Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Oor Grense: 'n Lewe in die media in 'n tyd van verandering
Oor Grense: 'n Lewe in die media in 'n tyd van verandering
Oor Grense: 'n Lewe in die media in 'n tyd van verandering
Ebook397 pages5 hours

Oor Grense: 'n Lewe in die media in 'n tyd van verandering

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ton Vosloo is een van die mees gerekende koerant- en sakemanne in Suid-Afrika. Gedurende sy loopbaan van sowat sestig jaar het Suid-Afrika op politieke front 'n drastiese ommekeer ondergaan: die Nasionale Party het plek gemaak vir 'n ANC-regering, wat gelei het tot transformasie op sosiale, ekonomiese en sakefront.
In 1983 is Vosloo as die besturende direkteur van Naspers aangestel en het hy hom dit ten doel gestel om dié groep – wat in 1913 as mondstuk van die Nasionale Party gestig is – te vernuwe. Vosloo het die maatskappy deur diep, onstuimige waters gestuur: op ideologiese vlak was dit 'n geveg tot die dood toe met die regse Perskor-groep om die steun van Afrikaners te wen.
Naspers moes ook op kommersiële vlak moderniseer. Dit het uiteindelik gelei het tot die stigting van M-Net, Suid-Afrika se eerste betaaltelevisiekanaal. In 1992 is Vosloo as voorsitter van Naspers aangestel en het Koos Bekker die pos as besturende direkteur aanvaar. Onder Bekker se leiding het Naspers belê in die Chinese internetmaatskappy Tencent, en vinnig ontwikkel tot 'n groep wat vandag finansiële belange regoor die wêreld het. Dít sou nie moontlik gewees het sonder die fondasie wat Vosloo in die vroeë tagtigs vir sodanige vernuwing gelê het nie.
Oor Grense is Ton Vosloo se memoir oor sy lewe in die koerantwêreld in 'n tyd toe Naspers nog baklei het om die posisie as markleier, 'n tyd toe die koerante binne sy stal baie na aan die politici van die dag gestaan het. Met sy eiesoortige humorsin en styl as gesoute joernalis vertel Ton Vosloo die storie van Naspers en van sy uiteenlopende ervarings as koerantman en sakeleier.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateSep 5, 2018
ISBN9781868428878
Oor Grense: 'n Lewe in die media in 'n tyd van verandering
Author

Ton Vosloo

Ton Vosloo, born in 1937 and brought up in Uitenhage, started writing sports reports for local newspapers while still at school. He worked as a parliamentary correspondent and in 1970 he was awarded a Nieman Fellowship at Harvard University. He was the editor of Beeld newspaper from 1977-83. In 1984 Vosloo became managing director of Naspers, and he served as executive chair from 1992 to 1997. He was the non-executive chair of the board of Naspers from 1997 to 2015. Vosloo is today the Chair of the Cape Town Philharmonic Orchestra Trust and has been awarded three honorary doctorates.

Related to Oor Grense

Related ebooks

Related articles

Reviews for Oor Grense

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Oor Grense - Ton Vosloo

    TON VOSLOO

    Oor grense

    ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering

    Jonathan Ball Uitgewers

    Johannesburg & Kaapstad

    Inhoudsopgawe

    Motto

    Voorwoord

    1 Kinderjare en eerste jare in die joernalistiek

    2 Die hervorming van Naspers

    3 Wêreldreus

    4 Tencent, die kolos in die stal

    5 Koos Bekker, die talisman

    6 Pers en politiek ‒ vooruitdenke en wegbereiding

    7 Inval in die Noorde

    8 ’n Tektoniese plaatverskuiwing

    9 Aanknoping by ons swart landgenote

    10 Leierskap

    11 Broedertwis

    12 Turbulensie in Nasionale Pers

    13 Branders, ’n tsunami, en steeds rimpelgolwe

    14 Presidensiële humeure

    15 Slaan die groot storie hard!

    16 Verwoerd sink ons sport

    17 St. Nelson en ek

    18 Robert Mugabe en John Vorster

    19 Toetrede tot ’n wyer wêreld

    20 Het Naspers nog ’n siel?

    21 Afrikaans in ’n kreeftegang

    22 Lighartiger oomblikke

    23 Die toekoms van Naspers in Suid-Afrika

    Notas

    Pryse en vererings

    Boeke deur die skrywer en bydraes tot boeke

    Bedankings

    Fotoseksie

    Oor die boek

    Kolofonbladsy

    Die dag toe ek aan my memoires begin werk, bied my vrou Anet my ’n

    Chinese fortuinkoekie aan. Ek breek dit oop en dit lees:

    Confucius say:

    If you think you’re going to sum up your whole life

    on this little bit of paper,

    you’re crazy.

