Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Israel-reeks: Omnibus 1: Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah Land van hoop
Israel-reeks: Omnibus 1: Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah Land van hoop
Israel-reeks: Omnibus 1: Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah Land van hoop
Ebook867 pages27 hours

Israel-reeks: Omnibus 1: Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah Land van hoop

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Granate bloei in Jerusalem: Marc, 'n jong Suid-Afrikaanse kunstenaar, gaan na Jerusalem om sy Joodse ouma, Ruwth, te ontmoet en sy eie Joodse wortels na te speur. Hy vind so sterk aanklank by die Joodse geloof dat hy verstrengel raak in 'n geloofstryd. Te midde van geweld en selfmoord-bomaanvalle kry hy Rivkah, die dapper Jodin, lief. Terug in Suid-Afrika moet hy groot besluite neem: Sien hy kans om sy aan sy met geweld en onrus in Israel te leef - al is dit saam met Rivkah? Is daar vir hulle 'n toekoms saam? En wie is Yeshua? Hatikvah: Land van hoop: Rivkah hoor sy is swanger. Terwyl sy worstel oor die ongebore kind se opvoeding, kyk Marc deur kunstenaarsoë na kinders rondom hom. Maar 'n tragiese gebeurtenis bring onbeantwoorde vrae tussen Marc en Rivkah en lei tot huwelikspanning. Sal Rivkah hoop vir die toekoms vind?
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 17, 2019
ISBN9780796321985
Israel-reeks: Omnibus 1: Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah Land van hoop
Author

Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon is 'n bekende en bekroonde skrywer wat in Vredehoek, Kaapstad, woon. Sy is veral bekend vir haar liefdesromans – wat allerhande etiese en aktuele kwessies aansny – en het ook 'n passie vir Israel, wat die afgelope paar jaar uitgeloop het op tien gewilde romans wat in daardie land afspeel.

Read more from Marzanne Leroux Van Der Boon

Related to Israel-reeks

Titles in the series (1)

View More

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Israel-reeks

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Israel-reeks - Marzanne Leroux-Van der Boon

    Israel-reeks: Omnibus 1

    Granate bloei in Jerusalem

    Hatikvah: Land van hoop

    Marzanne Leroux-Van der Boon

    LUX VERBI

    Vir my man, my vriend, en Yeshua, my Here

    Granate bloei in Jerusalem

    Een

    Jerusalem

    Maart 2002

    Marc kyk verwonderd toe terwyl ’n goue waas langsaam oor die stad kruip. Teen die massiewe klippe van die Klaagmuur begin diep skadu’s opklim. Die graspolle wat uit die gleuwe groei, staan donker afgeteken. Uit die grond slaan die geur van die komende aand al op. Die son het weggeraak en die Omar-moskee se koepel gloei in die verdwynende lig.

    "Shabbat shalom!"

    Tussen die mense wat deur die ingange oor die klipplaveisel stroom, klink die groet voortdurend op. Sag soos die lig waarin die laatmiddag gebaai is. Ou mans, wit baard op die bors, in swart hoed en manel gaan langsaam verby. Sommige is druk in gesprek gewikkel, beduie met hul hande. Ander het ’n huppelende kind aan die hand. Seuntjies van alle groottes met kalotjies op die kop, baie met kortgeskeerde hare en lokke voor die ore, skarrel tussen die mense deur. Hul skril stemmetjies vul die goue lug. Mans in wit oopnekhemde, donker broeke en swart fluweelkalotjies op die kop, meesal met baarde en sylokke, stoot kinderwaentjies deur die vrolike geroesemoes. Die meeste vroue, soel lenteweer ten spyt, dra langmousomerrokke, swart kouse, en is byna almal met hoofbedekkings. Pa en Ma het kleuters aan die hand, terwyl kleintjies van alle groottes agterna drentel. Saam loop die gesinne tot waar mans en vroue skei om na hul onderskeie afdelings by die Muur te gaan. Pa’s en oupas neem die seuns met hulle saam, party so klein nog dat hulle skaars kan loop.

    Hier en daar gewaar Marc mans met swaar baarde, pelshoed op en met ’n gebedsjaal om die skouers, in goudkleurige jasse geklee. Maar die groot meerderheid het swart manelle by donker broeke en wit oopnekhemde aan, en ’n swart breërandhoed op die agterkop. Heelwat jong mans in strak, donker manel en broek, swart breërandhoede, sylokke swaaiend in die wind, haas hulle verby. Maar hy merk ook tussendeur mans in gewone drag met gekleurde kalotjies op. Meesal met blou- of swart-en-wit gebedsjaal oor die skouers. Met lang geknoopte klossies aan die some.

    ’n Lang, skraal man in gewatteerde manel en swart pelshoed kom met sy dogtertjie aan die hand aangestap. Die kind se donker krulhare vorm ’n skerp kontras met haar ligte vel. Sy het vreemde diepblou oë. Hulle vorm ’n wonderlike mooi kamee in die boaardse lig. Marc klik sy kamera vir die soveelste keer oop.

    No pictures! Please! Shabbat!

    Marc skrik. Hy het nie die jong vrouesoldaat sien aankom nie. Sy staan nou dreigend voor hom. Belaglik tenger in haar olyfgroen uniform met die koeëlvaste jekker, geweer oor die skouer.

    You’ve taken many. I have watched you. On Shabbat no pictures here. I’ll confiscate your camera.

    I’m sorry, sê hy verleë, I didn’t know.

    Sy begin wegdraai, maar gaan staan dan. You’re from South Africa? vra sy.

    Hy kyk haar verwonderd aan. How did you know?

    Sy wys na die sak by sy voete waarop ’n brawe Suid-Afrikaanse vlaggie afgedruk is.

    You knów this flag?

    I lived there for a time. Sy wys weer met ’n dreigende vinger na hom. No more pictures, yes? It’s very disrespectful.

    I’m sorry, sê hy weer.

    Sy glimlag effens. Okay.

    You lived in South Africa?

    Only for two years, between 1994 and 1996. My father was sent there … on business. I went to school there for that time.

    You liked it?

    Terrific land. Very violent in those years.

    More so now.

    I believe so. Sy stoot haar baret effens na agter. Sorry, I’m Rebecca.

    Hy knik. Marc.

    Hi! So, what are you doing in Israel at this terrible time?

    Hy glimlag verleë. I’m not sure. I just felt I wanted to come.

    Sy kyk hom ’n oomblik stip aan. I hope you know what you’re doing.

    Sure.

    Take care, then.

    Hy knik. I’m from South Africa, I know.

    This is a different situation. Quite different. Be sure you know where you go. Stay out of the shopping malls and off the buses.

    I’ll take care. I’ve been watching the media, so I have an idea what’s going on.

    Sy skud haar kop. Don’t depend on the media to supply you with the truth about Israel.

    No?

    No.

    Rivkah!

    Daar word van die ingang af geroep.

    I must go, I’m actually on duty. Take care, please!

    I promise.

    Sy loop weg en die Kalatsjnikof swaai teen haar tenger figuur. Lang, donker hare klots onder die baret uit in ’n vlegsel oor haar rug. Hy wonder waarom sy gesê het haar naam is Rebecca as hulle ’n ander naam van die hek af geskree het.

    By die Muur het die mense in groot getalle toegeneem. Swart soos miere teen ’n stroopblik vertoon hulle. Oral tussenin sien Marc goed wat soos wit vierkante lyk. Hy haak sy sak oor sy skouer en stap gefassineer na die afskorting wat die toeskouers en die aanbidders van mekaar skei. Daar staan al heelwat mense saamgekoek, maar hy wurm sy pad versigtig tussen hulle deur tot hy voor teen die traliewerk te staan kom. Wat soos wit vierkante gelyk het, is die blou-en-wit gestreepte gebedsjaals wat party mans soos tabernakels bo hul koppe hou. Ander het dit oor hul koppe gegooi sodat hul gesigte onsigbaar is; hier en daar steek net die punt van ’n baard uit. Party het dit oor hul skouers gedrapeer. Tussendeur dobber honderde koppe met kalotjies, meesal swart, maar ook wit-en-blou met patroontjies om die rand, of anderskleurig. Teen die muur wieg ander ligweg heen en weer in gebed versonke, swart gebedeboekies in die hand. Party se gesigte is teen die stene aangedruk. Hy sien twee mans met hul arms uitgestrek teen die massiewe klippe besig om te bid. Asof hulle gekruisig is. Aan die vrouekant is die meeste se hare met hoede of doeke bedek. Daar is ook vroue in weermaguniforms en sommige met babas in drasakke teen hul bors. ’n Geruis van stemme rimpel soos ’n sagte wind deur die skare.

