Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Israel-reeks 4: Tiferet Yisra'el: Die roem van Israel
Israel-reeks 4: Tiferet Yisra'el: Die roem van Israel
Israel-reeks 4: Tiferet Yisra'el: Die roem van Israel
Ebook469 pages6 hours

Israel-reeks 4: Tiferet Yisra'el: Die roem van Israel

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die bekende hoofkarakters uit die vorige boeke in Marzanne Leroux-Van der Boon se gewilde Israel-reeks word weer in hul geliefde land blootgestel aan die geweld van stedelike terreur en die vyandigheid van die omringende nie-Joodse lande. Marc word weer opgeroep, hierdie keer vir militêre diens in Gasa. Skadu’s van Suid-Afrika se eie gewelddadige samelewing val ook oor Marc wanneer sy ma ’n slagoffer van Suid-Afrika se misdaadprobleem word. Wanneer hy terug in Stellenbosch is, sien hy weer sy jeugliefde, Nicola. Boonop maak Henok Kambungu ’n verrassende ontdekking wat hom in konflik bring met sy blanke vrou, Sarah. Skokkende herinnerings van ou Zvi, ’n Holocaust-oorlewende, laat die leser algaande besef waarom die Israeli’s so verbete vasklou aan hul beloofde land.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateDec 4, 2013
ISBN9780796316363
Israel-reeks 4: Tiferet Yisra'el: Die roem van Israel
Author

Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon is 'n bekende en bekroonde skrywer wat in Vredehoek, Kaapstad, woon. Sy is veral bekend vir haar liefdesromans – wat allerhande etiese en aktuele kwessies aansny – en het ook 'n passie vir Israel, wat die afgelope paar jaar uitgeloop het op tien gewilde romans wat in daardie land afspeel.

Read more from Marzanne Leroux Van Der Boon

Related to Israel-reeks 4

Related ebooks

Related articles

Reviews for Israel-reeks 4

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Israel-reeks 4 - Marzanne Leroux-Van der Boon

    Een

    Jerusalem

    Dinsdagaand 29 Januarie 2008

    Eers is dit nie vir Marc duidelik wat dit is wat hom laat wakker word het nie. Maar toe begryp hy dis die lug wat deur die oop venster langs die bed binnekom. Dit het skielik verskriklik koud geword. Eers toe hy opstaan om die venster toe te maak, sien hy dit sneeu.

    Hy staan vir ’n oomblik en kyk verwonderd. Dit moet reeds ’n geruime tyd gesneeu het, want in die lig van die lampe om die plein onder hom lê dit al ’n sentimeter of wat diep. Soos ’n prentjie in ’n sprokiesboek staan die yl winter-iepe afgeteken teen die vallende wit sneeuvlae.

    Toe eers onthou hy dat daar die vorige aand al tonele van sneeu uit die noordelike en ver suidelike dele van die land op die televisienuus te siene was. Asook voorspellings dat daar nog meer te wagte was oor die res van Israel.

    Hy gaan terug bed toe en skakel die nagliggie aan. Rivkah, roep hy saggies sodat die kinders in die kamer langsaan nie wakker word nie.

    Sy is onmiddellik wakker. Hmm?

    Dit sneeu.

    Sy lig haarself op haar elmboog, vee die string donker krulhare uit haar gesig. Is jy seker?

    Hy lag en raak met sy koue hand aan haar wang.

    Sy ril. Nee, man!

    Marc kruip terug in die bed en lê koulik teen haar slaapwarm lyf aan. Dit moet lankal begin val het. Daar lê al ’n laag onder op die plein.

    Sy maak haar uit sy arms los, klim vinnig uit die bed en gaan staan voor die venster. Dis so-o-o mooi! Sy draai na hom toe. Haar donkerblou oë is skielik helder asof sy nie oomblikke tevore nog vas geslaap het nie. Kom ons gaan gou vinnig af plein toe! Ek was lanklaas in die sneeu!

    Marc kyk ’n bietjie onseker na haar. Die kinders …?

    Sy skud haar kop, pluk haar dik sweetpak sonder seremonie uit die muurkas en begin dit oor haar slaapklere aantrek. Hulle sal nie nou wakker word nie, man. Kom! Net vyf minute dan’s ons terug, fluister sy.

    Haar geesdrif is aansteeklik en binne oomblikke is hy ook in sy warm sweetpak en besig om sy sneeustewels en jekker aan te trek. Hulle gaan muisstil by die kinderkamer in, trek die venster toe en vou die beddegoed warm om die kleintjies in. Marc beduie vir die opgewonde wolhaarhondjie om tjoepstil te wees as hy dié avontuur wil meemaak. Toe glip hulle steels by die voordeur uit en sluit dit agter hulle.