    Toe sit ek maar die malligheid voort!

    VOORWOORD

    Toe Ton Vosloo in 2015 uittree ná 59 jaar se verbintenis met Naspers, het die suksesvolste kombinasie van voorsitter en uitvoerende hoof wat Suid-Afrika nog gesien het, tot ’n einde gekom. Kort ná sy aanstelling as uitvoerende hoof van Nasionale Pers in 1984 – voor die groep se naamsverandering na Naspers in 1998 – het Ton en Koos Bekker se idee vir ’n betaaltelevisiekanaal in SA werklikheid geword. Soos die Engelsman dit sou uitdruk: The rest is history.

    Ton was nie net ’n uitvoerende hoof wat transformerende talent aangemoedig het nie, maar ook uiteindelik ’n wyse voorsitter wat ’n visionêre uitvoerende hoof ondersteun het – en sodoende, tussen 1984 en 2015, R905 miljard se waarde vir Naspers se aandeelhouers geskep het.

    Waar ’n mens vandag so gereeld kompetisie tussen voorsitter en uitvoerende hoof sien, vertel die Naspers-voorbeeld ’n verhaal van aanvulling, simbiose en samewerking wat tot ongelooflike resultate gelei het.

    Die Ton/Koos-storie is een van mense wat mekaar spasie gegun en ondersteun het, maar ook een van mense wat geweet het dat Darwin reg was toe hy gesê het dis nie noodwendig die sterkste wat oorleef nie, maar die mees aanpasbare. Ton het Koos toegelaat om een van die wêreld se mees aanpasbare media-ondernemings – vandag een van die wêreld se toonaangewendste internet-maatskappye – te bou. Dis ’n leierskapskombinasie waarvan baie besighede net kan droom.

    Hendrik du Toit, hoof van beleggings, Investec, Londen, 2017

    (Du Toit is van 2017 ’n nie-uitvoerende direkteur van Naspers)

    HOOFSTUK 1

    Kinderjare en eerste jare in die joernalistiek

    Op 3 Januarie 1955 het Hester Vosloo haar enigste lewende seun, Theunissen, pas 17, op Uitenhage se stasie op die trein na Pretoria gesit. Hy het ’n enkelkaartjie in sy sak gehad om op 5 Januarie as junior klerk by die Departement van Bosbou se lang gange in die V-gebou in Hamiltonstraat in te val.

    Die loopbaan van die latere joernalis het dus met ’n ompad begin. As skoolseun het Theunissen, of Ton soos sy bynaam onder sy maats was, van die ouderdom van 14 af vir die twee plaaslike Engelse weeklikse koerante, The Uitenhage Times en The Uitenhage Chronicle, oor skoolsport geskryf.

    Ek wou van my jeugjare al joernalis word. My lewensreis sou, ná die aanvanklike draai by Bosbou in Pretoria, weldra in die rigting van my begeerde loopbaan koers kry.

    My ma, Hester Jacoba Combrinck Vosloo, is in 1906 op Middelburg in die Karoo gebore, met die van Pienaar. Sy was algemeen bekend as Hetta en was getroud met Jacobus Johannes Vermaak Vosloo, gebore 1902.

    Vossie, soos hy bekend was, is gebore in ’n groot familie van arm bestaansboere en houtkappers in die Witels-bosgebied, distrik Humansdorp. Dit is in die hart van die mooie Tsitsikamma. Sy geboorteplek, Robbehoek, is vandag ’n florerende melkerygebied nadat die arm boere se suurgras uitgeploeg en met soetgras vervang is.

    In 2003 het ek ’n familieboek oor die Vosloos uitgegee, met die titel Nuttige burgers. Die navorsing is deeglik gedoen deur die genealoog, Daniel Malan Jacobs. In my voorwoord skryf ek die Vosloos het heelwat individualisme in hul gene opgesluit. ’n Kenmerk is dié van praktiese mense wat aangevuur word deur vergesigte. Hulle kon en het dinge gedoen, oorwegend konstruktief. Nuttige landsburgers!

    Die eerste dokument waarin na die Vosslöhs (Duitse spelling) verwys word, sover bekend, is gedateer 20 April 1413. Die eerste verwysing na stamvader Jan Vosloo in die Kaap, in ’n resolusie van die politieke raad van die VOC, dra die datum 22 Oktober 1689.

