Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Whitey: Sakereus van Shoprite: Voorwoord deur Johann Rupert
Whitey: Sakereus van Shoprite: Voorwoord deur Johann Rupert
Whitey: Sakereus van Shoprite: Voorwoord deur Johann Rupert
Ebook448 pages4 hours

Whitey: Sakereus van Shoprite: Voorwoord deur Johann Rupert

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Whitey Basson, een van SA se suksesvolste sakeleiers, word beskryf as “geniaal”. Whitey het ’n legende geword toe hy, in SA se beroemdste oorname, die sukkelende OK Bazaars vir R1 gekoop het. In dié gemagtigde biografie vertel die bekroonde sakejoernalis Niel Joubert die volle storie van Whitey se opkoms en fabelagtige sukses. Van ’n paar klein winkels, gewaardeer teen R1 miljoen, het hy Shoprite in Afrika se grootste kleinhandelaar omskep – en die 35ste grootste kleinhandelaar in die wêreld.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateNov 11, 2022
ISBN9780624089193
Whitey: Sakereus van Shoprite: Voorwoord deur Johann Rupert
Author

Niel Joubert

Niel Joubert is an award-winning financial journalist who has written for Sake24 and Finweek. He also served as associate digital editor of Sake for Netwerk24. He holds degrees in accounting and journalism as well as an MBA from Stellenbosch University. He lives in Somerset-West and works as Communications Manager for Momentum Investments.

Related to Whitey

Related ebooks

Related articles

Reviews for Whitey

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Whitey - Niel Joubert

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    title

    Tafelberg

    Voorwoord deur

    Johann Rupert

    Sakereus van wêreldformaat sou seer sekerlik ook ’n toepaslike titel vir hierdie boek kon wees. Whitey Basson het ’n unieke en moeilik verklaarbare aanvoeling vir kleinhandel getoon. Die Duitsers praat van "Fingerspitzengefühl", oftewel vingerpunt-gevoel. In sy meesterstuk The Talent Code beskryf Daniel Coyle hoe buitengewone talent verkry en opgebou word. Ure en jare se oefening, probeer en weer probeer … uiteindelik lei dit tot ’n unieke, bykans onbeskryflike talent en aanvoeling.

    Oor die jare wat baie van ons gelukkig was om saam met Whitey te werk, was sy nuuskierigheid, geesdrif en werklus ’n besieling. Sy besonderse aandag aan detail was nét so indrukwekkend as sy vermoë om die groter prentjie raak te sien. Die kleinhandel is beslis nie vir amateurs nie!

    Suksesvolle individue vat nie kanse wanneer hulle risiko’s neem nie. Wanneer Whitey uitdagende sakeskuiwe onderneem het, was hy altyd heeltemal bewus van die risiko’s wat aan die transaksies verbonde was. Sy meesterskuiwe was berekend en het tot geweldige welvaart vir sy aandeelhouers gelei. Verder was hy ook ’n werkskepper soos min. Suid-Afrikaners van alle inkomstegroepe trek vandag nog voordeel uit sy vermoë om varsprodukte teen lae pryse aan te bied. James Wellwood Basson het elke faset van sy besigheid verstaan.

    Whitey is besonder gelukkig om ’n wonderlike lewensmaat te hê. Annalise moes gereeld die rol van beide ouers vervul wanneer hy lang ure op kantoor en op sakebesoeke was. Hul vier wonderlike kinders getuig van hul sukses as ouers.

    My hoop is dat Whitey – Sakereus van Shoprite wyd gelees word as ’n toonbeeld van wat ’n seun van die Suid-Afrikaanse platteland kan bereik.

    ’n Wêreldsakeman van formaat!

    Skrywersnota

    Ek het Whitey Basson die eerste keer op ’n koue winterdag in 2019 ontmoet. Dit was oor middagete by Mont Marie, die restaurant op sy gelyknamige plaas buite Stellenbosch, net bokant sy tuisplaas, Klein DasBosch. Ek het die oggend van Johannesburg af Kaap toe gevlieg, en sou dieselfde aand weer terugvlieg. Ek het dus met net die klere aan my lyf, my selfoon en ’n notaboek daar aangekom. Ek was daar om Whitey te oorreed dat ék die regte ou was om sy verhaal te vertel.

    Ons het lekker gesels en die rooiwyn het gevloei, soveel so dat ek skoon die tyd byster geraak het. Ek moes inderhaas in die pad spring om my vlug te haal, maar Whitey het daarop aangedring dat ek die aand by hom op Klein DasBosch moet braai, sommer daar oorslaap, en natuurlik ook vir Annalise, sy vrou, ontmoet.

