Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Traliewerk
Traliewerk
Traliewerk
Ebook178 pages2 hours

Traliewerk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Rouxvé Malan loop op een van haar staptogte vir Fred Siebrits raak. Hy herken haar as die minnares van sy swaer, Albie Conradie. Volens hom is sy die hoofoorsaak van die dood van sy geliefde suster, Elsie.
Fred besluit dat Rouxvé bestem was om sy pad te kruis sodat hy hom op haar kan wreek. Hy lok haar in sy huis in en sluit haar in ‘n wit sel toe.
Sy het aanvanklik geen benul van sy bedoelens nie, maar besef geleidelik dat hy haar wil straf vir haar sondes van die verlede.
Intussen soek haar dogter, Tilda na haar met die hulp van haar vriend, Eben wat ‘n privaatspeurder is. Die plaaslike polisie is ook betrokke, maar vind geen leidrade nie.
Rouxvé bedink ‘n ontsnappingsplan op dieselfde dag wat Fred Tiloda met motor en al in ‘n poel stamp om te keer dat sy Rouxvé opspoor.
Fred word uiteindelik aangekeer en Rouxvé besef dat sy ook bevry moet word van die tralies van haar verlede en besluit om aan haar familie en haar gemeente te bieg oor haar donker verlede.
Sy stap uiteindelik weg as iemand wat volkome bevry is.

LanguageAfrikaans
Release dateAug 3, 2023
ISBN9798215599549
Traliewerk

Related to Traliewerk

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Traliewerk

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Traliewerk - Pauline Du Preez

    TRALIEWERK

    Pauline du Preez

    Inhoudsopgawe

    EEN

    TWEE

    DRIE

    VIER

    VYF

    SES

    SEWE

    AGT

    NEGE

    TIEN

    ELF

    TWAALF

    DERTIEN

    VEERTIEN

    VYFTIEN

    SESTIEN

    SEWENTIEN

    AGTIEN

    NEGENTIEN

    TWINTIG

    EEN-EN-TWINTIG

    TWEE-EN-TWINTIG

    DRIE-EN-TWINTIG

    VIER-EN TWINTIG

    VYF-EN-TWINTIG

    SES-EN-TWINTIG

    SEWE-EN-TWINTIG

    AGT-EN-TWINTIG

    NEGE-EN-TWINTIG

    DERTIG

    Alles is wit.

    Die mure.

    Die vloer.

    Die deur.

    Selfs die halfdeurskynende dakplate.

         Die tralies pikswart in skrille kontras.

         Asof dit die illusie van vryheid en ruimte in die kiem wil smoor.

    Hier is geen vryheid nie.

    Geen uitkoms nie.

    Jy is vasgekeer in ‘n steriele wit tronk.

    Tronke is vir misdadigers.

    Mens is hier omdat jy dit verdien.

    En hier sal jy bly tot jy geboet het vir al jou wandade.

    Jy sal deur die swart traliewerk moet breek om vry te kom, anders sal jy net hier bly.

    Tot jy wit is.

    Tot jy waarlik vry is.

    EEN

    Fred Siebrits staan hierdie wintersoggend presies om kwart oor agt, soos elke Woensdagoggend op die sypaadjie voor sy huis, sy oë ondersoekend en gefokus op die detail van sy formeel-uitgelegde sypaadjietuin om enige abnormaliteit raak te sien wat hy moet regstel.

    Dis nou al deel van sy weeklikse roetine om hier te begin voor hy verder na die groot tuin voor sy huis beweeg. Trouens, dis al van kleinsaf in hom ingebou om nooit van sy beplande skedule af te wyk nie. Dinge op hulle plek, take op dieselfde tyd - soos sy pa dit gedoen het. Dit is soos hy geleer is en dis hoe hy daarvan hou. Sonder noukeurige beplanning kom mens immers nêrens nie. Dit het al die jare gewerk in sy boerdery en alles wat hy aangepak het. Geen rede om nou te verander nie.

    Dit is Julie en tyd dat die rose gesnoei moet word, maar hy het reeds vroeg vanoggend na sy eerste koffie besluit hy gaan dit nie vandag doen nie. Dit kan vir eers wag tot volgende week. Vandag het hy ‘n ander program en sy hele dag is daarvolgens beplan.

