Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ek en jy verskil hemelsbreed
Ek en jy verskil hemelsbreed
Ek en jy verskil hemelsbreed
Ebook320 pages3 hours

Ek en jy verskil hemelsbreed

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Geen verhouding is altyd gemaklik en foutloos of sonder konflik nie. Dit is dikwels die andersheid van jou lewensmaat wat jou in die eerste plek na hom of haar aantrek. Maar later lei hierdie andersheid tot groot konflik. Ek en jy verskil hemelsbreed gee praktiese raad oor hoe om met hierdie verskille saam te leef en julle huwelik ten volle te geniet. Louise van Coller bespreek huwelike in vandag se realiteit, praat uitvoerig oor verskillende persoonlikheidstipes, verskillende agtergronde, die invloed van kinders op huwelike, konflik en konflikhantering. Bekende paartjies soos Corné en Justine Krige en Bobby en Annatjie van Jaarsveld se huwelike word as gevallestudies gebruik. Ek en jy verskil hemelsbreed is ’n boek vir jong-getroudes, ontnugterdes, leë-nessers, geskeides, getroudes met jong kinders of diegene wat ’n tweede huwelik oorweeg.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 3, 2014
ISBN9780796319067
Ek en jy verskil hemelsbreed
Author

Louise van Coller

Louise van Coller is ’n christelike huweliksberader en persoonlikheidsanalis. Sy is in privaatpraktyk in Pretoria. Louise is tans besig met haar doktorsgraad in gesins- en huweliksberading. Sy is getroud met Marco en hulle het twee kinders, Adriaan en Mila.

Related to Ek en jy verskil hemelsbreed

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ek en jy verskil hemelsbreed

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ek en jy verskil hemelsbreed - Louise van Coller

    Bedankings

    Groot dank aan my ouers wat my ’n uitstekende opvoeding gegee het, vermeng met daaglikse grappies en ’n allesoorheersende liefde. Jul onvoorwaardelike aanvaarding en geduld het my ’n sterk selfbeeld gegee en my nog altyd laat glo dat ek tot alles in staat is deur Christus wat my krag gee. Dit is die grootste bemagtiging wat enige ouer ’n kind kan bied en dit het van my die vrou gemaak wat ek vandag is. Ek is vir julle baie, baie lief!

    Aan my liewe gesin wat daagliks vreugde en lewe vir my siel bring: Julle het my soveel lesse geleer. Alleen deur ouers te word leer ’n mens van kinders en ouerskap – ’n wonderlike, dog uitputtende reis! Dankie aan my man wat deur moeilike tye in ons huwelik gebly het, wat geweet het dat daar vir ons meer wag en dat gesinsgebondenheid vir ouers en kinders lewensbelang­rik is, en so sy huweliksverbond gestand gedoen het. Jou aandeel en liefde is ingebou in my karakter. Ek het jou innig lief! Ten spyte van ons hemelsbreë verskille is ons verseker pasmaats.

    Aan elke mens wat my oor jare genoeg vertrou het om my ’n kykie in hul huwelik te gun en om so lewensondervinding oor huwelike op te doen. Dankie, ek leer nog steeds. Mag ons by die wil van God uitkom en leer om weer vrede en vreugde in ons huwelike te vind.

    Groot dank ook aan Danny Fourie vir die keurige taal­ver­sorging.

    Aan God die Vader wat my deur sy Drie-eenheid van myself leer en om oor myself te kom en soveel geduld en genade open­baar. U plan is altyd soveel groter as myne.

    Alle eer aan God!

    A research project is rarely the work of only one author. It is more accurately the end product of a personal journey, and the distillation of many influences and valuable contributions of others along the way.

    – Onbekend

    Wie moet hierdie boek lees?

    •As julle in ’n stadium wonderlik gelukkig getroud was en deesdae voel of julle mekaar nie meer verstaan nie, mekaar heeltyd irriteer en niemand die saamwees geniet of die ewige frustrasies kan hanteer nie.