    In albei se gedagtes lê die herinnering van meer as ’n jaar tevore nog skrikwekkend helder. Rivkah het toe ook gedurende die dag uitgeglip na die groentewinkel onder op die plein terwyl sy gedink het Yhoshi slaap in sy kamer. Toe sy kort daarna terugkom, was die voordeur oop en het hy, vyftien maande oud, verdwyn. Die voordeur se knip het toe nie goed gewerk nie en hy het wakker geword, uit sy kinderbedjie geklim en die pad gevat. Hy is gelukkig ure later veilig teruggevind, maar daardie doodsbenoude tyd is beslis nie iets wat hulle sal vergeet nie.

    Onder op die plein is dit yskoud. Marc slaan sy arm om haar en hulle hardloop om die hoek totdat hulle weer onder die venster van hul eie woonstel is en die kinders sou kon hoor indien hulle wakker word. Ten spyte van die stilswye wat hom opgelê is, blaf Shmu’el opgewonde en hardloop voor hulle uit, glyend in die nat sneeu.

    Die wind waai vlaag op vlaag sneeu teen hulle aan. Toe hulle uitasem gaan staan, kyk Marc af na Rivkah. Stringe hare val onder haar wolmus uit en waai oor haar gesig, gloeiend van die koue. Hy trek haar styf teen hom aan.

    Rivkah …

    Sy druk haar hande onder sy jekker in en vou haar arms bibberend om sy lyf.

    Hmm?

    Weet jy waaraan dink ek?

    Sy knik so effens dat hy dit skaars merk.

    Hy sluk aan die emosie wat sy keel toedruk. Die nag toe jou lewe aan daardie garedraadjie gehang het, het dit ook gesneeu …

    Ek weet, fluister sy. Ek weet ook hoe dit was in die dae toe ek nie geweet het wat van jou in Libanon geword het nie, verlede jaar met die oorlog.

    Hulle is ’n paar oomblikke stil.

    Ek het jou lief, Rivki …

    Ná vyf jaar getroude lewe steeds? vra sy speels, om die emosie van haar eie herinnering te smoor.

    Hy trek haar wolmus verder oor haar oë en soen haar. Jy word eenvoudig mooier.

    Sy woel haar gesig in die warmte van sy pelskraag: Ma van twee?

    Ma van twee, knik hy, sy mond teen haar voorkop.

    ’n Rukkie bly hulle so staan terwyl die sneeu in vlae oor hulle sif.

    Hy vryf met sy ken oor haar mus. Adonai is goed vir ons.

    Toe vra sy: Is dit vir jou moeilik dat ons nie meer kinders kan hê nie?

    Hy wieg haar ligweg in sy arms. Nee. Ek weet dat dit in HaShem se hand is. Dat jy by my is, is genoeg vir my.

    Sy maak haar een hand los en vee die sneeu wat teen sy gesig geval het met die punte van haar vingers weg. Ons moet meer tyd maak om alleen met mekaar te wees, Marc. Die kinders hoef nie alles wat ons het in beslag te neem nie.

    Ek weet …

    In die boom bokant hulle word die sneeu op ’n tak te swaar en die hele yskoue vrag stort oor hulle. Gillend van skrik en plesier hardloop hulle terug huis toe: Marc met Shmu’el onder een arm. Daar slaap die kinders nog onverstoord.

    Die volgende twee dae sneeu dit by tye steeds hewig. Busdienste ná en van Jerusalem word tydelik gestaak. Stede in die noorde van Israel, die Golanhoogland en Safed, sowel as Arad in die suide loop kwaai deur. Teen Woensdag lê die hele Jerusalem onder ’n digte sneeukombers. Skole, howe en die meeste sakeondernemings sluit. Die plaaslike regering doen ’n beroep op mense om sover moontlik met hul motors van die pad af te bly. By tye is daar stormsterk winde, donderweer, swaar buie, ysreën en sneeu.

    Ook aan die universiteit is daar geen klasse nie. Op die dae wanneer die weer dit toelaat, gaan stap Marc en Rivkah met die kinders in Onafhanklikheidspark waar daar slee gery en sneeumanne gebou word. Yhoshi is buite homself van opgewondenheid. Maar vir klein Natan, nog geen jaar nie, is dit alles bietjie skrikaanjaend. Wanneer Marc dit raaksien en hom uit sy karretjie optel, klem die kleintjie se handskoenvingertjies styf om sy pappa se jaskraag.

    Een middag kom Rivkah se ouers, Chaim en Hadassah, midde-in ’n sneeustorm by hulle kuier. Terwyl rabbi Chaim koulik sy hande voor die gesellige kaggel vryf, sê hy: In die boek Iyov lees ons: ‘Hy beveel die sneeu om op die aarde te val; die reëns val, stortreëns wat getuig van sy krag. Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom sodat alle mense sy werk kan leer ken.’ Hy grinnik: Israel het van toe af nog nie verander nie. Die psalmis het duidelik ook hier oorwinter, want in Tehillim 148 skryf hy hoe die weerlig en hael, die sneeu, die miswolke en die stormwind vir HaShem gehoorsaam.

