Die Saterdagoggend toe ek Porterville inry, tref ek ’n seldsame gesig in Bassonstraat aan – ’n verkeersknoop. Gewoonlik sien ’n mens net ’n paar plaasbakkies op ’n keer in dié pad wat uit die hoofstraat berg se kant toe draai. Dálk per geleentheid ’n vragmotor wat verbyrammel Wesgraan-silo’s toe. Maar vandag staan daar tot op die sypaadjies rygoed, want die parkeerplekke word beset deur gesinsvoertuie en skoolbusse met nommerplate van elders: CR, CF, CT, CBY, CJ…
Dit neem nie lank om uit te vind wat dié opeenhoping veroorsaak nie: Gedempte basnote uit ’n luidsprekerstelsel bereik my ore, en kort daarna die skril fluitjie van ’n skeidsregter. Dis die Höerskool Porterville se jaarlikse Bulfees en ondersteuners was al voor die son op om van wie-weet-waar oor provinsiale grense en bergpasse te ry vir die dag se skolerugby en -netbal.
Die eerste veld waar ek verbystap, word die “middelveldjie” genoem. Ouers moedig hulle kaalvoetseuntjies luidkeels van die kantlyn af aan. Die skeidsregter is toegeeflik – eers teen ’n tweede of selfs derde aanslaan beduie hy: Skrum vir die ander span. Dit lyk asof albei spanne dieselfde spelpatroon volg: Gee die bal so vinnig as wat jy kan aan vir die outjie wat die naaste aan puberteit is en laat dié rammetjie dan deur die verdediging bars. Maar hy vorder nooit ver voordat iemand sy enkels beetkry en hy vooroor tuimel en die bal verloor nie. Dis dieselfde storie weer en weer.
Kannetjierugby is mos maar eintlik net ’n getjorrel. Lynstaanroepe land op dowe ore en die skrum word gewen deur die voorry wie se ma’s die hardste skree.
Maar hoe ouer die seuns, hoe ernstiger die spel. Die hoërskoolspanne is op die B-veld aan’ t opwarm. Hier staan ry op ry toksakke so presies soos Japannese troepe op ’n paradegrond. Een span oefen flink sy agterlyn-aangee,. Die toestelletjies se aanhoudende gekraak en knetter laat die boodskappe danig dringend klink.