Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kopwond
Kopwond
Kopwond
Ebook244 pages4 hours

Kopwond

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Onwillige Anthony Feinstein word ingedeel by die weermag se psigiatriese eenheid al het hy net weke se opleiding in dié veld. Hy behandel seuns wat met die hemelliggame praat of dink hulle is Jesus, troepe met post-traumatiese stressindroom, en vrouens van gewelddadige soldate. Sy openhartige verhaal sal enige leser ruk.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 18, 2011
ISBN9780624058465
Kopwond

Related to Kopwond

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kopwond

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kopwond - Anthony Feinstein

    Kopwond

    Anthony Feinstein

    Tafelberg

    1

    Wat gebeur as hulle jou breek?

    Meld aan by die infanteriebasis op Upington.

    Die gevreesde koevert met die stempel van die Suid-Afrikaanse Weermag op het kort ná my sestiende verjaardag opgedaag. Natuurlik het ek geweet ek gaan opgeroep word, maar om Upington op die dokument te sien was nietemin ’n skok. Dit was wêrelde verwyder van my rustige voorstedelike bestaan in Johannesburg waar ek smiddae ná skool die tyd verwyl het met my viool en kamermusiekvriende, en waar Haydn en Mozart se fortissimo’s en pianissimo’s die enigste bevele was om te gehoorsaam.

    Upington … die basis was berug as die heel ergste in die weermag. Só erg dat die soldate daar die ondenkbare gedoen en in opstand gekom het. Upington is waar hulle seuns breek en van hulle mans maak, of so lui die gerugte.

    Is dit moontlik? Wat gebeur as hulle jou breek en die stukke nie weer bymekaar kan sit nie?

    Vergeet dit! Jammer, brigadier, en verskoon my, generaal, maar ek laat my nie breek nie. Julle gaan my nie onder hande neem nie, en beslis nie op Upington nie.

    Ek is in elk geval nog op skool met planne om ses jaar lank medies te studeer aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die weermag sal moet wag, en daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie buiten om jaarliks vir my ’n herinnering te stuur oor die skuld wat ek nog moet betaal. ’n Dekade lank kry ek die volhardende en onversetlike oproepbriewe waarin ek aangesê word om my op Upington te gaan aanmeld, en elke jaar antwoord ek met dieselfde verskoning: Jammer, ek het ander verpligtinge.

    Maar die weermag is geduldig, want hy weet een of ander tyd sal ek klaar gestudeer hê en dan sal ek nie meer ’n verskoning hê nie. Toe dié dag uiteindelik aanbreek, is my land in ’n oorlog gewikkel aan die Angolese grens in verre Suidwes-Afrika en soek die weermag my éérs. Dis ’n onnosele, aaklige oorlog en enigeen met ’n greintjie gesonde verstand weet dit kan nie gewen word nie, maar dit stuit die regering nie om op my spoor te bly nie. Behalwe dat ek dié keer te ver weg is.

    Die geluk is aan my kant. Ek het kort vantevore die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging se musiekprys vir strykers gewen, wat ’n mooi medalje en ruim tjek ingesluit het. Deurdrenk van dié sukses woon ek nou in Parys in ’n goor gebou aan die rue Puget oorkant ’n bordeel en boucherie chevaline (’n perdevleis-slaghuis) en ek neem vioollesse by ’n Koreaanse virtuoos wat sweerlik die reïnkarnasie van Paganini is. Maar selfs hier spoor die weermag my op. Al wat hierdie keer anders is aan die vuil bruin koevert is ’n lugposplakker wat my voorletter verberg. Die inhoud is dieselfde: Die staat eis sy pond vleis.

    Wat nou? Dis ’n sonskyndag in Mei en ek sit op ’n bank in die Parc Monceau. Ek het so pas gelees die Amerikaanse sanger Art Garfunkel, wat vir ’n konsert in die stad is, meen die Parc Monceau is die heel mooiste park in die ganse Parys. Hy is dalk reg, want dit is inderdaad pragtig. Dit laat my dunk van Art, met wie ek my nog altyd vereenselwig het, selfs nog verder styg. Die Parc Monceau laat my ook goed voel. Maar dan sien ek weer die posstempel op die koevert in my hand en my kort huldeblyk aan Art eindig net daar.

