Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Israel-reeks 6: Kavod Adonai: Die vrese van die Here
Israel-reeks 6: Kavod Adonai: Die vrese van die Here
Israel-reeks 6: Kavod Adonai: Die vrese van die Here
Ebook476 pages6 hours

Israel-reeks 6: Kavod Adonai: Die vrese van die Here

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dit is Augustus 2011 in Jerusalem. Marc verlaat die Ou Stad vir sy verpligte jaarlikse reserwediens van een maand in die Negev, terwyl die kinders somerskoolvakansie hou in Bat Yam, naby Tel Aviv by die see. Dis dan wanneer Rikvah die nuus van die skietaanval hoor. Geweld en terreur is steeds deel van die normale gang van lewe in Israel. Tog probeer Marc dit by die seuns tuisbring dat geweld nie ’n oplossing is nie, terwyl hy self worstel om die grusame ervarings van oorlog te verwerk. Dan kontak Gadi Marc en nooi hom uit om hom in Parys te besoek. Dis daar wat Marc gekonfronteer word met herinneringe van sy eerste liefde, sy pa wat gay was, en die verlokkinge van die wêreld . . . Klein Natan word siek en hy moet hom huis toe haas. Ten spyte van al sy vrese plaas Marc sy vertroue inHaShem, die Een wat Adonai is, die Koning van die Heelal, wat doen wat reg is in sy oë. Kavod Adonai, die vrese van die Here, is die sesde titel in Marzanne-Leroux Van der Boon se gewilde Israel-reeks. Lesers sal hul opnuut verdiep in die lief en leed van Marc Krige en sy gesin.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJun 20, 2013
ISBN9780796316240
Israel-reeks 6: Kavod Adonai: Die vrese van die Here
Author

Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon is 'n bekende en bekroonde skrywer wat in Vredehoek, Kaapstad, woon. Sy is veral bekend vir haar liefdesromans – wat allerhande etiese en aktuele kwessies aansny – en het ook 'n passie vir Israel, wat die afgelope paar jaar uitgeloop het op tien gewilde romans wat in daardie land afspeel.

Read more from Marzanne Leroux Van Der Boon

Related to Israel-reeks 6

Related ebooks

Related articles

Reviews for Israel-reeks 6

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Israel-reeks 6 - Marzanne Leroux-Van der Boon

    Hoofstuk 1

    Jerusalem

    Shabbat 13 Augustus 2011

    Marc staan ’n oomblik stil in die deur van die kamer waar sy seuntjies slaap. Yhoshi het sy duvet afgeskop en lê uitgestrek op sy maag. Die verweerde beertjie waarsonder hy in die eerste ses jaar van sy lewe nooit gaan slaap het nie, lê op die grond. Hy dring deesdae daarop aan dat hy Yhosh genoem word en nie meer op die troetelnaam Yhoshi nie. Nie dat sy ouers of boetie dit dikwels onthou nie.

    Ten spyte van die Augustus-hitte lê Natan nog nes sy ma hom die vorige aand toegemaak het, diep in sy duvet ingewurm. Sy lang swart krulhaartjies steek net-net uit. Duim in die mond. Shmu’el, die wit wolhaarhondjie, slaap opgekrul styf agter Natan se rug. Toe hy Marc hoor binnekom, kyk hy skuldig op. Hy is immers veronderstel om in sy mandjie voor die bed te slaap. Maar sy baas tel hom op en druk die koue snoetjie teen sy wang. Toe trek hy die gordyne voor die venster oop en helder sonlig bars die vertrek binne.

    Yhoshi roer en draai om. "Abba," mompel hy nog voordat sy oë behoorlik oop is.

    Marc glimlag, buk af en soen hom. "Boker tov, sê hy. Kyk hoe hoog sit die son al."

    "Abba …! Dis Shabbat, sê die kind, en dis skoolvakansie."

    Dit is so. Marc gaan sit op die kant van die bed.

    Natan het ook wakker geword. Hy ontworstel hom uit sy beddegoed en kom klim sonder versuim op sy pa se skoot. Marc druk die koppie teen sy bors en soen die slaapwarm gesiggie.

    Kom, sê hy, en met die kinders se hande in syne bid hulle die Modeh Ani.

    Ek sê vir U dankie, lewende en ewige Koning, dat U in liefde en deernis my siel weer in my vernuwe het. Groot is u getrouheid.

    "Abba?"

    Hmm?

    Hoekom kan ons nie net sê: ‘Dankie dat ek nog lewe’ nie? Hoekom moet ons altyd dieselfde woorde sê? Dit maak my moeg. Yhoshi sug oordrewe.

    Yhoshi, kyk, Beer lê op die grond! Natan leun oor om hom op te tel.

    Ek weet! Los hom, ek’s nie meer ’n baba soos jy wat met bere slaap nie.

