Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Suid-Afrikaanse reg: Wat elkeen moet weet
Die Suid-Afrikaanse reg: Wat elkeen moet weet
Die Suid-Afrikaanse reg: Wat elkeen moet weet
Ebook516 pages6 hours

Die Suid-Afrikaanse reg: Wat elkeen moet weet

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

'n Toeganklike en maklik leesbare gids wat verduidelik hoe die Suid-Afrikaanse regstelsel werk, met inligting en raad vir kwessies waarmee almal die een of ander tyd te make kry:

Gesinsake, van trou tot skei en testamente

Geldsake, soos huiskoop, huur en skuld

Sonde met die bure

Werkskwessies, van jou baas tot jou eie onderneming

Kontrakte, en die slaggate om te vermy

Wat om te maak as die ongeluk jou tref

Hofprosedures

Die boek verduidelik nie net dié en vele ander regsbeginsels in toeganklike taal nie, dit is ook vol praktiese raad, sê waar jy om hulp kan aanklop en hoe om jou regskoste laag te hou. Dit stel jou in staat om kop te hou in moeilike situasies.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 5, 2013
ISBN9780624054399
Die Suid-Afrikaanse reg: Wat elkeen moet weet
Author

François Smuts

François Smuts is an advocate at the South African Cape Bar, but in his time he has been a newspaper delivery boy, sales assistant in a book shop, security guard, medical student, salesman, manager and magistrate. He has an extensive legal practice and is passionate about making the law accessible to everyone: "This book is not written in the stuffy style of legal textbooks … my aim is to equip ordinary people with a basic working knowledge of the law."

Related to Die Suid-Afrikaanse reg

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die Suid-Afrikaanse reg

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts

    DIE SUID-AFRIKAANSE REG

    François Smuts

    Tafelberg

    Patri mei, qui et canebat in catenis sicut mare.

    INLEIDING

    Dié boek is nie vir regsgeleerdes geskryf nie. Hier gaan jy nie ’n stowwerige uiteensetting van die teoretiese beginsels oor ’n spesifieke onderwerp kry nie. En jy sal oplet dat die boek nie geskryf is in die kadawerstyl van regs­handboeke nie. Want my doel met die boek is nie om ’n naam te maak as akademikus nie. Ek sal nooit die agterstand inhaal van al die klasse wat ek op universiteit gebunk het nie. In elk geval het ek in my praktyk agtergekom dat verreweg die meeste regsprobleme van die man op straat nie gaan oor subtiele onderskeide of verwikkelde argumente nie. Dis hoekom die doel van hierdie boek is om aan gewone mense ’n basiese gereedskapkissie te gee wat hulle in staat sal stel om ’n ietsie meer van die binnewerk van die reg te verstaan, en selfs om eenvoudige voorkomende regswerk te doen. Die rede hiervoor is dat die meerderheid van die probleme wat ek in my praktyk sien, voorkom kon word deur ’n paar eenvoudige voorsorgmaatreëls. Soos om jou kontrak op skrif te stel, en te weet wat om daarin te sit. Of om te weet watter prosedure om te volg vóór jy jou werker afdank. Of om ná ’n ongeluk ’n paar foto’s op jou selfoon te neem.

    Dit is dus ’n boek vir gewone mense. Ek aanvaar wel dat jy darem ’n bietjie selfstandig kan dink, maar ek verwag nie dat jy ’n universiteitskwalifikasie in logika sal hê om die boek te kan verstaan nie. Ek verwys nie na hofsake nie, behalwe as dit ’n sappige storie is, of ’n belangrike punt illustreer. Latyn gebruik ek net vir die interessantheid (of as dit vir my baie mooi is), en dan sê ek elke keer in plein Afrikaans ook wat ek bedoel. Ek haal nie uit handboeke aan nie, hoewel ek aan die einde van die boek ’n lysie handboeke gee wat jy sou kon raadpleeg as jy meer sou wou weet as wat jy hier sal kry.

    Die boek probeer nie volledig of baie gedetailleerd wees nie. Hier is dus niks in oor die lugvaartreg, die reg oor myne, of iets soos die exceptio non adempleti contractus of die Turquand-reël nie. Nee, ek het eerder probeer om ’n oorsig te gee van daardie onderwerpe in die reg wat die gewone leser baie waarskynlik sal teëkom.

