Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die hart van 'n ma
Die hart van 'n ma
Die hart van 'n ma
Ebook217 pages3 hours

Die hart van 'n ma

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In ’n arm gemeenskap waar tik toenemend verwoesting en hartseer veroorsaak, vra drie ma’s al hoe meer wanhopig: wie is skuldig en wie staan dan vir geregtigheid? Maria verloor eers haar man en daarna haar seun. Ook haar suster, Stienie, en hul buurvrou Bettie moet magteloos toekyk hoe hierdie nuwe plaag hul lewens en huise indring, hulle vasketting aan hul uitsiglose omstandighede. Teenoor die sukkelende bestaan en swaarkry van dié drie gesinne word die luukse en gewetenlose bestaan gestel van die bendeleier Dolf Pistoors, die Groot Beer. Maar daar is wel een man wat hom beywer om die euwel te beveg en hom skaar aan die kant van die vroue, kaptein Wielieboy Mathabola. ’n Onthutsende roman oor die mens se uitgelewerdheid aan magte buite homself en sy stryd om geregtigheid. Wat in die media slegs koerantberigte is, kry onrusbarende gestalte in Phillips se outentieke uitbeelding.
LanguageAfrikaans
Release dateAug 5, 2013
ISBN9780798159531
Die hart van 'n ma
Author

Abraham Phillips

Abraham (Ronnie) Phillips is in 1945 in Potestraat op Worcester gebore. Hy was die vierde van elf kinders. In 1956 word die gesin verskuif na ’n woonbuurt met die naam die Witblokke aan die westekant van Worcester. Hy was slegs tot standerd 4 op skool omdat sy pa sieklik was en Ronnie moes begin werk om die gesin aan die lewe te help hou. In 1992 trek hy aandag met die publikasie van Die verdwaalde land (waarvan André Brink sê: “”n Klein boekie met ’n groot hart”). Daarna het nog verskeie romans gevolg, Erfenis van die noodlot in 1993, Die Messiasbende (1997), Die evangelis van Kaggelsberg (2007). In 2008 is die Patrick Petersen-gedenkprys aan Phillips toegeken, en in die lofrede word hy “’n stem vir die stemloses” genoem. Hy woon steeds op Worcester.

Related to Die hart van 'n ma

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die hart van 'n ma

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die hart van 'n ma - Abraham Phillips

    Hoofstuk 1

    Maria staan sukkelend van haar knieë op langs haar man se lig­gaam.

    Jou pa is dood, Roy.

    Roy Stokkies raak doodsbleek, hy kan dit nie glo nie. Hy gaan staan by die venster, dit voel vir hom of hy daar buite saam met die warm suidoostewind sweef. Vaagweg hoor hy hoedat mense in die straat deurmekaar lag en met mekaar die spot dryf. Hy staar na die huise aan die oorkant van die straat, sy asem jaag. Dit voel vir hom of die noodlot soos die duiwel self op die spoor van die bruin mense in die onderdorp is. Dit laat ons soos zombies lewe, dink Roy en draai stadig van die venster af weg, daar is trane in sy oë. Hy kyk na sy ma: Mamma moet die poliese bel, ek gaan myself oorgee.

    Nee, jy kan nie! Die trane loop ook oor Maria se wange. Ek gaan jou pa se dood op mý vat, dis my skuld, ek moes nie vir hom die geld vir tik gegee het nie. Die magistraat sal vir my meer ge­nadig wees.

    Roy skud sy kop. Nee, nee, Mamma in die tronk? Dis nie Mam­ma se skuld nie, dis die mense wat tik verkoop. En dis ék wat vir Pa doodgeslaan het.

    Sy woorde klink vir Maria ver. Sy kyk na Roy, sy soek na ant­woorde. Dit kan mos nie wees nie, Willem het netnou nog so aangegaan, vir haar en Roy gedreig. Maar dan besef sy dis nie ’n nagmerrie nie. Willem is dood.

    Sy kyk af na die gebreekte portret en stukkende blompot op die vloer – na die krismisrose wat sy met soveel moeite in die harde rooigrond agter die huis aan die groei gekry het. Dan loop ek maar, sê sy. Ek sal van die winkel af bel, dis beter so.

    Roy staar sy ma agterna, hy wil haar aan die arm gryp, hy wil met haar die wye wêreld invlug.

