Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die hart van 'n wenner
Die hart van 'n wenner
Die hart van 'n wenner
Ebook293 pages3 hours

Die hart van 'n wenner

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Emosionele welsyn lê aan die kern van persoonlike sukses. Ons kan ons ware potensiaal slegs bereik wanneer ons leer om ons emosionele reaksies beter te verstaan en te beheer.
Pieter van Jaarsveld wys hoe elke mens emosionele welsyn kan bereik deur sekere emosionele vaardighede aan te leer. Hiermee saam wys hy die leser hoe om ’n doeltreffende ambassadeur en beelddraer van Christus te word wat voluit lewe tot eer van God.
Die hart van ’n wenner was die eerste boek oor emosionele intelligensie wat vanuit ’n Christelike perspektief geskryf is. Dit is al ses keer herdruk en 13 400 eksemplare is al verkoop. Dit is ’n praktiese gids gevul met persoonlike anekdoktes; aanhalings deur bekende wysgere sowel as wêreldbekende motiveringskrywers en -sprekers. Omvattende selfhelptoetse en antwoorde; diagramme en ’n lys van leesstof vir verdere navorsing sal die leser help om sy/haar volle potensiaal te bereik.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJun 20, 2014
ISBN9780796318756
Die hart van 'n wenner
Author

Pieter van Jaarsveld

Dr Pieter van Jaarsveld works both locally and internationally as a consultant on leadership development in the business sector. He has a masters degree in Psychology, as well as a masters degree in Theology. He also did his doctoral thesis on people’s self-perception and -worth. He is a well-known guest on radio and TV.

Related to Die hart van 'n wenner

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die hart van 'n wenner

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die hart van 'n wenner - Pieter van Jaarsveld

    Die

    hart van ’n

    wenner

    Ontwikkel jou emosionele intelligensie

    Pieter van Jaarsveld

    Lux Verbi

    Opgedra aan Irene, Janke en Ilana,

    Pieter-Paul en Yolandi, Mark

    Inleiding

    By ’n kursus in leierskapontwikkeling wat ek aangebied het, het Stefan ingestap met ’n groen bandjie om sy pols waarop die letters F.R.O.G. prominent uitgestaan het. Hierdie bepaalde leierskapprogram is aangebied vir ’n organisasie waarvan die uitvoerende komitee nie bekend was as besonder godsdienstige mense nie. Een van hulle het in der waarheid openlik erken dat hy ’n ateïs was.

    Ek het natuurlik dadelik in Stefan belanggestel omdat die letters F.R.O.G. (soos jy waarskynlik weet) staan vir Fully relying on God. Dit was duidelik dat Stefan met dié bandjie sy geloof wou betuig as Christen wat in die volle glorie van God leef – Iemand wat altyd daar is as antwoord op al ons probleme. Dit was in elk geval my aanname!

    Gedurende die terugvoeringsessie ná die psigometriese toetsing van die kursus het ek besef dat daar baie pyn in Stefan se lewe was. Hy het wel sy F.R.O.G.-bandjie gedra sodat die wêreld dit kon sien, maar hy was diep ongelukkig!

    Sy pa het hulle verlaat om Amerika toe te gaan toe Stefan maar sewe jaar oud was. Sy pa was in elk geval altyd uiters krities teenoor Stefan en het nooit gewys dat hy iets vir sy kind voel nie. Stefan was baie bitter teenoor sy pa en die woede wat hy gevoel het, het hom in sy tienerjare tot dwelms gedryf.

    Die leierskaptoetsing het aangetoon dat Stefan ’n uiters talentvolle mens is, maar hy het terselfdertyd ’n baie lae selfdunk en selfagting gehad. Hy was deurtrek van woede en kon sy emosies nie maklik beheer nie. Hy was ook verskriklik pessimisties, en dikwels depressief. Soms was die stres wat hy ervaar het amper ondraaglik. Die droewigste van alles was dat Stefan ook baie negatief teenoor sy eie kinders sowel as sy vrou was, ten spyte daarvan dat hy hulle baie liefgehad het.