    Nee, sê ek, die kaartjie is bespreek, ek moet vroeg die volgende oggend ’n vergadering in Johannesburg bywoon, en ek het bowendien niks klere nie. Mens sê egter moeilik vir Whitey nee, en hy het gou op die telefoon gespring om die bespreking te verander. Dié aand het ek, Whitey, Annalise, en Pieter Vlok, Mont Marie se eienaar-sjef, gebraai, gesels, en mekaar bietjie beter leer ken. Ek is die volgende oggend met ’n kopseer terug Johannesburg toe, maar dit het vinnig verdwyn toe Whitey laat weet: Dis reg, kom ons skryf die boek.

    Ek sou later, in een van ons vele onderhoude, uitvind dat hy en Renier van Rooyen, die stigter van Pep Stores, en Whitey se groot mentor, in Pep se vroeë dae voornemende werknemers getakseer het deur hulle vir ete en (baie) wyn uit te nooi, en dan te kyk hoe hulle daarmee regkom …

    Ons eerste onderhoude was oor twee dae in Januarie 2020, maar die Covid-pandemie het ons momentum in die wiele gery. Ons het toe in September gereeld aanlyn begin gesels, en weer vroeg in 2021 in lewende lywe op Klein DasBosch (en by Mont Marie).

    Die boek is dus vernaam gegrond op onderhoude, telefoongesprekke, e-posse, WhatsApp-stemnotas, en boodskappe tussen Whitey en myself oor ’n tydperk van bykans drie jaar. Dit geld ook vir Whitey se skoolvriende, tydgenote in Wilgenhof, kollegas by Pep en Shoprite, werknemers van Klein DasBosch, en vriende en familie.

    Verder het ek ook gesteun op koerantberigte, tydskrifartikels, televisie-onderhoude (waarvan baie op YouTube te siene is), Shoprite se jaarverslae (1987–2017), en ’n besonderse stel plakboeke met materiaal oor Whitey van 1954 tot en met sy aftrede in 2016, wat deur Annalise, Whitey se sekretaresse, Anita, en sy mediaspan opgestel en onderhou is. Dit bevat ’n magdom materiaal, onder meer foto’s, briewe, e-poskorrespondensie, notas, koerantuitknipsels, advertensies en toesprake.

    ’n Huldeboek wat deur Shoprite-kollegas opgestel en by geleentheid van Whitey se uittrede aan hom oorhandig is, het ook baie staaltjies en ander inligting verskaf. Al die bronne word in die teks of in die eindnotas aangegee.

    Baie dankie aan Whitey, vir ons lang ure se gesels waartydens hy sy besonderse verhaal met my gedeel het. So ook Annalise vir haar gasvryheid en harde werk agter die skerms om ons oor die wenstreep te kry, en Anita, vir al die reëlings. En dankie aan almal op Klein DasBosch wat my altyd met ope arms verwelkom het. Sjef Pieter, jou gasvryheid by Mont Marie was altyd welkom ná lang ure se werk.

    Aan Erika Oosthuysen van NB – dankie vir jou geduld en aanmoediging deur hierdie lang proses. Aan Riaan de Villiers, die teksversorger, vir sy werk om my teks in beter, bondige Afrikaans te omskep, asook ’n storie wat lekker vloei, en ook vir ons telefoongesprekke, wat my altyd weer nuwe energie gegee het om voort te werk. Aan Linde Dietrich, vir haar Engelse vertaling en skerp oog, en al die ander mense wat aan die boek gewerk het – van voorbladontwerp en proeflees tot drukkers en bemarking.

    Aan my gesin en familie, dankie vir jul ondersteuning oor drie jaar waartydens ek gereeld aande, naweke en vakansietye agter my rekenaar moes deurbring. Veral my vrou, Janrie, wat gereeld ons kinders, Daniël en Nieke, op Saterdae en Sondae moes uitneem en vermaak. Dankie ook aan ma Landa, pa Daniël en my twee susters, Nelia en Jana, vir jul ondersteuning – ek is lief vir julle almal.

    Whitey Basson is inderdaad ’n Suid-Afrikaanse sakereus, en die koning van die kleinhandel. Daarby is hy ook onblusbaar en onvergeetlik méns. Ek hoop hierdie boek laat reg geskied aan sy lewensverhaal, verweef met dié van Shoprite en sy mense.

    Niel Joubert, September 2022

    Inleiding: ’n Legende in wording

    OK Bazaars is al sedert sy stigting in 1927 in Johannesburg die trots en baken van die Suid-Afrikaanse kleinhandel. Maar soos Suid-Afrika en sy kopers verander, raak OK gaandeweg in die moeilikheid.

