Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Kinders Grim en die Verskiete Ster: Die Kinders Grim, #2
Die Kinders Grim en die Verskiete Ster: Die Kinders Grim, #2
Die Kinders Grim en die Verskiete Ster: Die Kinders Grim, #2
Ebook470 pages8 hours

Die Kinders Grim en die Verskiete Ster: Die Kinders Grim, #2

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Bella hou aan soek vir antwoorde op al haar vrae, maar ontmoet 'n verskriklike vyand wat nie sal stop tot hy gekry het wat hy soek nie.

LanguageAfrikaans
PublisherJM van Zyl
Release dateJun 24, 2019
ISBN9781393400240
Die Kinders Grim en die Verskiete Ster: Die Kinders Grim, #2

Related to Die Kinders Grim en die Verskiete Ster

Titles in the series (2)

View More

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die Kinders Grim en die Verskiete Ster

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Kinders Grim en die Verskiete Ster - JM van Zyl

    Die Gevaarlike Passasier

    Die ou bus jaag oor die stukkende teerpad en waai 'n klomp stof en droë blare op wat agter dit aan tol. Die bestuurder sweet en kyk angstig in die syspieëltjie na die sonsondergang agter hom. Hy is laat, baie laat, en nou is die nag amper op hulle...

    Daar is baie stories oor wat in die donker berge gebeur. Stories van dinge in die maanlig - monsters in die skaduwees... Hy ken al die stories goed, hy weet ook baie van hulle is waar. Hy weet die berge in die nag is niks om mee te speel nie.

    Die bestuurder draai weer angstig om na die son wat sak agter die bus, die lig word al minder, en druk sy voet hard neer op die petrol pedaal. Die ou rammelkas spring vorentoe met 'n geruk. 'n Paar los stoele skuif skielik agtertoe waar hulle afpyl op kinders wat rustig gesels op 'n bankie. Mens sou dink dat die kinders sou skrik, maar hulle lig maar net hulle bene uit die pad van die skuiwende meubels en hou aan gesels. Hulle is al gewoond aan stoele, banke en ander meubels wat rondskuif op die jagende bus, en selfs die bestuurder se roekeloosheid is niks nuut vir hulle nie.

    Die rammelkas bus ry verby die mooi plasies en landerye, op teen die kranse van die Drakeberge wat goud gekleur word deur die son se laaste strale. Oral skud en raas dinge aan die ou voertuig en lyk asof hulle enige oomblik kan afbreek, maar die kinders sit rustig en gesels met mekaar of staar by die vensters uit na die mooi landskap en sonsondergang.

    Hulle is al gewoond aan die bus se gerammel en al die senutergende geluide wat uit die enjin uit kom, selfs die wolke rook wat agter die bus aantrek is vir hulle net so gewoon soos die landskap waar hulle deur ry. Hulle almal sit stil, uitgeput deur die warm dag en die middag se lang gewag vir die bus wat al weer laat was.

    In die middel van die bus sit Bella saam met haar sussie en boeties op 'n verflenterde groen rusbank. Die ou bank staan langs 'n groot hout venster, en is met toue aan die vloer vasgemaak sodat dit nie te veel rondskuif nie. Net soos die rusbank het die ou venster ook eers aan 'n huis behoort. Dit is wit geverf, wat al in plekke begin afdop het, en is selfs geraam deur 'n paar verbleikte gordyntjies en 'n klein potplant wat met kougom op die vensterbank vasgeplak is. 'n Parmantige klein blommetjie staan penregop in die potjie, en so elke nou en dan hap dit na 'n insek wat te naby kom. Hierdie dinge sal beslis nie pas op 'n ordentlike bus nie, maar op die laslappie rammelkas is hulle maar net deel van die vreemde versameling wat tot die meestal geel bus behoort.

    Die ou rusbank, met sy deurgeskaafde materiaal, lyk dalk vreemd in vergelyking met ander busbankies, maar dit is verbasend gemaklik, baie meer noudat dit stewig vasgemaak is. Bella, 'n jong meisie van amper veertien jaar oud, met lang bruin hare en 'n slaperige uitdrukking, sit langs die venster en staar na die landskap wat verby flits. Sy onthou die eerste keer toe hulle op die rusbank gesit het. Die toue wat dit moes vasmaak was stukkend en die rusbank het die heel tyd rondgeskuif. Sy was nog nooit so naar in haar lewe nie! Maar nou ja, dit is ook 'n ander storie...

    Sy kyk ingedagte by die venster uit na die mooi landskap van die laagland. Daar is baie dinge wat deur haar gedagtes maal. Die afgelope paar dae het so baie dinge gebeur. Sy kan nie glo dit is net drie dae nie. Net drie dae sedert hulle by die vreemde weeshuis aangekom het, en ook alles wat daar en by die Kinder Akademie gebeur het. Net drie dae gelede het hulle nog 'n laaste keer vir Ouma Annie gegroet, 'n laaste keer na hulle geliefde huisie langs die meer gekyk, en die laaste toebroodjies geëet wat uit Ouma se huisie gekom het. Toe moes hulle alles oppak en na die aaklige weeshuis in Bitterwind toe kom, baie kilometers ver na die Suide. Soos sy kyk na die plase en klein huisies wat verby gaan voel Bella skielik weer baie hartseer en sluk aan 'n knop in haar keel.