    Toe die sonnetjie teen Donderdagmiddag skigtig sy verskyning maak, neem Marc sy skildertas en verdwyn plein toe. Sy twee vriende Moshe en Dov, wat uit hul winkel gekom het om in die skraal son te staan, wuif vrolik vir hom.

    "Shalom, shalom!" kom hul stemme op die ysige lug na hom toe aan.

    "Shalom rav!" roep hy uitgelate terug.

    Op een van die nat bankies kry hy sy sit en binne oomblikke vlieg die houtskool oor die wit bladsye. In die yl takkies van die plein se bome, swart van dae se reën, hang nog laaste flarde sneeu. Bokant dryf haelwit wolke aan die hemel. Die lig vang net-net die vensters van Moshe Kempinski se winkel, Shorashim, en flits ’n paar oomblikke verblindend in die glas. Van oral kom kinders te voorskyn, dikgewol in jasse en musse en serpe, spatsels kleur teen die witgesneeude plein.

    Marc haal haastig sy pastelle te voorskyn en die kleure kras skel in die houtskooltekeninge.

    Hy kyk vol verwagting op toe hy vaagweg vioolklanke van die kant van die Tiferet Yisra’el-steeg af hoor. En, ja, daar kom die ou Chassid aan, al spelend op sy viool. Sy dun grys baard en oorkrulle wip ligweg om sy gesig. Hy beweeg met langsame danspassies asof hy sy ledemate in die koue met groot moeite in beweging gekry het. Toe Moshe en Dov waarderend begin hande klap, buig die ou stram in hul rigting, maar dans dan stadig voort asof hy nie heeltemal bewus is van sy omgewing nie.

    Marc skets die ou man met passie terwyl hy sonder dat hy dit agterkom saam met die rukkerige klank van die ou viool neurie. Lank nadat die maer gryse in sy verweerde manel en met sy mankolieke viool al agter die bouwerk van die Hurvah-sinagoge verdwyn het, werk Marc nog aan die skets en bly hy saggies sing.

    Eers toe hy sy seuntjie skril oor die plein "Abba!" hoor roep, kyk hy op. Rivkah kom met die kinders aangestap. Sy het Natan op die arm en Yhoshi hardloop voor haar uit met Shmu’el op sy hakke. Marc se gesig verhelder. Nou nog as hy sy vrou onverwags sien, jeuk sy vingers om haar te teken: die tenger figuurtjie, die wilde krulhare wat met ’n doek so blou soos die besonderse kleur van haar oë agtertoe gebind is. Sy dra ’n nousluitende donkerbruin jas en stewels. Hy skud sy kop effens. Wanneer ’n mens so na haar kyk, sal jy geen spoor merk van haar vuur en wilskrag nie. Sy lyk so mooi en sag dat hy die drang om haar sonder meer in sy arms te neem met moeite weerstaan. Hy sit vinnig sy tekenapparaat opsy om die aanstormende Yhoshi in sy arms te vang.

    Teen Vrydag klaar die weer verder op, maar dis nog bitter koud en donker reënwolke hang bokant Jerusalem. Die twee kleintjies is albei verkouerig en dit is te koud om met hulle uit te gaan. Dus stap Marc teen sononder, kort voor die begin van die Shabbat, alleen af na die Klaagmuur. In die Tiferet Yisra’el-steeg is alles al opgepak en gesluit, en die salige rus en stilte van Shabbat begin langsamerhand oor die stad daal. Op die plein staan die bome strak en kaal teen donker wolke. In die laaste lig van die dag begin die Jerusalemstene van die geboue rondom rosig verkleur. Die Ortodokse figure wat oor die plein haas, is vlietende swart skadu’s.

    Wanneer hy met die trap na die Kotel afloop, kleur die oeroue muur ook bruinerig goud. Yeshiva-studente – swart-en-wit pikkewyne – hardloop ligvoets met die trap af by hom verby, hul breërandhoede dobberend in die vaart. Onder op die plein voor die muur meng ou rabbi’s en huppelende seuntjies met duiwe wat op die stene na broodkrummels pik, en katte wat soos skadu’s oor die plein glip. Aan die vroue se kant van die Klaagmuur is daar net ’n handjie vol wat in diepe gebed die koue middag trotseer.