    Maar is dit nie gevaarlik om net ’n bietjie van die reg te weet nie? Wel, ja en nee. Ja, soos wat dit gevaarlik is om in jou kar se binnewerk te gaan krap as jy nie daarvoor gekwalifiseer is nie. Nee, soos wat dit nie gevaarlik is om te kyk of daar water in jou verkoeler, olie in die enjin en petrol in jou tenk is voordat jy die langpad vat nie. En waar lê die streep tussen die twee? Dis iets wat jy maar self moet besluit, maar ek hoop dié boek kan jou daarmee help.

    1

    DIE BASIESE GEREEDSKAP

    1.1 IS DIE REG REGTIG REG?

    Hoe oud is die reg? So oud soos die mens self. Daar is nie ’n geskiedenis van ’n volk wat nie ook ’n geskiedenis is van die reëls oor hoe mense met mekaar omgaan nie. Wat jy mag doen, en nie mag doen nie. Wat gaan gebeur as jy die reëls oortree.

    Die reg is nie net oud nie, dit strek ook so wyd soos die Heer se genade. Daar is nie ’n land sonder ’n regstelsel nie, en die regstelsel groei saam met die samelewing – hoe ingewikkelder die samelewing, hoe ingewikkelder die regstelsel. Vandag leef ons in ’n geweldig ingewikkelde samelewing wat met die res van die wêreld verweef is soos nooit tevore nie.

    Nou sou mens verwag dat die reg wat deel is van die woord"geregtigheid" sonder meer in die reg as stelsel moet geld, veral in ’n hoogs gesofistikeerde regstelsel soos ons s’n. Toe nie. Ek moet van tyd tot tyd aan verbaasde (en krapperige!) kliënte verduidelik dat jy dalk nie uit ’n regsoogpunt met ’n regter se uitspraak fout kan vind nie, maar dat dit nie daarom noodwendig regverdig is nie. Dis om ’n paar redes so.

    Die eerste rede is dat daar nie ’n volmaakte oorvleueling is tussen die algemeen aanvaarde opvatting in ’n bepaalde samelewing van wat regverdig is en wat daardie samelewing se regstelsel as regverdig voorhou nie. ’n Voor die hand liggende voorbeeld is die doodstraf. Die meerderheid Suid-Afrikaners sal die doodstraf wil behou as hulle kon kies. Die samelewing dink dus dis ’n regverdige ding om te doen. Maar toe die Konstitusionele Hof, wat veronderstel is om die samelewing se idees van regverdigheid te verteenwoordig, die kans kry om die saak te beoordeel, het hulle die doodstraf met groot regterlike gejuig getorpedeer. Hoekom? Omdat dit strydig is met die Grondwet en daarom onwettig is.

    Nou mag jy wonder waar die Grondwet sy morele gesag vandaan kry, en dis ’n gesprek vir ’n ander dag se glas wyn. Die punt is net dat die meerderheid van die samelewing se morele gevoel oor ’n onderwerp nie altyd sy pad vind na die howe se uitsprake nie.

    ’n Mens moet ook onthou dat die meeste uitsprake gegee word deur ’n enkele regsamptenaar wat self ’n stel idees het van wat regverdig is, en spesifiek wat regverdig is in ’n besondere situasie. Daardie idee stem nie noodwendig ooreen met myne of joune, of selfs met die meerderheid mense s’n nie. Ek onthou byvoorbeeld ’n landdros wat maar liggies gestraf het vir huisbraak, tot hulle by háár huis ingebreek het – toe straf sy dat die hare waai!

    Verder moet mens onthou dat ’n regstelsel se oorkoepelende doel nie die bereik van ’n regverdige uitslag in ’n spesifieke geval is nie. Nee, die doel van die regsproses is die beslissing oor geskille volgens die heersende regsbeginsels en -reëls van die samelewing op ’n spesifieke tydstip. Die ideaal is dat die korrekte toepassing van dié reëls ’n regverdige uitslag sal gee – of so naby aan ’n regverdige uitslag as wat moontlik is in ’n spesifieke geval. Maar dit kán nie altyd nie, omdat die instandhouding van die regsbeginsels en -reëls dikwels belangriker is as die regverdigheid van ’n spesifieke geval. Jy kan byvoorbeeld nie getuienis teen ’n beskuldigde in ’n strafsaak gebruik wat verkry is deur hom te martel nie. Sou sulke getuienis gebruik word om ’n skuldige persoon skuldig te bevind, sal die uitspraak in appèl tot een van onskuldig verander word. Dit sal ’n onregverdige uitspraak in die spesifieke geval beteken (’n skuldige sal onskuldig bevind word), maar aan die ander kant sal die regverdigheid van die regstelsel in sy geheel in stand gehou word.

