Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Weskus-omnibus 2
Weskus-omnibus 2
Weskus-omnibus 2
Ebook620 pages9 hours

Weskus-omnibus 2

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Twee inspirerende topverkoper-romans in een omnibus

Ter wille van Talita: Die Van den Heevers hou hulle eenkant, maar beland onder die soeklig wanneer Theuns van den Heever nie wil hê sy dogters moet aan ’n Kersspel deelneem nie. Haar ma se kind​: Dania Pietersen is Dora en Jonnie se susterskind wat by hulle bly. Sy is ’n modelkind en volgende jaar is Dania sestien en Dora en Jonnie kan dit nie meer ontken nie: Dania hoort nie by hulle nie – sy is haar ma se kind. 
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 5, 2024
ISBN9780796323453
Weskus-omnibus 2
Author

Helena Hugo

Helena Hugo is die skrywer van verskeie topverkopers soos o.a. Haar naam is Ragel. Benewens talle boeiende verhale oor verskillende genres heen, is sy ook regisseur en skrywer van radiodramas en -vervolgverhale. Helena en haar man, Henk, woon in Roodepoort en het drie volwasse kinders.

Read more from Helena Hugo

Related to Weskus-omnibus 2

Related ebooks

Related articles

Reviews for Weskus-omnibus 2

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Weskus-omnibus 2 - Helena Hugo

    Weskus-omnibus 2

    Ter wille van Talita

    & Haar ma se kind

    Helena Hugo

    Lux Verbi

    Opgedra aan Gigi Strydom, vir jare se ondersteuning en aanmoediging.

    Hy vat toe die kindjie se hand

    en sê vir haar: Talita, koem!

    Dit beteken: Dogtertjie,

    Ek sê vir jou, staan op!

    – Markus 5:41

    Hoofstuk Een

    Nou ja, dan gaan ek maar. Dominee-hulle sluit mos self – vanaand ook?

    Die koster steek vas in die oop deur, sonlig soos ’n stralekrans om sy gryskop.

    Ja, dankie, oom Ollie.

    Die ou man lig sy hand. Wederom, broers.

    Johan wil glimlag. Altyd dieselfde groet. Oom Ollie het dit glo jare gelede op ’n ringsvergadering by die ouergarde-predikante gehoor en vir hom toegeëien. Toe Johan hier begin het, was die oom nog hoofouderling, ’n posisie wat hy elke ses jaar ter wille van die kerkorde aan iemand anders moes afstaan. Hy het nie omgegee nie, want die jaar daarna het die kerkraad hom weer ingestem. Vandat Theuns van den Heever egter voorgestel is en hom met ’n paar stemme verbygesteek het, kon hy nie weer sy dienstermyn terugwen nie. Theuns word jaar ná jaar op wonderbaarlike wyse herkies. Johan, wat Theuns nie geken het nie, was eers in sy skik. Sy nuwe hoofouderling was jonk, entoesiasties en meer as bereid om sy deel te doen. Ongelukkig het hy sy pligte later te ernstig begin opneem.

    Ek het ’n probleem, sê Theuns sodra oom Ollie sy rug draai.

    Johan loer by voorbaat na die gedrukte bladsye met preekaantekeninge. Theuns het die manier om sy preke te kritiseer en berge van molshope te maak.

    Ons moet . . . begin Theuns, maar word onderbreek.

    En julle twee dametjies? vra oom Ollie net buite die deur. Wag julle vir Pappa?

    Môre, Oom. Ja, Oom.

    Theuns kyk in die rigting van die oop deur – sy houding so gespanne asof die Bose self sy dogters probeer verlei.

    Die sonnetjie bak. Kry julle nie warm nie? Wil julle nie daar onder die bome gaan wag nie?

    Met dié spring Theuns so vinnig op dat hy in sy haas ’n stapeltjie silwergeld omstamp.

    Talita! Danika! Ek het gesê julle wag waar ek julle kan sien!

    Johan wil nog iets sê, maar die woorde bly in sy keel vassteek. Hy is moeg en wil huis toe gaan. ’n Argument met sy hoofouderling is nie ’n goeie ding om ’n Sondagoggend mee af te sluit nie.

    Oom Ollie is moedswillig. Hy loer weer om die kosyn. Theuns, jong, dis warm hier.

    Hulle wag waar ek hulle kan sien!

    Nes jy wil. Ek loop voor ek myself vergeet.

    Johan buk om ’n geldstuk wat op die vloer beland het, op te tel. Toe hy regop kom, is oom Ollie weg.

    Ons is besig, brom Theuns en gaan sit.

    Hulle mag maar inkom, sê Johan tentatief.

    En my aandag aftrek? Ek’s in elk geval amper klaar.

    Johan waag nie nog ’n woord nie. Theuns sal op geen manier beveel of betig word nie. Hy skuif die hopies geld so netjies reg jy kan dit met ’n liniaal meet. Ons moet praat, kom dit stug.

    Johan vermoed waaroor dit gaan. Theuns kan oom Ollie nie verdra nie.

    Hy wil net help, sê Johan.

    Wie?

    Is dit oor oom Ollie?

    Theuns kyk op. Hy lyk soos hy gewoonlik lyk as iets hom pla – nors, kwaad, ongelukkig, moeilik.

    Oor hom ook. Hy’s by aftreeouderdom verby en daar’s mense wat sy salaris nodiger het as hy.

    Ek het dit op die agenda vir ons eerste vergadering Januarie volgende jaar.

    Dit beter daar bly, anders vat ek dit ring toe.

    Theuns pluk die kerk se sakrekenaar nader. Dis twintig oor elf op die muurhorlosie. Hy en een van die diakens kon die geld getel het terwyl die kategese aan was, maar toe moes hy opsluit heeltyd met die hoof van die kategeseskool redeneer. Natuurlik, dink Johan, dis waar sy eintlike probleem lê. George van der Merwe het ook nie verniet sy finalejaar-kategeseklas kom onderbreek en hom laat uitstap om te sê dat hy hom dringend wil spreek nie – Dinsdagmiddag, as dit moontlik is, in verband met die Van den Heever-meisies. Hy wou nie sê hoekom nie, aangesien hy nie Johan se Sondag wou bederf nie. Theuns sal dit vir jou doen, het hy gesê en met ’n haastige groet weggestap.

    George is ’n goedgeaarde siel met ’n hart vir kinders en hy was duidelik hoogs ontsteld. Johan het ’n vermoede waaroor, maar hy sal nie die saak vooruitgaan nie. Hy kyk na Theuns wat tienrandnote oopvou en platstryk en soek in sy gedagtes na iets positiefs waarmee hy hom kan kalmeer. Dis die eerste Sondag van die laaste kwartaal. Die diens is goed bygewoon. Ongelukkig is die Bezuidenhouts en die Aucamps saam weg vir die naweek en die kollekte gevolglik aan die skraal kant. Niks positiefs daaraan nie. Johan wag vir Theuns om die gewone aanmerking oor suinigheid te maak. Hy doen dit nie.

