LISA kyk in haar truspieëltjie na die leë karstoeltjie op die agtersitplek. Haar hart hamer in haar binneste en sy lek ingedagte oor haar droë lippe. Haar kar ry sommer vanself die oorbekende pad deur die Helshoogtepas net buite Stellenbosch.
Te gou sien sy die naambord na die plaas aan haar linkerkant opdoem. Nooitgedacht. Haar mond trek effens skeef toe sy dink aan die ironie daarvan. Sy het sowaar nooit kon dink sy sal ooit weer haar voete hier sit nie. Maar nooit is ’n bitter lang tyd. En sy is dit immers aan hulle albei verskuldig.
Sy ry stadig deur die eikelaning, draai haar karvenster af en asem die bekende vars plaaslug in. Daar is nie ’n siel op die plaaswerf toe sy voor die gewelhuis met die breë Victoriaanse stoep stilhou nie. Ook maar beter so. Sy wil net eers haar gedagtes orden. Die eikehoutvate met die rooi malvas weerskante van die voordeur