Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Israel-reeks: Omnibus 2: Tiferet Yisra'el en Shomer Yisra'el
Israel-reeks: Omnibus 2: Tiferet Yisra'el en Shomer Yisra'el
Israel-reeks: Omnibus 2: Tiferet Yisra'el en Shomer Yisra'el
Ebook811 pages22 hours

Israel-reeks: Omnibus 2: Tiferet Yisra'el en Shomer Yisra'el

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Shomer Yisra'el: Die tweede Libanese oorlog breek uit en Marc word opgeroep. Hul persoonlike krisis verdiep wanneer hulle besef dat Rivkah weer swanger is. 

Tiferet Yisra'el: Elke keer wanneer Marc vrees ervaar raak hy bewus van die teenwoordigheid van die Heilige by hom. Hy worstel met sy eie bitterheid wanneer sy ma ’n slagoffer van Suid-Afrika se misdaadprobleem word.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 17, 2021
ISBN9780796322722
Israel-reeks: Omnibus 2: Tiferet Yisra'el en Shomer Yisra'el
Author

Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon is 'n bekende en bekroonde skrywer wat in Vredehoek, Kaapstad, woon. Sy is veral bekend vir haar liefdesromans – wat allerhande etiese en aktuele kwessies aansny – en het ook 'n passie vir Israel, wat die afgelope paar jaar uitgeloop het op tien gewilde romans wat in daardie land afspeel.

Read more from Marzanne Leroux Van Der Boon

Related to Israel-reeks

Related ebooks

Related articles

Reviews for Israel-reeks

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Israel-reeks - Marzanne Leroux-Van der Boon

    9780624089810_FC

    Israel-reeks: Omnibus 2

    Shomer Yisra’el: Beskermer van Israel

    Tiferet Yisra’el: Die roem van Israel

    Marzanne Leroux-Van der Boon

    LUX VERBI

    Shomer Yisra’el: Beskermer van Israel

    Vir Mirelle, vir haar waardevolle beriggewing uit Jerusalem

    Vir my man, wat te alle tye sy sin vir humor behou het

    En veral vir HaShem, die Ewige, wat sy hand oor alles gehou het

    Hoofstuk 1

    Jerusalem

    Donderdag 29 Junie 2006

    Die dag beloof om versengend warm te word. Nou, skuins voor nege, roer ’n effense luggie nog in die digte groen van die bome op die Hurvah-plein. Marc sit op een van die bankies en ruik die nag se dou in die blare. By sy voete staan sy skildertas en langs hom op die bank dut Shmu’el, styf teen sy baas aangekruip, in die son.

    Marc se oë volg die bewegings van die kleintjie voor hom op die kweek. Yhoshi het dae tevore, op tien en ’n half maande, sy eerste wankelrige treetjies gegee en ploeter nou kordaat oor die grasperk. Inderdaad kruip hy meer as wat hy loop, maar hy gee nie op nie. Onder sy een armpie knyp hy sy gehawende bruin beer vas. Dáársonder gaan jy nie sommer nie.

    Marc trek die sketsboek uit sy immerteenwoordige tas. Blitsig kras houtskool oor die wit papier. Met sy duim skakeer hy die nodige skadu’s in. Hy vang die son se lig in die donker krulhaartjies vas. Die gebreide kippah. Sagte rondings van ’n babagesiggie. Die donkerblou van Rivkah se oë. Die vingertjies fyn soos sy eie. Stewige kuitjies onder ’n broekie dik van doeke. Week van liefde en verwondering teken en teken hy.

    Eenkeer toe hy opkyk, sien hy die kleintjie mik in die rigting van een van die plein se katte wat in die son sitlê en slaap. Maar dié het hom lank reeds gewaar. Voordat die klein handjies aan sy gemmer stert kan gryp, spring die kat rats opsy, gaap, rek hom grasieus uit en skiet teen ’n boom op.

    Die kind gaan sit plat in die gras, ruk gefrustreerd die baksteenrooi kippah van sy kop af en smyt dit op die gras neer. Die hondjie spring van die bank af en is dadelik by. In sy geesdrif hardloop hy Yhoshi, wat net probeer opstaan, onderstebo sodat dié luidkeels aan die skree gaan, en sy beer vir lewe en dood vasklou.

    Marc staan op om sy seun en sy kippah te gaan red. Toe hy by Yhoshi kom, lig dié dadelik sy armpies om opgetel te word.

    "Abba!" kreet hy huilend, rooi van frustrasie.

    Marc tel hom op, druk die gesiggie teen sy bors vas. Die gebrul staak dadelik. Gou worstel hy hom weer uit die omhelsing los sodat sy pa hom neersit. Die voetjies raak skaars grond, of hy’s weer op pad met die hondjie op sy hakke. Marc bly met die kippah in die hand staan.

    Hy’t beslis van sy ma se energie geërf.

    Marc draai om na Moshe, wat agter hom kom staan het. Hy is die eienaar van Shorashim, die Bybelse boekwinkel aan die bopunt van die Hurvah-plein in die Ou Stad, op Tiferet Yisra’el, die deurloop na die Klaagmuur. Tydens Marc se eerste jare in Jerusalem, nog rou in sy nuutgevonde Joodsheid, was Moshe, ’n gelowige Ortodokse Jood, of soos hy homself noem, ’n godsdienstige Sionis, een van sy grootste mentors. Dikwels wanneer Marc nie aan die universiteit klas gee nie en op die Hurvah met sy sketsboek sit, kom Moshe uit sy winkel en gesels hulle kopstukke. Nou staan hy daar in sy veelkleurige kippah, sy kenbaardjie effens aan ’t vergrys, sy vriendelike oë op die spelende kleintjie.

    Môre, lag Marc. Hy het vir seker haar energie geërf, om maar één ding te noem. Gelukkig slaap hy snags deur, maar soggens sesuur is hy aan die gang.

    Het jy nie vandag klas nie?

    Eers elfuur. Ek hou hom en Shmu’el net ’n bietjie onder Rivkah se voete uit sodat sy gestort en aangetrek kan kom. Winkel al oop?

    Oorkant hulle weerkaats Shorashim se ruite die plein se grou stene en die goud van die son in die bome. ’n Vrou in ’n donker gewaad staan nog koulik van die nag se koelte ’n koppie koffie in die son en drink. ’n Rabbi, selfoon teen die oor gedruk, stap vinnig verby. Sy tzitzit wapper agter hom.

    Nog nie. Moshe sak op die bank neer. "Ek het vandag nie minder nie as drie Christen-groepe wat vir lesings kom. Daar’s by Christene van oor die wêreld bepaald ’n groeiende belangstelling in hul Hebreeuse wortels. Ek moes vroegmôre ook nog Jerusalem Insights uitgestuur kry."

    Moshe stuur hierdie joernaal met sienings en stories uit die Ou Stad op ’n gereelde basis uit. In die joernaal is ook die een of ander rabbi se gedagtes oor die week se parashah, ’n bepaalde gedeelte uit die Tora wat elke week deur Jode oor die hele wêreld gelees en in sinagoges bestudeer word.

    O, ja, dis weer tyd daarvoor.

    Moshe knik. Die dae verdwyn soos rook, het die psalmdigter gesê.

    Na wie toe stuur jy dit eintlik?

    Veral vir mense wat al hier by my vir lesings oor hul Hebreeuse wortels was. Hulle is oor die hele wêreld versprei. Daar is groot belangstelling onder Christene in waar hul geloof vandaan kom. Wat Jesus se agtergrond was.

    Dit gaan per internet?

    Moshe knik. Vir seker. Ek sal dit nooit met gewone pos kan byhou nie.

    Is dit gewoonlik groepe wat hier in Israel kom toer?

    Hoofsaaklik.

    Hulle sit ’n ruk lank stil en kyk na Yhoshi, wat met sy hond op die gras speel, die hele tyd met die beertjie onder die arm.

    Hulle lag toe hy die beer versigtig afstof en soen toe hy hom laat val.

    Ek het nog nie veel kans gehad vir nuus luister nie. Het jy iets van Gilad of Eliyahu gehoor?

    Nie oor die vroeë nuus nie, nee. Marc skud sy kop. Sondag is altwee op die een dag ontvoer. Wat is aan die gang?