    Ten slotte is daar een regsreël wat meer as enige ander sorg dat ons idee van geregtigheid nie geskied nie: audi alteram partem. Dit het met ’n Audi se alternator se parte niks te maak nie. Dis ’n idee wat die Rooms-Katolieke kerkvader Augustinus uitgedink het, en daar is ’n diep stuk lewenswysheid daarin vervat. Letterlik vertaal beteken dit dat die ander kant ook gehoor moet word. In Afrikaans sou ons sê dat ’n storie twee kante het. Laat ek verduidelik.

    Mense kom meesal by my kantoor in met ’n vaste idee van wie die skurk in die verhaal is, en dit is selde hulleself. Dikwels praat hulle van die skuldige, asof die teenparty ’n misdaad begaan het, selfs al gaan dit bloot oor ’n kontrak. ’n Mens kry selfs regsgeleerdes wat hulle kliënte se storie met huidjie en muidjie sluk en verdedig asof dit hulle eie saak is. Maar die meeste regsgeleerdes wat al ’n slag of wat in die hof was, weet dat mense altyd verskillende perspektiewe op dieselfde feite het en dat hulle kliënt nie altyd die regte perspektief beethet nie. Die regter wat na die saak luister, kan dikwels op geen manier vasstel wat die ware storie is nie. Bowendien moet hy ’n weergawe kies tussen twee stories wat dikwels heeltemal teenstrydig is: Was die lig rooi of groen? Is die kontrak op die ou end aangegaan of nie? Hy span dan die waarskynlikheid van die onderskeie weergawes in om te besluit watter een hy gaan aanvaar. Hy word gedwing om dit te doen omdat dit meesal eenvoudig nie moontlik is om sonder meer te sê dat die een party lieg en die ander party die waarheid praat nie.

    In ’n saak wat byvoorbeeld oor ’n misdaad gaan, is die toets dat die Staat sy saak bo redelike twyfel moet bewys. Dit beteken dat die regter nie redelike twyfel mag hê of die beskuldigde se storie waar is nie. Bevind die regter dus teen die beskuldigde, beteken dit dat daar nie ’n redelike moontlikheid is dat sy storie waar is nie. Is daar wel ’n redelike moontlikheid dat sy storie waar is, moet die storie aanvaar word, en dit beteken gewoonlik dat hy vrygespreek word.

    Het geregtigheid in so ’n geval geskied? Dikwels nie. Maar die reël word gebruik om te voorkom dat ’n onskuldige persoon skuldig bevind word net omdat hy ’n onwaarskynlike storie het oor wat gebeur het. Nou het ek al dikwels aangeklaagdes (veral politici) gehoor wat ná ’n strafsaak vrygespreek is en dan met groot stelligheid verklaar dat hulle onskuldig is. Dis nie heeltemal reg nie: Die regstelsel kon hulle net nie skuldig bevind nie. Dis audi alteram partem in aksie: nodig, maar nie altyd regverdig nie.

    ’n Ander manier om na dieselfde idee te kyk, is om die probleem van regverdigheid en skuld onder die loep te neem. Vir Calviniste is dit dikwels moeilik om te verstaan dat daar iets verkeerd kan loop en dat jy selfs ’n vonnis teen iemand kan kry sonder dat iemand skuld het aan die hele besigheid. Eintlik is dit maklik om te verstaan, want behalwe in strafsake is die reg nie juis gemoeid met skuld soos wat die teologie dit verstaan nie. Maar by die alledaagse goed waaroor mense baklei, soos of daar ’n kontrak tussen twee mense was en wat die terme daarvan was, word skuld nie betrek nie.

    Nou is dit so dat daar wel soms in die reg van skuld gepraat word, en wel in die konteks van die deliktereg. Kortliks gaan die deliktereg oor die skade wat gely word as gevolg van iemand se nalatigheid. Praat ons van nalatigheid, dan praat ons van skuld. Maar hiermee word nie noodwendig morele blaam op iemand geplaas nie. Nee, in ’n nalatigheidskonteks het iemand skuld as van die standaard van die redelike persoon afgewyk word. Ontstaan die vraag in ’n saak of iemand nalatig was, word telkens gevra hoe die denkbeeldige redelike persoon sou optree – daardie persoon wat in enige situasie reg sou optree. Sou die redelike persoon oor ’n stopstraat gery het? Sou die redelike persoon sy gelaaide geweer laat rondlê op ’n plek waar kinders daartoe toegang het? Sou die redelike persoon verwag het dat iemand met donker klere aan in die middel van ’n onverligte pad lê? As die antwoord op enige van hierdie vrae daarop dui dat jou gedrag van die redelike persoon s’n afgewyk het, al is dit net met een persent, is daar skuld in die vorm van nalatigheid aan jou kant.

