speelgrond en gooi klippies na ’n ry leë koeldrankblikkies. Ek ís dooie vleis. Ek’s vrek. Met ’n rekord soos myne sal Skiets my nooit laat wegkom nie. Sy klip tref ’n blik met ’n bevredigende klienk. Dis een raak.

    "Weet jy hoekom hulle hom Skiets noem?" vra Freddie.

    Hoekom? Klienk! Twee.

    "Dis ’n afkorting vir skisofreen."

    Wat? Klienk! Drie. Partykeer is dit moeilik om ’n genie vir ’n beste vriend te hê.

    Dit beteken mal. Freddie tik sy kop en rol sy oë. Getik, koekoes, van sy trollie af. Maar ek dink nie hy is skisofrenies nie. Hy’s beslis paranoïes, maar hy hallusineer nie. Dis te sê, ek dink nie so nie.

    Oukei, oukei! sê Pete. Sy pêl maak hom soms gek. Freddie het reeds vroeg in sy lewe geleer dis sleg om anders te wees. Hy het gou allerhande strategieë ontwikkel om sy breinkrag vir sy ouers en onderwysers weg te steek. Maar met Pete het hy nie nodig om voor te gee nie. Partykeer moet Pete na lang relase oor Sterrefisika en Filosofie luister net sodat sy vriend dit uit sy gestel kan kry.

    Die res van die oggend is ’n nagmerrie. ’n Ambulans daag op om juffrou Peach hospitaal toe te neem vir ’n klem-in-die-kaak-inspuiting. Sy sal weg wees vir die res van die dag. Die Rot-en-Kokkerot-Uitroeimaatskappy daag op met drie trokke vol vang en vrekmaak gereedskap. Hulle klaskamer is onder kwarantyn, dus moet die Graadsewes die res van die dag in die skoolsaal sit – onder toesig van die skoolopsigter. Sy is ’n knorrige ou vrou wat vir die kleinste dingetjie na Skiets toe hardloop. Die hele tyd wag Pete op die gevreesde oproep kantoor toe.

    A, Smith! Kom in, sê Skiets toe Pete net voor huistoegaantyd by sy kantoor opdaag. Skiets wys hy moet die deur toemaak. Pete soek instinktief ’n ontsnaproete. Die venster agter die lessenaar is oop. (Twee tree tot by die lessenaar. Spring oor die stoel. Nee, die stoel kan hom pootjie. Pypkan die stoel. Linkervoet in die varingpot. Kop eerste deur die venster.)

    Skiets gaan sit by sy lessenaar, so styf soos ’n drilsersant. Hy blokkeer die enigste ontsnaproete.

    So, meneer Smith, sê hy, terwyl hy die punte van sy benerige vingers teen mekaar tik. Hoeveel keer was ons hierdie jaar in my kantoor?

    Pete staar na ’n brandsiek kol op die rooi mat. Dis nie regverdig nie. Hy was vir ten minste drie maande nie laat vir skool nie. Nie sedert mevrou De Bruin vir hom ’n wekker gegee het nie.

    Staan regop en praat duidelik dat ek jou kan hoor! beveel Skiets. Geheueverlies, boetie? Laat ek jou herinner. Hy sit sy leesbril op sy neus en raadpleeg ’n dik swart boek op sy lessenaar. Laat vir skool … Weer laat vir skool … Stokkiesdraai … Weer laat … Stokkiesdraai … Ensovoorts, ensovoorts. Hmm. Dit lyk tog of ons so ’n bietjie gerehabiliteer het die afgelope drie maande of so. Maar hier is ons al weer. En weet jy hoekom, Smith? Want-jy-is-’n-miserabele-nikswerd!

    Met dié slaan hy sy lessenaar se blad so hard met die plathand dat sy bril van sy neus afval.

    Sê my, Smith, het jy enige spesifieke rede waarom jy die arme juffrou Peach al die pyn en lyding aangedoen het? Is dit die natuurlike vrug van jou bose klein kriminele brein, of aard jy na daardie dronk pa van jou?

    Skiets sit weer sy bril weer op. Dié keer maak hy seker dit sit reg, en hy loer oor die rand om Pete beter te kan sien. Die pyn wat Pete voel met die woord nikswerd maak plek vir ’n veel dieper emosie. Woede. Dit vlam op uit die krop van sy maag, dis ’n vuur wat in sy borskas brand. Dit maak sy groen oë donkerder en gee hom die moed om te praat.

    Dis nie fair nie, meneer, sê hy stadig. Dit was nie my rot nie.