    My pa was die jongste van agt kinders by my oupa se eerste vrou. Oupa Jan is later weer getroud en daar het nog vier kinders bygekom.

    My pa verlaat die skool met standerd 6, vandag graad 8, agter sy naam. Hy word berede polisieman in die Suid-Afrikaanse Polisie. Pa was ’n netjiese man en ’n trotse polisieman. Op foto’s sien mens hoe blink die leerkamaste en hoe netjies sien die uniform daaruit.

    Hetta Pienaar het van Middelburg na Stellenbosch se Denneoord-onderwyserskollege gegaan en laerskoolonderwyser geword. Sy het op Stellenbosch hokkie gespeel. Daar was redelik sport in haar are: haar enigste broer, Wynand (Bunny) Pienaar, het in die Oostelike Provinsie eersteliga-rugby gespeel en was later afrigter van die klub Olympics se eerste span.

    Hetta het onderrig gaan gee op plaasskole in noordoos-Kaapland, ook op die plaas Hillmoor van die Southeys in die distrik Steynsburg. Sy was familie van die Combrincks van Bethulie in die Suid-Vrystaat, daarom dat sy Combrinck ook as doopnaam gehad het. Sy raak verloof aan ’n agter-kleinneef, Flip Combrinck. Dié is nog voor hul huwelik tragies dood toe hy glo slakke verskuil in sy blaarslaai inkry. Hetta word daarna bevriend met die vriendelike polisieman van die polisiestasie op Hillmoor en hulle trou in 1928.

    Wynand Frederick oftewel Freddie, hul eersteling, is in 1934 op Colesberg gebore. Die gesin trek na Uitenhage toe konstabel Vosloo verplaas word. Theunissen kom in 1937 aan en Joan (Joanna Jacoba) ná sewe jaar, in 1944.

    Freddie en Theunissen skop rugbyballe gemaak van opgestopte tabaksakkies in die straat voor hul huis in Graaff-Reinetweg 85, Uitenhage. Daar is ’n joel maats: ’n ent langsaan die agt of nege Van Antwerpens, verderaan die klomp Strydom-seuns, en in die omgewing ook die Knoetze- en Crouse-seuns. Daar is boonop die Carletti’s van Italiaanse afkoms op die hoek.

    Dis ’n boel seuns wat mekaar karnuffel, aspaai speel, dokkie-dokkie doen met klippe wat om jou spat, kettie skiet en voëls vang met tuisgemaakte gom. Birdlime, het ons dit genoem. Dokkie-dokkie is ’n spel waar ronde rivierklippe opmekaar gestapel word. Elke speler kry ’n beurt om die stapel te herstel terwyl die ander maats die klippe op jou en die teiken laat reën. Blou kolle was volop en kopskote ook.

    Pa Vosloo was konstabel op Uitenhage en ons kry ’n nuwe drieslaapkamerhuis, modern vir daardie tyd. Dit het ’n garage en ’n buitetoilet gebou met bakstene. Daar is ’n kopergeyser in die badkamer wat Freddie en ek badtyd met tamatiekisplankies stook.

    Pa gaan in die distrik op patrollie uit. Hy bring soms van Kirkwood se besproeiingswêreld heerlike lemoene of suikersoet spanspekke huis toe. In die winter gaan hy en sy vriende jag. Ons kry dan wildvleis, wors en biltong van die koedoes, bosbokke en duikers wat geskiet is.

    Uitenhage kry in die vroeë veertigs ’n moderne polisiekantoor. Ook ’n blok woonstelle vir polisie waar ek bevriend raak met die Engelse hoofkonstabel Winer se seuns, Paul en Trevor. Hulle sou later oorsee onderskeidelik akademikus en rekenaar-boffin word.

    Saterdae speel Ma en Pa tennis by die Polisieklub. Hulle drink vir lafenis bier uit groot, bruin bottels. Ek en Freddie hol daar met polisiekinders rond, en soms speel ek in die sandput. In die pakkamer van die tennisbaan kry ek ’n bierbottel in die hande en vat ’n sluk. Groot drama – dis nie bier nie, maar die ontsmetmiddel Jeyes Fluid. Ek moes gillend keel opgesit het, want Hetta het my dadelik by die menasie die een of ander olie ingejaag. Theunissen sê dus nie nee vir ’n drinkdingetjie nie!