    Maria stap stadig, soos ’n slaapwandelaar, in die straat af. Bitter­heid begin in haar woed toe sy Kleintjie by haar smokkel­huis sien uitkom. Sy’s een van die duiwels hier, dink sy, die mense sê sy was net so erg in die Rooiwalle waar sy vroeër gebly het. Daai gangster Salmon en sy spul rofryters het haar daar uit­gewoel, nou doen sy dieselfde hier in Helshoogte. Haar verskonings oor hoe­kom sy smokkel, is dat sy ook moet lewe, ook moet eet. Maar sy’s een van hulle, sy trek dié wat nie het nie verder die afgrond in.

    Maria sien hoe Kleintjie hande op die heupe kyk na ’n jong vrou wat teenaan die draad lê en twee seuns in die jaarts wat me­kaar dreig met messe. Nie een van die drie weet waar hulle is van die tik nie.

    Sy kan nie verstaan dat die mense in die straat net verbyloop nie, hulle steur hulle nie aan die jong vrou of die twee seuns nie. Het ons dan so gewóónd geraak aan dit alles? wonder sy.

    Sy kyk na die gebeure asof dit nie werklik is nie, maar word uit haar gedagtes geruk toe ’n groot swart motor voor Kleintjie se huis stilhou.

    Maria herken die groot forse man wat eerste uit die motor klim. Dis Dolf Pistoors, alias die Groot Beer, generaal van die 26-tronkgangsters. Sy het hom al baie hier gesien, die mense sê dis sy huis.

    Sy sien hoe die Beer sy hemp uittrek en in die motor gooi. Hy kyk in haar rigting, maar sy weet vir hom is sy net ’n magtelose toeskouer. Hy het ’n sonbril op, en in die styl van die gangster dra hy ook oorbelle.Voor op sy bors is die tatoeëermerk van ’n arend langs die nommer 26, sy gesig is uitdrukkingloos. Hy be­duie na ’n stukkende venster terwyl hy saam met drie van sy gangstervriende, Johannes Willemse, alias Muisvoël, Popeye en Langman, oor die omgevalle heiningdraad klim. Hy lag diep uit sy bors, goud glinster in sy mond. Hy wys spottend na die vrou wat teen die draad lê.

    Hei, Langman, maak toe die meid se stêre, of moet ons haar saamvat?

    Langman trek sy gesig, teen sy wangbene is die woord Under­taker getatoeëer.

    Waantoe? Ek wil haar nie hê nie, sê hy en skop liggies teen haar boude. Nei, masse kind, sy’t niks hier onder meer nie, lag hy.

    Kleintjie glimlag breed toe sy die vier gangsters in haar voor­deur ontvang.

    Maria kan elke woord hoor. Die verdomde rofryter, hy’t bloed aan sy hande, hy’t ’n groot huis hier anderkant in Kokkerotjiedorp. Dié huis hier hou hy net aan om ons mense van Doringdal met tik te vergiftig.

    Maria draai haar rug op die smokkelhuis en stap aan. Wat gaan van ons word? prewel sy. Willem is klaar weg. Dis die tik. Kan die mense wat ons moet help dan regtig nie, of wil hulle nie? Selfs vir die poliese moet jy bang wees. Maria sien hoe verbygangers in haar rigting kyk, hulle fluister seker onder mekaar oor die vrou wat met haarself loop en praat. Ek verbeel my allerhande dinge, hulle kan tog nie van die moord weet nie. Moord . . . Nee, dit was ’n ongeluk, tik het hom doodgemaak.

    Maria bewe erg, sy probeer haar wysmaak dat sy nou verlos is van die wrede lewe saam met Willem, maar sy kan nie. Sy haal ’n sakdoek voor by haar bors uit en vee die trane van haar wange af.

    Wat gaan dit aan my kind se lewe doen? Roy was nog nooit in die tronk nie, hy sal nie ’n vlieg seermaak nie. Maar ek moet die oproep maak, ek moet die poliese bel, al weet ek dat dit my lewe en dié van my seun gaan veanner. Stadig loop sy die winkel binne. Met moeite hou sy die telefoon vas. Die woorde dood en moord stotter uit haar mond.

    Roy staan by die tafel. Hy onthou hoe dikwels hy en sy pa ge­praat het oor hierdie duiwelse tik, wat dit aan die jong mense doen.

    Maar toe word ’n ou man soos hý ook lief vir tik, toe veanner sy pa ook van binne en buite in ’n monster, dink hy bitter. Kyk hoe lyk sy gesig, oortrek van skubbe.

    Hy gaan sit. Sy hande bewe en sy hart klop onstuimig. Hy is ’n moordenaar, ’n seun wat sy pa doodgeslaan het.

    Lank sit hy roerloos langs die tafel. Sy gedagtes word onder­breek toe Maria die voorhuis binnekom en voor hom vassteek.

    Mamma is gou terug, het Mamma toe gebel? vra hy.

