Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Floreer
Floreer
Floreer
Ebook186 pages2 hours

Floreer

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Veerkragtigheid is daardie “iets” wat mens laat opstaan as die lewe jou platslaan. Dit is nie ’n iets wat net sommige mense het nie, almal word daarmee gebore. Ilse Salzwedel, bekende radiopersoonlikheid en joernalis, bespreek die eienskappe van veerkragtige mense en gee raad om dit te ontwikkel. Sy kyk ook watter dinge jou veerkragtigheid kan tap wat jy moet vermy. Ilse gebruik voorbeelde uit haar eie en ander bekendes se lewe om te wys dat veerkragtigheid vir ons elkeen beskore is.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 9, 2021
ISBN9780796322692
Floreer
Author

Ilse Salzwedel

Ilse Salzwedel is 'n joernalis, radioaanbieder en skrywer van Johannesburg. Daar het al verskeie boeke uit haar pen verskyn waaronder Bloedsusters. Ilse is bekroon met 'n ATKVeertjie, 'n Pica en drie Caxton-toekennings, en is in 2009 deur die FAK vereer met die H.B. Thom-toekenning vir 'n besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek.

Related to Floreer

Related ebooks

Related articles

Reviews for Floreer

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Floreer - Ilse Salzwedel

    9780624089810_FC

    Ilse Salzwedel

    Floreer

    Lux Verbi

    Oor die uitleg

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Floreer mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

    Hoofstuk 1

    _____________

    Opstaan of bly lê? Jy moet kies

    Veerkragtigheid is baie anders as om niks te voel nie. Veerkragtigheid beteken jy ervaar, jy voel, jy misluk, jy kry seer. Jy val. Maar jy hou aan.

    – YASMIN MOGAHED

    Dit was vroegoggend iewers in Julie 2008. Ek het vanself wakker geword, en vir die eerste paar sekondes het my brein vergeet wat gebeur het.

    Maar toe die onthou aanmeld, het ek een van daardie cliché-oomblikke ervaar waarvan ’n mens net in tranerige liefdesverhale lees. As jy nie jou oë oopmaak nie, kan hierdie aaklige dag nie begin nie, het ’n stemmetjie in my kop my probeer wysmaak. ’n Paar minute het ek net so bly lê, my oë toe, die versoeking groot om toe te gee aan my brein se versoek om die hele dag in die bed te bly met my oë styf toegeknyp teen die nare werklikheid van my lewe op daardie dag.

    Maar die realis in my was nog altyd baie luidrugtiger as die ander stemme in my kop. Ek kon nie net bly lê nie. Daar was dinge om te doen. Soos om my twee kinders by die skool en speelgroepie te kry. Ek moes probeer werk, want as ek nie werk nie, sou daar nie geld wees om die dak oor ons koppe te betaal nie.

    Die lewe gaan aan. Selfs al was jy net enkele dae tevore in ’n aaklige motorongeluk waarin jou ma in jou arms dood is en wat jou reeds verswakte en bejaarde pa beseer en getraumatiseer gelaat het.

    Een ding het ek daardie oggend baie duidelik besef, baie duideliker as op enige ander oomblik voorheen in my lewe. En daar was ’n hele paar keer in my lewe toe ek die spreekwoordelike handdoek wou ingooi, en sommer ook die deken en duvet daarmee saam.

    Ek het onherroeplik geweet: Ek durf nie bly lê nie – nie letterlik nie, en nie figuurlik nie. Ek moes opstaan en aanhou veg, deur die pyn én ten spyte van die pyn. Ek sou nie die eerste mens wees wat dit moes doen nie, en beslis ook nie die laaste nie.

    Daardie oggend het ek vir die soveelste keer besef dat die lewe nie vir sissies is nie. (En sedert daardie dag nog ’n hele klomp keer!) Dit is iets wat ek lankal geweet het. Daarvoor het ’n hele klompie ervarings in die voorafgaande dekade van my lewe immers gesorg. Soos om uit te vind dat my dogtertjie gemolesteer is, dat my man – wat ’n sober alkoholis was toe ons getroud is – weer begin drink het, dat my huwelik onherstelbaar verbrokkel het, en dat dit regtig beter sou wees vir my (en my kinders) om te skei.

    Ek het finansiële probleme gehad en ek was vir alle praktiese doeleindes ’n enkelouer. My eks het onderhoud betaal, maar nie ’n sent meer as wat die hof bepaal het nie. Emosioneel het hy hom reeds van die kinders begin onttrek. Gelukkig het ek dit toe nog nie geweet nie, maar daar sou ’n dag kom dat hy alle kontak verbreek en eenvoudig verdwyn.

    Ek het daardie oggend opgestaan, en al die oggende daarna ook, al het dit gevoel of die lewe my voete onder my uitgeslaan het. En ek het geweet daar wag beslis nóg sulke dae op die res van my lewenspad. Want dis hoe die lewe werk. Jy word platgeslaan, of jy verloor jou balans, jy val en jy moet opstaan. Dit is wat dit is.