    •As jy dalk as kind uit ’n gesin kom waar daar ewige konflik tussen jou ma en pa was, of jou ouers moontlik geskei is en jy nie goeie rolmodelle gehad het nie.

    •As jy self getroud is en nie lewe in oorvloed in jou huwelik ervaar nie, en al egskeiding of selfs moord oorweeg het.

    •As jy weet julle verskil hemelsbreed en aan jul huwelik wil werk en nie altyd weet waar om te begin en waar om ant­woorde te kry nie.

    •As julle dalk klein kinders het en bang is dat jul huweliks­lewe gaan nooit weer na sorgeloos en sexy terugkeer nie.

    •As jy kinders het wat dalk reeds getroud is of op trou staan, en nou reeds sien dat hulle ’n goeie boek met die waarheid oor die huwelik nodig het.

    •As jy dalk reeds geskei is en jouself op ’n volgende huwelik wil voorberei en dit hierdie keer verseker reg wil doen.

    •As jy dalk vriende het wat op skei staan en ’n boek soek wat kan help.

    •As jy beplan om eersdaags te trou en die realiteite van die huwelik wil leer ken om jul huwelik nou al teen egskeiding in die toekoms te beskerm.

    •As jy onlangs getroud is en nooit saam voorhuwelikse be­rading gedoen het nie.

    Dan is hierdie boek vir jou geskryf!

    Voorwoord

    Ek groet jou vriendelik en wil vandag aan elke persoon in ’n huwelik hoop gee. Dit wat jy nou in jou huwelik beleef, kan verbeter en indien jou huwelik dit vra, kan dit selfs gered word. Waar mense die verskille duidelik verstaan en bereid is om te leer hóé om dit beter te hanteer, is wonderwerke waarlik moontlik! Ek sien dit daagliks.

    Hierdie boek is geskryf om mense te laat glo dat ’n gelukkige huwelik nog moontlik is en presies hoe ons dit moet benader. So baie van ons sukkel met ons huwelike en het ons vertroue in die huwelik totaal verloor. Ons sien elke dag die skade wat egskeiding aan mense se lewe en kinderharte aanrig, en hoe dit ’n mens se lewe amper kan ruïneer of uitmergel. Veral waar jy dalk self as kind uit ’n agtergrond van egskeiding kom of erger nog, ewige aanhoudende konflik ervaar, is dit noodsaaklik dat jy die huwelik verstaan en duidelik sien wat kan skeefloop, en hoe om dit te voorkom.

    My naam is Louise. Ek is ’n huweliksberader en persoon­likheidsanalis en help daagliks mense met huweliks­probleme en persoonlikheidsverskille. In my leeftyd sal ek nooit genoeg mense persoonlik kan help wat met hul huwelik sukkel nie. Juis daarom glo ek dat hierdie boek ver meer kan doen en meer mense se lewe met genesing kan aanraak, as wat ek in ’n leeftyd kan vermag.

    Ek wil alle eer aan God gee wat vooraf bepaal het dat my eie huwelik ook deur diep waters sal gaan. Hiermee kon ek die uitmergelende belewenis van huwelikstrauma in elke sin van die woord deurmaak om dit te verstaan. Genadiglik was ons by professionele mense wat kon help en leef ons vandag in ’n gelukkige huwelik. Let egter daarop dat dit nie elke dag sonder konflik is nie, maar wel regtig gelukkig.

    Inleiding

    The greatest waste in marriage is the difference between what you have and what you could have.

    – Ben Herbster

    By huweliksberading is die enkele grootste probleem die verskynsel dat twee mense in ’n huwelik so drasties verskil. Ironies genoeg is dit juis hierdie verskille wat mense aanvanklik na mekaar toe aantrek. Hierdie magnetisme kan paartjies nagte om laat gesels – juis omdat hulle hierdie wonderlike andersheid wil ontdek en geniet. Ná sewe jaar se getroude lewe en dikwels ná kinders, weet hulle nie meer wat om met die verskille te maak nie. Hulle vind dit meestal glad nie meer aantreklik of magneties nie en sal mekaar veel eerder wil verander (vermoor) of opgradeer soos met ’n nuwe selfoon.