    Ek het die Jeyes Fluid oorleef, soos ook die jaar of twee tevore toe ek as pikkie by familie op Colesberg in oupa Jim Norval se agterplaas turksvye met die hand gepluk het. Ek was natuurlik oortrek van duisende eina-dorinkies wat Ma en tantes met groot gesukkel en handevol vet en botter probeer verwyder het.

    Sondae loop Freddie en ek myle ver in die hitte na die Sondagskool by die NG Moederkerk. Daarna kon ons in die munisipale swembad gaan swem. Ander kere het ons uitgery na Die Bronne, ’n vakansieoord rondom ’n paar borrelende artesiese fonteine vanwaar Uitenhage ’n deel van sy drinkwater gepomp het. Daar eet ons in die somer waatlemoen, besmeer mekaar met die skille en jil in die swembad saam met honderde ander maatjies.

    So terloops, ek doen heelwat later vir Die Oosterlig verslag oor ’n toespraak van die Engelstalige burgemeester van Uitenhage, die heer Gerald Smith. Hy het van Die Bronne as Die Springe gepraat! Ten minste het hy tweetalig probeer wees.

    En toe verduister die wêreld. Die Tweede Wêreldoorlog breek uit. Pa en omtrent die hele polisiestasie se mans sluit hulle in 1941 by die Suid-Afrikaanse Polisiebrigade aan, want daar is druk op uniformdraers. Pa was nie anti-oorlog nie. Ek het later te wete gekom hy was al in sy Karoo-dae ’n Vrymesselaar. Die beheerstruktuur van die Suid-Afrikaanse Polisie was destyds Engelsgesind en baie jong Afrikaners in die polisie het Vrymesselaars geword.

    Pa is weg en Hetta moet my en Freddie grootmaak. Die huis word toegerus met donker blindings voor die vensters sodat die vyand ons nie kan raaksien nie. Uitenhage is 21 myl (35 km) van Port Elizabeth en die see. Waarom die Duitsers Uitenhage sou wou aanval, was ’n groot raaisel. Miskien is dié maatreëls getref omdat Uitenhage se groot spoorwegwerkplaas in ’n ammunisiefabriek omskep is. Daar is onder meer bajonette gegiet. My ma het saam met ander vroue gedurende die oorlog daar gaan werk en bajonette geslyp. Dis vermoedelik waar sy leer rook het.

    Pa is saam met die Polisiebrigade na Egipte en Libië. In 1943 verbrand hy sy een been lelik met kookwater wat daarop geval het. Hy word in die veldhospitaal in die destydse bekende Shepheard’s Hotel in Kaïro behandel. Ná ontslag neem hy weer in 1943 sy loopbaan in die polisie op Uitenhage op.

    Ek onthou min van hom. Toe ek so vyf jaar was, speel ek en James, seun van ons huishulp, Sarah Steenekamp, rondom die Willys-motor waaraan Pa werk. Hy het die motor vermoedelik gereed gekry nadat dit in die oorlogtyd op blokke in die garage gestaan het. James en ek kry stry en gryp mekaar, die trane loop, en Pa vlieg onder die motor uit, gryp ’n paar kasplankies wat daar lê en looi ons twee vuurwarm. Dis die enigste pak van hom wat ek onthou. Later sou Hetta vir my en Freddie met Pa se leerbelt foeter as ons stout was.

    Toe breek ons eintlike donker dae aan. Dis 28 Januarie 1944 en snikheet op Uitenhage. Konstabel Vosloo doen straatdiens met ’n fiets en jaag agter ’n vermeende grypdief aan. Hy voel naar en kry in die straat ’n toeval. Iemand kry hom by die hospitaal waar dokter Solly Ofsowitz hom help, maar dis te laat.

    Hetta kry dié middag besoek van hoofkonstabel Winer, en toe ’n predikant, en skielik is ons wees. Hetta is vyf maande swanger en sit met twee seuns. Van die begrafnis in die Moedergemeente onthou ek die groot bos wit sint josefslelies se skerp reuk. Ook die polisiepeloton se saluutskote oor ons koppe by die graf.

    Freddie gaan na die Laerskool Jordan. Dit is later verdoop na die Laerskool Handhaaf, wat my ontstel het. Ek sluit my by hom aan. Ons stap elke dag heen en weer. Dit is ’n hengse ent, kaalvoet, maar ons voete is keihard.

    Ma neem om den brode ’n pasgetroude speurder en sy vrou as loseerders in: sersant Grobler en sy gawe vrou, Dixie. Sy is ’n Engelssprekende meisie van Cradock, van Ierse afkoms, met die van Mann. Ek onthou die gawe speurder net as Uncle.