    Yhosh. Sy pa vat hom stewig aan die skouer. Jy praat nie so met jou broer nie. Tel die beer op.

    Yhoshi se lip hang, maar hy buk nogtans, tel die speelding op en laat val dit op die onderent van die bed. "Abba, ek het jou gevra hoekom ons altyd dieselfde moet bid?"

    En ek sal jou eers antwoord wanneer jy ordentlik praat. Vir wie is jy kwaad?

    Natan, wat nie van onenigheid hou nie, vra vinnig: "Waar is Imma?"

    Marc vryf sy jongste se rug. Sy slaap nog, babbelossie.

    Sy slaap altyd, mompel Yhoshi. Hy het weer die sagte speelding opgetel en begin van die wolpluisies al om die beertjie se neus uittrek.

    "Gaan kruip jy ’n bietjie by Imma in, Natani, sê Marc vir die kleinste. Sê ek bring nou-nou vir haar tee."

    Die seuntjie gly onwillig van sy skoot af.

    Marc praat eers toe hy Natan se voetstappe in die gang hoor wegraak. Wat is verkeerd, Yhosh? vra hy.

    Die kind antwoord nie. Hy sit kop onderstebo die beertjie verder en uitpluis.

    Marc neem die speelding van hom weg. Wat is dit, Yhoshi? Hoekom is jy kwaad?

    Jy gaan weer oorlog toe.

    Nee, ek …

    "Ja, Abba! Ek het gesien jy haal jou madim en jou neshek gisteraand uit die kas."

    "Ek gaan nie oorlog¹ toe nie, ek gaan net milu’im doen."

    Dit ís oorlog. Yhoshi kyk vir die eerste keer op. Hy’t Rivkah se blou oë, maar dié gloei nou donker. Hoekom maak ons altyd oorlog?

    Marc trek die kind aan sy arm nader en druk die gespanne lyfie teen hom vas.

    Ons máák nie altyd oorlog nie, liefling. Ons probeer ons net beskerm teen almal wat teen ons wil oorlog maak.

    Hoekom wil almal …

    "Abba …"

    Nie een van hulle het gemerk dat Natan weer in die deur staan nie.

    "Ek dag jy’t by Imma gaan lê, Natani?"

    "Abba, jou madim en jou neshek is daar in die kamer."

    Marc onderdruk ’n sug en trek die kleintjie tot teen sy knieë. Ek het net vir Yhoshi …

    Yhosh! herinner sy oudste hom gegrief.

    "Ek het net vir Yhosh verduidelik dat ek weer milu’im gaan doen."

    Gaan jy vandag?

    Marc sluk voor die twee paar oë wat hom aankyk. Vanaand ná Shabbat.

    Yhoshi kyk vinnig weg, maar Natan vra: "Abba, kan ek maar aan jou geweer vat?"

    Hy hoor Yhoshi sy asem vinnig intrek. "Niemand mag aan Abba se neshek vat nie, Natani, jy weet dit."

    Marc sug. Hy en Rivkah het sterk daaroor gevoel dat die seuns nie speelgoedgewere moet hê nie. As iemand dit onwetend present gegee het, het hulle seker gemaak dat dit nie in die kinders se hande beland nie. Voorwerpe van geweld was totaal verbode, selfs om mee te speel. Daarvoor word hulle met veels te veel geweld rondom hulle groot. Totdat Yhoshi op ’n dag ’n herrie daaroor opgeskop het. Hulle het toe maar toegegee en vir hom ’n waterpistool gekoop.

    Maar nou bly Natan se bruin oë smeek. "Ek wil net vóél hoe dit voel, Abba."

    Nou wag, ek gaan haal dit.

    In die kamer slaap Rivkah nog vas. Hy neem die groot R6 en gaan terug na die kinders toe.

    Natan se oë rek yslik groot. Yhoshi sê byna onhoorbaar: Ek mag nooit daaraan geraak het nie.

    Ek weet, maar … Marc maak ’n ietwat hulpelose gebaar met sy hande.

    Natan raak met versigtige vingertjies aan die loop. "Kom die bomme hier uit, Abba?"

    "Daar kom nie bómme uit nie, atah meshuggah? Dis koeëls!"

    Marc raak waarskuwend aan sy oudste se arm en dié bly stil.

    "Ja, dis koeëls, Natani. Maar kom ek gaan bêre hom weer. ’n Neshek is nie iets om mee te speel nie."

    Maar Natani word nie so maklik van stryk gebring nie. "Koeëls kan mense doodmaak, nè, Abba? Dis mos hoe jy daardie slegte mense doodmaak?"

    Nee, wag nou. Dis nie sommer net dat ons hulle wil doodmaak nie. Ons wil liewer dat hulle ophou om sleg te wees.