    ’n Goeie manier om dit te illustreer is om na motorongelukke te kyk. Enigeen wat ’n bietjie nadink sal erken dat die meeste bestuurders die meeste van die tyd nie soos die redelike bestuurder bestuur nie: Ons praat of SMS op selfone, skeer, eet, raas met die kinders terwyl ons agtertoe kyk, bewonder mooi meisies in die karre langs ons of dagdroom sommer net oor die dag by die werk. Is ons skuldig? Wel, ja, as jy ons sou meet aan die standaard van ’n bomenslik redelike bestuurder, maar jou sin vir geregtigheid sê vir jou eerder dis maar hoe mense is, ons kan nie heeltyd perfek wees nie. Die pad deur die Karoo is lank, en die pad tussen die werk en die huis dikwels ook maar so. Maar maak jy nou ’n ongeluk, dan begin die regstelsel met sy vitterige ondersoek na jou gedrag om te bepaal of daar nalatigheid – skuld – was in die manier hoe jy die voertuig bestuur het. Hoekom? Omdat iemand skade gely het, en die vraag is wie gaan daarvoor betaal.

    Maar is dit nou ’n ondersoek na wat regverdig of selfs reg is? In die meeste sake waarmee regsgeleerdes te make kry, is die antwoord nee; en selfs in die enkele gevalle waar daar wel so ’n ondersoek is, loop die soektog meesal lank, wyd en diep.

    1.2 EN HOEKOM SO BAIE GROOT WOORDE?

    Die regswetenskap is soos politiek en godsdiens in die opsig dat jy nie geleerdheid nodig het om ’n opinie daaroor te hê nie. Maar tog is dit redelik ontoeganklik vir selfs geleerde mense. ’n Goeie deel van die ontoeganklikheid is te wyte aan die moeilike taal waarteen jy jou vasloop die oomblik dat jy begin lees aan ’n regshandboek of selfs ’n regter se uitspraak. Ek het al dikwels gewonder of mens die taal nie eenvoudiger kan maak nie. Is al die Latyn en die hoogdrawende taal regtig nodig?

    Wel, ja en nee. Eers die ja, en hieroor moet ’n mens ’n paar dinge sê. Die eerste is dat die reg eeue oud is. Die wortels van ons regstelsel strek so ver terug as die Romeinse Ryk. As jy probleme met jou buurman het, moet jy dikwels oplees oor regsbeginsels wat dateer van die Romeinse tye maar vandag nog geldig is. Dis waar die Latyn vandaan kom. Naas die Latyn kom jy dikwels Nederlands teë, want heelwat van ons regsbeginsels het ons by die Nederlanders geërf, en heelwat van hulle is ook vandag nog geldig.

    Nou sou ’n mens kon aanvoer dat daar geen rede is hoekom hierdie frases nie vertaal kan word nie. As ontoeganklikheid al rede was, dan sou die argument seker geldig gewees het. Maar daar is ander belangrike redes hoekom regstaal so ingewikkeld is.

    Seker die belangrikste hiervan is dat ons in ’n ingewikkelde samelewing woon wat by die dag meer ingewikkeld word. Mense se interaksies met mekaar is ingewikkeld, en die regstelsel wat hierdie interaksies moet reguleer, moet net so ingewikkeld wees om daarvoor voorsiening te maak. ’n Voorbeeld: As mense net met muntstukke koop en verkoop, is kontraktereg redelik eenvoudig. Maar sit papiergeld, kredietkaarte, finansiering, huurkooptransaksies en versekering by, dan word die prentjie sommer gou baie deurmekaar, en elkeen van hierdie verskynsels moet deur die regstelsel gereguleer word.

    Die samelewing word ook voortdurend ingewikkelder en daarmee saam die regstelsel. Mense doen voortdurend nuwe dinge, en die pas van vernuwing versnel net. Laat ek nog ’n voorbeeld of twee gee: In 1910 het die lugvaartreg nie bestaan nie. In 1950 het niemand gewonder oor die regsimplikasies van rekenaars nie. In 1970 was niemand bekommerd oor laster op die internet nie. Vandag bekommer ons ons oor die kopiëring van die magnetiese inligting op kredietkaarte met spesiale toerusting – iets wat in 1990 ongehoord was. En ek is oortuig daarvan dat ons een van die dae gespesialiseerde wetgewing nodig gaan hê oor die kloning van menslike weefsel.

