Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kies die lewe
Kies die lewe
Kies die lewe
Ebook747 pages18 hours

Kies die lewe

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Kies die lewe is die bekende en beminde Solly Ozrovech se immergroen oordenkings in 366 dagstukkies oor die ryk en betekenisvolle lewe wat God in sy oneindigende genade aan al sy volgelinge gee. Hy inspireer sy lesers om Christus te kies en sodoende die lewe te kies. Christus omskep die alledaagsheid van ’n kleurlose sleurbestaan in bruisende lewe en die lewe word in Hom ’n opwindende avontuur. Kies die lewe bied tydlose pitkos vir elke dag van die jaar. Deur vryelik van ons liefde te gee en kreatief te leef, sal ons ’n geur versprei wat die lewe van ander sal verryk en van hierdie wêreld ’n beter plek sal maak.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 20, 2013
ISBN9780796316745
Kies die lewe
Author

Solly Ozrovech

Solly Ozrovech is a beloved South African author of best-selling spiritual books and daily devotionals. His practical approach to faith has captured the hearts of many people, while his homespun wisdom provides honest answers to the complex questions of contemporary life.

Read more from Solly Ozrovech

Related to Kies die lewe

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kies die lewe

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kies die lewe - Solly Ozrovech

    Kies_die_lewe.jpg

    Kies

    dieLewe

    366 Dagstukkies

    Solly Ozrovech

    Lux Verbi

    Januarie

    Gebed

    Hemelse Vader,

    hier aan die begin van ’n nuwe jaar, kom ek na U toe, die Almagtige en Alwyse, wat van die begin af ook die einde sien.

    Voordat ek op die nuwe onbekende pad gaan, moet ek bely dat ek alleen veilig sal wees as U met elke tree my hand vashou.

    As die pad voor my donker lyk, laat my in die lig van die geloof verder gaan.

    As te veel vir my oog verborge is, laat my getrou bly aan dit wat ek wel weet en sien.

    As ek nie my bestemming in die verte kan bespied nie, laat my dankbaar wees vir die enkele tree wat ek wel kan sien.

    As ek u wese nie kan begryp nie, laat my kinderlik-vertrouend vashou aan u beloftes.

    As dit my soms aan geloof ontbreek, laat my nooit die liefde en die hoop verloor nie en, Here, kom my ongeloof tot hulp.

    As ek nie insig in u plan met my het nie, laat my dit in gehoorsaamheid nie bevraagteken nie.

    As ek hierdie jaar suksesvol is, hou my dankbaar, nederig en ootmoedig.

    As teleurstelling en mislukking op my wag, bewaar my van wanhoop.

    Of my drome en ambisies bewaarheid word en of my ideale tot as word in my hande – dierbare Vader, hou my vas in liefde en leer my dat alles ten goede meewerk.

    Maak my blymoedig in die nuwe jaar.

    Ek bid dit in die Naam van Hom wat deur sy dood dit vir my moontlik gemaak het om die lewe te kies – Jesus Christus, my Here en Verlosser.

    Amen.

    1 Januarie

    Deuteronomium 30:11–20

    Kies die lewe!

    Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. – Deut 30:19

    ~

    Baie mense het die vermoë verloor om sinvol te lewe. Hulle voer van dag tot dag ’n sleurbestaan. Daar is geen opwindende toekomsverwagting meer nie – die hoop en die vreugde om te strewe na ’n geestelike ideaal het gesterwe.

    Maar Christus het belowe: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Joh 10:10). Ons het deur sy verdienste die genade ontvang om vol en ryk te lewe; om liefde te gee; om skeppend te bestaan; om deur groei nuwe dimensies van die gees te ontdek en deur geesteskrag van die wêreld ’n beter plek te maak.

    Om Christus te kies, is om die lewe te kies. Hy omskep die alledaagsheid van ’n kleurlose bestaan in bruisende lewe en die lewe word in Hom ’n opwindende avontuur.

    Christus is die wesenlike verskil – Hy maak alles nuut. Hy is die Gewer van die oorvloedige lewe. Hy leer jou om só te lewe dat jy vry word van ’n doellose bestaan en op jou beurt weer ’n geur versprei wat lewe wek.

