Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Werk soos 'n miljardêr: Van werknemer tot suksesvolle entrepreneur: 'n storie van sakesukses
Werk soos 'n miljardêr: Van werknemer tot suksesvolle entrepreneur: 'n storie van sakesukses
Werk soos 'n miljardêr: Van werknemer tot suksesvolle entrepreneur: 'n storie van sakesukses
Ebook285 pages4 hours

Werk soos 'n miljardêr: Van werknemer tot suksesvolle entrepreneur: 'n storie van sakesukses

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Werk soos ’n miljardêr vertel die verhaal van Dan, ’n werknemer, wat bloot van salaristjek tot salaristjek leef. Hy streef daarna om sy eie besigheid te begin maar hy staar verskeie uitdagings in die gesig. Een van dié uitdagings is hoe om, sonder enige geld, ’n besigheid te begin.  Maar alles verander op ’n dag toe hy voor ’n groot besluit te staan kom. . .
Die boek is propvol waardevolle wenke oor hoe om rykdom te skep, jouself beter te leer ken en hoe om volhoubare besigheidsisteme te bou. 
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 21, 2023
ISBN9780624092759
Werk soos 'n miljardêr: Van werknemer tot suksesvolle entrepreneur: 'n storie van sakesukses
Author

Daniel Strauss

Daniel is 'n Suid-Afrikaanse entrepreneur en waagkapitalis. Hy is die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss. Hy het 'n B.Ing. (Bedryfsingenieurswese) en MBA aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy en sy vrou, Rolene, het twee kinders en woon in die Kaapse wynlande. Dink soos 'n miljardêr is Daniel se eerste boek.  

Related to Werk soos 'n miljardêr

Related ebooks

Related articles

Reviews for Werk soos 'n miljardêr

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Werk soos 'n miljardêr - Daniel Strauss

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Tafelberg

    Aan my ouers

    Jul liefde en ondersteuning het my die vlerke gegee

    om my volle potensiaal te bereik. Dankie dat julle die beste voorbeelde

    is waarvoor enige kind kan vra. Ek is lief vir julle.

    Hoofstuk 1

    DIE BERG

    Dit is nie ’n plek waar hy ooit gedink het hy sou wees nie. Dan staan ’n oomblik stil en kyk om hom rond. Hy en agt ander stap al van 05:00 af op hierdie steil voetpad teen die berg.

    Dit is net ná 09:00, maar pleks van ’n soel bergwindjie en ’n kristalhelder blou lug het ’n ysige wind en reën elke blootgestelde deel van sy lyf gelooi. Dit was vier uur se moeilike stap sonder ’n ruskans. Nou het hulle darem uiteindelik vir ontbyt gestop.

    Hy laat val sy rugsak op die grond en kreun van verligting toe die swaar gewig van hom af is. In die dun lug op hierdie hoogte is sy asemhaling kort en vlak. Hy voel die bloed deur sy longe jaag en kan amper die metaalsmaak daarvan proe. Hy is laas as veertienjarige in sy eerste rugbywedstryd aan sulke inspanning blootgestel – en dit was meer as twintig jaar gelede.

    Ek is só onfiks, sê hy hardop en draai na die stapper wat sy swaar rugsak langs syne neergooi. Galius grinnik vir hom en knik ’n bietjie té entoesiasties.

    Te veel ure agter daai lessenaar van jou, sê hy, haal sy waterbottel uit en vat ’n behaaglike sluk. Ek het vir jou gesê dit sal jou dood beteken.

    Hy het nie gedink dat Galius dit letterlik bedoel het nie. Dit is hoe dit in elk geval nou vir hom voel. Hy hoor sy hortende asem terwyl hy die voetpad bekyk wat voor hulle verder teen die berghang op slinger.

    Hulle is op dag vier van die uitmergelende tien dae lange Rand van Afrika-roete wat die formidabele Hexrivierberge in die Wes-Kaap deur­kruis. Dit is Maandag. Hierdie tyd is hy gewoonlik by sy lessenaar met ’n tweede of dalk derde koppie koffie in die hand. Pleks van sy kantoor lê daar nou ’n massiewe rotsagtige amfiteater voor hom. Hulle is op pad na die hoogste punt op die staproete, amper 2 000 meter bo die vallei se bodem ver onder.