    In die middel negentigerjare is Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), wat sedert 1973 die meerderheidsaandeel in OK besit, raadop, en besluit om van die meulsteen om sy nek ontslae te raak. Intense onderhandelinge volg tussen SAB en ’n span van Shoprite, ’n jonger winkelgroep wat vir 20 jaar al stuk vir stuk en sonder veel gedruis die hoogs mededingende kleinhandelsektor van onder af insluk.

    Hoewel hy altyd sy vinger op die pols het, sit die krag agter Shoprite – Whitey Basson – die laaste paar dae in ’n hotel in Durban, weg van die vuur. Hy trek steeds die toutjies, want teen hierdie tyd is hy ’n meesterlike onderhandelaar. Hy het sy tande by Pep geslyp – met onderhandeling én die kleinhandel – en dit by Shoprite met die koop van Grand Bazaars en Checkers vervolmaak. Daarna volg die OK-transaksie, wat op 3 November 1997 beklink word. Die volgende oggend basuin koerantplakkate dit uit: Whitey Basson koop OK Bazaars vir R1.

    Tot nog toe is Whitey taamlik onbekend, en Shoprite taamlik klein. Finansiële joernaliste besef gaandeweg dat hy besig is om iets besonders in die kleinhandelsektor te vermag, maar die berigte is nog merendeels in die finansiële seksies van koerante en in gespesialiseerde finansiële tydskrifte weggesteek. Maar nou verander dit eensklaps. Die naam Shoprite en Whitey Basson is op almal se lippe. Sy vriendelike gesig, blonde kuif en ondeunde glimlag verskyn op die voorblaaie van bykans elke vername koerant en tydskrif in Suid-Afrika – die onnutsige argitek van die winskopie van die eeu.¹

    Die koopprys klink laag, maar OK ly verliese van R20 miljoen per maand, en dit sal die duurste aankoop van my lewe wees as ons die groep nie binnekort in ’n winsgewende een kan omswaai nie, vertel hy aan Sake-Beeld.² Dis inderdaad ’n risiko, en Whitey se reputasie, en Shoprite se toekoms, is op die spel.

    Die oorname van die verliesmakende OK deur Shoprite Holdings gaan ’n groot uitdaging vir Shoprite wees, meld Sake-kommentaar.³ Shoprite, met mnr Whitey Basson aan die stuur, het goeie aansien nadat die sukkelende Checkers oorgeneem is, en binne ’n betreklik kort tyd in ’n baie winsgewende groep omgeskep is. Alle oë is nou op Basson en sy span om te sien of hulle weer ’n wonderwerk kan verrig.

    Die gesiene tydskrif Leadership noem hom die R1-man. Watter soort mens koop OK Bazaars vir R1? Supermark-supremo Whitey Basson, wat altyd op soek is na ’n wen-wen-situasie. Maar Basson se missie word aangevuur deur meer as net suiwer kapitalisme.

    Marcia Klein van die Sunday Times vra Whitey hoekom hy OK gekoop het terwyl die res nie vir die uitdaging kans gesien het nie. Hy gee die soort antwoord wat later as ’n Whitey-isme bekend sou staan: Sommige van ons verkies blondines, en sommige brunettes … Hy voeg by: OK is al lank bankrot. Dis soos ’n man met ’n Ferrari wat dit nie kan laat diens nie.

    Die glanstydskrif De Kat noem Whitey ’n supermark-cowboy wat wenperde opsaal.⁶ Die joernalis haal ook ’n sêding aan wat intussen al legendaries geword het: Mense meen die sagste deel van Whitey Basson is sy tande. De Kat skryf verder: Daar is verskeie redes waarom hy regkry wat swaargewig-sakelui voor hom nie kon nie. Hy is bekend daarvoor dat hy mense gedaan onderhandel, en berug daarvoor dat hy sentiment nie in die pad van besigheid laat staan nie. Hy is ook kompeterend, met ’n bloeddorstige geesdrif wat teenstanders waarskynlik slapelose nagte besorg.

    Stuk-stuk kom dele van Whitey se verhaal uit – ’n merkwaardige mens wat in 1979 ’n bontspul winkeltjies in die Kaap oorneem, met die onwrikbare doel om die grootste voedselkleinhandelaar in Afrika te word. Ondanks sy sukses en druk werkprogram bly hy ’n gesinsman, en ’n plat-op-die-aarde boerseun.

