Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Israel-reeks 3: Shomer Yisra'el: Beskermer van Israel
Israel-reeks 3: Shomer Yisra'el: Beskermer van Israel
Israel-reeks 3: Shomer Yisra'el: Beskermer van Israel
Ebook422 pages8 hours

Israel-reeks 3: Shomer Yisra'el: Beskermer van Israel

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dis die somer van 2006 in Jerusalem en die tweede Libanese oorlog breek uit.
Marc, Rivkah en hul babaseuntjie word in die gewelddadige gebeure rondom hulle vasgevang. Wanneer die oorlog in intensiteit toeneem, word dit duidelik dat Marc, gevoelige kunstenaar wat hy is, beslis opgeroep gaan word. Hul persoonlike krisis verdiep wanneer hulle besef dat Rivkah weer swanger is, terwyl sy brand om as paramedikus haar deel tot die land se verdediging by te dra. Dit is iets wat Marc ten sterkste afkeur.
Terselfdertyd maak hulle kennis met Henok en Sarah Kambungu, twee Suid-Afrikaners wat hulle op hul eerste besoek aan Israel midde-in ’n oorlog bevind. Henok dra ná dertig jaar nog swaar aan sy donker herinnerings van die Kassinga-slagting gedurende die grensoorlog in Namibië.
En terwyl die oorlog rondom hom woed, kom rabbi Chaim Cohen, Marc se skoonpa, voor die grootste uitdaging van sy lewe te staan. Hoe gaan hy bekend maak dat Yeshua wel die Joodse Messias is, en wat gaan die gevolge van dié belydenis wees?
Shomer Yisra’el is die derde roman in die gewilde Israel-reeks.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 1, 2013
ISBN9780796316752
Israel-reeks 3: Shomer Yisra'el: Beskermer van Israel
Author

Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon is 'n bekende en bekroonde skrywer wat in Vredehoek, Kaapstad, woon. Sy is veral bekend vir haar liefdesromans – wat allerhande etiese en aktuele kwessies aansny – en het ook 'n passie vir Israel, wat die afgelope paar jaar uitgeloop het op tien gewilde romans wat in daardie land afspeel.

Read more from Marzanne Leroux Van Der Boon

Related to Israel-reeks 3

Related ebooks

Related articles

Reviews for Israel-reeks 3

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Israel-reeks 3 - Marzanne Leroux-Van der Boon

    Vir Mirelle, vir haar waardevolle beriggewing uit Jerusalem

    Vir George, my wonderlike, geduldige en skerp redakteur

    Vir my man, wat te alle tye sy sin vir humor behou het

    En veral vir HaShem, die Ewige, wat sy hand oor alles gehou het

    Een

    Jerusalem

    Donderdag 29 Junie 2006

    Die dag beloof om versengend warm te word. Nou, skuins voor nege, roer ’n effense luggie nog in die digte groen van die bome op die Hurvah-plein. Marc sit op een van die bankies en ruik die nag se dou in die blare. By sy voete staan sy skildertas en langs hom op die bank dut Shmu’el, styf teen sy baas aangekruip, in die son.

    Marc se oë volg die bewegings van die kleintjie voor hom op die kweek. Yhoshi het dae tevore, op tien en ’n half maande, sy eerste wankelrige treetjies gegee en ploeter nou kordaat oor die grasperk. Inderdaad kruip hy meer as wat hy loop, maar hy gee nie op nie. Onder sy een armpie knyp hy sy gehawende bruin beer vas. Dáársonder gaan jy nie sommer nie.

    Marc trek die sketsboek uit sy immerteenwoordige tas. Blitsig kras houtskool oor die wit papier. Met sy duim skakeer hy die nodige skadu’s in. Hy vang die son se lig in die donker krulhaartjies vas. Die gebreide kippah. Sagte rondings van ’n babagesiggie. Die donkerblou van Rivkah se oë. Die vingertjies fyn soos sy eie. Stewige kuitjies onder ’n broekie dik van doeke. Week van liefde en verwondering teken en teken hy.

    Eenkeer toe hy opkyk, sien hy die kleintjie mik in die rigting van een van die plein se katte wat in die son sitlê en slaap. Maar dié het hom lank reeds gewaar. Voordat die klein handjies aan sy gemmer stert kan gryp, spring die kat rats opsy, gaap, rek hom grasieus uit en skiet teen ’n boom op.

