Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink
'n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink
'n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink
Ebook520 pages10 hours

'n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die bord pap vlieg oor die tafel en die melk spat op alles. Jou oudste klap jou jongste teen die kop. En julle is al weer laat vir skool. Welkom by die klub van ouers wat soms nie meer weet hoe nie! Dr. Pieter van Jaarsveld, 'n internasionele spreker en kenner op die terrein van positiewe denke, verduidelik in hierdie omvattende ouerskapgids hoe kinders se koppe werk en hoe jý 'n gelukkige en gebalanseerde kind kan grootmaak. Dié boek wys dat dit wel moontlik is om duidelike grense te stel, terwyl jy jou kinders met liefde, respek en koestering grootmaak.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateFeb 6, 2018
ISBN9780796320063
'n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink
Author

Dr. Pieter van Jaarsveld

Dr Pieter van Jaarsveld, is 'n erkende internasionale konsultant in leierskapontwikkeling, en is ook bekend op radio en televisie. Hy het twee meestersgrade (in sielkunde en teologie) en 'n doktorsgraad (oor selfbeeld). Hy is die skrywer van drie topverkopers: Gee jou kind selfvertroue, Hart van 'n wenner en Dink jouself gelukkig. Hy en sy vrou, Irene, woon in die Strand en het twee getroude kinders en twee kleinkinders.

Related to 'n Gelukkige kind

Related ebooks

Related articles

Reviews for 'n Gelukkige kind

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Gelukkige kind - Dr. Pieter van Jaarsveld

    ’n Gelukkige kind

    Bemagtig jou kind om positief te dink

    Pieter van Jaarsveld

    Lux Verbi

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van ’n Gelukkige kind kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaardinstellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die beeld te verbeter.

    Opgedra aan my twee kleinkinders, Thomas-Henry en Amelie, met die bede dat hulle nie net as gelukkige kinders sal grootword nie, maar ook as gelukkige en positiewe volwassenes sal floreer.

    Voorwoord

    Wat dink jy is een van die verantwoordelikste rolle wat jy in jou lewe speel?

    Daar sal beslis ’n hele paar rolle wees wat jy kan noem, maar een van die belangrikstes sal sekerlik jou rol as ouer wees. Voel jy dat jy goed genoeg toegerus is vir hierdie taak?

    Ek dink jy sal soos duisende ander ouers moet erken dat jy eintlik geen kwalifikasies vir hierdie rol het nie. Dalk weet jy net jy wil nie jou kinders grootmaak soos jou ouers jou grootgemaak het nie, maar jy is ook nie seker wat die beste manier sal wees nie.

    Hoe sou jy voel as jy op die operasietafel lê, net voordat jy narkose toegedien word, en die chirurg sê vir jou: "Ek het nie juis veel opleiding vir hierdie soort operasies nie, maar ek is baie lief vir my pasiënte en gebruik my common sense"? Jy sal ’n angsaanval kry en hardloop so al wat jy kan.

    En tog dink baie van ons ons kan goeie ouers wees as ons net genoeg liefde en common sense het. Net soos die chirurg opleiding nodig het om te weet hoe om ’n operasie uit te voer, moet ouers weet hoe om hulle kind groot te maak sodat hy of sy gelukkig en positief kan wees. Baie ouers weet nie eens dat hulle woorde net soos ’n mes kan sny nie. Al laat dit nie sigbare snye in die liggaam nie, kan dit pynlike emosionele wonde veroorsaak as ouers nie weet hoe om op ’n positiewe manier met hulle kinders te kommunikeer nie.

    Ek weet geen ouer staan in die oggend op om hulle kind se lewe onaangenaam te maak nie. Dit is tog net ouers wat van hulle sinne beroof is wat so iets sou doen. Ongelukkig is daar welmenende ouers wat nie besef dat hulle optrede hulle kinders skade aandoen nie.

    Dekades gelede was ek as ouer totaal onbewus van die impak wat my daaglikse interaksie met my kinders op die ontwikkeling van hulle brein gehad het. Wetenskaplike navorsing oor hierdie impak was in daardie jare nog nie tot ons beskikking nie. En ek is bevrees baie ouers is vandag steeds nie bewus daarvan hoe belangrik hulle woorde en gedrag op ’n kind se breinontwikkeling is nie. Hulle besef nie dat ons deesdae met ons kennis van die neurowetenskap, die brein en emosionele intelligensie ons kinders kan grootmaak om gelukkige en positiewe mense te wees nie.

    Daar is inderdaad unieke uitdagings vir ons as ouers!

    Hoeveel ouers wens dan nie dat hulle vir elke kind ’n eie handleiding ontvang het nie! Want wat met die een kind werk, werk net nie met ’n ander nie.