    Hy het geen benul gehad van wat voorlê nie toe hy ’n maand gelede die staproete bespreek het. Daardie dag het hy ’n vreemde keuse gemaak. Ná vyf jaar se harde werk en ’n uitmergelende agtien maande lange projek het sy baas hom ’n spesiale bonus aangebied. Dit is met groot fanfare voor al die kantoorpersoneel gedoen. Dan is vir sy harde werk beloon omdat hy die maatskappy se finansiële posisie verbeter het. Hy het opgestaan en vir die gehoor geglimlag, sy baas se hand geskud en sy vuis in die lug gestoot. Hy was maar alte bewus daarvan dat dit eintlik ’n skuldigvoel-geskenk is. Die maatskappy kon die goeie kwartaalwins eers bereik nadat die direkteure Dan gedwing het om die jaar lange proses te lei waardeur 30 personeellede hul werk verloor het. Sy glimlag was dus maar dun en aangeplak.

    Ons gee jou ’n keuse, het die baas gesê. Hy het ’n oomblik stilgebly en na die mense gekyk. Jy kan ’n groot tjek kies – of ’n staptog deur van die moeilikste berge in die land. Ons gaan nie vir jou sê wat die bedrag is nie, so jy weet nie watter een die meeste werd is nie. Agter hom het een van die bemarkingsmanne ’n reusetjek met ’n lint om vasgehou.

    Maar iemand het mos ’n baie mooi kar om af te betaal, het die hoof geskerts.

    Almal het gelag.

    Die keuse was voor die hand liggend. Natuurlik moet hy die geld vat. Maar toe vang hy iets ongehoords aan. Hy het na die brosjure gekyk wat sy baas voor hom swaai, na die foto van ’n ruwe, afgeleë berglandskap, en sonder om verder te dink het hy sy hand uitgesteek en dit gevat.

    Ek sal die staproete neem, het hy beslis gesê.

    Dit het stil geword in die vertrek. Iewers agter hom het iemand ’n half­hartige fluit gegee.

    Die ongeloof op sy baas se gesig het moontlik sy eie weerspieël. Jy maak seker ’n grap, Dan?

    Nee. Hy het sy kop geskud. Dit is nie ’n grap nie. Hy het die brosjure in sy sak gedruk, omgedraai en na sy kantoor gestap. Agter hom het sy kollegas ongemaklik gelag en toe aan die muffins op die tafel begin peusel.

    Nou, terwyl hy aan daardie oomblik terugdink, gaan ’n vreemde tinte­ling deur sy lyf en hy lag by homself. Langs hom kyk Galius oor die land­skap terwyl hy sweet van sy gesig afvee.

    Teetyd. Hulle grinnik vir mekaar en kook water vir ’n koppie soet tee.

    Hy het Galius maar vier dae gelede ontmoet toe hulle saam by die basiskamp op die berg aangekom het. Hulle het onmiddellik aanklank by mekaar gevind. Dan het by die kombuistent ingestap en Galius het na hom toe gekom en hom op die rug geklop.

    Wat maak jy hier, bru? Jy lyk meer soos die lessenaartipe. Hy het Dan met ’n breë glimlag nadergetrek en ’n stywe druk gegee. Vir Dan was die aanmerking soos ’n klein stekie, veral omdat dit waar is. Maar dit was die stywe druk wat hom die meeste onthuts het.

    Onder al hierdie is daar soliede spiere, het hy geskerts en op sy maag geklap sodat hy hom uit die omhelsing kon loswikkel. Hy het die man voor hom bekyk. Galius is ouer as hy, maar lenig en seningrig. Sy deurmekaar bos blonde hare lyk of dit deur ’n leeftyd se son gebleik is. Dit voel asof hy sy eie swaartekrag het en sy oë blink met iets wat Dan nie meer herken nie. Eers ná ’n rukkie het hy besef wat dit is: ’n gees van vryheid.

    Dit het hom vaal laat voel.

    Dan, het hy gesê en sy hand uitgesteek met die geoefende be­weging wat talle raadsaalvergaderings meebring. En jy is reg. Ek sit al te lank agter ’n lessenaar. Jy sal seker nie glo dat ek op my dag ’n atleet was nie. Om eerlik te wees, ek sukkel self om dit te glo. Maar ek sal jou waarskynlik op ’n tennisbaan verpletter.

    Ek wed jy sal. Galius het geknipoog. Miskien aanvaar ek nog die uitdaging.