    Die kind gaan sit plat in die gras, ruk gefrustreerd die baksteenrooi kippah van sy kop af en smyt dit op die gras neer. Die hondjie spring van die bank af en is dadelik by. In sy geesdrif hardloop hy Yhoshi, wat net probeer opstaan, onderstebo sodat dié luidkeels aan die skree gaan, en sy beer vir lewe en dood vasklou.

    Marc staan op om sy seun en sy kippah te gaan red. Toe hy by Yhoshi kom, lig dié dadelik sy armpies om opgetel te word.

    "Abba!" kreet hy huilend, rooi van frustrasie.

    Marc tel hom op, druk die gesiggie teen sy bors vas. Die gebrul staak dadelik. Gou worstel hy hom weer uit die omhelsing los sodat sy pa hom neersit. Die voetjies raak skaars grond, of hy’s weer op pad met die hondjie op sy hakke. Marc bly met die kippah in die hand staan.

    Hy’t beslis van sy ma se energie geërf.

    Marc draai om na Moshe, wat agter hom kom staan het. Hy is die eienaar van Shorashim, die Bybelse boekwinkel aan die bopunt van die Hurvah-plein in die Ou Stad, op Tiferet Yisra’el, die deurloop na die Klaagmuur. Tydens Marc se eerste jare in Jerusalem, nog rou in sy nuutgevonde Joodsheid, was Moshe, ’n gelowige Ortodokse Jood, of soos hy homself noem, ’n godsdienstige Sionis, een van sy grootste mentors. Dikwels wanneer Marc nie aan die universiteit klas gee nie en op die Hurvah met sy sketsboek sit, kom Moshe uit sy winkel en gesels hulle kopstukke. Nou staan hy daar in sy veelkleurige kippah, sy kenbaardjie effens aan ’t vergrys, sy vriendelike oë op die spelende kleintjie.

    Môre, lag Marc. Hy het vir seker haar energie geërf, om maar één ding te noem. Gelukkig slaap hy snags deur, maar soggens sesuur is hy aan die gang.

    Het jy nie vandag klas nie?

    Eers elfuur. Ek hou hom en Shmu’el net ’n bietjie onder Rivkah se voete uit sodat sy gestort en aangetrek kan kom. Winkel al oop?

    Oorkant hulle weerkaats Shorashim se ruite die plein se grou stene en die goud van die son in die bome. ’n Vrou in ’n donker gewaad staan nog koulik van die nag se koelte ’n koppie koffie in die son en drink. ’n Rabbi, selfoon teen die oor gedruk, stap vinnig verby. Sy tzitzit wapper agter hom.

    Nog nie. Moshe sak op die bank neer. "Ek het vandag nie minder nie as drie Christen-groepe wat vir lesings kom. Daar’s by Christene van oor die wêreld bepaald ’n groeiende belangstelling in hul Hebreeuse wortels. Ek moes vroegmôre ook nog Jerusalem Insights uitgestuur kry."

    Moshe stuur hierdie joernaal met sienings en stories uit die Ou Stad op ’n gereelde basis uit. In die joernaal is ook die een of ander rabbi se gedagtes oor die week se parashah, ’n bepaalde gedeelte uit die Tora wat elke week deur Jode oor die hele wêreld gelees en in sinagoges bestudeer word.

    O, ja, dis weer tyd daarvoor.

    Moshe knik. Die dae verdwyn soos rook, het die psalmdigter gesê.

    Na wie toe stuur jy dit eintlik?

    Veral vir mense wat al hier by my vir lesings oor hul Hebreeuse wortels was. Hulle is oor die hele wêreld versprei. Daar is groot belangstelling onder Christene in waar hul geloof vandaan kom. Wat Jesus se agtergrond was.

    Dit gaan per internet?

    Moshe knik. Vir seker. Ek sal dit nooit met gewone pos kan byhou nie.

    Is dit gewoonlik groepe wat hier in Israel kom toer?

    Hoofsaaklik.

    Hulle sit ’n ruk lank stil en kyk na Yhoshi, wat met sy hond op die gras speel, die hele tyd met die beertjie onder die arm.

    Hulle lag toe hy die beer versigtig afstof en soen toe hy hom laat val.

    Ek het nog nie veel kans gehad vir nuus luister nie. Het jy iets van Gilad of Eliyahu gehoor?

    Nie oor die vroeë nuus nie, nee. Marc skud sy kop. Sondag is altwee op die een dag ontvoer. Wat is aan die gang?

    Verskriklik! My hart is by daardie ouers. Dit moet ondraaglik wees om geen idee te hê wat van jou seun geword het nie. In terroriste se hande. Hier is groot moeilikheid aan die kom.