    Hetta skenk op 9 Mei 1944 die lewe aan Joan, ons sussie. Nou is ons drie kinders in die huis. Maar in 1946 word Hetta deur nog ’n ramp getref.

    Freddie is ’n kranige atleet, maar hy struikel een middag oor ’n hekkie in ’n wedloop en breek sy arm. Onderwyser Johnny van der Merwe kom dra die boodskap aan Hetta oor.

    Freddie word al hoe lusteloser en is ná die ongeluk nie dieselfde, lewenslustige seun nie. Ondersoeke, en uiteindelik ’n besoek aan ’n spesialis in die Baai, lei tot ’n wrede bevinding: gewas op die brein. Freddie moet in die Algemene Hospitaal in Johannesburg deur dokter Krynauw geopereer word. Hy is die enigste chirurg in die land wat destyds dié soort operasies doen.

    Dis Desember 1946. Hetta, met die siek Freddie, Joan op die arm, en ek reis per trein saam met Ma se suster, Anna Beetge, via Colesberg na Johannesburg. Op Colesberg word Joan en ek met ant Anna afgelaai in die wagtende hande van oom Luther Norval en sy vrou, Martie, my ma se suster en Anna se tweelingsuster. Die trein vertrek met Hetta en Freddie en die trane loop. Ons gaan by die Norvals tuis vir die lang somervakansie en tot Freddie uit die hospitaal kan kom.

    Freddie word laat in Desember geopereer. Hetta word deur die Spies-familie van Hillbrow, naby die hospitaal, gehuisves. Die Spiese is die sustersfamilie van Ada Winer, die Afrikaanse vrou van hoofkonstabel Winer. Só het almal mekaar ondersteun. Freddie word beter, lui die telegram. Hy verjaar op 4 Januarie 1947 en is 13.

    Op 7 Januarie kom egter ’n ander boodskap: Die operasie het nie werklik geslaag nie. Freddie is oorlede.

    Freddie word op Uitenhage langs Pa begrawe. Ek het ’n foto van Hetta in swart met peuter Joan in wit op haar arm en ek langs Pa se Willys. Oom Bunny Pienaar, Ma se broer, en sy vyf seuns ontferm hom oor my en ek kuier by hulle op Despatch. Hy neem ons bioskoop toe op Uitenhage vir ’n matinee waar King Kong wys. Maar droefheid oor my broer oorval my en ek huil deur die fliek. Tot vandag toe het ek nog nooit weer na ’n King Kong-prent gaan kyk nie.

    Hetta verhuur die huis op Uitenhage en ons trek na ’n goedkoper woonstelhuis langs ’n kafee in Kerkstraat. My ma, ’n opgeleide onderwyseres, maar verroes en ingehaal deur haar onder-kwalifikasie, gaan werk as assistent in die hospitaal se kafeteria.

    Ons blyplek is nou nader aan die goed toegeruste dorpsbiblioteek waarheen Hetta my vandat ek omtrent kon loop, geneem het. Ek het Engelse boeke verslind, want daar was nie Afrikaanse boeke nie. Die Winer-seuns leen my ook van hulle boeke, soos Biggles se oorlogstories, en die onnutsige Just William, Richmal Crompton se reeks boeke oor waaghalsige pret in Engelse grammar-skole.

    Vir my was en is lees onontbeerlik. Dit is deel van my bestaan, soos lewegewende suurstof. Daarom is ek die grootste dank verskuldig aan my moeder wat my as kleuter aan die hand biblioteek toe gevat het.

    Seker die oortuigendste argument wat ’n mens vir die lees van boeke kan kry, is deur die beroemde, Duits-gebore Switserse skrywer Hermann Hesse neergeskryf. Dié Nobelpryswenner vir letterkunde het in 1930 ’n essay geskryf met die opskrif: The Magic of the Book. Hier is ’n toepaslike uittreksel:

    Among the many worlds that man did not receive as a gift from nature but created out of his own mind, the world of books is the greatest … Without the word, without the writing of books, there is no history, there is no concept of humanity. And if anyone wants to try to enclose in a small space, in a single house or single room, the history of the human spirit and to make it his own, he can only do this in the form of a collection of books.

    Joan en ek is bedags in die sorg van Sarah Steenekamp. In 1951 is ek in standerd 7, vandag graad 9, in die Hoërskool Brandwag. Daar is geen noemenswaardige beroepsvoorligting nie en ek kies die verkeerde vakke – byvoorbeeld geen derde taal of wiskunde nie, vakke wat my sou gehelp het as ek universiteit toe kon gaan. Ek hou baie van aardrykskunde en verbreed my kennis deur atlasse te bestudeer.