    Verskriklik! My hart is by daardie ouers. Dit moet ondraaglik wees om geen idee te hê wat van jou seun geword het nie. In terroriste se hande. Hier is groot moeilikheid aan die kom.

    ’n Rilling loop langs Marc se rug af. Wat is die kanse dat ons hulle sal terugkry?

    Moshe sug en stryk oor sy kenbaard. Ek dink in Gilad se geval is daar nog ’n skraal kans dat hy lewend sal terugkom. Ek glo Hamas wil hom gebruik om die vrylating van Palestyne in Israeliese tronke af te dwing. Maar Eliyahu is nie ’n soldaat nie. Ek glo nie ’n setlaar het bedingingswaarde by wat ons deesdae vir ’n regering het nie. Vir hóm het ek bitter min hoop.

    Wat presies het daar gebeur? Met die soldaat se ontvoering op dieselfde dag het die media nie soveel aandag aan Eliyahu gegee nie.

    Ja, vir die pers was hy net ’n ‘setlaar’. Bitterheid slaan in Moshe se stem deur. En setlaars is nie belangrike mense nie.

    Hy was nie voorheen van Gush Katif nie, was hy?

    "Nee, hy’s nie ’n Gasa-setlaar nie. Maar hy is van die Itamar-nedersetting, wat hom wel ’n setlaar maak. Hy was ’n gewone yeshiva-student, agtien jaar oud, wat van Jerusalem af terug na sy premilitêre yeshiva in Neve Tzuf wou ryloop. Soos honderde ander skoliere en studente elke dag doen …"

    Hy is by die French Hill-busstop opgetel, hoor ek.

    Moshe knik. HaShem alleen sal weet wat nou van hom geword het. Ek het absoluut geen hoop dat hy nog leef nie, want dis bepaald Pale­styn­se terroriste wat hom opgelaai het. En dit was vier dae gelede. So …

    Yhoshi het op Marc se skoot kom klim. Hy lê met sy natgeswete koppie teen sy pa se hemp. Marc vryf sag deur sy hare en dis nie lank voordat die lang wimpers oor die donker ogies toeval nie.

    Daardie buitepos waar hulle Gilad gevat het, is mos by die Kerem Shalom-kruising. Ek was verlede jaar saam met Rivkah se broer daar en ek kan nie dink hoe húlle so onkant gevang kon gewees het nie. Die plekke word so goed bewaak.

    Jong, dit was net so ’n ongelooflik brutale aanval. ’n Lokval eintlik. Blykbaar is daar die afgelope paar weke in die geheim ’n lang tonnel onder die suidelike grens tussen Israel en Gasa gegrawe. Sondagoggend, net voor dagbreek, het agt hoogs opgeleide Palestynse terroriste skielik daar uitgebreek, die leërbasis binnegestorm, handgranate gegooi en onophoudelik met outomatiese wapens op die soldate losgebrand. Dié was stom geskok. Hulle was nie op so iets voorberei nie.

    Ek verstaan in die proses is ’n Merkava-tenk opgeblaas. Die goed is mos verskriklik swaar gepantser … ?

    Gee jou ’n idee hoe goed bewapen die terroriste was. Jy weet hulle het twee soldate daar op die plek doodgeskiet en ’n paar gewond, een ernstig?

    So het ek gehoor.

    En toe is hulle met Gilad Shalit daardie digbevolkte Gasastad binne. Waar gaan mens hóm soek?

    Marc onthou dié tierende stad wat hy die vorige jaar uit die IDF-buitepos kon sien toe hulle saam met Re’uven in Gush Katif was. Hy het die dinge al gehoor waaroor Moshe praat, maar luister nogtans weer ontsteld daarna.

    "Is dit net Hamas wat hiervoor verantwoordelik is of het Abbas ook ’n hand in die pie?" wil hy weet.

    "Hamas se opdragte kom via Damaskus uit Iran. Mahmoed Abbas is nie veel meer as ’n strooipop nie. Ek sal nie verbaas wees as die IDF Gasa weer beset nie. Ons dorpe in die Negev word aanhoudend daarvandaan met kassams bestook. Dink maar aan Sderot."

    Wie sal weet wat in Ehud Olmert se kop aangaan? sug Marc.

    Die Israeli’s sien Olmert, wat Ariel Sharon ná dié se beroerte die vorige jaar as premier opgevolg het, oor die algemeen as slap en sonder fut; as iemand wat maar net polities korrek wil optree om deur die Westerse wêreld aanvaar te word. Hy was ’n groot voorstander van die onttrekking uit Gasa, wat nou by Israel kom spook het.

    Die gedagte aan die gewilde minister van binnelandse veiligheid kom by Moshe op.

    "Avi Dichter sê dan openlik dit kan vir die IDF nodig wees om gedeeltes van die noordelike Gasastrook permanent te beset as die aanhoudende kassam-aanvalle nie end kry nie."

    "Oy vey! Dan word ons weer die wêreld se muishond," sê Marc bitter.

    Sal dit dan iets nuuts wees? Het jy verlede week gesien wat sê Yuval Diskin van Shin Bet?

    Ja … ons veiligheidsdiens. Ek het gehoor hulle praat oor die wapens wat in Gasa ingesmokkel word. Dis glo meer as wat in die laaste agt en dertig jaar sedert Israel daar in beheer is, die streek binnegekom het.

    Juis. Dit word ’n vesting vir al wat ’n terroris is.

    Marc kyk af op die slapende gesiggie van sy seuntjie en ril merkbaar sodat Moshe sy hand ’n oomblik op Marc se arm lê. Shomer Yisra’el sluimer of slaap nie, Marc. Nooit nie.

    Die twee mans skrik toe die hond by hul voete skielik opspring en skerp begin blaf. Toe hulle omkyk, sien hulle Rivkah oor die plein aangestap kom.

    Marc kyk na sy vrou en ’n glimlag verhelder sy gesig. Nou nog, ná vier jaar, jeuk sy vingers om haar te teken. Die tenger figuurtjie, wilde krulhare agtertoe gebind met ’n doek blouer nog as haar oë. As jy haar so sien, dink hy, en die glimlag verdiep sonder dat hy dit agterkom, sal jy dink sy’s die sagste dingetjie wat jy in jou arms kan toevou. Niks van haar vuur is nou sigbaar nie.

    "Shalom," sê sy sag vir Moshe en kom by haar man staan. Yhoshi maak sy oë oop toe hy sy ma se stem hoor. Sy tel hom van Marc se skoot af op en soen hom oor sy hele gesiggie en in sy nek sodat hy slaperig lag.

    Nou naby hom, sien Marc hoe donker haar oë is en hy reik na haar hand.

    Sy druk die kleintjie teen haar skouer vas en sug. Hulle het Eliyahu Asheri se liggaam gekry. Blykbaar vroeg vanoggend, maar dis nou eers bekendgemaak.

    Moshe kreun. Wat het gebeur?

    Rivkah wieg die kind, wat weer teen haar nek aan die slaap geraak het. Die terroriste het hom blykbaar baie kort nadat hulle hom opgelaai het in die kop geskiet. Sy verkoolde liggaam is iewers by Ramallah gekry. Intelligensie het blykbaar uitgevind waar een van die terroriste bly en ’n eenheid van die IDF het die huis in El Bireh omsingel. Hulle het die terroris gearresteer en hy het blykbaar baie gou gesing, alles vertel wat gebeur het en die soldate na die liggaam toe geneem.

    Dis waarvoor ek bang was. Moshe sug baie diep. Wanneer is die begrafnis?

    Vieruur op die Olyfberg.

    Dan sal ek gaan, sê hy afgemete. "Ek sal een van my lesings afstel en gaan. Ek glo nie daar sal veel mense wees nie. Itamar is ’n klein dorpie en Neve Tzuf, waar sy yeshiva was, is ’n klein yishuv."

    Ek wil ook gaan.

    Marc kyk op na Rivkah. Ek sal dit ook kan maak, ek is vandag al twee-uur klaar.

    Dankie, sê sy en hy sien haar oë blink van ingehoue trane.

    Wat sal ons met Yhoshi doen? vra hy sag.

    Ek sal hom by Shlomit laat bly. Sy sal nie gaan nie. Yaniv kry tande en hy’s huilerig.

    Moshe het opgestaan. Die drie kyk mekaar ’n paar oomblikke stil aan. Toe sê Moshe sag: "Shalom," en stap weg, sy kop laag tussen sy skouers.