    Here, leer my om só te lewe dat elke dag sinvol sal wees, dat ek die oorvloed kan ken van ’n lewe – die lewe wat ek in Christus gekies het – tot u eer alleen.

    2 Januarie

    Jesaja 40:27–31

    Die arendsvlug

    […] maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke […] – Jes 40:31

    ~

    Die lewe is vol kleinighede wat heeltemal buite verhouding opgeblaas word. Ons word so maklik vasgevang deur nietighede en ons moontlikhede word beperk deur ’n eng benadering en kleingeestigheid.

    ’n Positiewe Christen ontvang die genade om uit te styg bo irritasies deur te berus in die teenwoordigheid van die lewende Christus. Dit is onmoontlik om kleinlik en bevooroordeeld te wees as die liefde van Christus jou hart, jou gedagtes en jou lewe in beslag neem.

    Om die liefde van Christus uit te leef, beteken om verhef te word tot die hoogtes waarop ons hemelse Vader begeer dat al sy kinders sal leef.

    Wat ook al jou omstandighede is, moet nooit toelaat dat kleinlikhede jou so opeis dat jy die geestelike werklikhede miskyk wat diepte, betekenis en doelgerigtheid in jou lewe bring nie.

    Deur bewus te word van God se teenwoordigheid, is jy in staat om die lewe in perspektief te sien en om dié dinge te onderskei wat werklik belangrik is. Dán vlieg jy met arendsvlerke.

    Dankie, Here, dat ek van U die krag ontvang om met arendsvlerke bo kleinighede uit te styg.

    3 Januarie

    Matteus 28:16–20

    Hy is altyd by jou

    En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. – Matt 28:20

    ~

    Die lewe vereis soms van ons om aanpassings te maak. Een van die moei­likste aanpassings om te maak, is wanneer die kring van be­kendes en geliefdes kleiner word namate hulle die een na die ander wegval en jy omring word deur afsydige onbekendes. Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde (Pred 1:4).

    Jy moet daarteen waak om morbied en bitter te word, of in selfbejamme­ring te versink. Om in jou eensaamheid te kan aanpas by ’n nuwe tydvak, vereis van jou groot verdraagsaamheid, veral teenoor die nuwe geslag. Gun aan hulle die geleenthede wat jy gehad het, waardeer hul doelgerigtheid, hul eer­like bedoelings en hul ywer vir dit waarin hulle glo.

    Versoen jou met die feit dat dit wat wás, tot die verlede behoort en alleen van waarde is as dit in die hede dien om die toekoms te besiel. Vertroetel jou mooi herinnerings, maar moenie toelaat dat dit jou aan die verlede vasketting nie.

    Daar is tog waardes wat nooit verander nie: geloof, hoop, liefde en bo alles, Jesus Christus, wat altyd dieselfde is, tot in alle ewigheid. In dié wete, kry jy die krag om by enige omstandigheid aan te pas en nog tot sy eer te leef.

    Onveranderlike God en Vader, ek dank U vir al die mooi herinnerings wat U my gun. Maar ek vertrou ook op U vir die onbekende toekoms.

    4 Januarie

    Spreuke 16:1–9

    ’n Onfeilbare lewensplan

    Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. – Spr 16:3

    ~

    Hy wat misluk in sy beplanning, beplan sy eie mislukking. Elke mens moet ’n plan hê waarvolgens hy sy lewe aanpak. So ’n lewensplan hoef nie onbuigsaam te wees nie, maar dit moet die rigting aandui waarin jy beweeg. Daarsonder is jou lewe doelloos en onbevredigend.

    Dit mag wees dat jy onbekwaam voel om jou toekoms te beplan en dan aanvaar jy dinge maar soos hulle kom. Om met omstandighede en gebeurtenisse saam te dryf in die hoop dat jy sukses sal bereik, lei alleen tot ongeluk. En jy behaal ook nie oornag sukses nie. Nee, die hysbak na sukses is buite werking – jy moet die trappe gebruik.

    Om konstruktief te beplan, moet jy dit in samewerking met God doen. Maak seker dat alles wat jy beplan aan die Here se vereistes voldoen en dat jy jou deur die Heilige Gees laat lei. Dan kan jy met vrymoedigheid God se seën op jou voornemens vra. Met God se samewerking kan jy jou planne uitvoer en sukses behaal.