    "Maar milu’im gaan jou mos leer om hulle nog beter dood te maak, Abba?"

    Sy oudste se blou oë kyk hom stip aan.

    Of miskien kan jy ook sê ons gaan leer hoe om beter te keer dat hulle óns doodmaak.

    "Ek gaan nou régtig by Imma lê." Natan raak nog een maal eerbiedig aan die geweerloop voor hy om die deur verdwyn.

    Yhoshi, sê sy pa toe sy boetie weg is, "weet jy wat? Dis tyd dat ek en jy oor die oorlog praat. Ek gaan net vir Imma tee neem, dan stap ons twee af plein toe. Kom, voordat dit te warm word om uit te gaan. Trek jou gou aan."

    "Gaan jy nie vanoggend shul toe nie? Dis Shabbat?" vra die kind verwonderd.

    "Nee, ek gaan nie shul toe nie; dis belangriker dat ek en jy gesels."

    twirly.jpg

    Met ’n beker groentee gaan Marc kamer toe. Ook daar trek hy die gordyne oop sodat die sonlig oor die bed val. Maar sy vrou is al wakker, sy lê met Natan styf teen haar aangekruip. Die helder lig laat haar haar oë toeknyp en verwytend uitroep: Nee, man!

    Marc sit die tee neer en gaan sit langs haar op die bed. Hy steek sy arm onder haar deur en lig haar op tot teen hom. Sy is warm en sag en klein in sy arms, en hy soen haar. Dis tyd dat jy wakker word, sê hy in haar hare. Jou oudste kla al dat jy altyd slaap.

    Ag nee, protesteer sy onder sy ken, waar kom dit nou vandaan?

    Hy’s kwaad vanmôre.

    Oor wat?

    Oor alles. Ook oor ek kamp toe gaan vanaand.

    Jy moes hulle gewaarsku het.

    Ek weet, maar ek het nie die moed gehad nie.

    Sy sug, tel die koppie op. Ek ook nie.

    "Hoe ook al, ek het lankal gevoel dis nodig om ’n slag met hom te gesels, te hoor wat hy op die hart het. Ek vat hom plein toe, ek gaan nie vanoggend shul toe nie."

    Nie? sy klink verbaas.

    Nee. Die Shabbat is ook vir die gesin en ek het die kinders ver­waarloos.

    Haar oë versag bo die beker wat sy teen haar mond hou. Jy verwaarloos nie jou kinders nie, sê sy sag. En toe ná ’n oomblik: Miskien doen ek dit omdat ek werk.

    Hulle kyk mekaar stil aan voordat hy sê: "Ons sal hoor. Met Yhosh moet ons versigtig wees, chamud … dis … ons weet sy intelligensie is ver bo die gemiddelde. Baie vér bo sy ses jaar."

    Sy knik. ’n Mens vergeet dit en dan ontstel jy jou oor sy gesegdes en vrae. Dis goed dat jy ’n bietjie alleen met hom is.

    "Kan ek ook saamgaan, Abba?"

    Hulle het albei half vergeet van Natan, wat diep onder die duvet ingekruip lê.

    "Nee, Natani, Abba en Yhoshi gaan alleen. Ek en jy moet nog vir Shishi en Shmu’el kos gee en met Shmu’el gaan stap. Onthou?"

    Dit herinner Natan aan sy kat. Waar’s Shishi?

    Ek het gisteraand gesien sy lê op die rusbank op die groot kussing. Sy’s seker nog daar.

    Die kleintjie kruip dadelik onder die duvet uit. Ek gaan haar haal.

    Hy hardloop in die gang af en Marc trek Rivkah, wat haar tee klaar gedrink het, weer nader en hou haar styf vas. Dit gaan ’n lang maand wees, sê hy teen haar wang.

    Ek weet, sê sy en nestel haar gesig in die holte van sy skouer.

    Hy onthou die passie waarmee hulle laas nag liefde gemaak het.

    284.jpg

    Op die Hurvah-plein is dit Shabbat-stil. Die dig geblaarde iepe gooi wye skaduwees oor die plein se plaveiklippe. Aan hul stamme blink laas nag se dou nog. Uit die wolklose lug skyn die son helder. Vandag gaan dit bloedig warm word. Marc gaan sit met Yhoshi op ’n bank in die skaduwee oorkant Moshe en Dov se verlate winkel.

    Hy sit sy arm om die kind se skouertjies en wag totdat hy voel die lyfie ontspan effens voordat hy begin praat. "Jy het vanoggend gesê Imma slaap baie wanneer sy by die huis is."

    Dit is mos so.

    Is dit?

    Wel, sy slaap baie. Die kind swaai sy bene gegrief.