    Om kinders vandag groot te maak is regtig baie meer stresvol as jare gelede. Almal berei hulle goed voor vir die geboorte van die baba. Hulle leer hoe om die baba te laat slaap en te voed en hulle dra kennis van al die verskillende ontwikkelingstadiums, maar dit is gewoonlik waar die meeste ouers se kennis ophou. Wanneer die eerste 18 maande verby is, word die engeltjie skielik ’n duiweltjie wat tantrums gooi. Op 2½ sê sy vir alles nee, wil hy nie meer in sy eetstoeltjie sit en eet nie, is dit ’n oorlog om haar doek om te ruil en begin hy sy nuwe sussie slaan. Tussen 3 en 5 raak hy huilerig of sommer heeltemal dwars. Tussen 5 en 8 moet jy haar oor en oor dieselfde ding vra.

    Dink ook aan die volgende uitdagings wat vir ouers stres veroorsaak:

    •Jy het vir alles ’n sertifikaat nodig, maar vir ouerskap ontvang jy geen opleiding nie. Ouerskap is ’n nuwe beroep sonder enige salaris. Ouer word opvoeder sonder kwalifikasies.

    •Daar is vandag nie altyd ’n ouma of ander familielid naby om te help nie.

    •Albei ouers werk om die pot aan die kook te hou of omdat albei voel hulle wil ’n professionele lewe geniet. Dit beteken lang ure elke dag en inkopies en maaltye wat al meer gejaagd raak.

    •Moderne tegnologie bring mee dat ouers altyd bereikbaar is per selfoon of e-pos.

    •Ma’s speel al meer die rol van die gesin se taxibestuurder. Omdat daar vandag soveel moontlikhede is om ’n kind se ontwikkeling te stimuleer, jaag ma’s soms voltyds van die een aktiwiteit na die ander.

    •Ouers is te bang om hulle kinders in die straat te laat speel. In die verlede het kinders tot laat speletjies in die buurt gespeel terwyl die ouers met ander dinge besig kon wees, maar vandag is die kinders meer huisgebonde.

    •Vroeër was respek vir die ouer baie belangrik, maar vandag gaan dit meer oor respek vir die kind. Moet daar dan nie wedersydse respek wees nie?

    •Vroeër is kinders gesien maar nie gehoor nie; vandag is baie kinders die middelpunt van die heelal.

    •Nie so lank gelede nie was kinders bang vir hulle ouers, maar vandag gebeur dit in sommige huisgesinne dat die kinders hulle ouers emosioneel boelie.

    Al wat jy begeer, is om ’n gelukkige en positiewe kind groot te maak. Jy wil hê jou kind moet goeie verhoudings geniet, gedissiplineerd en ordentlik wees, vir mense omgee, goed vaar op skool, hard werk, verantwoordelik wees en ’n goeie selfbeeld hê.

    Welkom by die klub van ouerskap! Hier weet ons die ouer wat op water loop, bestaan nie. En elke krisis is eintlik ’n geleentheid om jou kind op te voed om die wonderlike doelwitte wat jy het wel te bereik. Jy is uitverkies om een van die wonderlikste roepings in hierdie lewe te vervul – ouerskap. En dit hoef nie ’n tyd van moedeloosheid te wees nie. Daar is wonderlike nuwe navorsing beskikbaar oor hoe om ’n gelukkige en positiewe kind groot te maak … en jy staan op die drumpel om dit te begin doen.

    Hierdie boek wil jou help om jou doel te bereik. Maar voordat ons begin, eers net die volgende:

    Meer oor hierdie boek

    Voornaamwoorde: Ek gee meestal voorkeur aan die manlike vorm, bloot om plek te bespaar en sodat die leser met gemak kan lees.

    Gewone mense: Hou in gedagte dat hierdie boek nie vir akademici geskryf is nie, maar vir gewone mense soos ek en jy. As jy meer wetenskaplike bronne soek om te lees, is daar talle publikasies beskikbaar.¹

    Herhaling: Ek weet baie lesers lees nie ’n hele boek deur nie. (Ek self doen dit ook nie.) Daarom herhaal ek sekere belangrike begrippe, navorsing, tegnieke en vaardighede vir dié lesers wat net sekere hoofstukke lees. Hopelik help dit hulle om die geheelbeeld te kry.

    Dink jouself gelukkig en Hart van ’n wenner: Om dit vir jou makliker te maak om hierdie boek te gebruik, het ek probeer om die essensie van gedeeltes uit my vorige twee boeke, Dink jouself gelukkig en Hart van ’n wenner, te herhaal waar dit van toepassing is. Dan hoef jy nie hierdie boek met Dink jouself gelukkig en Hart van ’n wenner oop langs jou te lees nie. Dit is egter nie genoegsame inligting as jy nog nie Dink jouself gelukkig gelees het nie. Ek beveel daarom aan dat jy daardie boek ook lees vir meer besonderhede.