    Selfs later die middag is dit nog siedend warm. Vir Marc en Rivkah word dit gou duidelik dat baie, baie mense dieselfde besluit as hulle geneem het. Ondanks die feit dat die pers die jong setlaar se dood koel bejeën het en daar in politieke kringe byna geen aandag aan gegee is nie, ruk letterlik duisende mense ten spyte van die geweldige hitte op na die begrafnishuis in die Jerusalemse buurt Sanhedrin.

    Ek sien niemand van die regering hier nie, sê Marc nadat hulle iewers ’n staanplekkie gekry het.

    Het jy dit dan verwag? vra Rivkah bitter. Daar anderkant staan Effie Eitam darem.

    Marc merk verbaas dat die oorweldigende meerderheid rouklaers tieners is. Aan die kleredrag is dit duidelik dat hulle byna deurgaans Ortodoks is. Baie dra die oranje linte van solidariteit ter aandenking aan die setlaars wat die vorige jaar uit Gush Katif in Gasa gegooi is.

    Die skare het begin om bekende psalms saam te siteer en dit is of dit hulle nader aan mekaar laat beweeg. Toe die familie met die liggaam aankom, verstil die stemme. Gedurende die lang seremonie staan die skare stil voor die grys klipgebou. Terwyl een spreker ná die ander hul pyn uitstort oor die verlies van nog ’n jong siel aan die barbaarsheid van Palestynse terreur, is al wat hoorbaar is die sagte gehuil van Eliyahu se vier broers en susters en die geruis van die bladsye van siddurs wat omgeblaai word.

    Terwyl hy staan en luister, dink Marc daaraan dat daar geen oproepe om wraak geskreeu word nie. Nêrens word masjiengewere in die lug afgeskiet om die skare tot ’n raserny van haat op te sweep nie. Daar is net die sagte gesnik van vroue en jong meisies. Hy kyk na Rivkah om dit vir haar te noem, maar hy sien hoe wit sy om die mond is. Hy voel haar pyn aan. En die magtelose woede. Hy wil sy arm om haar slaan, want hy sien sy byt op haar tande. Maar sy staan so verskriklik regop, haar ken so hoog gelig, dat hy dit nie doen nie.

    Die son brand genadeloos op die skare neer. Iemand het ’n paar bottels water gekoop en dit sirkuleer onder die skare. Rabbi Amar, die hoofrabbyn, kom aan die woord, maar hy raak so bewoë dat hy vir ’n lang tyd nie kan praat nie.

    Dit word doodstil toe Eliyahu se ma, Miryam, vorentoe kom om te praat. Sy sien daar klein en oud en weerloos uit, al kan sy skaars in haar middelveertigs wees. Haar stem hang dun in die lug, soos dié van ’n klein voëltjie.

    Eliyahu, ons liefling, jy het in ’n nagtelike storm hemel toe gegaan soos die profeet wie se naam jy gedra het.

    Sy vertel hoe Eliyahu, wanneer hulle as ’n gesin om die Shabbat-tafel gesit het, hulle keer op keer gemaan het om nie ander te oordeel nie. Daar is maar één versoek wat ek vir jou het, Eliyahu. Wanneer jy voor die Ewige staan, tree dan asseblief in vir die volk Israel in alles wat hulle doen.

    Ná die lofbetuigings pak die meeste mense die lang tog na die Joodse begraafplaas op die Olyfberg aan. Waar hulle uit Sanhedrin by die hoofpad indraai, hou die polisie die verkeer teë. Die stilte waarmee die massa mense beweeg, is byna onwerklik. Al wat Marc hoor, is die geluid van voete en die gekwetter van voëls in die bome. Hy merk dat, ten spyte van die verkeersopeenhoping in al die systraatjies waar hulle verbyloop, niemand op ’n toeter druk nie. Hier en daar klim mense uit hul motors en staan stil na die optog en kyk.

    Die koningsblou paneelwa wat Eliyahu na sy laaste rusplek neem, kom stadig verby. Honderde mans loop saam, baie met hul hande teen die kant van die voertuig terwyl hulle gebede prewel. Marc voel Rivkah se beswete hand na syne soek en hy neem dit styf in syne.

    Dis ’n lang staptog in die versengende son van bo en die hitte wat uit die teer opslaan. Hulle het elkeen net een botteltjie water in hul rugsakke saamgeneem. Dié is lankal op. Die laaste deel van die roete na die begraafplaas gaan deur ’n Arabiese enklave. Arabiese mans sit op plastiekstoele voor verwaarloosde winkeltjies en woonstelblokke. Baie rook, ander sit net stilswyend na die optog en kyk. Deur die vensters loer vroue met bedekte hoofde. Marc merk dat daar geen enkele vrou of meisie op straat te sien is nie. ’n Ondernemende Arabier het ’n tafel uitgesit waarop hy tweeliterbottels met water te koop aanbied. Niemand koop nie, al het die meeste mense waarskynlik erg dors.

    Israeli-soldate in hul bekende olyfgroen uniforms is oral in groepe van vier tot ses opgestel. Hul gewere hang nie soos gewoonlik agter hul rûe nie, hulle hou dit teen hul sye vas. Hul gesigte is behoedsaam en gespanne. Daar is geen teken van die gewone skertsery en gelag nie.

    In die begraafplaas gaan Marc en Rivkah eenkant op een van die terrasse sit. Hulle kyk in stilte toe hoe honderde mense langs die graf verbyloop om ’n klippie daarop te plaas. Dit stapel so hoog dat die kranse wat daar gelê is, byna nie meer gesien kan word nie. Baie tieners maak beurte om langs die graf op die grond te gaan sit en snikkend van hul vriend afskeid te neem. Meisies staan huilend in groepies, arms om mekaar geslaan. Jong mans in hul vroeë twintigs slaan mekaar op die rug en val dan in mekaar se arms om onbeskaamd te huil.

    Marc-hulle wag totdat die skare redelik uitgedun geraak het voordat hulle ook tot by die graf loop om ’n klippie daarop neer te sit. Oral rondom hulle breek mans in groepies van tien weg om ’n minyan te vorm en saam te bid. ’n Man met ’n donker baard en swart hoed kom lê ’n lowergroen krans op die klippies en bly ’n paar oomblikke lank in eerbiedige stilte daar staan. Sweet pêrel onder sy hoed uit en meng met sy trane.

    Ons sal seker moet teruggaan, sê Marc behoedsaam toe hy merk hoe donker die skadu’s onder Rivkah se oë geword het.

    Sy kyk vinnig na hom, sug. Seker, sê sy, Yhoshi moet byna bed toe en dis nog ver tot by die busstop.

    Ons sal ’n taxi haal, sê Marc beslis en neem haar hand. Het dit vandag nie vir jou ook gevoel asof ons almal daar familie is nie?

    Ons is Jode, sê sy net.

    Hulle praat nie terwyl hulle terugstap nie. Dit het koeler geword en die hoë dennebome keer die son uit hul oë. ’n Skaars merkbare briesie het in die bome se toppe begin roer. Dit laat Marc aan die vroeë oggend met Yhoshi onder die bome dink.

    In die Arabiese strate het die spanning onder die soldate merkbaar verslap. Dis hier en daar duidelik dat ’n paar afgevaardig is om eet- en drinkgoed vir die res te gaan koop. Party sit op hul hurke langs pakkies kos wat op papier op die grond oopgesprei is, en gesels gedemp met mekaar.

    Om ’n nie-Arabiese taxi te vind, blyk moeiliker te wees as wat Marc verwag het en eindelik haal hulle tog maar ’n bus tot in die middestad. In King Georgestraat klim hulle af. Hulle stap deur Onafhanklikheidspark, met Gershon Agronstraat verby Mamilla-begraafplaas na die Jaffa-poort terug na die Ou Stad, moeg, dors en emosioneel uitgeput.

    Midsomer in Jerusalem is die dae lank. Vanaand word dit byna agtuur voordat die kerse aangesteek kan word. Een maal per maand kom die hele familie in Chaim en Hadassah se ruim woonstel in Gilo saam vir Erev Shabbat. Marc en Rivkah met Yhoshi; Re’uven en Shlomit met Yaniv. Oor die Shabbat-tafel, waar silwerware op ’n wit tafelkleed skitter en die geel rose die laaste lig vang, huiwer die eggo van Rivkah se droewige relaas oor die vorige dag se begrafnis nog.