    Die toneel ontroer Marc. Dit stuur ’n vreemde gewaarwording deur sy lyf. Vlak teen die afskorting voor hom trek iets sy aandag. ’n Ou man, wit baard en hare, gebedsjaal oor sy kop, buig oor ’n seuntjie wat na hom opkyk. Die kind kan nie ouer as vyf wees nie, sy oë is donker, swart haarlokke krul langs sy gesiggie. Hy kyk sy grootvader vraend aan, sê iets wat Marc nie kan uitmaak nie. Die ou man se gesig verkrummel, hy trek die seuntjie se kop met bewende hande teen hom aan. Marc sien hoe die trane oor sy verweerde gesig begin loop, terwyl hy die kind in sy arms wieg.

    ’n Skreiende verlange kom in Marc op, so hewig dat dit voel asof hy daarvan steier. Hy ken geen naam daarvoor nie. Hy weet van net één manier waarop daar vir hom verligting sal kom.

    Hy maak hom uit die mensegewoel los en gaan terug na waar hy vroeër agter op die muurtjie gesit het. Die goue lig het rosig geword. Marc haal sy sketsboek en houtskool uit sy sak. Hy huiwer nie, met seker hale teken hy die ou man en die seuntjie. Hy weet nie dat sy eie gesig nat is van die trane nie. Hy teken die figure teen die Muur. Die vele gesigte, baarde, neuse, kalotjies, gebedsjaals. Hy teken die versierde Tora-rolle, die wit-en-blou Ster van Dawid op die doeke oor die tafels. Skraal figure, bleek gesigte in swart manelle, sylokke, breërandhoede. Die lang man met manel en pelshoed, met die dogtertjie aan sy hand. Die kleure van die aandlug op die ruwe rotsblokke. Maar weer en weer die kind by sy grootvader, die ou man se huilende gesig, sy hande op die seuntjie se rug. Dit word so donker dat hy skaars kan sien wat hy doen, maar hy kom dit nie agter nie.

    You’re an artist!

    Hy kyk verskrik op. Die meisie Rebecca staan voor hom. Hy kyk haar spraakloos aan, nog vasgevang in die vreemde, dwingende verlange.

    Dis donker, sê sy op Engels, haar stem sag van verwondering toe sy op sy werk afkyk. Jy kan nie meer sien nie.

    Ja, sê hy en maak sy sketsboek met bewende vingers toe. Sy mond is droog.

    Mag ek kyk?

    Hy huiwer.

    Asseblief.

    Dit het inderdaad donker geword, ligte het oral aangegaan. Mense het by hom verbygeloop, terug, sonder dat hy dit besef het. Hy voel nou die sweet aan sy hemp en in sy hare, ten spyte van die koue lug wat uit die klippe opslaan. Hy kyk op na die meisie. Sy het baie donker oë en ’n sagte, vol mond.

    Hy hou die sketsboek na haar toe uit.

    Sy gaan sit langs hom op die muurtjie en begin versigtig deur die boek blaai. Hy kyk na haar dun vingers en die lig van die hoë lampe teen die kant van haar gesig. Hy voel moeg.

    Sy skud haar kop vir ’n lang ruk voor sy praat. Ongelooflik.

    Hy neem die boek weer by haar en sy laat dit onwillig gaan.

    Jy was aan diens, sê hy.

    Sy knik. Ek is klaar, dis al halfagt.

    Rebecca, sê hy ingedagte.

    Dis reg.

    Maar dit was ’n ander naam wat hulle van die hek af geroep het.

    Sy glimlag effens. Rivkah. Dis Hebreeus vir Rebecca.

    Rivkah, herhaal hy.

    Sy knik.

    Hy kyk op na haar soos een wat droom. Weet jy waar ek ’n bus kan kry na my hotel toe?

    Jy sal nie ’n bus kry nie. Busse hou op Shabbat smiddae vieruur op met ry.

    Ja?

    Ja. In watter hotel is jy?

    Hy soek in sy sakke na ’n kaartjie van die hotel en hou dit na haar toe uit. Sy kyk daarna. Dis nie ver van die Ou Stad af nie. Jy kan terugloop. As jy deur die Jaffa-poort gaan.

    Jaffa-poort?

    Sy moet lag. Wanneer het jy gekom?

    Vanoggend.

    Hoe’t jy hiér gekom?

    Hy dink ’n oomblik na. Die hotel se bussie het my by een van die stadspoorte afgelaai.

    Sy skud haar kop. Het jy al geëet vandag?

    Ek … Ja, vanoggend voor ek uit Tel Aviv weg is.

    Jy was in Tel Aviv?

    "Ja, ek het Woensdagaand aangekom en tot vanoggend by ’n kennis oorgebly. Vanmiddag met die sherut Jerusalem toe gekom."

    Sy knik begrypend. Miskien is dit goed as jy iets eet.

    Hy kyk na haar en vir die eerste keer glimlag hy, en dis asof hy uit sy droomtoestand terugkom. Miskien.

    "As jy wil, kan ek jou gaan wys waar die lekkerste shawarmas en falafels in die Arabiese buurt is."

    Arabiese buurt?

    Dis Shabbat, jy sal niks oop kry in die Joodse buurt nie, verduidelik sy geduldig.

    Sal jy saam met my eet?

    Hulle wag vir my met Shabbat by die huis.

    Is jy nie haastig nie?

    My broer is nog tot nege-uur aan diens, ek wag vir hom.

    Jy het gesê die busse ry nie.

    Ons loop. Sy kyk op haar horlosie. "Kom, ek gaan wys jou waar die shawarmas is."

    Hy sit sy sketsboek versigtig terug in sy sak. Ontferm jy jou altyd oor vreemdelinge?

    "Ek wil hoor van Suid-Afrika. Het jy al jou geld vir shekels omgeruil?"

    "Ek het bietjie gehad, maar ek het dit alles in Tel Aviv en vir die sherut gebruik."

    Wat het jy, reisigertjeks?

    Dollars.

    O, oukei. Ek sal jou sommer na ’n Arabier toe neem wat dit vir jou sal omruil. Hy’s veilig.

    Hulle begin teen die breë trap opklim wat na die Joodse buurt toe lei. Haar kop raak skaars aan sy skouer.

    Ek weet nie meer wat jou naam is nie, sê sy.

    Marc.

    Marc, herhaal sy, en sy naam klink vreemd in haar aksent.

    Wat het jy gesê gaan ek eet?

    Sy lag. "Shawarmas of falafels."

    "Wat’s ’n falafel?"

    Jy sal sien.

    Hulle sit later op ’n muur naby die Jaffa-poort en Marc eet die falafels wat hy op haar aanbeveling by die Arabier gekoop het. Hy is honger genoeg vir twee. Dit smaak voortreflik.

    Ek voel sleg dat ek alleen sit en eet.

    Jy hoef nie. Ons koop nie op Shabbat nie.

    En as ek nou vir jou dié granaat gee? Hy beduie met sy ken na die drie granate wat hy op die muurtjie neergesit het en waarna hy haar verlangend sien kyk het.

    Sy aarsel ’n oomblik, toe neem sy een.

    "Jou werk is stunning," sê sy.

    Hy kyk na die buitelyne van die stadsmuur wat donker afgeteken teen die naghemel staan. ’n Sekelmaan hang skuins bokant.

    Waarom het party van die mans pels om hul hoede en ander nie? vra hy asof hy haar nie gehoor het nie en beduie na ’n man wat juis verbygeloop kom met sy gesinnetjie skarrelend om hom heen.

    Dis vir Pesach.

    Sorry, wat’s dit?

    Pesach begin Dinsdag. Pase.

    Natuurlik. Ek het eintlik nie so daaroor gedink nie. Julle hou dit seker nogal … anders as wat ons dit doen. Ek bedoel nou ons Paasfees …?

    Sy breek die groot, rooi granaat, wat hy by ’n vrugtestalletjie langs die een met die shawarmas en die falafels gekoop het, behendig oop. Marc sien die geil pitte in die straatlig blink. Dit vlek haar vingerpunte rooi.

    Wil jy regtig weet, of vra jy dit nou uit beleefdheid?

    Ek is nie heeltemal só beleef nie.