    'Sterk wees, Bella...' sê sy vir haarself. 'Nog net 'n rukkie langer...'

    Bella onthou haar eie raad aan Jan-Bam, om positief te bly, om aan te hou hoop en glo al gebeur daar slegte dinge. Sy trek 'n diep asem in en glimlag vasberade.

    'Basta negatiwiteit!' Sy gaan haar beste doen om positief wees. Dinge sal beter word! Hulle moet...

    Sy glimlag vasberade vir haar boeties en sussie langs haar op die bank, maar hulle frons net vir haar lawwe glimlag. Teen dié tyd is hulle al gewoond aan hulle ousus se eienaardighede. Die vier Grim-kinders is baie lief vir mekaar en ook geheg aan mekaar, veral noudat hulle alleen by die weeshuis en weg van Ouma Annie af is. Hulle liefde vir mekaar keer egter nie dat hulle soms baklei nie, soos alle sibbe maar maak. Jan-Bam frons weer vir sy sussie se vreemde glimlag, hy hoop net haar glimlag beteken nie dat sy weer kliphard vir almal wil groet nie. Laas toe sy dit gedoen het, het hy so skaam gekry tot sy ore het gebloos!

    Gelukkig vir Jan-Bam is dit nie waaroor Bella glimlag nie. Sy draai al die vreemde gebeure van die laaste paar dae in haar gedagtes om. Bella is seker al die dinge wat met hulle gebeur het, het gebeur met 'n doel. Van die Oergaai, die Onkulis aanval, tot die sleutel wat Meneer Klein vir haar gegooi het, of eerder, waarmee hy haar gegooi het... Sy vryf weer aan die knop teen haar voorkop. Dit is darem nie meer so seer soos dit was nie maar sy is nog steeds vies vir haarself omdat sy nie beter kon vang nie.  Sy is seker al die dinge is gekonnekteer op die een of ander vreemde manier, maar maak nie saak hoe sy probeer nie, sy kan nie uitpluis hoe alles in mekaar pas nie.

    Bella vryf weer haar voorkop en wens sy het meer atletiese vernuf gehad, dan kon sy makliker dinge vang wat vir haar gegooi word en miskien selfs netbal speel, maar ongelukkig is 'n algehele gebrek aan hand-oog koördinasie 'n Grim familie eienskap. Haar lompheid het egter nie gekeer dat sy probeer nie, en sy wonder of die Akademie ook soos haar ou skool 'n netbal span het. Met alles wat die afgelope paar dae gebeur het was sport en atletiek die laaste ding waaraan sy gedink het. As daar 'n sportspan is sal sy graag wil deelneem. Meneer Wildebaard, die Kinder Akademie se hoof, het iets gesê van 'n slym-duik span. Slym-duik klink absoluut afgryslik, maar as sy 'n positiewe gesindheid teenoor dit het, kan dit dalk net pret wees. In elk' geval, sy is seker dit sal hierdie keer beter gaan as by haar vorige skool...

    Bella voel in haar sak en raak aan die yster sleutel wat Meneer Klein vir haar gegooi het. Wat is so belangrik oor die sleutel dat hy homself soos 'n rietbos in die moeras moes vermom om dit by haar uit te kry? Sy trek die briefie uit haar sak wat saam met die sleutel in die blikkie was en maak die klam papiertjie versigtig oop.

    Liewe kinders, ek hoop hierdie brief vind julle gelukkig en veilig. Die Oergaai was veronderstel om 'n sleutel vir julle gee, saam met die volgende instruksies:

    Gebruik die sleutel om die kluis in die opsigter se kantoor oop te sluit.

    Binne is 'n hout kissie met die uilmerk op dit.

    Bring die kissie na die plek wat in die koerant aangewys word.

    Ons wag vir julle.

    Maak gou! Ons het nie meer baie tyd nie!

    Liefde, jul...

    Die nota was saam met die sleutel in die blikkie. Dit was so klein opgevou sy het dit amper misgekyk, maar in die moeras het die papier 'n bietjie nat geword wat die ink laat smeer het. Bella vou die klein briefie weer versigtig op en wonder of dit regtig hulle ouers is wat dit gestuur het. Die gesmeerde ink is nie in hulle handskrif nie, maar hulle kon miskien vir iemand anders gevra het om die brief te skryf. Sy wil so graag hoop dat dit regtig hulle is, dan sou hulle ten minste nog steeds lewendig wees...

    Bella staar ingedagte by die venster uit na die skemer landskap wat vinnig verby flits en al hoe donkerder word soos die son sak. Die Kroonwoud se groot bome word al minder en yler teen die kranse op, oral steek daar grys rotse uit tussen die skaduwees wat die bome oor die landskap gooi. Die nag is amper hier, in die verte lê die laaste lig soos 'n streep uitgebrande kole op die horison.

    Die  bestuurder was baie laat, baie meer as gewoonlik, en hy jaag om die kinders betyds by die huis te kry. Dit is amper donker, hulle moes ure terug al by die huis gewees het. Hy kyk weer vinnig in sy spieëltjie, maar in die dowwe lig van skemer is al wat hy kan uitmaak die donker skaduwees van rotse wat verby flits. As hulle gelukkig is, sal hulle dalk die berge se nagtelike inwoners vermy, maar hulle sal gou moet maak...