    Van wetgewing gepraat – regerings maak meer en meer wette, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. ’n Mens sou daaroor kon stry of dit ’n goeie of slegte ding is, maar dis sonder twyfel ook die staat se reaksie op die toenemend komplekse omgewing wat hy moet bestuur.

    Al hierdie faktore lei tot moeilike woorde en bosgasie-sinne wat dikwels amper onmoontlik is om te ontrafel – selfs vir regsgeleerdes. Daar was al talle sake wat net gegaan het oor die uitmekaar haal van ’n sin in ’n wet of ’n kontrak, of gedraai het om die verstaan en uitleg van ’n spesifieke woord, en ek moet bely dat ek soms groot moeite het om die uitsprake in dié sake te verstaan.

    Kortom is die reg ’n moeilike wetenskap wat, soos alle wetenskappe, sy eie taal-in-die-kleine het. As mense met mekaar regstaal praat, dan dra hulle dikwels met ’n enkele woord baie ou en ingewikkelde begrippe aan mekaar oor – presies soos dokters ook maar maak. En hierdie begrippe is dikwels tongknopers soos replikasie en Himalajaklousule en "quantum meruit. Die verskil tussen dokters se taal en regsgeleerdes se taal is dat groot dele van regstaal so bekend klink. Ons gebruik begrippe soos redelik, aansoek en skuld", wat eenvoudig klink maar iets heeltemal anders beteken as wat die gewone mens daaronder verstaan.

    Dit was die ja van hoekom regstaal hogere woorde nodig het. Voor ons by die nee kom, eers ’n stertjie aan die ja: Net soos met die medisyne, kan ’n mens in die regte met die verstaan van relatief min woorde reeds lekker oor ’n spesifieke onderwerp begin saamgesels. Dis ’n verskynsel wat ek dikwels by die braaivleisvuur opmerk. Iemand vra ’n vraag oor ’n onderwerp; ek sê wat die belangrikste begrippe daaroor beteken, en die res is maar gesonde verstand.

    Daarmee by die nee: Die reg is by uitstek ’n wetenskap waaroor elkeen iets móét weet, want dit raak ons almal, dikwels op maniere wat ons lewe verander. Dis hoekom die staat onlangs in die Gebruikersbeskermingswet beveel het dat kontrakte in eenvoudige taal moet wees, sodat die ekonomies magtige opstellers van kontrakte nie die ontvangers van daardie kontrakte sonder meer kan stoomroller met terme wat hulle nie verstaan nie. Dis ook hoekom ek hierdie boek geskrywe het, en hoekom ek sommer met die intrapslag – in die volgende afdeling, om die waarheid te sê – vir jou ’n woordelys gee van woorde wat jy moet verstaan as jy regstaal wil praat of verstaan.

    1.3 MOEILIKE WOORDE MAKLIK GEMAAK

    Hier is ’n lysie met terme wat jy nodig het vir die meeste gesprekke oor die reg. Nou weet ek die meeste mense hou nie van woordeboeke lees nie. Ek ook nie. Maar ek wil tog voorstel dat jy diep asemhaal en dit gou deurgaan, want dit gaan jou baie help om die res van die boek te verstaan. Of verwys terug na die lysie as jy iets in die boek teëkom wat jou tong of jou brein laat knoop.

    aangeklaagde of beskuldigde – die persoon wat in ’n strafsaak van ’n misdaad aangekla word.

    aansoek – een van twee maniere om ’n hofsaak te voer (die ander een is ’n aksie). In ’n aansoek word die hele saak deur die partye op papier uiteengesit en niemand getuig in die hof nie. Aansoeke word oor die algemeen gebruik in sake waar die partye nie veel verskil oor die feite nie maar wel oor die regsbeginsels wat daarop toegepas moet word. Die verhoor van ’n aansoek bestaan net uit argumente wat beperk word tot dit wat op die dokumente, wat aansoekstukke of kortweg "die stukke" genoem word, uiteengesit word. Aansoekstukke bestaan breedweg uit twee dele: ’n kennisgewing van mosie, waarin die een wat die aansoek bring, sê wat hy van die hof wil hê; en beëdigde verklarings, wat getuienis op papier is en waarin vertel word hoekom die een wat die aansoek bring, geregtig is op dit wat hy van die hof vra.