    Pyn is onafwendbaar deel van die lewe; niemand spring dit vry nie. Maar dit hoef nie jou lewe te definieer nie. Iets help jou om op te staan, om weer te probeer, om deur die pyn te kom en om te groei. Daar is steeds baie fasette van jou lewe waaroor jy beheer het en wat jy selfs kan verbeter, ongeag die struikelblokke en slaggate op jou lewenspad.

    Daardie iets wat jou laat opstaan wanneer die lewe jou asem uitslaan, word veerkragtigheid genoem. En die goeie nuus is dat ons almal daarmee gebore word, hoewel die veerkragtigheidspiere by party mense minder ontwikkel is. Maar ons kan hierdie spiere oefen sodat ons dit uiteindelik al makliker sal vind om ná ’n terugslag op te staan. As die mens nie ’n veerkragtige spesie was nie, sou ek nie vandag hier gewees het om hierdie boek te skryf nie. En jy – die leser – beslis ook nie.

    Ons weet dan ten minste ons almal beskik in mindere of meerdere mate oor veerkragtigheid.

    Ons almal se benadering tot trauma en die terugslae van die lewe verskil egter hemelsbreed. Vir party is geloof deurslaggewend; ander maak meer staat op hulle bankbalanse of ondersteuningsnetwerke. Maar die een gemene deler in al hierdie verhale is veerkragtigheid.

    Die goeie nuus is: Jy kan kies of jy wil floreer, of krepeer. Elke keer dat jy kies om op te staan en weer te probeer, slyp jy aan jou veerkragtigheid. En hopelik kan hierdie boek jou so ’n bietjie daarmee help.

    Hoofstuk 2

    _____________

    Veerkragtigheid of deursettingsvermoë: dís die verskil

    Ek het nie misluk nie. Ek het net tien duisend maniere gevind wat nie werk nie.

    – THOMAS EDISON

    Wat is veerkragtigheid? En hoe verskil dit dan van deursettingsvermoë, indien enigsins?

    Die Latynse woord resile verwys na die neiging van ’n voorwerp om terug te keer na sy oorspronklike vorm nadat dit gebuig is. En die Latynse term resilere beteken om terug te bons. Van hierdie Latynse woorde is die Engelse woord resilience afgelei. Veerkragtigheid is die pragtige Afrikaanse woord wat geskep is vir resilience en dit word deur die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verduidelik as die wilskrag of die vermoë om te herstel.

    Sielkundiges definieer veerkragtigheid as die proses om aan te pas by ’n situasie ten spyte van swaarkry, trauma, tragedie, bedreigings of stres. Veerkragtige mense herstel vinniger ná trauma en kan gouer weer optimaal funksioneer, al het die probleem nog nie ten volle verdwyn nie of al het ander probleme intussen opgeduik.

    Maar is veerkragtigheid dan nie net ’n ander naam vir deursettingsvermoë nie?

    Die kort antwoord is nee.

    Deursettingsvermoë is om aan te hou, te volhard. Veerkragtigheid is om die skerwe bymekaar te vee en op te tel, die bloed en die grond af te was, op te staan en aan te hou aanhou. ’n Klein maar belangrike verskil.

    Die woord veerkrag illustreer hierdie eienskap eintlik perfek. Dink aan ’n staalveer wat platgedruk word. Die oomblik as jy dit laat los, skiet dit weer regop. Dit gaan nie lui-lui terug na ’n halfmasposisie nie, en dit weier om platgedruk te bly lê. Dit skiet onmiddellik terug in posisie, met krag en wil, gereed om te doen wat dit veronderstel is om te doen. Wat ons terugbring na die HAT se wilskrag om te herstel.

    Veerkragtigheid, anders as deursettingsvermoë, bevat ook ’n element van persoonlike groei, van nuut dink, om dinge op ander maniere te probeer doen as dit die eerste maal nie gewerk het nie.

    Thomas Edison, die uitvinder wat gesorg het dat ons lig in ons daaglikse lewe het, se verhaal illustreer die verskil vir my uitstekend. Edison word beskou as die grootste uitvinder in die Amerikaanse geskiedenis. Hy het onder meer die rolprentkamera en die grammofoon uitgevind, en hy was die man wat die moderne gloeilampie laat werk het. Hy het nou wel nie gloeilampe uitgevind nie – die Britse wetenskaplike Warren de la Rue het – maar Edison se harde werk het gesorg dat gloeilampe bekostigbaar is, langer hou en ’n alledaagse gebruiksartikel geword het.

    Interessant genoeg – en dis belangrik – word Edison beskryf as een van die eerste uitvinders wat nie alles self probeer doen het nie, maar saam met ander navorsers en wetenskaplikes gewerk het. Hy het ’n merkwaardige 1 093 patente geregistreer.

    Het Edison deursettingsvermoë gehad? Ongetwyfeld! Hy was ook kreatief en duidelik ’n denker en ’n probleemoplosser. Maar sou hy al hierdie dinge uitgevind het as hy nie veerkrag gehad het nie? Absoluut nie!