    Ek maak die koevert oop. Meld aan op Klipdrif.

    Wat het van die Upington-pos geword? Dit lyk of my opleidingskamp verander het noudat ek ’n dokter is. Die mediese korps het sy kleim afgesteek. Maak dit enige verskil? Upington? Klipdrif? Nie rêrig nie. Albei is regte hole. Wat daarvan dat ek vir die owerhede sê jammer, ek is in Parys, die Koreaanse meester kan my geweldig baie leer, wag asseblief ’n bietjie langer? Dis waar, ek moet nog baie van die viool leer – so baie dat my leermeester my sonder omhaal van woorde aangeraai het om my liewer op die mediese beroep toe te spits. Dit is dus nie ’n opsie nie.

    Is daar iets anders wat ek kan doen? Ek maak my oë toe en herleef scenario’s wat ek al male sonder tal bedink het.

    Opsie 1: Bly in Parys, word ’n uitgewekene. ’n Uitweg? Nie regtig nie. Sonder geld en sonder dokumente is dit net ’n kwessie van tyd voordat ek gedeporteer word weens die oortreding van die wet in nie net een land nie, maar twee.

    Opsie 2: Gaan terug huis toe en word ’n gewetensbeswaarde. Beweer dat alle oorloë boos is, laat staan nog ’n oorlog wat apartheid in stand wil hou. Dis ’n moontlikheid, maar dit sal nie vir my werk nie. Ek sal vir drie jaar in die tronk gegooi word en elke nou en dan sal ’n paar van my tande uitgeslaan word of my neus op my gesig rondgeskuif word, net om my aan my hoë morele waardes te herinner. Ek onthou daardie arme Jehovasgetuie-seuns wat van die plaaslike tronk na die noodgevalle-afdeling gebring is, vol pasifisme maar ook vol kneusplekke en met gebreekte neuse. Om eerlik te wees, ek het nie daardie soort moed nie.

    Klipdrift violin.jpg

    Ek lewer ’n viooluitvoering vir die manne by Klipdrif.

    Opsie 3: Gaan huis toe en doen diensplig, hou op weghardloop en kry dit agter die rug. Twee jaar is ’n lang tyd, maar ek sal ’n dokter en ’n offisier wees en, wie weet, dalk sal ek selfs in my eie bed kan slaap. Ek gaan eenvoudig vergeet wat reg en verkeerd is, my kop laat sak en kyk hoe die kak rondom my spat.

    Dus pak ek toe maar op en gaan huis toe om op ’n ongewone tog te begin wat ek nie eens in my wildste drome sou kon voorsien nie. Want as die reis, in die woorde van Ralph Waldo Emerson, die bestemming is, het ek skaars my civvies vir bruin oorpakke verruil of ek het op ’n baie vreemde plek beland.

    Hoewel ek hartseer was om Parys op te gee vir ’n stelsel wat ek verafsku het, was die ironie dat daardie beslissende besluit op ’n bankie in die Parc Monceau my uiteindelik sou stuur in die rigting van ’n loopbaan wat my baie professionele bevrediging sou bring. Maar vir eers was daar ’n prys om te betaal.

    2

    Met komplimente van die staat

    Ek is staatseiendom. 68504194BG. Dis ek, ’n nommer. Dit kom selfs voor my naam.

    Ek klim uit die vliegtuig in Johannesburg, soen my ma en pa en suster, skeer al my hare af en klim saam met duisende ander rekrute in ’n trein wat in ’n westelike rigting op pad na Klipdrif is.

    Drie maande lank hardloop, spring, kruip en klim ons op die maat van mans wat ons verskree en ons aanmekaar daaraan herinner hoe fokken useless ons is. Laer as slangkak – dís wat een van die korporaals ons noem. Dié uitdrukking sou ek alte dikwels gedurende my tyd in uniform hoor.