    Here, lei my en leer my om my lewe volgens u wil te beplan.

    5 Januarie

    Psalm 55:1–24

    Ontvlugting of geloof

    Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ’n woonplek soek. – Ps 55:7

    Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. – Ps 55:23

    ~

    In hierdie psalm noem die digter twee maniere waarop ’n mens jou pro­bleme kan hanteer. Die wegvliegmetode – om weg te hardloop van jou probleme af – of die geloofmetode – om jou probleme onder oë te sien en op die Here te vertrou om jou te help om dit te oorkom.

    Jona het probeer wegvlug, maar hom daardeur ’n hele boel ander probleme op die hals gehaal.

    Toe Jona egter die weg van geloof volg, het hy uitgevind die Here lei hom op maniere waarvan hy nie eens kon droom nie. Hy het daarmee ’n belang­rike lewensles geleer: dat dié wat hul sorge aan die Here oorlaat, hul pro­bleme kan oorkom.

    Daar is geen kortpad om probleme op te los nie, maar deur geloofsvertroue kry jy die krag en sterkte om dit wel te doen. Dan vind jy tot jou verrassing uit dat God voor jou uitgetrek en die pad voor jou gelykgemaak het. Doen getrou jou deel en laat jou sorge aan die Here oor. God is magtig om jou te ondersteun op maniere wat jy nie gedink het moontlik is nie.

    Here, help my om nooit van my probleme te probeer weghardloop nie, maar om dit in geloofsvertroue aan te pak en te oorkom.

    6 Januarie

    Openbaring 21:1–8

    ’n Tweede kans

    Toe sê Hy wat op die troon sit: Kyk, Ek maak alles nuut. – Op 21:5

    ~

    Indien jou geestelike lewe in ’n groef verval het en dit die vonkel kortkom wat jy eenmaal beleef het, is dit tyd om volkome eerlik met jouself te wees. Gewoonlik soek ’n mens die fout buite jouself en laat jy nie toe dat die Heilige Gees jou help om binnetoe te kyk nie.

    Jy kan probeer voorgee dat jy die noodsaak van ’n lewende geloof ontgroei het en selfgenoegsaam is. Moontlik is jou vriende wêreldgesind en probeer jy met hulle in pas wees. Of deur gebrek aan gebed en Bybelstudie het jy toegelaat dat jou liefde, ywer en geloof afkoel.

    Maar Christus se liefde vir jou het onveranderd gebly. Die Goddelike liefde wissel nie met jou veranderende gemoedstemmings nie. Sy liefde is ewig.

    Wanneer jy besef hoe ver jy van Hom weggedwaal het, is jy waarskynlik té skaam en verleë om weer na Hom toe te gaan. Moenie in selfbejammering oor mislukkings van die verlede verval nie. Begin weer van nuuts af.

    Jesus Christus vereis nie van jou om ’n nuwe geestelike lewe te bou op ou fondamente nie. Sy belofte is onvoorwaardelik: Kyk, Ek maak alles nuut. Hy nooi jou tot ’n nuwe lewe in sy krag, genade en liefde.

    Here, met u krag en sterkte maak ek elke dag ’n nuwe begin.

    7 Januarie

    Jesaja 43:14–21

    ’n Nuwe bedeling

    Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom. – Jes 43:19

    ~

    Hebsug en selfsugtige ambisie het die mens laat ontaard: ou waardes verkrummel voor die aanslag van nuwe eise. In sy soektog na waar­des wat sin en betekenis aan die lewe sal gee, eksperimenteer die mens met dwelms, drank, vrye liefde en vals godsdienste. Maar dis ’n ydele hoop dat hy dáár ’n ervaring sal vind wat aan die diepste hunkering van sy hart sal beantwoord.

    Die enigste manier om weer sin aan die lewe te gee is om terug te keer na die geestelike waarheid en waardes van die Skrif. Dit is die eerste tree op die pad na ’n nuwe bedeling.

    Om deel te hê aan hierdie nuwe era, moet jy self eers ’n nuwe skepsel word in wie se lewe die teenwoordigheid en krag van die lewende Christus sigbaar is.

    Die grootste bydrae wat jy tot die toekoms kan maak, is om jou volkome toe te wy aan Christus en as Geesvervulde kind van God die boodskap elke dag prakties uit te leef.