    Renier van Rooyen, Pep se legendariese stigter en een van Whitey se grootste mentors, sê eenvoudig: Daar is geen ander kleinhandelaar soos hy in die land nie.⁸ Ontleders wonder weer of Whitey met OK nie dié keer meer afgebyt het as wat hy kan kou nie. Hy en sy span spring aan die werk, en binne ’n jaar is OK weer winsgewend. Dis ’n fenomenale prestasie.

    Whitey rus steeds nie op sy louere nie, en pak nuwe uitdagings aan. Hy brei vroeg uit na die res van Afrika, voor die res wakker skrik. Hy sê hy wil armdruk teen die bestes in die wêreld, en maak selfs ’n draai in Indië. Shoprite word die grootste kleinhandelaar in Afrika, en een van die 100 grootstes in die wêreld. In die proses skep hy werk en ander geleenthede vir derduisende mense. Hoewel baie mense dit steeds nie besef nie, is Shoprite vandag naas die staat die grootste werkskepper in Suid-Afrika.

    Whitey se vermaarde oordeelsvermoë faal hom ook nie as dit by Steinhoff kom nie. Hy waarsku sy jare lange sakevennoot, Christo Wiese, teen Markus Jooste en sy meubelgroep, en keer dat Shoprite by Steinhoff ingelyf word, wat op rampspoed sou uitgeloop het. Toe Steinhoff ineenstort, is Shoprite veilig, grotendeels te danke aan Whitey wat jare lank ’n samesmelting van Shoprite en Steinhoff teengestaan het.

    Whitey stap in 2017 uiteindelik weg van die maatskappy wat hy opgebou het. Hy verkoop byna al sy aandele in Shoprite, en is nou skatryk – ’n soliede miljardêr.

    Intussen, ná jare in Kaapstad se noordelike voorstede, trek hy en sy lewensmaat, Annalise, na ’n plaas buite Stellenbosch, wat hulle in ’n spogeiendom verander, en waar hul vier kinders verder grootword. Die Shoprite-familie en baie ander word gereeld daar onthaal.

    Deesdae maak Whitey daar ’n klein hoeveelheid uitsoekwyn. Van stilsit is daar nie veel sprake nie – hy skep steeds werk op talle plase en in ander ondernemings, en help belowende jong mense om nuwe sake op die been te bring. Hy staan soms onderhoude toe (en slaan die oortollige ligte af as die televisiespanne weg is), en die regering vra agter die skerms by hom raad. Maar hy bly steeds iets van ’n enigma.

    Wie is Whitey Basson nou werklik? Waar kom hy vandaan, wat is sy dryfvere, en hoe het hy Shoprite in die grootste kleinhandelaar in Afrika omgeskep? Dié merkwaardige verhaal begin net ná die Tweede Wêreldoorlog, op ’n plaas in die Swartland.

    DEEL EEN

    VORMINGSJARE

    1

    Seun van die Swartland

    Wellwood is ’n flukse seun, probeer sy bes, en het pragtig gevorder. Ons verwag ’n mooi toekoms vir hom.

    – Juffrou LK van Tonder, Standerd 1-rapport, Voorbereidende Skool Porterville

    HOE GEBEUR DIT dat iemand met ’n naam soos James Wellwood Basson in die veertigerjare op ’n plaas in die Swartland gebore word? Wel, die geboorte was maklik – dis die naam wat die probleme gegee het, skerts die einste James Wellwood, oftewel Whitey, op sy kenmerkende manier.

    Hy aanskou die eerste lewenslig op Dinsdag 8 Januarie 1946. Met die hulp van hul huisdokter skenk Maria Basson, of Maude, aan hom geboorte op die plaas DasBosch sowat twintig kilometer suid van Porterville in die boerderystreek Vier-en-twintig Riviere aan die voet van die Grootwinterhoekberge. Sy pa, kapt. Jack Basson, het die plaas twee jaar tevore gekoop. Hy was daarna jare lank Volksraadslid van die Verenigde Party vir Seepunt.

    James Wellwood is die jongste van drie kinders. Die middelste is broer Jan, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore is, en die oudste is sy suster Juel, wat voor die oorlog gebore is. Whitey se doopname kom van ’n Skotse immigrant genaamd James Wellwood Mushet, ’n goeie vriend van die Bassons. Hy en Whitey se pa het saam vir die Verenigde Party in die parlement gedien.¹

    Mushet was ’n ryk sakeman en politikus wat in 1889 op agtienjarige ouderdom van Skotland na Suid-Afrika verhuis het. Hier het hy ’n algemene handelaar, JW Mushet & Kie, begin met takke in Kaapstad, Durban en Johannesburg.² Onder meer het Mushet voor genl. Jan Smuts se verkiesingsnederlaag in 1948 in sy laaste kabinet gedien.³ Mushet en sy vrou, Alice, het nie kinders gehad nie, en hy het Whitey as sy eie seun beskou. Die ryk Skot wou sy hele boedel aan die jong Whitey bemaak. Jy weet, dit was groot geld, dit was daai tyd miljoene ponde, vertel Whitey. Maar Jack Basson het geskop teen die idee.