    Stefan het sy F.R.O.G.-bandjie gedra, maar sy lewe was een van algehele wanhoop! Waarom vertrou baie Christene op God, maar hul lewe is ’n totale gemors? Is dit werklik God se wil vir sy kinders?

    Geskape as ’n ambassadeur

    God het ons na sy beeld geskape (sien Genesis 1:26-27). Dit beteken dat ons sy verteenwoordigers en sy ambassadeurs is in die rol wat ons in die samelewing speel. As sy ambassadeur is jy die beelddraer van Christus – die beeld van iemand wat in beheer van sy lewe is, wat sy lewe ten volle uitleef tot eer van God, en wat in staat is om na ander om te sien en hulle te ondersteun (sien 2 Korintiërs 5:17-20).

    Ons moet die vrugte van die Gees dra: liefde, vreugde, vrede, verdraagsaamheid, goedheid, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (sien Galasiërs 5:22-23a). God vereis van ons om ons liggaam en ons gees te beheer.

    Ons uiteindelike doel op aarde is dus om ’n ambassadeur vir Christus te wees.

    Die hedendaagse dilemma: seerkry, pyn, wanhoop

    As jy jou koerant oopmaak en lees van al die moorde, kindermishandeling, verkragting, padwoede, egskeiding, selfmoord, depressie, stres en selfs tieners wat wapens skool toe neem, kan ’n mens sien dat ons beslis nie meer ons lewe of ons emosies kan beheer nie.

    Dit is egter nie net van mense in die algemeen waar nie, maar ook van toepassing op baie Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle God se ambassadeurs op aarde is. Tog is hulle nie in staat om hierdie rol te vervul nie weens tallose dinge wat sedert hul kinderjare gebeur en ’n uitwerking gehad het op hul vermoë om in die volste sin van die woord in God se glorie te leef.

    Baie Christene dra, om dit so uit te druk, ’n F.R.O.G.-armbandjie terwyl hul lewe in chaos is. Ons is nie geskape om op hierdie manier te ly nie en dit is dus belangrik dat ons veg om beheer oor ons lewe terug te kry.

    Emosionele intelligensie (EI) – hoe om jouself en jou verhoudings te hanteer – kan jou dalk as Christen help in jou pogings om ten volle ’n ambassadeur vir Christus in hierdie wêreld te word.

    Wat is emosionele intelligensie?

    Dink aan elkeen wat ’n belangrike invloed op jou of op jou lewe in die algemeen gehad het – toe jy ’n kind was, as tiener of selfs nou, as volwassene. Hierdie persoon het miskien selfs jou beroep op ’n manier beïnvloed. Wat is sy of haar eienskappe?

    In een van my werksessies oor emosionele intelligensie het mense op verskillende maniere op hierdie vraag gereageer. Ek deel graag die antwoorde van mense soos Sarah Gorin, Ansie Oberholzer, Mike Ndhlory, Frananda Venter, prof Van Leeuwen en Adéle Christian met jou:

    minsaam

    goeie luisteraar

    eerlik

    liefdevol

    bedagsaam

    vol selfvertroue

    eerbaar

    bemoedigend

    gesinsgeoriënteerd

    ontspanne

    vasberade

    met goeie doelwitte

    in staat om emosies te hanteer

    betroubaar

    stel opreg belang in ander se welsyn

    ’n sin vir humor

    geduldig

    gee om

    ’n houding van kan alles doen

    optimisties

    aanvaarding van self en ander

    As jy jou eie lys met hierdie een vergelyk, sal jy gou agterkom: Wat jou van ander mense beïndruk, is nie hul kennis, grade of diplomas, oftewel kognitiewe vermoëns, nie, maar wel hoe hulle hulself beheer en hul onderlinge verhouding met ander mense, oftewel emosionele bevoegdheid. Dit is die dimensies van emosionele intelligensie.

    Toe Daniel Goleman se boek, Emotional Intelligence: Why It Can Matter More than IQ, in 1995 gepubliseer is, het hy die sinsnede die nuwe maatstaf vir sukses gebruik. Dit het ’n ongelooflike hoeveelheid belangstelling gewek ten opsigte van die rol wat emosionele intelligensie in ons daaglikse lewe kan speel. Baie mense het gedink dit is maar net ’n nuwe gier!

