Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Abe Jacobson Verhoor
Die Abe Jacobson Verhoor
Die Abe Jacobson Verhoor
Ebook395 pages6 hours

Die Abe Jacobson Verhoor

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Abe Jacobson was skuldig. Almal het dit geweet – ook elkeen van die nuuskieriges wat elke dag die openbare galery vol gepak het, selfs Abe se eie ondersteuners. En almal het verwag dat sy straf uiteindelik bitter swaar sou wees – minstens lewenslank en nog veertig of vyftig jaar. Dit kon selfs twee of drie keer lewenslank wees. En daarvoor het Abe nie kans gesien nie. Daarom sou hy enigiets doen om uit te kom en uit te bly – selfs nog moord laat pleeg en pogings aanwend om te ontsnap. Toe dit nie werk nie, bedink hy ‘n uitsonderlike verweer, totaal uniek in die geskiedenis van die reg in Suid-Afrika, moontlik selfs in die hele werêld. Die vraag was net: Sou dit slaag?

Jan Adriaan: “Die gedagte aan hierdie boek het reeds byna veertig jaar gelede ontstaan. Wanneer die kans hom voorgedoen het, het ek navorsing gedoen en nagedink. Mettertyd het ‘n storie gevorm, totdat ek uiteindelik in 2018 dit kon skryf. Lekker Lees!”

LanguageAfrikaans
PublisherJan Adriaan
Release dateMar 16, 2020
ISBN9780463170823
Die Abe Jacobson Verhoor

Related to Die Abe Jacobson Verhoor

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die Abe Jacobson Verhoor

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Abe Jacobson Verhoor - Jan Adriaan

    DIE ABE JACOBSON

    VERHOOR

    As Dit Oor Meer As Die Wet Gaan

    JAN ADRIAAN

    Kopiereg © 2019 Jan Adriaan

    Eerste uitgawe 2019

    Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer, of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf of band opname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring, sonder die toestemming van die kopiereghouer.

    Die skrywer het alles moontlik probeer om die feite objektief korrek weer te gee. As persone hulle situasies identifiseer en voel hulle is verkeerdelik, wederregtelik of onregverdig aangehaal en of benadeel sal die skrywer dit so gou as moontlik regstel.

    Jan Adriaan

    jandupreez79@yahoo.com

    Opgedra Aan

    My liefste vrou, wat tydens hierdie skryfproses maar met afskeep aandag tevrede moes wees,

    My agt pragtige kinders wat my ondersteun en aangemoedig het, asook positiewe kritiek gelewer het, en die kleinkinders,

    Charles Darwin, sonder wie hierdie boek nooit nodig sou wees nie.

    Ook aan almal wat die Waarheid liefhet.

    Bo alles word hierdie werk opgedra aan die eer van my hemelse Vader wat Skepper en Onderhouer van hemel en aarde is.

    Erkennings

    Met graagte en groot dank erken ek die bydrae wat die volgende werke tot die totstandkoming van hierdie boek gemaak het. Ek noem hulle in die volgorde waarin hulle ter sprake kom.

    Unmasking Evolution van dr Lawrence Smart, wat ‘n skat van inligting bevat.

    Hamlyn colour guides: Fossils, van Rudolf Prokop, wat wys hoe groot die tekort aan oorgangsfossiele is.

    Origins van Dan Brown, wat die ander standpunt met groot toewyding verkondig.

    Genetic entropy and the mystery of the genome van dr John Sanford, wat wys hoe skrikwekkend die genetiese degenerasie van ons tyd is.

    Die skepping duur voort van FL Boschke wat duidelik wys wat die standpunt van die meerderheid Christene vandag is en by monde van prof. Creed in my verhaal weergegee word.

    Evolusie Illusie van Pieter J Pelser vir ‘n oorvloed kosbare inligting, maar veral die houvas van Darwin op die moderne mens.

    The immortal life of Henriëtta Lacks van Rebecca Skloot omdat dit wys hoe dramaties kankerselle groei.

    Verder tientalle artikels van sciencedaily.com, creation.com en icr.com wat nie spesifiek vermeld is nie.

    Proloog

    17 November 2017, 10:30

    Kgosi Mampuru Korrektiewe sentrum, Tswane – voorheen Pretoria-Sentraal Gevangenis.