    Toe Dan sy hand uitsteek, het hy onmiddellik gemakliker gevoel met die afstand wat dit skep. Hy was nog nooit iemand vir drukkies nie, of dalk was hy net uit oefening. Sy suster was die een wat hom die meeste omhels het, maar dit was lank gelede.

    Hy het die gedagte aan sy suster dadelik uit sy kop gedwing.

    Op jou dag? Hoe oud is jy dan? wou Galius weet.

    Pas verlede maand 35 geword.

    Geen verskonings vir jou nie. Ek is ’n goeie dekade en ’n half ouer as jy. Galius is vir ’n oomblik stil. Wat het jy vir jou verjaarsdag gekry?

    Dan frons oor die vreemde vraag. Sy gedagtes herkou nog aan die feit dat dié fikse man al 50 is. Hy trek sy vingers deur sy kortgesnyde hare. Sy bestuursposisie vereis dat hy meestal pakke dra, en ’n netjiese haarstyl is vir hom belangrik.

    Eintlik het hy maar min vir sy verjaarsdag gekry, iets wat hy tot nou toe skaars besef het. Daar was sy ouers se jaarlikse oproep, ’n klomp Facebook- en Instagram-boodskappe en ’n hardnekkige eks wat ’n bos blomme kantoor toe gestuur het. Die kantoorpersoneel het darem ont­hou – hulle het hom vir drankies ná werk genooi by ’n nuwe kroeg daar naby. Dit het die geleentheid vir hom geskep om reg voor die kroeg te parkeer in sy geskenk aan homself, ’n splinternuwe swart Mercedes C-klas. Die gedagte laat hom ingenome glimlag – dit is ’n droom wat hy waar laat word het.

    Hulle kry elkeen ’n bord kos en gaan sit eenkant om na die sonsonder­gang te kyk terwyl hulle eet. Die res van die aand gesels hulle oor motors, en die C-klas se hantering.

    Hulle bring oor die volgende paar dae baie tyd saam deur en gesels terwyl hulle stap. Die groep stappers bestaan onder andere uit twee Duit­sers, ’n Italianer en drie vriende van Pretoria. Die gids is ’n skraal vrou wat elke dag vooruit loop, gemaklik in haar eie geselskap.

    Jy lyk soos ’n gebore en getoë rekenmeester, het Galius aan Dan gesê toe hulle die eerste dag begin stap het. Dit het gelyk of hy Dan op die ganse staptog gaan uitdaag, maar die gesprek was verfrissend eerlik.

    Ek ís ’n rekenmeester. Nou wel nie gebore en getoë nie. Ek het in Kimberley grootgeword, my pa was ’n skofbaas op die myne. Ons het buite die stad in ’n mynhuis gebly. Hierdie sagte, mooi gesiggie is die produk van jare se lessenaarwerk, het Dan droogweg geantwoord.

    So, g’n silwerlepel in die mond nie?

    Hoegenaamd nie. Ons was allesbehalwe welaf, maar op skool was almal gelyk, en ek het gedink my lewe is perfek. Op hoërskool het my ma ’n onderwyspos gekry en ek is toe na ’n stadskool waar ek in die koshuis was. Daar kon ek duidelik sien dat party mense baie meer geld het as ons. Dit was die eerste keer dat ek dit regtig besef het.

    Hy het die heupgordel van sy rugsak stywer getrek om ’n bietjie gewig van sy reeds moeë skouers af te haal. Ek dink dit is waar alles begin het – ek was vasbeslote om iets van my lewe te maak en het geweet dat geld deel daarvan sou wees.

    Geen broers en susters nie? het Galius gevra. Dit het nie gelyk of die staptog enige uitwerking op sy lenige liggaam het nie. Dit is net ek en Layla, my laatlamsussie, het Galius bygevoeg voordat Dan kon antwoord. Sy sal dit verskriklik geniet hier. Sy is altyd iewers op ’n nuwe avontuur. Ek kan my nie die lewe sonder haar voorstel nie.

    Nee, dit is net ek, het Dan gesê – en geweet hy systap die waarheid. Ek het geweet ek sou moes studeer om vooruit te kom, maar my pa kon dit nie bekostig nie. Ná matriek kon ek nie ’n beurs kry nie en het gaan werk. Ek kon nie wag om die stof van daai dorp af te skud en stad toe te kom nie. Later het ek ’n taamlike goeie pos as vloerbestuurder gekry in ’n fabriek wat verbruiksgoedere vervaardig, en toe deeltyds aan Unisa studeer.