    Sy grinnik, hap ’n mondvol pitte en kou dit lustig. "Pesach is ’n fees van die voorjaar. Soos nou, Nissan. Dit duur agt dae lank en dis om ons te herinner aan Israel se verlossing uit slawerny in Egipte. Pesach is nie ’n opsigselfstaande fees nie. Dit is tegelyk ook die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brode. Alle suurdeeg word uit die huise en winkels verwyder, en ons eet vir die hele tydperk net matzah. Daar mag nie ’n stukkie suurdeeg in ons huise gevind kan word nie."

    Dis anders as hoe ons Pase vier.

    Ek weet, sê sy. Ek neem aan jy is ’n Christen en dis soos julle maak. Maar ons maak soos HaShem ons in die Tora beveel het om te doen.

    HaShem?

    Meester van die Heelal, Ribono Shel Olam.

    God? vra hy steeds onseker.

    Sy knik.

    Vier alle Jode dit?

    Sy skud haar kop, breek nog pitte uit die taai, rooi skil en druk hulle in haar mond uit. Haar lippe raak rooi van die sap. Sy kyk nie op terwyl sy praat nie. Nie álle Jode nie, maar verreweg die meeste. Al het dit by baie nie veel meer as ’n leë tradisie geword nie. Maar nou … met al die ellendes wat ons tref, gaan baie Pesach in ’n ander lig begin sien. Ek is seker daarvan.

    So mooi is sy dat sy vingers jeuk om haar te teken. Onder die stadsmuur wat oor haar toring, by die lig van die straatlamp. In die swart hare wat uit haar vlegsel losgekom het en om haar gesig krul, sien hy sy ma. Sy hart pyn daarvan.

    Vier jy dit nog op die tradisionele manier?

    Toe kyk sy op. Ek is Ortodoks, Marc. Ek het met hierdie dinge grootgeword. Vir ons het Adonai se voorskrifte nie verander nie.

    Adonai beteken Here?

    Dis reg.

    Dis ’n pragtige woord.

    Sy kyk hom bietjie verwonderd aan. Is jy ’n gelowige?

    Hy maak ’n vae gebaar met sy hand en vra: Jy sê jy is Ortodoks?

    Sê maar eerder modern-Ortodoks. Nie ultra-Ortodoks nie. Dié is baie strenger en volg hoofsaaklik die reëls van die Talmoed. My pa is ’n rabbi en my broer is ’n argitek.

    Later moet jy my sê wat die verskil is tussen die Tora en die Talmoed.

    Later, baie later. Sy lag. Dis ’n lang storie.

    Wonderlik, sê hy sag.

    Sy kyk verwonderd na hom. Waarom is jy eintlik in Israel?

    ’n Tipies ultra-Ortodokse gesin kom oor die keisteenstraat aangestap. Die pa stoot ’n kinderwaentjie, aan elke kant loop twee kleuters, sy vrou is hoogswanger. Sy hou aan sy arm vas. Hy buig af na haar om met haar te praat. Sy beduie na iets op die stadsmuur, hulle bly ’n oomblik staan om daarna te kyk. Toe kyk hulle na mekaar en lag.

    Waarom dra party sulke opgestopte jasse?

    Hierdie kom uit Rusland.

    Wonderlik, sê hy weer sag.

    Ek het gevra wat jy eintlik hier kom maak het. Jy met jou baie vrae.

    Dis ook ’n lang storie.

    Te lank vir vanaand?

    Ek dink so.

    Jerusalem is ’n hemel vir kunstenaars.

    Hy knik. Kan ’n modern-Ortodokse ook ’n soldaat wees?

    Sy kyk na hom. Haar mond blink van die granaatpitte wat sy geëet het.

    Vir seker. Veral die mans. Maar nie altyd in gevegseenhede nie en nie baie vroue nie. Hoewel party wel daarin dien.

    En jy dan?

    Sy lag. "Ai, Marc, dis moeilik om dit alles vir ’n buitestander te verduidelik. Soos ek sê, ons is wat hulle noem modern-Ortodoks. Ons dra moderne klere, juwele, ensovoorts, maar ons onderhou die Tora en vier die Shabbat. Ons verdra die meeste ander vertakkings van Judaïsme, met die uitsondering van die Messiane. Ons is Sioniste, maar nie so geesdriftig soos die tradisioneel-Ortodokses nie. Hoewel ek moet sê ek voel persoonlik diep saam met hulle wat die settlements op die Judese heuwels betref, en ek dink sterk daaraan om, wanneer ek gekwalifiseer het, daar te gaan bly."

    "Settlement?" Marc voel soos die spreekwoordelike vreemdeling in Jerusalem.

    Die nedersettings in Samaria en Judea, die sogenaamde Wesoewer en Gasa. Jy sal nog baie daarvan hoor as jy ’n tydjie hier bly. In die begin is dit vreeslik verwarrend.

    Maar ek het op televisie gesien dat die helpers gewoonlik lyk asof hulle Ortodokse Jode is waar daar selfmoordbomaanvalle was … ek bedoel met die swart kalotjies …

    "Kippah," help sy.

    Hy knik erkentlik, … en baie keer baarde.

    Hulle is ook ultra-Ortodoks. Ja, sy sug effens, "hulle is die hedendaagse Fariseërs waarvan jy in jou B’rit Chadashah, jou Nuwe Testament, lees. Hulle beoefen Rabbynse Judaïsme, deurspek met Kabbalah, en leef volgens die strengste godsdienstige voorskrifte. Jy sal hulle gewoonlik herken aan hul swart hoede en jasse, vol baarde, peyot, sy beduie, sykrulle. Soos jy sien, lyk hulle letterlik asof hulle net so uit die Middeleeue gestap kom. Hulle versorg die … liggame. As dié wat gesterf het miskien ultra-Ortodoks sou wees, mag niemand anders aan hul liggame raak nie."

    Dis verskriklik, dié soort aanvalle. Ek kan dit nie verstaan nie.

    Haar gesig verstil. HaShem praat met Israel, sê sy byna onhoorbaar sag.

    Dit word stil tussen hulle. Die wind het koud geword en sy ril effens, trek die uniformkraag teen haar wang op.

    Rebecca … Rivkah, sê hy ingedagte.

    Rivkah is beter, sê sy en kyk op haar horlosie. Re’uven sal nie weet waar ek is nie.

    Re’uven?

    My broer.

    Is jy die hele naweek aan diens?

    Sy skud haar kop, keer die laaste pitte van die granaat uit haar bakhand in haar mond om. Ek is eintlik nie aan diens nie, ek het net vanaand in ’n vriendin se plek gewerk. Haar broer is gister in die busbom ernstig beseer. Ek begin eers weer Sondagoggend tienuur.

    O.

    Sy takseer hom vir ’n oomblik. As jy wil, kan ek en Re’uven jou môreaand iewers kry, dan kan ons bietjie gesels en iets doen. Hy sal ook graag weer van Suid-Afrika wil hoor. Hy het ’n paar maal vir ons kom kuier toe ons daar was. So ná ses wanneer Shabbat verby is …?

    Wanneer begin die Shabbat?

    ’n Sagte trek kom om haar mond, haar stem kry ’n singerige toon. "Vrydagmiddag laat. Erev Shabbat. Dan lê jy jou pen neer, skakel jou rekenaar af, trek jou winkel op slot. Teen sesuur sê jy: Ribono Shel Olam, hier is ek, ek gaan u rus binne. Dan omvou Hy jou met die mantel van Shabbat-vrede en jy sing Shabbat shalom."

    Daar gaan ’n ligte bewing deur Marc. Hy dink aan die toneel vroeër die aand by die Klaagmuur en sy oë skiet magteloos vol trane. Sy sien dit. Hulle staan ’n paar oomblikke stil langs mekaar.

    Toe vra sy sag. Sal ons jou môreaand by jou hotel ontmoet?

    Baie graag.

    Sewe-uur?

    Absoluut.

    Haar oë vertroebel effens. Daar is dikwels aanvalle net ná Shabbat.

    Ja?

    Sy knik. As een van ons of ons albei dalk opgeroep word … hoe kan ek jou laat weet?

    Hy haal sy selfoon uit sy sak. Ek het dié saamgebring.

    Goed so. Laat ek die nommer afskryf.

    Sy maak so.

    Baie dankie dat jy my gehelp het met kos en om my geld om te ruil.

    Plesier. Dankie vir die granaat. Sal jy jou hotel kry?

    Ek is seker. Ek het ’n kaart hier.

    Laat ek vir jou wys. Dis nie ver nie.

    Hy vou die kaart oop en sy teken met haar pen hoe hy moet loop.

    Oukei?

    Ek sal dit kry.