    Advokaat Gerrie Gerber sug. Besef die owerhede dan nie hoe neerdrukkend die atmosfeer hierbinne is nie? Hy kyk weer na die hoë grys mure. Die verf is hier onderlangs blink gevryf en plek-plek al deurgeskuur, maar dof en stowwerig bokant kophoogte. Die hoë venster met die dik tralies daarvoor is maandelaas skoongemaak. Die enkele lig wat van die plafon hang kry dit ook nie reg om veel lig in die vertrek te gee nie.

    Ook die toerusting binne is gehawend. Hy sit op die beste van die drie stoele en selfs hierdie een is op sy laaste bene. Die geringste beweging laat die sitplek, wat so hol is dat net sy sitvlak se kante daaraan raak, heen en weer beweeg soos wat die voeë uitgewerk is. Die ander twee is nog meer vervalle, die een in die hoek sonder sitplek.

    Hy het spesifiek vir konsultasiekamer nommer drie gevra, want hierdie tafel dans ten minste nie rond soos dié in die ander kamers nie. Hy sug weer. Wat ‘n kontras met sy eie, lugversorgde, luukse kantoor in Sandton. Hy kyk op toe die deur met ‘n groot gekerm oopgaan.

    ‘n Klein skraal mannetjie met lang, sandkleurige hare en skrefiesoë wat diep in die oogkaste van sy ligbruingesig sit, word deur die bewaarder die vertrek ingebring.

    Hey, guvner, welcome in my lounge!, roep Abe uit toe hy oorkant die advokaat kom sit. Ek laaik dit lat jy so speedy react toe ek jou ge-summons het. Sorry lat ek jou nie kan handgee nie, en hy probeer sy hande lig wat albei stewig in boeie aan voetboeie geklamp is.

    Meneer Jacobson, ..., begin advokaat Gerber, maar Abe val hom in die rede: Hey, hey, watse ge-meneer is dit die? Ek’s mos Abe vir my pêlle.

    Meneer Jacobson, begin die advokaat weer, kom ons hou ons verhouding op ‘n professionele vlak. Jy is ‘n kliënt en ek sal graag jou regsverteenwoordiger wil wees, indien ons tot ‘n vergelyk kan kom.

    Sjoe, maar ons is touchy, né? Maar dis orraait, ek sal op my plek bly. Vies probeer hy sy arms kruis, maar die boeie maak dit onmoontlik.

    Dankie. Eerstens, ek verstaan dat geld nie ‘n probleem is nie?

    Sure. Ek’t baie, en as dit op is arrange ek sommer tjop-tjop vir nog ‘n paar miljoen.

    Gerber se wenkbroue lig in ‘n vraagteken, maar hy sê net: Goed. Ek benodig tien duisend Rand as voorskot, of ‘n ‘retainer’, soos hulle sê, voor ek jou saak aanvaar.

    Ten grand, né? En dit net vir starters? Ma’sure, ... laat ek net eers check. As ek jou nou pay, dan is jy my lawyer en all else is confidential. Right?

    Ja, alles wat jy sê is vertroulik en bly net tussen my en u.

    Great! Ek sien jy het jou tablet by jou. Kry die website van African Bank, dan transfer ek jou moolah in no time.

    Gerber frons, maar doen tog wat Abe vra. Twintig sekondes later kyk hy op. Ek’s reg

    Gaan na transfers, en by die account holder tik jy in ...... Joseph Klaradyn.

    Gerber se kop ruk op van waar hy op die tablet gekyk het en staar Abe met verstomming aan. Ekskuus?

    Abe lag diep uit sy maag. Surprise, né? Nie eers hy het geweet ek het ‘n account in sy naam nie. Dit was easy as pie. Ek het net sy ID ‘geleen’ , en hy beduie aanhalingstekens met sy voorvingers van albei hande, en sy signature gecopy op ‘n brief wat state dat hy incapable is om self te kom en my authority gee to open ‘n account in sy naam. Met die credit card en pin was dit plain sailing from there.

    Gerber frons steeds, maar tik die naam in.

    By account number tik jy in ...... en syfer vir syfer sê Abe die nommer voor. Nou kan jy al die ander details insit en send. Ek wil net eers die amount check.