    My pa was baie beginselvas. Mushet het hom wel gehelp om DasBosch te koop, maar daar was geen familieverbintenis tussen hulle nie, en hy het gemeen dit sal nie in my beste belang wees om soveel geld te erf nie. Jack en Maude besluit toe darem om hul jongste seun na hul goeie vriend te vernoem.

    * * * *

    Whitey is aanvanklik Wellwood genoem, maar dié ongewone naam het probleme geskep vir sy oorwegend Afrikaanse plattelandse maats. Weens sy blonde hare word hy toe maar Whitey. (Jare later het die naam hom groot verleentheid veroorsaak toe hy hom vir ’n skoolraad in Welgemoed verkiesbaar gestel het. Die kandidate se name is op ’n bord aangebring, en hy is toe James Wellwood. Niemand weet wie dié kandidaat eintlik is nie, en hy kry toe nie ’n enkele stem nie!)

    In ’n laerskoolopstel getiteld Die Plaas DasBosch, wat tot vandag behoue gebly het, beskryf Whitey die familieplaas soos volg: Die plaas DasBosch is 2 700 morg groot. Dit is sowat 96 myl noord van Kaapstad geleë. Die plaas is in die Swartland van die Kaap geleë. Die naaste dorp aan die plaas is Porterville, sowat 12 myl wes.

    Die plaas wemel van diere. Whitey skryf ook oor ’n budjie genaamd Opel, die belangrikste troeteldier op die plaas: Blackchild, die kat, is die gunsteling van die eienaar se vrou, maar Opel, vir ander redes, hou nie baie van die kat nie. Hoewel baie troeteldiere oor die jare kom en gaan, is almal se gunstelinge die twee jakkalse genaamd Blits en Simson. Dit was heel aangenaam om hulle op die plaas te hê toe hulle jonger was, skryf Whitey, maar hulle het so baie hoenders doodgemaak toe hulle ouer word dat hulle uitgesit moes word. Troeteldiere is baie belangrik op die plaas, want sonder hulle sal die lewe maar andersins saai wees, voeg hy by.

    Juel onthou nog toe Whitey sy eie hond, ’n bokser, gekry het. Dit was ’n plaashond, maar sommer vroeg-vroeg het hy saans die hond in sy kamer ingesmokkel en by hom op die bed laat slaap, wat ontoelaatbaar was. En as mamma dit agterkom, was daar ’n groot oorlog as sy die hond afboender. Maar sodra daar stilte in die huis was, het hy op die grond langs sy hond gaan lê en die kombers van die bed afgetrek, en rustig verder geslaap, tot een van ons ouers as hulle gaan slaap hom so op die vloer ontdek. Hy het van kleintyd af altyd ’n plan gemaak!

    In sy opstel skryf Whitey dat die sosiale lewe in die distrik oor die algemeen maar vervelig is. Die mense van die distrik is baie gasvry, maar die sosiale lewe van die dorp kan nie vergelyk word met ’n plek soos die Paarl nie. Oor toekomsplanne skryf hy: Die plaas sal meer gemoderniseer moet word omdat die arbeidsprobleme erger word. Masjinerie sal die plek van arbeiders moet neem. Die belangrikste plan vir die toekoms is om op herstelwerk te probeer spaar. Die meeste van die herstelwerk sal dus op die plaas gedoen word.

    Juel onthou ook dat Whitey kleintyd al anders oor dinge gedink het. Sy vertel: Oupa Nel het eenmaal by ons gekuier en met sy graaf in ons groentetuin gespit. Hy het toe vir Wellwood, wat toe net gestaan en kyk het, gesê hy moenie so lui wees nie en ’n bietjie help, waarop Wellwood ewe slim geantwoord het: ‘Nee, Oupa, as ek groot is, gaan ek vir my ’n grafie laat maak wat met ’n masjien werk, sodat ek ander dinge kan doen.’

    Dit was ’n sorgvrye, grootliks plattelandse lewe, maar Whitey besef dat hy bevoorreg was om in ’n gegoede huis groot te word met ’n goed opgevoede pa en ma wat hom allerlei geleenthede kon bied. Ek glo dat ek ’n voorsprong gehad het bo van die ander kinders in die omgewing, merk hy op.