    O Here en Meester, rus my deur die werk van die Heilige Gees toe om die uitda­gings van die toekoms in geloof te aanvaar.

    8 Januarie

    Johannes 21:1–9

    Christus op my lewenstrand

    Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. – Joh 21:4

    ~

    Die dissipels het die hele nag hard maar vrugteloos gewerk. Teen dagbreek nader hulle moedeloos die strand. Toe verskyn Jesus aan hulle om ’n nag van wanhoop te omskep in ’n nuwe dag van hoop en blye verwagting.

    Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie? Hy weet van die skynbaar vrugtelose pogings; van die onvervulde drome; van die diepste verlangens in die hart. Hy wag net dat jy dit aan hom moet bely. Die Here lei hulle uit hul mislukking na sukses: Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry. As die Here van jou ’n koersaanpassing vereis, sal gehoor­saamheid uitloop op sukses. Jy durf jou nie blind staar teen jou mislukkings nie.

    Met Jesus op jou lewenstrand kry jy nuwe krag. Hy sê vir sy dissipels: Kom eet. God voorsien wat jy nodig het om te kan voortgaan. Soos vir Elia onder die besembos op moedverloor se vlakte, roep Hy jou ook toe: Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word! Die Here verwag nie van jou om ’n taak te verrig waarvoor Hy jou nie toerus en versterk nie.

    Here, dankie dat U aan my verskyn op die toneel van my teleurstelling en mislukking om my weer te besiel met nuwe moed vir die taak wat U my gee.

    9 Januarie

    1 Timoteus 6:6–21

    Reik na goud!

    In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. – 1 Tim 6:12

    ~

    Reik na Goud was die leuse van die Amerikaanse span by die Olimpiese Spele van 1984. Net die beste sou vir hulle goed ge­noeg wees.

    Elke mens het die begeerte om sukses te bereik. Niemand wil graag misluk nie. Waarom is daar dan soveel wat misluk?

    Dis verbasend hoeveel mense sonder ’n lewensdoel voortdryf. Omdat hulle niks van die lewe verwag nie, gee die lewe aan hulle niks terug nie.

    Daar is ook mense wat mooi ideale koester, maar wat van meet af hulself daarvan oortuig dat hulle dit nie kan bereik nie. Hulle kla dan later dat hulle nooit die geleentheid gehad het nie, terwyl hulle in werklikheid net nie volhard het nie.

    Sukses is nie om ’n brandende ambisie te bereik nie; dit is eerder ’n diepe bevrediging in die strewe na ’n waardige doel. Daar is mense wat alles bereik het wat die wêreld hulle kan bied, maar tog diep ongelukkig is, omdat hulle soek na iets wat aardse skatte hulle nie kan gee nie.

    Daarom wys Paulus vir Timoteus op die goeie stryd van die geloof en die ideaal van die ewige lewe – dit is die goud van die lewe. Stel gedurig jou mikpunt vorentoe en opwaarts, sodat jy ’n geestelike peil kan bereik waar jy só totaal aan God oorgegee is, dat Hy sy doel met jou lewe kan bereik.

    Ek dank U, my Verlosser, dat my sukses nie van die wêreld afhang nie, maar van die mate waarin ek my aan u Heilige Gees oorgee.

    10 Januarie

    Hebreërs 13:7–19

    Met Christus die toekoms in

    Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. – Heb 13:8

    ~

    Die onveranderlike Christus bring stabiliteit in die lewe van sy kinders. Dit gebeur selde dat die lewe glad en sonder probleme verloop. Soms gaan alles goed; dan skielik, sonder enige verklaarbare rede, duik pro­bleme op.

    Die een oomblik ry jy op die hoogtes van uitbundige blydskap en net die volgende oomblik strompel jy deur die donker vallei van wanhoop.

    Jy wissel gedurig tussen die pole van hoop en wanhoop; van vreugde en droefheid. Daarom het jy ’n stabiliserende invloed in jou lewe nodig – die le­wende Christus.

    Christus is ewig en Hy verander nooit nie. A1 is ’n mens temperamenteel en al wissel jou gevoelens volgens die omstandighede waarin jy verkeer, ondervind jy ’n ongekende standvastigheid wanneer Christus die Koning en Here van jou lewe is en sy Heilige Gees in jou woon.