    Miskien is dit eerder reg as ons sê sy slaap ’n bietjie meer as toe julle kleiner was en sy korter ure gewerk het. Dink jy nie so nie?

    Yhoshi trek sy skouers op.

    Weet jy watter soort werk doen sy?

    Ek weet, ja! Sy’s ’n paramedikus.

    Yhoshi, jy praat met mý, nie met een van jou maats nie.

    "Slicha," mompel hy.

    Wat ek eintlik gevra het, is of jy dink aan hoeveel hart­seer sy elke dag in haar werk mee te doen kry en hoe moeg dit ’n mens maak?

    Hoekom moet sy werk?

    Omdat sy ’n hoogs opgeleide paramedikus is en die land haar nodig het.

    Yhoshi sê niks, maar sy voete swaai nie meer so ontsteld heen en weer nie.

    Sê nou maar jy het aan die universiteit studeer en jy kan die werk waarvoor jy lief is baie goed doen, maar jy kan nie werk nie. Al is daar baie werk in die land vir jou. Sou jy nie ook gefrustreerd wees nie?

    Hy kyk vir die eerste keer op na Marc, en ná ’n oomblik knik hy.

    Marc vryf oor sy knieë. Kyk, sy werk vyf dae van die week van sewe tot een, ses uur lank. Sy werk nie op Vrydae en Shabbat nie. As jy ongelukkig daaroor voel, kan ons almal saam daaroor praat en sien of ons iets daaraan kan doen.

    Yhoshi sê niks. Hy kyk na twee van die plein se katte wat hulle behaaglik in die son op ’n bank uitstrek. Bokant hulle gloei die Hurvah se koepel in die skerp lig.

    Yhosh?

    Marc sien hoe hy sy vingers ineenstrengel voordat hy antwoord. Sy’s nie soggens daar wanneer ons skool toe gaan nie. En ook nie middae wanneer ons huis toe kom nie; sy kom eers twee-uur.

    "Maar ek is soggens daar, en Savta kom julle by die skool haal en bly totdat sy kom."

    Dis nie dieselfde nie.

    Marc wil-wil hom vererg. Wat wil jy hê, Yhosh? vra hy so gelykmatig moontlik.

    Meteens begin Yhoshi huil. Marc skrik en tel hom vinnig op sy skoot. Wat is dit, liefling?

    Dit duur ’n rukkie voordat hy half onhoorbaar sê: Jy gaan nie eens vir my verjaardag hier wees nie. Jy gaan ook weg.

    Hy druk die kind vertroostend teen hom vas en besef dat Yhoshi nog nie al die vrees en onsekerheid van die vorige jaar afgeskud het nie. Hy onthou Yhoshi se woedeuitbarstings weens sy vrees dat hy of Rivkah kon weggaan.

    In Januarie 2010 het Rivkah saam met Israel se span paramedici ná die verwoestende aardbewing in Haïti gewerk. Sy het in ’n vreemde gemoedstoestand teruggekeer en Marc het nie kans gehad om vas te stel wat gebeur het nie, want ’n paar uur ná haar aankoms het hy Pole toe ver­trek vir die 65ste herdenking van die Auschwitz-Birkenau-bevryding. ’n Toer wat hy en Henok maande voor die Haïti-aardbewing bespreek het.

    Eers lank nadat hy weer by die huis was, het die oorsaak van haar kommerwekkende optrede aan die lig gekom. Sy het in Haïti te midde van die skokkende omstandighede seksueel betrokke geraak by ’n medeparamedikus. Hoewel dit kortstondig en eenmalig was, het dit ’n ontsettend emosionele uitwerking op hul huwelik gehad. Deur die loop van die jaar en met baie pyn het hulle dit egter leer verwerk en het hul verhouding eintlik inniger geword. Maar vanoggend besef hy opnuut watter nadelige uitwerking dit steeds op die kinders het. Al het hulle geen idee van wat gebeur het nie, moet hul ouers se optrede telkens die vrees by hulle wek dat een van die twee kan weggaan. Yhoshi sukkel duidelik nog daarmee, hoewel hy nie regtig weet wat hom pla nie.

    Die seuntjie het stil geraak, maar die gesiggie wat teen Marc se nek lê, is nog nat van die trane. "Yhoshi, ek is verskriklik jammer dat ek nie hier kan wees vir jou verjaardag nie, maar ek kan niks daaraan doen nie. Ons sal dit vier wanneer ek terugkom, dit belowe ek. Maar jy en Natani gaan mos lekker saam met Saba en Savta see toe."

    ’n Snik ruk nog af en toe deur Yhoshi. Ek wil nie hê jy moet weggaan nie. Nooit nie.

    Marc vee die nat hare van sy voorkoppie weg en haal diep asem. Hy bid in sy hart dat Adonai hom die regte woorde in die mond sal lê. Hy bly die kind styf vashou.