    Daai ouman het een seun, sê hy. Wat weet hy van meisiekinders, hoe jy hulle moet dophou?

    Hy’t gesien hulle kry warm. Johan tel ’n plastieksakkie op en wys na die stapel vyfrandstukke. Kan ek ingooi?

    Dankie, ja. Theuns skryf die bedraggies onder mekaar neer. Dis nog ver van somer.

    Naby genoeg, wil Johan sê, en amper twaalfuur. Hy bedink hom, maak die sakkies vol en los dit vir Theuns om alles in die banksak te pak. Met die wegdraai, sien hy ’n beweging in die deuropening. Een van die meisietjies, die kleintjie – so lyk dit vir hom – loer na binne. Sy trek so baie na Rentia toe sy daardie ouderdom was. Hy wens Rentia is nog net so klein dat hy haar op sy skoot kan tel en vertel hoe lief hy haar het. Sê Theuns dit vir die dogtertjies wat hy so streng opvoed – dat hy hulle liefhet? Sal hy kan besef hoe vinnig hulle grootword en jou nie meer glo nie? Johan wil hom raadgee, waarsku dat hulle hul eie rigting gaan inslaan, maak nie saak hoe hard hul pa probeer om hulle terug te hou nie. Maar om Theuns nou aan te spreek, sal niks goeds afgee nie. Hy is so omgekrap, hy druk die sakrekenaar se knoppies onnodig hard.

    Vloeksteense battery is verdomp pap! Jammer, Dominee.

    Dis ’n nuwe battery, sê Johan.

    Dit werk nie. Theuns trek pen en papier nader en skryf.

    Johan raak nie aan die sakrekenaar nie. Hy gaan staan voor die aansteekbord en lees die gemeenteprogram. Die volgende hoogtepunt is die voorstelling van nuwe lidmate, daarna die Kersspel en Kersete, en dan die afsluitings – van kategese, Bybelstudies en aanddienste. Hy sien uit na die vakansie wat hy saam met sy gesin in die Strand se Voortrekkerpark wil deurbring. Hier is ook ’n see, maar te naby aan sy gemeentelede wat nie daaraan dink dat predikante ook rus nodig het nie. Theuns is een van hulle.

    Vergewe my, Here, maar dit raak by die dag moeiliker en ek is moeg.

    Dominee kan kom teken.

    Amper sug hy van verligting. Hy raak ’n slag aan die aansteekbord voordat Theuns hom weer beskuldig dat hy sy rug op hom draai om sy ongeduld te verbloem. Volgende op die agenda is die voorstelling, sê hy in ’n poging om gemoedelik te wees.

    Maar Theuns sing sy ou deuntjie: Ons moes die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse leerreëls uit ons kop ken. Hulle kan deesdae net maak asof hulle glo.

    Johan het dit al soveel keer gehoor, hy ignoreer dit, kyk vlugtig na die inskrywing in die boek, teken op drie verskillende plekke en oorhandig die pen. Theuns teken nie; hy skryf sy volle naam in vloeibare, golwende letters wat oor die kantlyne loop en byna op die tafel beland. Dit neem tyd en Johan moet wag voordat hy die boek en die skrale kollekte van R306,45 saam met die R65,15 van die kategeseklasse in die kluis kan toesluit.

    Theuns trek intussen sy baadjie aan en steek sy hand na hom toe uit. Tot siens, Dominee, Edwina sien jou vanaand by die Bybelstudie. Dis haar beurt. Ek moet kinders oppas.

    Die jongste enetjie staan in die deuropening. Sy gee een treetjie na binne. Is Pappa klaar? vra sy onskuldig.

    Wat het ek gesê? Theuns raap sy Bybels op en storm op die kind af. Ek het gesê: Bly buite!

    Ek is.

    Jy is nie!

    Ek het net my toontjies laat intrap.

    Johan wil glimlag, maar Theuns word kwaad.

    Wag tot ons by die huis is, dan trek ek jou velle af. Hy stoot die kind voor hom uit, gaan staan skielik en kyk om hom rond. Waar is jou suster?

    Huis toe, sy wou nie langer wag nie.

    Alleen?

    Sy’t saam met oom Ollie geloop. Pappa maak my seer!

    Johan sluit haastig die konsistoriedeur, toets die slot en draai om. Theuns het Danika se vlegsel beetgekry en sleep haar op ’n drafstap in die rigting van hul huis oorkant die kerk se erf, twee huise van die pastorie af. Die meisietjie probeer vergeefs haar hare uit haar pa se greep losrem. Johan wil hulle agternasit, maar hou homself in toom. As hy inmeng, kan Theuns onbeheerbaar raak.

    Here, laat Edwina hom kalmeer.

    Hy kyk totdat hulle uit sy siglyn verdwyn.

    Dan steek hy die sleutels in sy sak en stryk aan pastorie toe.

    Theuns hét ’n probleem en hy behoort aangespreek te word, maar wat sê hy vir hom? Hy is ’n man met sterk beginsels, daarteen kan niemand stry nie. Ongelukkig sien hy nie sy eie foute raak nie, ander mense s’n wel. Só seker is hy van die pad wat hy ingeslaan het, hy verskil dikwels ernstig van die kerkraad én van Johan. In die proses tree hy bombasties en dominerend op, soms beledigend.

    Johan stap vinniger. Verbeel hy hom of hoor hy gille uit die rigting van die Van den Heevers se huis? Is dit werklik of is dit sy gewete wat by hom spook? Theuns sal seker nie sy dogtertjies pakgee omdat hulle moeg geword het om vir hom te wag nie? Of is dit omdat hulle hul name op George se lys neergeskryf het?

    Johan gaan staan by sy tuinhekkie en luister.

    Nou hoor hy niks.

    Dit troos en hy stap flink stoep toe.

    Emma se swaardlelies en dahlias staan hoog teen die sitkamermuur. Party maak al knoppe. Somer is vroeg vanjaar en Kersfees is om die draai. Om te kan uitkamp by die see is regtig lekker – as die kinders se maats dit nie kaap nie. Rentia het ’n ongesonde bewondering vir klein Herman en Jan wil saam met Boetie Hermanus toe. Johan het voorgestel dat hulle daar gaan kamp. Dit was ook nie goed genoeg nie – te vernederend, die tente teenoor die Bezuidenhouts se luukse strandhuis.

    Johan sug en stoot die pastorie se voordeur oop. Hoe keer jy dat jou kinders jou lewe as vervelig en armsalig ervaar? Hoe leer jy hulle van eenvoud en stilte as hulle klatergoud en geraas verkies? Hoe voed jy hulle op sonder om hul drome te vertrap?