    In 1954 slaag ek matriek ná ’n veelsydige skoolloopbaan. In die eindeksamen kry ek onderskeidings in Engels en aardrykskunde. Ek is rugby- en krieketkaptein, speel tennis vir die skool, en beleef my eerste kalwerliefde in drie of vier verhoudings wat neerkom op vurige soene en niks meer nie. Ek het by my ma geen social graces geleer nie. Ek was my hele lewe lank lomp op die dansbaan en ongemaklik met sjarme in die geselskap van vroue.

    My groot belangstelling van kleins af is egter koerante en tydskrifte. Hetta teken vir my in op Die Jongspan, ’n heerlike blad vir Afrikaanse kinders, uitgegee deur Nasionale Pers Beperk. Ons lees ook sporadies Die Oosterlig wat twee dae per week in Port Elizabeth uitgegee word.

    Ek word vriende met Basil Ferreira. Hy het staanplek langs Uitenhage se ou stasie vanwaar hy Die Oosterlig verkoop. Dit was toe ’n middagblad en Basil keer die uitstromende werkers voor as die laatmiddagtrein uit die Baai aankom. Ek kry ’n verkooppunt oorkant die stasie in Markstraat, voor Anderson se bakkery. Mense moet mos brood koop en ek verkoop daar my kwota Oosterligte, wat drie pennies gekos het. Ek dink ek het ’n pennie per koerant gekry – kosbare sakgeld.

    Benewens koerantverkope, het ek gedurende vakansies as bode in die prokureurspraktyk van Conradie, Campher en Pieterse gewerk. My werk was om dokumente op die ou Gestetner-masjien af te rol en pos te besorg. Een middag ry ek op my fiets Kerkstraat af met die bak voor die fiets vol briewe. Skielik vlieg ’n by voor by my hemp in, ek klap daarna, gil en die fiets val om en briewe vlieg oral om my in die straat. Ek het omtrent geskarrel om die briewe almal op te tel, die bysteek vergete.

    Vennoot Conradie se voornaam was Frans. Hy was later provinsiale raadslid vir Uitenhage en Kaapse lid van die Uitvoerende Komitee. Frans was ’n gekultiveerde mens en soos ek later sou uitvind, ’n prominente lid van die Afrikaner-Broederbond. Sy seun Leo het eers by Die Burger begin en was later diplomaat in Frankryk. Hy was getroud met ’n joernalistieke kollega, Renee Rautenbach.

    Vennoot Giep Pieterse het ’n groot rol in my toetrede tot die koerantwese gespeel. Ek kom later in die hoofstuk daarop terug.

    So teen standerd 8, nou graad 10, kry ons ’n voorligtingsblad en ek lees daarin oor die joernalistiek as loopbaan. Die salaris van ’n redakteur kon so hoog soos £240 per maand wees – ’n astronomiese bedrag. Ek gaan klop by die eienaar van die Uitenhage Times, mnr. John Hultzer, aan en vra of ek oor skolesport bydraes kan lewer. Hy aanvaar dit. Ek doen dieselfde by The Chronicle. En so begin ek berigte skryf, natuurlik met die hand.

    Ek skryf oor rugby en atletiek en beleef my eerste ervaring van ’n konflik tussen my beriggewing en die aansprake op my lojaliteit van die party oor wie die berig handel. Ons skool speel teen ons groot opponent, Muir College. Ek is in standerd 8 en reeds in die eerste span. Ons verloor naelskraap 8-5. Die Uitenhage Times kom uit met my berig onder die opskrif: Muir triumphs over Brandwag.

    By die eerste oefening ná die koerant verskyn, blaas afrigter Attie van Aswegen sy fluitjie, roep al ons spelers bymekaar, hou die koerant met die opskrif in die lug en trap my uit: Waar kom ek daaraan dat Muir getriomfeer het? Ons het dan met ’n skamele drie punte verloor? Nodeloos om te sê, ek kon nie die verskoning aanvoor dat ek nie die opskrif geskryf het nie.

    Ek het die berisping soos water van ’n eend se rug laat rol. ’n Joernalis is in die eerste instansie trou aan sy vak verskuldig. Later in my koerantloopbaan het ek heelwat sulke klappe gekry, veral van politici, maar my vel het toe al taamlik dik geword.