    Uitnodiging: Ná my vorige boeke het ek soveel e-posse van lesers ontvang. Dit was ’n ongelooflike ervaring waaroor ek baie dankbaar is. As jy iets met my wil deel, meer oor iets wil uitvind of my wil nooi om by julle te kom optree, kontak my gerus by mwppvj@mweb.co.za of ppvj@tandemtraining.co.za.

    Erkenning: Baie dankie, Irene, vir die raad met die manuskrip, die oefeninge asook die aanvanklike sketse.

    Geniet hierdie boek. Ek hoop dit help jou om ’n gelukkige en positiewe kind groot te maak.

    Pieter van Jaarsveld

    Inleiding

    Geluk is die betekenis en doel van die

    lewe, die hele strewe en die oogmerk

    van die mens se bestaan.

    Aristoteles

    As jy jou kind iets vir die toekoms kon toewens, wat sou dit wees? As jy jouself iets vir die toekoms kon toewens, wat sou jy graag wou hê?

    Jy noem dalk dinge soos gesondheid, goeie verhoudings, beroepsukses, vrede, en so meer. As jy dieper hieroor nadink, beteken dit nie eintlik maar dat jy gelukkig wil wees nie? Geluk beteken al hierdie dinge en nog soveel meer. Geluk is ook iets wat die Hemelvader ons toewens (Joh 10:10). Mense wêreldwyd hunker na geluk.

    As jy boonop ’n gelukkige kind kan grootmaak, gee jy aan hom een van die grootste geskenke moontlik. Dit is egter baie belangrik dat jy self gelukkig moet wees, anders sal jy hierdie geskenk nie aan jou kind kan gee nie.

    Waarom die vreeslike ophef oor geluk?

    Dit is nie God se wil dat ons gelukkig sal wees nie,

    maar dat ons onsself gelukkig sal maak.

    Immanuel Kant

    Jy het nou reeds gehoor jy self moet gelukkig wees as jy ’n gelukkige kind wil grootmaak. Die vraag is natuurlik nou: Wat hou geluk vir julle albei in?

    Navorsing het bewys dat gelukkige mense verreweg onder meer gesonder is, minder hartsiektes opdoen, langer leef, beter verhoudings het, meer suksesvol is, minder geneig is tot depressie, suksesvoller is op skool en ’n positiewe invloed op ander mense uitoefen.²

    Wanneer jy na hierdie lysie kyk, wens jy nie al hierdie dinge vir jou en jou kind toe nie? As jy ’n gelukkige en positiewe kind grootmaak, is dit presies wat jy aan hom as ’n lewensgeskenk gee.

    Vier belangrike chemiese stowwe (hormone) wat geluk meebring

    Wanneer kinders jonk is, bedraad hulle hulle brein baie makliker as volwassenes. Om die waarheid te sê, kinders vestig reeds in hulle eerste sewe jaar kern neurale netwerke in hulle brein wat hulle lewe lank daar sal bly. Ouers moet baie bewus wees hiervan.³

    Jy as ouer kan hierdie neurale netwerke in jou kind se eerste sewe jaar help vestig met die hulp van vier chemiese stowwe (hormone) wat jou kind afskei, naamlik dopamien, oksitosien, serotonien en endorfien.

    Ek beskryf hierna hoe hierdie hormone gestimuleer word. As jy as ouer dit op ’n gefokusde manier in jou kind se lewe doen, word neurale netwerke of paaie gevestig en vorm dit later hoofweë wat jou kind se lewe lank daar sal wees.

    Dopamien: Wanneer ’n kind voel hy het goed presteer, word hierdie hormoon afgeskei. Ouers moet daarom ’n gevoel van prestasie in ’n kind se lewe inbou. Dopamien word ook afgeskei wanneer ’n kind voel hy is suksesvol in sy sosiale lewe, wanneer hy beskrywende lof ontvang en selfverwesenliking ervaar. (Dit is interessant dat rekenaarspeletjies ook kan help met die afskeiding van dopamien.)

    Oksitosien: Vertroue, kameraadskap, aanraking, drukkies en goeie dade stimuleer die afskeiding van oksitosien.

    Serotonien: Respek, empatie, ’n gevoel van belangrikheid, ’n glimlag, selfrespek, trots en selfvertroue laat ’n kind serotonien afskei.

    Endorfien: Oefeninge of aktiwiteite waartydens ’n kind homself effens onder druk plaas en wat stimulerend is, baie lag en strekoefeninge stimuleer ook die afskeiding van endorfien.

    Wat bepaal jou geluk?