    In die mens se wese is daar vier kernkonsepte waarna ons elkeen diep in onsself hunker: vrede, liefde, aanvaarding en erkenning. In ’n ongelukkige huwelik beleef ’n mens presies die teenoorgestelde. In ’n ongesonde huwelik ervaar ’n mens daagliks verwerping, juis omdat jy nie aanvaar word vir wie jy is nie. Dit bring dan onderliggende konflik wat in elke argument of bespreking sluimer, en eindelik die totale afwesigheid om geliefd te voel. Hierdie emosies dra by om ’n mens elke dag stelselmatig af te breek en te dreineer. So kom jy op ’n punt waar al die liefde vir jou maat stadig maar seker uit jou wese gewurg word, totdat daar net mooi niks van oorbly nie. Dan is dit net verwyte, beskuldigings en die allesoorheersende begeerte om vry te wees. Klink dit dalk bekend?

    Die huidige statistieke wys daarop dat ongeveer 50% van alle eerste huwelike in ons samelewing in die skeihof eindig, en naastenby twee keer soveel by tweede en derde huwelike. Skokkend, nè!

    Hierdie voorbeeld wat aan ons kinders voorgehou word, is twyfelagtig om die minste te sê. Baie jong mense sien vandag nie regtig meer die nut van die huwelik in nie. Dit is net makliker om saam te bly.

    Ongelukkig is die realiteit of die skadukant van die meeste huwelike hol beloftes wat meestal op hartseer en pyn uitloop. As ons onsself en die volgende generasie wil help, is dit ons plig om te leer hoe om aan ons huwelike te werk. Dit is tyd dat ons nou ’n oplossing vir hierdie probleem soek.

    My mikpunt met hierdie boek is dus om aan jou die toerusting te gee om die werk aan jou huwelik te doen waarvan die ou mense altyd gepraat het (niemand het egter presies gesê wat bedoel word nie.) Daarby wil ek jou verseker dat waar twee mense bereid is om te leer en in hul karakters te groei, daar altyd ’n kans op ’n gelukkige huwelik is. Jy mag dalk voel dit is nou so onherbergsaam soos ’n maanlandskap met versteekte landmyne, wat net wag om te ontplof! Ek hoor jou hart en kan jou verseker, met professionele hulp kan ’n mens dit nog laat werk.

    People become really remarkable when they start thinking that they can do things. When they believe in themselves they have the first secret of success.

    – Norman Vincent Peale

    1

    Ons almal se realiteit

    Love is a four-letter word spelled t i m e.

    – Onbekend

    Ons leef in ’n tydperk wat gekenmerk word deur huwe­liks­konflik, gejaagdheid en ’n strewe na finansiële oorlewing. Die lewe voel dikwels na ’n ewige stryd en min mense leef regtig nog in ’n waas van vreugde en opgewonde tevredenheid. Die huwelik is veronderstel om soos ’n buffer teen die lewe te wees en mense die gevoel van behoort en aanvaarding te gee, maar tog sien ek daagliks die teenoorgestelde. As ’n huweliks- en gesinsberader ys ek as ’n mens statistieke van die gelukkige huwelik moet opdis. Dit voel vir my vandag of daar min tot geen mense is wat regtig die kuns vervolmaak het om mekaar waarlik te aanvaar vir wie hulle is. Mense is nie gelukkig en tevrede met mekaar nie. Almal wil hul maats verander, of koester die verwagting om hulle so te skaaf dat hulle meer kan dink soos hulle self dink.

    Toe God ons geskape het, is ons nie gemaak soos ’n grys massa eenderse mense nie – ons elkeen se persoonlikheid is spesifiek gemaak. Juis daarin lê ons elkeen se krag en sterkte van karakter opgesluit en daarom moet ons dit beskerm en met trots uitleef om goed te voel oor wie ons is.