    "Sien jou môreaand. Laila tov."

    En dit is?

    Goeienag.

    Hier. Neem dié twee granate ook.

    O, dankie!

    "Laila tov, Rivkah."

    Wees versigtig, Marc. Bly uit die Ben Yehudawinkelsentrum daar naby jou hotel. Daar was die laaste ruk al ’n paar selfmoordbomaanvalle. Bly asseblief weg daar. Loop ook vinnig met Jaffastraat langs, daar is Donderdagaand drie mense dood en heelwat beseer.

    Ek belowe.

    Asseblief.

    Toe wuif sy en hardloop oor die klipstraat van die Ou Stad af weg, haar geweer klotsend teen haar rug.

    Hy merk hoe twee jong Arabiere, wat daar naby staan en gesels het, omdraai en haar stilswyend agterna kyk.

    Twee

    Stellenbosch

    Februarie 2002

    Laataand lui die selfoon waar dit langs sy esel op die grond lê. Dis sy ma.

    Slaap jy al? vra sy.

    Anders het ek nie geantwoord nie.

    Sy lag. Waarmee is jy besig?

    Waarmee ek altyd besig is.

    Wat skilder jy?

    Hy was besig om háár te skilder, soos hy haar van sy kleinseuntjiedae af onthou. Hy sê dit nie.

    Dit en dat.

    Jy skilder nooit net dit en dat nie.

    Hy grinnik.

    Jy was lanklaas hier, sê sy toe.

    Ek was Sondagaand daar.

    O ja. Sy aarsel ’n oomblik. Marc … daar is iets waaroor ons moet praat.

    Sê dan so.

    Hy hoor aan haar lag dat sy verleë is. Hoe lyk dit met brekfis by die Koper Ketel? Jy begin mos nie Woensdae so vroeg nie.

    Dit is dus ernstig. Dit verbaas hom, want hy kry sy ma selde nog te sien as Hannes nie by is nie.

    Dis oukei.

    Die volgende oggend drup die akkerbome nog van die nag se reën terwyl hy onder hulle deurloop.

    Sy ma sit al by ’n tafeltjie toe hy inkom. Sy lyk nogal bleek en veral weerloos sodat hy onrustig wonder wat skort.

    Maar dis eers toe die kelner hul koffie voor hulle neersit dat sy hom reguit aankyk en sê: Daar’s iets wat ek vir jou wil vertel.

    Jy het so gesê. Hy sien hoe haar vingers om die koppie effens bewe.

    Dis ’n lang storie.

    Sy keel trek toe. Dis oukei. Hy hoop sy voel nie sy onrus aan nie.

    Ek weet nie juis waar om te begin nie. Sy vou die papierservet senuagtig tussen haar vingers.

    Voor.

    Ja, miskien. Sy haal diep asem. Dis so. Ouma Margriet was nie régtig jou ouma nie. Sy was nie régtig my ma nie.

    Vir ’n oomblik vererg hy hom byna. Maar dit het jy tog al vir my gesê?

    Sy sluk. Ja, maar daar is meer aan die storie. Oupa … my pa het ’n verhouding met ’n ander vrou gehad. Toe hulle tien jaar getroud was, het hy iemand anders ontmoet. Sy kyk nie op van haar hande wat ’n patroontjie in die papierservet vou nie.

    Marc sien sy oupa voor hom, twee en tagtig jaar oud. En sy ouma met haar silwergrys hare en ligblou oë. Sy wat hy so liefgehad het en wat dood is toe hy sestien was. Hy sê niks nie.

    Hy het begin 1954 ses maande in Duitsland gaan werk en die vrou daar leer ken. Sy … het swanger geraak en wou die baba laat verwyder. Maar hy wou nie. Omdat Ouma nie kon kinders kry nie, het hy besluit om die baba aan te neem. Direk ná die geboorte.

    Marc se keel raak kurkdroog. Sy ma is in Desember 1954 gebore. Dit was jy?

    Sy knik sonder om op te kyk. Ouma het ingewillig om dit te doen op voorwaarde dat niemand ooit weet dat hy die pa is nie. Dit moes nes ’n gewone aanneming lyk. Hulle is Duitsland toe vir die bevalling en het twee weke later met die baba teruggekom. Hulle het vertel dat hulle die baba deur ’n agentskap in Londen aangeneem het. Om te sê dat dit in Duitsland gedoen is, sou my pa net te veel aan die baba verbind.

    En jy? vra hy byna onhoorbaar sag.

    Sy skud haar kop, antwoord nie dadelik nie. Hy sien haar gesig nat word van die trane. Dit drup op haar saamgevuisde hand. Hy lê sy hand oor hare, en sy draai dit om sodat hy dit in syne toevou. Hy voel haar bewe.

    Hulle het my van heel kleins af laat verstaan dat ek aangeneem is, in Londen aangeneem is. Maar niks verder nie. Ek het ook nie belanggestel nie. Ouma Margriet was my ma en ek het ook niemand anders as sy nodig gehad nie.

    Hoe het jy dan die waarheid gehoor?

    Vroeër vanjaar toe jy in Parys was en Oupa so vreeslik siek geword het, het hy my hospitaal toe laat kom. Toe het hy my vertel dat hy in werklikheid my pa is. My eie pa.

    Sy begin geluidloos huil en hy hou haar hand styf vas sodat sy langsamerhand bedaar.

    Ek is bly vir jou, Mamma. Dat jy dit weet.

    Jy sal verstaan dat hy my gevra het om hom te beloof dat ek vir niemand die waarheid sal vertel solank hy nog leef nie.

    Ek verstaan dit. Toe roer daar iets vaags in hom. Hoekom vertel jy my nou, hy leef tog nog?

    Ek vertel jou oor ek wil hê jy moet weet my eie ma was ’n Duitse Jood.

    ’n Duitse Jood?

    Mara knik. Hy het haar in 1954 in Duitsland ontmoet. Sy was ’n raadgewende ingenieur by die firma wat hom Duitsland toe gestuur het.

    "Was sy in die Holocaust?"

    "Sy was in Bergen-Belsen. Daar het niemand anders van haar familie oorleef nie. Sy was nog nie twintig nie toe die oorlog verby is. Verskriklike dinge het met haar gebeur."

    Marc onthou die film Schindler’s List wat hom so geruk het. Hy dink weer aan sy oupa en aan die Joodse vrou.

    Marc, dis nie die einde van die storie nie, breek sy ma deur sy warrelende gedagtes.

    Hy frons. Ja?

    Kan jy iets van Bert se ma onthou?

    Al wat ek van haar weet, is dat sy dood is toe Bert baie klein was. Bert self het net sy stiefma geken.

    Nee, hy het goed van sy ma geweet. Marc, sy was ook ’n Jodin. ’n Boerejood, soos die mense hulle daardie tyd genoem het. Van Russiese afkoms.

    Hy kyk haar verstom aan. Sy was ook ’n Jodin?

    Sy was. Haar ouers het in die begin van die eeu uit Rusland hiernatoe gevlug. Baie van dié mense het op plattelandse dorpies gaan woon.

    Die werklikheid van wat sy sê, daag vaag tot hom. Jy sê vir my dat jy en Bert albei Joodse ma’s gehad het.

    Sy haal nog ’n slag diep asem. Ek sê vir jou dat die Joodse bloedlyn deur die ma loop. Dus was jou pa Bert Joods. En ek is ook ’n Jodin. Jy het volop Joodse bloed.

    Sy mond raak droog. Hoekom het julle nooit vir my gesê nie?

    Bert het dit ook maar eers lank ná ons troue eendag teenoor my genoem. Ek bedoel van sy ma. Hy wou nie dat iemand daarvan moes weet nie. Hy het dit as ’n vloek gesien. Sy ma is dood toe hy vyf was en sy Afrikaanse pa het dit nooit op die dorp waar hulle ná haar dood gaan woon het aan die groot klok gehang dat sy eerste vrou Joods was nie. Hy is baie kort ná haar dood met ’n Afrikaanse vrou getroud en die Joodse bloed in die familie is nie iets waaroor daar ooit gepraat is nie. Trouens, hy het Bert blykbaar van kleindag af laat verstaan dat sy andersheid en sy verwyfdheid, soos hy na sy kuns verwys het, die smet van die uitlandse bloed was. Toe dit later jare duidelik word dat hy … homoseksueel is en ons uitmekaar is, het sy pa dit daaraan toegeskryf en hom heeltemal van Bert gedistansieer.