    Marc druk sy kippah vaster op sy donker hare en beweeg behendig tussen die menigte mans deur totdat hy voor teen die muur ’n plekkie vind. Die stene is koud onder sy vingers. In ’n klipgroef bokant hom skuil twee duiwe teen mekaar aangekruip teen die bytende wind. Hy leun sy voorkop teen die muur en algaande word hy omhul deur die geruis van baie gebede. Hy raak so diep bewus van die teenwoordigheid van die Heilige van Israel by hom dat hy sug en spontaan begin bid: "Baruch Atah Adonai, Eloheinu Melech ha’olam … Geseënd is U, o Adonai ons Elohim, Koning van die heelal, U wat ons deur u Woord geheilig het en ons Yeshua, die Messias, gegee en ons beveel het om ’n lig vir die wêreld te wees. U het vir ons verlossing bewerkstellig in u geliefde Seun, Yeshua, ons Messias."

    Voordat hy omdraai om weg te gaan, prewel hy nog een maal: "Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu, Adonai Echad … Hoor, o Israel, die Here ons God is die enigste Here."

    19 Februarie 2008

    "Saba!" roep die seuntjie onmiddellik toe die voordeur ná ’n ligte kloppie oopgaan. Hy los die Legoboustel waarmee hy op die grond besig was en hardloop na sy oupa toe.

    Die rabbi skud die reëndruppels van sy swart hoed af en hang dit aan die kapstok by die deur. Toe vang hy die kind in sy arms en swaai hom deur die lug voordat hy hom soen.

    Met die rondswaai het Yhoshi se kippah op die grond geval. Toe sy oupa hom neersit, gryp hy dit haastig en druk dit weer op sy lang donker krulhare terug.

    "Waar’s Savta? vra Yhoshi toe hy sy asem terugkry. Chaim trek sy lang swart jas uit en hang dit weg. Jou ouma kom nou-nou, seun, sê hy. Hy kyk na sy dogter wat die ontmoeting glimlaggend staan en dophou, en verduidelik: Jou ma is nog eers die shuks in om iets wat sy glo nêrens anders kan kry nie vir Natan te koop."

    Rivkah knik. Natuurlik.

    Yhoshi trek dringend aan sy oupa se mou. "Saba! Dis Natan se verjaardag vandag!"

    Die rabbi tik Yhoshi op sy kippah. Dit weet ek, Yehoshua. Jou broer is een jaar oud.

    En ek is amper soveel. Hy hou drie vingertjies op.

    Chaim vat die handjie in syne, buk af en soen die taai vingertjies. "Dit weet ek ook. Gee my net kans om jou imma te groet, dan praat ek weer met jou."

    Yhoshi tel sy ietwat verweerde bruin beertjie op. Dan soen hy die speelding en swaai dié deur die lug presies soos wat sy oupa met hom gedoen het. Die twee volwassenes moet lag.

    Waar’s ons verjaardagkind dan? vra Chaim nadat hy sy dogter gegroet het.

    Middagslapie, sê Rivkah. Hy sal binnekort van hom laat hoor.

    Sy verkoue beter?

    Soort van.

    Marc is seker nog by die universiteit?

    Rivkah knik. Hy behoort ook enige tyd te kom. Sy ril. Dis verskriklik koud, nè?

    Haar pa knik. Hulle het nou net oor die nuus gesê dit sneeu weer kwaai oor die noordelike Golan. Galilea is ook onder ’n dik laag. Dit gaan hier ook sneeu …

    "Wat het Saba vir my saamgebring? onderbreek Yhoshi hulle. Hy het weer, beertjie onder die arm, by Chaim kom staan. Yhosh!" keer sy ma.

    Chaim lag. Moet jy dan iets kry?

    Die kleintjie knik met nadruk.

    Eers moet jy sê wat jou broer se regte naam is.

    Nathan’el! roep hy ongeduldig.

    En dit beteken?

    Hy’s ’n present van HaShem, beteken dit.

    Sy oupa neem albei die kind se handjies in syne om hom te laat bedaar. "Luister, Yehoshua, jy’s reg, ‘nathan’ beteken geskenk, maar wat beteken ‘el’?"

    "El is HaShem se naam, Saba."

    En jóú naam?

    Ek het Yeshua se selfde naam.

    Dis reg, liefling. Jy moet dit nooit vergeet nie.

    Yhoshi knik heftig. "Wat het Saba vir my gebring?"

    Chaim glimlag. Kom ons kyk wat het ek voor die deur laat staan.

    Yhoshi gryp sy hand en rem hom in die rigting van die voordeur. Oomblikke later hoor Rivkah die kind se opgewonde kreet. Die twee kom terug met ’n helderkleurige vlieër wat Chaim dra. Yhoshi trippel opgewonde om hom.

    "Kan ons hom nou laat vlieg, Saba?"

    Daar’s ongelukkig nie nou wind nie, Yhoshi. Ons moet wag vir wind, dan gaan ons dit hier onder op die plein laat vlieg. Maar ek dink dit gaan nou eers sneeu.

    Wéér? vra die kind teleurgesteld. Hy stryk met eerbiedige vingertjies oor die vlieër se gloeiende blou en wit kleure, dié van Israel se vlag.

    Ja, jong, ek ruik dit in die lug, sê sy oupa. Binne ’n uur sneeu dit.