    ’n Rilling loop langs Marc se rug af. Wat is die kanse dat ons hulle sal terugkry?

    Moshe sug en stryk oor sy kenbaard. Ek dink in Gilad se geval is daar nog ’n skraal kans dat hy lewend sal terugkom. Ek glo Hamas wil hom gebruik om die vrylating van Palestyne in Israelse tronke af te dwing. Maar Eliyahu is nie ’n soldaat nie. Ek glo nie ’n setlaar het bedingingswaarde by wat ons deesdae vir ’n regering het nie. Vir hóm het ek bitter min hoop.

    Wat presies het daar gebeur? Met die soldaat se ontvoering op dieselfde dag het die media nie soveel aandag aan Eliyahu gegee nie.

    Ja, vir die pers was hy net ’n ‘setlaar’. Bitterheid slaan in Moshe se stem deur. En setlaars is nie belangrike mense nie.

    Hy was nie voorheen van Gush Katif nie, was hy?

    "Nee, hy’s nie ’n Gasa-setlaar nie. Maar hy is van die Itamar-nedersetting, wat hom wel ’n setlaar maak. Hy was ’n gewone yeshiva-student, agtien jaar oud, wat van Jerusalem af terug na sy premilitêre yeshiva in Neve Tzuf wou ryloop. Soos honderde ander skoliere en studente elke dag doen …"

    Hy is by die French Hill-busstop opgetel, hoor ek.

    Moshe knik. HaShem alleen sal weet wat nou van hom geword het. Ek het absoluut geen hoop dat hy nog leef nie, want dis bepaald Palestynse terroriste wat hom opgelaai het. En dit was vier dae gelede. So …

    Yhoshi het op Marc se skoot kom klim. Hy lê met sy natgeswete koppie teen sy pa se hemp. Marc vryf sag deur sy hare en dis nie lank voordat die lang wimpers oor die donker ogies toeval nie.

    Daardie buitepos waar hulle Gilad gevat het, is mos by die Kerem Shalom-kruising. Ek was verlede jaar saam met Rivkah se broer daar en ek kan nie dink hoe húlle so onkant gevang kon gewees het nie. Die plekke word so goed bewaak.

    Jong, dit was net so ’n ongelooflik brutale aanval. ’n Lokval eintlik. Blykbaar is daar die afgelope paar weke in die geheim ’n lang tonnel onder die suidelike grens tussen Israel en Gasa gegrawe. Sondagoggend, net voor dagbreek, het agt hoogs opgeleide Palestynse terroriste skielik daar uitgebreek, die leërbasis binnegestorm, handgranate gegooi en onophoudelik met outomatiese wapens op die soldate losgebrand. Dié was stom geskok. Hulle was nie op so iets voorberei nie.

    Ek verstaan in die proses is ’n Merkava-tenk opgeblaas. Die goed is mos verskriklik swaar gepantser … ?

    Gee jou ’n idee hoe goed bewapen die terroriste was. Jy weet hulle het twee soldate daar op die plek doodgeskiet en ’n paar gewond, een ernstig?

    So het ek gehoor.

    En toe is hulle met Gilad Shalit daardie digbevolkte Gasastad binne. Waar gaan mens hóm soek?

    Marc onthou dié tierende stad wat hy die vorige jaar uit die IDF-buitepos kon sien toe hulle saam met Re’uven in Gush Katif was. Hy het die dinge al gehoor waaroor Moshe praat, maar luister nogtans weer ontsteld daarna.

    "Is dit net Hamas wat hiervoor verantwoordelik is of het Abbas ook ’n hand in die pie?" wil hy weet.

    "Hamas se opdragte kom via Damaskus uit Iran. Mahmoed Abbas is nie veel meer as ’n strooipop nie. Ek sal nie verbaas wees as die IDF Gasa weer beset nie. Ons dorpe in die Negev word aanhoudend daarvandaan met kassams bestook. Dink maar aan Sderot."

    Wie sal weet wat in Ehud Olmert se kop aangaan? sug Marc.

    Die Israeli’s sien Olmert, wat Ariel Sharon ná dié se beroerte die vorige jaar as premier opgevolg het, oor die algemeen as slap en sonder fut; as iemand wat maar net polities korrek wil optree om deur die Westerse wêreld aanvaar te word. Hy was ’n groot voorstander van die onttrekking uit Gasa, wat nou by Israel kom spook het.

    Die gedagte aan die gewilde minister van binnelandse veiligheid kom by Moshe op.

