Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kruispunt
Kruispunt
Kruispunt
Ebook221 pages3 hours

Kruispunt

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die skrywer se debuutbundel, Heupvuur, ontvang in 1975 die Eugène Marais-prys. Alhoewel van die verhale in sy nuwe bundel herinner aan die macho-styl van vroeëre werk, is hulle meer deernisvol en menslik. ’n Skerp ontleding van enersyds die mens se duister psige, andersyds die mens se weerloosheid. Die onderliggende tema is “geweld”: soms brutaal, soms pynlik, altyd openbarend.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 15, 2010
ISBN9780798153256
Kruispunt

Related to Kruispunt

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kruispunt

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kruispunt - P.J Haasbroek

    Kruispad

    P.J. Haasbroek

    Human & Rousseau

    Ahmo se perd

    Toe hy die oggend by hul huis uitkom, sien die seun anderkant die bruggie ’n bont karavaan staan, en naby wei drie perde in die oopte.

    Ahmo hou van perde. By die skool dink hy hoe hy na hulle toe sal gaan. Sal hy oor die heining kan klim?

    Die oggend gaan stadig, klas na klas, verby. Hy ken min van die kinders, want hy het maar vanjaar in Konic se hoërskool begin, die lang grys gebou naby die Neretvarivier.

    Asof die hoërskool wil wys hoe ’n ernstige saak onderwys hier is, dra die gebou letsels van die oorlog: ’n Kroatiese tenk het daarvan ’n teiken gemaak. Die eerste dag al het hy en sy maats na die twee gate in ’n muur aan die bergkant gaan kyk. Dit is rof toegemessel, maar granaatskerwe het kepe in die pleister gekerf. Kepe wat wegspat van die rou wond in die stene.

    Dikwels dink Ahmo hoe bang almal moes gewees het toe die tenk op die skool begin skiet het. In een klaskamer mag nou nog niemand ingaan nie; ’n bom wat deur die venster gevlieg het, het binne ontplof, en die skade is nog nie opgeruim nie.

    Van die groot seuns spog dat hulle al dáár gaan rook het. Hulle kan seker vertel hoe lyk dit, sou hy vra, maar Ahmo sien nie kans vir die gedagte aan die stukkende skoolbanke nie, en moontlik, die donker vlekke binne op die vloer. Hy het genoeg van die oorlog gesien om terug te deins voor alles wat hom daaraan sal herinner.

    Vandag wil Ahmo liewer aan die perde dink. Die drie perde wat tussen die kersiebome wei. ’n Perd begin soms sommer hardloop, baldadig, en dan volg die ander hom. Hulle kopspeel en runnik; hy het al perde so sien maak. Eendag het ’n skietgeveg bo in die berg twee ploegperde in ’n kraaltjie laat skrik, en toe breek hulle die hek, en hardloop in die pad af. Toe hulle onder in Podorajac kom, voor die huise verby, was hulle skoon uitbundig. Asof hulle heeltemal van die skote vergeet het.

    Die twee dink seker hulle is nou vir goed bevry van hul tuie, het sy pa dié oggend gesê.

    Die skooldag gaan verby sonder dat Ahmo sy maats van die karavaan en die perde vertel. Hy wil eers by die perde uitkom, straks aan hulle geraak het, voor hy iets daarvan sê.

    In die skoolbus op pad terug wonder hy wie het die karavaan in die nag daar langs ou Nikola se huis geparkeer. Dit kan ’n sigeuner wees; hulle verf gewoonlik hul rytuie so.

    Hy wonder ook oor die perde. Waarom drie? Twee is genoeg om die karavaan te trek, die twee bruines. Dalk is die swarte die sigeuner se ryperd. Of hy kan ’n plan hê om die perd op Konic se mark te gaan verkoop.

    Die vallei waarin hul skoolbus opry, is so nou, dit druk die pad teen die riviertjie vas, klein Tresanica, wat haas om by die Neretva aan te sluit. Soms, waar die riviertjie langs die pad effens swenk, sien hy dit deur die venster blink, die kabbeling wat spring en skuim oor wit kalkklippe.

    Weerskante van die vallei is die berghange steil onder digte donkergroen woude, met net hier en daar, waar die helling gelyker is, ’n lappie saailand of ’n boord. Soos die bus ry, sien Ahmo ook huise bo teen die berg. Min van die huise staan alleen; oor jare en jare is hulle deur familielede wat verkies om naby mekaar te woon, onder spits grys klipdakke saamgebondel.