    Hy trek die deur agter hom toe.

    Emma! roep hy.

    Sy antwoord nie.

    Emma?

    Sy is nie in die kombuis nie en die stoof staan koud. Hy loop in die gang af en loer by haar ateljee in. Ook nie daar nie. Hy kry haar in haar onderrok op hul dubbelbed, vas aan die slaap. Haar kerkrok is oor die stoel gedrapeer, haar hofskoene netjies langs mekaar. Hy staan ’n ruk na haar en kyk – sy Emma. Sonder haar sou hy iemand soos Theuns van den Heever lankal aan die keel gegryp en geskud het, praat nie eens van klein Herman Bezuidenhout nie.

    Johan haal diep asem. As hy aan klein Herman dink, dink hy aan Rentia en ’n benoudheid kom lê op sy bors. Hy trek sy baadjie uit en hang dit in die kas. Hy maak sy das en sy boonste hempsknope los, loop suutjies om die bed en sit en trek sy skoene uit.

    Emma roer agter hom. Hoe laat is dit? vra sy deur die slaap.

    Twaalfuur.

    Dis dan nog lig.

    Twaalfuur in die dag, sê hy en maak hom langs haar tuis.

    Sy skouer skuur teen hare. Moegheid vloei soos water deur sy lyf.

    Simpel van my om aan die slaap te raak, sê sy.

    Dit was ’n besige tyd en dit gaan nog besiger raak, sê hy.

    Sy nestel stywer teen hom aan. Was jy heeltyd by die kerk?

    Theuns het my daar gehou. Johan sug. Die Here het hom gestuur om my te toets.

    Wat het hy nou weer gedoen?

    Sy dogtertjies onnodig verskree.

    Klink soos ek en Rentia.

    Dis waar. Die tiendagvakansie was nie sonder voorval nie. Rentia en Emma het elke dag rusie gemaak en hy was die tussenganger.

    Klein Herman is ook gestuur.

    Dit troos Emma nie. Haar selfverwyt het ’n sweep geword waarmee sy haarself kasty. Ek moet geduldiger wees met Rentia. Ek is immers volwasse, sy nie.

    Hy het dit al gesê, en hy sê dit maar weer. Jy wil haar beskerm – ek ook – en sy wil ons nie glo nie.

    Dis hoekom ek so moeg is. Ek kan werk tot ek omval, dag en nag. Ek kom daardeur, maar ek loop my vas teen ons kind se selfvernietigingsdrang – dít kort voor haar matriekeksamen. Wat doen ons?

    Ons bid. Ons laat dit aan die Here oor.

    Hy wag. Gewoonlik beaam sy sy woorde. Nie vandag nie. Johan luister na haar asemhaling. Sy neem vlak teugies. Sy is ontsteld omdat sy twyfel, vermoed hy, aan sy eerlikheid.

    Bid. Laat dit aan die Here oor.

    Dis wat hulle glo en dis wat hulle met die gemeente en die res van die mensdom deel. Maar die laaste tyd het ook hy vergeefs gesmeek dat die Here Rentia se oë oopmaak, haar laat sien – selfs al moet dit haar skok – wie en wat klein Herman is.

    Emma snuif. Sy vee haar trane met haar vingerpunte af. Hy wikkel sy sakdoek uit sy broeksak en gee dit vir haar aan.

    Ons moenie dat hierdie ding ons geloof aantas nie, sê hy.

    Ek sukkel, maar ek hou nie op bid nie, Johan, al weet ek nie meer wat om vir die Here te vra nie. Die antwoord wat die laaste tyd na my toe deurkom, is Andrea. Ek moet met Andrea gaan praat – vrou tot vrou, moeder tot moeder. Maar ek wil nie ’n gek van myself maak nie.

    Johan sit regop en swaai sy bene oor die rand van die bed. Ons het raad vir ander mense, nie vir onsself nie.

    Ek bel haar vieruur, kom wat wil.

    Vir Andrea?

    Nee. Rentia. Andrea-hulle is weg vir die naweek.

    Miskien moet ek met klein Herman gaan gesels.

    Moenie eens daaraan dink nie!

    Dalk het Theuns vir ons raad.

    Ons is almal in dieselfde bootjie.

    Ouers van dogters, sê Johan. Ek gaan vir my ’n toebroodjie maak, wat van jou?

    Hy is al halfpad in die gang af, toe hoor hy haar roep.

    Hoofstuk Twee

    Ek het vergeet om te sê. My gedagtes was heeltyd by Rentia en vanoggend was ons laat.

    Jy weet al van Donderdag af.

    Jammer.

    Johan is gewoonlik nie so teensinnig om by gemeentelede te gaan eet nie, selfs al is dit Sondag wanneer hy gewoonlik ná middagete rus en hom dan daarna voorberei vir die aand se Bybelstudie. Vandag is hy nie lus vir geselskap nie, maar Emma se afgeremde gesiggie is genoeg om sy hart te vermurwe.

    Hoe laat moet ons daar wees? vra hy gelate.

    Eenuur.

    Dit gee ons minder as ’n uur om ons reg te ruk.

    Al wat ek nodig het, is ’n koue stort.

    Sy spring met ’n merkwaardige opwelling van energie van die bed af en stap reguit badkamer toe. Johan kyk haar agterna. Sy is op die rand van ’n ineenstorting, maar kry dit steeds reg om na almal se pype te dans. By die deur draai sy om. Marta is een van my staatmakers. Ons kan nie wegbly nie.

    Ek weet.

    Die badkamerdeur klap toe, die stortkrane gaan oop en die glasdeur skuif met ’n harde slag tot teen die storthokkie se staalraam.

    Marta, Hetta en Ragel was vanoggend in die kerk. Hulle het aan die Du Toitstraat-kant gesit. Ragel het Hetta in die rystoel ingestoot met Marta op krukke kort agterna. Hulle het aandagtig na die preek geluister, so het dit vir hom gelyk – die drie vroue wat elk hul eie rede gehad het om nie kerk toe te gaan nie en nou gereeld die oggenddienste bywoon. Die Here het sy doel met hulle, met almal, dit weet Johan ten spyte van sy eie twyfel. Ragel Naudé is hierheen gestuur om ander te genees en in die proses self genees te word. Sy is saam met Marta op pad na ’n nuwe lewe. Die tekens is daar. Sy het weggekyk van haarself en haar gewig by die dorp en die gemeente ingegooi. Sy lyk nie meer so verwese en maer nie en het lanklaas in sy studeerkamer kom huil. Dis goed, maar haar pad is nog lank, langer as Marta en Hetta s’n. Wanneer hy by hulle op huisbesoek is, sê sy dit gaan goed, maar sy kan hom nie bluf nie. Hetta en Marta se versorging is ’n tydelike uitkoms, ’n kapstok waaraan Ragel haar eie pyn kan ophang.