    Buite het die stad Shabbat-stil geword.

    Die herinnering aan sy eerste aand aan hierdie selfde Shabbat-tafel is meteens lewendig by Marc. Dit was vier jaar gelede – tydens sy eerste besoek aan Israel. Hy het pas tot die ontdekking gekom dat hy Joods is en het sy wortels kom soek. Op die eerste dag al het hy Rivkah, toe nog ’n soldaat, ontmoet. Binne dae het hy geweet dat hy haar liefgekry het. Dis toe dat sy hom, oningelig soos hy was oor Joodse tradisies, genooi het om die Shabbat-maal met hulle te kom deel. Om haar mense te ontmoet.

    Hoe goed onthou hy nou sy eerste bewuswording van die teenwoordigheid van Adonai, wat op Erev Shabbat, wanneer die son ondergaan, oor die huise en oor Jerusalem neerdaal. Op daardie tydstip, wat hy nou so goed ken, wanneer die sandsteen van die geboue goud raak en die hemel rosig.

    Toe het hy Chaim en Hadassah ontmoet, maar hoe droef was daardie Pesach van 2002 nie: ’n Tyd van ’n verskriklike vlaag selfmoordbomaanvalle in Jerusalem; van die Seder-gruwel in Netanya … met Re’uven en Rivkah albei so nou by die Defensive Shield-oorlog betrokke.

    Die vier jaar het verbygehaas, dink hy. Maar wanneer hy na sy vrou kyk, wat plat op die mat met Yhoshi sit om hom te voer, besef hy hoe geweldig baie gebeur het. Asof sy bewus word van sy gedagtes, kyk Rivkah op. Haar donker hare krul oor haar skouers en haar mond is sag.

    Om ’n ma te wees het haar net mooier gemaak, dink hy.

    Sy lag. Wat droom jy? vra sy.

    Van jou, vorm sy lippe die woorde.

    Hy sien met genoeë hoe kleur in haar wange kruip.

    Chaim kom staan in die woonkamerdeur en kyk met sigbare ontroering na sy twee skoondogters, wat elkeen ’n lewenslustige baba sit en voer.

    "Baruch HaShem, sê hy en slaan sy arm om sy vrou se skouer. Verlede jaar dié tyd was ons net ses en nou is ons agt."

    Weldra staan jou kleinseuns soos jong olyfboompies om jou Shabbat-tafel, Chaim. Sy vrou vryf haar wang teen sy skouer.

    Geseënd is die Ewige van Israel, van wie elke goeie gawe kom.

    Re’uven tel sy seuntjie uit sy ma se skoot en vee sy neusie met ’n sakdoek af. Tien minute voordat die kerse aangesteek word, mense.

    Marc neem Yhoshi by Rivkah, druk die kippah reg op sy woeste krulle. Sy oog vang ’n oomblik lank dié van sy skoonpa, wat kwalik merkbaar knik. Marc is al een wat weet dat Chaim Yeshua amper ’n jaar gelede as die Joodse Messias leer ken het.

    Die rabbi trek sy swart hoed effens dieper oor sy kop en sit Ma ToeVoo met sy diep stem in. Hoe lieflik is jou tente, Jakob, jou wonings, Israel, sing hulle. En toe die pragtige L’cha Dodi: Kom, my geliefdes, laat ons die bruid verwelkom, laat die teenwoordigheid van Shabbat ons harte vervul …

    Hadassah kom die kerse aansteek. Die vroue trek serpe oor hul hare. Almal lag toe Yhoshi amper uit sy pa se arms val soos hy vorentoe beur om by die kerslig uit te kom.

    "Baruch Atah Adonai, Eloheinu …" bid Hadassah sag, haar hande oor haar oë geskerm:

    "Geseënd is U, o Adonai Eloheinu,

    Koning van die heelal,

    wat ons geheilig het deur u Tora.

    U het ons geroep om die Shabbat

    met lig te vereer,

    met vreugde en met vrede.

    Soos ’n bruid en haar bruidegom

    mekaar liefhet,

    so steek ons hierdie twee kerse aan

    uit liefde vir u dogter,

    die Shabbat "

    Die kerslig glim in Chaim se brilglase toe hy die Sabbat seën: "Eloheinu, Elohim van ons vaders, mag ons rus U bly maak. Heilig ons deur u verordeninge en verlewendig u Tora in ons harte. Versadig ons met u goedheid. Ons verheug ons in u verlossing … " Weer ontmoet sy oë vir ’n kort oomblik Marc s’n.

    Daarna lig hy die wynbeker en seën Hom wat die vrug van die wynstok voortbring. Selfs die kleintjies kry van die wyn te proe. Yaniv stik van die proeseltjie, maar Yhoshi gryp na die silwerkelk. Ook die Shabbat-challah word geseën en almal eet van die heerlike eierbrood.

    Die rabbi hou sy hand seënend oor sy vrou en die twee jong vroue. Wie sal ’n deugsame vrou vind? Want haar waarde is ver bo korale.

    Toe spreek hy die seën oor sy twee kleinseuns uit: "Yesimcha Elohim … Mag die Ewige gee dat julle sal wees soos Efraim en Manasse." Hy lê sy hand afsonderlik op elkeen se koppie en sy stem bewe van ontroering.

    Dan lig hy sy hande oor almal en spreek die priesterlike gebed oor hulle uit: "Y’varekh’kha Adonai, v’ishmerekha … Adonai sal julle seën en julle behoed; Adonai sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; Adonai sal sy aangesig oor julle verhef en julle shalom gee."

    Daarna sing almal saam. Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu, Adonai echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed.

    Ná ete gaan Rivkah en Shlomit die babas in hul stootkarretjies aan die slaap maak. Die mans versit na gemakliker stoele in die woonkamer en weldra wentel die gesprek tog maar om die gebeure van die afgelope week en die gespanne toestand in die land.

    Olmert se regering is nie opgewasse teen hierdie situasie nie, sê Re’uven en roer afgetrokke sy koffie. Dis pynlik om te sien hoe hy en ministers soos Amir Peretz en Tzipi Livni sukkel om iets te begryp van wat die gevolge gaan wees van die Palestynse aanval op die IDF. Een oomblik sê hulle Abbas is verantwoordelik vir Shalit se vrylating, dan sê hulle weer Hamas moet in hul spoor trap of hulle word aangevat. En net die volgende oomblik sê hulle hulle gaan nie nou teen Hamas optree nie. En net nadat hulle bekendgemaak het hulle sal onder geen omstandighede met terroriste onderhandel nie, gaan praat Olmert met Hamas. Wat ’n gek manier van doen! Wie kan ontsag hê vir ’n land wat só rondval?

    Wat anders bly daar vir hulle oor om te doen? vra sy suster, wat weer by hulle aangesluit het. "As hulle iets anders probeer doen, moet hulle erken dit was ’n ramp om uit Gasa te onttrek – erken dat dit net een ding tot gevolg gehad het: om terroriste die hef in die hand te gee. En as jy terroriste bemagtig, is hulle bemagtig. Dis eenvoudig ’n basiese waarheid. En Olmert en sy Kadima-party hou by hul onbegryplike sienswyse dat as jy ’n terroris bemagtig, maak jy hom minder aggressief, raak hy makliker hanteerbaar, kan jy met hom onderhandel. Absolute snert, dit weet ons tog almal. Is dit nie wat Ehud Barak ook met Jasser Arafat probeer het nie? En waar het dit ons laat beland? Met nog ’n Intifada."

    Die grootste wanopvatting waarvoor Olmert en sy trawante geval het, en die VSA saam met hulle, is dat Abbas teen terrorisme is … dat hy ’n vennoot vir vrede is, sug Re’uven. Hulle wil Abbas sielsgraag sien as ’n betroubare vredesonderhandelaar, ’n bondgenoot van Israel. As ons hóm verloor, reken hulle, bly daar vir ons niks anders as Hamas oor nie. En aangesien Hamas slegte nuus is, móét Abbas goeie nuus wees. Ongelukkig is Abbas ook ’n terroris.

    Vir my lyk dit nie of daar veel verskil tussen Hamas en Abbas se Fatah is nie, sê Hadassah, wat ook weer kom sit het nadat sy die etenstafel opgeruim het.