    Van die huise is net murasies. Hulle was sterk genoeg van klip gebou om nie van ouderdom inmekaar te tuimel nie. Nie eens die tenks op die berg kon hulle stukkend skiet nie. Toe stuur die kolonel soldate af in die vallei om van die plaashuise met dinamiet op te blaas.

    Voorheen was hier min plekke in die vallei waar ’n sigeuner sou kon uitspan. Elke plasie het ’n baas gehad, en op elke erf het een van die smal dubbelverdiepinghuisies gestaan waarin ’n gesin gewoon het. Die oorlog het hulle uitgejaag, maar toe die gevegte draai, was dit weer die Serwiërs wat moes vlug. Hulle het hul huise en landjies net so gelos. Die mans van Podorajac – sy pa en sy vriende – het die Serwiërs se verlate huise aan die brand gesteek.

    Dit lyk nie vir Ahmo of iemand dit weer wil opeis nie.

    Die sigeuner het dalk geweet van die plasie wat oorkant die brug leeg lê, ou Nikola Klajic s’n. Hy kon gesien het niemand bly meer in die huis nie; die sigeuners se oë is glo skerp om iets te sien wat hulle kan toe-eien.

    Die deure hang oop en hulle het Nicola se yskas en elektriese stoof in die riviertjie gegooi. Oral in die oorgroeide tuin lê van sy klere en skoene rond. Sy pa was baie kwaad vir ou Nikola. Hulle dink die ou Serwiër het die Kroatiese soldate gewys waar hulle hul masjiengeweer in die berg moet opstel. Van die krans af het hulle op alles geskiet wat in die pad beweeg.

    Nie een van die seuns in die bus is in Ahmo se klas nie. Behalwe twee groot seuns wat heel agter sit, stil Rutko en sy maat, Mičak, Konic-hoërskool se sterkste stoeier, is al die ander nog in die laerskool. Uit Podorajac kom gans te veel meisies. Ook drie of vier wat saam met hom in die klas is, sit in die bus. Hulle giggel al weer oor iets. Lawwe goed. Loer oor hul skouers agtertoe na Rutko en Mičak met sy dik skouers.

    Toe Ahmo hoërskool toe is, het dit ’n afstand tussen hom en die ander seuns van Podorajac gebring. Eensklaps het hulle nog klein gelyk, en het hy alleen gevoel wanneer hy huis toe loop. Hy het verantwoordelikhede bygekry. Terwyl die knape buite in die sneeu kon speel, moes hy huiswerk doen. Of sy pa ’n plank help vashou wat hy saag.

    Die Kroate het al die groot houtwerkmasjiene uit sy oupa se meubelfabriek in Konic weggery, en toe die fabriek met dinamiet opgeblaas. Hulle het ook die stapels planke aan die brand gesteek. Dit was ’n groot vuur.

    Sy pa het toe nie meer sy werk as bestuurder in die fabriek gehad nie. Hy kon ook nie elders werk kry nie, want hulle het die ander fabrieke ook gesloop. Tot in Mostar het hy gaan soek, maar daar lyk dit nóg erger, met baie mense wat werk soek op straat. Hy het toe maar die hele lang pad Konic toe teruggeloop.

    Dit sal Ahmo seker nooit kan vergeet nie: die kort, moeë figuur in sy groen soldatebroek wat daardie skemeraand stadig in die pad aangeloop kom na hul huis toe. Vati! het hy bly uitgeroep toe hy hom herken.

    Nou maak sy pa by sy werksbank agter die huis ander mense se meubels reg.

    Ahmo help graag waar hy kan, hy hou van hout, kerf figuurtjies daaruit met ’n skerp mes. ’n Soldaat wat hurk en bakhand water skep. Oma op haar stoel voor die stoof. Of hul hond, Jojo, wat slaap. Soms teken hy hulle. Sy ma sê sy kan sien dit is Oma of Jojo.

    Deur die busvenster sien hy hoe ruig hang die bos van die oewers af oor die bokspronge van die Tresanica; dit is moeilik om anderkant die stroom te kom. Net die bruggie gee toegang tot die plasies oorkant. Die sigeuner het sy uitspanplek goed uitgesoek.

    Toe die bus stilhou, kyk Ahmo of die karavaan nog daar staan. Ja, in die oopte vlak langs Nikola se huis anderkant die Tresanica. Opvallend, want dit is bont geverf in krulpatrone, ’n mooi versiering, al lyk dit vreemd. ’n Kookvuur se rokie styg van agter die karavaan af op, yl blouerig soos mis wat bo in die boomtoppe uitrafel. Hy kan nie die perde sien nie. Dalk is die sigeuner iewers heen met hulle.