    As jy ’n gelukkige kind wil grootmaak, is die vraag natuurlik: Waar kom jóú geluk vandaan?

    Van die heel beste navorsing oor die genetiese impak op geluk is deur David Lykken, Auke Tellegen en hulle kollegas aan die Universiteit van Minnesota in die VSA gedoen.⁴ Hulle het bevind dat 50% van ’n mens se geluk wel deur jou gene bepaal word. Die sonnige persoonlikheid aan jou ma se kant en/of die meer depressiewe neigings aan jou pa se kant, of albei, het ’n invloed op die genetiese samestelling van jou geluk. Jy kan jou man of vrou kies, maar ongelukkig nie die gene van hulle familie nie. Jou kind se geluk word daarom grotendeels deur sy ouers en grootouers se gene bepaal.

    Navorsing wys dat ons ’n genetiese vastepunt (set point) vir geluk het wat die vlak van ons geluk aandui. Dit beteken as jy ’n nuwe motor koop, as jou kind graad kry of as jy in ’n ernstige ongeluk is, sal jou vlak van geluk ’n tyd lank styg of daal. Ná ’n tydperk sal dit egter weer na jou genetiese vastepunt terugkeer.

    Die feit dat daar so ’n vastepunt bestaan, beteken egter nie jou vlak van geluk kan nie verander nie. Het jy hierdie goeie nuus gehoor en verstaan jy dit? Jy kan bo jou genetiese vastepunt uitstyg!

    Die figuur hieronder wys vir jou dat 50% van jou geluk deur jou gene bepaal word en 10% deur omstandighede soos die dood van ’n geliefde, jou man wat sy werk verloor, ’n kind se mislukte huwelik, ’n traumatiese ervaring of ’n finansiële krisis. Die goeie nuus is dat 40% van jou geluk binne jou beheer is.

    Jy kan daarom ook jou kind help om hierdie 40% van geluk te ontwikkel. En dit is presies waaroor hierdie boek gaan. Ons gaan gesels oor wat jy as ouer kan doen om jou kind se brein se bedrading deur tegnieke en vaardighede te verander en só sy vlak van geluk te laat styg.

    Figuur 1: Faktore wat geluk bepaal

    Ek hou van Ricardo se definisie van geluk: By happiness I mean a deep sense of flourishing that arises from an exceptionally healthy mind. This is not a mere pleasurable feeling, a fleeting emotion, or a mood, but an optimal state of being. ⁶ Geluk is baie meer as net ’n gemoedstoestand. Dit is ’n lewe van geluk wat ware lewensvreugde bring en jou in staat stel om selfs die moeilike dae te oorleef.

    Dit laat my aan die bekende storie van die wolwe dink. ’n Ou man het met sy kleinseun gesit en gesels en toe vir hom dié storie vertel: Binne-in ’n mens is daar ’n geveg tussen twee wolwe aan die gang. Die een se naam is Ongeluk en hy word verteenwoordig deur vrees, kommer, woede, jaloesie, selfbejammering en ’n minderwaardigheidsgevoel. Die ander een se naam is Geluk en hy word verteenwoordig deur vreugde, liefde, hoop, tevredenheid, goedhartigheid, empatie, eerlikheid en mededeelsaamheid. Die seuntjie het ’n rukkie hieroor gedink en toe gevra: Watter wolf wen die geveg? Die ou man het geantwoord: Die een wat jy kos gee.

    Dit is so waar. Ons het die vermoë om positief te wees, en wanneer ons positief is, sal ons die geluk smaak waarna ons so smag. Dit is hierdie voorreg wat jy ook vir jou kind kan gee.

    Die gelukkige kind: Stap die pad met emosionele intelligensie en positiewe sielkunde

    Emosionele intelligensie (EI) en positiewe sielkunde kan jou op ’n wonderlike manier help om ’n gelukkige kind groot te maak. Kom ons kyk kortliks na hierdie twee konsepte:

    Emosionele intelligensie

    EI is in 1990 deur Peter Salovey en Jack Mayer gedefinieer, al het Thorndike reeds in die 1920’s ’n soortgelyke konsep begin gebruik. In Daniel Goleman se boek Emotional intelligence: Why it can matter more than IQ, wat in 1995 verskyn het, gebruik hy die frase die nuwe maatstaf vir sukses. Dit het ’n ongelooflike hoeveelheid belangstelling gewek in die rol wat EI in ons daaglikse lewe kan speel. Daar word nou wêreldwyd aanvaar dat EI vir ons as mense op alle vlakke van die lewe noodsaaklik is.

    Goleman definieer emosionele intelligensie as the capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships.⁷ Ek verkies egter Reuven Bar-On se definisie: EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.