    Dít het nie ’n baie goeie uitwerking op die skoolhoof nie. Sy gesig word so wit soos sy yl hare. Hoe durf jy sê ek is onregverdig, jou miserabele klein misbaksel? Sy woorde marsjeer oor Pete in enkel gelid. En onthou, daar is ook nog die kwessie van die aanranding van daardie seun, Moroon, er … Mouton. Hy halt, maak gereed vir die finale aanslag. Wanneer die skoolraad weer vergader, gaan ek aanbeveel dat jy geskors word. Intussen sal jou pa die rekening vir die uitroei van die pes ontvang …

    ch 2.tifch 2.tif

    Skoenlapper-toordery

    Pete! Pe-heet!

    Pete gaan staan op die sypaadjie voor Paradys Woonstelle.

    Ahoi, Pete Smith!

    Pete kyk op. Dis mevrou De Bruin, ’n baken in haar rooi trui. Sy leun by die venster van haar woonstel op die derde verdieping uit en waai ’n vadoek om sy aandag te trek. Die son is agter die gargoyle op die dak en omskep dit in ’n dreigende swart skaduwee wat lyk of dit van bo af op die ou dame neerdaal. Die gebou met sy vervalle fasade en smerige fresko’s lyk ouer as wat dit regtig is: sat, asof dit sou omtuimel en die gees gee, was dit nie vir die twee moderne toringgeboue wat dit aan weerskante ondersteun nie. Pete waai terug.

    Jy moet my help! skree mevrou De Bruin.

    Pete waai weer, hol by die voordeur van Paradys Woonstelle in en op met die trappe. Die hysbak sit al so lank as wat hy kan onthou op die derde verdieping vas. Nathaniel, die Kunstenaar, wat langs mevrou De Bruin woon, gebruik dit as ’n ateljee. (Hy is eintlik ’n nutsman, omdat hy nog nooit ’n skildery verkoop het nie en ’n mens moet tog eet. Maar, soos mevrou De Bruin altyd sê, om ’n skildery te verkoop maak nie van jou ’n kunstenaar nie, en hy het so ’n sensitiewe kunssinnige siel.)

    Pete gooi sy skoolsak op die vloer neer die oomblik toe hy by haar woonstelletjie instap. Wat’s fout?

    Builepes! Dis wat fout is! stoom mevrou De Bruin. Sy vee haar hande aan haar voorskoot af. Die Swart Dood!

    Rotte, sê haar seun, Spike, van agter sy koffiebeker waar hy by die kombuistafel sit. Sy het vanoggend rotmis in die badkamer gekry. ’n Mens sou dink hulle sou ordentlik genoeg wees om die lêwwie te gebruik.

    Dis nie snaaks nie, Spike. Is jy nie veronderstel om op diens te wees nie? Mevrou De Bruin trek aan sy polisie-uniform se kraag. Jy’s vol kreukels. Het jy nie ’n strykyster nie?

    Dis teetyd, sê Spike. Ons kry vyftien minute teetyd in die middag.

    Mevrou De Bruin glimlag vir Pete. Ek’s so trots op hom. Sy haal twee koppies van die rak af en skink tee.

    Dit moet ’n plaag wees, sê Pete. Daar was vanoggend ’n rot in my skoolsak.

    Ek wil hê jy moet vir ou Humperdinck vra om valleties te stel om die aaklige goed te vang. Hy’s veronderstel om die gebou se opsigter te wees. Dis hoog tyd dat hy sy werk begin doen!

    Hoekom vra jy hom nie self nie?

    Spike grinnik. Hulle praat nie met mekaar nie.

    Praat nie met mekaar nie! Dis hý wat die stilstuipe het!

    Hy’t my ou lady se hart gebreek, sê Spike. Almal weet mevrou De Bruin is verlief op meneer Humperdinck. Sy het hom vanoggend op die trappe voorgelê toe hy opgegaan het na sy woonstel vir teetyd. Lipstiek, sent, volstruisveerboa. Die hele katoetie. Hy’t haar nie eens raakgesien nie.

    Hy’t net gesê: ‘Ek-wil-niks-koop-nie, dankie’ en die deur in my gesig toegeklap. Kaboem! Asof ek ’n straatverkoper of iets is. Sy beduie so wild met haar teelepel, dat sy Pete amper in die oog steek. Ek praat nooit weer met hom nie!

    Tot volgende keer, sê Spike, en knipoog vir Pete. Ek weet nie wat sy in hom sien nie. Maar ek skat hy is seker maar handsome vir ’n kort, vet bleskop …

    Jou kwartier is om! kyf mevrou De Bruin. Verwyder jou logge lyf uit my huis, jou lui dierasie! Sy gryp die besem, foeter hom by die deur uit, en klap dit agter hom toe.