    Woensdae het hy spesifiek eenkant gesit om buite te wees en in die tuin te werk sodat hy nie in die pad is van Precious wat een keer ‘n week inkom om sy huis reg te ruk nie. Voorheen het hy altyd op dié dag opgeskeep gevoel met homself. Ongemaklik en in die pad as sy so rondom hom doenig is. Dit is reeds so moeilik om iemand toe te laat om in mens se geslote domein in te dring, maar hy moes noodwendig kies tussen sy kosbare privaatheid en ‘n skoon, netjiese huis. Sélf sien hy tog nie kans vir die sleur van huiswerk nie. Op die plaas was goeie ou Letta elke dag daar om vir hom reg te staan, maar hier in die stad voel hy dat een dag 'n week genoeg is. Dit gryn teen sy spaarsamige geaardheid in dat dit hom hier so baie kos, maar nou ja, die huis moet skoon. Dis belangrik.

    Daarom vlug hy klokslag elke Woensdag nadat hy sy kombuisdeur teen sewe-uur vir haar oopgesluit het buite toe en maak dit so vir beide van hulle makliker. Sy doen haar ding binne en hy doen syne buite.

    Hy eet selfs sy middagete, wat hy reeds die vorige dag gereed gekry het, buite in die tuin om onder haar oë uit te wees. Dis vir hom ‘n ontvlugting om by die groot tuintafel onder die geel sambreel te sit en die voëls dop te hou terwyl hy eet. Met sy honde om hom, is die tuin die groen weivelde van rus vir sy dikwels onstuimige gemoed. Net hy alleen, soos hy dit trouens feitlik sy hele lewe verkies. Onder die nuuskierige mensdom se oë uit.

    Daar is natuurlik die tye saam met Elsie wat vir hom kosbaar is, maar dit word al minder deesdae en hy het doelbewus besluit om vrede te maak met die feit dat hy maar meesal alleen gaan wees. Hy kan tog nie meer toelaat dat sy sy hele lewe oorheers nie. Nie nou dat hy haar so min sien nie.

    Ná Elsie is die honde en sy tuin ook al wat hy het wat hom werklik vreugde verskaf. Die groen plante en die reuk van grond laat hom vir tye ontspanne voel en die harde handearbeid gee hom weer die tevredenheid dat hy nog produktief is, veral as hy die volgende oggend na die harde dag se geswoeg met sy honde deur die tuin stap om sy handewerk te bekyk.

    Andersins hou die internet hom wel vir die grootste deel van die ander weeksdae besig, maar meestal sukkel hy maar om nuttig te voel en moet hy aan homself erken dat hy uitsien na hierdie dag van die week. Dit leen darem so ‘n bietjie betekenis aan sy lewe, en die Vader weet hoe hy dit op hierdie ouderdom nodig het om te voel dat sy lewe nog iets werd is.

    Mensdom, hoe mis hy nie die plaas met alles wat hom daar besig gehou het nie! Daar het hy amper alles gehad wat sy lewe die moeite werd gemaak het. Maar die erge hoofpyne het gemaak dat hy nie meer die pas kon volhou nie. Hy moes homself dwing om af te tree, die grootste deel van die plaas te verkoop en 'n huis in dié rustige deel van die stad te koop.

    So was hy nader aan mediese hulp, maar dan weer...was die aanpassing hier een lang uitgerekte hellepad van wroeging oor sy verliese.

    Elsie.

    Die plaas.

    Maar gelukkig is die ergste darem nou verby. En hy het darem nog die stukkie grond daar in die bos waarna hy soms kan uitvlug.

    Ja-nee, hy moes noodgedwonge tevrede raak met die lewe wat hy nou lei.

    En hy het. Dit was swaar, maar hy het. Hy hét!

    Hierdie winter is die gras op die sypaadjie nog redelik groen as gevolg van hierdie jaar se hoër temperature en die hoë tuinmuur wat die meeste ryp uit die suide afkeer.

    Hy moes eintlik lankal die grasrande gesny het. Dit lyk slordig. Dis sy taak vanoggend. Ook om kompos in die beddings om die roosbome in te werk sodat hy later gesiggies of so iets daarin kan plant.

    Fred loop vinnig terug deur sy voortuin en om die huis kombuis toe om die bottel yskoue water uit die vrieskas te haal. Net reg, dink hy. Dit het net begin vries. Behoort hom af te koel tot en met teetyd. Hierna die skaapskêr in die garage. Hy gaan nie vandag die weedeater gebruik nie. Hy hou nie van die geraas nie en die sypaadjie se gras is heeltemal te min om al die moeite te regverdig.