    Gerber voltooi die oordragsaansoek en draai die tablet sodat Abe kan sien. Sorgvuldig kyk hy al die besonderhede deur. OK

    Dankie, meneer Jacobson. En nou wil ek alles weet – en ek bedoel alles, die volle waarheid. Kliënte maak altyd beswaar wanneer ek dit vra, maar u moet weet: as ek nie presies alles weet nie, en die vervolging kan teenstrydighede in ons saak uitwys, dan val die saak net daar plat. Dus: ek wil alles weet.

    Ney, guv’ner. Ek reckon the most important, soos van nou, is dat jy bail organise. Ons kan chat as ek eers weer outside is.

    Ek is jammer, meneer Jacobson. Maar ek moet eers meer besonderhede hê. Sien, ek mag dalk in my aansoek om borg sekere dinge voorhou om te wys dat u nie ‘n gevaar vir die samelewing of dalk ‘n vlugrisiko is nie. Dan kom lê vervolging dinge voor waarvan ek niks weet nie en wanneer die regter dit hoor, kan ons maar van borg vergeet.

    Helsim! So dis nie just a matter van betaal die bail en ek is uit nie?

    Nee, meneer Jacobson.

    Halfhartig gee Abe toe. OK. Maar everything is nou confidential, né?

    Ja, meneer Jacobson.

    En Abe begin met ‘n verslag wat, omdat hy nie borgtog kon kry nie, uiteindelik aan en af drie weke sou duur.

    * * *

    Ook 17 November 2017, maar laatmiddag.

    Kantore, Nasionale Vervolgingsgesag, Johannesburg.

    Haastig kom sy die gang af. Die blokhakke van haar hofskoene klap hard op die grys teëls in die gang. Soos gewoonlik is al die kantoordeure waarby sy verbygaan toe, maar vandag merk sy niks op nie. Ook nie die grys-bruin vlekke weerskante van die kosyne waar duisende hande al gevat het nie. Die helder neonligte zoem duidelik hoorbaar en baie irriterend, selfs bokant die harde klank van haar skoene, maar ook dit hoor sy nie.

    By haar kantoordeur waarop die naamkaartjie ‘Kassandra Naicker’ pryk, steek sy vas en probeer die sleutel met geweld by die opening inforseer. Sy sukkel, want sy is ontsteld. Eindelik slaag sy, draai die sleutel en smyt die deur oop. Dit klap teen die muur vas en swaai terug. Sy het reeds na binne getree, wag daarvoor en skop dit met die hak van haar linkerskoen toe. Die slag dawer in die gang af. Dan laat val sy haar handsak en aktetas en begin om met geweld haar plat hande op die lessenaarblad te slaan.

    Haar handpalms begin brand. Sy stop en kyk daarna. Hulle is bloedrooi. Dan maak sy vuiste en slaan weer op die blad, hierdie keer met die pinkiekant van haar vuiste. Stadig kom sy tot bedaring. ‘n Ruk lank bly sy verwese so staan, met haar hande op die lessenaar gestut. Dan val haar oog op die aktetas wat omgeval het en nou plat op sy sy lê. Dit bring die rede vir haar ontsteltenis weer skerp na vore en laat haar in trane uitbars. Sy sak in die naaste stoel neer en huil tot sy geen trane meer het nie.

    Sy haal ‘n pakkie wetwipes uit en vee haar gesig af. Hoekom, dink sy, moet sulke dinge gebeur? Dis al die hoeveelste keer dat ‘n misdadiger vrykom as gevolg van een of ander glips in die stelsel. Soos vandag. ‘n Tegniese punt, verbeel jou!

    Alles was daar. Die verklarings van die ondersoekbeampte, die slagoffer en die beskuldigde, die forensiese verslae en die distriksgeneesheer se bevindings. ‘n Duidelike geval van huishoudelike geweld – aanranding met die doel om ernstig te beseer. ‘n Waterdigte saak. Totdat die beskuldigde sy verklaring terugtrek. Niemand het hom glo gewaarsku dat alles wat hy sê as getuienis teen hom gebruik kan word nie. Die gevolg? Ook die slagoffer trek haar verklaring terug en sê sy wil nie meer hê hy moet vervolg word nie. Wat ‘n teleurstelling!

    Eers toe daar ‘n derde maal aan haar deur geklop word, registreer sy en sê: Ja?. Een van die klerke maak die deur stadig oop, gee haar net een kyk en besluit dis beter om niks te sê nie. Woordeloos sit hy die dossier van ‘n nuwe saak voor haar neer en kyk afwagtend en bewonderend na haar.