    Kyk ’n mens na hierdie definisies, sal jy sien dat EI eintlik baie van die elemente insluit wat die Bybel die vrug van die Gees noem (Gal 5:22-23).

    ’n Kind met goeie EI-eienskappe in sy lewe:

    •het die vermoë om die pa en ma se emosies te verstaan.

    •is nuuskierig en wil nuwe dinge leer.

    •hanteer verandering goed sonder om ’n kabaal op te skop.

    •het ’n goeie selfbeeld en baie selfvertroue.

    •beperk tantrums tot ’n minimum.

    •aanvaar wie hy is en voel gemaklik met sy sterk- en swakpunte.

    •weet hoe om ’n goeie vriend te wees.

    •weet hoe om sukses te geniet en teleurstellings te verwerk.

    •is positief en optimisties.

    •kan take deurvoer en weet hoe om hard te werk.

    •is ’n gelukkige mens en geniet ’n gelukkige lewe.

    •het die selfvertroue om risiko’s te waag.

    •is nie oorsensitief vir opbouende kritiek nie.

    •kan mislukking hanteer.

    •aanvaar verantwoordelikheid vir sy gedrag en besluite.

    •kan die daaglikse frustrasies van die lewe goed hanteer.

    •het ’n hoë mate van empatie en omgee.

    •het goeie sosiale vaardighede.

    Hoe verskil emosionele intelligensie (EI) en intelligensiekwosiënt (IK) van mekaar?

    IK is die assessering van ’n individu se intellektuele, analitiese, logiese en rasionele vermoëns. EI is die niekognitiewe dimensies van intelligensie.

    In hierdie boek sal jy meer oor EI leer en ontdek hoe jy EIvaardighede kan gebruik om ’n gelukkige kind groot te maak. Vir meer inligting oor navorsingsbewyse oor EI, besoek gerus die webblad van die Consortium for research on EI in organisations by www.EIConsortium.org. Goleman en Cherniss is die voorsitters van hierdie webblad.

    Positiewe sielkunde

    ’n Veld wat vir baie mense minder bekend as dié van EI is, is die positiewe sielkunde.

    In die begin van hierdie eeu het Martin Seligman dit sy doel gemaak om ’n nuwe beweging te vestig, naamlik dié van die positiewe sielkunde. EI vorm ’n groot deel van hierdie veld. Sy argument was dat die fokus van die sielkunde tot in daardie stadium op die siektemodel geval het: hoe om die persoon met depressie te help; hoe om psigopatologie te hanteer; hoe om mense met afwykings te hanteer, en so meer. Daar was te min navorsing om mense wat heel normaal funksioneer te help om ’n beter lewe te geniet.

    In daardie stadium het die fokus dus daarop geval om iemand te help om van -8 tot 0 te verbeter. Die positiewe sielkunde se klem val egter daarop om mense van 4+ tot 7+ of 8+ te help vorder. Dit wil dus mense wat goed funksioneer, help om te floreer: om vanaf ’n 2, 3, 4 of 5 tot ’n 7+ of ’n 8+ te vorder. In die positiewe sielkunde val die klem duidelik op hoe om gelukkig en positief te wees.

    In hierdie boek maak ek ruim gebruik van tegnieke uit die veld van EI sowel as uit die positiewe sielkunde. Hierdie tegnieke is deeglik nagevors en sal jou help om jou kind gelukkig en positief groot te maak.

    Die ontwikkelingstadiums van die kind

    Die ontwikkeling van ’n kind is natuurlik ’n aaneenlopende proses. Om dit makliker te maak om te verstaan, is hierdie proses egter deur navorsing in verskillende stadiums verdeel, elk met sy eie vaardighede en spesifieke eienskappe. Ons kan die volgende stadiums in die ontwikkeling van ’n kind onderskei en sal dit só in hierdie boek gebruik: ¹⁰

    Prenatale stadium: dit word verdeel in die germinale, embrionale en fetale tydperk.

    Neonatale stadium: dit is ongeveer die eerste twee tot vier weke van lewe en die babajare wat ongeveer die eerste twee jaar dek.

    Vroeë kinderjare: dit strek vanaf ongeveer twee tot ses jaar.

    Middelkinderjare: dit strek vanaf ongeveer ses jaar tot aan die begin van puberteit.

    Adolessensie: dit strek vanaf puberteit tot by volwassenheid.

    Kom ons begin dan nou met die onderwerp waaroor hierdie boek eintlik gaan – jou gelukkige en positiewe kind. Dit is egter logies dat ons eers na jou as ouer moet kyk omdat jy so ’n groot impak op jou kind het.

    Hoofstuk een

    Emosioneel intelligente ouerskap

    Too often we underestimate the power of a

    touch, a smile, a kind word, a listening ear,

    an honest compliment or the smallest act of caring, all of

    which have the potential

    to turn a life around. 