    "Avi Dichter sê dan openlik dit kan vir die IDF nodig wees om gedeeltes van die noordelike Gasastrook permanent te beset as die aanhoudende kassam-aanvalle nie end kry nie."

    "Oy vey! Dan word ons weer die wêreld se muishond," sê Marc bitter.

    Sal dit dan iets nuuts wees? Het jy verlede week gesien wat sê Yuval Diskin van Shin Bet?

    Ja … ons veiligheidsdiens. Ek het gehoor hulle praat oor die wapens wat in Gasa ingesmokkel word. Dis glo meer as wat in die laaste agt en dertig jaar sedert Israel daar in beheer is, die streek binnegekom het.

    Juis. Dit word ’n vesting vir al wat ’n terroris is.

    Marc kyk af op die slapende gesiggie van sy seuntjie en ril merkbaar sodat Moshe sy hand ’n oomblik op Marc se arm lê. Shomer Yisra’el sluimer of slaap nie, Marc. Nooit nie.

    Die twee mans skrik toe die hond by hul voete skielik opspring en skerp begin blaf. Toe hulle omkyk, sien hulle Rivkah oor die plein aangestap kom.

    Marc kyk na sy vrou en ’n glimlag verhelder sy gesig. Nou nog, ná vier jaar, jeuk sy vingers om haar te teken. Die tenger figuurtjie, wilde krulhare agtertoe gebind met ’n doek blouer nog as haar oë. As jy haar so sien, dink hy, en die glimlag verdiep sonder dat hy dit agterkom, sal jy dink sy’s die sagste dingetjie wat jy in jou arms kan toevou. Niks van haar vuur is nou sigbaar nie.

    "Shalom," sê sy sag vir Moshe en kom by haar man staan. Yhoshi maak sy oë oop toe hy sy ma se stem hoor. Sy tel hom van Marc se skoot af op en soen hom oor sy hele gesiggie en in sy nek sodat hy slaperig lag.

    Nou naby hom, sien Marc hoe donker haar oë is en hy reik na haar hand.

    Sy druk die kleintjie teen haar skouer vas en sug. Hulle het Eliyahu Asheri se liggaam gekry. Blykbaar vroeg vanoggend, maar dis nou eers bekendgemaak.

    Moshe kreun. Wat het gebeur?

    Rivkah wieg die kind, wat weer teen haar nek aan die slaap geraak het. Die terroriste het hom blykbaar baie kort nadat hulle hom opgelaai het in die kop geskiet. Sy verkoolde liggaam is iewers by Ramallah gekry. Intelligensie het blykbaar uitgevind waar een van die terroriste bly en ’n eenheid van die IDF het die huis in El Bireh omsingel. Hulle het die terroris gearresteer en hy het blykbaar baie gou gesing, alles vertel wat gebeur het en die soldate na die liggaam toe geneem.

    Dis waarvoor ek bang was. Moshe sug baie diep. Wanneer is die begrafnis?

    Vieruur op die Olyfberg.

    Dan sal ek gaan, sê hy afgemete. "Ek sal een van my lesings afstel en gaan. Ek glo nie daar sal veel mense wees nie. Itamar is ’n klein dorpie en Neve Tzuf, waar sy yeshiva was, is ’n klein yishuv."

    Ek wil ook gaan.

    Marc kyk op na Rivkah. Ek sal dit ook kan maak, ek is vandag al twee-uur klaar.

    Dankie, sê sy en hy sien haar oë blink van ingehoue trane.

    Wat sal ons met Yhoshi doen? vra hy sag.

    Ek sal hom by Shlomit laat bly. Sy sal nie gaan nie. Yaniv kry tande en hy’s huilerig.

    Moshe het opgestaan. Die drie kyk mekaar ’n paar oomblikke stil aan. Toe sê Moshe sag: "Shalom," en stap weg, sy kop laag tussen sy skouers.

    Selfs later die middag is dit nog siedend warm. Vir Marc en Rivkah word dit gou duidelik dat baie, baie mense dieselfde besluit as hulle geneem het. Ondanks die feit dat die pers die jong setlaar se dood koel bejeën het en daar in politieke kringe byna geen aandag aan gegee is nie, ruk letterlik duisende mense ten spyte van die geweldige hitte op na die begrafnishuis in die Jerusalemse buurt Sanhedrin.

    Ek sien niemand van die regering hier nie, sê Marc nadat hulle iewers ’n staanplekkie gekry het.

    Het jy dit dan verwag? vra Rivkah bitter. Daar anderkant staan Effie Eitam darem.