    Sy’s beeldskoon. Haar gitswart hare steek skerp af teen haar ligte vel wat glad en vlekloos is. ‘n Stringetjie hare het uit die bolla wat sy altyd hof toe dra losgekom en hang ‘n sekelmaan op haar wang. Lank kyk hy na haar. Hy sê niks, hou net aan om na haar te staar. Hy weet sy is ietwat van ‘n raaisel vir almal hier by vervolging, veral vir die manne. Sy is altyd vriendelik, maar tog afsydig. Baie het haar al gevra om met hulle uit te gaan, maar vir elkeen het sy dieselfde antwoord: Dis vriendelik van jou om my te vra, maar ek kan die uitnodiging ongelukkig nie aanvaar nie.

    Dan kyk sy op en hy sien die groot, donker oë waaraan ‘n traan nog hang. Sy sug en beduie met die hand na haar aktetas. Hy tel dit op en plaas dit voor haar neer. Sy maak dit oop, haal die dossier van die saak wat vanmiddag van die rol geskrap is, uit en oorhandig dit aan hom.

    Steeds sonder om ‘n woord te sê, neem hy dit, stap uit, maak die deur saggies agter hom toe en loop die gang af om die ou dossier in die argief te gaan liasseer. Lank sit Kass nog so. Dan kyk sy op haar horlosie en besluit dis laat genoeg om huis toe te gaan. Die nuwe dossier bly net so lê.

    Daardie aand skryf sy in haar dagboek:

    Waarom is daar nog ‘n wet? Aanranders, verkragters, inbrekers wat steel, van alle soort oortreders net te veel. Ag, was daar maar net ‘n bed waarop mens geregtigheid kon teel.

    Lank kyk sy daarna. Nou toe nou! As sy dit herrangskik, dan vorm dit ‘n vers.

    Sy tel weer haar pen op en skryf dit dan oor.

    Waarom is daar nog ‘n wet?

    Aanranders, verkragters, diewe wat steel,

    van alle soort misdadigers net te veel.

    Ag, was daar maar net ‘n bed

    waarop mens geregtigheid kon teel.

    * * *

    15 Desember 2018.

    Witfield.

    In sy klein studeerkamer, wat in werklikheid maar net die tweede slaapkamer van die eenheid is, sit die skrywer, Jan Adriaan, agter sy lessenaar. Op die blad, teen die groen gordyn voor die venster, staan sy nuwe skootrekenaar, ‘n Lenovo Ideapad 320. Voor dit lê die koordlose sleutelbord met die bypassende muis regs daarvan. In die linker agterste hoek staan die drukker.

    Op die skerm van die rekenaar is daar ‘n lêer in Microsoft Word oop. Op die blou agtergrond bo-aan die skerm, staan die naam: Die Abe Jacobson verhoor.

    Hy kyk weer na die laaste sin wat hy geskryf het: ‘Almal was bang vir die man wat net ter wille van ‘survival of the fittest’ gemoor, geroof en verkrag het.’ Is dit ‘n gepaste einde vir die verhaal waaraan hy meer as ses maande geskryf het? Hy weet nie. Dit sal seker net die lesers uiteindelik kan sê – as daar ooit lesers gaan wees.

    Was dit die moeite werd? Hy dink daaroor na. ‘Ek dink tog so’, besluit hy. Dis immers ‘n kontemporêre verhaal. Dit speel af in Jozi en die nabye Oosrand. Daar is baie plekke, strate en landmerke waarmee mense hier sal kan assosieer.

    Daar is historiese gebeure van 2018 wat die lesers dalk sal onthou, soos Stephen Hawking se dood op 14 Maart, Barack Obama se Nelson Mandela-lesing op 17 Julie, Madiba se honderdste verjaarsdag op die 18de en RSG se uitsending van ‘Hoe verklaar jy dit?’ op 28 Oktober.

    Die karakters is, met een uitsondering, almal fiktiewe persone en verwys glad nie na enige lewende of afgestorwe mens nie. Dis ‘n uitsonderlike verhaal. Dit raak hoofsaaklik reg en geregtigheid aan, wyer as net die wette van Suid-Afrika. Dit raak ook, half terloops, godsdiens en die liefde aan. Mmmm, laasgenoemde dalk meer as net terloops.