    * * * *

    Whitey se oupa aan vaderskant – Jan Hendrik Basson, oftewel Oom Jan – was ’n bekende Swartlander. Whitey vertel hy was deel van die begin van Sasko en Bokomo, maar was eintlik ’n boer. Hy het jare lank ’n leidende rol in die koringbedryf gespeel, en was onder meer die vader van verskeie nuwe koringsoorte.

    Hy is in 1890 op die plaas Bakensvlei in die Moorreesburg-distrik gebore, en het 32 jaar lank op Anyskop en 25 jaar lank op Driebos buite Porterville geboer. Later het hy albei sy plase verkoop en na die dorp Moorreesburg verhuis. Hy was 32 jaar lank voorsitter van die Moorreesburgse Koringboerekoöperasie, en agtien jaar lank voorsitter van die Moorreesburgse Koöperatiewe Handelsvereniging. Daarby was hy een van Bokomo se stigerslede, en reeds op 28 ’n direkteur. Hy het ook in Sasko se direksie gedien van 1931 tot sy uittrede in 1963, die laaste aantal jare as ondervoorsitter.

    * * * *

    Whitey se oupa aan moederskant was Hendrik Nel, wat hom tydens die Anglo-Boereoorlog by genl. Manie Maritz se kommando aangesluit en merkwaardige avonture en doodsgevaar beleef het.⁴ Hy het op Calvinia grootgeword. Hy het reeds op sestienjarige ouderdom begin om aan die ou Victoria Kollege op Stellenbosch, wat later die Universiteit Stellenbosch geword het, in die regte te studeer.

    Op negentienjarige ouderdom besluit hy en ’n vriend, Careltjie van der Merwe, om weg te loop na Maritz se kommando, wat toe op ’n plaas naby Rietfontein in die Agter-Hantam gevestig was. Hy het tot die einde van die oorlog by Maritz op kommando gebly, en kruis en dwars deur Namakwaland getrek in hul guerrillaveldtog teen die Britte.

    Ek dink hy was seker die enigste een in Manie Maritz se patrollie wat kon lees en skryf, vertel Whitey. Hy het dus Maritz se dagboeke gehou. Daar was baie bespiegelinge oor wat Manie sou gedoen het, maar die waarheid is in die dagboeke opgeskryf. My pa het die dagboeke in sy studeerkamer bewaar, maar hulle is ongelukkig in 1975 vernietig toe ons huis gedeeltelik afgebrand het. Oupa Nel is van hoogverraad aangekla en ter dood veroordeel, maar het ’n pardon gekry. Hy het toe sy studies voltooi, op Brandvlei onderwys gegee, en ’n prokureursfirma op Calvinia gestig.

    Volgens Whitey was sy oupa Nel ook later welgesteld en een van die stigterslede van die Noordwestelike Eksekuteurs, wat later deel van Syfrets Trust sou word. Nel en sy vrou het later Somerset-Wes toe getrek, maar ná ’n wrede aanval op hul plaas het hulle hul laaste jare op Stellenbosch deurgebring.

    * * * *

    Whitey se ouers, Jack en Maude, is op 25 April 1936 in Kaapstad getroud. Hulle het mekaar by die Universiteit van Kaapstad ontmoet, waar Jack in die regte gestudeer het, en Maude in die onderwys. Ondanks sy studie sou Jack uiteindelik ’n boer, politikus en entrepreneur word. Hy is egter eers weermag toe – hy het hom in 1939 as vrywilliger aangemeld, en is in 1943 met die rang van kaptein ontslaan.

    Whitey vertel: My pa het voor die oorlog by Silberbauers gewerk as prokureur. Die firma maak toe ’n groot skenking aan die Britse Oorlogsfonds, en kon as gevolg daarvan ’n offisier voorstel. So word my pa ’n offisier in die Suid-Afrikaanse weermag wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het. Hy was lank in Italië, en ook in Afrika, en was baie goed bevriend met genl. Smuts. Smuts het hom teruggebring Suid-Afrika toe, en hy was toe by militêre intelligensie by die Kasteel. Ná sy ontslag besluit kapt. Basson om nie sy loopbaan in die regte te hervat nie, en koop in 1944 die plaas DasBosch naby Porterville, waar hy met koring, sitrus en druiwe boer.