    Ja, maar ai, my kind, jy’s so bleek soos die dood, laat ek vir ons ’n bietjie suikerwater aanmaak.

    Maria sit ’n halfvol beker suikerwater voor Roy neer, sy draai om en stap tot by die venster. Sy sluk hortend, haar skraal skouers krom, sy kan skaars haar beker vashou, watter nuttelose troos is dit nie.

    Wat gaan ek doen? Willem is dood en Roy gaan seker tronk toe. Sy maak haar oë toe, doodstil staan sy daar, die minute voel soos ure, haar lewe het skielik heeltemal verander.

    Vir Roy lyk dit of sy bid.Wat is dit nou, Mamma? vra hy. Hoe­kom staan Mamma so?

    Ek dink net, my kind. Maria maak haar oë oop en draai na hom. Roy, ek gaan dat antie Stienie hier by my kom intrek, ek wil nie alleen hier bly as jy miskien straf kry nie.

    Ek verstaan, sê Roy, maar onthou, daai Dampies is ’n vrees­like klong.

    Ek weet, maar ek kan eintlik nie anners nie, sê sy.

    Roy sit die leë beker op die tafel neer. Ja, Mamma is seker reg, dan kan ant Stienie-hulle ook uit die hok van daai mense se jaarts kom.

    Hulle bly stil en kyk af na Willem se stil liggaam op die vloer.

    ’n Geraas klink buite in die straat op en Maria kyk by die venster uit. Dis die poliese, prewel sy.

    ’n Polisievangwa, ambulans en ’n motor met twee speurders, kap­tein Wielieboy Mathabola en sersant Frikkie Snyders, hou by­na gelyktydig voor die huis stil. Mense uit die buurt skarrel nader.

    Maria wag die twee speurders by haar voordeur in.

    Wielieboy Mathabola sien die vrees waarin die tingerige vrou verkeer.

    Ek hoor hier’s ’n moord gepleeg, is dit mevrou wat gebel het? vra hy.

    Ja, kaptein, hier lê my man, antwoord Maria.

    Die twee speurders stap om die tafel om na die lyk te kyk. Mathabola is op die punt om vir Maria ’n vraag te vra, toe Roy tussenbeide tree.

    Dis ek wat my pa geslaan het, hy gebruik tik, hy het my ma weer aangerand. Ek het nie gemeen om hom so hard met die stoel te slaan nie, sê hy en sluk.

    Mathabola kyk net na Roy, sonder enige teken of hy hom glo of nie. Jy beter nou niks verder sê nie, want alles wat jy nou sê kan later teen jou tel in die hof.

    Mathabola vee die sweet van sy voorkop af, hy kyk na die venster en skud sy kop. Die mense hier buite raak oproerig, dit traak hulle nie dat hier binne ’n lyk lê nie.

    Hulle weet nie wat hier gebeur het nie, sê Maria terwyl die speurder sy plastiekhandskoene aantrek. Sy en Roy volg sy be­wegings angstig.

    Mathabola sê egter niks terwyl hy die lyk ondersoek nie. Hy beduie net tam na die wapperende gordyne en sê vir Snyders: Maak toe die venster, die wind bemoeilik ons werk hier binne.

    Hy tel die stukkende stoel op. Dis die bewys, sê hy terwyl hy die stukke van die blompot en die krismisrose eenkant toe vee met sy voet. Hy trek sy handskoene uit en vra vir Snyders om oor te neem.

    Frikkie Snyders sien ’n gebreekte portret op die vloer en tel dit op. Aandagtig kyk hy van die foto na die liggaam op die vloer. Snyders skud sy kop: ’n Mens kan nie glo dis dieselfde man nie, sê hy.

    Ja, die dêmmitse ding tik speel mos nie met ’n ou se gat nie, antwoord Mathabola.

    Maar, kaptein, hier is dan so ’n groot plek wat kan help, Toe­vlug, hoekom het hulle hom nie soontoe gestuur nie?

    Toevlug is propvol, man. Buitendien, die meeste mense het nie die geld daarvoor nie, sê hy. Dis soos die oorvol tronke. Om ook die verslaafdes in sulke plekke in te prop sal nie help nie, dis hier buite waar die werk lê, dis die dwelmneste wat uitgeroei moet word.

    Maria en Roy luister in stilte. Die twee praat asof ons nie hier is nie, dink Maria.

    Snyders draai na haar toe: Ek moet ’n verklaring by antie af­neem, sê hy.

    Terwyl Maria vir Snyders vertel wat gebeur het, verduidelik Mathabola vir Roy wat sy regte is.