    Jy word nie meer deur elke stormwind rondgeslinger nie. Daarmee saam kom ’n lewensvreugde só groot dat dit nie onder woorde gebring kan word nie. Aan sy liefdevolle hand gaan jy die toekoms moedig en selfversekerd tegemoet.

    Heilige Meester, ek aanvaar in die geloof u Gees in my lewe. Ek wil graag volgens u wil lewe, sodat ek vastigheid in my lewe kan hê.

    11 Januarie

    Matteus 16:24–28

    ’n Formule vir die lewe

    Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor. – Matt 16:26

    ~

    Om aan die lewe te bly het ’n mens kos, klere en ander materiële dinge nodig. Dit moet egter nooit tot die hoogste goed verhef word nie, want dan is jy soos die ryk dwaas wat sy aardse besittings so liefgehad het dat sy siel skade gely het.

    Om ’n ryk, vol lewe te ly en nie bloot te bestaan nie, het ’n mens iemand nodig om jou lewe mee te deel. Familie, vriende en geliefdes is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe. Hulle help jou om jouself te leer ken. Gelukkig is hy wat van sy vriende kan sê: Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God […] (Filem 4).

    Jy moet iets hê waarvóór jy leef; ’n taak wat jou talente, jou liefde, jou e­ner­gie en toewyding opeis; ’n taak waarin jy arbeidstrots en -vreugde kan vind.

    Jy moet ’n lewende geloof hê wat jou laat uitstyg bo jouself en sin en bete­kenis aan jou bestaan gee. Daarsonder word die lewe ’n doolhof van blinde gange. Met geloof is alle dinge moontlik, want om te glo is om seker te wees van die dinge wat jy hoop, om oortuig te wees van die dinge wat jy nie sien nie.

    Bron van ware lewe, leer my om die kosbare gawe van lewe met eerbied te bejeën en dit met verantwoordelikheid te hanteer.

    12 Januarie

    Efesiërs 4:1–16

    Die strewe na volwassenheid

    Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. – Ef 4:13

    ~

    Die natuur gaan sy gang en die mens groei liggaamlik van kleuter tot grysaard. Dit wil egter nie sê dat die geestelike en verstandelike ont­wikkeling van die mens noodwendig daarmee tred hou nie. Dit is iets waaraan ’n mens moet werk.

    In die strewe na volwassenheid is dit noodsaaklik om ’n norm te hê waar­aan jou vooruitgang gemeet kan word. Vir Paulus is hierdie norm niks min­der as die volmaaktheid en volwassenheid van Jesus Christus nie.

    Dit skyn byna voorbarig om na Jesus Christus te kyk en jou dan voor te neem om aan hom gelykvormig te leef en sy ewewig en volwassenheid in jou daaglikse lewe te openbaar. Om egter te strewe na enigiets minder, is om die standaarde van Christenskap te verlaag. Die uitdaging om so ’n verhewe ideaal na te jaag behoort vir jou ’n bemoediging te wees.

    Wanneer jy bewus word van die verskil tussen wat jy is en wat Hy is, kan jy só ontnugter en teleurgesteld raak dat jy mag ophou om te probeer. Maar deur sy liefde en Heilige Gees werk Hy in jou en kweek Hy die begeerte en die wil om te strewe.

    Jesus Christus, dankie dat ek deur u voorbeeld en genade die vreugde van ’n lewe van oorwinning kan ken.

    13 Januarie

    Spreuke 3:1–10

    Beplanning saam met God

    Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. – Spr 3:5–6

    ~

    ’n Mens kan net vir vandag lewe, of jy kan jou onmiddellike behoeftes ignoreer en slegs vir die toekoms beplan. Albei metodes is ewe dwaas.

    Om na te laat om die teenwoordige konstruktief te benut, is om geleenthede mis te loop. Baie mense droom grootse drome oor die toekoms, maar vergeet dat die fondamente van toekomstige geluk in die hede lê.

    Gelukkig is die mens wat vergesigte het oor wat hy wil bereik en hom voorberei daarop deur die noodsaaklike, alledaagse en voor die hand liggende taak vandag te doen.

    Christus is nie net in die hede saam met jou nie – Hy is ook in jou toekoms. Hy sien jou totale lewe. Hierdie waarheid behoort jou aan te spoor om jou lewe so te beplan dat dit te alle tye in harmonie is met sy heilige wil.