    Whitey onthou: My pa het nooit baie oor die oorlog gepraat nie; hy was baie privaat as dit by sy oorlogservarings gekom het. Maar die oorlog het tog ’n groot invloed op my gehad. My broer en suster moes vir ’n paar jaar sonder my pa klaarkom. Maar van voor my geboorte was hy terug by die huis, en het heelwat tyd aan my bestee. Ek is amper soos ’n enigste kind grootgemaak.

    Juel onthou dit só: Wellwood, soos ons hom toe nog genoem het, was ’n laatlam, en skielik was daar ’n nuwe baba in die huis. My pa het hom as iets besonders beskou, en hom gruwelik bederf. Dit het ’n groot invloed op sy ontwikkeling gehad. Hy het vroeg geloop en vroeg gepraat, en het van kleintyd af baie selfvertroue gehad. Soveel so dat Whitey op vyfjarige ouderdom die plaasbestuurder se dogter genooi het vir ’n spin in die plaasbakkie, wat teen ’n steilte geparkeer was. Toe ons weer sien, toe trek hulle die heuwel af tot in die leisloot. Vreesloos en kalm het hy uitgeklim asof hy dié soort ding elke dag doen. Daar was natuurlik reperkussies. Maar bakkie ry, dit kon hy doen!

    Volgens Juel was hul ouers albei hoogs intelligente mense wat ’n groot invloed op die drie kinders se lewens gehad het. "My pa het ons almal kleintyd leer skaak speel. En hy het nooit ’n toespraak uitgeskryf nie – net ’n paar punte agterop sy sigaretdosie gemaak. Hy was ’n uitstekende spreker.

    "Hy het ook baie gelees. Sy geliefde boek was ’n biografie van Napoleon, ’n yslike dik boek wat hy omtrent uit sy kop geken het. Ons het grootgeword met rakke vol boeke in ons huis. Mamma het altyd geterg en gesê, ‘Toe hulle in die Swartland nog net Die Kerkbode gelees het, het ons Shakespeare gelees.’ "

    Met die nasionale verkiesing in 1948 om die draai was Jack pal weg van die huis om vergaderings dwarsoor Kaapland te hou, vertel Juel. Dis waar sy politieke loopbaan in alle erns begin het. Hy was eers ’n lid van die Provinsiale Raad, en het op ’n keer vir PW Botha in ’n kiesafdeling in Parow and Goodwood verslaan.

    Volgens Whitey was sy pa ’n reguit mens, baie eerlik, en lojaal aan sy politieke party. Hy was ’n ware spanspeler. Hy het geboer toe genl. Smuts hom vra om vir die Verenigde Party in Seepunt te staan, ’n setel wat hy toe vir baie jare behou het. In 1958 wen Jack die kiesafdeling vir die eerste keer, en behou dit in 1961, 1966 en 1970. Colin Eglin, leier van die Progressiewe Party, het twee keer teen hom vasgeval. In 1974, toe Eglin wel die setel wen, het Jack nie meer gestaan nie.

    Whitey vertel verder: "In daardie jare was my pa een van die parlementslede wat die langste gedien het, en hoewel hy aanbiedinge van die NP gekry het, het hy altyd ’n Verenigde Party-lid gebly. Hy het altyd gesê hy het net een stel beginsels – ‘ek het nie ’n ander een in my boonste laai nie, en that’s it’. Maar hy was liberaal in sy denke. Hy het die NP as verraaiers beskou wat in die oorlog aan die kant van die Duitsers was."

    Hoewel die spanninge tussen Sappe en Natte gaandeweg afgeneem het, het Whitey dit nog steeds aan eie lyf gevoel. Ons is jingo’s genoem – met ander woorde, meer Engels as Afrikaans. Op Porterville is ons sommer ook as kommuniste geklassifiseer. En ek is op skool geslaan omdat ek ’n Sap was – my neus is eendag afgeslaan.

    Whitey en sy pa het ure lank gesels. Ek kon met hom argumenteer, en is dikwels aan buitelanders en hul denke blootgestel. Dit was ietwat anders as die standaard- Afrikaner-huishouding van daardie tyd, toe mense nie sommer anders gedink het nie. Kinders is gesien en nie gehoor nie, en bevraagteken nie hul ouers, die kerk, of die regering nie. Op DasBosch is debatvoering aangemoedig, en vrae is openlik beantwoord; ’n omgewing waar vrye denke kan ontstaan, wat broodnodig is vir entrepreneurskap. Dis dalk hoekom Whitey al vroeg in sy lewe nie gehuiwer het om gesag net vir gesag se ontwil uit te daag nie.