    Dis ‘n tipiese weeksoggend, dink hy terwyl hy hande-in-sye die straat op-en-af bekyk. Stil, nes hy dit verkies. Net af en toe ry daar iemand verby en van rondlopers en voetgangers is daar soos gewoonlik geen sprake nie. Dis hoekom hierdie huis op die rant hom so goed pas. Min nuuskierige oë en weg van die ewige gedruis van die verkeer.

    Hy neem sy bottel yswater, die snoeiskêr en ‘n lae tuinstoeltjie en gaan sit op die sypaadjie by die eerste roosboom. Na ‘n paar slukke yskoue water begin hy die tydsame proses. Hy hou van netjiese rande en dis vir hom terapeuties en belangrik om elke rand met presiese reghoekige kante te sny.

    Hy is reeds halfpad toe iets buite die gesigsveld van die grasrand voor hom sy konsentrasie versteur. Hy kyk gesteurd op na die straat. Tot sy ergernis sien hy dis een van daardie ywerige stappers wat in sy rigting aangeloop kom. Lyk na ‘n mooierige vrou - nie dat hy hoegenaamd belangstel nie. Dit roer niks in sy manlikheid nie.

    Toe hy in sy adollessensiejare die onsedelikheid in hom voel opstoot het, het hy elke keer daarvan gaan ontslae raak agter die kraalmuur. Tot Elsie eendag onverwags op hom afgekom het.

    Wat doen jy, Freddie? Sy het nuuskierig nader gekom terwyl hy lomp en rooi in die gesig sy broek probeer toemaak het.

    Ek ... ek het net kom piepie. Kon nie meer hou tot in die huis nie, het hy verleë gemompel.

    O ... En tot sy verstomming het sy met sewejarige onskuld net daar haar broekie afgetrek en hurkend naby hom gaan sit. Ek kan ook nie meer hou nie.

    Hy het kras gelag, weggespring toe die geel plassie tot by sy tone loop. Maar daarna het hy liewer die badkamer gebruik om verligting te kry van die stuwende branding in sy onderlyf. Met sy pa kon hy tog nie praat nie. Sê nou dis net met hom wat sulke dinge gebeur? Sê nou sy pa dink hy is nie goed genoeg om na Elsie te kyk nie? Elsie was toe al die doel van sy lewe; hy kon nie kanse vat nie.

    Ja-nee, hy het nooit vrouens nodig gehad om sy drange te bevredig nie. Ook nie nou nie. Daar was en is in elk geval maar net een vrou vir hom ...

    Maar hy hou tog die stapper onderlangs dop tot sy redelik naby is, dan konsentreer hy weer op die grasrand voor hom. Knip, knip, knip. Vir onnodig praatjies met ‘n vreemdeling is hy definitief nie lus nie. Hy het al geleer: ignoreer hulle heeltemal, dan ignoreer hulle jou.

    Gewoonlik.

    Hy kan instinktief aanvoel dat sy na hom kyk toe sy langs hom is, maar hy gaan nietemin onverpoosd aan om te knip asof heeltemal onbewus van haar nabyheid.

    Goeiemôre, groet sy vriendelik in die verbygaan.

    Hy brom ‘n groet wat soos ‘môre’ klink, maar sonder om enigsins op te kyk. Sy loop vinnig en doelgerig by hom verby en hy laat homself eers toe om steels na haar te loer toe sy al ‘n entjie weg is.

    Dieselfde oomblik kyk sy om.

    Sy hande verstil om die skêr, trek dan krampagtig saam. Hy voel ‘n skielike naarheid op die krop van sy maag. Dit skree binne hom. Onmoontlik! Dit kan tog nie wees nie. Na soveel jare. Nou dat daar uiteindelik rus in in sy binneste gekom het.

    Die ou, sluimerende ondier ruk onwillekeurig aan sy binneste.

    Hy stoot homself kiertsregop en kyk haar fronsend agterna. So bly hy minute versteend sit tot sy uiteindelik links afdraai en uit sy gesigsveld verdwyn.

    Dan staan hy stadig en verdwaasd op, druk die knoppie wat die hek oopmaak en gaan bêre soos 'n halfdooie die skaapskêr en die stoeltjie in die garage. Hy het geen krag oor om verder te werk nie. Kan eenvoudig nie nou verder nie. Die naarheid in sy kop is te oorweldigend, sy gedagtes pyle wat heen en weer vlieg. Hy voel koorsig warm. En die knaende pyn in sy kop!