    Ek onthou dat ons nooit meer van daardie oupa en ouma gehoor het nie. Ek het gedink dis oor jy en Bert uitmekaar is.

    Hulle het voor die tyd ook nie veel kontak met ons gemaak nie, Marc.

    Nee, dis waar. Maar jy kon my tóé tog gesê het, ek bedoel, in matriek toe ek agtergekom het Bert is gay.

    Ja, miskien kon ek, maar ek het nie. Dalk het ek self in my onderbewussyn die sogenaamde smet gevrees.

    Hy sê niks nie.

    Ek is jammer …

    Dis nie meer belangrik nie, Mamma.

    Hy voel moeg, met ’n vreemde verlange om die jong Joodse vrou met wie sy oupa in Duitsland ’n verhouding gehad het, te teken. Maar ook sy ouma, sy sagte grys ouma, wat die geheim al die jare in haar hart moes dra.

    Van my eie afkoms het ek natuurlik nie geweet nie, sê sy.

    Hy kyk na haar, na die trane wat in haar donker oë skitter, en hy sien vir die eerste keer dat sy ’n Joodse neus het wat by haar donker, kurktrekker-krulhare pas. Hy het haar soveel maal in sy lewe geskilder. Nou begeer sy vingers om haar te teken, weer en weer, met die nuwe wete in haar. En in hom.

    Waarom het jy my nou gesê? Vandag?

    Omdat jy my Sondagaand vertel het van jou plan om Israel toe te gaan en Baruch se suster op te soek. Maar veral omdat ek nou ná vier jaar sien dat jy Baruch se dood nog nie verwerk het nie. Omdat ek, noudat ek van myself weet, ook verstaan waarom jy aan sy Joodsheid verknog geraak het …

    Oor ek ook Joodse bloed het, sê hy baie sag.

    Ook ’n Jood is.

    Buite koer ’n duif verlate in die akkerboom. Voor die venster demp die reën die geluid van die verkeer in die straat. Hy proe aan sy koue koffie en ril.

    Sy kyk die eerste keer weer op. My eie ma woon nou in Israel.

    Hoe weet jy dit?

    Oupa het ’n mate van kontak met haar behou. Sy woon al twintig jaar in Israel.

    Hy kyk na haar. Sy sê niks nie. Hy ook nie.

    Maar later vra hy tog: Het jy nie met haar probeer kontak maak nie?

    Sy skud haar kop. Nee. Waarom sou ek? Sy wou my nie hê nie.

    Ma-a-a, jy weet tog wat haar omstandighede was …!

    Sy wou my nie hê nie.

    Ná ’n rukkie vra hy: Sal jy omgee as ek na haar gaan soek?

    Dis jou saak.

    Sal jy vir my die adres kan kry?

    Ek dink jy moet dit self vir jou oupa vra.

    Maar… jy het gesê hy wil nie hê enigiemand moet weet nie.

    Ek weet, maar ek het die gevoel hy sal verstaan hoekom ek vir jou gesê het.

    Dit neem hom ’n paar dae om genoeg moed bymekaar te skraap. Maar toe gaan hy tog.

    Sy oupa sit in die rommelrige studeerkamertjie van sy woonstel in die aftreeoord iets en lees toe Marc daar aankom.

    Jy! sê die ou man bly toe hy die deur vir hom oopmaak. Dis ’n verrassing, hoor. Jy laat mos altyd weet as jy kom.

    Maar dié keer het ek nie.

    Die ou man frons. Beslis nie. Maar ek is bly jy’t gekom. Nou kom sit. Kan ek vir jou iets ingooi om te drink?

    Wat drink Oupa?

    Rooiwyn.

    Asseblief, ja – ’n kleintjie.

    Rooi of wit?

    Rooi, dankie.

    Toe hulle sit, vra Lucas: Iets pla jou, Marc. Of lyk dit maar so?

    Mamma het my vertel van haar Joodse afkoms.

    Die ou man kyk vinnig op, toe stoot hy sy vingers deur sy yl, grys hare, skud sy kop. Ek het haar gevra om dit nie te doen nie. Maar hy klink nie kwaad nie.

    Weet jy dat my pa ook ’n Joodse ma gehad het?

    Mara het my vertel. Ek veronderstel dat dit daarom ook nodig was vir jou om van haar afkoms te weet.

    Dit word stil tussen hulle. In die woonstel langsaan kan hulle die deurdringende stem van ’n televisienuusleser hoor.

    Hoekom het jy gekom, Marc?

    Ek gaan volgende maand Israel toe.

    So het ek verneem.

    Ek wil Baruch se suster opsoek.

    Sy oupa knik.

    En as dit moontlik is, hierdie vrou ook.

    Lucas skommel die wyn in sy glasie, hou dit teen die lig van die leeslamp op, kyk lank daarna. Hoekom wil jy haar gaan opsoek, Marc?

    Is dit so vreemd, noudat ek weet dat sy my bloedfamilie is?

    Nee, seker nie.

    Maar lank voor dit wou ek meer van Baruch se agtergrond weet. Van sy Joodsheid, bedoel ek.

    Baruch was die beeldhouer?

    Hy knik.

    Hy het verongeluk.

    Dis nie ’n vraag nie, net ’n stelling. Sodat Marc niks sê nie.

    Dit was ’n moeilike jaar vir jou, jou matriekjaar.

    Marc kyk hom verras aan. Jy het dit geweet?

    Lucas drink van sy wyn. Jy is al kleinkind wat ek het, ek hou jou fyner dop as wat jy dink. Daardie jaar het hulle jou uit die kunsskool gehaal oor jou werk so fenomenaal is en jou by die twee kunstenaars daar by Blaauwklippen laat klasloop. Baruch en …?

    Simon.

    Simon. Hulle het jou met naaktekeninge laat begin, en dieselfde tyd het jou ma jou vertel dat jou pa homoseksueel was, nie waar nie?

    Ja, sê hy, en sy stem klink vreemd.

    Toe verongeluk Baruch. Die een met wie jy so ’n hegte verhouding opgebou het. Net daarna is jou ma en Hannes toe getroud. Moeilike dinge, moeilike tye. Alles het so vinnig ná mekaar gebeur.

    Hy knik weer, kyk af op sy hande.

    En die donkerkopmeisietjie …?

    Marc se oë vlieg op en sonder dat hy daarvan bewus is, vorm sy lippe haar naam. Nicola.

    Vir haar was jy lief?

    Hoe weet jy van haar?

    Een Sondagmiddag het ek julle twee in die tuin by die kerk op die gras sien lê en praat. Ek het daar verbygeloop en jou gegroet, maar jy het niks gehoor of gesien nie.

    Dit was vier jaar gelede, sê Marc stil.

    Net soos vir Baruch het jy haar nie vergeet nie?

    Nee.

    Is dit oor jou Joodse wortels dat jy Ruwth wil opsoek, Marc? Of oor jy die vrou wil sien vir wie ek eenmaal so lief was dat ek byna alles vir haar oorboord sou gooi?

    Beide.

    Jy is eerlik. Ek sal jou met die adres vertrou.

    Hy staan moeisaam op en stap na een van die baie rye boekrakke wat die studeerkamertjie verdwerg. Hy haal ’n boek uit en kom terug na die lessenaar toe. Marc hou hom dop terwyl hy ’n adres op ’n los vel papier skryf voordat hy die boek weer toemaak en op dieselfde plek in die rak skuif.

    Het jy haar nog lief? vra Marc toe hy die vel papier by hom neem, opvou en in sy jekker se sak druk.

    Die ou man glimlag. Kyk, Marc, as ’n mens tagtig verbygesteek het en vyftig jaar met dieselfde vrou getroud was, het jy niemand meer as vir haar lief nie. Maar vyftig jaar is ook nie te lank om te onthou hoe jy eenmaal iemand anders óók liefgehad het nie. Beantwoord dit jou vraag?

    Het sy soos Mara gelyk?

    Sy het soos Mara gelyk, ja, sy het soos Mara gelyk. Klein en donker en baie mooi.

    Sy is my ouma … sê Marc sag.

    Sy is jou ouma. Hy sug.

    Hoekom het jy teruggekom?

    Hy neem die bottel rooiwyn en vul Marc se glas aan, maak toe sy eie vol. Ek het ’n vrou hier gehad.

    Het jy nie daaraan gedink toe jy …?

    Ek hét daaraan gedink, maar ek was roekeloos verlief.

    En sy?