    Die bestuurder is 'n goedhartige man, nie heeltemal so oud soos hy lyk nie weens jare se harde werk in die son. Hy is 'n gebore Bitterwinder en ken die area en berge goed. Hy weet hulle is in gevaar, maar hy wil nie die kinders ontstel deur hulle die waarheid te vertel nie. Soos dit is, het hulle 'n moeilik genoeg tyd by die Akademie, en boonop moes hulle die hele middag in die warm moeras wag. Toe hy uiteindelik opgedaag het het hy niks gesê oor sy laat kommery nie, maar die kinders het ook nie gevra nie. Hulle was almal net te bly om in die bus te klim nadat hulle ure in die moeras se bedompige hitte moes wag. Veral ook na die klomp kraaie so skielik tussen hulle deur gevlieg en almal skrik gemaak het.

    Bella gril toe sy aan daardie klomp vreemde voëls dink en voel weer aan die sleutel in haar sak. Een van die groot kraaie het die blikkie wat die sleutel in was uit haar hand gegryp en weggevlieg daarmee. Alfie het gesê dit is miskien omdat die blikkie geblink het, maar Bella is nie so seker nie. Daar is iets omtrent daardie klomp kraaie wat haar baie kriewelrig maak, selfs die Oergaai en Meneer Klein het haar gewaarsku teen hulle.

    Sy staar nog ingedagte by die venster uit na die donker landskap toe daar skielik iets by die venster verby waai, naby aan die kant van die pad, maar in die donker kon Bella nie mooi sien wat dit was nie.

    Miskien was dit maar net 'n papier of iets wat die rammelkas opgewaai het toe dit verby gery het. Of een van die skedonk se wiele...

    Hulle is nog 'n entjie van die weeshuis af en dit is al klaar so donker dat die bestuurder die ligte in die bus moet aansit. Net soos die res van die rammelkas, is die ligte ook maar aanmekaargelap en onvanpas. Oral teen die dak is kersboomliggies vasgeplak met kleefband en verskillende kleure kougom. Tussen hulle hang 'n paar gewone huisligte met kleurvolle skerms, daar hang selfs 'n mooi kandelaar met klein liggies wat soos kerse lyk in die middel van die bus.

    Al die ligte swaai en bons rond elke keer wat die bus draai of oor 'n hobbel ry - wat nogal baie gebeur omdat die pad so sleg is. Al is die ligte beslis nie iets wat in 'n normale bus sou wees nie, pas hulle nogal goed by die res van die laslappie-bus, en in hulle lig lyk die ou rammelkas nogal snoesig en mooi. Dit is die eerste keer wat Bella-hulle die ligte in die bus aan sien, en hulle verkyk hulle aan al die soorte wat teen die dak vasgeplak is. Gerrie raak veral betower deur die klein kersliggies wat oral oor die bus se dak glinster en spring op om met Muis te praat oor die mooi liggies.

    Gerrie en Muis is besig om goeie vriende te word en Bella is bly daaroor. Haar sussie was nog altyd baie skaam en teruggetrokke en Bella hoop dat haar vriendskap met Muis haar meer selfvertroue sal gee. Gerrie se tweeling boetie, Gort, kyk ook na die mooi liggies, maar sy aandag word weer vinnig afgetrek deur een van sy monsterboeke wat hy met groot konsentrasie in die skommelende bus probeer lees.

    Hy is baie hartseer omdat hulle nie meer by Ouma Annie kan bly nie, maar hy is ook opgewonde oor al die ongediertes wat hulle hier in Bitterwind ontmoet het, al het een van hulle hom probeer opvreet! Die Middelmeer Gebied waar hulle saam Ouma Annie gebly het, het nie sulke vreemde diere gehad nie. Daar was maar net die gewone honde en katte en Beeslummels en sulke goed, niks so opwindend soos wat hier bo in die kranse en by die Akademie is nie.

    Ouma Annie het wel gesê dat sy 'n paar keer vreemde pers katte buite die huis gesien het, pers met swart strepe en kolle, maar Gort weet nie of dit regtig gebeur het nie. Ouma Annie het die laaste tyd vreemde dinge gesê en gedoen. Dit is een van die redes waarom sy nie meer na die kinders kon kyk nie en waarom hulle al die pad na Bitterwind toe moes kom om hier in die weeshuis te bly. Gort wens hulle kon net 'n rukkie langer by Ouma gebly het, of selfs net by iemand anders in hulle dorpie. Hy wonder hoekom hulle nou juis al die pad na die Suide van Nimmermeer moes kom om in die weeshuis te bly terwyl daar plekke in hulle ou dorpie was waar hulle kon heen gaan.

    Verskeie van sy skoolmaats het aangebied om die Grim kinders in te neem, asook mense van hulle kerk, maar die mense van die welsyn wou niks van dit hoor nie. Hulle het aangedring dat die kinders alles oppak en trek na die grillerige weeshuis op die Kruin. Al die dinge maak Gort hartseer, soms het hy selfs tranerig geword, maar hy het gesien as hy sy monsterboeke lees, vergeet hy so bietjie van die dinge wat hom hartseer maak, al is dit net vir 'n rukkie. Hy geniet sy boeke en wil graag oplees oor al die diere wat hier gevind kan word sodat hy hulle kan uitken as hy hulle raakloop.