    Dan gee dit hom nou die kans om te gaan kyk wat daar aangaan.

    Ahmo loop oor die bruggie. Die stroom raas harder onder in die tonnel asof die klein Tresanica daarvan hou om haar lied te hoor weergalm. Die gedruis sal maak dat hy nie sy ma van die huis af kan hoor roep nie. Hy sal gou maak; net eers gaan kyk of die perde nog onder die kersiebome wei.

    Die swarte is ’n ou reunperd, alleen in die kampie. Hy kom nader toe hy Ahmo sien verbyloop. Lig sy kop en runnik saggies.

    Dit is dalk hoe ’n perd jou groet. Of roep hy hom? Ahmo gaan staan en wag om te sien of die perd na hom toe, langs die heining, sal kom. Hy steek sy hand by voorbaat na hom toe uit.

    Die reun kom rustig aangestap. Toe druk hy sy neus teen Ahmo se hand. Die vel van sy bolip voel fluweelsag. Ahmo sien homself weerkaats in die perd se groot bruin oë. Hy vryf oor die neus; voel sy asem warm stoot, en dan sper die reun sy neusgate wyer. Hy praat ook met die reun, vra hom wat is sy naam. As dit sy perd is, sal hy hom Pescka noem. Al het die sigeuner vir hom ’n ander naam gegee, is dit ’n mooi naam vir ’n perd.

    Pescka! sê hy en die reun spits sy ore.

    ’n Vrou in ’n geblomde rok en ’n windjekker klim uit die karavaan en kom lig ’n ketel van die vuur af.

    Wat sal hy vir haar sê doen hy by die perd? Maar sy het hom gelukkig nie gesien nie. Ek kom weer, Pescka, belowe hy voor hy na die brug toe terugstap.

    Sy pa is in die agterplaas besig om ’n laaikas reg te maak. Hy staan krom gebuig oor ’n plank op sy werkstafel waarin hy met ’n beitel swaelsterttappe uitkap. Hy konsentreer so om akkuraat te werk, dat hy nie opkyk toe Ahmo hom groet nie. Hy sê net: Middag, seun, en gaan met sy werk aan.

    Die opgerolde moue wys die spiere op sy pa se voorarms. Al is hy ’n buksie, is hy sterk: weet almal in Podorajac, met hom skoor jy nie. Diep plooie langs sy mond en om sy oë wys die soort erns en vasberadenheid wat hom deur die oorlog gedra het, en sekerlik ook die swaarkry toe daar min kos in hul huis was. Dat hy soos sy pa lyk, pla Ahmo nie. Eendag sal hulle ook nie met hom sukkel nie.

    Die geklop van sy pa se hamer volg Ahmo teen die trap op.

    Dit is warm in die kombuis van sy ma se gekook. Uit die pot op die stoof kom die geur van groentesop: tamatie en uie. Daar lê reeds ’n dik sny vars brood op sy bord vir hom en wag. Hy roep na agter; sy ma is seker besig om die wasgoed wat sy die oggend gestryk het in die kaste weg te pak. Hallo, Ahmo, hoor hy haar groet. Hoe weet sy altyd wanneer hy inkom?

    Het Muti gesien daar staan ’n karavaan langs ou Nikola se huis? vra hy, terwyl hy agter die tafel inskuif.

    Sy ma kom die kombuis binne, kommer in haar swart oë. Alles wat buite haar werf gebeur, selfs die kleinste dingetjie, maak haar bang. Jy moet wegbly van die sigeuners af, Ahmo, sê sy. En van Nikola se huis af. Dit klink soos ’n waarskuwing.

    Wat maak hulle daar, Muti?

    Sy trek haar oë groot. Sigeuners het ’n klomp snaakse maniere. Ek het al gehoor hulle vang kinders en steek hulle weg. Dan moet jy betaal om weer jou kind terug te kry. Sy skep vir hom ’n bakkie sop uit.

    Hulle perde wei daar in die kampie, sê hy.

    Sigeuners eet perde, sê sy ma.

    Geskok kyk Ahmo op. Hy kan hom nie voorstel hoe ’n mens ’n perd kan slag nie; die sagte oë wat pleit, die nek sierlik gekrom. Die brood wat hy in die sop geweek het, het dik in sy mond geraak, soos deeg. Hy kou en sluk met moeite; die uiesmaak van die sop herinner hom aan die kruierige veld in die kampie waar die perde wei. Die gedagte aan die sigeuner met sy mes by die swart perd is vir hom verskriklik.