    Sekerlik sal dit nie in almal se smaak val nie, en tog hoop hy diep in sy hart dat baie mense dit sal lees en weer sal nadink oor dinge wat ons ewe gemaklik as wetenskaplike feite aanvaar.

    As hy nou net ‘n uitgewer hiervoor kan kry.

    Deel 1:

    Die Staat

    1.01

    Met ‘n frons blaai Kass deur die dokumente. Niks! Hoe is dit moontlik? Sy keer die hele pak om en kyk weer na die verklaring. Hier staan dit tog duidelik – ‘sien die aangehegte skets vir die posisies van die fiets en die slagoffer, asook die punt waar stukkies glas en plastiek gevind is, vermoedelik die punt van impak’. Nou waar is die vervlakste skets dan?

    In haar gedagte kan sy presies sien hoe die skets sal lyk. Daar is die dubbellyne ‘n paar sentimeter uitmekaar wat soortgelyke lyne loodreg kruis om die kruising in Rosebank voor te stel. Die buitelyne van ‘n figuur wat op die noord-oostelike randsteen lê sal prominent uitstaan. Die stokfiguur van ‘n fiets wat vyftig meter verder gevind is, sal nie wys in watter opgefrommelde toestand dit was nie.

    Byna in die middel van die kruising die stukkies glas en plastiek van die voertuig se ligte. So sien sy dit in die fynste besonderhede in haar gedagtes. Maar ... dat dit in haar gedagtes is, beteken niks. Dit moet op papier wees, en dit moet gesertifiseer en geteken wees as ‘n ware weergawe van die ongelukstoneel.

    Sy sug en begin die dossier weer van vooraf deurgaan, bladsy vir bladsy. Sonder daardie skets is haar saak weer verlore, en die baas het nogal gesê: An open and shut case, my dear. Hit and run. Gmmf! Open and shut se voet! Al is sy nog nie eers drie jaar by Nasionale Vervolging nie, en al beklee sy net ‘n junior pos, weet sy uit ondervinding dat byna elke saak die nare gewoonte het om iewers ‘n stok in die speke te kry.

    Met groter konsentrasie soek sy verder. Sy raak so verdiep in haar soektog, dat alles om haar vervaag. Sy is nie eers daarvan bewus dat haar kantoordeur oopgaan en iemand binnekom nie. Sy skrik toe iets met ‘n harde slag hier by haar op die lessenaar neerslaan. Sy ruk regop, net betyds om haar baas te hoor sê: It’s yours – if you’re up to it.

    ‘n Paar oomblikke staar sy hom in verskrikte stilte aan. Iets is anders. Hy was nog altyd neerhalend wanneer hy met ‘n mindere gepraat het. Daardie krul van die lippe – half glimlag en half grynslag – die ken sy goed. Die spot in sy oë ook. Selfs die uitdagende houding om sy duime bo sy broek se gordel in te haak. Dis alles daar.

    Maar vandag is daar iets meer. Wat is dit? Na nog ‘n paar oomblikke tref dit haar. Dis sy gesig, of liewer, die kleur van sy gesig. Die donker vel is merkbaar rooier. Is dit omdat hy hom ingespan het – dalk omdat hy haastig na haar kantoor op pad was? Tog nie – sy asemhaling is rustig, glad nie gejaag nie. Wat dan? Sy kyk skerper. Ja, sowaar! Dis opgewondenheid – ‘n gespanne soort opgewondenheid. Nou dat sy indringend kyk, sien sy die spiertjie in die hoek van sy linkeroog spring.

    Dan kyk sy af na wat hy op haar lessenaar neergegooi het. Voor haar lê ’n dik dossier – die dikste wat sy al ooit in hierdie kantoor gesien het. Sy sien die saaknommer op die bruin omslag. Case no 15236/10/2014. Dit vertel haar nie veel nie – net dat die saak al meer as drie en ‘n half jaar oud is. Sy steek haar hand uit, trek dit nader, haal die rek wat alles bymekaar hou af en maak dit oop. ‘The State versus Abraham Isaac Jacobson’ lees sy.

    Haar kop ruk weer op. Meneer Molefi, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag hier in Johannesburg, staan nog net so. Sy gryns-glimlag is nog spottend, maar nou ook uitdagend. Maar dis dan Richard se saak? sê-vra sy. Hy draai om en loop uit, kyk oor sy skouer en sê: Was. He’s dead, accident this morning. Toe verdwyn hy in die gang af.