    absolusie van die instansie – ’n hofbevel wat beteken dat iemand nie slaag met sy siviele saak nie omdat sy getuienis nie genoegsaam is nie. As absolusie beveel word, sou die eiser weer sy saak kon probeer bewys as hy beter getuienis sou kry – iets wat nie kan gebeur as ’n aksie afgewys word nie.

    afgewys of van die hand gewys – ’n hofbevel wat sê dat die een wat ’n aansoek of ’n aksie gebring het onsuksesvol was. Dit verskil van absolusie van die instansie daarin dat as jou aansoek of aksie eers afgewys is, jy nie weer kan probeer nie. Sien ook toegestaan.

    aksie – een van twee maniere om ’n siviele saak te voer (die ander een is ’n aansoek). ’n Aksie begin wanneer iemand in ’n dagvaarding sy saak in breë trekke uiteensit en ook sê watter bevel hy van die hof verlang, en die dagvaarding dan op die persoon teen wie die aksie gevoer gaan word, laat beteken. Hierdie dokument kry jy nie by ’n aansoek nie. Hierna word ’n verskeidenheid van dokumente tussen die partye uitgeruil sodat die dinge waaroor die opponente in die saak verskil, duidelik gemaak word en hulle oor en weer kennis kry van watter dokumente gebruik gaan word en of daar deskundiges getuig, en so aan. Die verhoor van ’n aksie bestaan uit die lewer van getuienis deur mense wat in ’n getuie­bank staan en ondervra word terwyl hulle onder eed getuig – anders as by ’n aansoek.

    appèl – wat gebeur wanneer een van die partye in ’n saak van mening is dat die hof se uitspraak verkeerd is en daarom ’n proses volg om die uitspraak verander te kry deur ’n hof met hoër gesag.

    applikant(e) – die party(e), onder meer mense en regspersone, byvoorbeeld maatskappye, trusts en so aan, wat ’n aansoek begin.

    balju – die bode van die hof wat prosesstukke beteken en hofbevele uitvoer.

    beantwoordende verklaring(s) – die beëdigde verklaring(s) in ’n aansoek waarin die respondent die applikant se funderende verklaring(s) punt vir punt beantwoord en sy eie weergawe gee van wat gebeur het.

    beëdigde verklaring(s) of verklaring(s) – ’n verklaring is die verkorte vorm van ’n beëdigde verklaring, wat bestaan uit getuienis op skrif. Getuienis is die weergee van feite onder eed. ’n Beëdigde verklaring moet deur ’n kommissaris van ede beëdig word, wat aan die persoon wat die verklaring aflê, moet vra of hy die inhoud van die verklaring ken en verstaan, of hy die eed as bindend op sy gewete beskou en of die inhoud van die verklaring waar is.

    belet – wanneer die tyd vir die aflewer van ’n pleit in ’n aksie verbygegaan het sonder dat die verweerder gepleit het, kan die eiser aan die verweerder ’n kennisgewing stuur wat hom beveel om binne ’n sekere tyd te pleit, en as hy dit nie doen nie, word hy belet om te pleit en kan die eiser aansoek doen om ’n verstekvonnis.

    beskuldigde – sien aangeklaagde.

    besonderhede van vordering – daardie gedeelte van ’n dagvaarding waarin die eiser sê wat hy van die hof vra, en die redes hoekom hy dit vra. As jy in besit is van my motor, sal my besonderhede van vordering sê wie ek is, wie jy is, dat ek die eienaar van die motor is en dat jy in besit is daarvan. Ek sal dan ’n hofbevel vra wat jou beveel om my motor terug te gee en dat jy die koste van die hofsaak betaal.

    beteken(ing) – die proses waardeur die balju ’n dokument by ’n persoon aflewer en daarna aan die persoon wat die opdrag gegee het vir die aflewering verslag doen oor hoe hy dit gedoen het. Dis die regstelsel se manier om seker te maak dat iemand ’n dokument kry.

    betoog of argument of submissie – aan die einde van enige saak argumenteer die regsgeleerdes om die regter te probeer oortuig hoekom hulle kliënt moet wen. Hierdie argumente word argument of betoog genoem. Submissies is die boublokke van hierdie argumente. In ’n motorongeluksaak sal ek byvoorbeeld betoog dat my kliënt se getuienis geglo moet word eerder as die ander kant se getuienis. Vir hierdie submissie sal ek dan redes gee en dit saam met ander submissies gebruik om te argumenteer hoekom my kliënt sy saak moet wen.