    Leo Buscaglia

    Jy wil so graag jou kind grootmaak om sy lewe lank gelukkig en positief te wees. Dit is ’n wonderlike doelwit en sal ’n ongelooflik kosbare geskenk aan jou kind wees.

    Om ’n gelukkige kind groot te maak moet jy self egter eerstens ’n gelukkige ouer wees. Jy het in die Inleiding gelees dat 40% van jou geluk in jou eie hande lê. Jy kan dus self baie daaraan doen om ’n gelukkige mens te wees.

    Waarom is dit so belangrik dat jy moet gelukkig wees?

    •Geluk en positiwiteit bepaal jou sukses in alle fasette van jou lewe: jou verhoudings, hoe jy oor jouself voel, jou sukses in jou werk, jou sukses as ’n ouer, en so meer.

    •Jou geluk bepaal hoe jy ander mense gaan beïnvloed, meer spesifiek jou lewensmaat en jou kinders.

    •Geluk het ’n groot invloed op jou gesondheid.

    •Geluk het selfs ’n invloed op jou lewensverwagting.

    Ek beveel aan dat jy my boek Dink jouself gelukkig lees omdat hierdie boek nie genoeg ruimte bied om volledig uiteen te sit wat jy as ouer alles kan doen om werklik gelukkig te wees nie. Om dit vir jou makliker te maak sal ek egter sommige van die konsepte wat jou sal help om ’n gelukkige ouer te wees hier herhaal. Uiteraard sal jy baie meer daarby baat om die boek te lees as jy voel jy kan meer geluk ervaar in jou lewe en in al jou verhoudings.

    Ek weet jy vra dalk nou sommer dadelik hoe dit moontlik is om jouself gelukkig en positief te dink. Jy sal verbaas wees dat dit presies is wat die nuutste navorsing in die sielkunde bewys het. Dit is ook iets wat ons so dikwels in die Bybel mislees. Romeine 12:2 sê: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Wanneer jy jou gedagtes verander, verander jou emosies en dan ook jou hele lewe. Dit staan al eeue lank in die Bybel opgeteken, maar die sielkunde het dit nou eers bewys en nou eers ons oë daarvoor oopgemaak.

    As jy my nog nie glo nie, kyk na hierdie voorbeeld van wat jou gedagtes vir jou kan doen.

    Verander jou gedagtes en enigiets is moontlik

    Dit is nie so vergesog dat jy jouself kan programmeer om gelukkig te wees nie.

    By die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, was daar ’n pasiënt na wie verwys is as mnr Wright wat terminale kanker gehad het en nie op konvensionele middels gereageer het nie.¹¹ Hy was so siek dat hy bedlêend was. Hy het kanker van die limf gehad met gewasse so groot soos lemoene in sy nek, sy lies en in sy armholtes.

    Sy dokter het alle hoop op genesing laat vaar maar nie mnr Wright nie! Hulle was besig in daardie hospitaal om ’n eksperimentele medikasie, Krebiozen, vir kanker te ondersoek. Hy kon egter nie deelneem nie omdat hy ’n lewensverwagting van minder as drie maande gehad het. Hy het egter die dokter oortuig om hom wel in te spuit alhoewel hy nie deel van die navorsing kon wees nie.

    Die dokter het hom op die Vrydag ingespuit. Die Maandag het hy begin rondstap en grappies met die ander pasiënte begin maak. Die gewasse het begin verklein en tien dae later is hy ontslaan. Hy was genees van kanker.

    Twee maande later het koerante berig dat die toetse bewys het dat Krebiozen nie gewerk het nie. Mnr Wright het dit gelees en onmiddellik teruggeval. Sy dokter het egter besef dat hy geglo het dat hy genees sou word – dat dit sy gedagtes was wat hom genees het. Hy besluit toe dat hy ook mnr Wright se gedagtes kan gebruik om hom weer te genees.

    Hy het aan mnr Wright gesê dat hy ’n swak besending Krebiozen ontvang het, en dat die medisyne inderdaad ’n wondermiddel was – binnekort sal ’n nuwe, verfynde, dubbelsterkte weergawe van die medisyne beskikbaar wees.

    ’n Paar dae later het mnr Wright ’n inspuiting gekry van die nuwe Krebiozen, wat eintlik gedistilleerde water was. Weereens het al die gewasse verdwyn. Vir twee maande het hy geen simptome gehad nie.

    Op daardie tydstip het die Amerikaanse Mediese vereniging ’n openbare verklaring uitgereik dat Krebiozen nie ’n regte medisyne is nie: dit was niks behalwe mineraalolie wat ’n eenvoudige aminosuur bevat nie. Toe mnr Wright hiervan hoor, het hy vir die laaste keer teruggekeer na die hospitaal en is twee dae later dood.