    Hy en Emma doen dit ook – troos ander terwyl hulle self troos soek.

    Johan gaan staan voor sy klerekas en haal jeans en ’n ligte somerhemp uit. Vir vanmiddag se ete sal hy probeer om Rentia op die agtergrond te skuif en op hulle te konsentreer – Ragel, Hetta en Marta.

    As ons betyds is, kan ons drieuur tuis wees. Dis Emma wat met ’n handdoek om haar kop gedraai by die badkamer uitkom. Sy lyk so op en wakker hy kan nie glo sy het netnou soos ’n klip geslaap nie. Dis haar redding, die vermoë wat sy het om kort slapies ten volle te benut. Power naps, noem die Engelse dit.

    Gaan stort en maak gou! jaag sy hom aan.

    Hy gryp sy klere en maak soos sy sê.

    Toe die water hom tref, tintel sy vel en klop sy hart vinniger. Dis verfrissend, maar koud. Hy sit sy hand op die warmwaterkraan en oorweeg dit, dan los hy dit voordat hy te lank staan en traag word van die stoom. Dis die soort gemaksug wat maak dat hy meer vra as wat hy elke dag nodig het. Vandag kry hy ’n gesonde stortbad en ’n goeie middag saam met vriende wat hom nie met strikvrae bestook soos Theuns van den Heever nie. Die vrae kan hy nog hanteer. Die manier hoe Theuns sy dogters dissiplineer, is ’n ander saak. Mense praat en verwag van hom as predikant om in te gryp. Hy het Theuns sover gekry om die tweetjies by die kategeseskool in te skryf, maar hy en George moet kort-kort walgooi oor die leerplan wat Theuns die slegte invloed van buite noem. Waar trek jy die streep? wonder Johan. Vandat Rentia hulle beskuldig dat hulle haar nie toelaat om vir haarself te dink nie, voel dit vir hom asof hy nie die reg het om Theuns en Edwina aan te spreek nie.

    Here, net U ken die antwoorde. Lei ons en ons kinders na die waarheid.

    Johan staan nog ’n rukkie met sy voorkop teen die koel teëlmuur voordat hy die krane toedraai, uitklim en vinnig afdroog. Hy kan die gevoel van onrus nie afskud nie – al sê hy vir homself, Rentia sal haar kalwerliefde ontgroei, Theuns sal sy besitlikheid onder beheer kry en die Here sal hul gemeente help om die jaar op ’n hoë noot af te sluit. Die kategesekinders is opgewonde oor die Kerskonsert. Hulle vat hande met die skool en die sendinggemeente. Die dorp gaan as eenheid die jaar in die Naam van die Here Jesus afsluit. Niks kan verkeerd loop nie.

    Waarom kan hy nie moed skep nie?

    Die koue stort het hom ten minste verkwik en hy sien kans om ’n glimlag op te plak voordat hy uitstap. Emma sit voor die spieël en grimeer. Sy lyk blosend jonk in haar roospienk somerrok. Nuwe rok? vra hy.

    Sy kyk om en haar hare wip los op haar skouers. Drie seisoene oud, maar ons kan maak of dit nuut is.

    Dis die eerste keer hierdie seisoen dat jy dit dra.

    Die derde keer! Sy glip haar sandale aan. Ons moet loop.

    Ons ry, sê hy, voor die hele dorp weet ons eet vanmiddag by Marta-hulle.

    In die kombuis haal Emma ’n plastiekhouer met koeksisters uit die vrieskas. Hulle ry met die bakkie. Asof niemand ons voertuig voor Marta se deur sal herken nie, korswil sy.

    Goed, ek was nie lus om in die hitte om die blok te loop nie.

    Hy ry stadig by die Van den Heevers se huis verby. Die vensters en deure is toe. Dit staan diep in die erf, agter ’n grasperk beplant met palmbome wat Theuns van sy omswerwinge in die binneland af teruggebring het. Die huis se mure is donkergrys, die dak en vensterrame donkergroen, die posbus skelrooi – die enigste opvallende kleur.

    Emma kyk ook soontoe. Theuns wil net altyd anders wees, sê sy.

    Moedswillig ook.

    Johan keer homself voordat hy haar in besonderhede vertel hoe Theuns met sy dogtertjies aangaan.

    Daar staan ’n vreemde motor voor die Kosters se huis.

    Tienie Brodie se Corolla, sê Emma. Dis gaaf sy’s ook hier.

    Johan parkeer die bakkie agter Tienie se kar. Hy kyk vlugtig na Emma. Sy klap die sonskerm aan haar kant af en trek skewemond vir haar spieëlbeeld. Is sy regtig so opgewek of werk sy daaraan om haar in ’n goeie bui in te dwing?

    Kan jy sien ek het gehuil? vra sy skielik.

    Hy kyk in haar groot blou oë en sien nie net die vraag nie, maar ook drome en verlange wat dieper weggesteek is. Sy wou, soos Rentia wil, ’n voltydse kunstenaar word, maar haar ouers het haar vir BA(Cur) laat inskryf – ’n kursus wat sy cum laude geslaag het. En verpleging is vandag haar beroep wat sy blymoedig en tot opheffing van baie siekes navolg. Kuns is haar uitlaatklep vir frustrasies en uitputting.

    Johan, wees eerlik.

    Jy’s perfek, niks verkeerd nie.

    Dan glo ek jou, dankie.

    Die Kosters se voordeur gaan oop. Dis Gunther Swanepoel wat op die stoep staan en wag asof hy die huisbaas is. Johan spring uit en wil omloop om die bakkie se deur vir Emma oop te maak. Sy is te vinnig vir hom en staan al op die sypaadjie.

    Kyk hoe mooi is Marta se tuin! roep sy uit. Dit is. Vlammende oranjerooi rankrose klouter tussen geles, en pers flappe verras langs spikkelbont vuurlelies. Ek was Dinsdag hier, toe het die rose net begin oopgaan. Gunther, is dit jou handewerk?

    Meer Ragel s’n. Sy is ’n ywerige tuinier.

    Sy sê weer dis jy.

    Emma, jy weet ons kan nie sonder Ragel nie. Gunther hou die voordeur wyd oop. Dis nie nodig om weer te groet nie. Hy speel orrel in tannie Henriëtte se plek en hulle het mekaar vroeër by die kerk gesien. Toe het hy nie na die middagete verwys nie. Seker aangeneem Emma het gesê.

    Sy raak liggies aan die mandjies blomme wat aan die stoepbalke hang. Dis nuut.

    Ragel se niggie het dit gebring. Sy’t met die ete kom help.