    betooghoofde – ’n dokument met ’n opsomming van die submissies wat in argument gemaak sal word. Betooghoofde word voor die betoog aan die regter en die opponent se regsverteenwoordiger gegee om hulle kans te gee om dit te oorweeg en te bedink. Ook betoogshoofde genoem.

    bevel nisi – ’n hofbevel wat jou opponent oproep om op ’n later datum te kom sê hoekom ’n bevel in jou guns (’n finale bevel genoem) nie deur die hof gegee moet word nie.

    bewyslas – sien onus.

    blootlegging of blootlê – die proses waardeur kopieë van dokumente wat in die saak gebruik word aan die teenparty gegee word. Aanvanklik sê elke party in ’n beëdigde verklaring vir sy opponent watter dokumente hy het. Hierop kan sy opponent reageer deur te vra vir spesifieke dokumente wat nie blootgelê (openbaar gemaak) is nie. Blootlegging word gebruik om te keer dat jou opposisie verras word deur die gebruik van dokumente in die verhoor.

    bo redelike twyfel – die manier waarop in ’n strafsaak besluit word of ’n beskuldigde skuldig is of nie, en terselfdertyd is dit die balkie waaroor die staat moet kom om sy saak teen ’n beskuldigde te bewys. Is daar redelike twyfel by die regter of die beskuldigde se weergawe dalk waar is en/of die beskuldigde dalk onskuldig is, word sy weergawe aanvaar en/of word hy vrygespreek. As ’n beskuldigde skuldig bevind word, word hy met ander woorde bo redelike twyfel skuldig bevind. Vergelyk dit met op ’n oorwig van waarskynlikhede, die maatstaf wat gebruik word by siviele sake.

    dagvaarding – die dokument waardeur ’n aksie begin word. Dit bevat die besonderhede van die eiser(s) en die verweerder(s) en die besonderhede van vordering.

    debiteur – ander woord vir skuldenaar, die een in ’n transaksie wat geld skuld.

    delik – ’n daad of versuim waardeur skade vir iemand veroorsaak is en waarby daar, volgens die reg, skuld betrokke is en wat nie op die een of ander manier verskoonbaar is nie (oor laasgenoemde word gesê dat dit onregmatig is).

    derde party – iemand wat nie aanvanklik by ’n saak betrokke was nie maar deur een van die partye daarby ingesleep word, omdat die geskil tussen een van die partye en die derde party min of meer dieselfde is as die geskil tussen die oorspronklike partye.

    deskundige getuienis of ekspert getuienis – getuienis deur ’n spesialis wat menings bevat wat die hof kan help om ’n beslissing te bereik – oor iets waaroor die hof nie self deskundigheid het nie. Goeie voorbeelde is mediese deskundigheid oor die gevolge van liggaamlike beserings, en deskundiges oor snelheidsmeters by vervolgings vir spoedoortredings.

    domicilium citandi et executandi – ’n frase wat ’n mens baie dikwels in kontrakte sien. Letterlik vertaal beteken dit "die blyplek waar die party gesiteer kan word en eksekusie gehef kan word". In gewone taal is dit die adres waar kennisgewings en hofstukke afgelewer kan word. (Eksekusie kan enige plek gebeur waar die persoon teen wie ’n hofbevel gegee is hom bevind.)

    eiser – die persoon of instansie wat ’n aksie begin.

    eksekusie – die proses waardeur ’n hofbevel uitgevoer word. As ’n hofbevel byvoorbeeld vir die betaling van geld gegee word, sal eksekusie beteken dat die geld van die persoon wat dit skuld, verhaal word. Dit kan gebeur deur óf die geld self van die persoon te kry, óf die bates van die persoon te verkoop. Dit word altyd deur die balju gedoen.

    eksepsie – ’n tegniese beswaar teen ’n eiser se besonderhede van vordering of teen ’n verweerder se pleit, omdat dit óf sonder behoorlike gronde is, óf vaag en verwarrend is.

    ex parte – die bring van ’n aansoek sonder dat aan die persoon teen wie die aansoek gebring word, kennis gegee word dat die aansoek gebring gaan word. Dit word gedoen as die aansoek baie dringend is, as die gee van kennis die doel van die aansoek sal fnuik of as dit nie sin sou hê nie, byvoorbeeld as die persoon geestesversteurd is.

    feitestel – ’n groep feite wat ’n geheel vorm en betreffende waarvan vasgestel kan word wat die regsposisie is. Dikwels sal die toevoeg of wegneem van ’n enkele feit die regsposisie radikaal verander.