    Hy het ’n man sonder kanker geword – nie een keer nie, maar twee keer, toe hy geglo het in die nuwe wondermiddel. Sy liggaam het reageer op sy nuwe ingesteldheid. Toe hy hoor dat die medisyne waardeloos is, het hy weer ’n man met kanker geword.

    Dit is ’n bewys van die krag van ons gedagtes!

    In 1996 het ’n ortopediese chirurg die uitslag van ’n proefstudie gepubliseer. Hierdie studie is gedoen op tien vrywilligers wat militêre diens gedoen en aan osteoartritis van die knie gely het.¹² Sommige het met kieries gestap, ander het gehink of hulp nodig gehad om te beweeg. Vyf van die vrywilligers het mediese prosedures ondergaan en die ander vyf nie, maar daar is vir hulle gesê daar is ’n nuwe mediese prosedure op hulle uitgevoer.

    Daar was geen verskil in die herstelsukses van dié wat die mediese prosedure ondergaan het en dié wat dit nie ondergaan het nie. Ses maande later het al tien vrywilligers hulle herstel as ’n sukses beskou. Ses jaar later het twee van die vrywilligers wat nie die prosedure ondergaan het nie, gevoel hulle is nog baie beweeglik en beweeg eintlik beter as ná die prosedure wat nie op hulle uitgevoer is nie.

    Gefassineerd met hierdie resultate, het die chirurg die studie met 180 pasiënte herhaal. Geen prosedure is op die een helfte van die groep uitgevoer nie. Weereens was daar geen verskil in die uitkoms van die groep wat die prosedure ondergaan het en dié wat net gedink het hulle is behandel nie. Twee jaar later was die resultate steeds dieselfde. Die pasiënte wat nie die prosedure ondergaan het nie, het herstel omdat hulle in hulle dokter geglo het. Hulle gedagtes het hulle mindset (ingesteldheid) beïnvloed, wat hulle weer fisiologies beïnvloed het.

    Byna 70% van ons gedagtes is negatief. Dit is dus geldig om te vra watter persentasie van ons siektes die gevolg van ons negatiewe gedagtes is.¹³ Meer nog, dit wys ons hoe belangrik dit is om ons gedagtes te verander en positief te wees.

    Jy kan jou welstand verander deur jou gedagtes te verander. Soos hierdie twee voorbeelde wys, kan jou gedagtes jou fisiologies verander.

    Die wonderlike nuus is dat daar wetenskaplike bewyse is dat mense hulle gedagtes kan verander en gelukkiger kan wees. Dit is nie net ’n gier nie. As jy gelukkig is, is dit nie net tot jou voordeel nie, maar ook tot voordeel van jou lewensmaat, jou kind, jou werksomgewing, jou gemeenskap en jou land.

    Van ons land gepraat, waar lê die geluksvlak in Suid-Afrika?

    Die Verenigde Nasies reik gereeld ’n verslag uit oor lande se vlak van geluk. In 2013 was ons nommer 96 uit 156 lande; in 2015 was ons nommer 113, en in 2017 het ons na nommer 101 geklim.

    In 2007 het dr Nicola Taylor en Christine Yiannakis van JvR Psychometrics navorsing bekendgemaak wat hulle hier in Suid-Afrika op 18 217 deelnemers gedoen het. Die volgende interessante inligting het uit hierdie navorsing na vore gekom:

    •Wanneer iemand se gelukstelling laag was, was hulle EI ook laag.

    •’n Lae gelukstelling was ’n aanduiding dat die persoon tekens van depressie getoon het, hom sosiaal onttrek het en oor die algemeen ontevrede met die lewe en bekommerd oor die toekoms was.

    Kyk ons na hierdie feite, besef ons dat ons hier in Suid-Afrika baie het om aan te werk wat geluk en positiwiteit betref.

    Een van die grootste uitdagings van ouers is om eers ontslae te raak van die bykans 70% negatiewe gedagtes in ons gedagtewêreld. Jy sal sien dit het nie net ’n positiewe invloed op jou en ander mense nie, maar ook op jou gesondheid. Maar hoe werk dit?

    Die mens is ’n skeppingswonder

    ’n Feit wat ons al ’n geruime tyd ken, is dat daar 100 miljard breinselle of neurone in die brein is. Hoeveel is 100 miljard? As jy elke sekonde tot by 100 miljard sekondes sou tel, sou dit jou 3 171 jaar kos!