    In dié tyd word ons verplig om byeenkomste van die Christelike Studentevereniging (CSV) by die skool by te woon. Ek skryf ’n dagboek vol kalwerliefdestories en godsdiens-angs. Hoe piëtisties was ons nie. Ek bloos toe ek die gebrabbel onlangs weer uitgrawe.

    My flirtasies met die vroomheid het my darem ook aan ’n paar ander dinge blootgestel. Langs die kerksaal was ’n blok woonstelle van die NG Kerk. Onder in die gebou word ’n Afrikaanse Leeskamer geopen. Ek begin Afrikaans lees en raak versot op die avonture van Rooi Jan.

    Ek lees ook die eerste sogenaamde omstrede Afrikaanse seksroman, Meng my wyn deur HA van der Merwe. Daar is bolangse seks in en ek ag dit gerade om die boek onder my matras te bêre. Hetta en Sarah sit een Saterdag nuwe lakens op die bed en dop die matras om. Daar lê Meng my wyn. Hetta sê vir my: En dié? Ek skud my kop. Geen betigting het gevolg nie. Dit was immers die begin van my grootwordjare.

    Later sou ek uitvind dat die Leeskamer onder invloed van die FAK tot stand gebring is. Onder die beskermende hand van die Broederbond het die Afrikaanse leiers van die dorp met hierdie soort selfbemagtigingsinisiatiewe begin. Uitenhage het in 1948 as stoere Verenigde Party-vesting omgeswaai en Nasionaal geword. Die Nasionaliste het selfs hul eie saal vir byeenkomste op die dorp gebou.

    Ná die oorlog het die ekonomie gegroei, en eers Goodyear en toe Studebaker en Volkswagen het hulle op ons dorp gevestig saam met Fine Wools en ander ondersteunende bedrywe, soos die groot spoorwegwerkplaas. Despatch het geblom en van oral het werkers ingestroom: die wittes feitlik deur die bank Nasionaal. Despatch se vyandigheid jeens die Sap-opposisie het hom selfs die bynaam Hitler’s Halt besorg.

    Die swart mense het hul eie nasionalisme begin aanvoel. Die stadsraad het in witwarm gevegte van Sap na Nat geswaai, en die bankrekenings van Standard en Barclays na Volkskas.

    My Afrikanergevoelens was maar redelik lou. Ek het in die laerskool by die Voortrekkers aangesluit net om die jeugkampe oorkant Humewoodstrand in Port Elizabeth by te woon, en daarna weer bedank. Ons onderwysers op Brandwag was meestal Nasionaal, sommige vuriger as ander. Ons was die eerste geslag wat ná 1948 se Nat-oorwinning onderwys onder die Afrikaner-nasionalistiese vaandel gekry het.

    In ons wêreld was swart mense doer elders. Hoewel swart politieke druk opgebou het, is hulle oor die algemeen deur wittes as agitators beskou. Niemand onder die wittes het geagiteer vir beter huisvesting of lone vir swart of bruin werkers nie.

    In ons huis is Sarah Steenekamp as lid van die gesin beskou. Almal het egter geweet hierdie kant is ons s’n, en daardie kant is jou plek. Dit was ook so in Engelse huishoudings. Wit mense het in die vroeë vyftigs in ’n salige Rip van Winkel-wêreld geslaap.

    Met matriek klaar, en geen voorligting van waarde nie, volg ek en drie medematrieks ’n praatjie oor bosbou op. Ons is betower deur die beelde van plantasies, watervalle, digte lower en die wonderlike natuurskoon. Ons vier gaan sien toe die streekhoof van die Departement Bosbou in Port Elizabeth. Hy kon seker van sy stoel val oor dié vier nuwe rekrute. Die uiteinde is dat ek ’n pos as klerk graad III in Pretoria – en ’n treinkaartjie – kry en op 5 Januarie 1955 moes inval.

    Ek verlaat Uitenhage met ’n betraande moeder op die perron, net om 18 maande later weer terug te wees, buite my wete op pad na bo in die mediawese.

    Pretoria in 1955 was ’n rustige hoofstad met Oom Paul pas verskuif van die stasieplein na Kerkplein. Die stad het sy eeufees gevier onder leiding van die burgemeester, dr. Hilgard Muller, latere minister van buitelandse sake, ’n klassikus en ’n verfynde heer as daar ooit een was.