    Ag ja, daardie tyd van offisiersopleiding. Op ’n dag kom ons van die paradegrond af ná drie lange ure van ’n nimmereindigende marsjeerdery, die warm winterson laag op die horison, die strale wat vermeng met stofwolke wat deur duisend marsjerende voete opgeskop word, die lug blinkgepoleerde goud. Ons is ongetwyfeld powere voetsoldate wat stadig reageer op die skril geskreeu en opdragte van die drilinstrukteurs: linksom, regsom, halt, voorwaarts mars, links swenk, regs swenk, aandag, op die plek rus, op en af, heen en weer, so gaan dit aan en aan totdat jy jou in ’n staat van gedehidreerde gevoelloosheid bevind wat jou heeltemal laat afskakel.

    Dit is in hierdie staat van doodsheid dat ons peloton eendag verby haar marsjeer – ’n vroulike korporaal en lid van die staande mag. Sy is aantreklik, al is sy effens mannetjiesagtig, maar dit is die smalende uitdrukking op haar gesig wat ons aandag trek, die bolip minagtend opgekrul terwyl sy haar veragting uitspoeg vir wat sy so pas gadegeslaan het: Julle dril so swak, dit laat my poeshare krul.

    Niemand sê ’n woord nie. Nie een van ons geleerde dokters kan met ’n reaksie vorendag kom nie. Haar veroordeling is so verdoemend dat almal stomgeslaan voor hulle bly staar. Al wat ons kan doen toe die volle implikasie van haar woorde ingesink het, is om te lag en ons koppe in ongeloof te skud. Tot daardie stadium het ek nie geweet daar is eens vroue wat so praat nie.

    Dié vreemde soort denkwyse is orals; dis soos ’n virus. Ná ons basiese opleiding het ons ’n stukkie papier gekry waarop ons ons naam moes skryf en ’n spesialisveld moes kies. Die weermag sal sy bes doen om elkeen tegemoet te kom, het die manne in beheer gesê, sonder om eens te probeer om hul gegrinnik weg te steek. Toe skryf ek: plastiese chirurgie. Ek het so half ’n idee gehad om ’n plastiese chirurg te word omdat die estetika daarvan my aanstaan. Jy neem ’n knol en maak daarvan die fraaiste klein neusie waarna jy kan terugstaan en kyk hoe die pasiënt ’n nuwe lewe kry. En dit help beslis om die huisverband te betaal. Hierdié stukkie advies het een van my lektore aan die mediese fakulteit in my oor gefluister.

    Ek het dus plastiese chirurgie gekies as my bydrae tot die nasie, maar wat het die nasie my gegee? Psigiatrie.

    Dit moet ’n fout wees, het ek gedink. Toe nie. Daar is net ’n paar plekke vir plastiese chirurgie en hulle is baie gou gevul. Wat is dus volgende op die lys? Psigiatrie natuurlik, onnosel.

    Só het ’n hoogs geïrriteerde sersant met ’n gesig vol akneemerke aan my verduidelik. Fok, ken jy nie jou alfabet nie? het hy geskree. PS kom ná PL. Fokkof nou!

    Die weermag het besluit dat ek ’n psigiater sal wees en daar was niks wat ek daaraan kan doen nie – ek is immers laer as slangkak. Ek het my opdrag ontvang en ek moes dit uitvoer.

    Die weermag se mediese hoofkwartier is in Pretoria, in ’n splinternuwe hospitaal wat trots op ’n heuwel uittroon. Die gebou se amptelike naam is 1 Militêre Hospitaal, maar almal verwys daarna as 1 Mil. Geen koste is ontsien nie. Die plek is met net die beste en duurste toegerus. Aan die voet van die heuwel is die ou 1 Mil, ’n mengelmoes van vervalle opslaangeboue. Dit is waarheen diegene met wie dit geestelik nie so goed gaan nie gestuur word.