    Jan-Bam sit langs Gort en kyk ook na die liggies wat so deurmekaar teen die plafon geplak is. Hy is twaalf jaar oud en het netjiese bruin hare, net soos Bella, nie soos die tweeling nie, wat albei rooi hare het net soos hulle ma. Hy sit stil en probeer sy gedagtes vir homself hou maar Bella kan sien hy is ook hartseer. Sy is bekommerd oor hom. Vandat hulle hier aangekom het lag en glimlag hy nie meer soos altyd nie. Hy het ook 'n rowwe tyd gehad toe daardie aaklige Juffrou Knor hom in 'n kas ingestamp en hom daar toegesluit het. Sy was kwaad vir Jan-Bam omdat hy haar perongeluk met sy tas gegooi het - hy het eintlik gedink sy is 'n monster en het geskrik toe hy haar skielik in die donker sien. In sy verdediging - hy wou net sy boetie en sussies beskerm, en in die dowwe lig van die eetsaal het Juffrou Knor nogal soos 'n groot aasvoël gelyk!

    Bella glimlag vir hom en reik uit oor Gort en sy boeke om Jan-Bam se skouer 'n drukkie te gee. Hy glimlag vinnig terug vir haar, maar Bella kan sien daar is nog steeds hartseer agter sy oë.

    Onthou, ons moet positief bly, praat sy hom moed in. "Dinge sal beter word. Ek is seker dit sal. Sy glimlag weer vir haar boetie wat skamerig terug glimlag, die keer met 'n bietjie meer hoop in sy oë. Nou weet hy waaroor haar lawwe glimlag van netnou was. Sy sussie is reg, dinge sal beter word. Hulle moet net aanhou hoop en glo. Al gebeur daar nou dinge wat nie lekker is nie, dit sal weer verander. Ouma Annie het altyd gesê, Alles het 'n begin en 'n einde." Net soos goeie tye soms eindig, so sal slegte tye ook ophou, hulle moet net aanhou en nie moed opgee nie.

    Jan-Bam begin net ontspan in die ou rusbank toe hy skielik voel hoe die hare op sy nek regop staan. Hy kyk vinnig om hom rond - die bus is vol kleurvolle liggies en kinders wat gesellig met mekaar praat. Die koel berg lug waai by die oop vensters in om die kinders te verfris en die hitte van die moeras weg te waai, maar niks lyk besonders uit plek uit nie.

    Buite die vensters is dit amper pikdonker en moeilik om iets te sien. Dit is net 'n bietjie van die sypaadjie langs die bus wat sigbaar is wanneer die ligte swaai om daarop te skyn, andersins is alles swart. Hulle is hoog in die Drakeberge, ver weg van die dorp en enige van die snoesige laagland huisies. Die bestuurder druk nog steeds sy voet op die petrol en jaag deur die steil klowe wat deur die gesplinterde rotse gekerf is.

    Jan-Bam kyk weer rond. Hy kan nie die gevoel afskud dat iets nie reg is nie...

    Dit is dieselfde gevoel wat hy vanmiddag gehad het toe die klomp kraaie agter hulle gaan sit het. Daar is iets nie reg met daardie klomp voëls nie. Hy is seker daardie swerm het hulle dopgehou en het aspris die blikkie uit Bella se hand gegryp. Sy was baie geskok toe dit gebeur het en hy wou haar nog vra oor dit, maar het die gevoel gekry dat sy nie voor die ander kinders daaroor wou praat nie.

    Bella begin ook bewus word van iets wat buite die venster is, net agter die lig van die swaaiende lampies, iets wat lyk asof dit langs die bus hardloop, nee - dit lyk eerder of dit vlieg! Die bus jaag tussen die kranse deur en niks kan tog so vinnig hardloop nie...

    Dit moet iets wees wat vlieg...

    Is dit 'n kraai...?

    Sy buig nader aan die venster en trek haar oë skrefies om beter in die donker te sien, maar daar is niks... Al wat in die laat-skemer verby die venster flits is maar net die gewone rotse en droë bossies wat op die sypaadjie probeer groei. As daar iets langs die bus gevlieg het kan sy dit nou nie meer sien nie...

    Bella sit terug in die rusbank en vou haar arms ingedagte terwyl sy probeer om te ontspan in die sagte kussings. Sy konsentreer eerder op die mooi liggies teen die plafon, want sy wil nie hê haar verbeelding moet weer met haar wegloop nie. Sy verkies om eerder 'n meer realistiese verduideliking te soek as 'n vreemde ding wat langs die bus vlieg. Miskien was dit maar net 'n weerkaatsing teen die ruit, of dalk 'n plastiek sak of iets wat deur die wind gewaai was.

    Jan-Bam kyk nog steeds onrustig rond. Hy wonder of dit weer die klomp kraaie is wat agter die bus aangevlieg het. Daar was 'n klomp van hulle by die weeshuis die vorige dag, en ook op die oggend toe hulle hier in Bitterwind aangekom het. Hy sit so bietjie vorentoe om by die venster langs Bella uit te kyk - miskien het daardie grillerige voëls besluit om hulle weer te volg.

    Hy kan niks vreemd sien nie, maar hy is seker hy voel iets...