    "Liefling, luister mooi na my. Abba en Imma sal nooit van jou af weggaan nie. Ook nie van mekaar af nie. Mense wat getroud is, kry soms probleme. Dit gebeur met alle mense. Maar wanneer ’n mens iemand regtig liefhet, help HaShem jou om mekaar weer te verstaan. En ek en Imma het mekaar baie lief, dit weet jy mos."

    Yhoshi knik effens. "Maar jy gaan milu’im toe en dis soos oorlog en oorlog kan doodmaak. En Imma is ook al ’n keer in die ambulans amper doodgemaak."

    Marc sluk. Ek weet, skat, maar HaShem besluit oor lewe en dood, en dan sorg Hy vir jou. Dis iets anders as wanneer jy op jou eie besluit om weg te gaan van iemand af. Verstaan jy?

    Die kind knik langsaam.

    "Yhoshi, Imma se werk is gevaarlik en oorlog is ook gevaarlik. Dit ís so. Ons land is gevaarlik." Marc probeer magteloos om die regte woorde te vind. Om eerlik met die kind te wees maar hom nie verder angstig te maak nie.

    Hoekom wil die Palestyne Yerushalayim hê?

    Yerushalayim is die stad wat HaShem sê syne is. Ons is die volk wat Hy sê Hy bo alle ander volke uitverkies het. Dis baie, baie moeilik vir mense wat nie Jode is nie om dit te verstaan, Yhoshi. Die Palestyne glo dis hul stad wat ons afgevat het.

    Hoekom het HaShem óns uitverkies? Is ons dan beter as al die ander mense?

    "Nee, ons is nie beter as ander mense nie. Maar Adonai, baruch Hu, aan Wie die hele aarde en al die mense daarop behoort, het ons sý volk gemaak. Hy het ons die Tora gegee sodat ons ’n lig kan wees vir die nasies wat Hom nie ken nie. Moshe Rabeinu het vir b’nei Yisra’el die Halachah van HaShem gebring om te sê Hy het Israel gekies omdat Hy hulle liefhet, dat hulle sy am segulah is en omdat Hy die b’rit wat Hy met Avraham Avinu gemaak het, altyd sal hou."

    Wat beteken dit om ’n lig vir die nasies te wees?

    In die Tora leer HaShem ons wat die pad is wat Hy wil hê ’n mens moet loop. Ons moet die Tora lééf sodat die ander nasies aan ons manier van lewe die pad kan sien.

    Hoekom wil die mense ons dan doodmaak as ons ’n lig vir hulle wil wees?

    Mense wil nie hoor dat HaShem ’n spesiale volk uitverkies het nie. Baie, baie mense glo nie dat Adonai Elohim is en dat Hy Echad is nie.

    "Dis die Sh’ma," fluister Yhoshi.

    Dis reg. Omdat mense HaShem nie kan bykom nie, Hom nie kan ‘gryp’ nie, vergryp hulle hulle aan sy volk. Aan ons. Wil hulle óns gryp. Kan jy dit ’n bietjie verstaan?

    Yhoshi knik. Maar hoekom wil hulle HaShem gryp?

    Marc sug voordat hy hom kan keer. Ag, mense wat Hom nie ken nie, wil nie weet dat daar Een is wat groter as hulle is nie. Een wat beheer oor hul lewe het … wat vir hulle sê hoe hulle moet lewe. Een aan Wie alle mag in die hemel en op aarde behoort. Hy sug weer. En ongelukkig is Israel baiekeer nie ’n lig vir die nasies nie.

    Dis ’n rukkie stil tussen hulle voordat Marc weer praat. Yhosh, meer as enigiets anders wil ek hê jy moet grootword met vrees vir Adonai. Nie ’n bang vrees nie, want Hy het jou lief, maar ’n vrees … ’n respek wat kom van weet dat Hy heilig is. En omdat jy deel van sy volk is, moet jy ook heilig lewe.

    Wat is heilig?

    Heilig beteken apart, afgesonder vir Hom; daarom het Hy aan ons die Tora gegee sodat ons sal weet hoe om te lewe.

    Shabbat is ook heilig.

    "Presies. Dis ’n dag wat Adonai, baruch Hu, eenkant gesit het, anders as die ander dae. ’n Dag wat net aan Hom behoort. So is jy ook eenkant gesit, en jy moet so lewe. Yeshua het gekom en ons die Ruach HaKodesh gegee sodat ons heilig en volgens HaShem se Tora kan leef."

    Hulle sit ’n rukkie in stilte en kyk na die Ortodokse wat oor die plein loop vir die Shacharit in die Hurvah-sinagoge.

    "Abba."

    Hmm?

    "Hoekom het jy my nie gesê jy gaan vanaand milu’im toe nie?"