    Dit was hoegenaamd nie ’n nuwe konsep nie, hoewel die term emosionele intelligensie eers in 1990 deur Peter Salovey en Jack Mayer in woorde vasgelê is. (Edward Thorndike het reeds in die 1920’s ’n soortgelyke konsep bedink.) Meer onlangse navorsing het duidelik bewys hoe belangrik emosionele intelligensie vir die sukses van ’n huwelik, verhouding(s), selfdissipline, fisieke welsyn, sosiale gewildheid en in die werkplek is.

    Definisie van emosionele intelligensie (EI)

    Daar bestaan talle definisies van emosionele intelligensie (EI), maar baie van hulle het geen navorsing om dit te rugsteun nie en is die onbewese sienswyse van die formuleerder daarvan.

    Goleman definieer emosionele intelligensie as: The capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships.(1)

    Self verkies ek die definisie van Reuven Bar-On. Nie net het hy sy navorsing in Grahamstad in 1985 begin nie, maar ook die assesseringsinstrument (EQi) ontwikkel wat in Augustus 1996 amptelik bekendgestel is. Dit het geblyk die beste evalueringsinstrument vir EI in Suid-Afrika te wees, en baie betroubare navorsing is tot dusver hierop gegrond: EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.(2)

    EI verwys dus na die volgende dimensies van intelligensie:

    •Persoonlik

    •Sosiaal

    •Emosioneel

    •Innoverend (vernuwend)

    •Oorlewingsvaardighede

    Hierdie boek is gegrond op Bar-On se benadering tot EI (emosionele intelligensie). Die telling van ’n EI-toets staan bekend as die EK-telling (EQ), terwyl die telling vir kognitiewe vermoë as IK (IQ) bekend is. (Q [Engels] = quotient; K [Afrikaans] = kwosiënt. ’n Sinoniem vir kwosiënt is syfer of uitkoms.)

    In die literatuur sal ’n mens dikwels vind dat, wanneer die skrywer verwys na vaardighede wat emosionele intelligensie betref, die term EK eerder as EI gebruik word, wat nie 100% korrek is nie. Deesdae is dit feitlik aanvaarbaar om die term EK te gebruik wanneer jy na EI verwys en ek doen dit ook in hierdie boek.

    ’n Groot getal boeke oor EK is reeds gepubliseer waarin die nadruk slegs op die emosionele dimensie van intelligensie val. Self glo ek juis die niekognitiewe dimensies bepaal sukses in die lewe, eerder as net die emosionele dimensies. Hoewel die emosionele dimensies belangrik is, vorm hulle slegs ’n deel van die niekognitiewe dimensies.

    IK vs EK

    IK is die assessering van ’n individu se intellektuele, analitiese, logiese en rasionele vermoëns. Dit verskaf ’n aanduiding van die individu se vermoë om dinge te leer, op take te fokus, objektiewe inligting op te roep en te onthou, asook hoe hy redeneer en getalle hanteer, abstrakte en analitiese denke gebruik en die manier waarop hy probleme oplos deur vorige kennis toe te pas.(3)

    EK is die niekognitiewe dimensies van intelligensie. SJ Stein beskou dit as die vermoë om die politieke en sosiale omgewing te lees; om intuïtief aan te voel wat ander mense wil hê en nodig het, asook wat hul sterk punte en swak punte is; om onverstoord te bly onder stres; en om innemend te wees, die soort mens wat ander mense graag wil ken.(4)

    IK-feite

    •IK voorspel sukses op skool.

    •IK voorspel gemiddeld slegs 10% van sukses in jou werk.

    •IK is gevestig en bereik ’n hoogtepunt in die laat tienerjare en vroeë twintigerjare.

    •IK is kultuurgebonde.

    •IK kan nie ontwikkel word nie.

    EK-feite

    •EK is nie gevestig nie. Dit kan voortdurend ontwikkel word.

    •EK ken geen kultuurverskille nie.