    "Albei terroriste, Imma. Geen verskil nie."

    En as mens dink aan die duisende gewere en miljoene patrone ammunisie wat die VSA Abbas verlede maand gegee het … Marc skud sy kop.

    Wat het hy daarmee gedoen? val sy vrou hom sonder seremonie in die rede. Hy’t sy man in beheer van veiligheid opdrag gegee om met Hamas saam te werk en Palestyne te vermoor wat daarvan verdink word dat hulle ons met ons antiterreuroperasies help.

    Inderdaad, sê Re’uven. En hierdie sogenaamde bondgenoot van Israel is besig om in samewerking met Hamas se premier ’n bloudruk vir oorlog, wat opgestel is deur daardie massamoordenaar wat hier in die tronk sit, as ’n vredesplan voor te lê.

    Het jy dit oor Marwan Barghouti? vra die rabbi.

    Hy, Abbas, einste hy. Abbas is net so verantwoordelik vir Sondag se aanval by Kerem Shalom-grenspos as wat Hamas is. Fatah het gedreig om Israel met chemiese en biologiese wapens aan te val en weer met aanvalle in Jerusalem te begin as die IDF ’n groot operasie in Gasa onderneem.

    Ek glo nie die regering kan waag om te erken dat Hamas en Fatah hand aan hand loop nie, want dan sal hulle moet erken dat Abbas ’n terroris is. Dit sal beteken hulle moet erken om hom te bemagtig be­teken om terroriste te bemagtig, sê Marc.

    Rivkah kyk op, duidelik verras oor haar man se insig. Sy knipoog vir Re’uven.

    Absoluut. Sy swaer knik in Marc se rigting. Ehud Olmert en sy agter­ryers het nog ’n hele paar ander slagspreuke, behalwe hul paai-die-terroriste-clichés. Soos oor die veiligheidsheining onder meer: ‘Ons sal hier wees en hulle sal daar wees.’ Of: ‘Israel sal ’n muur bou en nooit weer probleme met die Palestyne hê nie.’ Maar toe wys daai gemene ou Pale­styne ons Sondag dat hulle onder die heining kan deurgrawe. Hulle wys ons elke dag dat hul rakette oor die heining kan skiet. Hulle kan lere bou om oor die muur te klim.

    En hulle het geen probleem om hul boewery eenvoudig aan hul same­sweerders aan hierdie kant van die muur te subkontrakteer nie. Soos in Eliyahu Asheri se geval, sê Rivkah. "Kyk, onse Olmert en sy trawante het altyd hul monde vol gehad daaroor dat die IDF se teenwoordigheid in Gasa ’n vermorsing van geld is. Dat hulle net gebruik is om die fanatiese setlaars in die Gush Katif-streek te beskerm. Maar noudat ons die setlaars daar uitgehaal het, skiet die terroriste met raketlanseerders onafgebroke kassams op die westelike Negev-stede af en hou hulle die hele ekonomie van die suide van Israel gyselaar. Dis tog ’n duidelike teken dat die IDF nie daar was net om die setlaars te beskerm nie. Hulle was daar om Israel te beskerm. Maar as Olmert nou ’n groot offensief in Gasa onderneem om hierdie terroriste uit te roei, sal hy moet erken verlede jaar se onttrekking daar was ’n fout."

    Dit raak stil in die vertrek.

    Mense, sê Chaim ná ’n paar oomblikke, laat ons hier op Shabbat vir ons regering bid en nie wanhopig raak nie. Laat ons ook onthou dat elke volk die regering het wat hy verdien. Ons is steeds besig om ons hoop op die regering en die IDF te vestig. Ons vergeet Wié dit is wat Israel bewaar.

    Toe hulle eindelik terug is by die huis en die baba weer aan die slaap geraak het, maak Marc liefde met sy vrou. Hy voel egter sy is nie met soveel oorgawe by hom soos altyd nie. In die sagte lig van die maan wat deur die venster val, buk hy oor haar. Haar donker hare waaier oor die kussing. Hy sien haar hande is alkant van haar gesig ligweg gevuis.

    Hy raak skrams aan haar wang. Wat is dit?

    Sy sug. Ek … weet nie.

    Hy buig af en soen haar lank, totdat hy voel haar klein liggaam raak heeltemal sag teen syne. Wat is dit? vra hy weer.

    Dis vir my … Ek … voel so half of ek niks meer vir die land beteken nie …

    Marc voel sy keel saamspan, maar hy maan homself tot rustigheid en gaan lê langs haar. Hy trek haar styf teen hom aan, sy gesig in die soetheid van haar hare. Hoe kan jy so sê? Jy maak ’n kind vir die land groot.

    Sy reageer nie dadelik nie. Hy vryf sy wang teen hare. Is dit nie so nie?

    Ek weet nie of dit genoeg is nie.

    Wat sou jy meer wou doen?

    Sy sug weer. Yhoshi is my lewe, dit weet jy tog. Maar gister by die begrafnis en vanaand weer toe ons so gepraat het oor wat hier aangaan … toe het dit gevoel … asof ek meer kan doen.

    Soos wat?

    Sy huiwer, maar toe draai sy vinnig in sy arms om sodat haar mond teen sy keel is. Ek het gewonder … of ek nie weer by MADA moet gaan werk nie … Natuurlik net deeltyds.

    Die blote gedagte aan Israel se Rooikruis laat Marc se maagspiere saamtrek. Rivkah het vier jaar lank as paramediese assistent in hul ambulanse gewerk. Hy dink daaraan hoe sy gedurende die Pesach-oorlog van 2002, toe hy haar net leer ken het, daar gewerk het. En later, toe sy permanent aangesluit het, die ontsettende selfmoordbomaanvalle waarmee sy gedurig te doen gekry het.

    Die laaste, in 2004, was so skokkend dat dit regstreeks daartoe aanleiding gegee het dat sy hul eerste baba op twee en ’n half maande as gevolg van ’n miskraam verloor het. Hy sien nie weer daarvoor kans nie.

    Maar hy maan homself weer tot kalmte. Hoe wou jy dit doen, lief?

    "Ek weet Imma sal met groot liefde ’n paar oggende in die week na Yhoshi omsien."

    Hy stoot sy vingers deur haar hare. Nee, Rivkah, asseblief, moenie dat ons hieroor stry nie. Dit was nie ons ooreenkoms voor Yhoshi se geboorte nie.

    Ek het nie geweet daar was ’n ooreenkoms nie.

    Nie? Hy hou sy stem opsetlik lig. My Tora-gehoorsame vrou weet nie wat HaShem van ’n ma verwag om te wees nie?

    Sy sê niks, maar hy voel haar teen hom verstyf. En ek onthou ook hoe duidelik ons albei daaroor was in Zvi Bacher se spreekkamer toe ons gehoor het dis ’n seuntjie wat jy verwag. As ek dit nie mis het nie, was jy die een wat gesê het jy sal nie weer gaan werk nie.

    Die toestand in die land was nie toe wat dit nou is nie.

    Net voor die Gasa-onttrekking? Hy lig haar gesig na hom toe op, maar sy stoot sy hand ergerlik weg.

    Hier kom oorlog.

    "Rivkah, hier kom altyd oorlog. Moet asseblief nie dat ons nou ’n probleem hiervan maak nie. Dis Shabbat. Kom, dis nou-nou sesuur en dan word Yhoshi wakker." Hy trek haar kop weer teen sy bors en vryf haar kopvel saggies totdat hy voel sy verslap.

    Gou hoor hy aan haar asemhaling dat sy insluimer. Eers toe hy seker is sy slaap vas, trek hy behoedsaam sy arm onder haar uit en staan op. Slaap het van hom af weggevlug.

    Hy gaan in die woonkamer voor die venster staan. Die maan hang soos ’n groot kaas tussen die bome waar die nagwind deur die blare stoot. Hy ruik die naglug wat uit die stene opslaan. Shmu’el kom staan teen sy bene. Hy tel die wolbolletjie op en druk hom styf vas. Die hondjie lek sy wang ekstaties.

    "Abba, sê hy in die stil nag, daar is so verskriklik baie spanning in die land, laat dit asseblief nie na my eie huis toe ook kom nie. Gee my asseblief wysheid om te weet wat om te doen as Rivkah daarop aandring om weer te gaan werk. Ek verstaan haar soldate-hart, haar Israeli-hart … Maar ek wil asseblief nie dat Yhoshi êrens anders as in sy eie huis grootword nie. Ek wil nie dat die gejaagde angs daar buite nou al deel van hom word nie. Help my om my huis se priester te wees."