    Hy sit lank stil voor hom en uitkyk, vereelte vingers van albei hande om die glas gestrengel. Byna twee jaar lank het een van die hoë Nazi-offisiere haar as sy persoonlike … prostituut aangehou. Dis hoekom sy nie in die oonde beland het nie. Sy was so jonk toe. Miskien was ek vir haar ’n soort vaderfiguur, want toe ek haar ontmoet het, was sy nog so stukkend. Ek het haar misbruik … Hy beduie met sy een hand. Toe sy swanger word, wou sy die kind laat aborteer. Sy het al van die kampoffisier ’n aborsie gehad. Maar ek wou iets van haar met my saamneem. Hy kyk meteens reguit na Marc. Ek is nie die held van die storie nie, Marc. Margriet, wat my én die kind geneem het, is.

    Jy en Ruwth het kontak behou?

    Ja. Ek het haar van Mara vertel en later van jou. Margriet het nie daarvan geweet nie. Die briewe gaan een of twee maal per jaar deur my prokureur. Sy woon die afgelope twintig jaar of wat al in Israel.

    Is sy getroud?

    Ja, sê hy. Sy het twee seuns. Haar man is jare gelede al dood. Toe het sy Israel toe gegaan.

    Jy het haar nooit weer gesien nie?

    Lucas skud sy kop. In Mara sien ek haar altyd weer.

    Ek sal haar gaan soek.

    Sy is nou ses en sewentig.

    Ek sal gaan.

    Lucas sug. Jy moet doen soos jy goeddink, Marc.

    Wil jy vir haar iets laat weet?

    Sy oupa glimlag effens. Net dat ek dankbaar is teenoor haar vir my dogter en my kleinseun.

    Goed dan. Hy staan op om te gaan, maar Lucas bly sit.

    Die meisie, Marc, wil jy my van haar vertel?

    Daar is nie iets om te vertel nie.

    Dit kan ek beswaarlik glo.

    Hy tik met sy vinger teen die aardbol wat op sy oupa se lessenaar staan en dit begin stadig draai. Toe hy klein was, het hy hom altyd daaraan verwonder.

    Sy het besluit dat ek nie die een vir haar is nie.

    Wie is dan?

    Simon.

    Simon! Hoe het jy dit agtergekom, my liewe kind?

    Ek het ’n olieverf gesien wat hy van haar gemaak het.

    En dit het alles gesê?

    Dit was ’n naakskildery.

    Die ou man knyp sy oë ’n oomblik styf toe. Dit moes erg gewees het.

    Sy het vir my gesê sy sal nooit vir iemand naak poseer nie. Maar ’n paar weke later het sy dit vir hom gedoen. Ek was net ’n skoolseun op ’n fiets wie se kuns haar ’n paar maande lank geamuseer het.

    Sy oupa skud sy kop. Alles gelyktydig.

    Marc gaan sit weer. Dit het my gedwing om te soek na dit wat betekenis het en dit wat betekenisloos is.

    Wat het jy gevind, Marc?

    Hy dink lank voordat hy antwoord. Dat al wat goed is uiteindelik in God gesetel is. Maar …

    Lucas wag.

    Dat ek Hom eintlik nie ken nie. Hom as Persoon. Altans, nie soos Baruch Hom geken het nie.

    Jy het met Baruch oor God gepraat?

    Hy knik.

    Raar in kunstenaarskringe, is dit nie?

    Vir seker.

    Hy is in Israel gebore?

    Ja.

    En die Joodse bloed in jou is so sterk dat jy nou Israel toe wil gaan?

    Ek weet nie of dit dít is nie. Ek weet net ek wil gaan. Hy staan weer op.

    Dié keer kom Lucas ook orent. Hy lê sy hand swaar op Marc se skouer. Mag jy vind wat jy soek. Mag God jou genadig wees, Hy het jou so ’n wonderbaarlike talent gegee.

    Dankie, sê Marc sag.

    Moenie dieselfde foute as ek maak nie. ’n Mens maai jou lewe lank aan dit wat jy gesaai het, Marc.

    Ek is bly ek het gekom.

    Lucas druk Marc ’n oomblik teen hom vas. Mag die Here God jou seën, sê hy bewoë.

    Drie

    Saterdagoggend kom Marc vroeg aan die gang. Die gedagte aan Shabbat in die Ou Stad van Jerusalem maak hom opgewonde. Net ná ontbyt haak hy sy sak oor sy skouer en vat die pad. Hy kyk ietwat skigtig in die verlate Ben Yehudastraat op, waar houtskorte die verwoeste geboufronte van onlangse selfmoordbomaanslae stom herdenk. Gedagtig aan Rivkah se herhaalde waarskuwings van die vorige aand, stap hy ná ’n oomblik van huiwering liefs nie daar op nie, al is hy ook hóé nuuskierig.

    Hy weet nou hoe om te loop om by die Ou Stad uit te kom. Al met Jaffastraat langs van die hotel af tot die Jaffa-poort voor hom opdoem. Die stadsmuur staan grys teen die helder lug. Oral bo-op die muur bibber die wit-en-blou Israeli-vlae met die Ster van Dawid daarop in die effense luggie wat nog trek. Daar is ’n soelte om hom heen, en hy kan die bome wit en pienk teen die helder lug sien bloei. Hy onthou dat dit voorjaar in Jerusalem is.

    Pesach is ’n fees van die voorjaar, het Rivkah gesê.

    Hy gaan sit op die sypaadjie, onbewus van die mense wat by hom verbyloop, en teken die muur met die vlae. Eers toe hy voel dat hy die godsmooie ou stene vasgelê het soos hy hulle sien, vou hy sy boek toe en staan op. Ingedagte druk hy dit in sy sak terug en gaan deur die poort na binne. Hy kom op dieselfde plek uit waar hy en Rivkah die vorige aand gesit het toe hy sy shawarma en sy die granaat geëet het. Hy sien dadelik die ingang na die nou gangetjies wat na die Arabiese shuks toe lei. Die meisie het hom gisteraand daarheen beduie. Hy gaan staan weer en sy hande trek werktuiglik die sketsboek uit sy sak. Toe iemand hom byna uit die grond loop, staan hy effens opsy. Maar hy is eintlik net bewus van dit wat hy wil teken.

    Voor hom uit lei die stene van die nou stegies, blink getrap van eeue se verkeer, tussen die shuks in. ’n Grootvader, heeltemal in swart geklee, wit geknoopte toutjies van die tzitzit wat onder sy swart baadjie uithang, swart breërandhoed, kom by hom verbygeloop. Hy het ’n seuntjie aan die hand, ook heeltemal in wit en swart geklee, met ’n swart fluweelkalotjie op die kop. Marc se houtskool kras oor die wit papier. Met vinnige, sekere lyne lê hy dit vas. Maar toe kom daar al weer van die teenoorgestelde rigting twee mans en ’n seun aan. Hulle het blink, wit satynjasse aan, swart barette op, wit-en-swart gestreepte gebedsjaals om die skouers. Die seuntjie dra ’n wit hemp met wye, lang moue, donker broek en pragtige geweefde wit-en-swart onderbaadjie. Marc besef paniekerig dat hy nie alles vinnig genoeg geteken gaan kry nie. Hy pluk sy kamera uit en die voorste man wat byna by hom is, hou onmiddellik sy hand voor sy gesig.

    Marc onthou Rivkah se woorde van die vorige aand. Shabbat! No photos! Please! Maar hy kan homself nie keer om die sluiter te druk nie. Die man se verontwaardigde gesig laat hom sy kamera verleë in sy sak terugdruk.

    Sorry, prewel hy, maar die drie Jode druk vererg by hom verby sonder om een maal hul driftige gesprek te onderbreek of na sy kant toe te kyk.

    Hy draai terug na die Jaffa-poort. Dit staan wonderlik in son gebaai. Links steek ’n pragtige boom met pers bloeisels die lug in. Hy slaan sy gidsboekie oop.

    David’s Citadel, prewel hy ná ’n paar oomblikke se soek.