    You formed the way I think and feel. You put me together in my mother’s womb

    (Ps 139:13). (Easy to Read Version, ERV)

    Van babadae af reeds kan hierdie verskillende trekke gesien word. Sommige babas sal geduldig op hul bottels wag, terwyl ander letterlik die dak afskreeu. Sommige kinders is prater­tjies, ander klimmertjies en ander hou van hul spasie en wil hul eie ding doen. Hierdie persoonlikheidstrekke is egter reeds by geboorte sigbaar. Ouers kan maar hul kinders dophou, dit verander nie veel op pad na volwassenheid nie. Dit raak net meer verstaanbaar en duideliker sigbaar soos hulle in hul identiteit groei. Ek dank God vir hierdie verskille, want dit maak ons elkeen uniek en juis daarin vind ons ons vryheid, andersheid en wie ons is. Ons is juis so geskape om elkeen ’n unieke rol op aarde te vervul, toegerus met die perfekte persoonlikheid vir die werk wat wag. Dink net hoe vervelig sou die wêreld wees as ons almal eenders moes dink en doen, ag, nee wat … dit sou hopeloos te eentonig wees.

    Today you are you, that is truer than true. There is no one alive who is youer than you.

    – Dr Seuss (Theodor Seuss Geisel)

    Baie mense stoei vandag nog met mekaar oor hierdie andersheid en die verwronge verwagtings wat dit meebring. Ons leef elk­een in ’n eie wêreldjie waar ons ons eie persepsie van alles om ons glo, en verwag almal om ons moet dit ook so insien – so onmoontlik! Uit die aard van die saak kom huweliksmaats ook elkeen vanuit verskillende ouerhuise met hul eie manier van aangeleerde dissipline. Dit bring mee dat ons oor die konsep van wat reg en verkeerd is, verskil. So sal hierdie aangeleerde gedrag en grootwordverskille verseker maak dat konflik onvermydelik sal wees. Kyk maar hoe die saam grootmaak van kinders ’n paartjie se persoonlikheidsverskille uitlig en letterlik soos ’n vergrootglas lewensgroot maak.

    Ouers verwag dikwels van hul kinders om soos hulle te dink en op te tree, en koester goue verwagtings van hulle. Hierdie verwagtings is dikwels onbewustelik vir eie gewin, en so ont­neem jy ’n kind die vreugde om sy ware identiteit te ontdek en volledig uit te leef. Ek sien daagliks volwassenes, wat vrolike klein dromertjies in hul kinderlewe was. Ongelukkig is hulle deur druk en onkunde van ouers gedwing om beter te fokus en anders te dink, en beleef hulle al vir jare verwerping in hul persoonlikheid en ryk innerlike verbeeldingslewe. Die uiteinde hiervan is dikwels depressie en ’n ewige soeke na aanvaarding, omdat hulle nooit onvoorwaardelik aanvaar is vir wie hulle werklik is nie: Ek was net nooit goed genoeg vir hulle nie! So word mense onbewustelik geleer om konstant ’n rol te moet speel om aanvaar te word.

    Wanneer so ’n identiteitsverwarring ontstaan, verloor ’n mens ’n diepe deel van jou identiteit en berokken dit oneindige skade aan jou selfbeeld. Wat bereik ons egter deur mekaar aan hierdie druk bloot te stel? Ons gee oorsprong aan verwerping, ’n swak selfbeeld en skep by ons kinders die siek gewoonte om te leer om vir aanvaarding op te tree – people pleasing. Selfs by volwassenes sien ek dikwels hierdie tendens waar dit deur ’n huweliksmaat volgehou word en mense hul identiteit letter­lik moet aanpas om deur ’n maat aanvaar te word – it’s like a puppet on a string! Hoe gouer ons leer om mekaar te aanvaar vir wie ons is en die spesifieke persoonlikheid erken vir sy of haar sterk- en swakpunte, hoe gouer kan die teleurstelling wat geskep is deur onmoontlike verwagtings tot ’n einde kom.

