Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Jou geldsake: Bybelse riglyne vir persoonlike finansiële bestuur
Jou geldsake: Bybelse riglyne vir persoonlike finansiële bestuur
Jou geldsake: Bybelse riglyne vir persoonlike finansiële bestuur
Ebook181 pages2 hours

Jou geldsake: Bybelse riglyne vir persoonlike finansiële bestuur

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hein Kruger, bekende entrepreneur en geldkenner, verduidelik in maklike geselstrant hoe ons as Christene ons geldsake kan regruk en bestuur. Dié boek wys jou jy kán ontslae raak van skuld, reg begroot, jou besteding beheer, jou geld ten beste belê en in vryheid jou geld tot eer van God kan bestuur. Die Here se hart vir sy kinders is om vry te wees - om onsself nie onder 'n slawejuk van skuld en stres te laat indwing nie, maar om vas te staan in die vryheid waarvoor Christus ons vrygemaak het. As Christene moet ons goeie rentmeesters wees en verantwoordelik omgaan met dit wat aan ons toevertrou is; daarom word die verskillende onderwerpe breedvoerig vanuit 'n Bybelse perspektief gedek om jou te help om jou geld tot eer van God te bestuur. Alle tantième uit verkope word geskenk aan Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJul 29, 2015
ISBN9780796318985
Jou geldsake: Bybelse riglyne vir persoonlike finansiële bestuur
Author

Hein Kruger

Hein Kruger is 'n bekende op RSG en Radio Kansel waar hy gereeld oor geldsake gesels. Hy is ook besturende direkteur van Kruger Internasionaal, wat hy in 2000 gevestig het.

Related to Jou geldsake

Related ebooks

Related articles

Reviews for Jou geldsake

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Jou geldsake - Hein Kruger

    1 My storie

    En so het dit begin

    Ek het nie sommer net toevallig eendag geleer hoe om God se geld in my hande, oftewel my geldsake, tot eer van Hom te maak nie.

    Nee, dit was ’n 26 jaar lange reis deur my eie woestyn waartydens ek soms nie geweet het waarheen God my lei nie en baie keer van Hom af weggedwaal het. Maar Hy het my nooit verlaat nie. Soos ’n verlore skaap het Hy my telkens gaan haal en teruggebring op sy pad. Maar in hierdie jare lange reis het Hy my ook geleer en ervaring laat opdoen.

    Uiteindelik het Hy my vanaf 12 Mei 1998 tot 31 Augustus 1998 tot by my eie Damaskus gebring. In daardie drie en ’n half maande het die uitleenkoers van die Reserwebank van 14,78% tot 21,85% gestyg en die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) se algehele indeks met 40% van 8359 punte op 20 April tot 4694 punte op 11 September gedaal. Die uitwerking hiervan op my, ’n 44-jarige man wat moes sorg dat ’n persoonlike begroting klop, was om die minste te sê uiters vernietigend.

    Oornag het ’n paaiement van R10 000 om huis- en motorskuld te delg, opgeskiet na R14 800 – dit is ’n styging van byna 50%. Oor dieselfde tydperk het die verkoopswaarde van my huis en my JSE-aandeleportefeulje van R2 miljoen na R1,2 miljoen gedaal. My kontantvloei was onder groot druk en dit was baie moeilik om my verpligtinge na te kom. Om my belangrike bates soos my huis te behou, moes ek van mindere bates soos my duur motors ontslae raak, sodat ek my huisverband kon betaal.

    Tot op daardie stadium het ek geleef soos wat die meeste mense vandag leef. Hoe meer my inkomste gegroei het, hoe meer skuld het ek gemaak. My bates op papier het weliswaar gegroei, maar my kontantvloei was onder permanente druk. Dit is ’n hoogs riskante leefwyse. Dit is die siekte waaraan die meeste mense dan ook ly: om vir te lank te hoog bo hul vermoë te leef. Uiteindelik is dit juis hierdie siekte wat in die twintigerjare van die twintigste eeu tot die Groot Depressie en in 2007 tot die wêreldwye resessie gelei het. In 1998 het ek met groot genade my les geleer voordat dit te laat was, anders sou 2007 my vernietig het …

    In 1998 was ek ’n aandele-portefeuljebestuurder op die JSE toe die markte ineengestort het. Ons firma se kliënte was in rep en roer. Hulle was bekommerd omdat die waarde van hul portefeuljes met 40% gedaal het, en dit het harde werk gekos om hulle te oortuig om nie te verkoop nie, maar die moeilike, dog slim ding te doen en te wag dat die storm oorwaai – soos dit altyd doen.