    •EK is in die algemeen nie gebonde aan geslag nie. Vroue kan meer emosioneel wees en oor ’n hoër vlak van empatie beskik, asook doeltreffender met interpersoonlike verhoudings wees. Mans, daarenteen, kan hoër vlakke van selfvertroue hê, meer optimisties wees en ’n hoër vlak van strestoleransie toon.

    •EK kan realisties en objektief gemeet word, soos IK.

    •Hoe sterker jou EK-vaardighede, hoe groter jou kanse op sukses.

    •EK kan selfs al in jou kinderjare ontwikkel word. Die ontwikkeling van EK-vaardighede in die kinderjare dui beslis op sukses in volwassenheid.

    EK en sukses

    Dit is duidelik dat IK nie meer as 10% tot sukses bydra nie en dalk selfs net 4% gemiddeld tot sukses in die werkplek.(5) By ’n konferensie oor EK wat in 1999 in Chicago gehou is, het Goleman gesê IK bepaal 15% van die sukses van leiers in beroepe, terwyl EK 85% bepaal. Vir meer inligting oor navorsingsbewyse, sien die Consortium for Research on EI in Organisations, waarvan Daniel Goleman en Cary Cherniss die voorsitters is, op die webbladsy: www.EIConsortium.org.

    Dit is ’n ontstellende feit dat kinders al hoe slimmer word terwyl hul emosionele intelligensie op die afdraande pad is. Onder kinders bestaan daar deesdae toenemende vlakke van wanhoop sowel as vervreemding, dwelmmisbruik, misdaad en geweld, depressie, eetprobleme, ongewenste swangerskappe, afknouery en ’n neiging tot skoolverlating. ’n Mens kan jou kwalik indink wat dit vir toekomstige ouers en die arbeidsmag voorspel!(6)

    Dit is dus nie meer net ’n prerogatief om die EK-vaardighede van kinders te ontwikkel nie, maar ’n absolute noodsaaklikheid. Ten einde dit te doen, moet ons met die ouers begin sodat hulle toegerus is met die nodige EK-vaardighede om hul kinders te help.

    Iets omtrent hierdie boek

    DEEL I

    DEEL I het te doen met EK-vaardighede vir VOLWASSENES in die algemeen (onder wie OUERS). Die doel daarmee is nie om al die dimensies te behandel nie, maar net ’n paar wat gekies is om die individu te help om sy of haar emosionele volwassenheid te ontwikkel.

    In HOOFSTUK 1 is die klem op die vermeerdering van selfvertroue deurdat die leser toegerus word met vaardighede om sy of haar selfbemeestering en selfagting te verbeter. ’n Mens kan jou potensiaal beter gebruik deur negatiewe kondisionering te verander, te leer om geesteskrag te gebruik, en deur die ontwikkeling van ’n vermoë om selfspraak te beheer.

    In HOOFSTUK 2 word emosionele selfbewussyn behandel en die leser gehelp om sy of haar emosies te hanteer sowel as om doeltreffender met woede en kritiek om te gaan.

    HOOFSTUK 3 handel oor optimisme en gee riglyne hoe om mislukkings te hanteer. Dit leer die leser ook van hulpeloosheid en pessimisme en hoe dit depressie kan veroorsaak. Die leser word ook verskillende tegnieke geleer wat kan help om pessimistiese gedrag in optimistiese gedrag te verander.

    In HOOFSTUK 4 word stresbeheer behandel. Hier word tegnieke en vaardighede bespreek om die leser te help om die lewe doeltreffend te hanteer en strestoleransie te verbeter.

    HOOFSTUK 5 bevat riglyne om te besin oor die balans in jou eie lewe en die leser word gelei om doelwitte te stel om ’n selfverwesenlikte individu te word wat in staat is om sy of haar potensiaal ten beste te gebruik.

    DEEL II

    DEEL II het te doen met die kind en meer bepaald met maniere waarop die EK-vaardighede van die KIND ontwikkel kan word.

    In HOOFSTUK 1 is die klem op die ontwikkeling van ’n kind se selfvertroue. Tegnieke, vaardighede en beginsels word bespreek om die ouer te help om die kind se selfdunk, selfvertroue en selfagting te verhoog.