    Marc merk verbaas dat die oorweldigende meerderheid rouklaers tieners is. Aan die kleredrag is dit duidelik dat hulle byna deurgaans Ortodoks is. Baie dra die oranje linte van solidariteit ter aandenking aan die setlaars wat die vorige jaar uit Gush Katif in Gasa gegooi is.

    Die skare het begin om bekende psalms saam te siteer en dis asof dit hulle nader aan mekaar laat beweeg. Toe die familie met die liggaam aankom, verstil die stemme. Gedurende die lang seremonie staan die skare stil voor die grys klipgebou. Terwyl een spreker ná die ander hul pyn uitstort oor die verlies van nog ’n jong siel aan die barbaarsheid van Palestynse terreur, is al wat hoorbaar is die sagte gehuil van Eliyahu se vier broers en susters en die geruis van die bladsye van siddurs wat omgeblaai word.

    Terwyl hy staan en luister, dink Marc daaraan dat daar geen oproepe om wraak geskreeu word nie. Nêrens word masjiengewere in die lug afgeskiet om die skare tot ’n raserny van haat op te sweep nie. Daar is net die sagte gesnik van vroue en jong meisies. Hy kyk na Rivkah om dit vir haar te noem, maar hy sien hoe wit sy om die mond is. Hy voel haar pyn aan. En die magtelose woede. Hy wil sy arm om haar slaan, want hy sien sy byt op haar tande. Maar sy staan so verskriklik regop, haar ken so hoog gelig, dat hy dit nie doen nie.

    Die son brand genadeloos op die skare neer. Iemand het ’n paar bottels water gekoop en dit sirkuleer onder die skare. Rabbi Amar, die hoofrabbyn, kom aan die woord, maar hy raak so bewoë dat hy vir ’n lang tyd nie kan praat nie.

    Dit word doodstil toe Eliyahu se ma, Miryam, vorentoe kom om te praat. Sy sien daar klein en oud en weerloos uit, al kan sy skaars in haar middelveertigs wees. Haar stem hang dun in die lug, soos dié van ’n klein voëltjie.

    Eliyahu, ons liefling, jy het in ’n nagtelike storm hemel toe gegaan soos die profeet wie se naam jy gedra het.

    Sy vertel hoe Eliyahu, wanneer hulle as ’n gesin om die Shabbat-tafel gesit het, hulle keer op keer gemaan het om nie ander te oordeel nie. Daar is maar één versoek wat ek vir jou het, Eliyahu. Wanneer jy voor die Ewige staan, tree dan asseblief in vir die volk Israel in alles wat hulle doen.

    Ná die lofbetuigings pak die meeste mense die lang tog na die Joodse begraafplaas op die Olyfberg aan. Waar hulle uit Sanhedrin by die hoofpad indraai, hou die polisie die verkeer teë. Die stilte waarmee die massa mense beweeg, is byna onwerklik. Al wat Marc hoor, is die geluid van voete en die gekwetter van voëls in die bome. Hy merk dat, ten spyte van die verkeersopeenhoping in al die systraatjies waar hulle verbyloop, niemand op ’n toeter druk nie. Hier en daar klim mense uit hul motors en staan stil na die optog en kyk.

    Die koningsblou paneelwa wat Eliyahu na sy laaste rusplek neem, kom stadig verby. Honderde mans loop saam. Baie met hul hande teen die kant van die voertuig terwyl hulle gebede prewel. Marc voel Rivkah se beswete hand na syne soek en hy neem dit styf in syne.

    Dis ’n lang staptog in die versengende son van bo en die hitte wat uit die teer opslaan. Hulle het elkeen net een botteltjie water in hul rugsakke saamgeneem. Dié is lankal op. Die laaste deel van die roete na die begraafplaas gaan deur ’n Arabiese enklave. Arabiese mans sit op plastiekstoele voor verwaarloosde winkeltjies en woonstelblokke. Baie rook, ander sit net stilswyend na die optog en kyk. Deur die vensters loer vroue met bedekte hoofde. Marc merk dat daar geen enkele vrou of meisie op straat te sien is nie. ’n Ondernemende Arabier het ’n tafel uitgesit waarop hy tweeliterbottels met water te koop aanbied. Niemand koop nie, al het die meeste mense waarskynlik erg dors.

    Israeli-soldate in hul bekende olyfgroen uniforms is oral in groepe van vier tot ses opgestel. Hul gewere hang nie soos gewoonlik agter hul rûe nie, hulle hou dit teen hul sye vas. Hul gesigte is behoedsaam en gespanne. Daar is geen teken van die gewone skertsery en gelag nie.