    Johan wonder of Ragel se man ook saamgekom het. Hy vra liewer nie. Die afgelope weke was Stephan Naudé nogal skaars, tensy hy laataand gekom het en vroegoggend gegaan het. Die laaste keer toe Johan met hom gepraat het, het hy gekla omdat Ragel so voltyds besig is met Marta dat hulle nie kans kry om alleen te wees nie. Marta was so hulpeloos soos ’n baba ná haar ongeluk en gefrustreerd omdat sy die drie weke skaars kon beweeg, haar hande in verbande toegedraai en haar bene in spalke. Ragel het aangebied om hier in te trek en Marta en Hetta te versorg. Boonop het sy Marta se plek volgestaan by die sopkombuis en nog kunsklasse ook gegee. Haar lewe was skielik propvol. Miskien was dit nodig, maar die een of ander tyd sal sy haar eie pyn weer moet hanteer, ook Stephan s’n.

    Stap deur, beduie Gunther.

    Die geur van vleis wat stadig in die oond gaar word, begroet hulle saam met ’n gelag en gesels uit die rigting van die televisiekamer. Gunther klop aan die kosyn om aandag te trek. Hulle is hier. Hy stoot Emma eerste na binne.

    Sy groet elkeen met ’n soen. Johan volg haar met handdrukke, vir Marta ’n kloppie op die skouer.

    Dis goed om die Swanepoels en Kosters gesellig saam te sien. Hetta en Ciska sit in hul rystoele langs mekaar ’n verflenterde plakboek en deurblaai. Oom Swanie lees ’n oopgevoude brief, sy bril op die punt van sy neus. Marta sit-lê op die bank asof sy tussen kussings geïnstalleer is. Ek is so bly julle het gekom.

    Die brandmerke van die ongeluk vertoon plooierig en die vel op haar voorkop en hande is roesrooi gevlek. Die verbande is af, sê sy en wys hoe sy haar vingers kan beweeg. Ek doen oefeninge en borduurwerk maar waag dit nie om skottelgoed te was en potte te skuur nie.

    Emma lig die plastiekhouer. Koeksisters, ek vat dit gou kombuis toe.

    Ragel en Tienie is daar, beduie Hetta. Hulle sal nie omgee as jy inloer nie.

    Ek mag nie eens toesig hou nie, kla Marta.

    Dis omdat dit ’n verrassing moet wees, keer Ciska.

    Ek sit hier soos ’n koningin en hulle kook.

    Sy’t nog nie geleer om ander mense toe te laat om oor te neem en dinge vir haar te doen nie.

    Johan verstom hom aan Hetta en Ciska wat so lank in onvrede geleef het en nou soos twee broeishenne oor Marta is.

    Dominee het vandag mooi gepreek oor naasteliefde, sê Hetta. Hier kry ons dit nou van alle kante af in oorvloed.

    Die plakboek wat sy en Ciska aan die deurblaai was, wil afgly en Ciska moet vinnig keer. Sy beduie na die stoel langs haar. Dominee, ons wil jou iets wys.

    Johan gaan sit tussen Ciska en oom Swanie. Gunther maak hom tuis op die bank langs Marta, sy arm om haar skouers.

    Marta se pa het die plakboek gemaak van die ou skool.

    Van die skool se gloriedae toe ons nog sestig matrieks gehad het.

    Arend was my beste vriend. Oom Swanie se hande bewe toe hy die brief vir Johan aangee. Ek het vir hom geskryf toe hulle my as skoolhoof oor sy kop aangestel het. Kyk wat het hy hier by die aanhef neergepen.

    Johan vat die twee dun velletjies papier. Die brief is duidelik meer as een keer deeglik gelees.

    Lees vir ons voor.

    Oom Arend skryf netjies en duidelik in ink. "Ek gun Gideon die pos van harte, lees Johan. Hy is ’n man met ’n visie vir die skool as geheel, ek nie. Hy het nie nodig om my te bedank omdat ek teruggestaan het nie, en toe kry ek die mooi brief. Hy hoef nie sleg te voel nie. Wat ek wil hê, is om kinders wiskunde en wetenskap te leer, nie meer tyd in die kantoor agter daardie groot lessenaar nie. Ek en Gideon sal vriende bly, ten spyte van . . ."

    Johan sluk die woord Hetta.

    Dominee kan sê dis ek, sê sy hard. Ek was onregverdig en hardkoppig. Vandag kan ek nie wag om Arend in die hiernamaals te sien sodat ek hom om vergifnis kan vra nie.

    Ag, Hetta, as hy my kon vergewe, het hy jou eerste vergewe, troos oom Swanie. Arend was te lief vir jou om lank kwaad te bly. Nee, ek wil vir Dominee wys dat hy kan sien hoe onbelangrik dit vandag is. Hier sit ek, stokoud en Arend lankal oorlede. Destyds het meneer Stofberg van geskiedenis en liggaamsopvoeding ook aansoek gedoen en hy was so teleurgesteld toe hy uitval, hy het summier bedank en Transvaal toe getrek. Ek kry nou lag om te dink ons het eens op ’n tyd gewedywer vir die hoofskap en kyk hoe kwyn die skooltjie. Ek hoor hulle gaan volgende jaar ’n busdiens instel tussen ons en Graafwater sodat die seniors daar kan skoolgaan. Dag ons is klaar ’n laerskooltjie.

    Ons dorp krimp, sug Ciska.

    Ek voel lus en trek terug Lambertsbaai toe, maar dan is die ouetehuis ons voorland en daarvoor sien ek nie kans nie.

    Wie gaan ons van groente voorsien as Oom-hulle trek?

    Seker Marta en Gunther, sê die ou man.

    Wag nou, Pa, Pa loop ons vooruit, keer Gunther.

    Toe Marta bloos en sy en Gunther vir mekaar kyk, besef Johan hoekom hulle uitgenooi is. Hy vou die brief op en gee dit vir oom Swanie terug. Om die tweetjies nog verleentheid te spaar, wys hy na die plakboek. Kan ek sien?

    Asseblief.

    Dit vertel die skool se hele geskiedenis. Ciska maak die plakboek toe asof dit ’n antieke manuskrip is. Miskien kan hulle dit in ’n glaskas bewaar, terwyl daar nog lewe is by die skool.

    Of by die kerk, voeg Hetta by. Die kerk sal tog nooit vergaan nie.

    Johan belowe niks. Die kerk is nie ’n museum nie. Hy vat die plakboek versigtig en slaan die eerste bladsy oop. Oom Arend het ’n reënboog geteken – in al sewe kleure met wiskundeformules wat in Indiese ink-druppels onder die boog uitval. Aan die bokant staan in netjies gedrukte blokletters: My skool, my lewe.