    Die smal stegie met sy steentrappies tussen die shuks is bykans verlate toe hy daarlangs begin loop. By die hotel het die man by ontvangs hom gewaarsku om aan niks te raak of te veel belangstelling te toon nie, want dan word hy as ’n koper gereken en raak hy nie weer van die shuk-houers ontslae nie. Omdat die geweld toerisme heeltemal laat opdroog het, is die Arabiese winkeliers desperaat. Om aan hulle te ontsnap, maak hy soos hy aangeraai is, maar hy absorbeer die wondermosaïek van die kleurryke stalletjies, die geur van speserye, die reuk van leer wat met dié van wierook meng; die ligspeling oor glimmende, klam wande van die mure, oor kaste olywe, blink granate en tamaties, die skerp kleure van die Oosterse stowwe. Byna die enigste ander voetgangers is Ortodokse Jode, kennelik op pad terug van die sinagoge, swart jasse en hoede, peyot voor die ore. Uit die winkeltjies kyk haakneus-Arabiere onder hulle swart-en-wit of rooi-en-wit kafijas geïnteresseerd na hom. ’n Swartgerokte monnik, bengelende kruis om die nek, skarrel verby, ’n paar jong Sabra-meisies in die kenmerkende olyfgroen uniforms kom al pratend van voor af aan. Drie pragtige Arabiese vroue, swaar gesluier, donkeroogkindertjies aan die hand, staan by ’n winkeltjie en praat. Die ervaring van klank en kleur wil sy kunstenaarsiel oorweldig.

    By die eerste plekkie waar dit effens rustiger is, gaan hy sit. Dié keer haal hy pastelle uit en hy begin in kleur werk. Oorkant hom sit twee Arabiese shuk-houers rokend en koffie drink. Hy teken hulle met al die ongelooflike kleure van hul winkeltjie om hulle. Die koper, die leer, die glansende materiale. Hy teken die jong Joodse seun wat eerbiedig eenkant staan en wag terwyl sy pa met iemand in gesprek is. Sy bleek, fyngebeende gesig, hoë wangbene, korterige peyot, skerp donker oë agter die raamlose bril, die breërandhoed, wit oopnekhemp, swart baadjie en broek, met die kenmerkende wit geknoopte tzitzit wat onder uithang – alles teken hy so vlugtig dat sy hand uiteindelik lam word. Van shuks en peyot en tzitzit het hy onder meer gisteraand in sy gidsboek opgelees. Maar toe hy nog meer oor die feeste wou lees, het sy oë toegeval.

    Met behulp van die kaart in sy gidsboekie kry hy deur die Arabiese buurt koers na die Cardo. Maar by die Joodse winkels is dit doodstil en dit val hom weer by dat dit hul Shabbat is. Hy gaan maak weer ’n draai by die Klaagmuur wat hy nou uit sy boekie leer ken het as HaKotel. Dis nie so bedrywig daar soos die vorige aand nie. Dit is veral mans en seuns wat hul daarheen haas, skynbaar vir hul daaglikse gebede. Voordat hy uit die Joodse buurt na die Kotel deurgelaat word, word alles wat hy by hom het, en hyself, deeglik deursoek.

    Hy gaan weer op dieselfde plek as die vorige aand sit en teken onvermoeid, totdat hy tot sy skrik sien dat dit ná ses is en besef dat hy sedert die groot ontbyt in die hotel feitlik nog niks geëet het nie. Hy haas hom terug, deur die smal gangetjies tussen die shuks, wat nou heelwat bedrywiger is as in die oggend, om Rivkah en haar broer te ontmoet.

    Hulle daag net ná sewe op. Re’uven in sy olyfgroen uniform, opgerolde moue, wit T-hemp onder die oop hempskraag. Hy maak verskoning en verduidelik dat hy enige oomblik verwag om opgeroep te word. ’n Lang, skraal man in sy laat twintigerjare, donker hare en oë soos sy suster. Hy blyk ’n luitenant in die weermag te wees, valskermafdeling – as reservis opgeroep uit sy argitekkantore om in dié onstuimige dae diens te doen. Rivkah lyk nog kleiner as die vorige aand in jeans en ’n lang, blou hemp. Haar swart hare is nou los en krul donsig om haar gesig.

    Ná ’n paar oomblikke se oorweging besluit hulle om in ’n Armeense restaurant in die Ou Stad iets te ete te gaan soek. Broer en suster beveel die Armeense kos sterk aan. Dit blyk ook voortreflik te wees. Oor ’n lang uitgerekte, rustige ete met veelvuldige fyn voorbereide en speserygegeurde geregte weeg hulle mekaar eers versigtig op en begin dan algaande oor ernstiger sake te praat.

    Uiteraard gaan die gesprek oor die verskriklike selfmoordbomaanslae wat dag ná dag dié klein Joodse staat skud. Marc vertel hoe die pyn wat hy die vorige aand in die Ortodokse grootvader en die seuntjie kon aanvoel, hom ontroer het.

    Re’uven knik. "Een van hul familielede was waarskynlik ’n slagoffer van verlede maand se slagting in Beit Yisra’el. Heel moontlik nog die seuntjie se pa, anders sou hy ook daar saam met hulle gewees het. Dit was ’n geweldige skok vir die ultra-Ortodokses toe daar ook in een van húl buurte ’n aanslag was. Tien van hulle is brutaal vermoor toe ’n Tanzim al-Jihad-terroris hom daar kom opblaas het. Dit was tussen ’n klomp gaste wat daar bymekaar was net ná ’n Bar Mitzvah. Die meeste van hulle was die familie van die seun wie se Bar Mitzvah dit was, Naveh Nachmani …"

    Hy ook?

    Rivkah antwoord hom. Hy merk dat sy baie bleek is. Nee, hy het niks oorgekom nie. Maar emosioneel is hy vir die res van sy lewe geskend. Onder dié wat gesterf het, was sy ma, sy oom en vyf van sy broers en susters tussen die ouderdomme van sewe en vyftien. Sy tante is so ernstig gewond dat sy nie kon beweeg nie en moes toesien hoe haar seuntjie van agtien maande in sy stootwaentjie doodbrand. Onder dié wat ernstig gewond is, was daar ook baie kinders en tieners.

    Verskriklik … fluister Marc.

    Hy merk hoe Re’uven sy hand oor sy suster s’n op die tafel lê. Presies ’n week later was Rivkah in die Moment-kafee toe ’n Arabiese terroris homself daar opgeblaas het.

    Marc kyk geskok na haar, maar sy bly op die tafel voor haar staar. Hy sien die trane aan haar wimpers blink. Haar mond is wit.

    Wat het gebeur?

    Dis haar broer wat ná ’n paar oomblikke antwoord. "Daar is nou so dikwels aanvalle op die aand ná Shabbat. Net soos in Beit Yisra’el. Die Moment-kafee lê op een van die besigste kruisings van Jerusalem. Miskien moet ek sê: Dit wás daar, want dis heeltemal verwoes. Moment is net om die draai van Ariel Sharon se ampswoning af en baie Israeli’s het heeltemal paniekerig geraak toe hulle daarvan hoor. Dié kruising word gewoonlik gepatrolleer deur swaargewapende soldate, wat die eerste minister se huis oppas. Dit het mense laat voel dat, as terroriste dáár kan toeslaan, hulle dit oral kan doen."

    En Rivkah was daar …?

    Dis weer Re’uven wat antwoord. Marc sien hoe die meisie se fyn vingers styf om haar broer s’n sluit.

    "Rivkah is met ’n vriendin en dié se verloofde daarheen. Die plek was gepak van jong mense wat net ná Shabbat altyd op ’n Saterdagaand uitgaan omdat hulle die volgende dag al weer moet werk. Party sê baie van hulle was daardie aand juis daar om die noodlot te tart omdat dit net twee dae was sedert ’n terroris hom in die volgepakte Caffit-restaurant in die duur Emek Refaim-buurt probeer opblaas het. Maar toe het ’n wakker kelner daar iets verdags omtrent die Arabiese mensbom opgemerk. Hy het hom vasgegryp en met hom geworstel totdat hy hom op die grond gehad en waaragtig daarin geslaag het om die plofstof wat om sy lyf vasgemaak was, onskadelik te stel. Dit was niks anders as ’n wonderwerk nie. Baruch HaShem! Maar twee weke gelede in Moment het niemand betyds onraad vermoed nie."

    Re’uven vryf ’n oomblik vertroostend met sy duim oor sy suster se geklemde hand. Rivkah het nie seergekry nie. Sy het net sekondes tevore van hul tafel opgestaan om ’n kennis te gaan groet. Sy was wel twee dae lank heeltemal doof. Maar … Danit en Felix het albei daar gesterf. Hulle was vier en twintig en drie en twintig jaar oud. En dit was presies twee maande en vier dae voordat hulle sou trou.

    Marc fluit geskok deur sy tande.

    Rivkah kyk op. Marc sien weer die donker vlekke onder haar mooi oë. By Danit se begrafnis was haar ma ontroosbaar. Niks wat ons probeer doen of sê, kon haar tot bedaring bring nie.