    Dis koud genoeg. Rivkah bring die varsgemaakte koffie na haar pa wat sy hande koulik om die warm koppie vou.

    Kan ons hom nou laat vlieg? vra Yhoshi ’n paar minute later, terwyl hy steeds liefkosend oor die sagte sy van die vlieër streel.

    Nog nie, lief. Maar as die weer beter word en die wind goed waai, gaan ons hom hoog laat vlieg, Yehoshua, dit belowe ek jou.

    Kan hy tot by HaShem vlieg? vra die kind grootoog en bring twee vingertjies teen sy lippe.

    Tot voor sy aangesig, geseënd is Hy. Chaim gaan sit, tel die seuntjie op sy skoot en druk sy krulkoppie teen hom vas. Kom ek vertel jou wat het my daaraan laat dink om vandag vir jou ’n vlieër te koop.

    Yhoshi vly sy kop ingenome teen die ouer man aan. Is dit ’n storie? vra hy.

    Dis ’n wáár storie. Onthou jy dat ek jou vertel het van daardie mense in die ander land wat so baie van ons Joodse mense doodgemaak het?

    Die mense met die swart kruishaak?

    ’n Droewige laggie raak aan die rabbi se mond. Hakekruis. Dis reg. In die tyd van daardie mense, het daar in die groot stad Warskou ’n man gewoon wat ook vir vlieërs lief was, en vir kinders. Sy naam was Janusz Korczak.

    Was hy ’n goeie man? vra die kind angstig.

    Chaim stryk gerusstellend oor sy kleinseun se neusie. Ja, hy was ’n baie goeie man, Yhosh. Hy was ’n kinderdokter en hy het boeke vir kinders geskryf, en in Warskou het hy ’n huis spesiaal vir weeskindertjies gebou …

    Dis kindertjies wat nie mammas en pappas het nie, val Yhoshi hom in die rede.

    Chaim kyk verbaas in die groot donkerblou oë. Hoe weet jy dit?

    "Abba sê so."

    Chaim frons vraend en kyk na Rivkah wat net haar kop skud.

    "Wat het die haakkruis-mense met Janusz gedoen, Saba?"

    Die rabbi sug. Hulle het op ’n dag na hom toe gekom en gesê hy moet vir hulle wys watter kindertjies in die weeshuis Joodse kinders is …

    "Hoekom wou hulle dit geweet het, Saba?"

    Chaim en Rivkah kyk na mekaar en sy trek haar skouers op, skud haar kop.

    Hulle wou die kindertjies wegneem …

    Om hulle dood te maak?

    Chaim kan nie wegkyk voor die kind se oë nie. Dis reg, sê hy sag.

    Wat het Janusz toe gedoen?

    Hy kon niks teen daardie slegte mense doen nie. Maar toe hulle vir hom sê hý hoef nie saam met die kinders weg te gaan nie, hy kan vry kom, het hy nee gesê, hy gaan saam met hulle sodat hulle nie bang sal wees nie.

    "Daardie slegte kruishaak-mense het mos die Jode geslaan en gevloek, nè, Saba? Het hulle dit met die kindertjies ook gedoen?"

    Chaim vryf sy kleinseun se skouertjies. Hulle het, Yhoshi. Maar omdat Janusz saam met die kindertjies gegaan het, was hulle nie bang nie en hulle het stil saam met hom na die plek geloop waar hulle op die trein moes klim.

    Het Janusz teruggekom?

    Nee, Yhoshi, hy het nie.

    En die kindertjies?

    Hulle ook nie.

    Die haakkruise het hulle almal doodgemaak.

    Dis reg, my lief.

    Yhoshi sê niks, maar hy druk sy beertjie styf vas.

    "Maar, Abba, vertel nou vir hom hoekom die vlieër jou aan Janusz se storie laat dink het," sê Rivkah na ’n rukkie sag.

    O ja, natuurlik. Yhosh, ek het jou van Janusz vertel omdat hy die man was wat altyd gesê het daar’s min dinge wat vir ’n kind, en vir grootmense, so mooi is soos om ’n vlieër te laat vlieg. Toe ek vandag langs die pad ’n man sien wat in Jaffastraat vlieërs verkoop, het ek weer aan Janusz gedink, en toe koop ek vir jou die mooiste een.

    "Todah rabah, Saba. Het Janusz met sy weeskinders vlieërs laat vlieg?" vra Yhoshi.

    Die rabbi soen een klein handjie. Ek is seker hy het, my skat.

    Dit sneeu weer, sê Rivkah wat deur die venster staan en uitkyk – bly vir iets om te sê wat die somber atmosfeer kan verbreek.

    Wil jy op die plein na die sneeu gaan kyk, Yhoshi? vra sy oupa.

    Hy knik dadelik.