    Die bladsye is genommer. Daar is ’n inhoudsopgawe op die agterkant van die eerste bladsy. Die foto’s op die teenblad is met outydse hoekies vasgeplak en het onderskrifte wat onderwysers en kinders se name met datums en plekke verbind. Johan lees hier en daar en blaai versigtig daardeur, heeltyd daarvan bewus dat die oumense hom dophou. Die koerantknipsels en programme wat by skoolkonserte en atletiekbyeenkomste pas, is vaal en dof. Hy kry ’n knop in die keel. Die dorp se ouer geslag is aan die verbygaan. Dis tyd vir ’n jonger een, maar hulle het hul eie planne. Hulle sal nie hier wil agterbly nie. Het hy dan nie self sy kinders op Malmesbury in die koshuis nie? Dit raak aanvaarbaar en nodig vir diegene wat kan om hul kinders weg te stuur. Niemand verwyt hom daaroor nie, of dalk praat hulle tog agter sy rug. Miskien is hulle verbaas dat hy en Emma al tien jaar hier uithou. Hy bloos liggies. Uithou is die verkeerde woord. Nee, hy moet positief wees ter wille van die oumense.

    Ons moet by ’n tafel sit en dit stadig deurgaan, dan kan oom Swanie alles vir my verduidelik, sê hy.

    Hetta moet liewer.

    Ek vergeet te veel, doen jy dit.

    Op daardie oomblik verskyn Emma en kondig aan dat die ete gereed is. In die eetkamer, die tafel is spesiaal gedek.

    Inderdaad. Die lang familietafel is feestelik getooi met fyn linne en blomme, kristalglase en silwer eetgerei uit die boonste rakke. Marta slaan haar hande saam. Haar oë blink.

    Wie se mooi goed is dié? wil Hetta weet.

    Myne en Tienie s’n, maar vir vandag is dit Tante en Marta s’n.

    Daar is naamplaatjies by die gedekte plekke. Elkeen neem plaas by sy eie. Die voorgereggie lyk na vis. Kreef, fluister Emma vir Johan.

    Sal Dominee vir ons die seën vra? verneem Gunther toe almal tot rus gekom het.

    Met plesier. Mag ek weet wat die geleentheid behels?

    Ons vier die lewe. Gunther steek sy hande weerskante toe uit. Almal vat hande.

    Johan dink ’n oomblik na. Die Here se genade is groot. Die Here se genade is wonderbaarlik groot.

    Here, ons vier vandag Marta se herstel ná ’n ernstige motorongeluk. Dankie vir haar gespaarde lewe en vir die lewe van elkeen hier om die tafel. Dankie vir vrede en vriendskap, vir vergifnis en versoening. U ken ons swakhede en sterk punte, ons verliese en oorwinnings. Ons voorregte is te veel om op te noem. Dankie vir hierdie fees wat met liefde voorberei is. Dankie vir Ragel, Tienie en Eva wat vir ons regstaan. Ons bid vir almal wat nie vandag in ons oorvloed kan deel nie, vir gesinne wat worstel met armoede en ander probleme. Hier ken ons vandag net vreugde. Ons dank en loof en prys U in Jesus Naam. Amen.

    Almal beaam sy gebed met: Amen.

    Dankie, Dominee, sê tannie Hetta, haar sakdoekie voor haar oë gedruk.

    Nee, Hetta, ons is mos nou gelukkig, paai Ciska en raak dan self bewoë.

    Johan sien dat Ragel afkyk. Haar vingers op die eetgerei bewe liggies en sy druk haar hande onder die tafel in. Gunther is ’n sjampanjebottel aan die oopmaak. Die prop skiet met ’n knal af en die inhoud stroom oor sy hande. Tienie druk vinnig haar glas teen die bottel se bek. Almal lag en almal se glase word gevul. Glimlagte flits om die tafel. Gunther staan en hy lig sy glas.

    Ma, Pa, tannie Hetta, Eva, Ragel, Tienie, Emma en Johan. Ek het Marta Vrydagaand gevra om my vrou te word en sy het ja gesê. Ek dank die Here vir ’n vrou soos Marta. Dankie, Marta, dat jy ja gesê het. Ek skuld jou my liefde vir altyd en . . . ’n ring.

    Hy sit sy glas neer en haal die kenmerkende dosie te voorskyn. Die ring word versigtig aangesteek en Marta hou haar hand sodat almal kan sien hoe mooi dit is. Glase word geklink onder uitroepe van vreugde. Johan soek en vind Emma se hand onder die tafel. As dit vir Marta en Gunther kan uitwerk, sal dit eendag vir Rentia ook. Sy sal die regte keuse maak.

    Hoofstuk Drie

    Ná die vrolikheid by die Kosters is die stilte in die pastorie byna neerdrukkend. Emma het koffie gemaak. Sy bring dit studeerkamer toe. Dis twintig oor vyf en Johan is besig met die aand se Bybelstudie.

    Waar trek ons? vra sy toe sy die skinkbord op die hoek van die lessenaar neersit.

    "1 Korintiërs 3:1-9 onder die opskrif: Die oorsaak van die verdeeldheid. Ek konsentreer op vers een waar Paulus sê hy moes met hulle praat soos met wêreldse mense. Dit is kenmerkend van die wêreld dat hulle jaloers is en mekaar niks gun nie. Ek vra die vraag: ‘Is ek ’n wêreldse mens’?"

    Jou gemeente sal jou vertel wat die wêreld verkeerd doen en vergeet hulle staan self agter die deur.

    Ek sal hulle daaraan herinner dat Geesvervulde mense soos Geesvervulde mense moet leef.

    Ja, en ons moet onsself gedurig vasvat. Emma gaan sit op die stoel skuins voor die lessenaar. Kom Theuns vanaand?

    Dis Edwina se beurt.

    Dan sal ek ook bywoon.

    Hoe so? Johan gooi suiker in sy koffie en roer dit tydsaam.

    Ek sien haar te min, selfs by die vrouevergaderings. Johan, sy is bang vir Theuns. Sy sê, hy sê dis net ’n geteedrink en ’n geklets, maar sy wil hom nie teëgaan nie. Ek weet eerlikwaar nie wat haar besiel het om met hom te trou nie. Het sy gedink wat sy doen?

    Het jý gedink wat jy doen toe ek jou gevra het?

    Gelukkig het ek nie ’n fout gemaak nie.

    Onthou jy daai nag?

    Dit was op die stoep van my oupa se huis in die Boshoff-distrik. Die sterre was nog nooit so helder nie. Die volgende dag is ons Kimberley toe om die verloofring te soek.

    Ons mag nie die lig aangesit het nie, anders lok ons muskiete. Maar toe kon ek jou in vrede soen.

    Oupa het gedink jy sal jou soos ’n priester gedra omdat jy vir predikant geleer het.

    Jy kry wêreldse priesters ook – smulpape en sulke goed.

    Ons sukkel almal met ons wêreldsheid.

    Ek teken aan, sê Johan en skryf: Ons is vlees en bloed, word regeer deur hormone en emosies. Wil ons dit beheer?

    Vra dit, Johan. Wil ons regtig oorgee?