    Hy gaan sit die hond weer in sy mandjie. Toe stap hy na sy seuntjie se kamer toe. Bokant die traliebed hang ’n pragtige bewertjie van kleurryke vlinders wat sy ma uit Suid-Afrika gestuur het. Dit dobber ligweg in die soel naglug wat deur die venster bo die bedjie kom. Ver weg blaf ’n hond halfhartig en nog verder weg antwoord ’n ander. Die oop venster herinner Marc aan die anderste soort veiligheid van Israel. Hy dink aan die diefwering voor die venster waarmee hy in Suid-Afrika grootgeword het, aan die ysterdeure, die ingewikkelde alarmstelsels wat nou sy ma en sy stiefpa in hul huis moet beskerm. Hy kan hom nie voorstel dat iemand daar in ’n stad eens sal droom om ’n venster in ’n babakamer oop te laat nie. Veral nie op die eerste verdieping soos hier nie.

    Hy dink aan die plein onder hom, waar die kleintjie baie ure bedags onder sy ma se waaksame oog speel. Tussen kinders wat op dieselfde manier as hy grootgemaak word. Hy dink aan die afgelope aand se Shabbat-viering waaraan hy elke week blootgestel word. Aan sy vroom Ortodokse grootouers. Aan ouma Ruwth se invloed op die kind. Hoe hy byna elke aand teen sononder saam met sy ouers in sy stootwaentjie met die trap af hobbel vir die aandgebed by die Kotel. En hy weet dat hierdie land op baie gebiede die veiligste plek op aarde is.

    Hy gaan by die bedjie staan, hande op die traliewerk. Maanlig spoel oor die kind. Marc sluk toe hy sien dat die lang donker hare nes Rivkah s’n oor die kussing sprei. Die beer lê langs hom, staar met sy bruin glasogies onsiende in die verskiet. Marc kan homself nie daarvan weerhou om aan sy seuntjie te raak nie. Warm, sagte wangetjie onder sy vingers. Die donker ogies gaan net vir ’n oomblik oop en ’n effense glimlag verskyn om die mondjie. Maar dan gooi hy sy lyfie om, boor met sy koppie in die kussing en slaap verder.

    Marc dink aan die bedreiging uit Gasa en op die grens met Sirië en Libanon. Aan die oënskynlike onbevoegdheid van die regering. Hy dink aan die ouers van Gilad Shalit en Eliyahu Asheri en hy wonder wat die ergste is: om nie te weet waar jou kind is nie, of om te weet dat hy vermoor is; om te wroeg oor wat met hom gebeur, of om te wil sterf oor jy weet wat met hom gebeur het.

    Hy trek die kombers oor Yhoshi, soen hom in sy donker haartjies. HaShem! is al wat hy kan prewel. Beskermer van Israel …

    Stellenbosch

    11 Julie 2006

    Hannes!

    Sy vrou se angstige stem laat Hannes vinnig opkyk van waar hy by sy rekenaar sit en werk.

    Wat? vra hy, sy aandag dadelik weer op die skerm voor hom.

    Hier op die TV! Kom kyk!

    Hy onderdruk ’n sug, staan op en kom na waar sy voor die televisiestel sit.

    Daar kom oorlog in Israel! sê sy.

    Daar’s altyd dreigemente van oorlog daar, man.

    Nee, dis anders. Luister wat hulle sê. Sy beduie na die skerm, waar twee Israeli-politici in ’n gesprek gewikkel is.

    Hy luister vir ’n paar oomblikke. Hulle sal nie oorlog maak net omdat een van hul soldate ontvoer is nie.

    Maar dit was op hul grondgebied.

    Hulle sal nie daaroor oorlog maak nie, my skat. Dis alles net dreigemente.

    Sy skud haar kop. Ek glo nie so nie, ek het ’n nare voorgevoel.

    Jy het altyd ’n nare voorgevoel oor Marc en Rivkah-hulle, onthou, sê hy ligweg.

    As daar oorlog is, gaan Marc opgeroep word, hy’s nou ’n landsburger. Hy’s ’n reservis, sê sy, haar blik steeds op tonele wat onder meer die verwoeste tenk wys by die militêre buitepos in die Gasastrook.

    Reserviste word nie sommer opgeroep nie.

    Nogtans.

    Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, Mara.

    Ek gaan hulle bel.

    Ek sou dit nie doen as ek jy is nie, jy gaan hulle én jouself net ontstel. Hy kom oorkant haar sit. Kom nou, hoeveel keer was daar nou nie al gerugte van oorlog vandat Marc in Israel is nie? Hoekom sal dit nou gebeur?

    Ek het net so ’n snaakse gevoel … sê sy weer.

    Nou bel dan maar.

    Rivkah was ook in die weermag. Sy sal mos ook opgeroep word.

    Ag, ek glo nou regtig nie hulle sal ’n vrou met ’n baba van minder as ’n jaar oproep nie.

    Ek dink hulle roep al wat leef op.

    Gaan bel dan, sê hy weer, ligweg geïrriteerd.

    Dink jy so?

    Jy wil tog in elk geval weet hoe dit met Yhosh gaan.

    Haar wange word warm. Dis vir my vreeslik dat ek my enigste kleinkind nog nie gesien het nie.

    Ons gaan mos in Desember, paai hy. Gaan bel hulle maar, anders kom jy tog nie tot rus nie.

    Sy huiwer nog ’n oomblik, maar toe staan sy op en stap na die vertrek langsaan waar die telefoon is.

    Hannes skakel die televisie sonder meer af en gaan terug na sy rekenaar.

    Mara is so gou terug dat hy verbaas opkyk.

    En?

    Marc is nie by die huis nie.

    Het jy met Rivkah gepraat?

    Sy knik en hy sien haar wange weer warm word.

    Wat sê sy?

    Daar’s nie sprake van oorlog nie.

    Hy kom weer na haar toe en slaan sy arm om haar skouer, trek haar teen hom aan. Jy moet aanvaar dat jou skoondogter ’n Israeli is, my skat. ’n Turksvy. Hulle steek van buite as jy hul binnekant probeer oopmaak.

    Dis moeilik vir my, sê sy skaars hoorbaar.

    Hy soen haar in haar hare asof sy ’n kind is. En jy moet jou seun laat gaan, hy is nie meer by jou in die huis nie.

    Hoofstuk 2

    Jerusalem

    Woensdag 12 Julie 2006

    Al geluid wat die stilte in die lugtige lokaal verbreek, is die gekras van houtskool oor papier. Die geur van dennebome voor die groot raam versmelt met dié van verf en boetseerklei. Daar is maar ses studente by die Woensdag se vroegoggendklas. Marc glimlag met die meisie wat hulle vanmôre as ’n model gebruik. Sy is baie jonk. Eintlik nog ’n tiener. Maar dis vir hom duidelik dat sy volkome op haar gemak is. Haar weerbarstige rooibruin krulhare is hoog agter haar kop vasgebind om haar delikate profiel bloot te lê. Sy dra ’n eenvoudige, vloeiende wit jurk wat elke kontoer van haar lenige jong liggaam blootstel. Sy gaap en strek haar hande bo haar kop uit voor sy weer haar posisie inneem.

    Marc beweeg ongemerk na ’n plek waar hy ’n goeie uitsig op Yusuf by sy esel het. Yusuf is een van sy Arabiese studente en geweldig talentvol. Hulle het mekaar die vorige jaar beter leer ken toe Yusuf met hom kom gesels het oor die feit dat hy, wat uit ’n vroom Moslem-geslag kom, kort tevore die Christelike geloof aanvaar het.

    Hy staan stil na die jong man se werk en kyk en voel hoe die haartjies op sy voorarm orent kom. Die werk is besonder goed. Met deernis merk hy hoe sterk sy eie invloed daarin sigbaar is. Deur Yusuf se oë kyk hy na die meisie op die stoel, sien hy die ligte beweging van haar asemhaling teen die sagte materiaal van die jurk. Hy glimlag effens toe hy sien hoe die jong man se hand om die houtskool liggies bewe, hoe sweet teen sy hemp se rug uitslaan.