    Koue rillings begin by sy rug af loop, so koud soos hy nog nooit gevoel het nie. Jan-Bam raak al hoe meer onrustig en kyk om hom rond in die bus na die ander kinders wat luidrugtig met mekaar gesels en grappies maak, almal behalwe Lente en Winter. Hulle kyk ook bekommerd om hulle, en frons vir die laggende kinders en die donker vensters wat hulle almal omring. Dit lyk asof hulle ook voel wat Jan-Bam voel...

    Wat is dit, Jan-Bam?

    Bella se vraag laat hom skrik en hy hop 'n bietjie op die sagte kussings. Sy het gesien haar boetie lyk bekommerd, meer as gewoonlik.

    Ek weet nie... sê hy. Jan-Bam draai weer om om te kyk of hy iets by die bus se groot agtervenster kan sien. Dit is net die donker buite die bus. Hy skuif sy bril terug op sy neus om te kyk of dit beter kan fokus, maar dit help nie.

    Iets is verkeerd...

    Die koue wat by sy ruggraat afkruip word al sterker en kouer, toe daar skielik 'n herinnering in sy gedagtes opduik - hy het hierdie koue al vantevore gevoel, lank terug, maar net as hy die herinnering wil raak vat, smelt dit weg...

    Die bus maak 'n skerp draai deur 'n nou kloof in die berg, hoë rotse flank dit aan albei kante toe daar skielik 'n harde slag van die dak af bars. Iets swaar het op die dak geval en 'n groot duik in die gelapte metaal gedruk.

    Bella hop sommer soos sy skrik vir die nuwe geluid, dit was baie harder as die ander geraas wat die bus gewoonlik maak, en klink behoorlik of daar ysters op die dak is wat losskud. Vir 'n oomblik is daar stilte in die bus terwyl die verbaasde kinders na die dak staar, maar dit word gou verbreek deur harde geluide wat klink soos ysters wat oor die dak skraap. Die kinders kyk bekommerd vir mekaar - die nuwe geluide klink darem baie anders as die bus se gewone rammelinge.

    Sedert sy dit die eerste keer gesien het, het Bella 'n vermoede gehad dat die bus nie heeltemal padwaardig is nie. Hierdie nuutste klomp skrape en klappe bevestig net weer haar suspisies - die bus is besig om te ontplof, al weer! Dit het letterlik die vorige dag aan die brand geslaan, en nou lyk dit asof die dak ook wil afwaai! Sy hoop net hulle kan almal by die huis uitkom voor die ou skedonk finaal uitmekaarval.

    Jan-Bam en 'n paar ander kinders, wat ook in die middel van die bus sit, kyk verskrik op na die dak waar hulle die geluid gehoor het. Hy is nie seker wat die harde slag was nie, maar onthou dat Grietjie hulle vertel het van klippe wat van die kranse afrol en op die pad neerstort. Sy het gesê dat daar net nou die dag een amper op die bus geval het en die kinders saam met die ou rammelkas byna bokveld toe was.

    Miskien is dit 'n klip? wonder Jan-Bam.

    Ek weet nie... sê Bella grootoog. Dit klink eerder soos yster wat krap of iets. Ek hoop net nie die dak waai weg nie, sê sy en gryp haar lang hare by voorbaat vas sodat dit nie saam met die dak in 'n warrelwind vasgevang word nie. Dit sal haar ook glad nie verbaas as die dak regtig opstyg en in die rookwolk agter die wrak verdwyn nie, die ou bus maak so baie geluide sy het netnou gedink een van die wiele het afgeval!

    Nee, dit is nie die dak wat afskeur nie. Dit is iets anders, sê Jan-Bam en skuif sy bril reg. Kyk daar, waar die dak gebuig het.. Hy wys na 'n kol waar die kersliggies flikker rondom 'n groot duik in die dak.

    Watter duik? Gort het uiteindelik sy neus uit sy boek uitgelig en kyk ook na die spesifieke duik wat Jan-Bam aanwys tussen al die ander duike en hobbels in die bus se dak. Was dit nie altyd so nie? vra hy.

    Nee, ek is seker dit het nou net... Jan-Bam was nog besig om te praat toe 'n harde lawaai van die dak af klink.

    Die duik waarna hy wys skiet skielik weer terug asof 'n groot gewig van dit afgelig het. Die klingel geluide skraap oor die bus tot dit weer met 'n blikkerige rammel nog 'n duik in die dak in druk, die keer amper reg bo Jan-Bam. Die gelaste metaal panele begin selfs buig en kreun onder die enorme gewig wat op hulle druk.

    Die dak skud so dat die mooi kandelaar wat naby hang skielik rondruk en begin om aan en af te flits. Oral val daar grys stoffies uit die dak se vele lasplekke wat oopgebuig word deur die gewig wat op dit druk. Die stof waai neer op Jan-Bam en Gort, wat hulle laat nies en uit die pad buk. Hulle probeer die grys stoffies voor hulle wegjaag sodat hulle beter kan sien, maar die koel lug wat by die vensters in waai jaag dit die hele bus vol. Die koue rillings wat teen Jan-Bam se rug af loop raak al hoe erger, en voel asof iemand 'n beker yskoue water by sy hemp ingegooi het. Skielik flits daar weer 'n herinnering deur sy gedagtes, 'n vae skim van iets wat lank terug gebeur het, maar dan raak dit weg voordat hy mooi kan uitmaak wat dit was. Die klomp geluide is beslis nie die dak wat wil afwaai of die enjin wat wil ontplof nie...