    Hy wil sy pa gaan vra. Net hý sal hom kan gerusstel. Ahmo eet haastig. Hy hardloop die trap af en om die huis na waar sy pa by die werksbank met ’n winkelhaak meet of die tappe haaks en vlak is.

    Het Vati gesien daar’s ’n karavaan oorkant die riviertjie? vra hy. So ’n bonte, dis seker ’n sigeuner wat daar uitkamp.

    Sy pa sit die plank en die winkelhaak neer en met die kant van sy hand vee hy die skaafsels van die werksbank af. Toe kyk hy na hom op en glimlag effens. Ja, Bratska is sy naam. Hy het my kom vra ek moet vir hom ’n velling regmaak.

    Ahmo is uit die veld geslaan. Hoe kan sy pa die man vertrou? Ken Vati hom dan?

    Net van die een keer se praat toe hy my kom vra het. Sy pa pas die tappe in die kopkante van twee planke in mekaar. Knik tevrede.

    Vati, is dit waar dat sigeuners perde slag?

    Baie mense eet perdevleis. Sy pa het nie eens opgekyk toe hy dit sê nie. Dit was ’n doodluiterse mededeling, ontdaan van enige verskrikking, so gewoon soos om te erken hulle eet burek.

    Hoekom eet hulle dan nie beesvleis of skaap nie, Vati?

    Ha! Ha-a! lag sy pa sy kortaf lag. O, hulle eet dit ook, en hulle slag hoenders en ganse en konyne, maar soms slag hulle die perde wat hulle nie meer gebruik nie.

    Daar het nog net een vraag oorgebly. Dit het op Ahmo se tong gehuiwer, bitter soos ’n groen olyf, maar hy wil sy pa dit nie vra nie, want die antwoord het hy reeds uitgedink. En die antwoord het ’n naam en ’n vorm: Pescka, die swart reunperd, gaan geslag word omdat die sigeuner nie meer gebruik vir hom het nie.

    Toe sy pa hom daaroor uitvra, vertel Ahmo van die dag by die skool. Van die goeie punte wat hy vir sy opstel gekry het.

    Leer hulle darem vir jou ’n bietjie houtwerk ook? vra sy pa. Hy glo mens gaan skool toe om die een of ander nuttige vaardigheid te bekom. In Konic, waar die helfte sonder werk sit, sal jy nie juis ver kom met jou opstelle nie. Asof hy besef hoe bitter hy al weer geklink het, voeg hy by: Leer dan liewer sing, Ahmo; in die kroeg luister ons graag na Safet se hartseer liedjies.

    Eendag sal ek ook ’n liedjie skryf, antwoord Ahmo. Een wat Safet kan sing.

    Nou ja, toe dan, sê sy pa, en korrel langs ’n ongeskaafde plank se kant af. So kan hy sien of dit met die droog word skeef gedraai het.

    Ahmo doen sy huiswerk voor die venster. Daarvandaan kan hy die pad oor die bruggie dophou. Hy wil die sigeuner, Bratska, sien terugkom.

    Hy kyk ook teen die berg op na die hoogte waar die Kroate ingegrawe was. Sy oupa het daar grond gehad, goeie weiveld, maar dit was voor die oorlog.

    Dit is laat, al byna donker, toe Bratska op ’n skotskar – getrek deur die twee bruin perde – aangery kom. Hy het ’n swart leerbaadjie aan en ’n pet op sy kop. Onder die pet hang sy hare uit tot in sy nek, en oor sy ore. Hy het ’n sweep in sy hand, al draf die perde fluks.

    Anderkant die bruggie raak die pad agter die bosse weg. Ahmo kan nie sien waar Bratska met sy skotskar heen ry nie, maar die perde, dink hy, sal hy seker in die kampie uitspan. Tot môre, dan vang hy hulle weer en los die swarte hier … Hy sal ná skool gaan kyk. Dalk bly die man weer die hele dag weg. Hy het die hele namiddag om ’n plan te maak.

    Kommer dat die sigeuner die perd na Konic toe sal neem, het sy naels in Ahmo se gemoed geslaan. Hy stel hom voor hoe Bratska die swart reun in die sigeuners se kamp daar onder langs die Neretva aan ’n paal vasmaak. Die mans staan uit hul karavane nader om te kom perdevleis koop, terwyl die vroue

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1