    Wat is aan die gang? vra Marc, wat voel hoe desperaatheid sy sinne begin benewel.

    Re’uven sug, vee vermoeid oor sy oë. Die meeste internasionale leiers en die media besef dit nie, maar die getuienis is oorweldigend dat die leiers van die Palestynse Owerheid maande gelede al besluit het om die immer smeulende Arabies-Israeli-dispuut te laat losbrand. Hulle kry dit reg deur hul eie Fatah-magte opdrag te gee om aanvalle uit te voer wat hulle wéét Israel se woede sal laat uitbars. Of om te maak of hulle nie sien as Islamitiese militante hul vuilwerk doen nie.

    Jy dink nie dis Arafat se manier om die wêreld se aandag op sy probleem te vestig nie; op die feit dat Israeli’s sy land beset nie?

    Ons beset nie sy land nie! sê Rivkah driftig. Arabiese vlugtelinge het hulself eers in 1967 as ’n Palestynse volk begin identifiseer, twintig jaar nadat die staat van Israel tot stand gekom het! Daar het geen Palestynse volk bestaan voordat die staat van Israel ’n werklikheid geword het nie.

    Haar broer skud sy kop. Los dit nou eers, Rivkah! Anders kom ons nooit verder nie. Hy wend hom weer tot Marc. Die Palestynse leiers probeer nie net om die wêreld se aandag te trek met hul aanklagte teen Israel nie; ook nie om hul onderhandelingsposisie te verstewig sou die sogenaamde Oslo-vredesproses weer op dreef kom nie. Ek is oortuig hulle het iets baie meer sinister in gedagte as net dit. Na my mening beoog hulle ’n verwoestende oorlog sodat ander buurlande ook daarby betrek sal word, om sodoende die Joodse staat so ’n vernietigende slag toe te dien dat hulle bereid sal wees om aan al die Palestynse eise toe te gee. Dit kan ook wees dat hulle die konflik so intens wil laat word dat magte uit ander wêrelddele uiteindelik daarby betrek sal word. Dit sal meebring dat daar ’n skietstilstand kom, waarna die Palestyne hul begeerde staat op ’n skinkbord aangebied sal kry. Laat ek vir jou sê: Arafat soek nie ’n Palestynse staat op Israel se grense nie. As Arafat se mense, die PA, se amptelike kaarte van dié gebied enige aanduiding is, is hul uiteindelike doel duidelik die Jode se finale uitwissing. Want die staat Israel kom glad nie op hul kaarte voor nie. Jy kan nie glo wat Arafat alles kwytraak nie, my vriend. Hy het eenmaal openlik gesê: ‘As ek bereid is om vir my land te veg, is ek ook bereid om vir my land te lieg.’

    Jy bedoel werklik dat dit Arafat se bedoeling is om die staat van Israel totaal uit te wis?

    Ek bedoel dit. Die sogenaamde PLO Charter (Palestynse bevrydingsorganisasie) eis nog steeds die verwoesting van die staat Israel. Arafat skroom nie om dit te sê nie. Weliswaar in Arabies vir sy eie mense en nie in Engels vir die media nie. Maar hy sê dit sonder omhaal.

    Dis waarom Sharon voel hulle het nie ’n ander keuse as om die PA-gebied verder binne te val nie, want dis al wat hulle kan doen om die Palestynse terreurnetwerke by te kom. Daarom het hulle twintig duisend soldate in plekke soos Betlehem en Ramallah ingestuur, en vlugtelingkampe wat ten volle deur die PA beheer word. En nie om dit te beset soos algemeen beweer word nie. Dis ook hoekom Re’uven nou weer as reservis opgeroep is, sê Rivkah. Dis presies wat Israel in 1982 in Libanon gedoen het – om Arafat se aggressiewe PBO-magte terug te druk, weg van die suf gebombardeerde grens af. Maar die media en die wêreld noem dit besetting.

    Maar is dit regtig nodig dat die Israeli’s sulke geweldige verwoesting in die Palestynse dorpies aanrig?

    Re’uven snork onelegant. "Dit is CNN se dramatiese beeldmateriaal sonder die ware agtergrondfeite. Luister, ten spyte van die feit dat die Palestynse teenaanvalle nogal hewig is, was daar sover verbasend min Israeli-ongevalle. Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan die leër se besluit om verdagte huise te deursoek deur gate deur aangrensende mure te breek waar dit moontlik is, in plaas van oop en bloot in die nou en baie gevaarliker straatjies te beweeg. Of om die gebied gewoon plat te bombardeer soos die Amerikaners in dié stadium in Afghanistan doen. Ons Intelligensie slaap nie, hoor. Wat jy op die televisie sien, is die huise van terroriste en bomvervaardigers. Of dit is die huise van onskuldiges wat hulle vir dié doel, maar ook vir die nodige publisiteit, gebruik. Vra my, ek was self daar! Dat onskuldiges ook in die slag bly en doodgeskiet word, is onvermydelik. Dis oorlog.

    Analiste sê dat die lae sterftes en beserings ook te make het met die feit dat Arafat sy paramilitêre ‘polisie’ opdrag gegee het om nie Israel se invalle aktief te konfronteer nie. Hulle sê dié ou jakkals is slim en hy’t besef hy sal meer internasionale steun kry as sy mense wéér as die onskuldige duiwe voorgestel word wat deur die Israeliese ‘besettingsmagte’ geteister word. En die wêreld sluk dit alles.

    Dis moeilik as ’n mens geen ander inligting het om jou op te verlaat nie … verweer Marc verleë.

    Rivkah glimlag en raak lig met haar voorvinger aan sy arm. Ons besef dit, maar dit maak nie dinge vir ons makliker nie.

    "Ongelukkig het ons nie soveel sukses soos ons gehoop het met die opruiming nie. Die soldate het wel daarin geslaag om dosyne verdagtes te vang en duisende onwettige wapens te konfiskeer, maar die terroristenetwerke is hoogs beweeglik en daarom meesal ’n paar tree voor die oprukkende troepe. Om die waarheid te sê, die terroristeleiers was maande lank al so ’n inval te wagte, en het die voorste aktiviste en baie wapen- en bomvervaardigingfasiliteite uitgesmokkel en in bunkers in die sentrum van die belangrikste Palestynse dorpe gaan ingrawe. Sodat, as die IDF – dis nou Israel se leër – hulle daar wil gaan uitrook, die media pragtige foto’s van verwoeste geboue sal kan neem. Ou Shimon Peres, space cadet wat hy is, het hoeka gesê: ‘There is no battlefield anymore without television.’"

    Ons koerante in Suid-Afrika het ’n groot ophef gemaak van die Israeliese bevelvoerder wat sy manne opdrag gegee het om nommers op die arms en hande van die Palestynse gevangenes te skryf …

    Ja, ja, ja! Re’uven sug en stoot sy baret agtertoe. Die arme man, Shaul Mofaz, die IDF se stafhoof, was so in die verleentheid hy het die vent se velle letterlik van sy lyf af getrek. Maar ek weet hoekom die ou dit gedoen het! Dit was eenvoudig om ’n mate van orde te skep in die verskriklike deurmekaarspul wat daar geheers het. Die media het dit natuurlik onmiddellik aangegryp en met die Nazi-praktyke van die Tweede Wêreldoorlog vergelyk. Belaglik! Die offisier het die spul Palestyne, wat gewoon net ondervra is, beswaarlik genommer met die doel om hulle na die gaskamers te stuur!

    Die media sien hulle eenvoudig nie as terroriste nie, maar as arme, veronregte en onskuldige mense wie se land beset is. Hulle kry so swaar onder die brutale besetters dat hulle nie anders kan as om hul lewens op te offer deur Jode die ewigheid in te blaas nie, sê Rivkah.

    Maar het Arafat regtig nog enige beheer oor Hamas of die Islamitiese Jihad?

    Re’uven sug weer, breek ’n stuk van die vars Armeense pitabrood af en eet dit voordat hy antwoord. "Marc, luister, hierdie aanvalle is nie die werk van onbeheerbare Hamas of Islamitiese Jihad-volgelinge, of van desperate individue, soos die Palestynse apologete dit voortdurend wil hê nie. Dis ’n doelbewuste militêr politieke strategie wat Arafat self ondersteun in ontelbare toesprake waarin hy die martelare prys en aanmoedig. Ek belowe jou ons het klinkklare bewyse dat dit ’n opsetlike beleid is om alle hoop op vrede te vernietig en Israel te dwing om terug te trek. Ek wil hê jy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1