    Daar is iets op die dak!

    Van die ander kinders in die bus het ook die geklingel gehoor en gesien toe die dak so induik. Hulle hou op praat en staar verbaas na die duik, waar daar nog steeds 'n paar stoffies uit val tussen die knopperige sweisplekke wat die metaal verbind met al die rommel waarvan die bus gemaak is. Die grys poeier waai in die bus rond, en maak die kinders nies en hoes terwyl hulle tevergeefs probeer om die stof van hulle af weg te waai.

    Die klingel geluide hou aan en klink amper soos ysters of kettings wat teen mekaar stamp en oor die dak getrek word.

    Die kinders in die bus word al stiller, en staar na die dak waar die kandelaar flikker en stadig ronddraai. Selfs Erik en Olma-hulle agter in die bus begin agterkom iets is nie reg nie en sjoe mekaar om stil te bly. Hulle almal staar onseker na die kandelaar wat flikker, dan skielik rond ruk soos die gewig op die dak rondskuif. Die kandelaar flits 'n laaste keer en gaan heeltemal dood. Selfs die kersliggies rondom dit begin ook dof te flikker en lyk asof hulle wil uitgaan. Jan-Bam skuif weer sy bril reg en staar na die duik in die dak en die liggies wat al dowwer rondom dit gloei.

    'n Vreemde stilte val oor die bus en die passasiers...

    Die kandelaar skud nie meer so baie nie maar draai net stadig rond soos die bus tussen die kranse deur ry. Jan-Bam staan op en staar verbaas na die duik bokant hom. Hy merk iets vreemd op, wel nog vreemder as die duik en die geluide - dit lyk asof die dak wit word waar dit ingeduik het. Oral op en om die duik sprei 'n wit laag stadig oor die bus se geel verf. Hy frons en steek sy hand uit om aan die witterigheid te probeer vat om te sien wat dit is, maar Bella ruk sy mou terug en gee hom 'n moenie-aan-die-jiggie-goed-vat-nie-kyk.

    Die kersliggies rondom die duik in die dak word al dowwer en dowwer, dan ruk hulle skielik soos 'n harde slag teen die yster dak tref!

    Die kinders skrik so groot hulle almal skree en gryp na mekaar. Selfs die busbestuurder kyk om om te sien waaroor al die kommosie is. Hy weet hulle is in die moeilikheid. Hy het dit nog altyd beskou as 'n regte wonderwerk dat hulle al die jare veilig gebly het in die berge. Daar was 'n paar skrape en noue ontkomings, maar gelukkig niks ernstig nie. Dit lyk egter of die noodlot vanaand iets anders beplan...

    Die wit kol op die dak word al groter, en soos dit groei word die liggies in dit al dowwer, totdat hulle 'n laaste keer flikker en dan heeltemal ophou skyn. Al die kinders is bang en hou aan mekaar vas, Jan-Bam hou vir Gort en Bella vas terwyl Gerrie en Muis mekaar sommer so oor die bankie se rug vashou. Hulle almal kyk verskrik na die duik bo hulle wat al witter word. Die wit goed lyk wollerig, en elke keer as die bus skud val daar wit donsies af wat stadig afdryf vloer toe. Gerrie is baie bang, maar die versoeking om aan die wit wolletjies wat afdryf te raak is net te groot vir haar. Sy steek haar hand uit en vang een in haar palm.

    Haai?! sê sy verbaas. Dit is yskoud!

    Wat op aarde?! vra Bella. Sy steek versigtig haar hand uit en raak aan die wit wolletjies teen die dak. Dit is ys! Net soos die wollerige ys wat altyd binne Ouma Annie se yskas gevorm het. Die ander kinders kyk ook almal verbaas na die yskol teen die dak. Hulle kan nie verstaan wat aangaan nie, dit is tog nie so vreeslik koud buite nie; die wind wat by die vensters inwaai is koel, nie vriesend nie!

    Is dit ys?! vra Winter verbaas. Bella knik 'Ja'. Sy druk aan haar boeties en Gerrie om uit die pad te staan. Wat ook al op die dak aangaan, hulle is reg onder dit en dit is beslis nie 'n goeie plek om te wees nie!

    Bella-hulle skuif weg van die groen rusbank af en gaan staan in die gang waar hulle aan ander bankies moet vashou om regop te bly. Die bus ry nog steeds vinnig deur die Drakeberg se donker kranse en die ou pad is beslis nie sonder hobbels nie. Elke nou en dan skud die bus oor 'n hobbel of slaggat en dan raas die ysters weer bo-op die dak. Die duik in die dak bons skielik weer terug en word gevolg deur 'n harde gekrap wat oor die dak trek tot dit weer induik, die keer reg bo Bella!

    Op die plek waar die dak ingeduik was breek daar stukkies ys af en val op die vloer. Die kersliggies wat doodgegaan het begin weer flikker en stadig helderder gloei asof hulle nuwe lewe gekry het. Reg bo Bella is dit egter 'n ander storie, die liggies word al hoe dowwer en daar groei 'n kol wit ys teen die dak wat vinnig groter word en uitsprei na alle kante toe. Bella kyk verskrik op na die wit kol bokant haar.

