Wynprofiel
Toe Bruwer Raats in die laat 1990’s met sy rugsak op die bus klim om op Stellenbosch te gaan leer wyn maak, het dit onwetend ’n nuwe hoofstuk vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf ingelui.
Drie suksesvolle handelsmerke later word hy geloof daarvoor dat hy nie net Suid-Afrikaanse Chenin blanc in ’n nuwe lig help stel het nie, maar ook verantwoordelik was vir een van die land se heel eerste ultrapremiewyne (wanneer gehalte só goed is dat die prys nie eens saak maak nie).
Bruwer het in die Oos-Kaap grootgeword en aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Wat hy van die wynbedryf geweet het, was basies nul. Tot hy ná sy lugmagdae vir sakgeld by Wally Roux op Somerbosch, tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, gaan werk het.
“Ek was maar net ’n hired hand wat die trekker bestuur en kissies opgelaai het toe oom Wally my vra wat ek met my lewe wil doen. Ek het nie eintlik geweet nie, maar het dit oorweeg om dalk ’n sjef te word.
“Oom Wally sê toe vir my ‘nee, daai mense het nie ’n lewe nie’, en hy vra of ek al gekyk het wat hulle in die kelder doen en dat ek met die volgende waentjie moet saamgaan en gaan kyk.
“Dit was vir my interessant dat die druiwe wat ek in die wingerd proe, se smaak ooreenstem met dié van die sap wat hulle uitdruk en die wyn wat hulle maak. Toe ek dit vir hom vertel, sê hy: ‘Jy gaan ’n wynmaker word.’ Dit was die laaste ding wat ek ooit in my lewe gedink het ek sal word. Maar ek het sy woorde ter harte geneem, want ek het besef as ek as ’n gewone werker só gelukkig kon wees in die bedryf, kan ek mos net vorentoe gaan.”
Bruwer het aansoek gedoen by die Landboukollege Elsenburg, en ná die parstyd op Somerbosch op ’n vliegtuig geklim en nege maande met die nuus dat hy by Elsenburg aanvaar is en huis toe moet kom. Vroeg die volgende jaar is hy met die bus van Port Elizabeth (nou Gqeberha) Stellenbosch toe met net ’n rugsak op sy rug.