    Toe glimlag sy. So ’n liewe seun, maar hy dryf my teen die mure uit. As ek nie self aan hom geboorte …

    Ek sal meneer Humperdinck vra oor die valletjies, maar ek dink regtig jy moet eerder self met hom praat, sê Pete. En toe blaker hy dit uit. Mevrou De Bruin, hoekom is my pa altyd dronk?

    O liewe. Mevrou De Bruin druk haar blou-grys hare reg en gaan sit by die tafel. Weet jy wat met jou pa en ma gebeur het?

    Pete frons vies. Hoe? My pa vertel my nooit iets nie. Hy’s al dronk so lank as wat ek kan onthou.

    Wel, miskien moet jy hom vra! Ek is seker hy sal jou vertel as jy hom vra.

    Weet jý wat gebeur het?

    Ek weet net wat in die koerante was. Ek het jou pa nie geken voor julle hier ingetrek het nie. Weet jy, hy was nie altyd ’n alkoholis nie. Hy was ’n beroemde advokaat. Een van die bestes.

    En my ma?

    Was Jennie nie ’n pragtige vrou nie! ’n Mediese dokter. Jou pa moet haar baie lief gehad het. Maar sy het siek geword terwyl hy met ’n belangrike hofsaak besig was. Dit was elke dag in die koerante en op TV. En toe sterf sy terwyl hy in die hof was. Ek dink nie hy het homself ooit vergewe dat hy nie daar was vir haar nie. Hy’t begin drink, en hofsake verloor. Eendag in die hof was hy so dronk dat hy amper nie regop kon staan nie. Toe die regter hom tot orde roep, vloek hy hom. Nooit weer daarna gewerk nie.

    Mevrou De Bruin staan op en gaan haal ’n ou koerantknipsel onder uit een van haar kombuislaaie. Ek het hierdie ’n paar maande gelede toevallig in die rommel gekry wat jou pa in die gang gelos het. Dis nie iets wat iemand wat by sy sinne is, sal weggooi nie.

    Pete staar na ’n verbleikte foto van twee gelukkige mense: ’n trotse jong man in ’n aandpak wat amper soos sy pa lyk, en ’n lieflike, stralende bruid aan sy sy. Briljante jong advokaat trou met sy droomprinses, sê die opskrif.

    Dié man is jou regte pa, nie die dronklap by wie jy nou bly nie. Onthou dit.

    Pete gaan na meneer Humperdinck se fietswinkel op die grondverdieping. Die deurklokkie speel ’n stadige, somber wysie. Pete wonder altyd hoe op aarde ’n outydse koperklokkie, wat met ’n staalveer aan die deur vasgeskroef is, wysies kan speel. Miskien is daar een of ander skakelaar, maar maak nie saak hoe noukeurig hy dit ondersoek nie, hy kan nooit enige elektriese verbindings vind nie. Hy dog hy hoor die klokkie sug aan die einde van die wysie.

    Meneer Humperdinck ignoreer dit soos gewoonlik.

    Haai, daar!

    Die ou heer se borselsnor bewe. Hallo.

    Als reg, meneer Hump?

    Sê maar so …

    Iewers is ’n groot skroef los. Meneer Humperdinck is gewoonlik vriendelik en kan jou ore van jou kop af praat. Pete wil hom nie met mevrou De Bruin se rotte belas terwyl hy in so ’n knorrige bui is nie. Hy hou hom besig met die klein takies wat hy gewoonlik vir die ou man doen.

    Die winkel is ’n wonderlike plek; behalwe die paar fietse (wat selde verkoop) is dit propvol rommel – lae en lae op rye en rye rakke, volgepak van heel bo tot heel onder. Daar is dingemalêries van Maleisië, goeters van Egipte en kontrepsies van die Amasone. Om die waarheid te sê, jy kan meneer Humperdinck vir enigiets vra. ’n Onderstel vir jou skaatsplank, ’n toiletsitplek of ’n hardeskyf vir jou rekenaar? Hy sal dit vir jou kry. ’n Brandstofklep vir die Concorde se linkerstralerenjin, ’n duikboot se patryspoort of selfs ’n vleuelklavier? Hy verdwyn in die donker skadu’s van sy agterkamer en vind ’n eksie-perfeksie tweedehandse produk, bedek met lae stof.

    Maar van al die wonders in die winkel is Pete die liefste vir Skwiek, die witmuis wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1