    In die begraafplaas gaan Marc en Rivkah eenkant op een van die terrasse sit. Hulle kyk in stilte toe hoe honderde mense langs die graf verbyloop om ’n klippie daarop te plaas. Dit stapel so hoog dat die kranse wat daar gelê is, byna nie meer gesien kan word nie. Baie tieners maak beurte om langs die graf op die grond te gaan sit en snikkend van hul vriend afskeid te neem. Meisies staan huilend in groepies, arms om mekaar geslaan. Jong mans in hul vroeë twintigs slaan mekaar op die rug en val dan in mekaar se arms om onbeskaamd te huil.

    Marc-hulle wag totdat die skare redelik uitgedun geraak het voordat hulle ook tot by die graf loop om ’n klippie daarop neer te sit. Oral rondom hulle breek mans in groepies van tien weg om ’n minyan te vorm en saam te bid. ’n Man met ’n donker baard en swart hoed kom lê ’n lowergroen krans op die klippies en bly ’n paar oomblikke lank in eerbiedige stilte daar staan. Sweet pêrel onder sy hoed uit en meng met sy trane.

    Ons sal seker moet teruggaan, sê Marc behoedsaam toe hy merk hoe donker die skadu’s onder Rivkah se oë geword het.

    Sy kyk vinnig na hom, sug. Seker, sê sy, Yhoshi moet byna bed toe en dis nog ver tot by die busstop.

    Ons sal ’n taxi haal, sê Marc beslis en neem haar hand. Het dit vandag nie vir jou ook gevoel asof ons almal daar familie is nie?

    Ons is Jode, sê sy net.

    Hulle praat nie terwyl hulle terugstap nie. Dit het koeler geword en die hoë dennebome keer die son uit hul oë. ’n Skaars merkbare briesie het in die bome se toppe begin roer. Dit laat Marc aan die vroeë oggend met Yhoshi onder die bome dink.

    Terug deur die Arabiese strate het die spanning onder die soldate merkbaar verslap. Dis hier en daar duidelik dat ’n paar afgevaardig is om eet- en drinkgoed vir die res te gaan koop. Party sit op hul hurke langs pakkies kos wat op papier op die grond oopgesprei is, en gesels gedemp met mekaar.

    Om ’n nie-Arabiese taxi te vind, blyk moeiliker te wees as wat Marc verwag het en eindelik haal hulle tog maar ’n bus tot in die middestad. In King Georgestraat klim hulle af. Hulle stap deur Onafhanklikheidspark, met Gershon Agronstraat verby Mamilla-begraafplaas na die Jaffa-poort terug na die Ou Stad, moeg, dors en emosioneel uitgeput.

    Midsomer in Jerusalem is die dae lank. Vanaand word dit byna agtuur voordat die kerse aangesteek kan word. Een maal per maand kom die hele familie in Chaim en Hadassah se ruim woonstel in Gilo saam vir Erev Shabbat. Marc en Rivkah met Yhoshi; Re’uven en Shlomit met Yaniv. Oor die Shabbat-tafel, waar silwerware op ’n wit tafelkleed skitter en die geel rose die laaste lig vang, huiwer die eggo van Rivkah se droewige relaas oor die vorige dag se begrafnis nog.

    Buite het die stad Shabbat-stil geword.

    Die herinnering aan sy eerste aand aan hierdie selfde Shabbat-tafel is meteens lewendig by Marc. Dit was vier jaar gelede – tydens sy eerste besoek aan Israel. Hy het pas tot die ontdekking gekom dat hy Joods is en het sy wortels kom soek. Op die eerste dag al het hy Rivkah, toe nog ’n soldaat, ontmoet. Binne dae het hy geweet dat hy haar liefgekry het. Dis toe dat sy hom, oningelig soos hy was oor Joodse tradisies, genooi het om die Shabbat-maal met hulle te kom deel. Om haar mense te ontmoet.

    Hoe goed onthou hy nou sy eerste bewuswording van die teenwoordigheid van Adonai, wat op Erev Shabbat, wanneer die son ondergaan, oor die huise en oor Jerusalem neerdaal. Op daardie tydstip, wat hy nou so goed ken, wanneer die sandsteen van die geboue goud raak en die hemele rosig.

    Toe het hy Chaim en Hadassah ontmoet, maar hoe droef was daardie Pesach van 2002 nie: ’n Tyd van ’n verskriklike vlaag selfmoordbomaanvalle in Jerusalem; van die Seder-gruwel in Netanya … met Re’uven en Rivkah albei so nou by die Defensive Shield-oorlog betrokke.

