DIS skuins ná vieruur. Oor bietjie meer as ’n uur sal die skemer begin deurbreek. Dit is doodstil in die 24-uur-winkel. Lida hou daarvan om nagskof te werk, maar hierdie tyd van die oggend kan dit nogal sieldodend raak.
Sy skrik effens toe die groot outomatiese glasdeure skielik oopskuif. Sy val byna van haar stoel af van verbasing. ’n Nar, geklee in ’n heldergeel-en-blou uitrusting, kom die winkel binnegehuppel, twee treë op een been en dan twee op die ander, sy kop effens skeefgedraai. Groot traandruppels is onder sy oë op sy spierwit gesig geverf. ’n Helderoranje boskasie en ronde rooi neus rond die prentjie af.
Al huppelend tot reg voor die toonbank, sy groot groen oë stip op Lida gerig. Sy voel effens ongemaklik en is onseker hoe om te reageer.
Gelukkig praat hy eerste. “Goeiemôre, skone dame!”
’n Verleë “môre” is al wat sy kan uitkry. Maar hy is nie van stryk gebring nie.
“En wat