    Geskok bly sy sit. Hoe lank sy so gesit het, weet sy nie. Dit voel of tyd vasgesteek het, asof alles deur haar baas se woorde gevries geraak het. Richard dood? Haar blik dwaal van die oop dossier voor haar na die nuwe, dik een en weer terug. Heen en weer, maar in werklikheid sien sy niks, is nie eers bewus daarvan dat haar oë so ronddwaal nie.

    Stadig begin woede die plek van die skok inneem. Die ongevoeligheid! Geen woord van simpatie, net: Dead, accident. Wat se ongeluk? Hoe het dit gebeur? Waar? Die vrae begin deur haar kop maal. Voordat sy verder daaroor kan wonder, kom ‘n ander gedagte by haar op – een wat die gevoel van woede net meer verdiep. Die vermetelheid! Om die saak wat eintlik by die mees ervare Staatsadvokaat hoort op haar tafel te gooi en dan te sê: if you’re up to it. Wie dink hy is hy?

    Woedend spring sy op, gryp die tref-en-trap-dossier en stap met mening na sy kantoor in die hoek. Sonder om te klop ruk sy die deur oop en stap in. Dis ‘n indrukwekkende vertrek, groot, baie groot want hy het ‘n tussenmuur laat uitbreek om twee kantore een te maak.

    Soos altyd voel sy klein en verlore in hierdie ... mens kan byna sê ‘n saal. Dis nie net die vertrek se grootte nie, dis ook die dekor – Afrika-maskers uit hout, skildvelle, assegaaie en knopkieries, houtbeelde van vroue met groot borste. Dis alles so oorweldigend. Maar vandag laat sy haar nie daardeur intimideer nie.

    Sy plak die tref-en-trap-dossier op sy reuse eikehoutlesse-naar neer en sê: I’m up to it. What about this? en beduie met haar vinger daarna. Sy kan dadelik sien hy het hom vererg. Sy donker vel verbleek van woede en stadig staan hy uit sy stoel op. Sy is egter so kwaad dat sy nie ‘n duit omgee oor hoe hy voel nie. Maggies, hy gee dan niks om oor hoe sy voel nie! Daarom hou sy aan om hom stip in die oë te kyk. ‘n Paar sekondes lank kyk hulle mekaar so aan. Dan, sonder om weg te kyk, sê hy: Leave it with me. Go and familiarise yourself with the other one. You must be ready to continue by Monday.

    Nog ‘n oomblik of twee kyk sy hom aan, draai dan om en stap terug. Skielik steek sy vas, vlieg om en vra: Wat het gebeur? Die ongeluk, ... Richard .... Meer as dit kry sy nie uit nie. Molefi het reeds halfpad gesak om te gaan sit. Ook hy steek net daar vas. Hy sien die trane in die hoeke van haar oë, hy hoor die snik in haar stem. Skielik lyk hy meer simpatiek, beduie dat sy moet kom sit en sak dan self met ‘n sug in sy stoel neer.

    Apparently it was a hit and run, similar to that. Hy beduie na die dossier wat sy gebring het. Witnesses said he parked in his usual spot, in the shade of that big yellowwood, opposite the court. When he crossed the street, a big car came from nowhere and ran him over. The car, stolen two days ago, was found abandoned just around the corner. Richard died about two hours later in hospital. ... I’m sorry, I know you were good friends.

    Maar hy is die tweede .... begin sy. Hy val haar in die rede: Yes, I’m aware of that. Police started an investigation. It now seems as if both were murdered. Skielik gaan daar vir haar lig op. So I get the case because I’m dispensible? Molefi huiwer ‘n oomblik en sê dan vinnig – te vinnig: No, not at all, never. Maar sy weet. Sy huiwering, die vinnige woorde, dit sê alles.

    Sy staan stadig op, draai sonder ‘n verdere woord om en gaan terug na haar kantoor. Sy maak die dossier oop en begin dit bestudeer, oudergewoonte met potlood in die hand en skryfblok regs langs die dossier. Dis dik, baie dik, dalk duisend bladsye of selfs meer. Dis Donderdag en sy moet gereed wees om die saak Maandag verder te voer. Daar is nie tyd om te mors nie.