    Marc vryf Yhoshi se hand ingedagte. Omdat dit vir my moeilik is om dit vir jou te sê, antwoord hy eindelik. "Ek en Imma probeer julle van dié dinge weghou, maar dis nie maklik nie. Dit was verkeerd van my om jou nie te sê nie."

    In die boom bokant hulle koer twee duiwe verlief. Die katte bekyk hulle berekenend.

    Jy het nog nie gesê hoekom ons altyd moet oorlog maak nie.

    Marc huiwer ’n oomblik voordat hy vra: Wil jy hê ek moet jou soos ’n grootmens antwoord?

    "Ken."

    Dan moet jy probeer verstaan soos ’n grootmens.

    Die kind sit regop en kyk afwagtend na Marc. Hy knik.

    "Jy weet ek en Imma was albei soldate, Bibi is ’n soldaat. Dod Ofer is, Saba was. Jy ken ook baie, baie jong soldate. Watter soort mense is hulle?"

    Vriendelik, sê hy ná ’n oomblik se nadenke.

    "Yhoshi, weet jy die meeste van daardie soldate is nes jy grootgemaak? Hulle is geleer om sensitief te wees, gevoelig. Die Tora leer ons om lief te hê en mekaar te respekteer. Om te gaan veg is beslis nie wat hulle die graagste wil doen nie. Hoekom dink jy het ons so baie universiteite en yeshivot? Omdat dit nou eenmaal in ons Joodse bloed is om te wil studeer. Dink jy nie die soldate vra ook altyd in hul harte en vir mekaar wat jy my nou gevra het nie: ‘Waarom moet ons altyd oorlog maak?’"

    Yhoshi woel sy lyfie stywer teen sy pa aan. "Ek dink so. Maar, Abba, oorlog is erg! So baie mense word doodgemaak. Dod David is ook in die oorlog dood."

    Marc ril onwillekeurig. Oorlog is altyd wreed. Het jy al van Tohar Neshek gehoor?

    "Lo."

    Dit is die IDF (Israelse weermag) se leuse, kan ’n mens maar sê, en dit staan vir: Reinheid van wapens.

    Réinheid?

    Marc knik. Ek weet dit klink vreemd, maar dit beteken jy as soldaat het nie die reg om jou vyand met geweld te straf nie. Of oor jy hul land vir jou wil neem nie. Jy kan net veg om jou land en jou mense te verdedig.

    Hy wonder moedeloos hoeveel die kind verstaan van wat hy probeer verduidelik. Hoeveel hy self verstaan.

    Maar as ’n mens iemand doodskiet, dan is dit mos geweld.

    Ek weet. Maar hoe kan jy jou anders verdedig as jou vyand dreig om jou dood te maak?

    Bedoel jy ons soldate maak net dood as die vyand hulle wil doodmaak?

    Ja. Maar so eenvoudig is dit nie, dink hy.

    Yhoshi kyk hom skerp aan. Beteken dit ons soldate is nie so sleg soos ander soldate nie?

    Marc moet glimlag. Wel, nee. Maar dit is hoe die IDF ons leer dit moet wees. Dis soos ons in alle omstandighede probeer wees. Dis nie om na ons kop toe te gaan en te dink net ons is so wonderlik nie. As ons gedwing word om ons te verdedig, moet ons altyd onthou dat ons HaShem se volk is en dat die Tora ons hoogste wet is.

    Maar partykeer val ons aan nog voordat ons aangeval word.

    So, dan snap jy dit ook al, dink Marc.

    Ja, maar dan is dit omdat ons weet ons gaan aangeval word en ons probeer dit voorkom. Maar ook dan moet ons Tohar Neshek in gedagte hou.

    Die kind dink daaroor na en vra toe: Doen ons dit?

    Ek dink ek sal kan sê ja, byna sonder uitsondering. Moet ek jou vertel van wat ek eendag self gesien het wat vir my mooi was?

    "Bevakasha!"

    "Wel, dit was met die oorlog in Libanon. Hulle het ’n gevangene na ’n tent gebring waar ek ook was. Ons moes hom oppas totdat die militêre polisie hom kon kom haal. Die offisier in bevel het vir hom kos en water gaan haal. Hy kon nie sy hande gebruik nie, want dit was agter sy rug vasgebind. Toe hou die offisier vir hom eers die plastiekbekertjie met water vas sodat hy kon drink. Toe voer hy hom sy kos. Weet jy, die man het begin huil en toe sê hy: ‘Allah yirda aleik.’"

    "Abba, maar dan het hy mos daai offisier geseën."

    Marc moet hom weer verwonder. Dis reg, sê hy sag, sy vyand het hom geseën. Dis waarom die Tora ons leer om so te veg. Yeshua het ook uit die Tora gepraat toe Hy gesê het ons moet ons vyande liefhê.