    Om saam met God te beplan, beteken om dikwels die oninteressante taak te verrig sonder om onmiddellik vrugte daarop te sien. Maar ook daarin is God besig om sy doel met jou lewe te bereik.

    Soms is dit moeilik om God se plan met jou lewe te ken. Veral dan moet jy te alle tye getrou en oplettend wees vir enige deur wat Hy vir jou wil oopmaak.

    Meester, ek aanvaar u Koningskap oor my hele lewe en vra dat U my elke dag bewus sal maak van u leiding.

    14 Januarie

    Psalm 28:1–9

    Die krag van gebed

    Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. – Ps 28:6–7

    ~

    Ten spyte van die ongeloof en sinisme van die moderne eeu, verrig God nog steeds wonderwerke. Elke keer as iemand in antwoord op gebed gesond word, het God ’n wonderwerk in die kleine verrig.

    Elke keer as jy ná ’n tyd van spanning vrede in jou hart ondervind; wanneer jou droefheid of beproewing draaglik word en selfs omskep word in jubelende vreugde – dan het ’n wonder gebeur.

    Baie mense bid tot God wanneer hulle in ’n krisissituasie verkeer, maar wanneer die krisis verby is, vergeet hulle dat hulle gebid het en dat God verhoor het.

    Baie hedendaagse Christene kan eerstehands getuig dat wonderwerke gebeur het in antwoord op gelowige gebed. Lewens is hervorm; siekte is genees; afbrekende gewoontes is oorwin; verdraaide menslike verhoudings is herstel. Talle mense het ervaar dat God leiding skenk wanneer Hy daarom gevra word.

    Oorhandig dan in die gebed jou probleme aan God en wag gelowig op Hom. Indien daar iets is wat jy self moet doen, doen dit sonder uitstel. Moet net nie in jou uiterste nood deur wanhoop oorweldig word nie. Op die regte tyd en volgens sy alwyse wil sal God jou gebede beantwoord en jy sal in verwondering en aanbidding staan oor die uitkoms.

    My God en hemelse Vader, ek weet dat U magtig is om te doen ver bo wat ek kan bid of dink. Laat hierdie heerlike waarheid my elke dag lei.

    15 Januarie

    Jeremia 18:1–17

    Om God se wil te ken

    Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat. – Jer 18:2

    ~

    Dit is vir baie mense ’n wesenlike probleem om te weet wat die wil van God vir hul lewe is. Maar God maak tog op sy tyd en sy wyse sy wil aan jou bekend. Dit gebeur dikwels op die mees onverwagte plekke en op die mees ongewone maniere, soos in die geval van Jeremia.

    Jy kan die gewyde stilte en afsondering van ’n kerk opsoek, waar geslagte uit die verlede God gesoek en gevind het. Jy kan uitwyk na die stilte van die natuur. Jy kan jou eie besondere plek hê waar God in die verlede dikwels vir jou ’n werklikheid geword het.

    God openbaar Homself aan dié wat Hom soek – en dit hang hoegenaamd nie van ’n spesifieke plek af nie. God kan jou op enige plek en onder enige omstandigheid ontmoet. Dit kan op die bergtop wees, waar jy sy heerlikheid aanskou. Of dit kan in die donker vallei wees, waar jy worstel met jou eie onvermoë en kleingeloof.

    Jeremia moes na die pottebakkershuis gaan om die stem van die Here te hoor. Hoe kragtig het die Here nie in hierdie vreemde omstandighede met hom gepraat nie. Maar Jeremia is diep oortuig van sy hoë roeping en van die verantwoordelike pad wat die Here vir hom gekies het.

    As jy maar net sensitief en gehoorsaam wil wees, sal jy onmiskenbaar sy stem hoor en leer wat sy wil in jou lewe is.

    Ek dank U opnuut, Here, dat ek te alle tye, op enige plek en onder watter omstandighede ook al, met U kan praat. Maak my vandag sensitief om u stem te hoor en gehoorsaam om u wil te doen.