    Moeiteloos en met ongelooflike helderheid vlieg sy gedagtes na tien jaar gelede, na toe hy nog in Suid-Afrika was. As gevolg van sy fenomenale talent het Simon, sy onderwyser by die kunsskool op Stellenbosch, hom by sy eie huis op Blaauwklippen net buite die dorp privaat onderrig gegee. Daar het hy ook Simon se vriend, die Joodse Baruch, ’n kunsdosent aan die plaaslike universiteit, leer ken. Tussen hom en Baruch het ’n vertrouensverhouding ontstaan en hy het voordat hy besef het dat hy self van Joodse afkoms is, baie van die Jode geleer. Toe Baruch kort daarna in ’n tragiese motorfietsongeluk dood is, het dit Marc aangespoor om Israel toe te gaan en met Baruch se suster kontak te maak. Op presies dieselfde tydstip het hy ontdek dat hy ’n Jood is en het sy besoek aan Israel ’n reis na sy eie wortels geword. Noudat hy ingedagte na Yusuf se werk staan en kyk, onthou hy helder hoe hy vir die eerste keer ’n naakmodel moes skilder.

    Stellenbosch

    Mei 1996

    Die son breek helder deur toe hy sy fiets langs die houthuis op Blaauwklippen staanmaak. Dis skaars drie-uur. Hy is vroeg, want dis Vrydag en die skool kom twee-uur uit.

    In die ateljee sit die meisie op die mat saam met Simon en Baruch en koffie drink, en hy wonder hoeveel hulle haar van hom vertel het. Sy kyk hom ’n paar oomblikke lank ondersoekend aan, maar toe glimlag sy ontspanne en druk haar vingers deur haar kort blonde hare. Sy het ’n sakkerige bruin hemp aan wat tot oor die knieë van haar jeans hang. Dis vir hom moeilik om na haar kaal voete te kyk en na haar ekspressiewe skraal hande. Ná ’n rukkie voel hy die klam sweet onder sy arms.

    In die een hoek van die ateljee, langs die groot venster, is ’n groen skerm wat hy nog nie tevore opgemerk het nie. Baruch gee ’n beker koffie aan en lê ongemerk sy hand ’n paar oomblikke op sy skouer. Met die roer voel hy dat daar heelwat meer suiker in is as wat hy normaalweg drink. Baruch glimlag onderlangs vir hom toe hy opkyk, maar sê niks.

    Ons moet aan die gang kom, mense, die son daal nou-nou op ons neer. Toe Simon praat, staan die meisie op en strek haar soos ’n kat uit wat geslaap het. Dan verdwyn sy agter die groen skerm.

    Marc, Simon neem hom aan die arm, ek wil hê jy moet vandag net lyntekeninge met houtskool maak. Oor en oor totdat jy die gevoel kry van waarmee jy werk.

    Hy wil nie sy kop draai om te sien waar Baruch is nie, maar hy kan hom agter in die ateljee hoor beweeg. Dit troos hom. Hy vat die houtskool so styf vas dat dit tussen sy vingers breek.

    Die meisie kom agter die skerm uit en gaan op die houtkombuisstoel sit. Sy is naak. Sy strek haar bene effens en leun met haar arms oor die leuning van die stoel, haar kop agteroor. Die son val skuins oor haar gesig en haar gepunte borste. Die tepels is ligbruin. Hy sien die lig oor haar spoel. Dit is of haar vel gloei. Hy sien die skoon lyn van haar buik en haar heupe deurloop tot by die brug van haar voet. Hy sien die ligte polsing van haar keel. Sy sit baie stil, gebaai in die sonlig wat deur die venster oor haar stroom.

    Hy ontwyk haar helder oë wat reguit na hom kyk. Hy lig sy hand om te begin teken, maar sy vingers het dom geword. Hy is bang hy laat die houtskool val. Sweet loop onder sy arms af en teen sy rug, en pêrel op sy voorkop.

    Hy is bewus van Simon wat hom staan en dophou. En van Baruch agter in die ateljee. Toe begin hy teken. Versigtig. Die eerste lyne is hopeloos onwaardig. Hy sien dit onmiddellik. Sweet loop uit sy hare in sy oë en hy vee dit met die agterkant van sy hand weg. Maar algaande vloei sy vertroue terug. Sy hart hou op ruk in hom. Hy vergeet van die meisie wat saam met hulle op die mat koffie gedrink het.

    Die skoonheid van lyn, van lig en skadu, van ronding en tekstuur, van komposisie, verbyster hom.

    ’n Groot, geluidlose roep gaan van hom af uit tot God, die Skepper.

    Hy vee oor sy gesig en weet nie van die houtskool wat hy daarmee afsmeer nie.

    Die eerste tekening is swak. Hy haal dit van die esel af sonder om na Simon te kyk en sit ’n skoon vel op.

    Hierdie keer is sy vingers sekerder en die lyne vaster. Maar ook dié een frommel hy op. Dis eers met die derde poging dat hy diep asemhaal, gemakliker kan staan en wéét dit wat hy neerpen, is wat hy sien.

    Hy kom nie agter Simon het die twee velle versigtig oopgevou, glad gestryk en op die tafel langs hom neergesit nie.

    Die meisie draai haar effens meer na die son toe, trek haar bene op en slaan haar arms daarom. Haar gesig raak stralend. Dit laat hom aan Rembrandt dink. Hy kom skaars agter dat Simon haar steeds van posisie laat verander. Hy teken sonder om een maal moeg te word. Hy vergeet van tyd. Van Simon en Baruch. Van die model.

    Kort ná vyf laat Simon haar aantrek. Dit het skielik kouer geword.

    Hy sluit sy oë, meteens doodmoeg. Langs sy esel lê die middag se sketse opmekaar gestapel. Hy en Simon kyk sonder om te praat daarna. Later kom Baruch ook by hulle staan. Die meisie het in die kombuis verdwyn, hulle hoor haar daar met koppies kletter.

    Simon sit die eerste en die laaste tekeninge naas mekaar op die werktafel neer. Hulle kyk daarna. Die verskil is geweldig.

    Sien? vra Simon stil.

    Hy knik, want hy verstaan.

    Wil jy koffie drink?

    Nee dankie, sê hy vinnig toe hy die meisie uit die kombuis sien kom, ek moet ry.

    Baruch kom saam met hom buitentoe.

    Sy sal Dinsdag weer kom, sê hy.

    Hy knik.

    Baruch grinnik effens. Daar’s houtskool aan jou gesig. Hy vee dit met sy duim af en Marc bly hom stilswyend aankyk. Hy voel gedreineer.

    Toe klim hy op sy fiets en ry huis toe. Rondom hom verkleur die hemele sodat die populiere wasig-koper teen die aandlug word. Maar hy sien dit nie. Hy hoor nie die swerm voëltjies wat laag oor sy kop verbyvlieg nie. Hy dink hoe die lig op die meisie se vel gegloei het. Hy sluk …

    Marc stap tot by Yusuf. Toe hy aan sy arm raak, skrik hy en kyk op. Kan jy ’n oomblik agterbly ná die klas?

    Seker, Meneer.

    Toe die ander studente oppak en die lokaal die een ná die ander verlaat, kom Yusuf by hom staan waar hy die dag se werk in ’n kas toesluit.

    Jou werk is goed, Yusuf, baie goed.

    Yusuf bloos van plesier. Dankie, Meneer, komende van u is dit ’n geweldige kompliment.

    Gedurende die afgelope akademiese jaar het hy Yusuf beter leer ken as van die ander studente, maar hy kon die jong man nie oortuig om hom buite klasverband op sy naam te noem nie. In sy kultuur, het Yusuf telkens gesê, is daar nog respek vir ’n meerdere.

    Ek sien ook dat jy meer op jou gemak raak met lewende modelle …

    Yusuf se gesig raak opnuut warm. Vandag was nou ook nie so maklik nie. Chava kon byna net sowel nie klere aangehad het nie.

    Ja, ek het ook gedink ek moet die jong dame ’n bietjie daaroor aanspreek.

    Ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer: Ek waardeer dit dat Meneer weier om met naakmodelle te werk. Ek neem aan Meneer kry seker heelwat kritiek hieroor? Daar moet sekerlik ’n prys aan verbonde wees.

    Marc knik. So is dit. Maar laat ek terugkom na die punt; jy het werklik talent, Yusuf.