    HOOFSTUK 2 is gerig op bepaalde EK-vaardighede, soos selfmotivering en optimisme, selfbeheersing, eerlikheid, integriteit, vertroue, humor, sosialisering, emosionele bewussyn en kommunikasie, sosiale verantwoordelikheid, empatie en sorg, asook probleemoplossing.

    Response

    In DEEL II is ’n paar toetse ingesluit om ouers te help met die toepassing van die vaardighede wat in die boek bespreek word. In hierdie afdeling word moontlike response op die toetse voorsien.

    Verwysings

    Verwysings na aangehaalde en geraadpleegde bronne word verskaf vir diegene wat daarin belangstel om meer insig en inligting te kry oor aspekte wat in die boek bespreek word.

    Voornaamwoorde

    Die manlike en vroulike vorm word afwisselend in die boek gebruik. Soms, veral in DEEL II, is voorkeur aan die manlike vorm gegee bloot om plek te spaar en sodat die leser met gemak kan lees.

    Erkennings

    Aan my vrou, Irene, en my twee seuns, Janke en Pieter-Paul: Soveel jare verduur julle al my onmoontlike werk- en skryfskedule. Ek sal jul liefde en wonderlike ondersteuning altyd koester!

    Aan Irene Cornelissen wat met soveel toewyding die boek vanuit Engels vertaal en in keurige Afrikaans versorg het: Ek sal jou besonderse hulpvaardigheid en vriendelikheid altyd onthou en waardeer.

    Uitnodiging

    Neem asseblief die vrymoedigheid om jou eie suksesse en uitdagings met my te deel wanneer jy die boek klaar gelees het. My e-posadres is: mwppvj@mweb.co.za. Ek is ook beskikbaar om kursusse aan te bied of ’n gewillige luisteraar te wees as daar enigiets is wat jy graag wil bespreek.

    Ek hoop jy geniet die boek!

    PIETER VAN JAARSVELD

    DEEL I

    EK-vaardighede vir volwassenes

    Hoofstuk 1

    Selfbemeestering en selfagting

    Stefan dra pal sy F.R.O.G.-armbandjie. Maar ongelukkig weerspieël sy persoonlike lewe ’n gans ander beeld. Hy is die samesmelting en toppunt van al die negatiewe dinge wat gedurende sy kinderdae met hom gebeur het. Hy voel minderwaardig teenoor ander mense. Hy word by sy werk dikwels oor die hoof gesien wanneer dit tyd vir bevordering is, want almal beskou hom as iemand wat onseker van homself is. Dit dra verder by tot sy onsekerheid en veroorsaak boonop dat hy alles persoonlik opneem – tot sy eie nadeel. Soms verloor hy sy selfbeheersing. Sy selfvertroue en selfagting is uiters laag.

    Stefan moes leer om vir homself lief te word, in homself te glo en hom daarvan te weerhou om alles persoonlik op te neem.

    Markus 12:33: … en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.

    Mark Twain: Die ergste eensaamheid is as jy met jouself ongemaklik voel.

    Geskape vir prestasie

    Volgens die Bybel is die mens geskape as ’n bietjie minder as ’n hemelse wese (Ps 8:5). Indien dit die geval is, verbaas dit jou nie dat Tony Buzan meen die vermoë van die brein is so groot dat dit ’n reël sou beslaan wat langer as 10,5 miljoen kilometer is as ’n mens dit in syfers sou wou skryf.(1) Ons verstand is groter as wat ons ooit kan dink! Inteendeel, in die jongste navorsing wat by die Princeton-Universiteit gedoen is, is bevind dat daar in ons brein 100 miljard (honderdduisend miljoen) breinselle is en elkeen van hierdie breinselle het dieselfde potensiaal as ’n rekenaar! Dink daaraan! Tussen jou ore is daar 100 miljard skootrekenaars! Hoeveel van hierdie rekenaars gebruik ons? Natuurlik is sommige van hulle daar vir asemhaling, hartklop, en so meer, maar dink aan die potensiaal wat ons het. Honderd miljard rekenaars!

    Maar … wat is die werklikheid? Mense gaan deur die lewe, belaai met gevoelens van onsekerheid, minderwaardigheid, depressie en ontoereikendheid!