    Whitey onthou ook dat sy pa en ma hom van vroeg af oor spaarsaamheid geleer het. My ma het probeer spaar waar sy kon. En as iemand my pa byvoorbeeld sou vra hoekom hy nie ’n nuwe kar koop nie, dan sê hy: ‘Daar is dertien redes. Die eerste een is, ek het nie die geld nie, en die ander twaalf tel nie.’ Whitey het duidelik ook sy sin vir humor van sy pa gekry.

    Whitey sê sy pa was eintlik charismaties. "Hy het wêreldklastoesprake gemaak. Hy was aantreklik, met blou oë en blonde hare, lank en lenig, en baie charming. Hy kon Engels praat asof hy in Engeland gebore was, alhoewel hy steeds ’n plattelandse bry gehad het."

    Whitey het by hom geleer wat dit behels om oor die horison te kyk. Hy was welbelese, en so ook my ma. Hulle was albei op universiteit, wat in daardie tyd ongewoon was in ons omgewing. Hulle het my op ander vlakke gestimuleer, en ’n groot rol gespeel in my visie vir my lewe – wat ek wou doen en wat ek wou bereik, vertel hy aan Jak de Priester in die televisieprogram Reis na Gister.

    Volgens Whitey en Juel was hul ma ’n buitengewoon slim vrou. Juel vertel: Sy was op kosskool by Good Hope Seminary in Kaapstad, en eerste in matriek in die Kaapprovinsie. Sy het uit ’n baie bekende familie gekom – ons ouma was ’n Louw van Sutherland, en ’n niggie van die digters WEG Louw en NP van Wyk Louw, wat ook daar grootgeword het. Ná skool is sy na die Universiteit van Kaapstad om onderwys te studeer, maar toe is haar ma dood, en sy is terug Calvinia toe om by haar pa op die plaas te gaan bly."

    Whitey voeg by: "My ouers het my ondersteun, maar ook soms van my verskil. My pa het baie ambisie vir my gehad. My ma was die demper – moenie dit of dat doen nie – maar my pa het altyd gesê, ‘go for it’. Ek was altyd baie trots op my ouers, en is vandag hartseer dat ek nie meer aandag aan hulle gegee het nie."

    Volgens Whitey was hulle ’n hegte gesin, en lief vir die natuur. Daar was die radio vir vermaak, en verder was dit jy en jou gesin, die plaas en sy mense, en die natuur wat mens besig gehou het.

    * * * *

    Whitey was van kleins af goed met syfers. Op laerskool het leerlinge tyd afgekry as hulle vinnig klaargemaak het met hul somme, en Whitey en sy vriend Attie Dippenaar was altyd eerste klaar. Dan kon hulle buitentoe gaan, maar voor hulle kon speel, moes hulle eers die krismisrose voor die skool met dromme miswater natmaak. Nou kan jy dink hoe ons elke dag na hoendermis geruik het, en dit omdat ons so goed somme gemaak het, skerts Whitey. Vandag wonder ek hoekom ek so onnosel was – ek kon eerder in die klas gebly het deur nié goed somme te maak nie.

    Whitey en sy pa het ook saam somme gemaak. Onder meer het hulle bereken hoeveel graan per hektaar die distrik se boere sou oes en wat hulle daaruit sou verdien. Whitey het dikwels ’n paar rand by sy pa gewen, en hy onthou veral die driewielfiets wat hy op ’n slag só gewen het. My pa het altyd met my gespog in die dorp by die boere. Ek moes dan somme doen en het altyd ’n koeldrank of ’n roomys gewen, vertel hy.

    Sy eerste kennismaking met die kleinhandel was as hy en sy pa een keer per jaar by die eienaar van die plaaslike kruidenierswarewinkel gaan sit het om die plaas se rekening deur te gaan en te vereffen. Almal op die plaas kon hulle kruideniersware daar gaan koop. En dan, elke jaar as die oesgeld ingekom het, sit my pa en meneer Hassim met die rekeninge – sommer vir die hele dag. En só het ek gesien wat mense koop, en dit was altyd basies dieselfde, en nooit meer as twee hande vol van dieselfde goed nie.

    * * * *

    Whitey se pa het sy talent vir die kleinhandel ook op ’n ander manier help vorm. Benewens sy boerdery en politieke werksaamhede het hy ook saam met vriende en vennote ’n paar drankwinkels besit. Whitey het oor naweke daar begin werk, en waardevolle ondervinding in die kleinhandel opgedoen.

    "Om ’n retailer te wees is instink, vertel hy vandag, en ek het van skooldae af in my pa se bottelstore geleer. Dis waar ek praktiese ervaring gekry het in die kleinhandel. Ek kan nou nog in enige winkel

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1