    Op my eerste dag daar ontmoet ek my nuwe baas, ’n besonder klein kolonelletjie met ’n eksotiese naam, ten minste gemeet aan weermagstandaarde – Ronaldo de Jager. Al die uiterlike vertoon van mag, soos die glinsterende epoulette en die skerppunt-kadotjie met die oranje band om, lyk half onvanpas by so ’n klein figuurtjie. Die verpleegsters sê vir my hy het baie ervaring en hy het al jare lank met geestesiektes te doen. Dit kan dalk waar wees, maar my eerste indrukke is nie gerusstellend nie. Hy maak skielike, senuagtige, rukkerige bewegings nes ’n marionet. En hy is asmaties. Net nadat ek hom ontmoet het, hoor ek ’n gehyg. Hy pluk sy asmapompie uit en sit dit in sy mond, maar, o hemel, die koördinasie is power. Die eerste spuit is heeltemal mis. Dit spuit verby sy wang en sy oor. Dalk was dit net ’n oefenlopie? O nee. Hy sit die doppie terug en sit die pompie in sy sak. Die gehyg hou op.

    Die psigiatrie-eenheid is groot, en om die kliniese werklas te kan baasraak, word ’n kollega van my van die mediese fakulteit saam met my daarheen gestuur. David is ’n fees, werklik sjarmant en ’n connoisseur van vroue. Om te hoor hoe hy die unieke eienskappe beskryf van die een of ander skoonheid wat hy raakgesien het, is soos om na ’n universiteitslesing oor kunswaardering te luister. Selfs vroue wie se voorkoms aan die alledaagse grens, voer hom tot ongelooflike hoogtes van fantasie. Dis die gevolg van ’n uitsonderlike geskiedenis in die kuns van verleiding en ’n amper heldersiende begrip van wat vroue eroties vind.

    Die persoonlikheid van ’n derde dienspligtige, wat reeds ses maande in die eenheid is, is minder innemend. Ek en David onthou hom albei goed uit ons studentedae. Maar die kort pokkeltjie wat eens heel rustig en aangenaam was, het in ’n baasspelerige, bemoeisieke vent ontaard. Hy skarrel rond, gee vir ons bevele, wys ons tereg, en, ja, komplimenteer ons soms, baie ingenome met sy kastige senioriteit. Aanvanklik amuseer sy petaljes ons, maar sy bombastiese houding is ook gemeen, en binne weke is ons uitgekuier. Ons gee hom die bynaam Vlakvark en vermy hom so ver moontlik.

    Tot my verbasing vind ek die werk fassinered. Ek weet bitter min, maar ek wil graag leer. Die laaste psigiatriese pasiënt met wie ek te doen gehad het, was drie jaar vantevore in ’n ses weke lange psigiatriekursus toe ek nog ’n mediese student was. Dit was die volle omvang van my opleiding. Nou kry ek binne ’n oogwink enorme gesag om met ernstig siek pasiënte te werk.

    Die eerste tekens van erge geestesiektes, soos skisofrenie en bipolêre versteuring, word in die laat tienerjare en vroeë twintigs opgemerk. Net mooi die tyd toe die koevert met die gevreesde posstempel in die posbus land. Ek is seker dis blote toeval, maar die demografie hou ons baie besig.

    My dae is vol psigoses. Seuns wat met die maan praat, wat soos wolwe huil, wat daarvan oortuig is dat hulle vergiftig word, of dat hulle Jesus is. Jong manne met briljante planne om miljarde te maak, om kanker te genees, of om goud uit mielies te maak, jong mans wat in so ’n diepe depressie verval het dat hulle smeek om dood te gaan en dit probeer bewerkstellig met ’n stuk tou of ’n bottel pille, of die ergste van alles, ’n geweer, iets waaraan daar natuurlik g’n tekort is nie. Selfmoord, goedgunstig deur die staat gesubsidieer.