    Roy kyk die speurder in die oë. My regte in boeie, dink hy bitter. Toe die lyk uit die huis gedra word, stap Roy Stokkies kop onderstebo agterna.

    Hy herken die groot swart motor wat aan die onderpunt van Adamstraat voor Kleintjie se huis staan. Die Groot Beer en sy drie medegangsters kom op daardie oomblik by die huis se voor­deur uit.

    Die twee speurders sien ook die Beer se motor. Mathabola haal sy selfoon uit en sien hoe Snyders syne ook oopmaak.

    Langman, alias die Undertaker, is op die punt om die Beer se mo­tor aan te skakel toe die temalied van The spy who loved me aan­dui dat die Groot Beer se selfoon lui.

    Dala maar, ek luister, sê die Groot Beer sag.

    Hy kyk met nougetrekte oë na die klomp mense in die straat voor Maria se huis. Ja, ek sien die geneuk daar bo in die straat, ek sal gou daar inloer. Hy steek sy selfoon in sy broeksak en kyk deur die motorvenster na Kleintjie in die voorhuisdeur. Weet jy wat daar aangaan? vra hy.

    Het nie ’n clue nie, antwoord Kleintjie, seker weer ’n bakleie­ry. Daai ou man Willem het veoggend hier teen die muur ge­lê en tiep.

    Die Beer knik vir Langman om te ry en oomblikke later hou die motor met die vier gangsters voor Maria se huis stil.

    Ek sê, bra’s, Kleintjie is reg, dis mos daai ou man Willem wat hier bly, ek wonner wat soek die honne dan hier?

    Hy klim uit. Alles wat hier in Doringdal gedala word is my besigheid, dink hy. Wie se lyk is hier uitgedra? vra hy.

    Die mense antwoord hom nie, hulle kyk na mekaar.

    Die Beer wend hom tot Maria in haar hekkie. Ek sê, antie, vir wie het hulle dan nou hier uitgedra?

    Maria draai net haar rug op hom.

    Die antie is vol kak, maar ek dina worries fokkol’ie, sê hy. Hy draai om. Die sonbril verberg die uitdrukking in sy oë toe hy in die rigting van Frikkie Snyders kyk. Die Beer voel-voel aan sy regter­kantse oorbel en kyk ondersoekend deur die skare mense. Hy skud sy kop. Die goed lyk al net soos die fokken vaal huise hier rondom hulle, bulder hy, grom dan diep uit sy keel en spoeg die slym teen die draad vas.

    Langman lag. Gooi sout by die dagga, bra, die Undertaker wil jou nie nou al begraafplaas toe dala nie.

    Naganja, Langman, kom, manne, laat ons dala, sê die Beer. Hy en sy medegangsters verlaat die toneel terwyl die mense on­der mekaar fluister.

    Hulle praat oor die nuus dat Roy sy pa vermoor het, die mense is verbaas en geskok.

    Ek het gewéét die ding gaan ook nog hier by ons gebeur, julle wil mos nie saamstaan teen die duiwelse tikverkopers nie, sê Bettie Filander, ’n goeie vriendin van Maria Stokkies. Haar woorde bring ’n beroering onder die mense. Party stem saam, an­der vloek die polisie.

    Julle tweegatjakkalse, julle hou julle wat julle nie is nie! Daai Bettie-meid moet eerder haar bek hou, haar man, Japie, is ’n koster, hy dra dooie mense weg, sy beter na haar twee tikkopkinners kyk! Sy moet hoop dat daai dogter van haar, Soufie, nie ook ’n tikkop word nie, skree Bom, ’n jong vrou wat ook vir Dolf Pistoors tik verkoop. Sy vloek op die polisie, en die uniformmanne het hul hande vol om die mense uitmekaar te hou.

    Wat de hel is dit met julle mense? skree ’n polisieman.

    Fok jou, jy beter na jouself kyk, julle is korrup! klink ’n stem vanuit die skare op.

    Die mense gaan uiteindelik uitmekaar toe die ambulans met die lyk saam met die speurders en polisievangwa vertrek.

    In Maria se huis is dit nou stil. Trane stroom oor haar wange terwyl sy op die kooi neersak, sy voel verlate. Wat het ek in die oë van God gesondig? Maria voel hoe erge verbittering haar oor­val, maar sy weet sy moet vashou aan haar geloof.

    Sy dink aan Jaffie Buffels. Sy’t hom daardie tyd veroordeel vir die moorde op die gangsters. Maar ná wat nou in haar eie huis ge­beur het, twyfel sy. Het die Here die boggelman regtig opdrag gegee om daai gangsters te vermoor?

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1