    In die huwelik is dit bes moontlik een van die grootste stryd­punte wat uitstaan by huwelikskonflik: die ewig onbereikbare verwagtings. Waar mense verlief raak, trek die andersheid hulle gewoonlik soos ’n magneet aan en sien hulle nie hierdie verskille as bedreigend nie. Dit is meer soos ’n verslawing waarvan hulle nie kan of wil loskom nie. Jare later is dit dan juis daardie ver­skille wat skaaf en konflik meebring, omdat hulle nie weet wat om met die andersheid te maak nie. Die onverstaanbaarheid bring verwydering en mense beweeg emosioneel weg van me­kaar, terwyl elke vlak in die huwelik daardeur benadeel word. (Legally connected, emotionally disconnected.) Dit is sekerlik die hoofrede waarom die egskeidingsyfer wêreldwyd besig is om ’n samelewingsprobleem sonder kitsantwoorde te word. Wat staan ons egter te doen? Is daar regtig ’n oplossing, of is trou ’n hopelose sprokie wat uitgedien geraak het?

    Nee, verseker nie, dit kan wel werk, maar dan moet ons leer hoe om die huwelik anders te benader. Ons het elkeen die potensiaal om daarvan ’n sukses te maak, ons moet net dieper delf en dit wat voor ons oë is beter benut om groter pret daaruit te kry. As jou huwelik en dit wat jy daaruit wil hê vir jou ’n hoofprioriteit is, maak dan werk daarvan om dit te laat slaag. Kry hulp, gaan sien ’n professionele persoon, lees ’n paar goeie boeke – maar werk asseblief daadwerklik daaraan, moenie wag vir beter dae nie. Dit mag dalk nooit kom nie. Dit is bes moont­lik die belangrikste guns wat jy aan jouself kan bewys, want jou huwelik bepaal elke dag jou lewenskwaliteit!

    Vir elke huwelik wat knel, waar mense mekaar al wou ophang of uitsmyt, wil ek jou vra, gee mekaar nog ’n kans. Leer weer die mens agter die hartseer en irritasie ken. Jy mag met ’n bietjie hulp van voor af verstom staan om iemand te herontdek wat jy lankal afgeskryf het – daar is steeds hoop. Beskou dit vanuit ’n ander fokuspunt en gee jul gesinslewe weer ’n kans, sodat die verlede nie die toekoms hoef te bepaal nie. Wonderwerke gebeur waar mense probeer en die lig wil sien!

    For of all sad words of tongue or pen, the saddest are these: It might have been!

    – Anoniem

    2

    Die huwelik

    Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan die huidige ruïneer deur jou oor die toekoms te bekommer.

    – Onbekend

    In ’n huwelik word twee unieke mense, dikwels met twee uit­eenlopende persoonlikhede en agtergronde, saamgevoeg om lewenslank in ’n huwelik deur ’n verbond voor God aan me­kaar verbind te wees. Hoewel hulle meestal uit keuse getrou het en erg verlief was, sluip konflik en agteruit­gang iewers in ná die huwelik voltrek is. Ons moet gaan kyk hoe ons tot die huwelik toetree, met watter valse voorwendsels, voorwaardes en persepsies ons daarin stap, om te verstaan waar die sondaars lê. (Dikwels is ons self totaal onbewus van ons eie denke, ons ware identiteit en verwagtings, wat iewers in ons onderbewussyn lê.)

    Min vroue tree tot ’n huwelik toe met die belofte om onder­danig te wees, daaglikse asembenemende seks te voorsien en onvoorwaardelike respek en liefde te gee. Min mans trou met die gedagte om die priester, hoof en profeet van die huis te wees, sy vrou soos ’n koningin te behandel, elke aand ’n diep kommunikasiesessie deur te werk en vir hulp te gaan as daar huweliksprobleme opduik. (Ha, ha!)