    "Neem jy hom dan, Abba, ek bly hier by Natan. Imma en Marc sal ook nou-nou kom. Yhosh, wend sy haar tot haar oudste, gaan haal jou sneeujekker en jou stewels in jou kamer."

    Toe hy uit is, sê sy gedemp vir haar pa: Ek verstom my oor die kind se vermoë om al die dinge wat ons met en voor hom praat in te neem en te onthou. Ek meen … ’n mens kan byna nie glo wat hy alles onthou van die Tora en die dinge wat Marc hom so speels leer nie!

    Rivkah, die rabbi stryk oor sy baard. Jy het blykbaar nog nie die verduideliking daarvan gehoor nie. Die storie van babas en die Tora?

    Bábas en die Tora?

    Hy glimlag. Ja! Die tradisie vertel dit so: Voor ’n kind se geboorte word hy met kennis van die volle Tora gevoed. Maar by die geboorte lê ’n engel sy vinger hier op die bolippie waar die duikie is. Hy druk met sy vinger op sy eie lip. En hulle vergeet dit. Dan is dit die plig van die ouers – veral van die pa – om, soos in D’varim geskryf staan, die Tora dag na dag vir hulle te leer. So word daar dan lagie vir lagie van die vergeet afgeskil totdat die volheid van wat hulle voor geboorte al geleer het, uiteindelik weer vir hulle oopgemaak word.

    Wonderlik, fluister sy en buk oor en soen haar pa op sy kippah, ek sal onthou.

    En, Rivkah, sê hy en vang haar hand in syne toe sy wil wegdraai, julle het ’n ver bo die gemiddelde intelligente seuntjie. Wees versigtig waarmee julle hom voed en vir wat hy uit jul Tora-getrouheid, of gebrek daaraan, leer.

    Toe is Yhoshi terug met sy jassie en steweltjies, en sy ma trek dit vir hom aan terwyl Chaim opstaan en weer sy jas neem en sy hoed opsit.

    Buite sif nat sneeu in dun vlae oor die plein. Toe die eerste vlokkies sag teen hul gesigte val, ril die kleintjie sigbaar. Hy hou sy handjie uit en kyk verwonderd hoe die donsige wit vlokkies op sy handskoen smelt.

    "Saba?" vra hy so sag dat Chaim hom byna nie hoor nie.

    Hy hurk by die figuurtjie in die rooi sneeupakkie. Ja, Yhoshi?

    Sal daardie haakkruise ook Yerushalayim toe kom?

    Chaim trek die kind styf teen hom aan, druk sy koppie teen sy bors. ’n Oomblik knyp hy sy oë toe en byt op sy onderlip. Maar toe sê hy rustig: "Nee, liefsteling, nooit nie. Jy moenie bang wees nie. HaShem het Eretz Ysra’el vir ons gegee."

    Twee

    Jerusalem

    Donderdag 6 Maart 2008

    Vir vroeg Maart is die aand onverwags soel. Ná weke van reën en koue besluit Marc en Rivkah om met die kinders stad toe te gaan en iewers te gaan eet. Yhoshi, wat nie die dubbele stootkarretjie met sy boetie wou deel nie, hardloop voor hulle uit deur die Jaffa-poort en al met die paadjie langs na Jaffastraat. Dis eers toe hulle by die Ben Yehudastraat kom dat hy moeg word en Marc hom op sy nek tel sodat hy bo-oor die mense heen kan sien.

    Hierdie Donderdagaand is die laaste dag van die vorige maand. Omdat Shabbat op Vrydagaand met sononder begin, word Rosh hodesh, die viering van die nuwe maand, vanaand, ’n aand vroeër as gewoonlik, gevier. Oral is feestelike byeenkomste, want dié maand is die begin van Purim – die herdenking van die tyd toe koningin Ester se dapper optrede die Jode in die Persiese Ryk van gewisse uitwissing deur die bose Haman gered het. Vir dié vrolike viering trek mense allerhande kostuums aan en bak mekaar poetse. In Ben Yehudastraat heers ’n ontspanne, vrolike atmosfeer onder die skare mense wat die geur van die naderende voorjaar in die lug opgetel en die straat ingevaar het om die begin van die Hebreeuse maand Adar te vier. Oral is mense in die raarste kostuums te siene.

    By hul geliefkoosde Café Rimon haal Marc-hulle nog net-net die laaste leë tafeltjie voordat daar ’n ry wagtendes buite begin vorm. Ná die ete stap hulle met die kinders na die roomysstalletjie aan die bopunt van die straat en koop vir albei ’n horinkie. Hulle moet eers op een van die talle bankies langs die straat gaan sit sodat Rivkah kan keer dat Natan homself en die stootwaentjie só bemors dat hulle dadelik sal moet huis toe gaan.