    Het daar 'n blok ys op die bus geval? wonder sy hardop. Is dit wat so rondrol op die dak? Bella onthou die stories van ys wat soms van vliegtuie af val en op huise en karre te lande kom. Sy kyk na die ander kinders, maar hulle is almal sprakeloos en staar ook vreesbevange na die liggies wat al dowwer flikker soos die yskol groter groei.

    Nee, Bella. Dit is nie 'n blok ys op die dak nie...

    Skielik tref 'n harde slag weer teen die dak, die keer skeur drie groot kloue deur die yster, reg bo Bella! Sy en die ander kinders in die bus skrik so groot hulle almal skree vreesbevange en gryp na mekaar of duik vinnig onder die bankies in om uit die pad te kom. Selfs Olma, Erik en Elmer hou mekaar styf vas terwyl hulle kliphard gil vir die kloue wat drie repe in die dak geskeur het.

    Die enorme kloue druk verder deur die metaal en begin om die dit oop te skeur...

    Bella is angsbevange onder die skerp kloue. Sy voel asof haar bene en arms van lood gemaak is, en probeer om weg te duik, maar sy kan nie beweeg nie! Al wat sy kan doen is om op te kyk na die skeure in die dak reg bo haar. Dit lyk asof iemand 'n groot blikoopmaker gevat en drie repe in die dak gekerf het; sy kan selfs die naglug en 'n paar sterre deur hulle sien. Haar oë voel vasgenael op die skeure, en terwyl sy kyk skuif daar skielik 'n groot oog agter die gate in en kyk vir haar!

    Die ding op die dak gluur haar aan deur die skeure, maar sy is te bang om weg te kyk! Dit is koue oë - dood - soos die van 'n lyk, maar hulle is gevul met 'n vlammende haat wat nie net na haar kyk nie, maar binne in haar verstand indring.

    Sy kan nie beweeg nie...

    Dit is asof die monster se oë haar gehipnotiseer het en haar keer om te beweeg. Sy staan vasgevries op die plek, onder die glurende oë. Bella wil weg kyk, maar sy kan nie. Al wat sy voor haar kan sien is die koue, grys oë van die monster op die dak. Die ondier se oë begin om te gloei, ritmies, teen dieselfde vinnige spoed as wat Bella se hart klop.

    Bella voel asof haar hele liggaam yskoud word, asof sy ook besig is om te vries en dof te word net soos die liggies teen die dak. Dit is 'n koue soos sy nog nooit tevore gevoel het nie, dit sny deur haar vel, tot binne in haar liggaam om dit van alle energie te beroof. Selfs haar asem maak waserige dampe elke keer wat sy uit asem, net soos dit altyd in die winter se koue oggende gemaak het. Bella bly vasgenael op die monster wat na haar kyk met gloeiende oë. Sy wil met al haar krag weg kyk van die groot, grys oë wat na haar staar, maar sy kan nie.

    Bella voel al kouer en kouer, sy verbeel haar sy hoor die ander kinders skree vir haar om weg te kom, maar sy kan nie beweeg nie. Alles begin voel soos 'n droom, asof niks wat gebeur werklik is nie. Sy droom mense skree vir haar, hulle smeek vir hulp, vir haar om hulle te red uit die plek waar hulle gevangenes is. Sy sien die grys, dooie oë wat rondkyk na 'n toneel wat soos 'n slagveld lyk waar mense skree in vrees. Sy droom iemand roep haar, iemand skree vir haar om weg te kom, maar sy kan nie beweeg nie.

    Dit is 'n vreemde droom, 'n nagmerrie...

    Sy droom iemand gryp haar en trek haar weg. Dit is iemand wat lyk soos Alfie, sy hou nogal van Alfie...

    Bella kyk op na die seun wat haar weggetrek het se gesig. Hy het mooi oë wat op die oomblik bekommerd af kyk na haar terwyl hy aanhou vra of sy OK is. Hy lyk nogal baie soos Alfie... Bella raak meer bewus van haar omgewing en die chaos rondom haar. Net soos die kersliggies weer begin gloei en skyn het toe die monster van hulle af weggeskuif het, voel sy ook warmer en meer lewendig. Sy voel haar krag terugkom, dinge voel nou nie meer soos 'n droom nie.

    Bella, is jy OK?! vra Alfie bekommerd. Bella besef nou eers sy lê op die bus se vloer met 'n klomp bekommerde kinders wat na haar staar. Sy voel skielik vreeslik selfbewus en skaam, en sit vinnig regop.

    Err...Ja! Ek is OK! Sy lag verleë en trek haar hippie t-hemp reg. Sy het nooit gedink sy sou flou val hier voor almal nie! Wat op aarde het gemaak dat sy flou geval het?!

    Bella kyk vinnig op na die skeure in die dak om te sien of die groot grys oë nog steeds daar is, maar hulle is weg. Die duik lig uit die dak uit soos die monster weer opstaan. Vir 'n oomblik is daar stilte, dan klingel en krap die ysters met mening. Daar is nou ook 'n paar ander geluide, 'n senutergende skreeu wat amper soos 'n groot arend klink, en iets soos klippe wat teen die bus se dak tref. Daar is ook iets meer bekend...