    Die vier jaar het verbygehaas, dink hy. Maar wanneer hy na sy vrou kyk, wat plat op die mat met Yhoshi sit om hom te voer, besef hy hoe geweldig baie gebeur het. Asof sy bewus word van sy gedagtes, kyk Rivkah op. Haar donker hare krul oor haar skouers en haar mond is sag.

    Om ’n ma te wees het haar net mooier gemaak, dink hy.

    Sy lag. Wat droom jy? vra sy.

    Van jou, vorm sy lippe die woorde.

    Hy sien met genoeë hoe kleur in haar wange kruip.

    Chaim kom staan in die woonkamerdeur en kyk met sigbare ontroering na sy twee skoondogters, wat elkeen ’n lewenslustige baba sit en voer.

    "Baruch HaShem, sê hy en slaan sy arm om sy vrou se skouer. Verlede jaar dié tyd was ons net ses en nou is ons agt."

    Weldra staan jou kleinseuns soos jong olyfboompies om jou Shabbat-tafel, Chaim. Sy vrou vryf haar wang teen sy skouer.

    Geseënd is die Ewige van Israel, van wie elke goeie gawe kom.

    Re’uven tel sy seuntjie uit sy ma se skoot en vee sy neusie met ’n sakdoek af. Tien minute voordat die kerse aangesteek word, mense.

    Marc neem Yhoshi by Rivkah, druk die kippah reg op sy woeste krulle. Sy oog vang ’n oomblik lank dié van sy skoonpa, wat kwalik merkbaar knik. Marc is al een wat weet dat Chaim Yeshua amper ’n jaar gelede as die Joodse Messias leer ken het.

    Die rabbi trek sy swart hoed effens dieper oor sy kop en sit Ma ToeVoo met sy diep stem in. Hoe lieflik is jou tente, Jakob, jou wonings, Israel, sing hulle. En toe die pragtige L’cha Dodi: Kom, my geliefdes, laat ons die bruid verwelkom, laat die teenwoordigheid van Shabbat ons harte vervul …

    Hadassah kom die kerse aansteek. Die vroue trek serpe oor hul hare. Almal lag toe Yhoshi amper uit sy pa se arms val soos hy vorentoe beur om by die kerslig uit te kom.

    "Baruch Atah Adonai, Eloheinu …" bid Hadassah sag, haar hande oor haar oë geskerm:

    "Geseënd is U, o Adonai Eloheinu,

    Koning van die heelal,

    wat ons geheilig het deur u Tora.

    U het ons geroep om die Shabbat

    met lig te vereer,

    met vreugde en met vrede.

    Soos ’n bruid en haar bruidegom

    mekaar liefhet,

    so steek ons hierdie twee kerse aan

    uit liefde vir u dogter,

    die Shabbat "

    Die kerslig glim in Chaim se brilglase toe hy die Sabbat seën: "Eloheinu, Elohim van ons vaders, mag ons rus U bly maak. Heilig ons deur u verordeninge en verlewendig u Tora in ons harte. Versadig ons met u goedheid en verheug ons in u Verlossing … " Weer ontmoet sy oë vir ’n kort oomblik Marc s’n.

    Daarna lig hy die wynbeker en seën Hom wat die vrug van die wynstok voortbring. Selfs die kleintjies kry van die wyn te proe. Yaniv stik van die proeseltjie, maar Yhoshi gryp na die silwerkelk. Ook die Shabbat-challah word geseën en almal eet van die heerlike eierbrood.

    Die rabbi hou sy hand seënend oor sy vrou en die twee jong vroue. Wie sal ’n deugsame vrou vind, want haar waarde is ver bo korale.

    Toe spreek hy die seën oor sy twee kleinseuns uit: "Yesimcha Elohim … Mag die Ewige gee dat julle sal wees soos Efraim en Manasse." Hy lê sy hand afsonderlik op elkeen se koppie en sy stem bewe van ontroering.

    Dan lig hy sy hande oor almal en spreek die priesterlike gebed oor hulle uit: "Y’varekh’kha Adonai, v’ishmerekha … Adonai sal julle seën en julle behoed; Adonai sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; Adonai sal sy aangesig oor julle verhef en julle shalom gee."

    Daarna sing almal saam. Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu, Adonai echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed.