    Galius luister met aandag. Dit was harde werk, gaan Dan voort, maar niks kon my keer nie. Ek het my klerkskap gedoen en oor die afgelope dekade my pad opgewerk. Nou is ek al vyf jaar lank ’n finansiële bestuur­der, ’n lessenaarmannetjie. Hy het ’n oomblik getalm en toe met sy arms wyd oop beduie: En hierdie reis is my spesiale bonus.

    Hy het nie Galius se reaksie verwag nie. Dié het ’n opgewonde kreet gegee wat in die vallei weergalm het. Die stappers voor hulle het om­gekyk en geglimlag en Dan het sy arms vinnig laat sak.

    Wat doen jou maatskappy? wou Galius weet.

    Ons bemark ’n sportdrankie. Wel, dit het begin as ’n sportdrankie, maar is toe uitgebrei tot ’n reeks produkte met ’n suikerbasis. Daar is nou twaalf produkreekse vir sport en uithouvermoë, almal hard geklap met die soetigheid.

    Galius het geknik. Ek sit nie my mond aan daai goed nie.

    Eintlik hét ek voorgestel dat ons ’n reeks met minder suiker maak, dit is mos die nuwe neiging en veel gesonder. Maar die hele ding het soos ’n klip gesink. Ek is aangesê om my op my eie werk toe te spits.

    So jy is nou ’n suksesvolle korporatiewe dier. Ek wed jy het vir jou ’n fantastiese woonstel gekoop en betaal steeds af aan jou blink motor?

    Bloedgeld, het Dan geantwoord. Hy het na sy stapstewels geloer – dit was nog skaars ingeloop.

    Jy kon dit gouer afbetaal het … as jy die tjek gevat het.

    Dit is presies wat my bankrekening ook gesê het: Vat daai bonus! Maar die vreemdste ding het met my gebeur. Toe ek die berg op die foto sien, het ek net gehoor hoe my hele lyf ja skree!

    Galius loer onderlangs na Dan. Is jy seker dit was nie uitroepe vir die geld nie?

    Absoluut seker. Vreemd, nè? Ek het nee gesê vir iets wat ek my hele lewe al najaag. Ek was geskok oor my reaksie. Eerlikwaar, almal was ge­skok. My vriend Barnabas het selfs vir ons baas gaan sê my kop raas.

    Galius lag. Respek, bru. Onder my bergklimvriende – en hier op die berg – noem ons dit die vermoë wat jy ontwikkel as jy op ’n hoër vlak luister. Dit is wanneer ons hoër bewussyn beheer neem van die stemme in ons kop en ons dinge kan hoor wat ons gewoonweg selde hoor. Klink my dit is wat jy gehoor het. Soveel oomblikke in die lewe is onbeduidend, en dan word ’n oënskynlik klein dingetjie skielik betekenisvol. Dit kan op die mees onverwagte tyd gebeur – soos wanneer ’n vet tjek aan ’n rooi lint voor jou rondgeswaai word.

    Skielik voel Dan ’n knop in sy keel. Hy het nie verwag om emosioneel te voel oor iets so klein nie, maar Galius het sy vinger presies daarop gesit. Sy hoër bewussyn het daardie dag duidelik beheer oor sy gedag­tes geneem. Hy sluk en maak keel skoon.

    Dit het soos ’n kruispad gevoel. Die een pad sou my al hoe verder gevat het op ’n baie bekende roete. Die ander sou my die onbekende ingeneem het. Ek is steeds nie seker of ek reg gekies het nie.

    Jy is op die regte plek, het Galius hom verseker, en jy het die regte keuse gemaak – al voel dit in die volgende paar maande dalk nie altyd so nie. Berge is ’n pragtige, wilde toevlug waar die reis van ons lewe nuwe betekenis kry. Dit is hoekom ek so gereeld hier is. Nou is jy ook hier, want ons lewe net een keer en ervarings tel.

    Die gesprek het later opgedroog namate die klim moeiliker en meer uitdagend geword het. Daardie aand het almal in stilte geëet voordat hulle met moeë lywe tente toe is, waar ’n diep slaap hulle weggevoer het. Om hulle was die uitgestrekte amfiteater in al sy prag onder die nag­hemel.

    Die volgende dag het die gids saam met hulle gestap. Galius het haar uitgevra oor die plantegroei op die berg. Hy was baie geïnteresseerd, en dit was vir Dan opvallend dat hy meer luister as praat. Ook hý praat min­der, het hy agtergekom. Hy het algaande weggedryf en die grootste deel van die dag alleen gestap. Die stilte was oorweldigend.