    Bella herken die geluide dadelik. Dit is Knoffel en die ander asjasse wat kwaai vir iets skree, net soos die vorige aand toe hulle die klomp kraaie van die weeshuis af weggejaag het. Sy staan vinnig op en kyk saam met die ander kinders by die vensters uit. Buite vlieg daar dosyne asjasse wat kwaai skree en klippe na die ding op die dak gooi. Hulle grom en wys hulle tande vir iets wat die kinders nie kan sien nie.

    Elmer sien ook die klomp asjasse en begin kliphard te gil. Hy is vreeslik bang vir hulle en probeer weer om Olma as 'n skild te gebruik, maar sy het genoeg van sy nonsies gehad en stamp hom weg. Dit is nou al die derde keer wat hy haar as 'n skild wou gebruik! Elmer se voet haak vas aan een van die bankies en hy steier vooroor na 'n oop vensters waar 'n klein asjassie juis kom sit het om 'n bietjie te rus. In sy onsuksesvolle poging om regop te bly deur sy arms soos 'n windmeul in die lug rond te swaai, stamp hy perongeluk met sy gesig teen die klein diertjie.

    Aaaggh! Skree hy vreesbevange en vee vinnig sy wang af waar hy teen die vlieënde apie se boud gestamp het. Asjas kieme! Aaaghh! Skree hy weer en vryf met mening sy wang. Die arme asjassie frons verontwaardig vir Elmer en steek sy tong uit, dan blaas hy spoeg borrels vir die jong man wat nog steeds wild aan sy wang vryf om die onsigbare kieme af te vee, voor hy vinnig wegvlieg om die ander apies te gaan help.

    Die asjasse hou vol met hulle aanval. Hulle hou aan om klippe te gooi en kwaai te skree vir die ding op die dak, wat klink of dit die kant dan daai kant heen spring om hulle aanval te vermei. Dit veroorsaak dat die ou rammelkas erg begin skud wat dit baie moeilik maak om te beheer. Die bestuurder draai die stuurwiel vinnig die kant toe, dan daai kant toe, soos hy probeer om die skerp rotse aan die een kant en die dodelike afgrond aan die ander te vermei. Sy voet is platgedruk op die versneller, hy wil nie waag om selfs net 'n bietjie stadiger te ry voordat hulle die veiligheid van die Kruin bereik nie. Daar sal die ding wat die bus aanval, hopelik, afgeskrik word deur die bos Haakdorings wat om die weeshuis groei.

    Die bus jaag nader aan 'n skerp draai op die rand van 'n afgrond, maar die bestuurder wil nie briek nie. Hy wil nie die kans vat dat daar nog iets uit die berge op die bus spring om dit aan te val nie. Hy sluk hard en gryp die stuurwiel met altwee hande vas, dan leun hy skerp na links en begin die bus draai asof hy 'n resiesmotorfiets bestuur. Die ou skedonk se bande skreeu op die stukkende teer en stuur rookwolke uit wat meng met die swart newel agter die wrak. Die bus se agterkant begin gly op die pad, die agterste wiele raak-raak aan die grond van die sypaadjie - as die bus hier gly...

    Dit is 'n ver val af na die donker water van die Nimmermeer.

    Baie voertuie wat ongelukkig genoeg was om in die meer te val was nooit weer gevind nie, nie net weens die diep, donker water nie, maar ook weens die dinge wat in dit wegkruip. Selfs vissermanne wat op die meer werk wil nie aan die water raak nie, hulle glo dit is ongelukkig. Net soos hulle voorvaders vaar hulle net in goeie weer uit, vang wat hulle kan, en kom dan vinnig terug sodat hulle voor skemer weer veilig op droë grond kan wees. Almal in Bitterwind weet dit is gevaarlik op die meer in die nag, net so gevaarlik soos die berge in die donker...

    Die bestuurder is baie spyt dat hy laat was, maar hy kon dit regtig nie help nie. Toe hy daardie middag by die bus uitkom, wou dit nie werk nie. Hy besluit toe om onder die kap te kyk, net om te ontdek dat iets die enjin opgevreet het met tandmerke oral oor dit. Gelukkig het die ding wat die enjin beetgekry het net 'n paar rubber pype stukkend geknaag, maar dit het die bestuurder nog steeds 'n paar ure geneem om alles weer reg te maak. Dit is ook nie die eerste keer dat so iets met die bus gebeur nie, die laaste tyd het die aanvalle al hoe meer geword.

    Hy kyk terug na die bang kinders op die bus. Hulle was al 'n paar keer vantevore in hierdie situasie, maar hy het nog altyd daarin geslaag om hulle veilig by die huis te kry. Die paar noue ontkomings wat hulle gehad het, het hy afgemaak as klippe wat op die bus geval het of die een of ander ding wat nie so skrikwekkend was nie. Hy kon dit nie oor sy hart kry om hulle te vertel wat regtig gebeur het nie...

    Die bestuurder ken die gevare van die berge; hy weet hulle moet by die Kruin uitkom, en vinnig ook!

    Hy trap ekstra hard op die versneller soos die bus om die draai seil, los klippe en stof wat agter dit uitskiet om teen die steil krans af te verdwyn in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1