    Ek het die afgelope jaar soveel geleer. Ek kan die Here nie genoeg dank dat ek in u klas beland het nie.

    Waar jy ook al uitgekom het, jou talent sou tog te voorskyn gekom het.

    Nee, ek glo nie so nie. In u eie werk kan ek die lig van die Almagtige herken, en ek het van daardie lig oorgeneem.

    Dit is nie van my wat jy dit oorgeneem het nie, dis omdat jy Hom self ken. Marc kyk hom ’n oomblik stil aan voordat hy vra: Hoe gaan dit by die huis?

    In ’n gesprek wat hulle vroeër in die jaar gehad het, het Yusuf hom vertel dat hy hom tot die Christendom bekeer het terwyl die res van sy familie steeds stoere Moslems is.

    Yusuf gee ’n droewe laggie. Nie aldag maklik nie. My ouers is gelukkig nie fanaties gelowig nie. My pa is ’n dokter en my ma ’n onderwyseres. Hulle het ons grootgemaak volgens die goeie riglyne wat daar in Islam is. Jy weet, soos om jou geloof te bely, gereeld te bid, te vas, barmhartigheid teenoor medegelowiges te betoon en so aan. Toe ek die ware God in Jesus Christus leer ken het, het die manier van lewe waarmee ek grootgeword het, my baie gehelp.

    Dit kon nogtans nie maklik gewees het nie, sê Marc, denkende aan die omstandighede toe hy en Rivkah haar ouers moes vertel dat hulle Yeshua as die Joodse Messias leer ken het.

    Yusuf is ’n rukkie stil, skud dan sy kop. Nee … sê hy, dis mos nie maklik om jou ouers seer te maak nie. Ek probeer nou maar so min moontlik daaroor te praat. Net stil my pad loop.

    Islam aanvaar Jesus ook as ’n profeet, is dit nie?

    Ja, hulle sien Hom as ’n profeet. Soos hulle Noag of Abraham of Mohammed sien. Hulle glo ook dat Maria sy ma was. Om te glo dat Jesus God is, soos die Christene en julle Messiaanse Jode glo, sal die onvergeeflike sonde wees, want daarmee sê julle dat Allah nie die enigste God is nie. Ook om Jesus die Seun van God te noem is ’n geweldige sonde vir Moslems – om die koepel van die Omar-moskee staan immers geskrywe: God het geen seun nie.

    Dit verbaas my altyd in hoe ’n mate die ultra-Ortodokse Jode en die Moslems se siening oor party van hierdie dinge met mekaar ooreenstem.

    Halfbroers. Al wil die meeste van ons aan albei kante dit nie weet nie.

    Maar dit moet vir jou moeilik wees.

    Baie moeilik. So, nou praat ons maar nie oor geloofsake nie. Ek het respek vir hul heilige dae en ek daag nie hul manier van doen uit nie, hulle is my ouers.

    En jou ander familie?

    Wel … ek is ’n enigste kind en gelukkig bly ons in Oos-Jerusalem, waar mense nie so fanaties is soos in Nablus of Ramallah of Hebron en daai plekke nie. Die familie maak maar asof hulle dit nie weet nie. En natuurlik maak die feit dat ek ’n kunstenaar is dat hulle maar net hul koppe skud en anderpad kyk. Daar is ander dinge wat vir my moeiliker is as die familie se reaksie.

    Soos?

    "Soos jihad …"

    Heilige oorlog, sug Marc. Ek kan glo dat dit nie ’n maklike onderwerp in jul huis moet wees nie.

    My ouers het ook ’n yslike probleem daarmee. Ek weet. Aan die een kant roep die Koran die gelowiges op om op Allah se manier te veg teen dié wat teen hulle veg. En dit terwyl daar gesê word die Koran verbied geweld. Maar dan weer sê dieselfde Koran dat dié wat ontken dat Allah die enigste god is, doodgemaak moet word. Dis nou die ‘Saterdag-mense’ – Jode – en die ‘Sondag-mense’ – Christene – as hulle nie bereid is om hulle aan Islam te onderwerp nie. Hierdie gruwelike dinge wat die terroriste aanvang, die selfmoordbomdraers byvoorbeeld, is ’n verskriklike verleentheid vir my vroom ouers. Dit veroorsaak spanning tussen ons, selfs al praat nie een van ons daaroor nie.

    Wat is hul houding teenoor die staat Israel?

    Yusuf skud sy kop. Ag, dis natuurlik ook iets wat baie spannning veroorsaak. Ek weet vir seker dat hulle niks anders wil wees as die Israeli-burgers wat hulle is nie, maar tog ontken hulle dat Israel reg het op wat hulle Palestina noem.

    En Jerusalem?

    Yusuf fluit saggies deur sy tande. Dís nou ’n teer puntjie. Hulle sê God het die verbond met Ismael gemaak – die seun wat Abraham by Hagar gehad het? Hy kyk na Marc, wat knik. Nié met Isak nie, nè? Vra jy ’n Moslem vir wie Abraham hier op die Tempelberg in Jerusalem vir Allah wou offer, sal hy vir jou sê Ismael. Dus, die land is die Palestyne s’n – nié die Jode s’n nie.

    Maar Jode het tog van alle tye af in Palestina gewoon. Ek bedoel, hier was altyd Joodse teenwoordigheid. Dit moet hulle tog erken.

    "Hulle voel die Sioniste is indringers. Die land moet van hulle weg­geneem word, met jihad weggeneem word, en aan die regmatige eienaars teruggegee word. Dis vir hulle ’n heilige oortuiging, Meneer. Hy kyk Marc ’n rukkie stil aan voordat hy sê: Ek het self dikwels probleme met Israel se besetting van die Wesoewer en met die IDF se gewelddadige optrede."

    Baie antwoorde kom by Marc op, maar hy keer hulle en sê: Ek glo jy het, Yusuf.

    Weet Meneer wat die naam Hisbollah beteken?

    Marc skud sy kop. Het dit nie met Allah te doen nie?

    Dit beteken letterlik ‘God se leër’. Fanatiese jongmense is bereid om hulself daarvoor op te blaas en dosyne Israeli’s met hulle saam te neem. Nee, ek weet my ouers sal nie onder ’n ekstremistiese Islam-regering wil leef nie. Ek weet hul burgerskap in ’n demokratiese Israel is vir hulle baie werd.

    Sal hulle dit voor ander Moslems sê?

    Yusuf skud sy kop. Nee. Teen die agtergrond van Israel se besetting is dit onmoontlik vir hulle om so iets vir mede-Arabiere te sê.

    Marc sug. Is daar hoop vir ons, Yusuf?

    Die jong man kyk hom reguit in die oë. Nee, Meneer, nie op menslike vlak nie.

    Op pad na die personeelkamer ’n paar minute later piep Marc se selfoon net toe hy dit aanskakel. Dis ’n boodskap van Rivkah wat sy al meer as ’n uur tevore gestuur het: Hisbollah massiewe katyusha-aanval Galil. Blykbaar 2 reserviste ook ontvoer.

    In die personeelkamer is die nuus ook al bekend. Groepies personeellede is in intense gesprekke gewikkel. Hy sluit hom by twee kollegas aan.

    Net ná nege gebeur, vertel Avner. "Blykbaar was daar ’n geweldige katyusha-missielaanval in die weste van Galil."

    Hisbollah?

    Ja, maar dit lyk nou of dit ’n beplande offensief was om die aandag af te lei van wat regtig aan die gang was. Twee IDF-voertuie wat die Libanese grens aan ons kant gepatrolleer het, is in ’n lokval gelei. Twee soldate, reserviste, is ontvoer en ’n hele paar ander beseer. Ons weet nog nie hoeveel of hoe ernstig nie.

    Marc fluit saggies. Dan kom hier mos nou groot moeilikheid.

    "Vir seker. Dit reën blykbaar katyushas oor die kibbutzim en moshavot in die noorde. Maar ons het nou net gehoor dat IDF-stralers ’n brug in die suide van Libanon opgeblaas het."

    Dis natuurlik in ’n poging om die terroriste te probeer keer om dieper in Libanon in te vlug met die soldate wat hulle ontvoer het, sê Miryam, wat by hulle kom staan het. Sy het pas haar jaarlikse maand lange verpligte reserwediens

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1