    Toe die baba byna dadelik daarná in die stootwaentjie aan die slaap raak, begin hulle drie stadigaan terugstap in die rigting van die Ou Stad. Dis skuins voor nege en al het hy die middag geslaap, is dit duidelik dat Yhoshi, wat steeds weier om in die waentjie te klim, baie moeg begin word.

    Met so baie mense op straat sal die winkels seker tot middernag oopbly? vra Marc vir Danny, ’n ou vriend, by wie se toeristewinkeltjie in Ben Yehudastraat hulle ’n rukkie vertoef om ’n paar woorde te wissel.

    Ek reken so, sê Danny sydelings terwyl hy besig is om met ’n toeris ’n prys vir ’n kosbare tallit te beding. Marc blaai ingedagte deur die pragtige talliyot wat daar hang, terwyl Rivkah en Yhoshi hulle verlustig in al die ander mooi dinge in Danny se unieke winkeltjie.

    Dan lui Danny en Marc se selfone byna gelyktydig.

    Wat? vra Rivkah onmiddellik toe sy die verandering in Marc se stemtoon hoor.

    Hy druk die selfoon in sy sak en tel Yhoshi vinnig op. "Kom! Dit was Abba. Daar was ’n skietery by ’n yeshiva hier in die stad. Ernstig. Baie gewond. Party waarskynlik dood. Een terroris is doodgeskiet, maar daar is ’n moontlikheid dat ’n tweede op pad middestad toe is."

    Rivkah sê niks. Sy vou vinnig ’n kombersie oor Natan en kom blitsig met die stootwaentjie agter Marc en Yhoshi aan. Waar? vra sy toe sy langs hom kom.

    "Hy reken dis ’n yeshiva in Mea Shearim."

    Avinu, fluister sy geskok, "in ’n yeshiva …?"

    Sy probeer nog vinniger loop. Mea Shearim is nie baie ver van waar hulle hul bevind nie.

    Sit Yhosh in die waentjie! Dan kan ons vinniger beweeg! roep sy uitasem.

    Maar toe Marc dit probeer, klou die kind so angstig aan hom vas dat hy die poging laat vaar en met hom in sy arms begin hardloop. Terselfdertyd luister hy instinktief of hy iewers in ’n huis of gebou ’n dringende nuusberig hoor. Ná ’n paar jaar in Israel weet hy dat die Israeli’s byna altyd iewers in hul omgewing ’n radio of TV aan het. Dis ’n wesenlike deel van die lewe in Israel. Party radiostasies raak stil tussen middernag en vyfuur soggens, maar hulle bly nogtans heeltyd op die lug al is daar geen uitsending nie. As daar probleme is, kom die radio’s onmiddellik hard en duidelik aan. Israeli’s bly voortdurend in kontak met mekaar en met die werklikhede van hul omgewing. Letterlik almal in Israel het selfone en dit word nooit afgeskakel nie. Elke Israeli het ook ’n tipiese Joodse ouma of iemand anders wat ’n versorgende rol speel: Eet jou kos. Neem ’n jas, dit kan koud word. Pas op! Is jy oukei? Ja-nee, daag ’n wrang gedagte by Marc, Jode ís professionele kwellersen omgeërs, en dit is nodig in hierdie bedreigde landjie. Miskien het dié neiging om altyd besorg te wees oor die mense wat jy liefhet, ná eeue van vervolging … die kruisvaarders, die Inkwisisie, pogroms en die Holocaust … deel van Jood-wees geword. Vanaand is daar ook nêrens gillende sirenes nie; geen polisiemotor met ’n luidspreker wat aankondigings uitbasuin nie. Al wat uit ’n paar strate verder gehoor word, is die ambulanse se geloei.

    Chaim het seker van die skietery in die Jerusalem-yeshiva gehoor toe radio- en televisie-uitsendings vroeër vanaand onderbreek is om die skietery aan te kondig, dink Marc. Dis waarom Chaim, wat geweet het hulle is stad toe, hom onmiddellik gebel het. Almal weet as daar enige spesifieke plek is wat middestad-Jerusalem genoem kan word en waar honderde potensiële slagoffers byeen is, is dit Ben Yehudastraat – presies waar Marc se gesin hul op die oomblik bevind.

    Hoewel daar rondom Marc-hulle geen geluid van luiende selfone opklink of waarskuwings in Hebreeus heen en weer geskree word nie, verdwyn honderde mense oor die hele stad heen binne tien minute soos mis voor die son van die strate af. Rondom hom, Rivkah en die kinders spat mense haastig uiteen, asof hulle so afgerig is, waarskynlik na die naaste huis waar hulle by vriende kan skuil totdat hulle weet wat presies aangaan.