    1.02

    Sy’s vroeg en daarom baie vies vir haarself. Sy weet sommer dit gaan sake net vererger. En sy is reeds so erg op haar senuwees. Sy sorg altyd dat sy vroeg by die hof is, maar die sake wat sy tot dusver hanteer het, was klein, gewoonlik eenvoudig. Hierdie een is egter anders. Dis ‘n hoëprofielsaak, dit hou die media se aandag gevange. Drie moorde, sewe verkragtings, ‘n menigte aanrandings, inbrake, rooftogte, waaronder verskeie transitorowe, dwelmtransaksies, asook besit van vuurwapens en ammunisie. Dis waarvan Abe Isaac Jacobson alles aangekla word.

    Volgens die fisiese gegewens is hy eintlik klein – net 172 en ‘n raps oor 60 kg. Dis moeilik om te glo dat so ‘n klein mannetjie soveel misdade op sy kerfstok het en veral dat hy so lank uit die kloue van die gereg kon bly. Die sielkundige verslag skryf dit toe aan sy vlymskerp verstand. Op skool het sy IK op 132 getoets.

    Dis een van die redes waarom sy so vol senuwees is. Sy weet sommer hy sit agter Richard se dood, dalk Shirley s’n ook. Shirley was die oudste, mees ervare staatsaanklaer in die Johannesburgse Hooggeregshof. Op 63 was sy amper op die punt om af te tree, toe sy skaars drie maande gelede tuis in haar swembad verdrink het. Sulke dinge gebeur, sê hulle, maar tog nie sommer met iemand wat op haar dag ‘n Suid-Afrikaanse swemkampioen was en nog deeltyds swemlesse gegee het nie!

    Senuweeagtig vroetel sy weer met die dokumente in die dossier en kyk dan na haar horlosie – die derde keer in soveel minute. Nog 10 daarvan – as die regter op tyd is. Sy moet iets doen om haarself te kalmeer. Sy draai om en kyk na al die nuuskieriges wat reeds die openbare galery van die hofsaal volgepak het. Media-berigte het gemeld dat dit elke dag so was, al 83 dae wat hierdie saak al aan en af aan die gang is. Meeste is in fluistergesprek met ander betrokke, ander sit net en wag.

    Dan vang haar oog iemand hier kort agter haar. Met ‘n spottende glimlag kyk hy haar vas in die oë. Sy oë! Dis koud, byna leweloos, totaal in stryd met die spotlag om sy lippe. Sy ril en kyk dadelik weg. Skielik is sy bang, doodbang, want dis waaraan hy haar laat dink – die dood.

    Weer vroetel sy met die dokumente voor haar. Tog bly sy bewus van sy nabyheid. Sy kan eintlik voel hoe sy oë in haar rug inbrand. Sy het die gevoel dat hy doelbewus daardie sitplek so naby haar kom inneem het. Wie is hy? Wat wil hy hê? Wat gaan sy doen? ‘n Oomblik oorweeg sy dit om weer om te kyk – net om seker te maak dat sy haar nie vergis het nie. Maar dadelik onderdruk sy die impuls. Sy wéét hy is daar, sy wéét hy wag net dat sy omkyk om haar weer smalend aan te staar.

    Na nog ‘n minuut of wat kan sy dit nie langer hou nie. Al wil sy nie, kan sy haarself nie help nie en draai weer stadig om. Weer kyk hy haar spottend in die oë. Dan lig hy sy regterhand op en trek met sy voorvinger oor sy keel. Hy grinnik toe hy die skok in haar oë sien. Vinnig ruk sy haar kop terug en bly bewend sit. Sy forseer haarself om die houtwerk te bestudeer – ou hout, donkerbruin. Die tafels van die staat en verdediging is vol fyn krapmerkies van al die krammetjies, skuifspelde, penne en horlosies wat deur die jare daaroor geskuur het.

    Sy is dankbaar toe sy edele, regter Victor Tshabalala, die hof binnekom en sy die staat se saak kan voortsit. Soos sy haar daarin verdiep, raak die tartende vreemdeling vergete.

    U Edele, die staat roep speur-sersant Hendrik Potgieter. Nadat hy ingesweer is, begin sy die getuienis lei.

    Sersant, op die 11de September 2011 is u na Langklipstraat 536, Mitchellsplein, ontbied. Wat het u by u aankoms aldaar gevind?