    Ek skop nes in die losieshuis Springbok in Proesstraat. Uit my salaris van £23 betaal ek £10 vir losies. Met die £13 pond wat oorbly, betaal ek iets soos £1,50 vir ’n reeks ensiklopedieë wat ’n agent aan my verkoop het, en £3 vir ’n Sanlam-polis. Jy vind gou uit dat die Afrikaans-georiënteerde staatsdiens oral informante vir boeksmouse en Sanlam het waarop hulle kommissie verdien. Dit was toe Sanlam-wêreld – sý beurt ná Ou Mutual se heerskappy met die politieke oorgang van 1948.

    Ek probeer by Tukkies inskryf, maar kry net toegang op voorwaarde dat ek ’n Duitse matriekkursus by die Pretoria Tegniese Kollege na-uurs aanpak. Dit doen ek met tanende geesdrif. Ek speel krieket vir Tuks (tweede liga destyds), en rugby vir Pretoria-klub (naby my losiesplek); laasgenoemde teen later beroemde spelers. Frik du Preez was toe by Garnisoen, die weermagklub. Louis Schmidt, woelige flank, was die vurige kaptein van Tuks se onder 19-span. Tom van Vollenhoven, pas 19, was te goed en speel vir Polisie se eerstespan naas die veteraan Hannes Brewis – en druk later vir die Springbokke in die toets teen die Leeus op Nuweland drie drieë!

    In die winter van 1955 sien ek my tweede en derde internasionale rugbytoetse. Ek is een van die 95 000 toeskouers wat Ellispark in Johannesburg volsit en kyk hoe Jack van der Schyff met ’n laaste vervyfskop rakelings mis en ons 22–23 teen die Britse Leeus verloor.

    My eerste toets was in 1949 as skoolseun, toe die Springbokke op die Crusader-veld in Port Elizabeth die vierde toets teen Fred Allen se All Blacks gewen het. Voor hierdie toets is ’n groep van ons seuns deur geesdriftiges op Uitenhage gevra om deurnag tou te staan en hul plek te hou vir die opening van die kaartjieskantoor die oggend voor Brockett se sportwinkel. Ons borge het vir ons motorkarsitplekke neergesit, komberse gebring, ook flesse met koffie en toebroodjies, en ons het gesit-lê en ginnegaap en ons beloning verdien.

    Terug na my loopbaan in die staatsdiens. Ek het in Januarie 1955 so ’n kantoortjie buite ’n pakkamer by die Departement Bosbou gekry en moes aan ’n afdelingshoof rapporteer. Hy het my nie veel wys gemaak nie.

    Ek kry daagliks pakke bruin leggers oor allerlei onderwerpe wat die vroue van die posdiens, genaamd Registrasie, aangedra het. Jy gaan dit deur, rig dit aan die here in die verskeie afdelings, en kyk hier en daar of jy ’n antwoord vir jou afdelingshoof kan prakseer. Waar jy nie raad het nie, vat jy net ’n pienk plakker waarop Pending staan en jy skryf ’n datum ’n maand vorentoe op en die legger gaan terug na Registrasie om ’n maand later weer uit te dop. Lekker ou laat-maar-loop-wêreld.

    Ek was hoogs verveeld, en krap in die pakkamer ’n ou groot Remington-tikmasjien uit en begin om myself te leer tik. Tweevinger koerantstyl. Ek let op die manne in die algemene kantoor kry soggens Die Transvaler en dan maak al agt ’n toiletbeurt met die koerant. Praat van jou leserstal opskuif!

    Teetyd staan ons rond, ouens chaff die meisies, die manne praat politiek en Blou Bul-rugby, met hier en daar ’n verplaaste Bolander in diens van Bosbou wat vir die WP opkom.

    Ek maak vriende met Charles Brookes van die Pretoria News, ontmoet ook ander redaksielede, en klop by die redakteur aan vir ’n leerlingpos. Sy raad is: Maak eers jou graad klaar. Ditto by Die Transvaler se Pretoria-kantoor, waar ek kennis maak met een van die beste en beskaafdste koerantmense ooit, Gus Cluver. Ek het jare later leedvermakerig gedink dat indien Die Transvaler my destyds gevat het, dinge heel anders vir my en Perskor kon verloop het.

    In April 1956 kry ek vakansie en reis huis toe na Uitenhage. ’n Huisvriend, prokureur Gideon Pieterse, kom kuier. Hy is korrespondent vir Die Oosterlig en wil met vakansie gaan en vra my om in sy plek te locum. Ek is gretig, want ek sit my tone en tel by die huis. Gou loop ek ’n paar berigte raak en een haal die voorblad: ’n mooi vrou word vermis en almal is gaande.

    Ek skryf die berig en kry ’n foto by die familie. ’n

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1