    Die ervaring wat ek tot op daardie stadium opgedoen het, het my skielik laat besef hoe ek die situasie moes benader. Ek het besef die prentjie lyk op kort termyn duister en duister sal dit bly as ’n mens skielik drasties reageer en verkoop. Benoude katte maak immers benoude spronge. Wat dit beteken, is dat mense met beperkte inligting tot hul beskikking op kort termyn die verkeerde besluite oor hul langtermynbates neem. Dit alles het om my gebeur.

    Ek het baie ervaring gehad waaruit ek kon put. Ek was ’n finansiële en politieke verslaggewer by Beeld, ’n stadsraadslid op die begrotings- en uitvoerende komitee van die streekdiensteraad in Johannesburg, ’n eiendomsontwikkelaar in die opkomende swart behuisingsmark aan die Rand en toe al agt jaar lank ’n portefeuljebestuurder en politieke ontleder op die Beurs. Ek het besef ek het praktiese kennis oor wat ’n mens in sulke finansiële markomstandighede te doen staan.

    Ek het my kennis veral met behulp van mentors opgedoen wat die Here deur die jare oor my pad gebring het. Hierdie mense het met my gesels asof ek hul gelyke was en het openhartig sakebeginsels met my gedeel: mense soos dr. Anton Rupert van Rembrandt en dr. Albert Wessels van Toyota. Dit was veral ’n kollega soos David Meades, die sakeredakteur van Beeld, wat die twee belangrikste deure in my lewe vir my oopgemaak het.

    In my tyd as politieke verslaggewer het David my genooi om op die sake-redaksie te dien wanneer die parlement in reses was. Dit was my aanvanklike leerskool in die wêreld van sakemanne en ekonome. Daarna het David, wat ’n lid van die JSE was, my as politieke ontleder op die Beurs aangestel en so weer vir my ’n wonderwêreld ontsluit wat nie vir baie mense beskore is nie. Omdat die Here ons paaie laat kruis het, is ek twee geleenthede gegun wat my ervaring laat opdoen het wat later teruggeploeg kon word tot eer van Hom.

    Deur hierdie leerskool het die Here my laat besef ek kan met my ervaring van die geldmarkte, die ekonomie en die politiek saam met die praktiese ervaring van openbare begrotings ontleed, my eie geldsake herstruktureer. Hierdie insig sou die begin wees van hoe ek my werk aan Hom toewy.

    Oor die volgende paar jaar het Hy my geleer hoe ek my kennis en ervaring en die bates waarmee Hy my geseën het met sukses op my eie geldsake kon toepas. En hoe ek dit as my bediening tot eer van Hom kon aanwend om ander mense se lewens beter te maak.

    Hieruit het die batebestuursmaatskappy Kruger Internasionaal ontstaan. Ons is soos ’n gemeente van Paulus. Soos Paulus het God my ook geseën met mense om my by te staan in die taak. En die mense wat Hy op my pad gebring het, is mense wat ek moes leer soos wat God my deur my mentors geleer het – hoe om met verantwoordelikheid met sy geld om te gaan tot sy eer.

    Net soos Paulus

    Net soos vir Paulus is die suksesse van hierdie maatskappy vir my ’n onbeskryflike vreugde. En net soos Paulus word daar soms hindernisse voor my neergegooi en word ek soms beproef. Maar God lei my altyd daardeur en versterk my geloof sodat ek weet my krag, my vermoëns, my ervaringe en suksesse kom alles net van Hom af. Hy beskerm my sodat my beproewinge nie so erg soos Paulus s’n is nie.

    Daarom kan ek, net soos Paulus in die aanhef van sy brief aan die Galasiërs, sê dat ek nie mense dank vir my rol as sakeman, -raadgewer en -ontleder, nie. Ek is nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.

    So sê ek ook saam met Paulus in Galasiërs 1:10 dat ek nie die guns van mense soek nie, maar die guns van God. Ek dien mense, maar ek is ’n dienaar van Christus.

    Ek kan ook net soos Paulus sê dat ek in baie gevalle nie vergoeding daarvoor ontvang nie, omdat die Here my reeds met meer geseën het as wat ek nodig het. Om as mentor te kan optree soos wat ander vir my gedoen het, is ’n seën. Om my ervaring met mense te kan deel al kan hulle in baie gevalle nie daarvoor betaal nie, is my dank teenoor God dat Hy my nog ’n kans gegee het. Nie net geestelik nie, maar ook materieel.

    Vergelyk ek my met Paulus? Ja, ek meet my aan ’n onmoontlike maatstaf. Ek streef na sy intellek, geloof en liefde. Na sy vermoë om in geloof krag uit God te put om met bo-menslike uithouvermoë en selfdissipline te volhard. En na sy vermoë om ontsettend hard te werk, om nie van homself ’n oorlas vir ander te maak nie, en om nie net sy eie nie, maar ook ander se lewensmiddele te voorsien. Ek streef, soos Paulus, om al meer soos Jesus te wees.