    Wanneer die Kriges hul woonplek haal, versorg hulle eers die kinders voordat hulle die televisie aanskakel. Die gebeure van die aand het Yhoshi duidelik geweldig ontstel. Marc moet by hom in sy bedjie in die kinderkamer gaan lê totdat die kind in sy arms aan die slaap raak. Eers wanneer hy seker is sy oudste slaap vas, kom Marc uit die kamer. Klein Natan het makliker gaan slaap, maar hy skrik ook na ’n rukkie wakker en van sy klaende gehuil kan hulle aflei dat die grootmense se angstigheid en die haastige terugkeer uit die middestad ook by hom nie ongemerk verbygegaan het nie.

    Dit word halfelf voordat Marc en Rivkah by die televisie uitkom.

    Maar toe het die telefoon al vir die soveelste keer gelui. Eers was dit Chaim en Hadassah, Rivkah se ouers, toe Re’uven, haar broer, en daarna Ofer, Marc se oom, wat almal wil seker maak dat hulle veilig tuis is.

    Die aanval was by Mercaz HaRav, sê Chaim toe hy later weer bel.

    "Opsetlik dáár? Dus het die aanvallers nie sommer net die eerste die beste yeshiva geteiken nie …?"

    "Dit lyk nie so nie. Almal weet mos dat Mercaz HaRav vir gelowige Sioniste die oudste en belangrikste yeshiva is. ’n Mens kan sê dis die setlaars s’n, maar daar’s studente van oor die hele land," verduidelik Marc se rabbi-skoonpa.

    Ook Mara, Marc se ma, bel uit Suid-Afrika, hoogs ontsteld omdat hulle pas op DStv ’n berig oor die terroristeaanval gehoor het.

    "Wat is ’n yeshiva nou weer, Marc?" wil sy weet toe sy gerusgestel is dat hulle in geen onmiddellike gevaar verkeer nie.

    Mense in Suid-Afrika sal dit ’n soort kweekskool noem, Mamma. Maar hier is dit meestal opleidingsplekke vir hoërskoolseuns wat hoofsaaklik op Tora-studie fokus.

    O ja, nou onthou ek. Maar daar is mos nie net jong seuns nie?

    "Dis reg. Party mans bestudeer die Tora vir die res van hul lewe in ’n yeshiva."

    "Maar oor Sky-nuus hoor ek hulle noem dit ’n settlers-yeshiva, sê Hannes, Marc se stiefpa, wat op dieselfde telefoonlyn tussenin saampraat. Wat bedoel hulle daarmee?"

    Dis waar die meeste van die gelowige setlaars – dié wat glo die Bybel sê HaShem het die land vir die Jode gegee – se seuns studeer.

    Ek sien. Jy reken dus die aanval was spesifiek op setlaars gemik?

    Ek dink so.

    Toe die telefoon uiteindelik tot bedaring kom, sit Marc en Rivkah voor die televisie en kyk hoe die afgryslike tonele wat in die yeshiva afgespeel het oor en oor vertoon word. Marc het Rivkah se hand in syne en haar vingers sluit krampagtig om syne.

    Dit word duidelik dat die terroris by die yeshiva ingebars en wild begin skiet het. ’n Student in een van die slaapsale het die skietery gehoor, sy persoonlike wapen gegryp, tot op die dak van ’n nabygeleë gebou gespring en toe die aanvaller al skietende uit die studiesaal kom, het dié student hom twee maal geskiet. Maar dit kon hom nie keer nie. David Shapira, ’n man wat daar naby woon en wat vroeër aan dié yeshiva studeer het en nou ’n offisier in die valskermtroepe is, het na die toneel gehardloop toe hy die skietery hoor. Dis hý wat die aanvaller doodgeskiet het. Marc weet dat ’n hoë persentasie van die land se bevolking voltyds in die Israeliese verdedigingsmag, die IDF, is of as reserviste optree. Soos hy self ook. Hulle beskik almal oor vuurwapens, hou dit gelaai en wanneer hulle van ’n skietery hoor, sal hulle ná die toneel toe haas, nie wég daarvan soos ’n mens se natuurlike instink is nie.

    "Het jy dan nie in een van jou skoolvakansies by dié yeshiva gewerk nie?" vra Marc vir Rivkah.

    Ja, in my voorlaaste jaar. Ek weet presies hoe dit daar lyk, dié dat dit my so ontstel. In daardie studiesaal van die biblioteek is daar letterlik vier en twintig uur van die dag talle studente aan die werk.

    Marc knik. Ek weet in die IDF is ook baie offisiere wat daar studeer het.

    "Ja, daardie yeshiva se studente is van die mees patriotiese in Israel, voeg Rivkah by. Hulle word grootgemaak om die land én sy mense én vir HaShem te dien. Die meeste van Israel se geestelike leiers het by Mercaz HaRav geleer."

    Hulle is die setlaars wat in 2005 uit Gush Katif in Gasa ontruim is, sê hy nadenkend.

    Sy knik weer. "Ja, en dis ook van Mercaz HaRav af dat Avital Sharansky destyds haar wêreldwye veldtog geloods het

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1