    Mense sê so maklik: Ek is lief vir jou, maar as jy my verneuk, los ek jou! of Jy het my so getrou, so moet my nie nou probeer verander nie. of Ek is nie jou ma of jou slaaf nie, ek moet al klaar twee kinders grootmaak, ek gaan jou nie ook grootmaak nie.

    Klink dit dalk bekend?

    Boonop kom ons elkeen uit ’n ouerhuis waar sekere persep­sies oor jare in ons vasgegroei het. (Jou eerste sewe jaar as kind vorm jou onherroeplik tot wie jy as mens word.) Ons is onlosmaaklik daaraan getrou en wil verseker nie verander nie, trouens, ons verdedig dit dikwels soos tierkatte. Elkeen glo hy weet hoe dit in die huwelik moet wees en behoed jou as jy van my verskil of my wil verander! Vir elke mens is verandering seker een van die mees traumatiese ervarings, en ons voel dikwels in die huwelik dat ons iets moet prysgee wat ons identiteit indirek weerspieël. Die Bybel sê egter dat ons in die huwelik een word. Daarom, om twee unieke, uiteenlopende mense een te laat word, klink vir my alte veel na ’n proses van skaaf en skuur, dikwels tot die bloed loop, of hoe? Dit klink amper na ’n hopelose, onmoontlike taak. Tog het God ’n meesterplan met hierdie verskille gehad en werk dit meestal so uit dat teenoorgesteldes mekaar soos magnete aantrek …

    God het ons lief net soos ons is, maar te lief om ons te los net soos ons is.

    – Leighton Ford

    Deur my ondervinding as huweliksberader het ek male sonder tal beleef dat baie mense verhoudings as gekompliseerd en uitmergelend beleef. Tog streef mense steeds na liefde, die hartseer ten spyt. Mense kom elkeen vanuit ’n dramaties verskillende agtergrond en opvoeding, tesame met ’n aangeleerde persepsie van reg en verkeerd, wat dikwels effens versteurd is. Hiermee saam het ons verskillende temperamente en dink ons vanuit verskillende dominante breinlobbe. Die kans dat mense mekaar dus waarlik kan verstaan en onvoorwaardelik liefhê, klink amper absurd. Voeg dan daarby die trauma van elkeen se kinderlewe en die verwerping wat daarmee gepaardgaan, en bykans elkeen wat leef, het berading nodig om optimaal te funksioneer in ’n samelewing wat grotendeels uit verhoudings bestaan.

    Ouers is dikwels ook nie toegerus om hierdie verhou­dings­kennis aan hul kinders oor te dra of te openbaar nie. So word kinders oorgelaat aan hul eie emosies en humeur en kom dit dikwels eers na vore wanneer mense trou en die vonke spat – want hoekom dink jy nie soos ek nie.

    Om in verhoudings, huwelike en ouerskap suksesvol te wees, is dit eers word en dan doen wat die vrugte sal afwerp.

    – Hettie Britz, Kweek kinders met karakter

    Genadiglik sien ek weekliks in my praktyk hoe mense se hu­we­like verbeter waar hulle hulp kry. Paartjies leer mekaar weer ken en aanvaar mekaar vir wie hulle is. Waar mense se verwagtings openlik bespreek word en hulle mekaar se identiteit aanvaar, kom daar ’n vryheid waar twee mense mekaar weer van voor af kan vind en leer liefkry.

    Dit is egter meestal ’n proses waar ’n professionele persoon mense help om verby hul aangeleerde persepsie van bitterheid en verwaarlosing in die huwelik te kyk. Waar mense hul identiteit en hul maat s’n weer in perspektief sien, en die aanvanklike aantrekkingskrag tussen twee uiteenlopende persoonlikhede verstaan, verstom dit my dikwels hoe die liefde kan terugvloei en die nare, slegte verbittering wegwas.

    Daar is beslis hoop, maar dikwels kan ’n mens dit nie self doen nie en is daar professionele

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1