    Daarom is my boodskap dat ek die bestuur van my persoonlike geldsake nie kan skei van my lewe in diens van Christus nie.

    My persoonlike finansiële struktuur

    Van jongs af was my persoonlike lewens- en wêreldbeskouing gedrewe. My ma het my geleer om nooit tou op te gooi nie, om nooit toe te laat dat mislukkings my onderkry nie, om altyd op te staan en weer te probeer. Mettertyd het ek ’n sekere benadering gekweek om dit te kan doen.

    Ek beskou enigiets wat ek ontleed of beplan as ’n geboustruktuur: Dit het ’n fondament, pilare of stutmure wat bo-op die fondament gebou word, en ’n dak wat op die pilare of stutmure rus. Hierdie beeld help my om my denkprosesse te vereenvoudig en probleme op te los. Sedert my eie Damaskus is dit ook die manier waarop ek die bestuur van my eie persoonlike geldsake aanpak.

    Eers sit ek die plan vir my struktuur op papier uiteen. ’n Plan is nie ’n plan as dit nie behoorlik gedokumenteer is nie. Daarna voer jy jou plan uit deur die struktuur volgens die plan te bou. Nou word die papier teoreties die bakstene en sement waarmee die fondament, mure en dak gebou gaan word. Dit is hoe jy in die praktyk jou persoonlike geldsake gaan bestuur.

    My persoonlike finansiële struktuur of plan bestaan uit ’n fondament met drie pilare en ’n dak wat op die drie pilare rus.

    Die begroting is die hoeksteen of die fondament van my geldsake en my primêre finansiële plan. Ek beskou persoonlike geldbestuur as die deurlopende implementering en uitvoering van die begroting. My ander finansiële planne kan nie slaag as my begroting nie suksesvol bestuur word nie.

    Die drie pilare wat ek bo-op die fondament bou, is my sekondêre finansiële planne:

    •Die eerste pilaar is my versekering of risiko-dekking wat op kort termyn vir sekere onvoorsiene gebeure en die vervanging van besittings voorsiening maak. Op lang termyn vervang dit die inkomste van my afhanklikes in geval van my afsterwe of as ek ongeskik raak.

    •Die tweede pilaar is my boedelstruktuur wat voorsiening maak vir die belastingdoeltreffende strukturering en verdeling van my bates ná my afsterwe. Ek verwys deurgaans na besittings en bates. Dit is dus belangrik om ’n onderskeid te tref. ’n Bate is ’n besitting wat in waarde toeneem terwyl ’n besitting iets soos ’n motor of ’n rekenaar is wat nie in waarde toeneem nie.

    •Die derde pilaar is my beleggingstruktuur wat op kort, medium en lang termyn in my kapitale en kontantvloeibehoeftes voorsien.

    Uit die praktyk blyk dit dat die primêre en sekondêre finansiële planne nou verweef en interafhanklik van mekaar is, maar terselfdertyd ook streng afsonderlik van mekaar funksioneer. Dit geld met die beplanning en die implementering daarvan. Oënskynlik is daar baie herhaling, maar die konteks verskil. Die implementering van die plan is hoe dit in die praktyk uitgevoer word, en dit moet na aanleiding van omstandighede herbeplan en aangepas word. Hierdie proses hou nooit op nie; dit word ’n lewensroetine ter wille van finansiële oorlewing.

    Bo-op die pilare rus die dak van finansiële onafhanklikheid wat spruit uit die uitvoering en implementering van ’n gesonde begrotings-, versekerings-, boedel- en beleggingsplan. Hierdie persoonlike finansiële plan gebruik jy dan om in die praktyk jou geldsake te bestuur.

    Persoonlike geldbestuur is nie ’n gebou wat binne ’n paar maande afgehandel word nie, maar ’n lewenslange projek. As ek hierdie projek met verantwoordelikheid en selfdissipline uit dankbaarheid tot eer van God in gebed aanpak, dan sal dit suksesvol wees. Dit sal dan nie net vir myself waardevol wees nie, maar ook vir my gesin, familie, gemeente en samelewing. Die projek moet nie oorhaastig aangepak word nie, maar met liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, vriendelikheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Dit alles is die vrug van die Heilige Gees (Gal 5:22, 23). Dit is vir my die riglyn hoe ek met die Heilige Gees wat in my woon tot eer van God lewe.

    Saam met die leiding wat ek van die Heilige Gees ontvang, is daar ook ’n

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1