    Sy navorsingswerk om die regte materiaal te vind om gloeilampies reg te laat werk, langer te laat hou en meer bekostigbaar te maak, het jare geduur. Daar was selfs ’n hofstryd oor wie se patent sy prototipe nou eintlik was, en hy het uiteindelik saam met sommige van sy voormalige teenstanders gewerk net om bekostigbare lig aan mense te voorsien. Dink net wat sou gebeur het as hy tou opgegooi en geweier het om uit die bed op te staan en weer te probeer.

    Ons almal ken mense soos Edison. Dis dié mense wat nie toelaat dat enigiets hulle onderkry nie. Ja, soms gaan dit beter as ander tye, maar doodkry is min, soos die spreekwoord lui.

    Tydens die Covid-19-pandemie het ons feitlik elke dag van veerkragtige mense gehoor en gelees. Mense wat inderhaas webwerwe en apps en aanlyn dienste en winkels geskep het toe kliënte nie meer na hulle ondernemings toe kon kom nie, wat met afleweringsdienste begin het en wat allerhande oorspronklike idees geïmplementeer het om te oorleef of ander te help oorleef. Dis die mense wat bierstookketels (wat weens die alkoholverbod nie gebruik kon word nie) gebruik het om sop te kook vir behoeftiges, wat sopkombuise begin het vir honger kinders wat nie meer kos by die skool kon kry nie, wat die regering hof toe geneem het oor sommige regulasies. Hulle het hulle energie positief gebruik, aangepas by die omstandighede, risiko’s gewaag en geweier om te gaan lê.

    Dit sou sekerlik veel makliker gewees en baie minder energie vereis het om handjies gevou te gaan sit en net te kla, soos hulle teenpole, die Sarel Smartryks en Miserabele Marties van die lewe. Ons almal ken hulle. Hulle kla oor alles. En as hulle op sosiale media is, is hulle gewoonlik ook die voorsangers in die valsnuuskoor. Dieselfde koor wat nie net die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar sommer self ’n bult bou en die bobbejaan teel en grootmaak. Hulle verkwalik die regering (sommer ook die WGO en Bill Gates en die Chinese en die Jode en wie-weet-wie-nog) vir die pandemie, en gaan da-de-lik emigreer sodra die grense weer oop is. As jy fyn kyk, is die kanse egter goed dat jy die spreekwoordelike wit brood (en dalk selfs ’n sjokoladekoek en egte Franse sjampanje) onder hulle arms sal sien. Want negatiwiteit is hulle default, en om hulle seëninge te tel gaan regtig ’n bietjie inmeng met die blou uitkyk op die lewe wat hulle verkies om te hê.

    In watter groep val jy? En in watter groep wíl jy val?

    Onthou, jy het áltyd ’n keuse hoe jy op iets gaan reageer.

    Ek kies al jare lank om my te omring deur veerkragtige, positiewe mense. Wat nie beteken ek het nie steeds klakouse in my lewe nie. Maar ek laat eenvoudig nie meer toe dat hulle my saam met hulle aftrek in die donker dieptes van ellende nie. Soos Edison, kies ek om my te omring deur mense wat saam met my die lig soek, en wat bereid is om elke dag weer te probeer. Al het die vorige dag se pogings dalk letterlik uitgebrand.

    •Onthou, jy het áltyd ’n keuse. Jy kan nie noodwendig kies wat in jou lewe gebeur nie, maar jy kan altyd kies hoe jy daarop gaan reageer. Gaan jy opstaan en weer probeer? Dis jou keuse.

    •Omring jou met positiewe mense. Dit maak die opstaan soveel makliker.

    •Hou op kla en tel eerder jou seëninge. As jy eers begin, sal jy besef hoe min rede jy eintlik het om te kla.

    Hoofstuk 3

    _____________

    Eienskappe van veerkragtige mense

    Al is die wêreld vol swaarkry, is dit ook vol mense wat swaarkry te bowe kom.

    – HELEN KELLER

    Terwyl ek een oggend aan hierdie boek sit en skryf, word ons buurt se kragtoevoer skielik afgesny. (Welkom in Suid-Afrika!)

    Ek het lankal geleer om nie meer my energie te mors op woede oor so iets nie, want woede en frustrasie gaan níks aan die stand van sake verander nie. Dankie tog vir moderne uitvindsels soos ’n skootrekenaar met ’n battery wat my darem in staat gestel het om nog ’n uur of twee aan te hou werk.

    Maar, het jy al opgelet hoe stil jou huis raak as die krag af is? Hierdie keer was die stilte nog meer opmerklik, want die waterfontein naby my voordeur se pompie was ook af. Skielik kon ek meer straatgeluide hoor. Die gelag en gesels op die sypaadjie voor my huis (wat ek nie kan sien nie, want daar is ’n hoë muur oortrek met digte rankplante wat my tuin van die straat skei).

    Dit was asblikdag, en ek het geweet wat op my sypaadjie aan die gang is – die rommelsorteerders gebruik dit elke Donderdag as sorteerpunt vir die karton en plastiek wat hulle herwin uit ons straat se asblikke. Agterna tel hulle elke flentertjie papier of stukkie plastiek weer mooi op, en die lewe gaan aan tot volgende week. Hulle het my nooit gevra nie, en ek het nooit toestemming gegee nie – dinge het maar net so gebeur. En ek

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1