    16 Januarie

    Genesis 28:1–15

    Vertrekpunt na môre

    Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. – Gen 28:15

    ~

    Vandag is ’n beginpunt, ’n vertrekpunt! Die beslissings wat jy vandag maak, kan al die môres van jou lewe beïnvloed. Dit is alleen wanneer jy ’n suiwere waardebepaling van elke afsonderlike dag maak, dat jy konstruktief vir die toekoms kan bou. Hierdie soort bouwerk vereis ’n plan. Dit is noodsaaklik dat jy doelwitte in die lewe sal hê om jou daarvan te vrywaar dat jy ’n reisiger na nêrens word.

    As jy ’n lewe wil leef wat die moeite werd is, moet jou ideaal of doelstelling groot genoeg wees om as uitdaging te dien om bo jouself uit te styg en dit doelgerig na te streef. Moenie vrees om iets nuuts en moeiliks aan te pak nie. Dit is die enigste pad waarlangs jy bevrediging sal ken. Dit sal jou geestelik versterk en jou in jou geloofsoortuiging laat groei.

    Jou alledaagse taak skep vir jou onbeperkte geleenthede om jou geloof in ’n altyd-teenwoordige God te beoefen. Dan word jou taak, hoe nederig ook al, ’n roeping.

    Jou geloof word dan ’n praktiese werklikheid wanneer jy God se wil na­streef dáár waar Hy jou geplaas het. Dan is dit nie maar net ’n emosie wat vir Sondae gereserveer word nie. Dit motiveer jou om al jou talente in sy diens te stel. Daarby leef jy in die wete dat Hy jou sy bystand en beskerming vir elke dag belowe. Dan leef jy elke dag met God, vir God!

    Leer my daagliks om u wil te doen en u pad te loop, goeie Meester, sodat ek my plig met vreugde sal doen en u doel met my lewe sal bereik.

    17 Januarie

    Filippense 2:12–18

    Medewerker van God

    Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. – Fil 2:12–13

    ~

    Dit is ’n oorweldigende gedagte, tog vol van inspirasie en besieling – God werk in jou! Die uitdagende vraag is of jy met Hom saamwerk en of jy in sy pad staan?

    Jy mag vaagweg bewus wees van jou lewensdoel, maar dit mag miskien net nie sterk genoeg wees vir jy om dan op die uitgestippelde pad te loop wat God beplan het nie. Dan leef jy ’n lewe volgens eie wil en keuse en nie na die wil van God nie. Hierdie selfgekose pad lei noodwendig na ontevredenheid en frustrasie. Jy ploeter voort in eie krag op ’n pad wat jou eie blinde hart beplan het, meer bewus van die neerlae as van glorieryke oorwinnings. Die lewe self verloor sy glans en verval in ’n vale alledaagsheid.

    Wanneer jy met oortuiging erken dat God in jou werk, en jy onwrikbaar besluit om in alle sake aan Hom gehoorsaam te wees, word jy ’n medewerker van God in die kuns om te lewe. As dit gebeur, vind ongelooflike en onverwagte dinge in jou lewe plaas. Wat voorheen struikelblokke was, word nou skielik geleenthede op jou pad wanneer jy aan God se hand die toekoms inbeweeg.

    Here Jesus, Leidsman en Voleinder, gee aan my toewyding, oorgawe en ’n gewillige oor vir u bevele, sodat ek voortdurend u wil vir my lewe sal ken.

    18 Januarie

    Lukas 9:23–27

    Geestelike ondervoeding

    Wat help dit ’n mens as hy die wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan. – Luk 9:25

    ~

    Elke mens wil graag iets met sy lewe bereik; hy wil die bevrediging smaak dat hy nie verniet gelewe het nie. Daarom stel hy vir homself doelwitte en werk met die inset van al sy kragte vir die verwesenliking van dit wat hy as essensieel vir sy sukses beskou.

    Hy versamel alles wat geld en sosiale prestige hom kan bied: ’n steeds groeiende inkomste verhoog sy gevoel van sekuriteit; vriende wat hom kan help om sy doelstellings te bereik en aan hom toegang verleen tot die regte sosiale kringe, word vir hom steeds belangriker.

    Desnieteenstaande gebeur dit so dikwels dat mense wat alles bereik het en oorlaai is met die goeie dinge wat die lewe kan bied, nog onvergenoegd is. Hulle word toenemend bewus daarvan dat hulle iewers iets van kardinale belang misgeloop het.