    Later die dag het hy en Galius weer hul gesprek hervat.

    So, voel jy jy het uiteindelik jou doelwit bereik ná al daardie harde werk? wou Galius weet. Dit was tog jou droom, dan nie?

    Nee. Dan skud kop. Dit is juis die ding. Ek is nog nie eens naby daaraan om dit te bereik nie.

    Ek ken nie baie mense wat regtig dink hulle het nie, sê Galius. Dit is alles relatief, nie waar nie? Ek ken ’n vrou wat honderdduisende verdien – presies wat sy beoog het toe sy jare gelede begin het om die korporatiewe leer te klim. Jy weet, sy was so bly toe sy daardie werk gekry het. Dit het meegebring dat sy met topbestuurders te doen kry, mense wat baie meer as sy verdien. Skielik was sy nie meer so gelukkig nie. Sy het haar mikpunt hoër gestel, haar oog op ’n uitvoerende hoof se salaris gehad. Maar wat gebeur dan? Gestel sy word wel ’n uitvoerende hoof en woon ’n konferensie in Europa by waar sy met die uitvoerende hoofde van multinasionale maatskappye skouers skuur – en hulle verdien tien keer meer as sy. Sal sy steeds voel sy het haar doelwit bereik? Of sal die afguns na vore kom sodra sy in haar hotelkamer terug is? En as sy ’n artikel op die terugvlug lees oor ’n top-entrepreneur wie se maatskappy pas op die aandelebeurs genoteer is en wie se netto waarde honderd keer groter is as hare?

    Dan fluit sag.

    Hulle stap in stilte verder totdat Galius gaan staan en sy windjekker uittrek om ’n bietjie son op sy arms te kry. Hy prop dit in sy rugsak. So, lyk my hierdie staptog is vir ons albei ’n pelgrimstog, sê hy.

    Ek weet darem nie. Dit is nie hoekom ek gekom het nie.

    Is jy seker? Vir my voel dit so. Pelgrimstogte is so oud soos die mens self. Elke godsdiens het een of ander toegewyde praktyk wat ’n reis verg. Soms is dit besoeke aan ’n besonder belangrike plek soos Jerusalem, Santiago de Compostela of Mekka. Dit voel of dit die soort stap vir jou is.

    Dan kan steeds nie verklaar hoekom hy die staptog gekies het nie, maar hy het glad nie daaraan gedink as ’n soort pelgrimstog nie.

    Dit is hoekom ek halfpad om die aardbol gekom het om hierdie stap­tog te doen, gaan Galius voort. Ek probeer altyd ’n tydjie in my lewe inruim om stil te word, om te dink waarheen ek op pad is. Ek is pas weg by ’n maatskappy. Dit is die einde van ’n fase in my lewe. Nou gebruik ek hierdie tyd om uit te vind wat ek volgende moet kies.

    Hy vat aan ’n hangertjie om sy nek. Dan het dit al ’n paar keer opgelet en nogal daaroor gewonder. Dit is ’n brons medaljon aan ’n leerbandjie. Galius het gesien dat dit Dan fassineer, hoe hy vorentoe leun om daarna te kyk terwyl hulle stap.

    Ek het dit gekoop op die eerste pelgrimstog waarop ek was, verdui­delik hy. Dit is vir my ’n herinnering aan die reis waarop ek is, en hoe maklik dit is om die ander pad te kies.

    ’n Pelgrimstog, mymer Dan. Die medaljon, die keuse wat hy gemaak het en die oop ruimtes om hom vloei ineen in sy gedagtes. Ek dink ek hou van die idee.

    Wel, my vriend, dit lyk of ons op een is.

    Dan is so diep ingedagte dat hy nie agterkom hy loop al stadiger nie. Hy moet hom haas om Galius in te haal.

    Die belangrikste ding is om vas te stel waarheen jy in die lewe op pad is, sê Galius toe hy weer langs hom inval. Nie dit waarvan jy wegstap nie, en beslis nie dit waarheen jy lukraak beweeg nie. Dit lyk of jy ’n visie het van waar jy wil wees – en dit voel of daar ’n deur agter jou begin toegaan. Maar waarheen is jy op pad?

    Dan kyk na die uitgestrektheid om hulle. Ek is nie seker nie, sê hy. Nog nie.