    Wat hierdie ontdekking so merkwaardig maak, is die feit dat elk van hierdie neurone dieselfde vermoë as een skootrekenaar het. Dink net, jou brein en jou kind se brein bestaan uit 100 miljard skootrekenaars. Ongelooflik! ’n Rekenaar op bene! Nou verstaan jy effens beter wat dit beteken om na die beeld van God geskep te wees (Gen 1:26).

    Besef jy watter moontlikhede dit nie net vir jouself nie maar ook vir jou kind inhou? Dit is ’n enorme uitdaging om jou kind groot te maak om sy volle potensiaal te bereik.

    Net vir interessantheid, ’n baba word met 200 miljard neurone gebore. Dit is logies dat hy die ekstra 100 miljard nodig het vir die aanpassings in sy nuwe wêreld. Om en by die ouderdom van twee verloor ’n kind egter 100 miljard neurone omdat hy dit nie meer so nodig het nie. Dit is een van die faktore wat bydra tot die verskynsel wat ons die terrible twos noem. Die kind moet letterlik met minder van sy rekenaars by die lewe aanpas. Hou dit altyd in gedagte wanneer jou kind op pad is twee toe.

    Neuroplastisiteit en biologiese veranderinge

    Dit is waar dat ’n groot deel van ons gedrag geneties vasgelê is (ons het dit van ons voorouers geërf). Dit hoef ons egter nie te verdoem nie. Die nuutste navorsing in die veld van epigenetika (die studieveld wat handel oor die verband tussen die omgewing en die individu se gene) wys daarop dat ons ons gene, én ons breinselle, kan verander.¹⁴ Een van die wonderlikste ontdekkings die afgelope tyd gaan juis oor die neuroplastisiteit van die brein. Dit beteken die brein kan verander word. In lekker Afrikaans, die brein kan wel herbedraad word. Neuroplastisiteit word beskryf as the ability to rewire and create new neural circuits at any age to make substantial changes in quality of your life.¹⁵ Nerve cells that fire together, wire together.¹⁶ Jy kan dus ’n veranderde mens word!

    Die wonderlike implikasie hiervan vir jou, en jou kind, is: Enige gedagte wat herhaaldelik op ’n gefokusde manier deur jou brein gestuur word, verander die bedrading van jou brein. Kom ons kyk eers na negatiewe gedagtes. As jy gedurig vir jouself sou sê: Ek is moeg, laat jy, in eenvoudige terme gestel, letterlik Ek is moeg-breinselle in jou brein groei. Jou liggaam reageer hierop deur chronies moeg te wees.

    Dink dan net wat kan gebeur as jy elke dag vir jouself sou sê: Ek is ’n gelukkige ouer en net goeie dinge gaan vandag met my gebeur. Só bou jy aan jou brein om ’n gelukkige ouer te word.

    Positiewe gedagtes is ’n magtige wapen wat jy moet gebruik om goeie paaie in jou kind se brein vas te lê en só ’n gelukkige kind groot te maak.

    Begin sommer met hierdie eerste uitdaging en sê elke dag vir jouself: Ek is ’n baie gelukkige ouer en wil net die beste vir my kind gee sodat hy gelukkig kan wees. Dink nou al wat wil jy elke dag in jou kind se brein programmeer.

    Soos ek reeds gesê het, is een van die grootste uitdagings van ’n ouer om van die bykans 70% negatiewe gedagtes ontslae te raak. Jou negatiwiteit beïnvloed immers:

    •jouself

    •jou gesondheid

    •ander mense

    •én jou kind.

    Daar is verskeie redes waarom ons gedagtes byna 70% negatief is. Dit het onder meer te doen met ons ingeboude vlug-veg-of-vries-respons. Ek wil nou egter eerder fokus op die invloed van die mense rondom jou op jou. Dit sal jou help om nie net jouself te verstaan nie, maar ook die impak wat jy en ander mense op jou kind het.

    Selfvervullingsprofesie

    Die selfvervullingsprofesie beteken ander mense het ’n baie groot invloed op hoe jy dinge sien en beleef. Wat jy by ander hoor, beïnvloed in groot mate hóé jy jou lewe sien.

    Daar is baie navorsing oor die impak van die selfvervullingsprofesie gedoen. Kom ons kyk hier na een voorbeeld wat negatiwiteit vir jou sal verduidelik, maar ook sal dien as ’n waarskuwing ten opsigte van jou kind se gedagtes.

    Die opsigters van ’n maatskappy is ingelig dat die nuwe vakmanne getoets is voordat hulle aangestel is. Die vakmanne wat as skitterend geïdentifiseer is, dra blou kentekens op hulle oorpakke. Dié wat as swakker geïdentifiseer is, dra geel kentekens.

    Jy kan jou nou indink hoe die opsigters die vakmanne met die blou kentekens hanteer het. Die gevolg was dat hulle uitstekend

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1