    Vertel my nog so ’n storie.

    Marc dink ’n ruk voordat hy weer praat. Dis nie heeltemal so ’n mooi storie nie, Yhosh.

    "Ek wil dit hoor, Abba."

    Wel, dit was in ’n ander oorlog. My afdeling het ’n straat in Gasastad gepatrolleer in ’n skarebeheervoertuig. Daar was geweldig baie mense in die straat en steeds het meer bygekom.

    ’n Woeste bende was aan die versamel. Uit die moskees het fanatiese aanbidders die strate ingestroom. In die skarebeheervoertuig het hulle besef die situasie kan te eniger tyd ontplof.

    Ons bestuurder was ’n jong soldaat. Nog byna ’n kind, pas klaar met sy opleiding. Die offisier in bevel het bo-op die voertuig geklim om beter te kan sien wat aangaan.

    Dís gevaarlik!

    Marc glimlag. Vir seker. Toe ons by ’n moskee verbyry, word ons meteens van alle kante bestorm en heeltemal omsingel. Ons het dadelik besef dit sal die beste wees om so gou moontlik daar weg te kom. Terug basis toe.

    Die skare het die voertuig heen en weer geskud. Dit was donker van dreigende mense rondom hulle. Besete mense. Al waaraan Marc kon dink, was die twee soldate wat in Ramallah van die pad afgeraak het en deur net so ’n woedende skare gelynch is. Hy het vurig gehoop hul bevelvoerder het genoeg ervaring om die situasie te beheers.

    Skielik het ’n man agter teen die voertuig opgeklim en die offisier se geweer probeer gryp.

    Allah hu Akbar, het die bebaarde man geskreeu toe hy agter opklouter. Marc het yskoud geword.

    Die offisier het nie nog kans gehad om sy geweer op te lig en te skiet nie. Hy moes die man met die kolf van sy geweer van die voertuig afstamp. Tegelykertyd het ’n yslike klip wat iemand bo van die muur rondom die moskee afgegooi het, hom getref sodat hy geval en ’n sekonde of twee bewusteloos was. Klippe van alle groottes het op hom gereën.

    Yhoshi kyk hom met groot oë aan. Hoekom het die bestuurder nie begin ry nie?

    Marc knik. Toe hy bykom, het die offisier vir hom geskree: ‘Ry agteruit! Ry agteruit!’ Maar niks het gebeur nie. Toe eers het ons besef die kabel van die mikrofoon na die bestuurder is stukkend gegooi.

    Sjoe! Yhoshi druk sy kop styf teen sy pa se bors.

    Dit was duidelik dat die skare opgesweep was en te eniger tyd sou aanval. Waar hy in die voertuig gesit het, kon Marc hulle hoor gil: Allah hu Akbar! Allah Yixdac! Die ritmiese krete het soos tromslae geklink. Marc was so angstig dat hy skaars kon asemhaal. Van die oproeriges het agter op die voertuig begin klim. Hulle gaan ons vandag hier doodmaak, het hy besef.

    Die bestuurder was so geskok, hy was heeltemal verlam. Hy kon homself nie so ver kry om agteruit die skare in te ry nie.

    Waar hy vasgekeer gesit het, was Marc ten spyte van die verstikkende angs bewus van die geweldige emosie wat in die skare aan die opwel was. Met n swaar hart het hy besef hoe moeilik die keuse vir die bevelvoerder was. Al manier waarop hulle lewend kon uitkom, was om onmiddellik so vinnig moontlik agteruit te ry, wat ongetwyfeld sou beteken dat mense beseer of selfs gedood sou word. Die alternatief was egter dat die hele afdeling daar gelynch word.

    Wat het julle toe gedoen?

    Een van ons manne het ’n paar skote naby die bestuurder afgetrek om hom uit sy skok te ruk. Dit het gewerk en hy het vinnig agteruitgejaag.

    Marc kon wilde krete hoor soos die oproeriges uiteenspat om pad te gee.

    Het hy baie mense doodgery?

    Marc skud sy kop. Nee, ons kon bloed op die sypaadjie sien, maar niemand is dood nie.

    Yhoshi sug verlig.

    Ek vertel jou die storie sodat jy kan begryp dat soldate in die oorlog soms dinge moet doen wat hulle nie graag wil doen nie. Maar uit verdediging, nie om aan te val nie.

    Hy knik.

    Is dit vir jou ’n bietjie duideliker hoekom ons altyd moet oorlog maak?

    Hy knik weer half afwesig en vra toe: "Abba?"

    Jaaa? Marc het al half regop gekom om te loop, maar hy gaan sit weer.

    Hoekom is jy liewer vir Natani as vir my?

    Dis asof iemand hom ’n hou in die maag gee. Sou dit wees dat hy half skuldig voel?