    Hy gaan staan agter die huis met sy lang lyf teenaan die koue muur, diep met bewende hande die pakkie pille uit sy broeksak op, gooi twee in sy mond en drink die bottel yswater met ‘n paar slukke leeg. Strompel dan die huis in, verby die verbaasde bediende na sy kamer toe. Sluit die deur en sak op sy netjies opgemaakte bed neer.

    Hy gaan ontplof. Sy kop wil oopbars.

    Hy kreun.

    Dis die geluid van ‘n gekweste ondier.

    TWEE

    Die brug waggel effens toe sy daaroor begin loop.

    Haar oë beweeg behoedsaam oor die hele panorama van die onbeboude strook langs die spruit. Die brug is naby die eindpunt van die vyftien kilometerlange voetpad wat naweke deeglik deur natuurliefhebbers en hulle honde benut word, maar wat gedurende die week heeltemal verlate is. Soos nou.

    Gevaarlik in hierdie dae vir ‘n vrou alleen, dit weet sy maar al te goed.

    Weerskante van haar lê die spruit, nie heeltemal dormant soos mens hierdie tyd van die winter sal verwag nie. Onder die brug kronkel daar nog ‘n smal stroompie water. Na regs sypel dit uiteindelik tussen ‘n klomp klippe deur tot in ‘n groterige poel wat omring is met riete waarin rooi vinke hier en daar soos helder vlaggies in die halms wieg.

    ‘n Tortelduif koer aanhoudend êrens in ‘n bos stroomop en veraf hoor sy die murmelende geluid van ‘n vleiloerie. Dit laat haar in die middel van die brug vassteek om beter te kan luister.

    Daar is dit weer! Soet en murmelend ... soos kabbelende water.

    Dit is alles so idillies en rustig hier. Sy kan haar amper verbeel sy is terug in die meer ongerepte platteland. Net so jammer dat die illusie versteur word deur die leë plastiekbottels, wegneemkartonne en wie weet wat nog wat teen die riete vasgespoel lê en om die klippe gedrapeer is.

    Rouxvé ril skielik terwyl sy na die water links onder haar kyk. Herinneringe aan tonele uit televisie-misdaadreekse waar koue lyke dikwels in net sulke spruite aangetref word, laat haar weer vinnig vorentoe beweeg. Dis mos gewoonlik stappers of drawwers wat toevallig op die grusame fonds afkom ... sy wil tog nie ...

    Sy giggel senuweeagtig, praat dan binnensmonds met haarself. Basta met hierdie vrugbare verbeelding! En die gedurige gekou aan die verlede. Fokus liewer op beter dinge. Fokus, fokus. Soos op hierdie mooi, sonnige wintersdag. Die geskenk van 'n nuwe kans; die avontuur van die onbekende pad...

    Oorkant kwetter ‘n klomp kwêvoëls skarrelend uit ‘n boom om hulle misnoeë met haar teenwoordigheid aan te kondig.

    Kwê! skree sy vermakerig terug en staan dan verlig ‘n rukkie stil om die voëls agterna te kyk. Dan kyk sy rondom haar. Daar is sowaar niemand, net mooi niemand in sig nie. Niemand wat haar hoor skree het nie, niemand wat haar nuuskierig aankyk nie. Al wat leef is òf in hulle huise doenig of is reeds vroeg weg na ‘n ander bestemming waar hulle werk, of koop, of wat ookal.

    Eintlik kan enigiemand langs haar kom stilhou en haar gryp sonder dat ‘n enkele mens dit sal sien of hoor.

    Skrik gryp haar hart. Wat sal sy doen in geval so iets met haar gebeur? In die teenoorgestelde rigting hardloop? Maar... hoe lank voor hulle omdraai en haar jaag? Sy sal dit mos nie onbepaald kan volhou nie!

    Rouxvé kyk om haar en lag hardop. Liewe aarde, is sy nou betjoiings of paranoïes of wat? Sy is mos nie normaalweg ‘n bang mens nie. Hoekom toelaat dat die brug haar op loop jaag? Heeltemal onnodig. Hier langs die spruit is alles vreedsaam en stil. Heel anders as die besiger pad wat sy verlede week aangepak het! Toe het sy ook bo op die bult uitgekom, maar die ompad was lank en boonop besig

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1