    Ja, dis korrek. Ek onthou die datum goed, want dit was die tiende herdenking van die Nine-eleven aanslag in Amerika. Ek is om kwart oor sewe die oggend na die betrokke adres ontbied en was binne tien minute daar, aangesien dit nie ver van ons stasie af was nie. In die voortuin van die eiendom staan ‘n groot moerbeiboom. Aan ‘n mik drie komma ses-vyf meter bo die grond was ‘n nylon-tou vasgemaak. Aan hierdie tou het die liggaam van meneer Joseph Klaradyn aan sy nek gehang. Hy was reeds dood. Langs hom het ‘n sesvoet staanleer plat op die grond gelê. Die nooddienste het kort daarna aangekom en nadat ek die nodige afmetings en waarnemings opgeteken het, het ek toestemming gegee dat die liggaam na die lykshuis verwyder kon word.

    U was ook die ondersoekbeampte in die saak, nie waar nie?

    Weereens korrek. In die loop van my ondersoek het ek verskeie verklarings afgeneem, asook ‘n deeglike ondersoek van die boom, leer en tou uitgevoer.

    Dit het na ‘n duidelike geval van selfdood gelyk, nie waar nie?

    Op die oog af ja. Dit wou voorkom asof meneer Klaradyn teen die leer opgeklim het, die tou aan die tak en om sy nek vasgemaak het en toe die leer omgeskop het om so sy eie lewe te neem. My ondersoek het egter duidelik gewys dat dit nie die geval was nie. Dit het die vorige nag gereën en die oorledene se skoensole was vol modder. Tog was die trappies van die leer skoon. Daar was geen teken dat iemand dit gebruik het om op te klim nie. Dit het my laat vermoed dat ‘n misdaad gepleeg is, wat verdere ondersoek ook aan die lig gebring het.

    Wat was die uitslag van u ondersoek?

    Dat meneer Klaradyn by wyse van versmoring vermoor is deur hom op te hang. Dit het onmiddellik die suspisie op die beskuldigde laat val. Verskeie persone het verklaar dat die oorledene en sy stiefseun, die beskuldigde, gereeld in hewige argumente betrokke was en mekaar ook te lyf gegaan het. Volgens die getuies het die beskuldigde altyd die slegste daarvan afgekom, omdat hy soveel kleiner as die oorledene was. Daar is verder getuig dat hulle die vorige aand weer ‘n groot uitval gehad het, en dat die beskuldigde toe geskree het ... Sersant Potgieter maak ‘n notaboekie oop, lees en sê: Ek haal aan: ‘Dis jou einde, jou logge, uitgevrete vark!

    Dit toon wel ‘n motief, maar is daar enige fisiese bewyse dat hy wel die misdaad gepleeg het, of berus dit slegs op omstandigheids-getuienis?

    Ja, daar is bewyse. Op grond van die verklarings van persone wat ondervra is, kon ‘n lasbrief bekom word om die verdagte se kamer in die huis te deursoek. In ‘n laai van die hangkas is verskeie items gevind. Daar was ‘n lengte nylontou wat presies ooreengestem het met die tou waaraan die slagoffer gehang het. Daar was ook ‘n tapytmes waarvan die lem nie meer so skerp was nie, ‘n paar leer handskoene en ‘n katrolstelsel waarmee swaar voorwerpe opgehys word.

    U Edele, wend Kass haar weer tot die regter, die forensiese deskundige se getuienis sal aantoon dat hierdie voorwerpe direk met die beskuldigde verbind kan word. Hy getuig egter tans in ‘n ander saak in Pretoria en sal eers volgende week hier kan getuig. Intussen het ons geen verdere vrae aan hierdie getuie nie. Sy gaan sit.

    Regter Tshabalala kyk na advokaat Gerber. Het die verdediging enige vrae vir die getuie?

    Gerrie Gerber spring vinnig regop, vee oor sy kuif, en sê: Ja, beslis, U Edele. Hy kom staan voor sersant Potgieter, kyk hom skerp aan en begin: U het genoem dat die oorledene baie groter en swaarder was as die beskuldigde. Kan u vir die hof ‘n aanduiding gee van hoe groot die verskil werklik was?

    Ja, ...e.. Hy maak weer sy notaboekie oop. "Die oorledene was een komma sewe-nege

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1