    Twee maande nadat ek in die gestig begin werk het, hunker ek glad nie meer na plastiese chirurgie nie. ’n Gewonde verstand is skielik interessanter as om ’n paar plooie uit te stryk of ’n onderbedeelde boesem te laat blom. En dit is nie net hallusinasies en drogbeelde wat my fassineer nie. Dit is die patos van ’n lewe wat ontspoor het. ’n Hartseerwêreld lê binne die mure opgesluit. Die psigotiese pasiënte, wat in ’n ander dimensie rondsweef, is nie van hul benarde toestand bewus nie. Maar hul families sien dit raak. Wanneer Ma en Pa hul verlore seun kom oplaai, is die hartseer en kommer op hul gesig afgeëts, hang hul skouers en lê die vrees vlak in hul onrustige oë. Die weermag weet daar is vir dié seuns geen terugkeer nie. Beskadigde goedere moet teruggestuur word.

    Soms trap ek klei, want sommige pasiënte se probleme is gekompliseerd en ek is ’n groentjie. Weet ek wat ek doen? Ek kry ’n man se gemoed om mee te werk en ek is bekommerd dat ek Hippokrates se ononderhandelbare rigsnoer wat ons op universiteit geleer het, verbreek: Primum non nocere (Moet in die eerste plek geen leed veroorsaak nie). Dit impliseer dat ons as dokters versigtig moet wees en ons moet weerhou van riskante besluite met moeilik voorspelbare gevolge. Om vir my tekortkominge te probeer vergoed, lees ek met oorgawe. Handboeke, mediese tydskrifte en handleidings lê opgestapel op my lessenaar en my bedkassie, in die plek van Comédie Humaine wat ek van Parys af saamgebring het.

    Gelukkig geskied my werk onder toesig. De Jager is ongetwyfeld ’n goeie mens, maar sommige van sy sienings is baie verdag.

    Ek is van die ou skool, lig hy my trots in. Hy dra sy diensjare soos ’n medalje vir dapperheid. De Jager is ’n groot voorstander van skokterapie. Geen spierverslapper nie, betig hy my. Dit maak die terapie doeltreffender omdat die skok groter is. En hy bal sy vuis om die effek te verhoog.

    Hoe groter hoe beter, is die hoeksteen van die voorstanders van dié terapie. Om te keer dat die pasiënt met die skoktoediening van die bed af val, is net ’n bietjie gewig op sy borskas nodig, lig hy my in. Dis eintlik net basiese meganika.

    Hy lyk ingenome met homself, maar die narkotiseurs is hewig ontsteld. Rugwerwels kan breek as jy nie ’n verslapper toedien nie, laat hulle in ’n koor hoor. Stront, kap my baas terug. Daardie snert staan in die fynskrif.

    Hy het in 35 jaar nog nooit so iets gesien nie, maar die narkotiseurs wil niks weet nie. Geen spierverslapper nie, geen narkose nie. Die kolonel is verplig om toe te gee. Dis antipsigiatriese afpersing, snou hy hulle toe, terwyl hy kook van die woede.

    Die kolonel het twee ondergeskiktes by wie ek, indien nodig, om raad kan aanklop: kmdt. Jin en kmdt. Jang. Jang is blas, kort, geset en toondoof, en Jin is blond, lank, skraal en musikaal. Teoreties moet hulle om die beurt beskikbaar wees, maar Jang woon gedurig die een of ander kursus by. Om homself te verbeter, sê hy vir ons, of om sy Ysterman-sertifikaat te kry. Wanneer hy terugkeer, is hy egter net so gemeen soos vantevore, maar hy loop mank, met ’n arm in ’n hangverband of met ’n gespalkte been, maar altyd met ’n vlymskerp tong wat duisend verskonings uitspoeg vir die jongste mislukking. Ons moet almal daarna luister, want hy is tweede in bevel en ons is steeds niks, eintlik minder as niks. Laer as slangkak, om meer presies te wees.

    Die punt is: Die kliniese probleme is dikwels kompleks en ek is uit my diepte. Soms haak ek vas en dan vra ek Jin en Jang om te help, maar hulle het ook nie altyd al die antwoorde nie. Dus wend ons ons tot De Jager. Ons kry hom waar hy aanlê by ’n sekretaresse die helfte jonger en dubbel so lank as hy. Hy hanteer die onderbreking goed, as

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1