    Ná ete gaan Rivkah en Shlomit die babas in hul stootkarretjies aan die slaap maak. Die mans versit na gemakliker stoele in die woonkamer en weldra wentel die gesprek tog maar om die gebeure van die afgelope week en die gespanne toestand in die land.

    Olmert se regering is nie opgewasse teen hierdie situasie nie, sê Re’uven en roer afgetrokke sy koffie. Dis pynlik om te sien hoe hy en ministers soos Amir Peretz en Tzipi Livni sukkel om iets te begryp van wat die gevolge gaan wees van die Palestynse aanval op die IDF Sondag. Een oomblik sê hulle Abbas is verantwoordelik vir Shalit se vrylating, dan sê hulle weer Hamas moet in hul spoor trap of hulle word aangevat. En net die volgende oomblik sê hulle hulle gaan nie nou teen Hamas optree nie. En net nadat hulle bekendgemaak het hulle sal onder geen omstandighede met terroriste onderhandel nie, gaan praat Olmert met Hamas. Wat ’n gek manier van doen! Wie kan ontsag hê vir ’n land wat só rondval?

    Wat anders bly daar vir hulle oor om te doen? vra sy suster, wat weer by hulle aangesluit het. "As hulle iets anders probeer doen, moet hulle erken dit was ’n ramp om uit Gasa te onttrek – erken dat dit net een ding tot gevolg gehad het: om terroriste die hef in die hand te gee. En as jy terroriste bemagtig, is hulle bemagtig. Dis eenvoudig ’n basiese waarheid. En Olmert en sy Kadima-party hou by hul onbegryplike sienswyse dat as jy ’n terroris bemagtig, maak jy hom minder aggressief, raak hy makliker hanteerbaar, kan jy met hom onderhandel. Absolute snert, dit weet ons tog almal. Is dit nie wat Ehud Barak ook met Yasser Arafat probeer het nie? En waar het dit ons laat beland? Met nog ’n Intifada."

    Die grootste wanopvatting waarvoor Olmert en sy trawante geval het, en die VSA saam met hulle, is dat Abbas teen terrorisme is … dat hy ’n vennoot vir vrede is, sug Re’uven. Hulle wil Abbas sielsgraag sien as ’n betroubare vredesonderhandelaar, ’n bondgenoot van Israel. As ons hóm verloor, reken hulle, bly daar vir ons niks anders as Hamas oor nie. En aangesien Hamas slegte nuus is, móét Abbas goeie nuus wees. Ongelukkig is Abbas ook ’n terroris.

    Vir my lyk dit nie of daar veel verskil tussen Hamas en Abbas se Fatah is nie, sê Hadassah, wat ook weer kom sit het nadat sy die etenstafel opgeruim het.

    "Albei terroriste, Imma. Geen verskil nie."

    En as mens dink aan die duisende gewere en miljoene patrone ammunisie wat die VSA Abbas verlede maand gegee het … Marc skud sy kop.

    Wat het hy daarmee gedoen? val sy vrou hom sonder seremonie in die rede. Hy’t sy man in beheer van veiligheid opdrag gegee om met Hamas saam te werk en Palestyne te vermoor wat daarvan verdink word dat hulle ons met ons antiterreuroperasies help.

    Inderdaad, sê Re’uven. En hierdie sogenaamde bondgenoot van Israel is besig om in samewerking met Hamas se premier ’n bloudruk vir oorlog, wat opgestel is deur daardie massamoordenaar wat hier in die tronk sit, as ’n vredesplan voor te lê.

    Het jy dit oor Marwan Barghouti? vra die rabbi.

    Hy, Abbas, einste hy. Abbas is net so verantwoordelik vir Sondag se aanval by Kerem Shalom-grenspos as wat Hamas is. Fatah het gedreig om Israel met chemiese en biologiese wapens aan te val en weer met aanvalle in Jerusalem te begin as die IDF ’n groot operasie in Gasa onderneem.

    Ek glo nie die regering kan waag om te erken dat Hamas en Fatah hand aan hand loop nie, want dan sal hulle moet erken dat Abbas ’n terroris is. Dit sal beteken hulle moet erken om hom te bemagtig beteken om terroriste te bemagtig, sê Marc.

    Rivkah kyk op, duidelik verras oor haar man se insig. Sy knipoog vir Re’uven.

    Absoluut. Sy swaer knik in Marc se rigting. "Ehud Olmert en sy agterryers het nog ’n hele paar ander slagspreuke, behalwe hul paai-die-terroriste-clichés. Soos oor die veiligheidsheining onder meer: ‘Ons sal hier

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1