    Hy dink aan Rentia en klein Herman en wonder of sy na hulle verwys, maar hy skuif dit van hom af weg. Die teks werp ook perspektiewe op ander verhoudings. Paulus moes oorgee en vrede maak met sy gevoelens oor Apollos voordat hy met ’n skoon gewete voor die gemeente kon staan. Hy was jaloers, hy was seergemaak, maar hy het tot die regte slotsom gekom. God gee vir elkeen ’n unieke taak. Paulus plant, Apollos gooi nat en God laat groei. Sommige van ons glo dat ons beheer moet neem en hou wat ons het – soos oom Ollie wat nie die kosterskap wil opgee nie.

    Ag, my arme man. Wie anders is daar?

    Ons kan die pos adverteer. As die Here iemand in oom Ollie se plek wil hê, sal Hy ons verras.

    Theuns is vinnig op pad om ’n groter probleem te word.

    Met hom het ek nie raad nie. Niemand hou van hom nie, maar as daar gestem word, kom hy in.

    Hoe verklaar jy dit?

    Hy is ’n man van sterk beginsels. Dis al waaraan ek my troos.

    Wat van Gunther? Sal hy nie belangstel om in die kerkraad te dien nie?

    Ek gaan hom vra om hom verkiesbaar te stel.

    Volgende jaar begin ons nuut. Emma sit die leë koffiebekers op die skinkbord. Rentia gaan Stellenbosch toe. Sy sal nuwe vriende maak.

    Johan se skouers voel styf en seer. Hy sit agteroor in sy kantoorstoel. Het jy haar toe gebel?

    Haar foon was op boodskap. Ek kan gou weer probeer, of wil jy?

    Doen jy dit en sê groete!

    Emma knik. Sy tel die skinkbord op en stap uit. Johan buig sy kop.

    Hemelvader, gee tog dat hulle kan praat sonder om te stry.

    Hy lees die gedeelte in Korintiërs twee keer stadig deur, stip ’n paar aantekeninge aan en maak sy boeke toe. Iewers in die huis hoor hy Emma oor haar selfoon gesels. Klink soos in die slaapkamer. Hy stap soontoe om sy tande te borsel en sy kerkbroek en wit hemp aan te trek.

    Sy sit op die bed met die selfoon teen haar oor. Pa stuur groete. Tot siens, my kind.

    Wat sê sy?

    Sy’s op pad kerk toe.

    Vriendelik?

    Stug, maar nie onvriendelik nie. Sy sit die selfoon op die bedkassie neer. Ek gaan my nie vandag verder ontstel nie.

    As sy sê sy gaan kerk toe, gaan sy kerk toe.

    Klein Herman sal nie Malmesbury toe ry om saam met Rentia kerk toe te gaan nie, of sal hy?

    Johan gaan staan voor Emma, trek haar regop en slaan sy arms om haar. Kom ons wag tot haar volgende uitslaapnaweek, dan probeer ons weer.

    Emma woel haar uit sy omhelsing. Ek wil hê sy moet gelukkig wees, sonder klein Herman.

    Ek ook.

    Hulle maak in stilte reg vir die Bybelstudie. Johan het lankal die aanddienste laat afskaf. Om vir drie mense die hele kerk se ligte aan te skakel, orrel te speel en te preek was waansin – veral as dit gepaardgaan met kragonderbrekings. Die kerkraad wat eers wou vassteek, het sy punt ingesien toe hy hulle aangesê het om hom te help deur self gereeld die Sondagaanddienste by te woon. Bybelstudie in die konsistorie, het oom Ollie met die volgende vergadering namens hulle verklaar, is waardevoller, aangesien dit gemeentelede wat saans wil uitgaan, kans gee om in ’n klein groep om die Woord te verkeer sonder die steurnis van kragonderbrekings. Een lamp is al wat nodig is om die konsistorie te verlig.

    Binne die volgende halfuur sal dit donker wees, maar daar is genoeg lig wanneer Johan en Emma kerk toe stap. Hy moet eerste daar wees om oop te sluit. Dis nie die moeite werd vir oom Ollie om spesiaal kerk toe te kom nie, tensy hy die aandbyeenkoms wil bywoon wat hy deesdae bitter min doen. Die enigste mense wat honderdpersent getrou is, is Theuns en Edwina van den Heever.

    Johan hou die kanthekkie vir Emma vas toe die Van den Heevers se voordeur oopgaan en Theuns te voorskyn tree. Moenie nou kyk nie, maar hier kom Theuns en hy’t gesê dis Edwina se beurt.

    Miskien sluit hy net die deur vir haar oop, sê Emma.

    Hoop so, anders het jy nie geselskap nie.

    Hulle wag nie om uit te vind watter een van die twee Van den Heevers by hulle gaan aansluit nie en stap flink konsistorie toe. Die jasmyn wat aan die uitblom is, ruik heerlik en Johan wens hulle kan eerder ’n ver ent gaan stap. Nog twintig minute voor ons begin, sê hy wanneer hy die deur oopsluit.

    Die konsistorie is warm en bedompig. Hy sit sy Bybel, aantekeningboek en die bottel water wat hy uit die yskas saamgebring het, neer en maak die vensters oop. Emma gaan na haar poshokkie en haal die notule van die laaste vrouediensvergadering uit.

    Naand, naand! Hoe gaan dit vanaand met Dominee en Mevrou? Dis Theuns wat groet asof hy opdrag gekry het om hulle te vermaak.

    Johan sug innerlik. Hoekom voel dit altyd asof hy wil weghardloop as Theuns sy hand weer na hom toe uitsteek? Dis omdat hy hom tien keer op ’n dag met ’n handdruk groet – al verloop daar ook skaars ’n uur tussenin – en hom elke keer vra hoe dit gaan. Niks slegter as vanoggend nie, wil Johan hom soms toesnou, maar hy haal diep asem en antwoord gelykmatig.

    Baie goed, dankie. Waar is Edwina?

    Sy voel nie te wel nie – ’n vreeslike migraine. Sy vra om verskoon te word. Ek sal aantekeninge maak en die boodskap met haar deel. Ons doen graag Bybelstudie. Kan ek ’n bietjie water kry?

    Was Edwina al by ’n dokter met haar hoofpyne? Emma stoot die bottel en ’n glas in sy rigting. Hy sit sy stapel Bybels op sy aantekeningboek neer. Daar is sweetdruppels teen sy slape. Dokter sê dis spanning. Sy moet leer om te ontspan.

    Emma slaan haar vrouediensboek oop. Theuns gooi te veel water in. Hy vee die oorloop met sy hand van die tafel af en sluk die res te vinnig. Ek is Maandag weer op die pad, dan raak sy so. Sy kan nie die dogters alleen beheer nie. Hulle is ’n handvol. Dominee het gesien hoe maak hulle vanoggend, hulle het nie ore nie.