    funderende verklaring(s) – die eerste verklaring of stel verklarings in ’n aansoek, waarin die applikant en sy getuies sy getuienis uiteensit. Ook stawende verklaring(s) genoem.

    geloofwaardig(heid) – ’n oordeel oor of ’n getuie se getuienis geglo kan word of nie. Dit loop altyd saam met nog ’n oordeel, wat te make het met die waarskynlikhede van getuienis. Die twee is egter nie dieselfde nie, want om te sê ek het ’n leeu op duisend tree ’n kopskoot gegee, mag onwaarskynlik wees en daarom ongeloofwaardig. Het ek egter drie getuies wat dit bevestig, bly dit onwaarskynlik maar word dit meer geloofwaardig. Getuienis kan selfs waarskynlik maar ongeloofwaardig wees, hoewel dit maar selde gebeur.

    gemene saak (getuienis) – getuienis waaroor die partye in ’n saak met mekaar ooreenstem en wat daarom nie deel vorm van die geskilpunte in die saak nie. Die term word ook gebruik wanneer die partye saamstem oor wat die regsbeginsel is wat geld vir ’n spesifieke deel van die saak.

    geskilpunt(e) – dit waaroor die partye in ’n hofsaak verskil. As ek byvoorbeeld beweer dat jy alleen die ongeluk veroorsaak het en jy ontken dit, is dit ’n geskilpunt tussen ons. Geskilpunte word verdeel tussen feitegeskille, waar die partye se weergawes van wat gebeur het van mekaar verskil, en geskilpunte oor die reg, waar die partye van mekaar verskil oor watter regsbeginsels op die feite toegepas moet word en dikwels ook hoe dit toegepas moet word.

    griffier – die klerk by die hoë hof wat die administrasie van hofsake hanteer.

    grondwetlike reg – sien konstitusionele reg.

    herondervraging – letterlik die tweede ondervraging. Dis die laaste stel vrae wat aan ’n getuie in ’n hofsaak deur sy eie regsverteenwoordiger gevra word en volg op hoofondervraging en kruisondervraging. Dis beperk tot vrae wat betrekking het op die vrae wat in kruisondervraging aan die getuie gevra is.

    hersiening – die proses wat iemand volg wanneer hy van mening is dat daar ’n besluit geneem is wat sy regte raak en daar iets verkeerd was met die proses wat gevolg is om by die besluit uit te kom. Vergelyk dit met appèl.

    hof – ’n woord met ’n paar betekenisse. Eerstens die fisieke hofgebou of hofsaal. Tweedens die hof as ’n instelling, in ’n algemene sin. Die belangrikste – en mees verwarrende – betekenis is vir ’n spesifieke hof wat bestaan uit regsverteenwoordigers en die regter of landdros.

    hofbevel – die bevel van ’n hof.

    hoofondervraging – die eerste gedeelte van ’n getuie se mondelinge getuienis in ’n hof. Dit bestaan daaruit dat die regsverteenwoordiger van die party wat die getuie geroep het aan die getuie ’n aantal vrae vra om die getuienis wat gunstig vir die betrokke party is uit te lok.

    in camera – wanneer ’n hof nie, soos normaalweg, oop is vir die publiek nie. Net die regsverteenwoordigers, noodsaaklike amptenare, partye (of beskuldigde by ’n strafsaak) en die regter of landdros word in die hof toegelaat.

    in forma pauperis – wanneer ’n armlastige litigant gratis regsverteenwoordiging kry.

    interdik – ’n soort hofbevel wat iemand beveel of verbied om iets te doen.

    kennisgewing – ’n dokument wat by litigasie gebruik word en iemand in kennis stel van iets wat gebeur het of gaan gebeur.

    kennisgewing van mosie – ’n kennisgewing wat die eerste dokument in ’n aansoek is en waarin die applikant sê wat hy van die hof wil hê. As my buurman byvoorbeeld gereeld laat in die aand lawaai maak, sal ek in my kennisgewing van mosie vra vir ’n hofbevel dat hy moet ophou raas.

    kennisgewing van opponering – die kennisgewing wat die applikant in ’n aansoek laat weet dat die aansoek teengestaan (geopponeer of verdedig) gaan word.

    kennisgewing van voorneme om te verdedig – die kennisgewing wat die eiser in ’n aksie laat weet dat die aksie teengestaan (geopponeer of verdedig) gaan word.

    klerk van die hof – die beampte in die landdroshof wat omsien na die administrasie van hofsake.

    konstitusionele

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1