‘IS MEVROU tevrede?” vra die verpleegster wat so pas Lotti se grys hare gevleg en om haar kop vasgemaak het. Lotti knik. Sy wens hulle wil ophou om haar Mevrou te noem.
Lotti sal deug. Al is sy jare laas so genoem. Daar anderkant was sy Miss Totti. Iets te doen met hulle gesukkel met die vreemde taal se uitspraak. Eintlik is dit alles die ring se skuld. Die vervlakste ring waarvan sy net nie ontslae kan raak nie.
Die verpleegster skud haar kussings op. Sy haat dit as hulle so hulpvaardig is. Sy haat die koel, skemer hospitaal. Sy haat die stilte. Sy haat die kanker. Sy haat dit om so onvergenoegd te wees.
Toe die verpleegster haar alleen laat, neem sy haar Bybel van die bedkassie af. Laat dit net so op haar skoot lê. Bekyk haar hande langs die Bybel op die netjiese hospitaalbed. Draai die goue ring in die rondte en skrik toe dit skielik uit haar vinger glip. Hoe lank al probeer sy dit afkry. Nou glip dit sommer