    Die res van die dag en daardie nag maal die vraag deur Dan se gedagtes. Eers die volgende oggend toe hulle uiteindelik ’n blaaskans neem, het hy gevoel hy kan probeer om ’n antwoord te gee.

    Jy het my gevra waarheen ek op pad is, sê hy terwyl hulle gaan sit om hul stewels uit te trek. Ek het daaroor nagedink. Om die waarheid te sê, ek kon gisteraand skaars slaap. Jou vrae het my gedagtes op hol gehad.

    Galius haal ’n stuk biltong uit, kerf ’n stukkie af en hou dit na Dan uit.

    Ek is op pad na iets groots. Groot geld. Ek brand om dit te maak. Dit verteer my. Ek wil … Hy bly stil. Dit voel vir my vreemd om dit selfs hardop te sê, asof dit te erg is.

    Sê dit net. Galius sit die biltong in sy mond en kou stadig.

    Ek wil ’n miljardêr wees … Dit klink soos ’n liedjie of iets. Tot Dan se ver­basing lag Galius nie vir hom nie – hy doen eerder iets heel onverwags. Hy sit die biltong op ’n rots neer en klap sy hande. Dit eggo teen die kranse. Abrakadabra, sê hy.

    Dan kyk hom vraend aan. Wat is dit nou, ’n toorkunsvertoning? Jy kan dit seker so noem. Dit is ’n antieke woord wat beteken ek skep iets terwyl ek praat. Sommige mense noem dit toorkuns, maar vir my dui dit daarop dat jy ’n duidelike roete het wat jy volg. So, ek sê dit eers hardop, en dan maak ek werk daarvan.

    Hy tel die biltong op, sny nog ’n stukkie af en gee dit vir Dan. Dit is hoekom jy nie die tjek aanvaar het nie. Iets het vir jou gesê dit is ’n lokval.

    Dan frons. Hy sit met die stukkie biltong in sy hand terwyl hy nadink oor wat Galius pas gesê het.

    Dit lyk seker of die tjek die veiliger pad is, maar dit is nie die regte pad as jy ’n miljardêr of selfs ’n multimiljoenêr wil word nie, gaan Galius voort. Dit is wonderlik om te weet waarheen jy op pad is. En om dit te kan sê … en dit te bedoel. Daar is soveel stappe tussen dit wat jy sê en hoe jy dit bereik. Jy is nou ’n werknemer, reg? Dit is wat jy al jare lank is. So gaan jy egter nie werklik ryk word nie. Jy moet anders begin dink – en dalk selfs alles wat jy dink jy weet van besigheid, geld en die spelreëls, weggooi. Sal jy dit kan doen?

    Dan voel hoe sy humeur opvlam. Hy kyk weg. Jy is vol vrae en voorstelle, sê hy. Maar wat weet jy eintlik van geldmaak? Jy met al jou reise en … en vlieërski of wat ook al. Of vra jy net die regte vrae en kry ander om die harde werk te doen?

    Hy is onmiddellik spyt oor sy uitbarsting. Hy weet sy humeur kan hom duur te staan kom, maar Galius het hom warm onder die kraag gemaak. Hy sit die biltong in sy mond en druk sy voete terug in sy stewels. Son­der om dit vas te maak, staan hy op, skuifel na sy rugsak en vroetel met sy toerusting. Galius hou net kou-kou aan om biltong te sny. Hy is kalm en selfs ’n tikkie geamuseerd. Dan maak sy veters vas en stap na ’n punt van waar hy ’n uitsig oor die vallei onder het. Hy moet eers kalmeer. Ná ’n rukkie dwaal hy terug en gaan sit langs Galius. Dié sit met sy gesig na die son gedraai.

    Hy hou nog ’n stukkie biltong na Dan uit asof niks gebeur het nie. Hulle sit in stilte soos twee akkedisse in die son en kou.

    Later, toe die res van die groep hul eetgoed begin wegpak om verder te stap, vou Galius sy knipmes toe en maak sy stewels vas. Eers tóé antwoord hy Dan se vraag van vroeër.

    "Laat ek jou vertel wat ek weet van geldmaak, Dan. Een ding: die wêreld se rykste mense meet nie hul rykdom aan jaarlikse salarisse of bonusse nie. Hul netto waarde bepaal hul rykdom. Netto waarde kom uit baie bronne, maar die belangrikste is aandeelhouerswaarde. As jy nog nooit gedink het oor hoe aandeelhouerswaarde geskep

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1