    Wanneer besittings en alles waarvoor materialisme staan, vir ’n mens be­lang­riker geword het as God; wanneer stoflike dinge vir jou belangriker geword het as geestelike waardes; wanneer ’n balansstaat belangriker is as inte­gri­teit en eer­likheid; dán ly jy aan geestelike ondervoeding.

    Geen mens wat God uit sy lewe weglaat, kan waarlik suksesvol wees nie. Maar as jy geestelik ook groei tot volwassenheid in Christus, leer ken jy die ware betekenis en doel van die lewe.

    Dankie, Here Jesus, dat U dit moontlik gemaak het dat u Heilige Gees sin en betekenis aan my lewe gee en my die vermoë gee om dié dinge te onderskei waarop dit werklik aankom.

    19 Januarie

    Efesiërs 3:14–21

    ’n Heerlike waarheid

    Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. – Ef 3:16

    ~

    Die rykdom wat ’n lewe in God bied, oortref jou wildste verwagtings. Wanneer jy voel dat jy tot oorlopens toe vervul is met sy liefde, vrede en krag, krap jy nog maar aan die oppervlakte van die goudaar van sy genade.

    Die enigste ding wat jou kan weerhou van ’n ryker ervaring met God, is jou eie onvermoë om dit te ontvang. Die grootste gawe wat jy van God kan ontvang is ’n steeds groeiende hunkering na Hom. Dit klink soos ’n teenstelling: as jy God ken, ervaar jy sy volheid, en juis in hierdie vervulling setel die begeerte om Hom steeds beter en meer intiem te ken. Dit is wat die Gees van God in jou lewe doen.

    Dit is nie maar net ’n vlietende emosie wat op jou neerdaal wanneer jy godsdienstig voel nie. Dit is ’n konkrete daad van geloof in die krag van die inwonende Gees van Christus juis wanneer dit voel asof die lewe dreig om uitmekaar te val.

    Jy moet jouself gedurig daaraan herinner: Christus leef deur sy Gees in my! Mettertyd sal jy volkome sekerheid hê en vanuit sy krag leef. Daar lê jou innerlike krag en sterkte. Loof die Here daarvoor.

    Hoe sal ek U ooit genoeg kan dank, Here, dat u Gees in my kom woon het. Gee dat ek dit sal laat blyk in die omstandighede waarin ek leef en werk.

    20 Januarie

    Psalm 8:1–10

    Selfvertroue

    U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. – Ps 8:6

    ~

    Die Bybel leer op baie plekke dat hoogmoed en verwaandheid voor God sonde is. Maar ’n mens kan ook na die ander kant toe sondig: jy kan te min van jouself dink. Jy vergelyk jouself so maklik met ander en dink: Ek is nie só slim nie; ek is nie só sterk nie – of só mooi, só begaafd soos daardie persoon nie.

    Sonder selfvertroue kan geen mens positief en konstruktief leef nie. Jy kan nie jou Godgewilde taak uitvoer nie.

    Dink maar aan Josua wat, ná Moses se dood, die byna bomenslike taak gekry het om God se volk te lei. Hoe sou hy die volk kon aanvoer as hy hom gedurig met sy voorganger, die imposante Moses, vergelyk het? Hoe sou hy die volk die beloofde land kon inlei as hy net altyd gedink het: Ek is nie so ’n groot figuur soos Moses nie. Hy was ’n leier, ’n profeet, ’n Godsman soos daar nog nie vóór of ná hom was nie. Hoe kan ek, Josua, in sy skoene staan?

    Maar God het hom gedurig aangemoedig: Wees jy net sterk en vol moed …

    Dit moet vir enige mens rede tot selfvertroue wees – nie omdat hy dink hy is so besonders nie, maar omdat hy glo dat God self sy taak aan hom gegee het. Daarmee saam gee Hy ook die krag en die moed en die selfvertroue om dit uit te voer: Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie (Ps 18:30).

    Barmhartige Vader, wys my deur u Heilige Gees wat my taak is en gee my in genade die vertroue om dit tot u eer uit te voer.

    21 Januarie

    Jakobus 1:19–27

    ’n Gewillige oor

    […] dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister. – Jak 1:19

    ~

    ’n Wyse man het gesê: "’n Mens het twéé ore en één mond sodat jy twee maal soveel

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1