    Johan pluk die laaste venster oop. Hy is lus om reguit te wees en vir Theuns te vertel watter berge hy van molshope maak. Maar hy byt op sy tande en bly stil.

    Gerda Schoonraad het pas haar kop by die deur ingesteek. Naand, almal, groet sy vrolik.

    Theuns hou sy hand na haar uit. Naand, suster.

    Naand, Theuns. Sy ignoreer sy hand en wend haar tot Emma. Ek is bly jy is hier. Daar’s ’n paar punte op die notule wat ek met jou wil bespreek. Ek het dit voorlopig in potlood neergeskryf.

    Is ek by die verkeerde adres? Theuns maak kastig ’n grap, maar niemand lag nie. Suster Schoonraad, ons hou Bybelstudie, nie vrouediensvergadering nie.

    Gerda is nie op haar mond geval nie. Die Bybelstudie begin oor tien minute. Gun ons intussen ’n oomblik, broer Van den Heever.

    Dominee, waar is die dae toe mans nog gerook het? Anders kon ons buite gaan staan en dampies maak het tot die vroue klaar geskinder het.

    Emma klap die boek toe. Gerda, ek bring môre vir jou die groente vir Dinsdag se sopkombuis, dan handel ons sommer die notule ook af. Hoe gaan dit verder met jou?

    Besig. Ons verwag volgende week ’n bus vol Vrystaters.

    Die heel laaste blomkykers vir die seisoen?

    Moenie so seker wees daarvan nie.

    Theuns is verontwaardig. Die vroumense ignoreer hom en dit staan hom nie aan nie. Johan maak asof hy dit nie agterkom nie. Hy gaan sit aan die kop van die tafel, maak sy Bybel oop en staar na die Skrifgedeelte wat hulle vanaand moet behandel. Sy oog dwaal hoër as hoofstuk drie. Maar ons, ons het die Gees van Christus.

    Hoekom heers hier dan soveel spanning in hierdie vertrek? Is dit net ek wat dit aanvoel, wat so fyngevoelig is – of versigtig vir konflik? Die oorsaak van verdeeldheid. Wie of wat is die oorsaak? Johan sien uit die hoek van sy oog hoe Theuns hom drie sitplekke van die vroue af tuismaak en sy Bybels nadertrek. Is dit Theuns? Is hy die skuldige? Probeer hy te hard om gaaf te wees of is hy juis nie gaaf nie? Johan weet nie hoe dit vanaand sal gaan met hom en Theuns aan die een kant en Emma en Gerda aan die ander kant nie.

    Here, ons het balans nodig. Stuur asseblief nog van u kinders.

    Hy spits sy ore en luister totdat hy ’n voertuig naby die kerk hoor stilhou. Dalk reisigers wat by dooimansdeur gaan aanklop aangesien Gerda en Emma albei hier is en hulle twee die dorp se enigste gastehuise bedryf. Maar die insittendes is tog aan die naderstap.

    Bybelstudie Sondagaande! Dis ’n vrouestem, taamlik uitasem.

    Groot Herman Bezuidenhout verskyn eerste in die oop deur. Die oorsaak van verdeeldheid. Dis nie hy nie, dis sy seun wat verdeeldheid in die pastorie veroorsaak. Johan voel ongemaklik. Moet hy vanaand self ook ’n paar lesse leer?

    Is ons laat?

    Glad nie! Theuns spring regop. Herman is sy werkgewer en vir hom het hy ontsag. Naand, Meneer!

    Ja, Theuns.

    Ek vat môre die pad Vrystaat toe.

    Dis Sondagaand, Theuns. Ons praat nie shop nie.

    Ja, Meneer. Theuns pluk twee stoele uit.

    Andrea, Gerda en Emma soengroet mekaar. Andrea is opvallend bruin gebrand. Haar somerrok het ’n val om die skouers wat haar lae halslyn beklemtoon. Johan hou Emma dop. Hy kan sien hoe haar kop werk. Sy dink die rok is onvanpas.

    Gerda sê wat sy wil. Jy’t lekker gebrand.

    Dis Margate se son. Hallo, Emma. Het die vleis wat Herman vir die sopkombuis geskenk het by julle uitgekom?

    Baie dankie, dit het.

    Andrea plak haar langs haar man neer. Die kok moes dit gaarmaak ook.

    Sy het en baie lekker. Dankie, Herman.

    Groot Herman knik instemmend. Hy is ’n lopende teenstrydigheid: ’n suksesvolle boer, maar ’n filantroop wat uit sorgsaamheid vir sy werkers nie alles op sy plase meganiseer nie. Sy vrou draai hom om haar pinkie en sy seuns het van kleins af hul sin gekry. Boetie gaan nog skool en hy besit al ’n trop Arabier-perde. Klein Herman is toegelaat om drie jaar op universiteit te mors en drie motors af te skryf. Die laaste tyd leer hy hom glo boer. Of hy dit gaan regkry, is ’n ope vraag. Maar klein Herman is volgens Andrea stiller vandat hy en sy pa op Marta se ongeluk afgekom het.

    Dis drie minute voor sewe toe Hennie Gouws en Bakker Bakker opdaag.

    Hennie se oë is rooi. Die baba kry tande. Hilda is gedaan.

    Die geur van varsgebakte brood hang om Bakker.

    Theuns skuif sy stapeltjie Bybels haaks. Edwina kry die vreeslikste migraines, sê hy om Hennie seker te troos.

    Dis seweuur.

    Dankie, Vader, ons het lanklaas so ’n groot Sondagaand-opkoms gehad.

    Ons open met gebed, begin Johan en buig sy hoof. Onse Vader wat in die hemel is, laat u Naam hier geheilig word, laat u koninkryk kom, u wil ook op die aarde geskied soos in die hemel. So het Jesus ons geleer om te bid en so wil ons vanaand voor U neerval en U vra om deur u Gees die leiding te neem in hierdie bespreking. Gee dat nie een van ons afbreuk doen aan u opdrag om mekaar te vergewe, te respekteer en in Jesus lief te hê nie. Om U te ken, te eer en lief te hê met ons hele hart, siel en verstand.

    Amen, sê almal in ’n koor.

    Dis vir my ’n voorreg om julle vanaand in Jesus se Naam te verwelkom. Dankie dat julle hier is.

    Johan maak sy Bybel oop. Ons skrifgedeelte kom uit 1 Korintiërs 3:1-9. Wie wil vir ons lees?

    Andrea steek hand op. Sy lees helder en foutloos.

    Uit ondervinding weet Johan dat haar bydrae aan die bespreking hierby sal volstaan. Dink sy ooit aan die betekenis van die woorde wat sy lees? Hy onthou hoe sy langs Marta se hospitaalbed gehuil het oor klein Herman. Vir die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1