    Die slim mense vertel vir ons die verstommende feit dat ons net 1-14% van ons potensiaal gebruik. As ons dan oor hierdie ongelooflike breinkrag beskik, waarom is dit vir die meeste mense onmoontlik om wiskunde te doen?

    Jy het seker ook al gehoor dat ’n ma vir haar kind min of meer die volgende sê: My kind, jy sal vanjaar hard moet werk aan jou wiskunde. Jy weet mos die Smitte het nie ’n kop vir wiskunde nie – jou oupa kon nie wiskunde doen nie, jou pa ook nie en ek nog minder. As jy nie baie hard daaraan werk nie, gaan jy definitief nie slaag nie.

    Wat is die gevolg van so ’n vermaning? Die kind druip dalk nie wiskunde nie, maar hy gaan gewis onderpresteer, want hy glo vas dat die Smit-familie nie die potensiaal het om in wiskunde uit te blink nie.

    As ons mooi oor potensiaal nadink, sal ons besef dat elke mens, vanweë die kapasiteit van sy brein, in staat behoort te wees om goed te vaar in wiskunde – wat nie noodwendig beteken jy gaan dit geniet nie!

    Dit is duidelik dat sommige mense van wiskunde sal hou, ander van wetenskap, en ander weer van die literatuur, maar as die brein se potensiaal so ongelooflik groot is, behoort ons almal goed te wees met wiskunde. Ons word geleer (gekondisioneer) om te glo dat wiskunde moeilik is en ons dínk maar net ons kan dit nie baasraak nie.

    As ’n mens nadink oor wat Buzan van die brein se potensiaal sê en jy vergelyk die grootte van die menslike brein met dié van ’n swaeltjie, tot watter slotsom kom jy? Gebruik jy 1% van jou potensiaal?

    In my tuin is daar twee swaeltjies wat jaar ná jaar terugkom na hul nessie. ’n Swaeltjie se brein is kleiner as my vingernael, en ’n mens wonder hoe ’n swaeltjie weet waarheen om keer op keer terug te keer. Ek kan jou verseker dat daar nie ’n naambord op my huis se dak is wat verkondig dat dit die Van Jaarsvelds se huis is nie!

    Dink maar net aan die pikkewyne in die Kaap wat so dikwels onder oliebesoedeling deurloop. Hulle word gewoonlik in Kaapstad skoongemaak en dan na Port Elizabeth geneem waar hulle losgelaat word om terug te swem Kaap toe, na die eilande waar hulle hou.

    Hierdie pikkewyne het nie kompasse nie en hulle swem ook nie met roetekaarte nie. Hoe weet hulle waar die Kaap is? Hulle gebruik hul potensiaal!

    Dit is duidelik dat ons mense nie ons potensiaal tot die uiterste toe gebruik nie. En die rede?

    Die manier waarop ons deur die samelewing sowel as deur ons ouers gekondisioneer word, het ’n oorheersende impak op die manier waarop ons onsself beskou. Dit het ’n ewe groot impak op die manier waarop ons ons potensiaal gebruik.

    Die konsep van die selfvervullende voorspelling, oftewel selfvervullingsprofesie, behoort ’n bietjie meer lig hierop te werp.

    Die selfvervullende voorspelling

    Die selfvervullende voorspelling is ’n baie belangrike konsep in ons daaglikse lewe. Dit impliseer dat ander mense ’n belangrike invloed op ons oortuigings en ons houdings gehad het. Om dit te verduidelik, gee ek ’n paar voorbeelde.

    ’n Studie wat aan die Harvard-Universiteit gedoen is oor die houding van onderwysers ten opsigte van hul leerders is ’n uitstekende voorbeeld van wat hierbo gesê is.

    Die leerders se sogenaamde IK-syfers is aan hul onderwysers uitgereik – in werklikheid was dit die nommers van die studente se sluitkassies. Die onderwysers se persepsie van die kinders is beïnvloed deur die getalle, omdat hulle oortuig was dat dit verwys het na die kinders se IK. Die onderwysers het dus elke leerder behandel ooreenkomstig die getal op die leerder se sluitkassie. As die kind se nommer 80 was, het die onderwyser geglo

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1