    Hoe nou? vra hy.

    Jy hou meer van Natani as van my.

    Nee, Yhosh, dis nie waar nie. Hoekom sê jy dit?

    Die kind sê niks, haal net sy skouers op.

    Hoekom sê jy dit, Yhosh?

    Jy laat Natani dinge doen wat ek nie mag gedoen het nie.

    Marc besef hy praat van die oggend met die geweer. Jy is reg wat dit betref, ek het hom vanoggend aan my geweer laat vat wat ek jou nooit toegelaat het nie. Ek behoort dit nie te gedoen het nie.

    Maar jy is liewer vir hom as vir my.

    "Nee, Yhosh, dis nie so nie. Luister nou wat ek vir jou sê: Dit lyk maar vir jou so. Miskien oor my en Natani se … geaardhede baie dieselfde is. Jy en Imma is weer baie eners. Julle albei is vir niks bang nie."

    Yhoshi kyk op. "Maar jy is nie bang nie, Abba."

    Marc grimlag effens. "Jy weet net nie. Ek is bang vir vreemde mense. Ek is partykeer bang om Israeli te wees. In die oorlog was ek baie bang. Ek is nie so ’n goeie Israeli soos jy en Imma nie."

    "Abba, jy het die Tora liewer as enigiemand anders."

    Nee …!

    "Ja, Abba. Jy is soos saba Chaim."

    Dit ontroer Marc so dat hy vinnig moet weg kyk. Hy neem Yhoshi se handjie styf in syne. Yhoshi, ek het Natan nie liewer as vir jou nie. Ek het julle ewe lief. Jy is my eersgeborene.

    Natani gaan eendag skilder, soos jy.

    En jy gaan ’n professor word.

    Nee, ek gaan ’n vlieënier word, ’n vegvlieënier.

    Dit kan jy doen solank jy in die IDF is, maar daarna word jy ’n professor. Dit weet ek vir seker.

    "Abba."

    Hmm?

    Ek het jou ook lief.

    Marc buk af en soen hom op sy voorkop. Dit maak dat Yhosh se kippah afval. Hy tel dit dadelik op en sit dit weer netjies op sy kop.

    Kyk! roep hy toe.

    Oor die plein kom Rivkah aangestap. Voor haar uit huppel Natan met Shmu’el op sy hakke. Hy werp hom met oorgawe in Marc se arms.

    En toe? vra Rivkah toe sy voor hulle staan, haar oë blou soos die somerlug bo hulle. Het julle al Israel se probleme opgelos?

    Álmal. Hy sit Natan op die grond neer en neem albei seuntjies se hande. Kom ons stap af Kotel toe, ons het baie om HaShem voor te bedank.

    "En te vra dat jy veilig van milu’im terugkom."

    Maar Natan trek ongeduldig aan Marc se hand. "Abba, ons het nog nie Kiddush gedoen nie."

    "’n Mens doen nie Kiddush op Shabbat-oggend nie! help sy broer hom onmiddellik reg. Ons het dit op Erev Shabbat by saba Chaim gedoen. Meshug …" Hy stop in die middel van die woord toe hy sy pa se gesig sien.

    Yhoshi is reg, Natani.

    Maar ek wil dit weer doen. Hier.

    Ons het nie eens wyn en brood nie! lig Yhosh hom verontwaardig in.

    Marc kyk hulpsoekend na Rivkah.

    Sy glimlag toegewend. "Kom ons lees dit maar saam, dit kan net goed wees vir die Shabbat. Ons het mos nie shul toe gegaan nie."

    Sy trek die siddur uit haar skouersak en gee dit vir Marc aan. Hulle maak ’n kringetjie onder die boom, Rivkah met haar arms om die twee seuntjies. Marc lees die gebed. Hy luister ontroer hoe Yhoshi byna foutloos die Hebreeus van die lang gebed sag saam met hom sê.

    "Vay’hee erev va’yhee boker yom hashishi …"

    "Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag. Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was Elohim reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

    "Geseënd is U, Adonai Eloheinu, Koning van die heelal, Skepper van die vrug van die wynstok.

    Geseënd is U, Adonai Eloheinu, Koning van die heelal, wat ons liefgekry en ons deur sy verordeninge afgesonder het. In sy liefde en genade het Hy aan ons die heilige Shabbat as deel van ons erfenis gegee, om ons aan die Skepping te herinner. Die Shabbat is die heiligste van al die dae van heilige samekoms wanneer die uittog uit Egipte herdenk word. Voorwaar, U het ons uitverkies, U het ons afgesonder uit al die volkere, en in liefde en genade het U ons u heilige Shabbat as erfenis gegee. Geseënd is U, Adonai, wat die Shabbat geheilig het.

    Dis só mooi,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1